Kennis van God is van nature in die mens ingeplant – alle mense weet dat daar 'n God bestaan. Selfs ateïste en afgodsdienaars bewys dat hulle nie sonder ‘n begrip van God is nie.

Die mens se godsdienstige bewussyn verhef hom ook bo die dier.

1984. 4 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 3 Die kennis van God is van nature in die verstand van die mens ingeplant

1. Afgodediens bewys dat selfs barbaarse volkere 'n god eerbiedig🔗

Ons stel dit as 'n onteenseglike feit dat daar 'n bepaalde bewussyn van die godheid1 in die mens se verstand aanwesig is, en dit dan deur 'n natuurlike instink. Om te verhoed dat enigiemand sy toevlug tot 'n voorwendsel van onkunde sou neem, het God self by alle mense 'n bepaalde begrip van sy Goddelike mag ingeskerp. Hy herinner die mens gedurig daaraan en laat voortdurend nuwe druppels daarvan op hom neerdou. Aangesien die laaste mens begryp dat God wel bestaan en dat Hy sy Skepper is, is die gevolg daarvan dat die mens op sy eie getuienis verdoem word omdat hy Hom nie aanbid en sy lewe nie aan sy wil wy nie. As ons dan êrens na onkunde in verband met God moet soek, bestaan daar waarskynlik nêrens ' beter voorbeeld daarvan as onder  verstokte volkere wat ver van die beskawing af verwyder is nie.

En tog is daar, soos die bekende heiden2 sê, geen nasie wat so onbeskaaf, geen volk wat so barbaars is dat dit nie die vaste oortuiging het dat God wel bestaan nie.3 En tóg behou die mense, wat in sekere lewensfasette skynbaar baie weinig van wilde diere verskil, gedurig nog die saad van die godsdiens - so het die algemene veronderstelling daarvan die harte van alle mense ingeneem en so hardnekkig kleef dit aan almal se binneste. Gevolglik was daar van die begin van die wêreld af geen landstreek, geen stad of huis wat sonder godsdiens kon wees nie. Hierin is daar die stilswyende belydenis dat die bewussyn van die godheid in die harte van alle mense ingegrif is. Ja, ook afgodediens is oorvloedige bewys van hierdie opvatting. Ons weet tog hoe teensinnig die mens homself verneder om na ander skepsele bo hom op te sien. Aangesien die mens daarom verkies om hout of klip te aanbid eerder as om as 'n mens beskou te word wat geen God het nie, is dit duidelik dat die indruk in verband met die goddelike mag baie kragtig is, in so 'n mate dat dit nie uit die mens se verstand uitgewis kan word nie en sy natuurlike drange makliker verydel kan word - soos dit trouens ook verydel word wanneer hy hom vrywillig uit sy natuurlike opgeblasenheid die dieptes in laat sink om God te eerbiedig.

2. Selfs goddelose mense toon dat hulle nie sonder 'n begrip van God is nie 🔗

Daarom is die bewering wat deur sommige mense gemaak word, die toppunt van ydelheid. Hulle verklaar naamlik dat godsdiens deur die listigheid en sluheid van 'n handjievol mense uitgedink is om eenvoudige mense met hierdie listige streek pligsgetrou te hou, hoewel juis die mense wat vir ander die skeppers van eerbiediging van God was, nie in die minste geglo het dat God wel bestaan nie.

Ek erken inderdaad dat geslepe mense baie planne in die godsdiens uitgedink het om daarmee eerbied onder die gewone mense in te boesem en hulle te terroriseer met die oog daarop om hulle gemoedere gedienstiger daarvoor te maak. Maar hulle sou dit nooit kon regkry as dit nie was dat die mens se verstand alreeds lank tevore met die onwrikbare oortuiging in verband met God deurdrenk was nie. Daaruit het die neiging tot die godsdiens soos uit 'n saadjie ontspring. Ek glo dat juis die mense wat onkundiges onder die dekmantel van godsdiens mislei het, nie heeltemal sonder die kennis van God was nie. Want hoewel daar eenmaal sommige mense was en daar vandag nog enkelinge na vore kom wat beweer dat God nie bestaan nie, gevoel hulle tog van tyd tot tyd teen wil en dank wat hulle liewer nie wil weet nie. Ons lees van niemand wat met groter brutaliteit en met groter onbeteuelde minagting van die goddelike mag losgebars het as C. Caligula nie.4 Tog het niemand met groter angs gebewe wanneer God die een of ander aanduiding van sy toorn gegee het nie. So het hy teen sy sin gesidder vir die God wat hy uitdruklik wou minag. 'n Mens kan sien dat dit ook oral met mense soos hy gebeur. Want die brutaalste veragters van God is juis die mense wat die meeste deur die geluid van 'n vallende blaar ontstel word. Waaruit ontstaan dit dan anders as net uit die wraak van die majesteit van God wat hulle gewete des te hewiger tref namate hulle poog om dit te ontvlug? Hulle kyk inderdaad rond vir elke skuilhoek om hulle van die teenwoordigheid van God te verberg en sy teenwoordigheid uit hulle gemoed uit te wis, maar hulle word teen wil en dank altyd daarin verstrengel en vasgekluister. En hoewel dit soms lyk asof dit vir 'n oomblik verdwyn, keer dit van tyd tot tyd terug en val hulle met hernieude krag aan. En as daar dan nog 'n verposing in die onrus van hulle gewete voorval, verskil dit nie veel van die slaap van mense wat beskonke of kranksinnig is nie, wat selfs nie eens in hulle slaap in kalmte tot rus kan kom nie omdat hulle onophoudelik deur verskriklike en afgryslike drome gekwel word.

Goddelose mense dien dus self ook as voorbeeld dat 'n begrip van God altyd in die gemoed van alle mense lewe.

3. Sy godsdiens verhef die mens bo die dier5🔗

Mense wat daaroor eerlik oordeel, sal altyd daarvan seker wees dat 'n onuitwisbare gevoel van die godheid in die verstand van die mens ingegrif is, of liewer dat hierdie oortuiging van nature by alle mense aangebore is dat daar 'n God bestaan, en die oortuiging is diep in hulle binneste vasgenael. Die weerspannigheid van goddelose mense is oorvloedige getuienis daarvan. Hoewel hulle waansinnig daarteen stry, kan hulle hulle tog nie van die vrees vir God losmaak nie. Al sou Diagoras6 en dergelike mense oor al die eeue heen die spot dryf met die geloof in verband met die godsdiens en al sou Dionysios7 die oordeel van die hemel hoon, is dit 'n siniese gelag8 omdat die wurm van hulle gewete, wat vuriger as alle brandysters is, binne-in hulle knaag. Nou beweer ek nie soos Cicero dat dwaling met die verloop van tyd tot niet gaan en dat die godsdiens by die dag aangroei en beter word nie.9 Want - soos ons 'n rukkie later sal moet sê - poog die wêreld sover dit binne sy vermoë is om alle kennis van God te vernietig en sy aanbidding op elke moontlike wyse in die wiele te ry. My bewering is slegs dat, hoewel die stompsinnige hardvogtigheid wat goddelose mense gretig bysleep om God te verag, in hulle harte wegkwyn, hierdie gevoel van 'n godheid nogtans by hulle lewendig bly, en hoewel hulle die grootste begeerte koester dat dit uitgewis moet word, kom dit kort-kort na die oppervlak. Daaruit lei ons af dat dit nie 'n leerstelling is wat ons eers in ons skole moet leer nie maar waarvan elkeen van moederskoot af sy eie leermeester is en wat die natuur self niemand toelaat om ooit te vergeet nie, al sou baie mense ook al hulle kragte daarvoor inspan.

Verder, as almal dan met dié doel gebore is en lewe om God te leer ken en die kennis van God tog onbestendig en verganklik is, behalwe as dit tot hierdie stap gevorder het, is dit duidelik dat al die mense wat nie al die gedagtes en handelinge van hulle lewe op hierdie doel rig nie, van die wet van hulle skepping afvallig raak. Dit is 'n feit wat ook filosowe nie ontgaan het nie. Dit was juis Plato se bedoeling toe hy baie dikwels geleer het dat die hoogste goed van die siel die ewebeeld van God is wanneer die siel in sy geheel omgevorm word tot God self sodra dit kennis van Hom opgedoen het.10 Net so redeneer Gryllos in 'n werk van Plutarchos11 met die grootste verstandigheid wanneer hy verklaar dat mense nie alleen bo redelose diere uitstyg nie maar in vele opsigte baie ellendiger as hulle is as godsdiens eenmaal in hulle lewe ontbreek. Die gevolge daarvan is dat hulle aan soveel vorms van boosheid blootgestel is en voortdurend 'n onstuimige en onrustige lewe slyt. Dit is dus net die aanbidding van God alleen wat mense meerderwaardig maak en waardeur net hulle na onsterflikheid  strewe.

Endnotes🔗

  1. ^ Diuinitatis sensurn. wat alternatiewelik ook aangedui word as semen religionis (kyk die tweede paragraaf van hierdie seksie asook Inst. 1.4.1).
  2. ^ Cicero.
  3. ^ Cicero, De natura deorum 1.16.43; 1.17.45; Tusculanae Disputationes 1.13.30: ... nulla gens tam fe ra, nemo omnium tam sit immanis, cuius mentem non imbuerit deorum opinio. Vgl. ook Lacrantius, Diuinae Institutiones 3.10.7, wat Cicero in hierdie verband aanhaal: ... nullum est animal praeter hominem quod babeat notitiam ... dei, ipsisque in bomintbus nulla gens est neque tam mansueta neque tam fera, quae non etiamsi ignoret qualem baberi deum deceat (CSEL 19,1:203).
  4. ^ Caligula was die bynaam van die Romeinse Keiser Gnaeus J. Caesar Augustus Germanicus (37-41 n.C.). Hy was die opvolger van Tiberius (REW 3,1:1355).
  5. ^ Hierdie onderafdeling 3 staan in die oorspronklike Latynse uitgawe van 1559 aan die einde van hoofstuk 2. In die Franse uitgawes van 1560 en 1561 staan dit egter aan die einde van hoofstuk 3. Niesel volg die OC en meen dat dit verkeerdelik in die 1559. Uitgawe by hfst. 2.3 ingevoeg is, en daarom word die ordening van die Franse teks met betrekking tot hierdie seksie gevolg en nie die van die Latynse uitgawe nie.
  6. ^ Diagoras van Melos was 'n ateïstiese tydgenoot van Sokrates CREW 5,1:310).
  7. ^ Dionysios (* 405, t 367 v.C.) was 'n tiran van Syracuse (REW 5,1:882). Sy dade van heiligskennis en verwoesting word verhaal deur Cicero in sy De natura deorum 3.34.83 (kyk LCL, 368 e.v.). Calvyn verwys ook na sy wreedheid in sy De elementia 1.12 (oe5:92).
  8. ^ Risus sardonicus.
  9. ^ Cicero, De natura deorum 2.2.5.
  10. ^ Marg. In Phaedone & Theaeteto. Plato, Phaedo 107C en Theaetetus 176B. By Plato word 'God' met 'n hoofletter  weergegee alhoewel sy godsbegrip verskil van die Christen s'n. Calvyn gee dit ook met 'n hoofletter weer.
  11. ^ Plutarehos van Chaironeia (* ca. 46/48, +125) was 'n beroemde Griekse filosoof en skrywer wat in sy Moralia o.a. oor dierefilosofie skryf. Die verwysing is waarskynlik na  Plutarchos se dialoog, Bruta animalta ratione uti, waarin Gryllos, wat deur Ciree in 'n dier verander is, voorbeelde aangee van die meerderwaardigheid van dierlike gedrag bo dié van perverse mense (REWT 7,2:1899, s.v. Gryllos: REW21,1:636 e.v.; vgl. in besonder  639,641,706 vir Plutarchos en LCL, 530 vir Plutarehos se Moralia 12.922).