Hierdie hoofstuk handel oor die lewe van ‘n Christen. Die Skrif gee aan die Christen ‘n norm waaraan hy geregtigheid kan meet. In Christus het die Christen ‘n beeld ontvang waarna hy moet streef om gelykvormig te word. ‘n Opregte Christenlewe word nie net deur lippetaal gekenmerk nie, maar ook deur die gesindheid van die hart en ‘n volgehoue strewe na die volmaaktheid van die evangelie.

1984. 7 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 6 Die lewe van ‘n Christen: Ten eerste, met watter bewyse die Skrif ons daartoe aanspoor

1. Die doel van en metode met die behandeling van die onderwerp.🔗

Ons het gesê1 dat die doel van die wedergeboorte is dat harmonie2 en ooreenstemming tussen die geregtigheid van God en die gehoorsaamheid van die gelowiges in hulle lewe na vore moet kom en dat hulle so hulle aanneming moet bevestig waardeur hulle as sy kinders aangeneem is.3 Hoewel sy wet egter die vernuwing waardeur die beeld van God weer in ons herstel word, insluit, sal dit nogtans vir ons voordelig wees om uit verskeie Skrifaanhalings die wyse waarop ons ons lewe moet vorm, af te lei omdat ons luiheid bowendien baie prikkels en hulpmiddels nodig het. Die doel daarvan is dat mense wat hulle bekering ter harte neem, nie in hulle ywer op 'n dwaalweg beland nie. Wanneer ek dit verder op my neem om die Christen se lewe te vorm, is ek goed bekend daarmee dat ek 'n onderwerp betree wat veelsydig en breedvoerig is, en dat 'n mens as jy daarmee begin, 'n lang boek kan vul as jy dit volledig wil behandel. Ons sien immers hoe breedvoerig die vermanings van die skrywers van ouds, wat net afsonderlike deugde behandel, uitgebrei word en dit nie met 'n uitermatige omhaal van woorde nie. Want watter deug 'n mens ook al van voorneme is om in 'n betoog aan te beveel, word jou pen vanself deur 'n oorvloed materiaal tot so 'n omvang gelei dat dit vir jou lyk asof jy die onderwerp nie behoorlik bespreek het tensy jy baie daaroor gesê het nie.

Dit is trouens nie my voorneme om die onderwysing van 'n Christenlewe waarvan ek nou bekend maak dat ek dit sal leer, dermate uit te rek om elke deug afsonderlik te behandel en tot vermanings daaroor uit te wei nie. Dit kan 'n mens maar in die geskrifte van ander skrywers, en veral in die preke4 van die skrywers van ouds gaan soek. Vir my sal dit voldoende wees as ek die metode aandui waarvolgens 'n godvrugtige man na die regte doel gelei kan word om sy lewe in te rig en as ek bondig 'n algemene reël kan neerlê na aanleiding waarvan hy sy pligte goed kan meet. Miskien sal daar soms geleentheid vir lang voordragte wees, of ek sal onderafdelings waarin ek nie so bekwaam is nie, vir ander skrywers laat.5 Van nature hou ek van bondigheid, en miskien sou ek nie slaag as ek miskien 'n bietjie breedvoerig wou praat nie. As 'n uitvoeriger onderrigmetode miskien aanneemliker6 sou wees, sou ek nogtans beswaarlik lus gehad het om dit op die proef te stel. Die opset van my huidige werk vereis egter dat ek die eenvoudige leer so bondig moontlik behandel.

Net soos die filosowe bepaalde grense het vir dit wat reg en eerbaar is, waaruit hulle besondere pligte en 'n hele rits deugde aflei,7 ontbreek dit die Skrif ook nie aan 'n eie orde nie. Ja, die Skrif hou aan die pragtigste orde en aan een wat baie sekerder as al die filosowe s'n is. Die verskil is egter dat die filosowe as eersugtige mense ywerig getrag het om 'n uitgelese helderheid van indeling te bereik om daarmee die vaardigheid van hulle verstand ten toon te stel. Omdat die Gees van God egter sonder vertoon geleer het, het Hy nie so presies en voortdurend by 'n planmatige metode gehou nie. Wanneer Hy nogtans so 'n metode iewers aanwend, gee die Skrif genoegsaam te kenne dat ons dit nie moet versmaai nie.

2. Die Skrif hou aan die Christen geregtigheid voor en bied 'n norm waaraan by geregtigheid kan meet.🔗

Verder berus hierdie onderwysing van die Skrif waarvan ons praat, in besonder op twee aspekte. Die eerste daarvan is dat 'n liefde vir geregtigheid waartoe ons andersins van nature glad nie geneig is nie, in ons harte ingedrup en ingevoer word. Die tweede aspek is dat 'n norm vir ons voorgeskryf is wat ons nie toelaat om in ons ywer vir geregtigheid op 'n dwaalspoor te beland nie.

Die Skrif het dus uiters baie en goeie redes om geregtigheid by ons aan te prys. Daarvan het ons tevore op verskeie plekke alreeds baie aangemerk en ons sal nog sommiges hier kortliks aanroer. Van watter basis af sou die Skrif 'n beter begin kon maak as wanneer dit ons tot heiligmaking vermaan omdat ons God heilig is?8 Want toe ons soos skape wat uitmekaar gejaag is, verstrooi is en in die doolhof van die wêreld9 versprei is, het Hy self ons bymekaar gemaak om ons by Hom te skaar. Wanneer ons hoor dat ons verbondenheid met God vermeld word, moet ons onthou dat heiligheid die band van hierdie binding moet wees. Die rede daarvoor is nie dat ons met die verdienste van heiligheid tot gemeenskap met Hom moet kom nie, aangesien ons Hom eerder eerste moet aanhang sodat ons, met sy heiligheid vervul, Hom kan volg waarheen Hy ons roep, maar dit grootliks tot sy heerlikheid bydra dat Hy geen gemeenskap met ongeregtigheid en onreinheid het nie.10 Daarom leer die Skrif dat die doel van ons roeping waarop ons ons oë altyd moet rig, is om die begeerte te koester om aan God se roeping te beantwoord.11 Want wat sou dan die doel daarvan wees dat ons van die liederlikheid en onreinheid van die wêreld waarin ons gedompel is, bevry word as ons onsself toelaat om ons ons hele lewe lank daarmee besig te hou? Hierbenewens vermaan dit ons ook terselfdertyd dat ons die heilige stad Jerusalem moet bewoon om onder die volk van die Here gereken te word.12 Soos Hy trouens hierdie stad vir Homself geheilig het, so mag dit nie deur die onreinheid van die inwoners daarvan ontheilig word nie. Daaruit spruit die woorde: Vir mense wat sonder vlek wandel en vir geregtigheid ywer, ensovoorts, sal daar 'n plek in die tent van God wees,13 want die heiligdom waarin Hywoon, behoort nie soos 'n stal vol gemors te wees nie.

3. In Christus het God aan die Christen 'n beeld gegee en hy moet streef om daaraan gelykvormig te word.🔗

En om ons nog beter tot besinning te bring toon die Skrif ons dat God die Vader, soos Hy ons in sy Gesalfde met Hom versoen het,14 so in Hom vir ons 'n beeld afgestempel15 het, en Hy wil hê dat ons daaraan gelykvormig moet word. Kom nou, laat mense wat dink dat slegs by die filosowe 'n behoorlike en ordelike uiteensetting van die sedeleer voorkom, vir my 'n uitmuntender ordening hiervan by hulle vind. Wanneer die filosowe ons voortreflik tot deug wil aanspoor, voer hulle slegs aan dat ons in ooreenstemming met die natuur moet lewe.16 Die Skrif lei die aansporing egter uit die ware bron af wanneer dit ons gebied om nie alleen ons lewe aan God, die Skepper daarvan aan wie dit verbonde is, oor te gee nie, maar nadat dit ons ook geleer het dat ons van die ware oorsprong van ons skepping en van die wet ontaard het, voeg dit by dat Christus, deur wie ons weer met God versoen is, as 'n voorbeeld17 aan ons voorgehou is om sy beeld in ons lewe tot uitdrukking te bring. Wat kan 'n mens vereis wat nog kragtiger as hierdie een voorbeeld is? Ja, wat kan 'n mens bo en behalwe hierdie een voorbeeld verlang? Want as ons onder hierdie voorwaarde deur die Here as sy kinders aangeneem word dat ons lewe Christus wat die band van ons aanneming is, moet weergee, dan is ons nie alleen in die skandelikste wantroue van ons Skepper afvallig nie, maar ons verwerp ook ons Verlosser as ons ons nie aan geregtigheid oorgee en ons daaraan toewy nie.

Verder put die Skrif die stof om ons te vermaan uit al God se weldade wat dit vir ons verhaal en uit al die afsonderlike dele van ons saligheid. Daarvolgens het God Hom as 'n Vader aan ons betoon en verklaar die Skrif dat ons van die uiterste ondankbaarheid aangekla moet word as ons op ons beurt ons nie as sy kinders betoon nie.18 Daarvolgens het Christus ons deur die afwassing deur sy bloed gereinig en hierdie reiniging deur die doop met ons gedeel. Daarvolgens betaam dit ons nie om ons met nuwe vuilheid te besmet nie.19 Daarvolgens het Hy ons op sy liggaam ingelyf en moet ons sorgvuldig waak dat ons wat sy lede is, ons nie met enige smet of vlek besoedel nie.20 Daarvolgens het Hy wat ons Hoof is, self in die hemel opgevaar en pas dit ons om ons aangetrokkenheid tot die aarde te laat vaar en met ons hele hart daarna te strewe.21 Daarvolgens het die Heilige Gees ons as tempels vir God gewy en moet ons sorg dat ons die heerlikheid van God verheerlik; en ons moet nie toelaat dat ons deur die vuilheid van die sonde ontheilig word nie.22 Daarvolgens is ons siele sowel as ons liggame vir die hemelse onverganklikheid en 'n onverwelklike kroon bestem en moet ons ons naarstiglik daarvoor inspan om albei rein en onbedorwe tot die dag van die Here te bewaar.23 Ek herhaal, dit is die gelukkigste fondamente waarop 'n mens sy lewe goed kan bou. Sulke fondamente tref 'n mens glad nie by die filosowe aan nie, omdat hulle in hulle lof vir deug24 nooit hoër as die mens se natuurlike waardigheid uitstyg nie.25

4. 'n Opregte Christenlewe word nie aan lippetaal geken nie maar aan die diepste gesindheid van die hart.🔗

En hier het ek nou 'n geleentheid om mense hard aan te spreek wat met uitsondering van sy Naam en teken niks van Christus het nie maar nogtans Christene genoem wil word. Met watter opregtheid kan hulle nou eintlik op sy heilige Naam roem? Want slegs die mense het met Christus omgang wat egte kennis van Hom uit die evangeliewoord ontvang het. En tag verklaar die apostel dat al die mense Christus nie reg leer ken het wat nie geleer is om hulle ou mens van hulle af te werp omdat dit deur die begeerte om te dwaal bederf word en dat hulle hulle met Christus moet beklee nie.26 Hulle staan dus skuldig daaraan dat hulle valslik en ook ten onregte voorgee dat hulle Christus ken al sou hulle intussen welsprekend en vloeiend oor die evangelie praat. Die evangelie is immers nie 'n leer van lippetaal nie maar van die lewe. Dit word ook nie slegs deur die verstand of geheue tot jou eie gemaak, soos ander dissiplines nie, maar 'n mens kry dit eers wanneer dit sy hele siel in besit neem en 'n setel en oord in die diepste stemming van 'n mens se hart vind.27 Hulle moet dus of op hou om God te smaad en hulle te beroem op iets wat hulle nie is nie, of hulle moet bewys dat hulle dissipels is wat hulle Meester Christus nie onwaardig is nie.

Ons het voorrang verleen aan die leer waarin ons godsdiens vervat is, omdat ons saligheid daarin 'n beginpunt het. Maar dit moet ook op ons harte oorgedra word en in goeie sedes oorgaan en ons so daarin verander dat dit vir ons nie onvrugbaar is nie. As die filosowe hulle met reg vir die mense vererg en diegene neerhalend uit hulle midde wegdryf, wat die wetenskap wat die onderwyser van ons lewe moet wees,28 in 'n wysneusige praatsiekte verander29 wanneer hulle dit verkondig, hoeveel beter rede sal ons dan nie hê as ons die knoeiers en Sofiste verfoei wat tevrede is om die evangelie op die punte van hulle lippe rond te rol30 terwyl die kragtige werking daarvan honderd maal meer as die koue vermanings van die filosowe tot in die diepste stemminge van ons harte behoort in te dring, ons siele te beset en ons volledig in beslag te neem.

5. 'n Christen se lewe moet gekenmerk word deur sy volgehoue strewe na die volmaaktheid van die evangelie.🔗

Nou vereis ek nie dat 'n Christen se sedes niks anders as die absolute evangelie moet adem nie, hoewel ons dit moet begeer en daarna moet strewe. Maar ek vereis nie die evangeliese volmaaktheid so streng dat ek iemand nie as 'n Christen sou erken as hy dit nog nie bereik het nie. So sou ons trouens almal uit die kerk uitgesluit word, want daar is niemand te vind wat nie nog ver daarvan af weg is nie.31 Baie mense het inderdaad nog weinig vordering gemaak en hulle sou tog ten onregte verwerp word. Hoe dan? Ons moet die volmaaktheid van die evangelie altyd as ons doel voor oë hou en ons ywer slegs daarop rig.32 Hierdie volmaaktheid moet soos 'n wenpaal voor ons staan en ons moet daarna streef en ons daarvoor inspan. Want 'n mens mag nie so met God handel dat jy 'n deel van die dinge wat deur sy Woord aan jou voorgeskryf word, onderneem en 'n deel na jou goeddunke verbygaan nie. Hy prys trouens ten eerste opregtheid as die belangrikste deel van diens aan Hom oral by ons aan.33 Onder hierdie woord verstaan Hy opregte eenvoud van gemoed wat sonder valsheid en verdigsel is. Teenoor so 'n eenvoud staan 'n tweevoudige hart. Dit is asof gesê word dat daar 'n geestelike beginsel is om reg te lewe waar die innerlike geestesgesindheid daaraan gewy word om heiligheid en geregtigheid sonder geveinsdheid voor God te beoefen.

Maar omdat niemand in hierdie aardse gevangenis van sy liggaam34 so 'n groot krag het dat hy met voldoende vurigheid die wedloop kan hardloop nie, en omdat hulle swakheid 'n groot aantal so platdruk dat hulle al wankelend en struikelend net effens vorder terwyl hulle selfs op die grond rondkruip, moet elkeen van ons volgens die maat van sy vermoë voortgaan en op die pad waarmee ons begin het, vordering maak. Niemand sal so teenspoedig op die pad gaan dat hy nie ten minste elke dag 'n stukkie van die pad aflê nie. Ons moet dus nie ophou om hiermee besig te wees nie, naamlik om voortdurend 'n ietsie op die pad van die Here te vorder en om ook nie as gevolg van geringe sukses moed te verloor nie. Want al sou ons sukses nie aan ons wense beantwoord nie, is ons inspanning tog nie verlore wanneer vandag gister oortref nie,35 mits ons maar in opregte eenvoud ons oë op ons doel gevestig hou en na die wenpaal strewe, onsself nie flikflooiend vlei en aan ons gebreke vrye teuels gee nie. Ons moet ons met volgehoue inspanning daarop toelê om beter daaruit te voorskyn te tree as wat ons is, totdat ons die goedheid selfbereik het. Ons soek wel ons hele lewe lank daarna en verkry en bereik dit eers wanneer ons die swakheid van ons vlees afgeskud het en tot volle gemeenskap daarin aangeneem is.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 3.3.9 (Afr. ven. 3:779)
  2. ^ A.; symmetria; Fr. 1560: mëlodie (Benoit 3:159).
  3. ^ Vgl. Gal. 4:5; 2 Pet. 1:10.
  4. ^ Fr. 1541 e.v.. + c'est à dire sermons populaires (Benoit 3:160).
  5. ^ Fr. 1541 e.v.: + qu 'il en y a aux sermons des anciens Docteurs (Benoit 3:160)
  6. ^ A: plausibiles, recte 1561: plausibilis.
  7. ^ Vgl. o.a. Cicero, De off. 1.11.33 passim (LCL 34 - 35) en daarna by verskeie geleenthede, Tusc. disp. . Bk. 5 (LCL 424 e.v.) en Seneca, Vita beata 8.2 en Ep. 108.23,48.4,12 (LCL Moral essays 2:99 e.v.; Ep. mor. 1:316; 3:244).
  8. ^ 1539 - 1554: + Marg. Levit. 19.a.2; 1. Pet. 1.c.16. Vgl. 1 Pet. 1:15 en OC 55:222 e.v.
  9. ^ Calvyn gebruik die beeld van doolbofuan die wêreld baie dikwels om die in sonde vervalIe mens se verwarring uit te druk. Vgl.Inst. 1.5.12; 1.6.3; 1.13.21; 3.2.2 - 3; 3.8.1; 3.19.7; 3.21.1; 3.25.11 ensovoorts (Afr. vert. 1:143; 152; 241; 3:770 - 779; 897,1065, n. 26; 1160, n. 8; 126
  10. ^ Fr. 1541 e.v.: + il nous luy faut ressembler puisque nous sommes siens (Benoit 3:161).
  11. ^ Marg. Iesa. 35.c.8 et alibi. Vgl. OC 36:595 - 596.
  12. ^ Vgl. Ps. 116:19; 122:2 - 9 (oe 32:303 - 304).
  13. ^ Marg. Psal. 15.a.2 & 24. Vgl. ook Ps. 15:1; 24:3 - 4 en oe 31:142 - 144,245 - 246.
  14. ^ Marg. Rom. 6.d.18. Vgl. 2 Kor. 5:18 en oe 49:115 - 116; 50:70 - 71.
  15. ^ Vgl. Hebr. 1:3 (Oe 55:11 - 14)
  16. ^ Vgl. Cicero, De off. 3.3.13 (LCL 280 e.v.): De fin. 2.11.34; 3.7.26; 4.15.41 (LCL 120 e.v., 244 e.v., 344 e.v.): Seneca, De vita beata 8.2 (LCL Moral essays 2:116 e.v.)
  17. ^ Fr. 1541 e.v.. + d'innocence (Benoit 3:161)
  18. ^ Marg. Malach. l.b. 6,. Ephe. 5.a.1; Iohan. 3.a.l. Vgl. OC 51:213 - 214; 55:329 - 330.
  19. ^ Marg. Ephe. 5.f26; Hebr. 10.b.l0; 1. Cor. 6.b.l; 1. Pet. 1.c.15 &d.19, Vgl. OC 55:125 - 126,222,226; 49:393 - 395.
  20. ^ Marg. 1. Cor. 6.c.15; Ioban. 15.a.3; Ephe. 5.e.23. Vgl. ook Joh. 15:4 - 6; Ef. 5:24 - 33.
  21. ^ Marg. Coloss. 3.a.l. Vgl. OC 52:117 - 118.
  22. ^ Marg. 1. Cor. 3.c.16 et 6.d.19; 2.Cor.6.d.16. Vgl. OC 50:81 - 82.
  23. ^ Marg. 1. Thess. 5.d.23. Vgl. ook Fil. 1:10 en OC 52:178 - 180; 52:12.
  24. ^ Fr. 1541 e.v.: quand il est question de luy monstrer quel est son devoir (Benoit 3:162).
  25. ^ Vgl. Cicero, Tusc. disp. 5.15.45 (LCL470); De fin. 2.21.68; 2.23.76 (LCL156 e.v., 164 e.v.): Seneca, Ep. marales 84.13 (LCL 2:284 e.v.).
  26. ^ Marg. Ephe. 4.C.22. Vgl. ook verse 23 en 24 en OC 51:207 - 209
  27. ^ Fr. 1541 e.v.: + autrement il n 'estpas bien receu (Benoit 3:163); vgl. Inst. 3.2.36 (Afr. vert. 3:757)
  28. ^ Vgl. Cicero, Tusc. disp. 2.6.16; 5.2.5 (LCL 162,426 e.v.), Seneca, Ep. morales 94.23 (LCL 2:290).
  29. ^ Vgl. Seneca, Ep. 48.4, 12; 108.23 (LCL 1:314 e.v., 320 e.v.; 3:244).
  30. ^ Fr. 1541 e.v.: + le mesprisant en toute leur vie (Benoit 3:163)
  31. ^ Fr. 1541 e.v.: ia soit qu'il ait bien profitë (Benoit 3:163).
  32. ^ Fr. 1541 e.v.: c'est de tendre à la perfection que Dieu nous commande (Benoit 3:163).
  33. ^ 1539 - 1554: + Marg. Gen. 17(1) et alibi; 1545 - 1554: + Marg. Psal. 12.
  34. ^ Oor Calvyn se opvatting dat die liggaam die mens se siel se gevangenis is, vgl. Inst. 3.9.4; 3.15.1 (Afr. vert. 3:914; 1003) en Plato se opvatting in verband met hierdie onderwerp in Phaedo 62B; 81E; 82E 83A en Kratulos 400C (LCL Plato 1:216 e.v., 284 e.v., 288 e.v., 6:62 e.v.).
  35. ^ Volgens Benoit (3:164) skets Calvyn 'n christen se lewe as 'n reis en maak hy elke dag daarop geringe vordering. Dit kom veral in Calvyn se briewe (meer in die vorm van raad aan korrespondente) en sy kommentare voor waarin hy gelowiges aanspoor om heilig te lewe en deug en die goeie na te jaag. Groei in die gawes van die Gees, groei in deugde en in geestelike en genadegawes is uitdrukkings wat herhaaldelik in sy briewe en kommentare voorkom. Vgl. o.a. Ep.931, 985,1091,2287,2288,2289, ensovoorts (OC 12:562 - 563,648,99 - 100,15:811,17:11,15