Die Roomse dwaalleer in verband met die aflaat en die vaevuur is strydig met die Skrif en die werk van Christus. Die argumente vir die verdienste van martelare en gebede vir die dooies is ongegrond.

Die ‘Skrifbewyse’ uit Filippense, Openbaring en Makabeërs word weerlê en ‘n regsinnige vertolking van 1 Korintiërs 3 word gegee.

1984. 17 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 5 Die aanvullings wat hulle by hulle voldoenings voeg naamlik aflaat en vaevuur

1. Die Roomse leer in verband met aflaat.🔗

Uit hierdie leer van voldoening ontstaan verder ook hulle aflaat. Volgens die onsin wat hulle kwytraak, word met die aflaat voldoen aan dit wat ons nie by magte is om ter voldoening te lewer nie. In hulle dwaasheid dartel hulle so rond dat hulle die aflaat as die uitdeling van Christus en die martelare se verdienstes beskryf, wat die pous in sy edikte uitdeel.1 Hulle verdien snuif2 eerder as redenasies, sodat dit geen groot inspanning verg om sulke ligsinnige dwalings te weerlê nie, omdat dit alreeds onder baie aanslae gely het en begin om outyds te word en alreeds op die afdraande pad is. Omdat 'n bondige weerlegging daarvan nogtans vir sekere oningeligtes nuttig sal wees, sal ek dit nie agterweë laat nie. Die feit dat hulle aflaat in elk geval so lank ongedeerd gebly het en in so 'n oordrewe en rasende losbandigheid so lank ongestraf gebly het, bewys trouens in hoe 'n donker nag van dwalings die mense etlike eeue lank gedompel was. Hulle kon sien dat hulle openlik en sonder enige skyn deur die pous en sy buldraers bespot word. Hulle kon raaksien dat daar winsgewende handel met die saligheid van hulle siele gedryf word, dat die prys van hulle saligheid teen 'n paar munte gewaardeer word en dat niks verniet was nie. Hulle kon sien dat hulle uit hulle offers gekul word, dat dit skandelik op hoere, bordele en fuifpartye verkwis word en dat diegene wat hulle monde die meeste vol het oor die aflaat, ook die grootste veragters is. Hulle kon opmerk dat hierdie monster by die dag in al hoe groter teuelloosheid rondgaan en hulle verswelg en dat daar geen einde aan is nie maar dat daar altyd nuwe lood beskikbaar is om nuwe geld te munt.3 Hulle het die aflaat nograns met die grootste eerbied aanvaar, dit aanbid en gekoop. En mense wat 'n bietjie skerpsinniger as ander daarop gelet het, het tog gedink dat dit vrome bedrog was waarmee hulle maar met 'n mate van voordeel mislei kon word. Toe die wêreld homself uiteindelik toegelaat het om 'n bietjie wysheid te bekom, het hulle aflaat afgekoel en geleidelik selfs gevries, totdat dit heeltemal verdamp het.

2. Die Roomse aflaat is strydig met die Skrif.🔗

Daar is egter baie mense wat die gemors, die bedrog, die diefstal en rowery waarmee die aflaatverkopers ons tot nou toe nog bespot en gefop het, sien maar die bron self van sulke goddeloosheid nie kan raaksien nie. Daarom is dit nodig om aan te toon nie alleen wat die aard van hulle aflaat is nie, maar ook wat dit eintlik is as al die smette daarvan weggeneem is.

Hulle noem die verdienstes van Christus, die heilige apostels en die martelare die skat van die kerk.4 Soos ek alreeds terloops opgemerk het,5 skep hulle die versinsel dat die volle bewaking6 van hierdie skuur aan die Roomse biskop oorgedra is en dat die uitdeling van sulke groot seëninge in sy hande is sodat hy dit self kan uitdeel en dat hy die volmag om dit uit te deel aan ander kan toeken. Hieruit kom dan dat die pous soms volle aflaat of soms aflaat vir 'n bepaalde aantal jare skenk, dat die kardinale aflaat vir honderd dae kan gee en die biskoppe vir veertig.7 Maar om dit nou maar rondborstig te beskryf: die aflaat is 'n ontheiliging van Christus se bloed, 'n bespotting van die Satan waarmee hulle Christene van die genade van God en die lewe wat in Christus is, afrokkel en hulle van die ware weg van saligheid afwegkeer. Want hoe kon Christus se bloed skandeliker ontheilig word as wanneer gesê word dat sy bloed nie genoeg is om ons sondes te vergewe, versoening te doen en voldoening te lewer nie, as dit nie van elders aangevul en onderskraag word nie - net asof sy bloed uitgedor en van uitputting beswyk het?

Petrus sê: "Die wet en al die profete getuig vir Christus dat vergewing van sondes deur Hom verkry moet word".8 Hulle aflaat skenk vergiffenis van sondes deur Petrus, Paulus en die martelare.

Johannes sê: "Die bloed van Christus reinig ons van die sonde".9 Hulle aflaat maak die bloed van martelare tot 'n afwassing van ons sondes. Paulus sê: "Christus, wat die sonde nie geken het nie, het vir ons sonde geword (dit is voldoening vir die sonde) sodat ons die geregtigheid van God in Hom kon word".10 Hulle aflaat stel die voldoening vir ons sondes in die bloed van die martelare. Paulus roep uit en getuig vir die Korintiërs dat Christus alleen vir hulle gekruisig is en gesterf het.11 Hulle aflaat verklaar dat Paulus en ander vir ons gesterf het. Elders sê hy dat Christus deur sy bloed vir Hom 'n kerk verkry het.12 Hulle aflaat stel egter 'n ander prys vir die verkryging van die kerk, naamlik in die bloed van die martelare.

Die apostel sê: "Met een offerande het Christus tot in ewigheid die wat geheilig is, volmaak".13 Daarteenoor skreeu hulle aflaat dat die heiligmaking deur martelare volmaak word en dat hierdie heiligmaking nie voldoende sou wees nie.14 Johannes sê dat al die heiliges hulle klere in die bloed van die Lam gewas het.15 Hulle aflaat leer ons om ons klere in die bloed van heiliges te was.

3. Getuienis wat bewys dat die Roomse aflaat en verdienste van martelare 'n dwaalleer is.🔗

Oor hierdie heiligskennis het Leo, biskop van Rome, baie duidelik aan die Palestyne geskryf.16 Hy sê: "Hoewel die dood van baie heiliges kosbaar in die oë van die Here was,17 is nie een van hulle, hoe onskuldig hy ook al was, doodgemaak om vir die wêreld versoening te doen nie. Die regverdiges het krone ontvang maar nie vir ander gegee nie, uit die dapperheid van gelowiges het voorbeelde van lydsaamheid voortgekom en nie gawes van geregtigheid nie. Hulle dood het immers elkeen van hulle afsonderlik geraak en nie een van hulle het met sy dood 'n ander se skuld betaal nie, aangesien daar maar net een Here, Christus, was in wie hulle almal gekruisig, gestorwe, begrawe en opgewek is".18 Dit was 'n gedenkwaardige opvatting, en hy het dit ook elders herhaal.19 Niks duideliker as dit kan seker verlang word om 'n streep deur hierdie leerstelling te trek nie.

Nogtans verklaar Augustinus dit ewe paslik in dieselfde sin en sê: "Broeders, al sou ons vir ons broeders sterf, word geen bloed van 'n martelaar tot vergiffenis van ons sondes vergiet nie. Christus het dit immers vir ons gedoen. En hierin het Hy aan ons geen rede gegee om Hom na te boots nie, maar om Hom dankbaar te wees".20 Elders sê hy net so: "Soos die Seun van God alleen Seun van die mens geword het om ons saam met Hom kinders van God te maak, het Hy sonder dat Hy die kwaad verdien het, alleen die straf vir ons gedra, sodat ons wat sonder goeie verdienste was, deur Hom onverdiende genade kon verkry".21

Hoewel hulle hele leer uit verskriklike heiligskennis en laster aanmekaargelap is, is hierdie laster tog onnatuurliker as al die ander. Laat hulle erken of die volgende hulle opvattings is: dat martelare met hulle dood meer aan God gelewer het en meer verdien het as wat hulle vir hulleself nodig gehad het en dat hulle so 'n groot oorvloed verdienstes oorgehad het dat dit na ander mense kon oorvloei. Om dus te voorkom dat so 'n groot gawe nutteloos sou wees, dink hulle dat die bloed van martelare met Christus se bloed gemeng word en dat uit die twee die skat van die kerk ter vergiffenis van en voldoening vir sondes tot stand gebring word?22 Verder: meen hulle dat ons Paulus se verklaring ook so moet verstaan23 wanneer hy sê: "Ek vul in my liggaam aan wat aan die lyding van Christus vir sy liggaam ontbreek, dit is die kerk"?24 Wat is dit anders as om vir Christus net sy Naam oor te laat en om van Hom origens 'n gewone heilige mensie te maak wat nouliks onder die massa heiliges onderskei kan word? Hy alleen, ja, Hy alleen behoort verkondig te word. Hy alleen moet voorgehou word, Hy alleen moet genoem word. Na Hom alleen moet opgesien word wanneer dit om die verkryging van sondevergiffenis, versoening en heiligmaking gaan.

Maar laat ons luister na hulle bewyse: "Om te verhoed dat die bloed van martelare verniet vergiet is, moet dit tot algemene voordeel van die kerk aangewend word".25 Ag so? Het dit dan geen voordeel ingehou dat hulle God deur hulle dood verheerlik het nie? Dat hulle met hulle bloed sy waarheid onderteken het nie? Dat hulle daarmee getuig het dat hulle die lewe hier gering ag en 'n beter lewe soek nie? Dat hulle met hulle volharding die geloof van die kerk versterk en die hardkoppigheid van die kerk se vyande verbreek het nie? Maar natuurlik is dit dat hulle geen voordeel erken as Christus alleen die Versoener is, as Hy alleen ter wille van ons sondes gesterf het en as Hy alleen vir ons verlossing geoffer is nie. Nou sê hulle: "Petrus en Paulus sou nietemin die oorwinningskroon behaal het, selfs as hulle op hulle beddens gesterf het. Omdat hulle egter ten bloede toe gestry het, sou dit darem nie met God se geregtigheid strook om dit onvrugbaar en doelloos te laat nie". Net asof God nie geweet het om na die maat van sy gawes sy heerlikheid in sy diensknegte te laat toeneem niet! Wanneer die kerk egter deur hulle triomf tot ywer om te stry aangevuur word, verkry dit oor die algemeen genoeg voordeel daaruit.

4. 'n Weerlegging van die getuienis wat gewoonlik ter ondersteuning van hierdie dwaalleer aangehaal word.🔗

Maar hoe kwaadwillig verdraai hulle nie die verwysing na Paulus wanneer hy sê dat hy in sy liggaam vervul wat aan die lyding van Christus ontbreek nie!26 Want hy pas die gebrek of vervulling nie op die werk van verlossing, voldoening en versoening toe nie, maar op die verdrukkings waarmee die ledemate van Christus, naamlik al die gelowiges, geoefen moet word so lank hulle in hierdie vlees lewe. Hy sê dus dat dit nog van Christus se lyding oor is dat dit wat Hy eenmaal in Homself gely het, nog elke dag in sy lede gely word. Christus ag ons die eer waardig om ons verdrukkings as sy eie te beskou en te reken. Paulus voeg egter by: vir die kerk. Daaronder verstaan hy nie vir verlossing, vir versoeningof vir voldoening van die kerk nie maar vir die stigting en bevordering van die kerk. So sê hy ook elders dat hy alles verduur ter wille van die uitverkorenes sodat hulle die saligheid wat in Christus Jesus is, kan verkry.27 En aan die Korintiërs het hy geskryf dat hy al die ellendes wat hy verduur het, ter wille van hulle vertroosting en saligheid verdra  het.28 En dadelik daarna stel hy sy eie standpunt wanneer hy byvoeg dat hy 'n dienaar van die kerk geword het nie om dit te verlos nie maar volgens die bediening wat aan hom opgedra is om die evangelie van Christus te verkondig.29

Maar as hulle dan nog 'n ander vertolker nodig het, laat hulle dan na Augustinus luister. Hy sê: "Die lyding van Christus is in Christus alleen soos in die Hoof, maar in Christus en die kerk soos in die hele liggaam. Daarom sê Paulus, een lid hiervan: 'Ek vervul in my liggaam wat in die lyding van Christus ontbreek'. As jy wat hierdie woorde hoor, dus onder die lede van Christus is, ontbreek alles aan die lyding van Christus wat jy ly van diegene wat nie onder die lede van Christus is nie".30 Elders verklaar hy trouens wat die doel is van die lyding van die apostels wat hulle ter wille van die kerk ondergaan het. Hy sê: "Christus is vir my 'n deur31 na julle toe, want julle is Christus se skape wat deur sy bloed verkry is. Ken dan julle prys, wat nie deur my gegee word nie maar deur my verkondig word". Daarna voeg hy by: "Soos Hy sy eie lewe neergelê het, so behoort ons ook ons lewe ter wille van ons broeders neer te lê, om vrede te bou en die geloof te handhaaf''.32

Tot sover Augustinus. Paulus het immers hoegenaamd nie gedink dat daar iets aan die lyding van Christus ontbreek het in soverre dit die volheid van geregtigheid, saligheid en die lewe aangaan nie. Hy wou ook hoegenaamd niks bydra nie, omdat hy so duidelik en pragtig verkondig dat die oorvloed van genade met so 'n groot milddadigheid deur Christus uitgestort is dat dit al die mag van die sonde ver te bowe gegaan het.33 Soos Petrus uitdruklik getuig, het al die heiliges deur hierdie genade alleen salig geword en nie deur die verdienste van hulle lewe of sterwe nie,34 sodat dat elkeen wat die agting vir enige van die heiliges elders as net in die barmhartigheid van God alleen stel, God en sy Gesalfde beledig. Maar waarom verwyl ek nog langer op hierdie onderwerp net asof dit nog vaag is, aangesien die blote vermelding van sulke gedrogte alreeds oorwinning beteken?

5. Die aflaat is strydig met die eenheid en werking van die genade van Christus.🔗

Om nou maar sulke afstootlikhede agterweë te laat: Wie het die pous verder geleer om die genade van Jesus Christus in lood en papier toe te sluit terwyl dit die Here se wil was dat hierdie genade deur die word van die evangelie uitgedeel moes word? Maar dan moet die evangelie van God in elk geval leuenagtig wees, of hulle aflaat moet leuenagtig wees. Want Paulus getuig dat Christus deur die evangelie met al die oorvloed hemelse seëninge, met al sy verdienstes, met al sy geregtigheid, wysheid en genade sonder uitsondering vir ons aangebied word wanneer hy sê dat die woord van versoening aan woordbedienaars opgedra is, om hierdie soort boodskap te bring net asof Christus ons deur hulle vermaan: "Ons bid julle, laat julle met God versoen. Hy het Hom wat die sonde nie geken het nie, sonde gemaak vir ons sodat ons in Hom die geregtigheid van God gemaak kon word".35 Gelowiges weet ook wat die krag is van die gemeenskap van Christus wat volgens die getuienis van dieselfde apostel in die evangelie vir ons aangebied word om te geniet.36 Daarteenoor heg hulle aflaat 'n maat van genade wat uit die arsenaal van die pous ontbloot is, aan lood, perkament en selfs aan 'n plek vas en skeur dit van God se Woord af. As iemand egter na die oorsprong hiervan vra, het hierdie misbruik skynbaar daaruit ontstaan dat mense wat berou gehad het, eertyds sulke streng voldoenings opgelê is dat almal dit nie kon verduur nie. Toe het sekere mense agtergekom dat hulle uitermatig belas word deur die berou wat hulle opgelê is en die kerk versoek om dit ligter te maak. Die verligting wat aan sulke mense verleen is, het as aflaat bekend gestaan. Toe hulle egter hulle voldoenings op God afgeskuif het en beweer het dat dit vergeldings was waarmee mense hulleself van God se oordeel kon loskoop, het hulle terselfdertyd ook hulle aflaat saamgesleep sodat dit as versoeningsmiddels kon dien om ons van ons verdiende straf te verlos.37 Hulle het trouens die laster waarvan ons vertel het, met so 'n groot skaamteloosheid versin dat hulle geen dekmantel daarvoor kan hê nie.

6. Die noodsaaklikheid daarvan om die Roomse leer in verband met die vaevuur te weerlê.🔗

Nou moet hulle ons ook nie oor hulle vaevuur lastig val nie.38 Dit is immers met hierdie byl verbreek, afgetakel en heeltemal tot op die fondamente vernietig. Ek stem tewens ook nie met sommige mense saam wat meen dat ons moet maak asof hierdie onderwerp nie bestaan nie en dat ons moet nalaat om van die vaevuur te praat omdat dit, soos hulle sê, tot hewige rusies aanleiding gee en weinig opbouends kan bydra.39 Ek sou hulle inderdaad ook aanraai om sulke onsin in die wind te slaan as dit nie was dat hulle dit as ernstig beskou het nie. Maar aangesien hulle vaevuur uit baie belasterings gebou is en daagliks nog deur nuwe laster ondersteun word, terwyl dit baie ernstige aanstoot verwek, moet ons dit inderdaad nie oor die hoof sien nie. Mense kon wel vir 'n tyd lank veins dat dit sonder die Woord van God met nuuskierige en roekelose onbesonnenheid uitgedink is. Mense kon dit wel wegveins dat aan 'n vaevuur geglo is as 'n soort openbaring wat deur die listigheid van die Satan saamgeflans is, en enkele Skrifverwysings is ook onverstandig verdraai om dit te bevestig. Die Here verdra nogtans nie dat die mens se roekeloosheid so in die verborge dieptes van sy oordele inbars nie. Hy het dit ook streng verbied dat mense sy stem minag en die waarheid by dooies soek.40 Hy laat trouens nie toe dat syWoord so oneerbiedig bemors word nie.

Laat ons nogtans toegee dat al die dinge 'n rukkie geduld kon word as iets wat nie van soveel belang was nie. Wanneer die versoening van sondes egter elders as in die bloed van Christus gesoek word wanneer voldoening op iemand anders afgeskuif word, dan is dit uiters gevaarlik om daaroor te swyg. Ons moet dus nie alleen ons stem nie maar ook ons keel en ons longe inspan en skreeu dat die vaevuur 'n verderflike versinsel van die Satan is, omdat dit Christus se kruis doelloos maak, omdat dit God se barmhartigheid ondraaglike smaad toedien en omdat dit ons geloof laat struikel en vernietig. Want wat is die vaevuur vir hulle anders as voldoening wat na die dood deur die siele van gestorwenes vir hulle sondes betaal word?41 Die gevolg is dat die vaevuur dadelik wortel en tak tot niet gemaak word wanneer die opvatting van voldoening afgebreek is. As dit dan volgens die uiteensetting hierbo42 meer as duidelik is dat die bloed van Christus die enigste voldoening, versoening en reiniging vir gelowiges se sondes is, wat bly dan anders oor as net dat die vaevuur loutere en verskriklike laster teen Christus is? Ek laat die heiligskennis waarmee dit daagliks verdedig word, agterweë, asook die aanstoot wat dit in die godsdiens verwek en ontelbare ander dinge waarvan ons sien dat dit uit so 'n bron van boosheid voortgekom het.

7. 'n Weerlegging van sogenaamde Skrifgetuienis vir die bestaan van 'n vaevuur.🔗

Tog is dit die moeite werd om die verwysings wat hulle gewoonlik vals en verkeerd uit die Skrif gryp, uit hulle hande te klap. Hulle sê: "Toe die Here verklaar het dat sonde teen die Heilige Gees nie in hierdie eeu en ook nie in die toekomstige eeu vergewe sal word nie,43 het Hy terselfdertyd te kenne gegee dat daar wel vergiffenis van sekere sondes in die toekomstige eeu is".44 Maar wie kan nie sien dat die Here daar van sondeskuld praat nie? As dit so is, wat dra dit dan by tot hulle vaevuur, aangesien hulle nie ontken dat die skuld vir hulle sondes waarvoor die straf volgens hulle opvatting daar betaal word, in die huidige lewe vergewe is nie?

Om nogtans te verhoed dat hulle ons nog in die rede val, sal hulle 'n duideliker oplossing kry. Toe die Here alle hoop op vergiffenis vir so 'n skandelike goddeloosheid wou afsny, was dit nie vir Hom genoeg om net te sê dat dit nooit vergewe sal word nie. Maar om dit nog sterker te stel maak Hy van 'n verdeling gebruik waarin Hy sowel die oordeel insluit wat die gewete van elkeen in hierdie lewe ervaar, as die laaste oordeel wat in die opstanding openlik gevel sal word. Dit is asof Hy gesê het: "Waak teen arglistige opstandigheid asof dit teen onmiddellike verderf is". Want iemand wat poog om die lig vandie Gees wat hom aangebied is, doelbewus uit te doof, sal nie vergiffenis kry nie - nie in hierdie lewe, wat aan sondaars gegee is om hulle te bekeer, en ook nie op die laastedag, waarop die lammers van God deur die engele van die bokke geskei sal word en die koninkryk van die hernele van alle struikelblokke gesuiwer sal word nie. 

Verder voer hulle die bekende gelykenis uit Matteus aan waar Christus sê: "Wees eensgesind met jou teenstander sodat hy jou nie miskien aan 'n regter oorgee, en die regter jou aan die balju en die balju jou in die tronk gooi wat jy nie sal verlaat voordat jy die laaste duit betaal het nie". As die woord regter in hierdie verwysing God beteken en aanklaer duiwel, as balju engel beteken en tronk die vaevuur, sal ek met graagte handdoek ingooi. Maar as dit vir almal duidelik is dat Christus daar wou aantoon aan hoeveel gevare en rampe mense hulle blootstel wat liewer hardkoppig die letter van die wet45 op die proef wil stel as om billik en goed op te tree, om sodoende die wat aan Hom behoort, kragtiger tot kalm eensgesindheid aan te spoor - waar is hulle vaevuur dan te vinde? vra ek jou.46

8. Hulle Skrifbewyse uit Filippense, Openbaring en Makkabeërs.🔗

Hulle put ook 'n bewys uit Paulus se woorde waar hy verklaar dat die knieë van die wat in die hemel, die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, voor Christus sal buig.47 Hulle neem dit immers as 'n uitgemaakte saak op dat onder die wat onder die aarde is, nie die mense verstaan kan word wat tot die ewige verdoemenis veroordeel is nie. Daarom bly daar net oor dat dit die siele moet wees wat in die vaevuur ly. Hulle bewys sou nie te sleg gewees het as die apostel met kniebuiging die ware beoefening van godsvrug aangedui het nie. Aangesien hy egter doodeenvoudig leer dat aan Christus 'n heerskappy gegee is waaraan alle skepsels hulle moet onderwerp, wat verhinder ons dan om  onder die wat onder die aarde is, die duiwels te verstaan, wat sekerlik voor die Here se regbank gedaag sal word en God met skrik en bewing as hulle Regter sal erken. Paulus self verklaar dieselfde profesie elders net so. Hy sê: "Ons sal almal voor Christus se regbank gedaag word. Want daar is geskryf: Ek leef, en elke knie sal voor my buig", ensovoorts.48 Maar dit wat in Openbaring staan, mag volgens hulle nie so geïnterpreteer word nie. Daar staan: "Elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, hulle almal het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom die seën, die eer, die heerlikheid en mag toe tot in ewigheid".49 Dit gee ek wel maklik toe. Maar watter soort skepsels, dink hulle, word hier vermeld? Dit staan immers soos 'n paal bo water dat redelose en lewelose skepsels hier verstaan word. Daardeur word slegs bevestig dat die hele wêreld van die kruin van die hemel af tot by die middelpunt van die aarde op sy eie manier die heerlikheid van die Skepper vertel.50

Die verwysing wat hulle uit die geskiedenis van die Makkabeërs aanvoer,51 ag ek nie 'n antwoord waardig nie, sodat dit nie miskien die indruk wek dat ek die boek in die lys van heilige boeke opneem nie. "Maar" (maak hulle beswaar) "Augustinus het dit dan as 'n kanonieke boek aanvaar!" Hoe geloofwaardig is dit in die eerste plek? Hy sê: "Die Jode beskou die geskrif van die Makkabeërs nie soos hulle die wet, die profete en die psalms sien nie. Die Here getuig trouens van die wet, die profete en die psalms asof hulle sy getuienis openbaar wanneer hy sê dat alles vervul moes word wat in die wet, die psalms en die profete geskryf is.52 Maar dit sal tot voordeel deur die kerk aanvaar word as gelowiges dit maar net nugter lees of daarna luister", ensovoorts.53 Hieronymus het egter geen twyfel daaroor nie, en hy leer dat die boek se gesag hoegenaamd geen krag dra om die leer te bevestig nie."54 En uit die ou boekie wat onder die naam van Cyprianus uitgegee word en as 'n Verduideliking van die Geloofsbelydenis55 bekend staan, blyk dit duidelik dat die boek in die kerk van ouds geen plek gehad het nie.

Maar waarom stry ek verniet hieroor? Net asof die skrywer self nie genoegsaam aantoon hoeveel gesag aan hom geheg moet word wanneer hy aan die einde verskoning vra as hy miskien iets gesê het wat minder goed is nie.56 Iemand wat in elk geval erken dat sy geskrifte verskoning nodig het, roep daarmee uit dat dit nie profesieë van die Heilige Gees is nie. Hierby kom nog dat die godsvrug van Judas daarin aangeprys word slegs omdat hyvas op die laaste opstanding gehoop het toe hy 'n offer vir die dooies na Jerusalem gestuur het.57 Want die skrywer van hierdie geskiedenis laat Judas se daad nie op die prys vir sy verlossing slaan nie maar daarop dat hulle gedeel het in die ewige lewe saam met ander gelowiges wat vir hulle vaderland en hulle godsdiens58 gesterf het. Hierdie daad was wel nie sonder bygelowigheid en verkeerde ywer nie, maar mense wat betekenis heg aan'n offer van die wet, is gekker as gek. Ons weet immers dat die gebruik wat toe gegeld het, met die koms van Christus tot 'n einde gekom het.

9. 'n Regsinnige vertolking van 1 Kor. 3.🔗

Volgens hulle het hulle egter in Paulus 'n onoorwinlike wapen wat nie so maklik platgeslaan kan word nie. Hy sê: "As iemand op hierdie fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi en stoppels, die dag van die Here sal aan die lig bring hoedanig elkeen se werk is omdat dit in vuur geopenbaar sal word en vuur op die proef sal stel hoedanig elkeen se werk is. Asiemand se werk verbrand, sal hy skade ly. Hy self sal egter gered word, maar dit sal wees asof dit deur vuur is".59 Nou sê hulle: "Wat kan die vuur nou anders wees as die vaevuur waardeur die vuilheid van ons sondes weggeneem word sodat ons rein in die koninkryk van God kan ingaan?"60 En tog het die meeste skrywers van ouds gevoel dat dit 'n ander vuur is, naamlik die verdrukking of die kruis waardeur die Here die wat aan Hom behoort, beproef om nie in die vuilheid van hulle vlees te berus nie, en dat dit baie waarskynliker is as die versinsel van 'n vaevuur.61

Tog stem ek nie met hulle saam nie, want dit lyk vir my asof ek 'n baie sekerder en duideliker begrip van hierdie verwysing het. Voordat ek dit egter aan die orde stel, sou ek graag wou hê dat hulle my moet antwoord op die vraag of hulle dink dat die apostels en al die heiliges ook deur hierdie reinigende vuur moes gaan. Ek weet hulle sal sê: "Nee!" Dit sou immers nie rym dat mense gereinig moes word van wie se verdienste hulle droom dat dit na al die lede van die kerk oorvloei nie. Die apostel sê egter: "Ja!", want hy sê nie dat sommige mense se werk beproef sal word nie maar almal s'n.62 Dit is nie my redenasie nie, maar Augustinus s'n wat daardie interpretasie so bestry.63 En - iets wat nog belagliker is hy sê nie dat hulle vanweë enige werk deur die vuur sal gaan nie, maar dat hulle wanneer hulle werk met vuur beproef word, beloon sal word as hulle met die grootste getrouheid aan die kerk gebou het.64

In die eerste plek sien ons dat die apostel 'n metafoor gebruik het toe hy die leerstellings wat uit die mens se kop uitgedink is, hout, hooi en stoppels genoem het. Die rede vir die metafoor is ook voor die hand liggend, naamlik net soos hout dadelik verteer en vernietig word wanneer dit in die vuur gegooi word, net so sal hulle leerstellings ook nie stand kan hou as dit op die proef gestel word nie. Verder is dit aan niemand onbekend dat so 'n beproewing van die Gees van God kom nie. Om dus die draad van sy beeldspraak voort te sit en die onderafdelings daarvan reg met mekaar te korreleer en by mekaar aan te pas, het hy die beproewing van die Heilige Gees 'n vuur genoem. Want hoe nader goud en silwer aan 'n vuur gebring word, hoe sekerder bewys hulle hulle egtheid en suiwerheid. Net so word die gesag van die Here se waarheid des te meer bevestig namate dit aan noukeuriger geestelike ondersoek onderwerp word. Soos hooi, hout en stoppels skielik aan die brand slaan en in vlamme opgaan as dit in die vuur gegooi word, so kan uitvindsels van die mens wat nie op die Woord van die Here gegrond is nie, nie die beproewing van die Heilige Gees deurstaan sonder om dadelik in duie te stort en tot niet te gaan nie.

Kortom: as versonne leerstellings met hout, hooi en stoppels vergelyk word, omdat hulle net soos hout, hooi en stoppels deur 'n vuur verbrand en vernietig word maar slegs deur die Gees van die Here verwoes en vernietig word, volg daaruit dat die Gees die vuur is waardeur hulle op die proef gestel sal word. Die beproewing van die vuur noem Paulus die dag van die Here65 soos dit algemeen in die Skrif gebruiklik is. Want so dikwels as wat die Here sy teenwoordigheid op die een of ander manier aan mense bekend maak, word daar gesê dat dit die dag van die Here is. Sy aangesig skitter trouens besonderlik wanneer sy waarheid glinster. Nou is bewys dat vuur vir Paulus niks anders as die beproewing van die Heilige Gees is nie. Maar hoe kan mense wat aan hulle werk skade ly, deur daardie vuur verlos word? Om dit te verstaan sal ook nie moeilik wees as ons die soort mens in aanmerking neem van wie hy praat nie. Hy beskryf immers die argitekte van die kerk wat die regte fondament daarvan behou maar met materiaal wat nie daarmee ooreenstem nie, daarop bou. Dit is mense wat die van die belangrikste en noodsaaklikste hoofpunte van die geloof afwyk nie maar tog in die minder belangrike punte wat nie so gevaarlik is nie, dwaal en hulle eie breinkinders met die Woord van God vermeng. Sulke mense, sê ek, moet aan hulle werk skade ly en hulle breinkinders tot niet maak. Hulle word egter self verlos maar asof dit deur vuur is. Dit beteken nie dat hulle onkunde en dwaling voor die Here aanneemlik is nie maar dat hulle deur die genade en krag van die Heilige Gees daarvan gesuiwer word. Almal wat die goue suiwerheid van God se Woord met daardie gemors van 'n vaevuur besmet, moet daarom noodwendig aan hulle werk skade ly.

10. Die Roomse verweer dat die gebede vir die dooies ook in die kerk van ouds in gebruik was, is ongegrond.🔗

"Maar dit was dan 'n baie ou gewoonte in die kerk",66 sou hulle beswaar kon aanteken. Paulus ruim hierdie beswaar uit die weg wanneer hy sy eie tyd ook in hierdie uitspraak insluit en verklaar dat almal aan hulle werk moet skade ly wat iets in die struktuur van die kerk opgerig het wat nie met die fondament daarvan ooreenstem nie.67 Wanneer my teenstanders dus die beswaar teen my opper dat dit 'n gebruik was wat eenduisend driehonderd jaar lank in die kerk gegeld het dat gebede vir die dooies afgelê is,68 vra ek hulle op my beurt volgens watter Woord van God, volgens watter openbaring, volgens watter voorbeeld dit gebeur het. Want Skrifgetuienis ontbreek nie alleen hier nie, maar al die voorbeelde van heiliges wat daarin te lees is, bewys ook nie dat daar so iets was nie. Daar is baie en soms ook lang verhale van rou en begrafnisdiens, maar van gebede vir die dooies kan 'n mens selfs nie eens die geringste sweem bemerk nie.

In die mate waarin dit 'n belangriker onderwerp was, moes dit tog meer vermelding verdien het. Selfs die mense van ouds69 wat nog gebede vir die dooies afgelê het, het gesien dat hulle hierin geen gebod van God en wettige voorbeeld gehad het nie.70 Waarom het hulle dan gewaag om dit te doen? Ek verklaar dat hulle daarin aan iets mensliks gely het en ek hou vol dat ons dit wat hulle gedoen het, nie moet na-aap nie. Aangesien gelowiges immers geen werk moet aanpak as hulle gewete nie daarvan seker is nie, soos Paulus sê, word hierdie sekerheid veral in 'n gebed vereis.71 Tog kan ons glo dat hulle deur 'n bepaalde rede daartoe aangedryf is. Dit kon naamlik gewees het dat hulle vertroosting gesoek het om hulle droefheid te verlig en dat dit miskien onmenslik kon lyk dat hulle nie een of ander getuienis van hulle liefde vir die dooies voor God lewer nie. Almal het ervaring van die geneigdheid van die mens om so te voel.

Toe die gewoonte eers aanvaar is was dit soos 'n vonk wat baie mense se gemoedere aangevuur het. Ons weet dat plegtighede vir die dooies onder al die heidene en in alle eeue gehou is en dat hulle siele elke jaar met offers gereinig is. Hoewel die Satan die mense in hulle dwaasheid met hierdie oë verblindery bespot het, het hy tog die geleentheid om hulle om die bos te lei uit 'n regte beginsel geput, naamlik dat die dood nie die einde is nie maar 'n oorgang uit hierdie lewe na 'n ander. Daar kan geen twyfel daaroor bestaan dat ook die heidene vir hierdie bygeloof voor God se regbank skuldig is nie, omdat hulle hulle nie oor die toekomstige lewe bekommer het nie, hoewel hulle verklaar het dat hulle daarin glo. Om dus nou nie slegter as onheiliges te wees nie was die Christene skaam om nie 'n diens vir die dooies te hou nie, net asof hulle heeltemal dood was. Hieruit het hulle ondeurdagte bedrywigheid ontstaan. Hulle het trouens gedink dat hulle hulle aan'n groot skande sou blootstel as hulle traag sou wees om vir hulle begrafnisdienste, eetmale en offers te sorg. En dit wat uit 'n verdraaide na-apery voortgevloei het, het van tyd tot tyd met nuwe byvoegings so gegroei en die stadium bereik dat dit die belangrikste heiligheid van die pousdom is om die dooies in hulle pyniging te hulp te snel.

Maar die Skrif voorsien aan ons 'n heeltemal ander vertroosting wat veel beter en bestendiger is wanneer dit getuig dat die dooies salig is wat in die Here sterf.72 Die Skrif voeg ook die rede daarvoor by, naamlik dat hulle van daardie tyd af van hulle arbeid rus. Ons moet ons liefde vir die afgestorwenes ook nie sulke vrye teuels gee dat ons 'n verdraaide gewoonte van gebed in die kerk invoer nie. Iemand wat maar net 'n klein bietjie verstand het, kan in elk geval maklik merk dat alles wat in verband met hierdie onderwerp by die skrywers van ouds te lese is, aan 'n algemene gewoonte en algemene onverstandigheid toegeskryf is. Ek erken dat hulle self ook op die dwaalweg meegesleur is, naamlik dat 'n ondeurdagte liggelowigheid gewoonlik mense se verstand van hulle goeie oordeel beroof. As ons hulle boeke lees, toon dit intussen met hoeveel twyfel hulle gebede vir die dooies aanbeveel.73 Augustinus vertel in sy Belydenisse dat sy moeder Monica hom driftig versoek het dat haar nagedagtenis in die uitdeling van die geheimenisse by die altaar gehuldig moes word.74 Natuurlik was dit die wens van 'n ou vrou, en haar seun het haar versoek nie aan die norm van die Skrif getoets nie, maar vanweë sy natuurlike toegeneentheid wou hy hê dat ander dit moes goedkeur. Sy boek Plegtighede vir dooies75 bevat egter soveel twyfel dat dit met reg die vuur van so 'n dwase toewyding met die kilheid daarvan moes uitblus. As iemand nog die begeerte koester om 'n verdediger van die aanbidding van dooies te wees, sou hy die mense wat eers daaroor bekommerd was, sekerlik met die koue waarskynlikhede (in hierdie boek) onbesorg kan maak. Want die een steunpilaar daarin is dat die gewoonte om vir die dooies te bid so in krag toegeneem het dat hierdie plig daarom nie geminag moet word nie.

Om verder maar toe te gee dat die ou skrywers van die kerk gedink het dat dit godvrugtig is om aan die dooies guns te bewys, moet ons altyd die reël onthou wat nie kan faal nie, naamlik dat ons in ons gebede niks van ons eie mag bydra nie maar dat ons ons begeertes aan God se Woord moet onderwerp, omdat dit in sy goeddunke geleë is om voor te skryf wat Hy gevra wil hê. Aangesien die hele wet en evangelie nie eens een enkele lettergreep bydra tot die vryheid om vir die dooies te bid nie, is dit 'n ontheiliging van die aanroeping van God om meer te probeer vra as wat Hy ons gebied. Maar om te verhoed dat ons teenstanders sou roem asof die kerk van ouds aan hulle dwaling medepligtig was, sê ek dat daar 'n groot verskil is. Hulle het die nagedagtenis van die dooies gehuldig sodat dit nie moes lyk asof hulle alle sorg vir hulle laat vaar het nie: maar terselfdertyd het hulle erken dat hulle getwyfel het oor die status van die dooies. In verband met die vaevuur het hulle in elk geval dermate niks bygedra nie dat hulle dit as 'n onderwerp beskou het waaroor daar onsekerheid bestaan het.76 Maar die mense77 eis dat dit wat hulle in verband met die vaevuur gedroom het, sonder bevraagtekening as geloofsdogma beskou moet word. Die mense van ouds het hulle dooies selde en slegs om hulle nie heeltemal te los nie, in die gemeenskap van die heilige nagmaal aan God opgedra.78 Hierdie mense dring voortdurend die sorg vir die dooies aan ons op, en met hulle lastige verkondiging daarvan veroorsaak hulle dat die sorg vir die dooies bo al die liefdespligte gestel word.79 Ja, dit sou selfs nie vir ons moeilik wees om enkele getuienisse van die skrywers van ouds aan die orde te stel wat al die gebruiklike gebede vir dooies duidelik verwerp nie. So is byvoorbeeld Augustinus se getuienis wanneer hy leer dat die opstanding van die vlees en die ewige heerlikheid deur almal verwag word maar dat elkeen die rus wat na die dood volg, ontvang as hy dit waardig is wanneer hy sterf. Gevolglik getuig hy dat al die godvrugtiges, net soos die profete, die apostels en die martelare, dadelik na hulle dood die geluksalige rus geniet.80 As dit dan hulle toestand is, wat, vra ek jou, sal ons gebede nog vir hulle kan bydra?

Ek laat hulle growwer bygelowe waarmee hulle die gemoedere van eenvoudiges betower, agterweë. Dit is nogtans so talryk en meestal so grotesk dat hulle dit nie met eerbare tinte kan verdoesel nie.81 Ek verswyg ook maar die skandelike handel wat hulle na hartelus bedryf het terwyl die hele wêreld so stomgeslaan is. Want daar sou geen einde aan  wees nie, en godvrugtige lesers sal hier genoeg hê om hulle gewete te versterk sonder dat ek dit vermeld.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Thomas, Summa Theol. 3 suppl. 25.1 e.v. (Marietti 4:723 e.v.) en Kidd, Documents 1 - 20.
  2. ^ Helleboro - nieskruid of vrankwortel van die familie ranunculae is in die Klassieke algemeen as medisyne vir geestelik versteurdes gebruik. Anticyra in die Egeïse see is as die beste produksiegebied beskou. Fr. 1541 - 1557: Davantage ces enragez qui feignent les clefz de l'Egltse estre la dispensatien des mérites de Jesus Christ et des Martyrs, laquelle Ie Pape distribue par ses bulles et induigences, ont plus à faire de médecine pour purger leur cerveau que de raisons pour estre conveincuz (IX 60); Fr. 1560: Or combien qu 'ils soyent plustost dignes d'estre mis entre les mains des médecins que d'estre conoeineus par argumens (Benoit 3:143).
  3. ^ Vgl. die "Honderd griewe van die Duitse volk teen die Roomse Curia" in Kidd, Documents no. 61, p.113.
  4. ^ Vgl. Thomas, Summa Theol. 3 suppl. 25.1 (Marietti 4:723); Alexander van Hales, Summa Theol. 4.83.1.1.3.5; Clemens VI, Bulla Unigenitus (Friedberg 2:1304; Kidd, Documents p. 1; Denzinger, Ench. no. 550, p. 233 - 234).
  5. ^ Vgl. n. 4 hierbo. Volgens die Skolastici het die Pous prirnêre dispensasiebevoegdheid oor die 'skat van die kerk' gehad - potestas faciendi indulgenttas plene residet in Papa - die bevoegdheid om aflaat toe te staan berus ten volle by die Pous (Thomas, Summa Theol. 3 suppl. 26.3 - Marietti 4:729). Dit kom ook in Luther se 56ste stelling te berde: Thesauri ecclesiae undepapa dat indulgentias, neque satis nominati sunt, neque cogniti apudpopulum Christi - die skatte van die kerk, waaruit die pous aflaat verleen, is nie genoegsaam omskryf nie en ook nie onder die Christenvolk bekend nie. Sy  62ste stelling lui: Verus Thesaurus ecclesiae est sacrosanctum evangelium gloriae et gratiae Dei die ware skat van die kerk is die heilige evangelie van die heerlikheid en die genade van God (vgl. Kidd, Documents p. 24). In sy bul Exsurge Domine van 15 junie 1520 kla Pous Leo X Luther hieroor aan van dwaling (art. 17): Thesauri ecclesiae, unde Papa dat indulgentias, non sunt merita Christi et Sanctorum - Luther dwaal wanneer hy beweer dat die skatte van die kerk nie Christus en die heiliges se verdienstes is nie (Kidd, a.w. p. 77; Mansi 32:1049).
  6. ^ Radicalem custodiam - radikale, tot op die wortel, bewaking.
  7. ^ Vgl. Innocentius 111,In conc. Later. 4 (1215): Decretal. 5.28.14 (Friedberg 2:889); Thomas, Summa Theol. 3 suppl. 26.3 (Marietti 4:729); 10. Roffensis (Fischer), Assertionis Lutheranae confutatio art. 17, p. 305 e.v.
  8. ^ Marg. Act. l0g. 43. Vgl. OC 48:248 e.v.
  9. ^ Marg. 1. Ioban. l.c. 7. Vgl. OC 55:304 e.v.
  10. ^ Marg. 2. Cor. 5.d.21. Vgl. OC 50:73 e.v.
  11. ^ Marg. 1. Cor. l.b. 13. Vgl. OC 49:316 - 318.
  12. ^ Marg. Act. 20.f28. Vgl. OC 48:467 e.v
  13. ^ Marg. Hebr. 10.c.14. vgl. OC 55:126.
  14. ^ Fr. 1541 e.v.: offermans que la sanctification de Christ, qui autrement ne suffisoit point, est parfaite au sang des Martyrs (Benoit 3:145).
  15. ^ Marg. Apoc. 7.d.14.
  16. ^ Fr. 1545 e.v.: en son Bpistre aux évesques de Palestine (Benoit 3:145). Pous Leo Romanus (Leo I; Leo die Grote) was biskop van Rome vanaf 440 tot 461 en opvolger van Sixtus 111. Tydens sy termyn is Rome aangewys as setel van die kerk na aanleiding van Christus se verklaring: Tu es Petrus et super hancpetram aediftcabo ecclesiam meam -Jy is Petrus en op hierdie rots sal ek my kerk bou (vgl. sy brief 10.1 - MPL54:629). Daar kan dus met reg gesë word dat die Roomse Pousdom by hom sy begin gehad het.
  17. ^ Marg. Psal. 116.15. Vgl. OC 32:199 - 200.
  18. ^ Marg. Epist. 81. Vgl. Leo I, Ep. 124.4 (MPL 54:1064 - 1065).
  19. ^ Marg. Epist. 95. Vgl. idem, Ep. 165.5 (MPL 54:1161 - 1163) en Serm. 64.3 (MPL 54:359 - 360).
  20. ^ Marg. Tract. in Iohan. 84. Vgl. Augustinus, Jn Johan. tract. 84.2 (MPL 35:1847).
  21. ^ Marg. Lib. ad Bon. 4. cap. 4. Vgl. Augustinus Contra duas ep. Pelag. ad Bonifac. 4.4.6 (MPL44:613; CSEL 60,1:526).
  22. ^ Vgl. Thomas, Summa Theol. 3 suppl. 25.1 (Marietti 4:723 e.v.), Eck, Ench. 24)5 e.v.
  23. ^ Vgl. Thomas, a.w.; Eck, a.w.; 10. Roffensis (Fischer), Conf 306 e.v.; vgl. os 4:135.
  24. ^ Marg. Coloss. 1.d.24. Vgl. OC 52:93 - 95.
  25. ^ Vgl. Fiseher, a.w.
  26. ^ Marg. Coloss. 1.d.24.
  27. ^ Marg. 2. Tim. 2.b.10. Vgl. OC 52:364.
  28. ^ Marg. 2. Cor. 1.b.6. Vgl. OC 50:11 - 13.
  29. ^ Vgl. Kol. 1:25; Rom. 15:19.
  30. ^ Marg. In Psat. 16. Augustinus, Enar. in Ps. 61.4 (MPL 36:730 e.v.; CCSL 39:773 - 775).
  31. ^ Vgl. Joh. 10:7.
  32. ^ Marg. Tract. in Ioban. 47. Augustinus, In Ioan. ev. tract.47.2 (MPL35:1733).1545 -1550: + Marg. Coloss.1 (20 - 23).
  33. ^ Marg. Rom. 5.c.15. Vgl. OC 49:98 e.v.
  34. ^ Marg. Act. 15.c.11. Vgl. OC 48:351 e.v.
  35. ^ Marg. 2. Cor. 5.d.18. Vgl. ook verse 19 - 21 en OC 50:70 - 74.
  36. ^ Marg. 1. Cor. 1.d.17 (recte: 1 Kor. 1:9). Vgl. OC 49:312 - 313.
  37. ^ Vgl. Luther, Disputatie pro declaratione uirtutis indulgentiarum positio (1517) 33 (WA 1:235).
  38. ^ Vgl. Lombardus, Sent. 4.21.1 - 4 (MPL 192:895 e.v.), Bonaventura, In sent. 4.20.1.1 - 6; 4.21.2.2,3.1.
  39. ^ Calvyn verwys hier na die feit dat Melanchthon Roomse dwalings in verband met die vaevuur in die Confessio Augustana (1530) en die daaropvolgende Apologia (1532) verswyg het.
  40. ^ Marg. Deut. 18.c.ll.
  41. ^ Fr. 1541 e.v.: sinon une peine que souffrent les mes des trespassex en satisfaction de leurs péchez? (Benoit 3:150).
  42. ^ Vgl. afdeling 2 hierbo en Thomas a.w.
  43. ^ Marg. Matt. 12.e.32; Marc. 3.d.28; Luc. 12.b.l0. Vgl. ook Mark. 3:29 e.v. en OC 45:340 - 342.
  44. ^ Vgl. Lombardus, Sent. 4.21.1 (MPL 192:895); Gregorius I, Dia I. 4.39 (MPL 77:396); Bernardus van Clairvaux, Serm. in Cant. 66.11 waarin hy na Matt. 12:32 verwys vir sy verduideliking van die vaevuur (MPL 183:1100); Eck, Ench. (1525),25 J7a; De Castro, Adv. haer. fo. 188 EF; vgl. OS 4:139.
  45. ^ Summum ius - Calvyn het waarskynlik die bekende uitdrukking van Cicero summum ius, summa iniuria (vgl. sy De olf. 1.10.33; LCL 34) in gedagte. Dit beteken dat die uitvoering van die letter van die wet dikwels tot die grootste onreg lei omdat medemenslikheid nie in ag geneem word nie.
  46. ^ Fr. 1560:+ Bret, que le passage soit regardë et prins en sa simpte intelligence, et il n y sera rien trouvé de ce qu'ils prëtendent (Benoit 3:151).
  47. ^ Marg. Philip. 2.b.l0. Vir Calvyn se uiteensetting hier en verder vgl. oe 52:29 - 30 en Eek, Ench. 25 J7ab en ook Jak. 2:19; 2 Kor. 7:15 (OC 55:405; 50:94).
  48. ^ Marg. Rom. 14.b.l0. Vgl. ook Rom. 14:11; Jes. 45:23 en OC 49:263 - 264; 37:148 - 150.
  49. ^ Marg. Apoca. 5.d.13 (Openb. 5:13).
  50. ^ Vgl. Ps. 19:1 en OC 31:194 e.v.
  51. ^ Marg. 2. Machab. 12.g.43.
  52. ^ Marg. Luc. 24.f44. Vgl. Matt. 12:31 en OC 45:340 - 342
  53. ^ Marg. Contra secundo Gauden. epist. cap. 23. Augustmus. Contra Gaudentium 1.31.38 (MPL 43:729).
  54. ^ Hieronymus, Praef in libros Samuel et Malacbim (MPL 28:556 n. d). Fr. 1545 e.v.: Sainct Hierome, sans difficulté prononce que ce n 'est pas un livre qui doyve auoir autboritê, pour y prendre fondement, pour y prendre quelque doctrine ou artiele de foy (Benoit 3:152).
  55. ^ Vgl. Rufinus, Com. in symb. apost. 38 (MPL 21:374). Hierdie traktaat is in Erasmus se uitgawe van 1530 - 1540 ingesluit asof dit Cyprianus se werk was. Calvyn aanvaar nie Cyprianus se outeurskap daarvan nie.
  56. ^ Marg. 2. Mach. 15.g.36 (recte: 2Mak. 15:39).
  57. ^ Vgl. 2 Mak. 12:43.
  58. ^ Fr. 1560: pour maintenir la vraye religion (Benoit 3:152)
  59. ^ Marg. 1. Cor. c.12(recte: 1Kor 3:12). Vgl. ook vers 13 en oe 49:355 -357 en Origines, Contra Celsum 5.15.
  60. ^ Vgl. Lombardus, Sent. 4.21.1 (MPL 192:895 e.v.), Eck, Ench. 25 J6b; De Castro, Adv. haer. fo. 188F; vgl. OS 4:141.
  61. ^ Marg. Chrysost. August et alii. Vgl. Chrysostomos, De poenit. bomil. 6.3 (MPG 49:317 e.v.); Augustinus, Ench. ad Laurent. 68 (MPL 40:264 e.v.), De ciu. Dei 21.26.1.2 (MPL 41:743 e.v.; CSEL40,2:567 e.v.; CCSL 48:796 e.v.): Clemens Alexandrinus, Stromates7.6.34 (MPG 9:449); Gregorius I, Dial. 4.39 (MPL 77:392); Lombardus, Sent. 4.21.1 . 3(MPL 192:895 e.v.) waar hy 1Kor. 3:15 aanhaal om die bestaan van die vaevuur te verduidelik
  62. ^ Fr. 1545 e.v.: + auquel nombre universel sont enelos les Apostres (Benoit 3:153).
  63. ^ Vgl. Augustinus a.w.
  64. ^ Vgl. 1 Kor. 3.13 en Calvyn se kommentaar hieroor: Vetus translatte babet diem Domini: sed credibtle est, genitioum ilium fuisse ab alto quopiam additum explicationis causa. Die ou vertaling het 'dag van die Here', maar dit is waarskynlik dat dit deur iemand ter verduideliking bygevoeg is (OC 49:355 e.v.).
  65. ^ Vgl. 1 Kor. 3.13 en Calvyn se kommentaar hieroor: Vetus translatte babet diem Domini: sed credibtle est, genitioum ilium fuisse ab alto quopiam additum explicationis causa. Die ou vertaling het 'dag van die Here', maar dit is waarskynlik dat dit deur iemand ter verduideliking bygevoeg is (Oe 49:355 e.v.).
  66. ^ Vgl. Tertullianus, De anima 58 (MPL 2:795 e.v.; CSEL 20:394 e.v.): De corona 3 (MPL 2:99); Augustinus, Ench. ad Laurent. 109.29, 110 (MPL 40:283 - 284); Basilius Caesariensis, Com. in les. 6.J.86; 9.231 (MPG 30:435, 522); Gregorius Naz., Orat. 39.21 (MPG 36:357 - 358); Gregorius Nyssenus, Adv. eos qui differunt baptismum (MPG 46:425 e.v.): Gregorius 1, Dial. 4.39 (MPL77:393 e.v.).
  67. ^ Vgl. 1 Kor. 3:11 - 15.
  68. ^ Vgl. Iac. Latomus, De quibusdam articulis in ecclesia controuersiis fo. 199a; Pighius Campensis, Controoerstarum ... explicatio (1549), Controuersia 13, De cultu et inoocatione sanctorum, p. 190 e.v.: quod ante multa secula, ante annos duodecis ac tredecies cetenos, tot orbe terrarum Christi ecclesia fecisse.
  69. ^ Fr. 1545: les anciens Pères de l'Eglise Chrestienne (Benoit 3:155).
  70. ^ Vgl. Tertullianus, De exhort. ad cast. 11 (MPL 2:975; eest 2:1031,1243); De monogamia 10 (MPL 2:992; eest 2:1243
  71. ^ Marg. Rom. 14.d.23. Vgl.OC 49:268 - 269.
  72. ^ Marg. Apoc. 14.c.13.
  73. ^ Fr. 1560: + Le conjesse, selon que les esprits estans prëoccupez d'une crédulité uolage sont souvent aueuglez, que mesme les Docteurs ont esté embrouillez de la fantasie commune; mais cependant on voit par leurs livres que ce n 'est pas sans scrupule qu 'ilsparient de prierpour les trespassez, comme gens mal asseurez et qui sont comme en branie (Benoit 3:156).
  74. ^ Augustinus, Confes. 9.11.27;.9.13.37 (MPL 32:775,779 e.v.; CSEL 33:219,225).
  75. ^ Augustinus, De cura pro mortuis gerenda (MPL 40:591 - 610).
  76. ^ 1543 - 1545: Marg. Augu. hoc dicit in Enchir. ad Laurent. Vgl. Augustinus, Ench. ad Laurent. 69 (MPL 40:265); De civ. Dei 21.27.4 (MPL 41:745; CCSL 48:800 e.v.).
  77. ^ Fr. 1551 e.v.: Ces nouveaux prophètes (Benoit 3:157).
  78. ^ Vgl. Augustinus, Ench. ad Laurent. 110 (MPL 40:283 e.v.): Tertullianus, De exhort. ad cast. 11 (MPL 2:975); De monogamia 10 (MPL 2:992 e.v.).
  79. ^ Vgl. o.a. Thomas, Summa Theol. 3 suppl. 71 (Marietti 4:923 e.v.): Facultatis Parisiensis Instructio in articulos Melancbtbonis 1535, art. 12 (O'C 7:23); Iac. Latomus, De quibusdam articulis in ecclesia controversiis, fo. 199ab.
  80. ^ Marg. Homil in Ioban. 49, Augustinus, In loan. ev. tract. 49.10 (MPL 35:1751). Vgl. Calvyn se bespreking van hierdie onderwerp in sy Psycbopannycbia 1534, gepubliseer in 1542 (O'C 5:177 231).
  81. ^ Fr. 1551 e.v.: et toutesfois il y auroit matière assès ample de les pourmener en ceste campagne, veu qu 'ils n 'ont nulle couleur pour s 'excuser, qu 'ils ne soyent conoeineus d 'estre les plus vilains trompeurs quifurent tarnais (Benoit 3:157).