Idelette de Bure, Vrou van Calvyn - 'n Vertelling
Idelette de Bure, Vrou van Calvyn - 'n Vertelling
Nee, dit was nie ʼn stormagtige romantiese huwelik nie, dié van Calvyn en Idelette. Wel was hulle deurentyd omring deur storms en stryd, die skrale nege jaar wat hulle getroud was. Ja, eintlik was dit van dié swaarste jare vir Calvyn. Die twee het mekaar baie nodig gehad om staande te bly. Tog het die Here hulle ook soveel ryke dae gegun – vol sonskyn, omdat die lig van die ware Evangelie al hoe sterker deurgebreek het.
Jean Calvin en Idelette de Bure is nie ver van mekaar af gebore nie. Hy in 1509 in Noord-Frankryk en sy in 1506 in die Suidelike Nederlande. Dit was in Straatsburg, destyds Duitsland, waar hulle in die huwelik sou tree in 1540. Sy was toe die weduwee van Jean Stordeur, ongeveer 34 jaar oud, en Calvyn was 31. Die Here sou hulle pad kort ná die huwelik nog verder suid lei na Genève in Switserland, waar Calvyn toe alreeds een en ʼn half moeilike jare deurgebring het.
Maar, nou eers Idelette. Haar geboorteplek was die pragtige stad Luik (of Liège) in die huidige België. Sy is gebore in ʼn Franssprekende gesin. Haar vader was ʼn bontwerker, met ander woorde leerlooier en handelaar. Hy het van die duurste pels aangekoop. Adellike dames het van marterpels gehou en die regters het hermelyn gedra. Idelette het haar pa soms na hulle groot deftige wonings vergesel.
Sy het sonder sorge grootgeword. Haar ma het haar leer spin, naaldwerk doen, bier brou en geneeskundige kruie kweek. Sy het getrou haar gebede gedoen in die St. Lambertuskatedraal waar sy ook as baba gedoop is. Haar toekoms was redelik voorspelbaar: sy sou trou, kinders kry en maak soos haar ma gemaak het, o.a. bieg en rosekranse bid.
Vasgevang in bygeloof, aanbidding van heiliges en sonder kennis van die Bybel het haar jongmeisiejare verbygegaan. Haar vader was nie werklik vroom nie.
Hy wou graag ʼn man van aansien wees. Hy wou Idelette uithuwelik aan iemand met ʼn hoë rang. Daarom laat hy die skilder, meester Gelijn, kom om ʼn skildery van haar te maak. Sy moes deftig aantrek. Idelette was eintlik ʼn bedeesde meisie met ʼn fyngevoelige aard.
Maar, die vertroude tradisionele Rooms-Katolieke lewe in Luik word op hierdie tydstip egter wreed versteur. Aan tafel tuis word daar heftige gesprekke gevoer. Skaars 50km van hulle af in Brussel word daar sg. ketters tereggestel…! Daar is oorlog in Duitsland, Martin Luther se leer word versprei. Die Nuwe Testament word in ʼn volkstaal, naamlik Frans, vertaal! Ongehoord! Die houding van Frans I, koning van Frankryk, word gepols. Die leer van die Wederdopers versprei. Orals steek opstand kop uit.
Die tyd is stormagtig. Uit die storm word egter iets nuuts gebore. Iets soos ʼn nuwe lente. Ook in die omgewing van Luik het ʼn sterk verlange begin groei na die lewende Woord van God.
Mense se oë gaan oop. Idelette begin die beelde in die kerk verafsku. Hulle is koud en dood. Die kerk is nie ʼn ware moeder nie. In plaas van sieldodende paternosters kom daar nou gebede reg uit die hart. In plaas van dwepery met relikwieë verskyn daar nou boeke wat in glashelder taal die jong geloof van baie mense voed. Sy koop en lees die boeke gretig. Die Skrif word oopgemaak. Idelette laat haar meevoer met die lentelug.
Huwelik met Jean Stordeur⤒🔗
Teen haar vader se wil het Idelette saam met haar broer Lambert geheime byeenkomste van gelowiges bygewoon. Soms in ʼn skuur of, as dit moes, in ʼn bos. Daar het hulle die Woordverkondiging ingedrink. Dit is in hierdie vergaderings dat sy vir Jean Stordeur, ʼn man met ʼn ernstige geaardheid, ontmoet. Hulle vind mekaar en tree in die huwelik. Stordeur is ʼn vakman in houtwerk. Saam wil hulle die Here op die regte manier dien en hulle beywer vir die voortgang van die Evangelie wat so lank bedek was. Na ʼn jaar seën die Here hulle met ʼn seuntjie. Sy naam is nie bekend nie, maar heel waarskynlik sou hy sy pa se naam gekry het, Jean.
Dit was nie lank nie of militante predikers wat hulleself profete noem, dring die kring van gelowiges binne. Hulle het groot invloed. Hulle lê die mense weer ʼn juk van selfverlossing op. Jy moet eers bewys dat jy glo, dan eers kan jy gedoop word. Ook was daar ander sogenaamde drywers wat met drome en visioene wat hulle sou ontvang het, die mense verwar en die eenvoudige blye verkondiging van die Woord verdring.
In klein groepies, om nie op te val nie, het hierdie gelowiges buite die stad gegaan en hulself in ʼn klein riviertjie weer laat doop. Stordeur en Idelette was ook onder hulle.
Dit was ʼn stormagtige tyd. Pes het geheers en daar was oorlog. Idelette kry weer ʼn seun, Natanael, maar hy sterf baie jonk. Die vervolging van Wederdopers in Luik neem skerp toe. Die broeders en susters weet nie meer hoe nie. Daar word besluit om te vlug. Die aangewese plek om heen te gaan was Straatsburg, ongeveer 200 km ten suid-ooste van Luik. Straatsburg was destyds deel van die Duitse ryk. Die stad was van ouds af bekend as vlugtelinge-oord ter wille van die geloof. Die stad het op daardie tydstip feitlik vir die Reformasie gekies, want die magistraat het alle priesters wat die Woord reg verkondig, in beskerming geneem. Stordeur en Idelette verneem dan ook dat mense wat Christelik wil leef en bowendien ʼn goeie vak kan beoefen, welkom was in Straatsburg.
In groepe het ʼn vloed van Wederdopers in die winter van 1532 die Lae Lande verlaat en met waens en muile die tog na Straatsburg aangepak. ʼn Moeisame reis. Dit was skreiend om hele gesinne, strompelende oumense, swanger vroue en baie kinders deur die sneeu te sien swoeg.
Kraaie het bo hulle in die lug gesirkel. Idelette het God gedank dat Hy vir klein Natanael tot Hom geneem het voordat hulle Luik verlaat het. Sy voel ook hartseer om haar geliefde stad te verlaat. Sy sou nooit weer hierheen terugkeer nie. Gelukkig was haar broer Lambert en gesin deel van hulle geselskap. Hulle het van boerdery tot boerdery getrek deur die Ardennebosse. Sondae is daar kerkdienste gehou.
Die dwepers en sogenaamde profete was ook onder hulle en het op reis baie mense in verwarring gebring. Hulle is aangeraai om liewer na die noorde, na Friesland te vlug. Die Here het Stordeur en Idelette en baie ander daarvoor bewaar dat hulle hul nie deur die opruiers laat beïnvloed het nie. Hulle het Straatsburg uiteindelik veilig bereik.
Ons spring nou net vir ʼn oomblik na Parys, Frankryk. Dit was in hierdie tyd dat Johannes Calvyn openlik van die Humanisme oorgaan na die Reformasie. Hy word daar binne ʼn baie kort tyd ʼn figuur van geweldige betekenis.
ʼn Nuwe Lewe in Straatsburg←⤒🔗
Terug in Straatsburg. Hier is hulle dan nou, in ʼn vreemde stad. ʼn Bloedjong egpaar in hulle middel- en laat twintigs met ʼn jong seuntjie. ʼn Herberg bied onderdak. Vir eers is dit ʼn geskarrel om werk en ʼn permanente woonplek te vind. Gelukkig is daar die gemeenskap van die heiliges in die broederkring. Lambert en sy gesin is ook in die nabyheid. Die verlange na Luik lê swaar op die gemoed. Wat sou van al die vele Wederdoperbroeders geword het wat nie gevlug het nie? Die koninkryk van God was tog naby? Het hulle reg gedoen om hier na Straatsburg te kom?
Gaandeweg het hulle tog hul voete gevind. ʼn Woonplek en werkgeleentheid. Stordeur het sy vak goed geken. Daar word ʼn gesonde dogtertjie gebore: Judith. Sy word nie gedoop nie. Die broederkring het nog sy houvas op hulle.
Maar as jy met oop oë en oop ore in Straatsburg woon, kan jy dit nie mis dat hier ʼn ander gees heers as in Luik nie. En hulle besef dat die Heilige Gees ook buite hulle beslote kringe magtige werk verrig. Die stad is vol hemelse musiek. Die mense sing lofsange in hulle moedertaal Duits – in die katedrale, maar ook tuis. By die skole weerklink die kinderstemme. Húlle leer die woorde en wysies heel eerste en neem so die ouer mense saam. Dr Martin Bucer en Jacob Sturm neem behoorlik leiding in die stad. Oor die geheel word daar hard gewerk aan ʼn gesonde, Christelike gemeenskap.
Idelette se broer Lambert neem eerste die stap: hulle voeg hulle by die kerk van Doktor Bucer. Stordeur en Idelette gaan soms na die dienste in die Franse vlugtelinggemeente. Hier preek ʼn jong predikant wat dr Bucer na Straatsburg laat kom het: Johannes Calvyn.
Vir Stordeur en Idelette is dit ʼn weldaad om die dienste te volg. Die hele gemeente sing die tien gebooie en die apostoliese geloofsbelydenis. Selfs verskillende psalms op wysies wat in Straatsburg gekomponeer is! Die hele gemeente staan oop vir die uitleg van die Woord. Ondanks die verskille, was die twee diep ontroerd deur die dienste. Hulle was omring deur manne en vroue wat, net soos hulle, uit verskillende lande vir hul geloof moes vlug.
Tog bly hulle nog trou aan hul Wederdopergemeente. Stordeur word ernstig siek as gevolg van ʼn lelike beenbreuk. Die diaken van die Franse vlugtelinggemeente kom hom besoek. Hulle waardeer dit geweldig. Ook die pastor, Johannes Calvyn, bring gereelde besoeke.
Daar volg intense gesprekke. Calvyn wys hulle aan waar die Wederdopers verkeerd gaan. Belangrik is dit om te weet dat die Heilige Gees Hom verbind aan Gods Woord. Daarom is daar geen plek vir menslike visioene en profesieë nie. Vir Stordeur en Idelette is dit, ondanks Stordeur se siekte, ʼn wonderlike tyd. Hulle ontvang ryke katkisasie van Calvyn. Die kinderdoop word bespreek. Hulle kinders Jean en Judith is ongedoop.
Stordeur bly bedlêend. Die infeksie wil nie opklaar nie. Tog is daar in hulle huis ʼn diepe vreugde en vrede. Geestelik het hulle opgeleef deur die Skriftuurlike sekerhede wat hulle deel word. Selfs oor Natanael, haar ongedoopte seuntjie wat in sy graffie in Luik agtergebly het, hoef Idelette nie bekommerd te wees nie, hy is ook opgeneem in God se verbond.
Hulle verlaat die broederkring en voeg hulle by die Franse vlugtelinggemeente. Jean en Judith word in die kerk gedoop. Buite is die herfslug mistig en swaar. Die pes hang weer in die lug. Oumense en siekes word eerste getref. Ook Stordeur. Hy beswyk aan die siekte. As getroue pastor was Calvyn ook by die sterfbed aanwesig. Idelette het volkome sekerheid dat haar geliefde man by Christus is. Haar hart is gelouterd deur teëspoed en staan wawyd oop vir die gesonde Gereformeerde leer.
Kort nadat Stordeur en Idelette hul by die Gereformeerde Franse vlugtelinggemeente gevoeg het, het Stordeur gesterf. Idelette staan nou alleen met die nuwe rykdom wat hulle saam gedeel het. Maar wat is ʼn weduwee wat skielik haar sterk ander helfte moet mis? Drie en dertig jaar oud, met ʼn jong seun en dogtertjie? Sy voel eensaam, verslae. Dit is baie stil sonder hom. Sy klou vas aan die vertroostende, versterkende woorde van die psalms. Ander kere huil sy net en word oormeester deur verdriet. Sy verlang na haar geboortestad Luik.
Maar die Here hou haar vas. Die kinders laat haar soms lag. Sy hoor hulle soms in Duits liedere sing soos hulle in en om die huis besig is. Dit bring trane in haar oë. Lambert en sy gesin asook gemeentelede omring hulle met liefde. Dit begin beter gaan. In die lente maak hulle ʼn groentetuin. Sy leer haar kinders die woorde van Psalm 104. Sy besoek die dienste in die St. Aureliakerk waar dr Bucer preek. Sy preke is altyd sterk en duidelik.
Kyk, vir ʼn jong weduwee in die 16e eeu was dit onwaarskynlik om ongetroud te bly. Lambert praat al gou van hertrou en sinspeel op ʼn vriend van die familie. “Het Stordeur van haar verwag dat sy nie weer sal trou nie…?” word gevra. Sy is nog jonk en aantreklik.
Nou eers weer ʼn sprongetjie na Calvyn. Intussen het van Calvyn se vriende, ook sy broer Antoine, meisies aan hom voorgestel as huweliksmaat. Die een dame was van adellike afkoms en met ʼn groot bruidskat, maar die probleem was dat sy net Duits kon praat. ʼn Ander een word voorgestel, maar sy mis die fynheid, die beskaafdheid van die hart wat vir Calvyn ʼn vereiste was.
Nou was dit destyds wel die gewoonte dat vriende, en seker jou geesgenote, jou help uitkyk na ʼn geskikte vrou. Onder die Reformatore in hierdie bewoë tyd het die oortuiging sterk geleef dat bedienaars van die Woord getroud moet wees. Dit as duidelike teenvoeter teen die Rooms-Katolieke selibaat.
Dit is dan ook dr Bucer wat in Idelette die ideale lewensmaat vir Calvyn sien. Eers pols hy Calvyn. Dan gaan hy op ʼn voorbereidende besoek na Idelette. By sy vertrek sê sy met trane: “Sê vir hom my verstand sê nog nee, maar my hart sê ja”. Die volgende dag al kom Calvyn self.
Het hulle mekaar nie reeds van hart tot hart leer ken tydens die aande toe Calvyn vir haar en Stordeur kom onderrig het nie? Hulle is in alle opsigte geesgenote. Sy voldoen aan sy verwagtings: ywerig, gehoorsaam, nie hoogmoedig nie, spaarsaam, geduldig. Dieselfde aand, in bysyn van Lambert en dr Bucer, het Calvyn haar amptelik ten huwelik gevra en daarna vir Idelette en die kinders omhels.
Huwelik met Calvyn←⤒🔗
Die troudatum is bepaal vir 10 Augustus, agt maande na Stordeur se dood. Die huweliksbevestiging in die kerk is waargeneem deur Calvyn se goeie vriend Farel. Die bruilof was eenvoudig. Beide Idelette en Calvyn het ʼn hekel gehad aan oordadigheid, maar ook aan gierigheid.
Die gemeente het vir ʼn welvoorsiene maaltyd gesorg: lewerpatee, beeslendestuk, lamsvleis met salotte (ʼn klein soort ui), warm terte, fyn meelkoeke, heuningkoeke en kaas. Daar is ʼn vat wyn oopgemaak. Die kerkraadslede van twee naburige gemeentes deel in die feesvreugde. Caspar Hedio, ʼn Straatsburgse vader, hou ʼn klinkende toespraak. In die dae wat volg, word die egpaar onthaal deur talle akademici en hooggeplaastes. Self lê hulle ook ʼn paar belangrike besoeke af. ʼn Pragtige tyd.
Idelette besef: ek is getroud met die mees geleerde man in Europa vandat Erasmus in Rotterdam oorlede is. Sy verstand gaan myne ver te bowe, maar ons harte is eenders. Goedkeuring of afkeuring van mense interesseer hom weinig. Hy wil alleen die wil van sy Meester doen. Hy het my nie as kragbron in sy lewe nodig nie, die Here is sy krag. Ek wil hom graag soos ʼn Christelike vrou ondersteun. Miskien sal hy deur my sorg en geselskap versagting ondervind van al sy moeites. Tog moet ek hom liefhê en sien soos hy self is en nie om dit wat hy alles doen nie.
So begin hulle huwelikslewe in Straatsburg; van die begin af in ʼn hewige tempo. Die weke vlieg verby, Idelette moet prioriteite stel. Tussen alles deur moet sy haar nuwe man leer ken. Sy ervaar hom as altyd openhartig en vriendelik, goed vir haar en die kinders, temperamentvol, beslis nie Stoïsyns nie, ʼn vlymskerp verstand, mild. Oor onreg wat gepleeg word, kon hy siek word van ontsteltenis; slegte nuus oor sy mede-reformatore sou hom vir ure laat huil. Maar kóppig, veral as die saak van die Here skade ly.
In die huishouding het hulle dit nie breed nie. Daar is loseerders in die huis vir ʼn ekstra inkomste. Calvyn leen graag geld aan behoeftiges, maar ontvang gewoonlik nie terug nie. Die drukkers is gewillig om soms aan hulle geld te leen, want: Calvyn se boeke verkoop goed!!
Idelette sien hoe ontsettend hard haar man werk. Dit is preke maak, boeke skryf, korrespondensie wat nimmereindigend inkom en uitgaan, orals word na sy mening gevra. Hy is die een wat in helder woorde ʼn saak haarfyn kon weerlê. Daarom moet hy na Worms vir ʼn godsdiensgesprek. Voordat hy kan gaan, kom die versoek uit Genève dat hy sal terugkom. Die Raad het sy destydse verbanning opgehef. In Worms kwyt hy hom skitterend van sy taak, met die gevolg dat hy nog meer die middelpunt word van die Reformasie as geheel.
Genève Roep←⤒🔗
Die versoek om na Genève terug te keer, was nogal ʼn skok vir Calvyn. Hy sou liewer predikant van die Franse vlugtelinggemeente in Straatsburg wou bly. Maar hy het nie toegelaat dat sy eie wense die botoon voer nie, hy is verplig om daarheen te gaan waar God hom lei, selfs al sou dit duidelik nie aangenaam wees nie. Dus, terug na Genève.
Calvyn vertrek alreeds op 13 September 1541. Twee weke later volg Idelette met Judith en Calvyn se broer Antoine. ʼn Drieperdewa word uit Genève gestuur om hulle te kom haal vir die ongeveer 200km lange tog. Haar seun bly agter by Lambert om ʼn vak aan te leer. Die reis is voorspoedig. Judith geniet dit geweldig.
In Genève is daar ʼn goed voorsiene huis gereed. Calvyn se salaris is hoër as dié van ander predikante – hulle verwag dus veel van hom, sowel in die kerk as in die stad.
Idelette het gedink dat Calvyn nie nog harder sou kon werk as in Straatsburg nie. Tog was dit so. Hy moet gereeld ʼn paar dae of langer weg. Daar is ʼn konstante stroom van gewone mense en hoë geleerdes van heinde en ver wat aanklop om hom te spreek. Koeriers lewer briewe en drukwerk af. Deur sy korrespondensie is Calvyn feitlik in die hele Europa aanwesig.
Stryd en Seëninge←⤒🔗
In die stad is daar egter baie teenstand. Veral die gevestigde burgers van die Republiek Genève asook die gewone burgers is nie gediend met die idee dat ʼn Fransman en sy Franse predikante die stad wil reformeer nie.
In die raad van die stad het hulle sterk verteenwoordiging en hulle maak die lewe vir die Reformatore baie baie moeilik. Dit gaan met haat, nyd, tweedrag en spot gepaard. Veral Calvyn en Idelette moet dit ontgeld. Idelette leef saam, lees die stukke wat Calvyn haar gee sover moontlik sorgvuldig. Sy hoor hom saans lees, skryf en bid. Sy bring warm lappe vir sy pynlike maag.
Dis die einde van die eerste winter in Genève. Idelette is swanger. Daar heers groot vreugde en dankbaarheid. Die dokter skryf egter rus vir Idelette voor, hy vind haar swak en vermoeid. Einde Julie word daar ʼn seun gebore, wat hulle Jacques noem. Jakobus en Judith is baie trots. Die bevalling was egter heelwat te vroeg en die baba lyk baie swak. Hy bly sukkel om melk in te kry. In die St. Pieterskerk mag die seuntjie die doopwater van sy eie pa ontvang, terwyl sy tante hom vashou. Maar die baba kwyn en sterf na drie weke. Idelette is diep bedroef. Sy besef goed hoe groot ook haar man se verdriet moet wees. Sy laat haar troos deur sy woorde: “dit het God behaag om sy kneg Jacques, in die verbond gebore, ons geliefde kind, in sy hemelse gemeenskap op te neem.”
Idelette bly voorlopig siek, koorsig. Vroue en dogters uit die gemeente kom help in die huis. ʼn Jaar later was daar weer die blye verwagting van ʼn kind, maar sy het dit verloor en moes finaal die hoop opgee om vir Calvyn ʼn kind te kan skenk. Dit was ontsettend moeilik. Calvyn het haar getroos: “Die Here gee ons baie kinders wat na ons toe stroom om onderrig te word, en ander om gevoed en geklee te word.”
Idelette herwin in ʼn redelike mate haar kragte. Die stryd in Genève gaan voort. Soms is daar ʼn oomblik van ontspanning. Dan het hulle gaan stap en die pragtige uitsig oor die meer van Genève geniet.
Af en toe kon hulle ook in ʼn baie groot vrugteboord gaan stap wat iewers buite Genève teen ʼn berghelling gelê het. ʼn Gegoede Duitse vriend het dan ʼn rytuig gestuur om hulle op te laai. Veral as dit kersietyd was, was dit skitterend daar. Hulle kon hulle sorge ʼn rukkie vergeet en die vars lug diep inasem. By uitsondering het Calvyn ʼn seiltog op die meer gemaak.
As vertroueling van haar man bevind Idelette haar, sonder om byna te kan asem skep, in die sentrum van teologiese, sosiale en politieke aangeleenthede. In Genève beplan die opposisieparty ʼn opstand teen Calvyn en sy mense. Dit lyk ook of hulle die oorhand kan kry. Selfs Idelette se naaste bure is vyandig. Calvyn kry dit reg om die gemoedere te kalmeer.
Calvyn is dikwels in die bed met hoes, koors, buikpyn. Vanuit die bed gaan die werk voort. In Duitsland sterf Luther. Die keiser voer die Rooms-Katolieke mis weer in. Die duiwel sit nie stil nie.
Idelette se gesondheid gaan agteruit. Sy moet baie rus. Calvyn maak daagliks ʼn draaitjie by haar. Hy is bekommerd oor haar. Soos wat die jare verbygegaan het, het hulle steeds nader aan mekaar gekom. Saam het hulle veel verduur. Saam het hulle steeds God se goedheid ervaar. Hy was hulle vaste burg. Op 29 Maart 1549 sterf Idelette in die Here. Drie en veertig jaar oud. Sy moes haar plek aan Calvyn se sy verlaat terwyl die stryd nog so hewig was. Tog is daar al ligstrale aan die horison. Na die jaar 1550 en vorentoe sou dinge in Genève en vir Calvyn gunstiger word. Daar sou selfs ʼn teologiese skool tot stand kom wat as voedingsbron sou dien vir Gereformeerde predikante wêreldwyd. Idelette het dit nie beleef nie. Sy was vir agt en ʼn half jaar aan haar man geskenk om hom by te staan. Alle eer daarvoor aan God.
Sy krag word in swakheid volbring.