Omdat ons nie aan onsself behoort nie maar aan God, moet ons lewenswyse dit weerspieël. Dit behels ‘n afsterwing van die wêreld en selfverloëning. Die Christen moet God se wil doen, sy vertroue op God alleen stel, hom aan Sy wil onderwerp en sy lewe in God se hande oorgee. Dit het die regte gesindheid van ware liefde teenoor die naaste tot gevolg.

1984. 14 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 7 ‘n Samevatting van ‘n Christelike lewe; selfverloëning

1. Die Christen moet die wêreld afsterf sodat Christus in hom kan leef en regeer.🔗

Hoewel1 die wet van die Here die heel beste en geskikste metode inhou vir die inrigting van 'n mens se lewe, het die hemelse Meester dit tog goedgedink om met 'n selfs nog sorgvuldiger metode die mense wat aan Hom behoort, volgens die reël wat Hy in die wet voorgeskryf het, te vorm. En die beginsel van hierdie metode is togweliswaar dat dit gelowiges se plig is om hulle liggaam as 'n lewende, heilige en vir God welgevallige offer aan Hom te gee en dat die egte godsdiens daarin bestaan.2 Daaruit word stof vir die vermaning geput dat gelowiges nie wêreldgelykvormig moet word nie maar deur 'n vernuwing van hulle verstand omgevorm moet word om te beproef wat God se wil is. Dit is nou 'n belangrike onderwerp - dat ons aan God gewy en aan Hom toegesê is om hierna niks te dink, te sê, te beplan of te doen behalwe as dit tot sy heerlikheid strek nle. Want iets wat vir Hom heilig is, word nie sonder uitsonderlike onreg teenoor Hom by onheilige gebruike aangepas nie.

As ons dan nie aan onsselfbehoort nie maar aan die Here,3 is dit duidelik watter dwaalweg ons moet ontwyk en waarop al ons lewenshandelinge gerig moet word. Ons behoort nie aan onsself nie: laat dus nog ons rede nog ons wil ons planne en ons dade beheers. Ons behoort nie aan onsself nie, dus moet ons ons nie ten doel stel om te soek na iets wat vleeslik vir ons voordelig is nie. Ons behoort nie aan onsself nie, dus moet ons onsself en alles wat ons het, sover moontlik vergeet.

Aan die ander kant: Ons behoort aan God - ons moet dus vir Hom lewe en vir Hom sterf. Ons behoort aan God - sy wysheid en sy wil moet dus al ons dade beheers. Ons behoort aan God - alle aspekte van ons lewe moet dus na Hom as die enigste egte doel strewe.4

O, hoeveel vordering het iemand gemaak wat geleer het dat hy nie aan homself behoort nie, en sy eie verstand die beheer en leiding ontneem het om dit aan God oor te dra. Want soos dit 'n baie kragtige verpesting is om mense die verderf in te stuur wanneer hulle hulleself gehoorsaam, so is die enigste hawe van hulle saligheid om deur hulleself geen wysheid of wil te hê nie maar slegs om die Here wat hulle vooruitgaan, te volg. Die eerste trap moet dus wees dat die mens van homself moet afsien om die volle krag van sy verstand op gehoorsaamheid aan die Here toe te spits. Ek bedoel nie alleen die gehoorsaamheid wat in gehoorsaamheid aan die Woord opgesluit lê nie, maar een wat deur die mens se verstand, vry van eie vleeslike gevoel, hom ten volle tot die goeddunke van die Gees van God bekeer. Hierdie omvorming wat Paulus die vernuwing van die gemoed noem,5 was vir al die filosowe onbekend, hoewel dit die eerste tree tot die lewe is. Hulle stel die rede alleen trouens as beheerder oor die mens en hulle reken dat ons daarna  alleen moet luister. Kortom: hulle dra en vertrou die gesag oor hulle sedes slegs aan die rede alleen toe. Maar die Christelike filosofie bevel die rede om sy plek af te staan en hom aan die Heilige Gees te onderwerp en Hom onderdanig te wees sodat die mens self nou nie lewe nie maar Christus in hom laat lewe en regeer.6

2. Ware selfverloëning: om God se wil te doen en Sy heerlikbeid te bevorder.🔗

Hieruit volg ook die tweede vorm van vermaning, naamlik dat ons nie moet soek na die dinge wat aan ons behoort nie, maar na die dinge wat uit die Here se wil spruit en bydra om sy heerlikheid te bevorder. En dit is groot vordering dat ons onsself byna vergeet, ons eie belang in elk geval buite rekening laat en poog om ons getrou en ywerig aan God en sy gebooie toe te wy. Want wanneer die Skrif ons gebied om ons eie belang buite rekening te laat wis dit nie alleen hebsug, 'n sug na mag en gewildheid by mense7 uit ons gemoed uit nie, maar dit roei ook eersug en elke begeerte na menslike roem en ander meer verborge onheile wortel en tak uit ons gemoedere uit. Dit betaam 'n Christen in elk geval om so ingestel en georden te wees dat hy dink dat hy sy hele lewe met God besig is.8 Om hierdie rede sal hy alles wat aan hom behoort, op God se oordeel en waarde bepaling toespits. Net so sal hy die hele inspanning van sy verstand eerbiedig op Hom rig. Want iemand wat geleer het om sy oë in al sy handel op God te rig, word terselfdertyd weggekeer daarvan om oor onsinnige dinge te dink.

Dit is selfverloëning. Dit is wat Christus9 met sulke groot versigtigheid aan sy dissipels opgedra het toe hulle in sy skool was. Wanneer dit eenmaal 'n mens se hart ingeneem het, laat dit ten eerste geen plek vir hoogmoed, hooghartigheid of ydele vertoon nie, en ten tweede ook nie vir gierigheid, wellustigheid, oordadigheid, verwyfdheid en ander euwels wat uit eieliefde vir onsself spruit nie.10

Waar selfverloëning aan die ander kant nie heers nie, daar deurtrek selfs die skandelikste gebreke sonder skaamte alles éf as daar nog 'n sweem van deugsaamheid is, word dit deur 'n verwronge eersug geskend. Want wys my 'n mens, as jy kan, wat kosteloos goedhartigheid teenoor sy medemens wil beoefen tensy hy homself volgens die gebod van die Here versaak het. Want almal wat nie met hierdie gevoel in beslag geneem is nie, het ten minste ter wille van lof hierdie deug nagejaag. En al daardie filosowe wat ooit die sterkste daarop aangedring het dat deug ter wille van homself nagejaag moet word,11 was met so 'n groot verwaandheid opgeblase dat dit duidelik is dat hulle deug nagejaag het om stof vir hooghartigheid te hê. En tog vind God geen behae in sulke gewildheidsoekers12 en sulke opgeblase harte nie - in so 'n mate dat Hy verklaar dat hulle reeds hulle loon in die wêreld ontvang het13 en dat Hy hoere en geldskieters nader aan die koninkryk van die hemel as hulle stel.14

Tog het ons nog nie duidelik gemaak deur hoeveel en watter groot hindernisse 'n mens in die wiele gery word as hy hom wil beywer vir wat reg is solank hy homself nie verloën nie. Want die mense het eertyds met waarheid gesê dat daar 'n wêreld se ondeugde in 'n mens se siel skuil. 'n Mens kan ook geen ander teenmiddel hiervoor vind as om jouself te verloën, jou eie belang agterweë te laat en jou gemoed ten volle daarop toe te spits om die dinge te soek wat die Here van jou eis, en die dinge te soek bloot omdat dit Hom behaag nie.

3. Selfverloëning volgens Titus 2.🔗

Elders behandel Paulus elkeen van die aspekte van 'n goed ingerigte lewe nog duideliker, al is dit in 'n neutedop. Hy sê: "Die genade van God wat die saligheid bring, het sy lig oor alle mense laat skyn. Dit leer ons om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verloën, en om nugter, regverdig en vroom in hierdie wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die openbaring van die heerlikheid van die grote God en ons Verlosser jesus Christus verwag. Hy wat Homself vir ons gegee het om ons van al die ongeregtigheid te verlos en 'n volk van sy eie vir Hom te reinig, ywerig in goeie werke".15

Nadat hy trouens die genade van God aan ons voorgehou het om ons moed te gee en om vir ons die pad te baan om God waarlik te dien, ruim hy twee struikelblokke uit die weg wat ons besonderlik in die wiele ry. Dit is naamlik goddeloosheid waartoe ons van nature maar alte geneig is, en verder ook wêreldse begeertes wat nog verder strek. Onder goddeloosheid dui hy inderdaad nie alleen op bygelowe nie, maar hy vat daaronder ook alles saam wat in stryd is met ernstige godvresendheid. Wêreldse begeertes beteken egter net sowel vleeslike gevoelens.16 So beveel hy ons ten opsigte van albei die tafels van die wet om ons eie verstand te verloën en alles wat ons rede en wil aan ons voorsê te versaak.Dan vat hy al ons lewenshandelinge in drie dele saam, naamlik nugterbeid, geregtigbeid en vroomheid. Hiervan dui nugterheid  ongetwyfeld sowel kuisheid en selfbeheersing as suiwer en spaarsamige gebruik van wêreldse goed en 'n verdraagsaamheid betreffende armoede aan. Geregtigheid weer sluit al die pligte van billikheid in om aan elkeen te gun wat aan hom behoort.17 Daarna volg vroomheid, wat ons wat van die onreinheid van die wêreld afgesonder is, in ware heiligheid met God verbind. Wanneer hierdie dele met 'n onlosmaaklike band aan mekaar gebind is, bring hulle blywende volmaaktheid tot stand. Omdat niks egter moeiliker is as om die bekommernis vir jou vlees vaarwel toe te roep, jou begeertes te beteuel of eerder te versaak en jou aan God en jou medebroeders toe te sê en om in die gemors van hierdie wêreld die lewe van 'n engel te probeer beoefen nie, roep Paulus ons terug na die hoop op die geluksalige onsterflikheid om ons gemoedere van al die strikke los te maak. Hy wys ons daarop dat ons nie tevergeefs stry nie,18 omdat Christus, soos Hy eenmaal as ons Verlosser verskyn het, so ook met sy laaste koms aan ons die vrug van saligheid wat Hy vir ons verkry het, sal toon. En so slaan hy al die verlokkings uit mekaar wat soos 'n wolk om ons lê sodat ons nie soos dit hoort, na die hemelse heerlikheid nie. Ja, hy leer dat ons vreemdelinge op die wêreld moet wees,19 sodat ons hemelse erfdeel nie verlore mag gaan of mag wegval nie.

4. Selfverloëning kweek die regte gesindheid teenoor die medemens.🔗

Verder kan ons in hierdie woorde bemerk dat selfverloëning gedeeltelik op die mens en gedeeltelik - en besonderlik - op God sien. Wanneer die Skrif ons trouens gebied om ons so teenoor ons medemens te gedra dat ons hulle meer as onsself eer, om ons ten volle en te goeder trou daarop toe te lê om vir hulle voordeel te sorg,20 gee dit aan ons gebooie wat ons gemoed hoegenaamd nie kan begryp nie, behalwe as dit vooraf van sy natuurlike gevoel ontledig is. Want as gevolg van die blindheid waarmee ons almal blindelings op liefde vir onsself afstorm, lyk dit vir elkeen van ons asof hy gegronde rede het om homself te verhef en alle ander mense te minag as hy hulle met homselfvergelyk. As God die een of ander seën aan ons gee wat nie te versmaai is nie, vertrou ons daarop en begin dadelik om ons te verhef. Ons begin dan nie slegs om opgeblase te wees nie, maar ons bars amper van hoogmoed. Ons verbeel ons dat ons gebreke waarvan ons 'n oorvloed het en wat ons versigtig vir ander mense wegsteek, maar lig en gering is en ons smeer onsself heuning om die mond; ja, ons soen ons ondeugde soms asof dit deugde is. As dieselfde of selfs groter gawes wat ons in ons bewonder, in ander mense voorkom, vertrap ons dit uit kwaadwilligheid en kraak dit af om nie gedwing te word om agter hulle te staan nie. Maar as daar miskien ondeugde in hulle voorkom, is ons nie daarmee tevrede om hulle met 'n streng en skerp teregwysing daaroor te vermaan nie, maar haatlik vergroot ons dit. Hieruit ontstaan daardie onbeskoftheid dat elkeen van ons bo ander wil uitstaan net asof hy van die gewone wet vrygestel is. Hieruit ontstaan die onbeleefdheid dat elkeen van ons almal onbesorgd en wreed verag of in elk geval op elkeen as 'n mindere neersien. Armes gee pad voor rykes, gewone mense voor die adel, diensknegte voor hulle werkgewers en ongeleerdes voor geletterdes. Daar is trouens niemand wat nie in sy binneste die een of ander waan van eie voortreflikheid troetel nie. So vlei elkeen homself en dra sy eie koninkrykie in sy gemoed.21 Want terwyl hy vir homself iets toe-eien wat hom geval, kritiseer hy ander se verstand en leefwyse. As dit dan op konflik uitloop, kom die venyn tot uitbarsting. Baie mense loop in elk geval met sulke vriendelikheid te koop so lank hulle ervaar dat alles mooi en lieflik is. Maar hoeveel behou dieselfde trant van selfbeheersing wanneer hy gekrenk word en hom vererg?

En daar is geen ander geneesmiddel as dat hierdie uiters skadelike pes van hoogmoed en eieliefde22 uit ons binneste weggeskeur moet word soos die leer van die Skrif dit ook wegskeur nie. Want ons word daardeur so geleer dat ons moet onthou dat die gawes wat God aan ons geskenk het, nie ons eiendom is nie maar genadegawes van God. Mense wat hieroor hoogmoedig is, lê ondankbaarheid aan die dag. "Wie maak jou voortrefliker?" sê Paulus. "As jy alles ontvang het, waarom roem jy dan asof dit nie aan jou gegee is nie?"23 Verder word ons deur die voortdurende oordenking van ons sondes tot ootmoedigheid teruggeroep. So sal daar niks in ons oorblywaaroor ons opgeblase kan wees nie. Ons sal trouens baie stof tot verslaenheid hê,

Aan die ander kant word ons gebied dat ons al God se gawes wat ons in ander raaksien, so moet eerbiedig en so hoog moet ag dat ons ook die mense moet eer by wie dit aanwesig is. Dit sou immers op groot onbeskaamdheid dui om iemand se eer van hom weg te neem terwyl die Here hom dit waardig geag het. Sover dit hulle ondeugde aangaan word ons geleer om dit oor die hoof te sien, weliswaar nie om hulle met vleitaal te vertroetel nie maar om om hulle ontwil nie die mense te tart wat ons met goedgunstigheid en eer behoort te bejeën nie. Die gevolg daarvan sal wees dat ons ons teenoor alle mense met wie ons omgaan, nie slegs beheers en beskeie nie maar ook beleef en vriendelik sal gedra. So sal 'n mens nooit met 'n ander pad ware vriendelikheid bereik as wanneer jou hart met eie verslaenheid sowel as eerbied vir iemand anders deurdrenk is nie.

5. Werke van die liefde kom slegs deur selfverloëning tot stand.🔗

Hoe moeilik is dit nou om ons plig te doen wanneer ons ons naaste se voordeel soek? As 'n mens nie daarvan afsien om net jouself in aanmerking te neem en as jy jou nie in 'n sekere sin van jouself stroop nie, sal jy hier niks bereik nie. Want hoe sou 'n mens die werke tot stand kon bring waarvan Paulus leer dat dit werke van die liefde is, as jy jouself nie verloën om jouself ten volle aan ander te wy nie? Hy sê: "Die liefde is verdraagsaam en vriendelik, die liefde is nie voortvarend nie, die liefde is nie hoogmoedig nie; die liefde is nie jaloers nie, die liefde is nie opgeblase nie, die liefde soek nie sy eie belang nie, die liefde word nie verbitterd nie", ensovoorts.24 As hy slegs hierdie een enkele eis aan ons stel, naamlik dat ons nie ons eie belang moet soek nie, sou dit ons natuur nogtans groot geweld aandoen. Ons natuur is trouens so geneig tot liefde vir onsself dat dit nie maklik verdra dat ons ons eie belang veronagsaam om ons aan ander se voordele te wy nie, ja, om uit eie vrye wil van ons reg afstand te doen en dit aan iemand anders te gee.

Maar om ons met die hand daartoe te lei vermaan die Skrif ons dat al die genadegawes wat ons van die Here ontvang, aan ons toevertrou is onder hierdie voorwaarde dat dit op die algemene voordeel van die kerk toegespits word. Dit leer ons daarom dat die behoorlike aanwending van al ons genadegawes geleë is in die vrygewige en bereidwillige deelgenootskap daarvan met ander. Daar kon ook geen vaster, geen kragtiger reël gewees het om ons aan te spoor om dit te gehoorsaam as wanneer ons geleer word dat al die gawes wat ons het, pande van God is wat aan ons geloof toevertrou is op voorwaarde dat dit tot voordeel van ons naaste aangewend word nie.25

Maar die Skrif gaan selfs nog verder wanneer dit die gawes met die mens se ledemate vergelyk.26 Geen ledemaat het eie funksies net vir homself nie, en geen ledemaat pas sy eie funksies net vir sy eie voordeel toe nie maar dra dit op al die ledemate saam oor. Dit behaal ook geen voordeel daaruit behalwe die voordeel wat uit die welvaart van die hele liggaam kom nie. Net so moet 'n godvrugtige mens alles waartoe hy in staat is, vir sy medebroeders vermag en sy persoonlike belang slegs in ag neem in soverre sy gemoed op die algemene opbou van die kerk gerig is. Die volgende moet dus ons metode wees om vriendelikheid en weldadigheid te bewys: dat ons oor alles wat God aan ons gegee het om ons naaste te kan help, beheerders is wat verplig is om rekenskap te gee van die beheer daarvan. Verder dat ons beheer daaroor eers reg is as dit aan die liefdesreël gemeet word. Die gevolg sal wees dat ons nie alleen ons ywer vir iemand anders se welvaart altyd met ons eie voordeel sal verbind nie, maar ons eie aan 'n ander se voordeel ondergeskik sal stel. En om te voorkom dat dit ons miskien ontgaan dat dit die voorwaarde is waarvolgens ons al die gawes wat ons van God ontvang het, behoorlik moet beheer, het Hy dit eertyds ook ten opsigte van die geringste gawes van sy milddadigheid gestel. Hy het immers gebied dat die eerstelinge van die oes aan Hom geoffer moet word27 sodat sy volk daarmee kon getuig dat dit nie vir hulle geoorloof is om iets van hulle oeste uit gawes wat nie vooraf vir Hom geheilig is, te geniet nie. Maar as die gawes van God eers so vir ons geheilig word nadat ons dit met ons eie hande aan die Skenker daarvan gewy het, staan dit vas dat dit onrein misbruik word as dit nie so 'n toewyding aan God adem nie. Ja, sekerlik, jy span jou verniet in om die Here te verryk deur jou goed met Hom te deel. Aangesien jou goedhartigheid Hom nie kan bereik nie, soos die profeet sê, moet jy dit jeens sy heiliges op aarde beoefen.28 Daarom word liefdegawes met heilige offers vergelyk om nou met die offers van die wet ooreen te stern.29

6. Liefde teenoor die naaste sluit alle mense in omdat almal beelddraers van God is.🔗

Om verder te verhoed dat ons moeg word om goed te doen30 - iets wat andersins noodwendig dadelik sou gebeur - behoort ook die tweede vermaning wat die apostel stel, by te kom. Hy sê dat die liefde verdraagsaam is en nie verbitterd word nie.31 Die Here gebied ons om aan alle mense goed te doen, al is 'n groot deel van hulle dit nie waardig as hulle volgens hulle eie verdienste getakseer word nie. Die Skrif kom ons hier egter met die heel beste hulpmiddel tegemoet wanneer dit leer dat ons nie ons oë moet vestig op dit wat mense vanself kan verdien nie maar dat ons die beeld van God in almal in aanmerking moet neem, en daaraan is ons alle eer en liefde verskuldig.

Die Skrif leer ons dat ons noukeuriger daarop moet let in die geval van geloofsgenote32 in soverre die beeld van God deur die Gees van Christus weer nuut gemaak en herstel is. Gevolglik het jy geen rede om te weier om iemand, wie hy ook al is, te help wanneer hy op jou pad kom en jou hulp nodig het nie. Gestel nou dat hy 'n vreemdeling is. Maar die Here  het sy teken op hom afgedruk, en dit behoort vir jou bekend te wees. Daarom verbied Hy jou om jou eie vlees te minag.33 Gestel nou dit is 'n veragtelike mens wat niks werd is nie. Maar die Here toon dat dit iemand is wat Hy waardig geag het om met sy beeld versier te word. Gestel nou dat jy geen diens aan hom verskuldig is nie. Maar God het hom asof dit in sy plek is, gestel sodat jy soveel en sulke groot weldade waarmee Hy jou  aan Hom verbind het, kan herken. Gestel dat hy dit nie werd is dat jy selfs die geringste moeite ter wille van hom doen nie. Maar die beeld van God waardeur hy by jou aangeprys word is dit werd om jouself en alles wat jy het, tot sy beskikking te stel. Selfs as hy niks goeds verdien het nie maar jou met onregte en ook met wandade uitgetart het, is selfs dit nie 'n gegronde rede waarom jy daarvan moet afsien om hom met liefde te omhels en liefdespligte teenoor hom te bewys nie.34 Jy sê: "Maar hy het heeltemal anders van my verdien". Maar wat het die Here van jou verdien? Wanneer Hy gebied dat alles wat hy teen jou gesondig het, hom vergewe moet word, is dit sekerlik sy wil dat dit hom toegereken moet word!

'n Mens kan inderdaad slegs met hierdie een pad uitkom by dit wat heeltemal teen die mens se natuur indruis, om nie eens van die moeite daarvan te praat nie! Dit is naamlik dat ons die mense moet liefhê wat ons haat; kwaad met goed moet vergeld; beledigings met seëninge moet beantwoord.35 Ons kan dit bereik as ons onthou dat ons nie die boosheid van mense in aanmerking moet neem nie maar dat ons die beeld van God36 in hulle moet raaksien. En wanneer dit hulle oortredings weggeneem en uitgewis het,37 lok die beeld ons deur sy skoonheid en waardigheid om hulle lief te hê en te omhels.

7. Opregtheid van naasteliefde word gemeet aan die gesindheid waarmee dit betoon word.🔗

Hierdie afsterwe van onsself sal eers in ons plaasvind as ons ons liefdesplig ten volle volvoer. Iemand wat slegs al sy liefdespligte nakom en selfs nie een daarvan agterweë laat nie, volbring dit egter nie, maar slegs iemand wat dit met 'n opregte gevoel van liefde38 verrig. Want dit kan gebeur dat iemand wel ten volle aan almal betaal wat hy verskuldig is in soverre dit sy uiterlike pligte aangaan. Tog sou hy intussen ver weg wees van die ware wyse van betaling. 'n Mens kan immers party mense sien wat baie graag vrygewig wil lyk maar wat nogtans niks gee sonder om hulle teensinnigheid met 'n hooghartige gesigsuitdrukking of selfs verwaande woorde te toon nie. En in hierdie ongelukkige tyd het dit sulke rampspoedige afmetings aangeneem dat byna geen liefdegawes sonder belediging aangebied word nie - ten minste nie deur die grootste gros mense nie. Dit is 'n wanpraktyk wat selfs nie onder heidene geduld behoort te word nie. Van Christene word immers selfs nog meer vereis as om bloot net blymoedigheid op hulle gelaat te laat uitstraal en met vriendelike woorde39 hulle pligte na te kom. Ten eerste moet hulle die persoon by wie hulle bemerk dat hy hulle hulp nodig het, aanvaar en met sy lot medelye toon asof hulle dit self ervaar en verduur om deur die gevoel van barmhartigheid en menslikheid meegesleur te word om aan hulle bystand te verleen asof dit aan hulleself is. Iemand wat so gesind is en aan sy medebroeders hulp verleen, sal nie alleen sy pligte nie deur enige verwaandheid of verwyt bemors nie, maar hy sal ook nie op sy medebroeder aan wie hy goed doen, as 'n behoeftige neersien of hom as skuldenaar aan hom onderwerp nie. Ons spot byvoorbeeld nie met 'n siek ledemaat as die res van ons liggaam swaarkry om te herstel nie. Net so min reken ons dat dit 'n besondere verpligting teenoor ons ander ledemate het omdat dit meer aandag geniet as die diens wat dit lewer. Mense glo immers dat die onderlinge hulpverlening onder ledemate nie lukraak is nie maar liewer 'n betaling van iets wat dit volgens die natuurwet40 verskuldig is, en dit sou daarom 'n sonderlinge daad wees om dit te weier. Om hierdie rede sal dit ook gebeur dat iemand wat een  soort liefdesplig nagekom het, nie moet reken dat hy daarvan vrygestel is nie. So gebeur dit byvoorbeeld gewoonlik dat 'n ryk man sy ander laste aan ander oordra net asof dit niks met hom te doen het nadat hy iets van sy eie verpligting nagekom het nie. Maar elkeen sal eerder by himself daaroor so nadink dat hy, hoe magtig hy ook al is, sy naastes se skuldenaar is en dat hy die beoefening van weldadigheid teenoor sy naaste nie mag beëindig tensy die vermoëns daarvoor ontbreek nie. So wyd as wat sy vermoëns strek, moet dit slegs tot die liefdesreël beperk word.

8. Die Christen moet sy vertroue op God alleen stel en hom aan Sy wil onderwerp.🔗

Nou moet ons weer eens die belangrikste deel van ons selfverloëning wat op God gerig is, soos ons reeds gesê het, vollediger ondersoek. Daar is wel reeds baie oor hierdie onderwerp gesê, en dit sou oorbodig wees om dit te herhaal. Vir die huidige sal dit genoeg wees om dit te behandel slegs in soverre dit ons vorm om geduldig en verdraagsaam te wees. In die eerste plek roep die Skrif ons derh alwe in ons soeke na 'n gerieflike of rustige lewe hier op om onsself en alles wat ons het aan die goeddunke van die Here oor te lewer en ons aan Hom oor te gee om die begeertes van ons hart te beheer en te onderwerp.41 Ons het 'n waansinnige drang, 'n eindelose smagting daarna om mag en eer te bekom, om mag na te jaag, rykdom bymekaar te skraap, om al die onsinnighede wat op die oog af tot grootsheid en vertoon bydra, te versamel. Aan die ander kant het ons 'n sonderlinge vrees en 'n buitengewone haat vir armoede, onbekendheid en nederigheid. Daardeur word ons geprikkel om dit alles op elke moontlike wyse van ons af te weer. Hieruit kan ons bemerk hoe onrustig die mense is wat hulle lewe volgens eie goeddunke inrig, en hoeveel skelmstreke hulle probeer en met hoeveel moeite hulle hulle moeg maak - natuurlik om die dinge in die hande te kry wat hulle begeerte na ambisie of gierigheid bevredig, of aan die ander kant om armoede en nederigheid te ontwyk. Godvrugtiges moet dus op die volgende pad hou om nie in sulke nette verstrik te word nie. Ten eerste moet hulle geen ander middel najaag of hulle hoop daarop vestig of bedink om voorspoedig te wees as net uit die seën van die Here nie. Daarom moet hulle hulle veilig en vol vertroue daarop toespits en daarop steun. Want al sou dit lyk asof die vlees heeltemal voldoende is wanneer dit op eie stoom na eer en invloed streef of dit ywerig najaag of deur die guns van mense daartoe aangehelp word, is dit nogtans seker dat al hierdie dinge niks beteken nie en dat ons met eie vernuf of inspanning niks sal bereik behalwe in soverre die Here albei voorspoedig sal maak nie. Daarenteen vind die Here se seën selfs deur alle hindernisse heen 'n pad om alles vir ons in 'n blymoedige en voorspoedige einde te laat slaag.

Al sou ons ten tweede grootliks daartoe in staat wees om sonder die Here se seën 'n mate van eer en rykdom te bekom - soos ons daagliks merk dat goddelose mense met groot eerbewyse en rykdomme oorlaai word42 en ook dat mense op wie God se vloek rus, selfs nie eens die kleinste deeltjie geluk smaak nie -, sal ons sonder sy seën niks bekom nie behalwe dit wat ons ten kwade strek. Verder moet ons glad nie na iets streef wat mense nog ongelukkiger maak nie.

9. Gelowiges moet hulle vertroue volkome in God se seën stel.🔗

As ons dus glo dat die rede vir 'n voorspoedige en gewenste verloop van sake ten volle net in God se seën geleë is, waarsonder elke soort ellende en teenspoed op ons wag, volg daaruit dus dat ons nie op die vaardigheid of sorgvuldigheid van eie verstand moet steun of ons op die guns van mense moet verlaat of op 'n leë inbeelding van die lot moet vertrou en begerig rykdom en eerbewyse moet najaag nie. Maar ons moet die Here altyd voor oë hou om na sy goeddunke gelei te word na die lot wat Hy vir ons voorsien het.

Die gevolg daarvan sal ten eerste wees dat ons nie onregmatig met lis en skelmstreke of uit roofsug tot veronregting van ons naaste sal aanstorm om rykdom te bekom en ereposisies in te neem nie maar dat ons slegs na die goed sal streef wat ons nie van onskuld kan wegneem nie. Want wie sou te midde van bedrog, roof en ander goddelose streke op die bystand van God se seën kan hoop? Soos dit trouens slegs iemand volg wat rein van gedagte en opreg van handel is, so roep God se seën almal deur wie dit nagejaag word, van hulle skewe gedagtes en verkeerde dade af weg. Ten tweede sal ons betoom word om nie van 'n onbeteuelde begeerte om ryk te word te brand of eersugtig na ereposisies te hyg nie. Want met watter gesindheid kan iemand vertrou om deur God gehelp te word om dinge in die hande te kry wat hy strydig met sy Woord begeer? Verre sy dit immers daarvan dat God aan iets wat Hy met sy eie mond vervloek, die hulp van sy seën sou gee!

As iets dan ten laaste nie na ons wens en verwagting geslaag verloop nie, salons ons nogtans weerhou van ongeduld en enige afkeer in ons toestand omdat ons sal weet dat dit beteken om teen God te murmureer terwyl rykdom en armoede, veragting en eerbewyse na sy goeddunke uitgedeel word.

Kortom: iemand wat op die vermelde wyse in die seën van God berus, sal nie probeer om die dinge wat mense gewoonlik waansinrug najaag met skelmstreke in die hande te kry nie, en hy sal daaraan gedagtig wees dat hy geen voordeel daaruit sal put nie. As iets vir hom voorspoedig verloop, sal hy dit nie aan homself of aan sy eie sorgvuldigheid of ywer of geluk toeskryf nie, maar hy sal dit aanvaar as iets wat hy van God as die Gewer daarvan ontvang het. Maar as ander mense van krag tot krag gaan en hy selfweinig vordering maak, ja, selfs as hy agteruitgaan, sal hy sy eie benarde toestand nogtans met groter besadigdheid en selfbeheersing verdra as wat 'n onheilige mens middelmatige sukses verdra as dit minder is as wat hy gewens het. Hy het naamlik 'n troos waarin hy met groter rustigheid kan berus as in die toppunt van rykdom of mag, want hy is daaraan gedagtig dat sy be lange op so 'n wyse deur die Here beskik word dat dit tot sy saligheid dien. Ons sien dat Dawid sa gesind was. Terwyl hy God gevolg en hom aan sy heerskappy oorgegee het, getuig hy dat hy soos 'n kind is wat (van sy moeder) gespeen is, en dat hy nie in wat vir hom te hoog en wonderlik is, wandel nie.43

10. Selfverloëning beteken dat die gelowige sy lewe ten volle in God se hande oorgee.🔗

So 'n rustigheid en verdraagsaamheid behoort nie alleen slegs in hierdie opsig in die gemoedere van vromes te bestaan nie, maar dit behoort selfs in al die voorvalle te geld waaraan ons lewe hier blootgestel is. Iemand het homself dus nie na behore verloën as hy hom nie so ten volle aan die Here oorgegee het dat hy toelaat dat sy hele lewe in alle opsigte na God se goeddunke bestier word nie. Iemand wat so ingestel is, sal homself trouens nie ongelukkig ag en tot misnoeë van God oor sy lot kla nie, wat ook al met hom gebeur. Dit sal trouens duidelik wees hoe noodsaaklik so 'n gesindheid is as 'n mens in aanmerking neem aan hoeveel lotgevalle ons blootgestel is. Die een of die ander siekte bedreig ons voortdurend. Nou woed 'n pes en dan weer word ons wreed deur oorlogsrampe geteister; dan weer is daar ryp of hael wat ons jaar se verwagting verteer, onvrugbaarheid veroorsaak en ons in gebrek dompel. 'n Vrou, ouers, kinders en naasbestaandes word deur die dood weggeruk. Ons huis brand af. As hierdie dinge voorval, vervloek mense hulle lewe, verafsku hulle geboortedag en verwens die hemel en die lig; hulle versmaad God en, welsprekend soos hulle is om Hom te belaster, beskuldig hulle God van onregverdigheid en wreedheid.

'n Gelowige moet egter ook in hierdie dinge God se goedertierenheid en ware vaderlike liefde raaksien. Al sien hy daarom dat sy huis deur die wegneming van sy naasbestaandes vereensaam is, sal hy tog nie ophou om die Here te loof nie. Ja, hy sal hom eerder tot hierdie gedagte wend: "Nogtans sal die genade van die Here, wat in my huis woon, dit nie verlate los nie". Ofskoon hy sien dat hongersnood dreig omdat sy gesaaides deur ryp verdor is44 of deur koue verteer of deur hael platgeslaan is, sal sy gemoed nogtans nie wanhoop en God se misnoeë verwek nie, maar hy sal in hierdie vertroue volhard: "Ons is nogtans onder beskerming van die Here en ons is sy skape wat in sy weiding gevoed is.45 Selfs in die grootste droogte sal Hy dus aan ons voedsel voorsien". Ofskoon hy deur siekte geteister word, sal hy selfs nie eens dan deur die bitterheid van sy pyn geknak word om in ongeduld uit te  bars en so met God te twis nie. Maar hy sal op die geregtigheid en sagmoedigheid in God se tugtiging let en homself tot lydsaamheid opwek. Omdat hy verder weet dat alles wat met hom gebeur, deur die Here se hand beskik is, sal hy dit besadig en dankbaar verdra sonder om God se heerskappy, aan wie se mag hy homself en alles wat aan hom behoort, eenmaal oorgegee het, smadelik te weerstaan nie. Die dwase en ellendige troos van die heidene moet veral ver van 'n Christen se hart af weg wees: om hulle gemoedere teen teenspoed te versterk, het hulle teenspoed aan die noodlot toegeskryf.46 Hulle oordeel was dat dit dwaas is om vir die noodlot kwaad te word omdat dit onverskillig47 en roekeloos was wanneer dit blindelings mense wat dit verdien het en ook die wat dit nie verdien het nie, geweld aangedoen het.48 Die reël van godsvrug is daarenteen dat God se hand alleen die (mens se) lot lei en regeer en dat die lot nie self met 'n ondeurdagte stormloop aanstorm nie maar dat God se hand met die ordelikste geregtigheid goed sowel as kwaad vir ons beskik.

Endnotes🔗

  1. ^ Fr. 1541 e.v.: Venons maintenant au second poinct (Benoit 3:165); vgl. Inst. 3.6.2 (Afr. vert. 3:877).
  2. ^ Marg. Rom. 12.a.l. Vgl. ook vers 12 en OC 49:233 - 236.
  3. ^ Vgl. 1 Kor. 6:19 (OC 49:399 - 400).
  4. ^ Marg. Rom. 14.b.8. Vgl. ook 1 Kor. 6:19 en Rom. 14:7.
  5. ^ Marg. Ephes. 4.f23. Vgl. OC 51:208.
  6. ^ Marg. Galat. 2.d.20. Vgl. OC 50:199 - 200.
  7. ^ Fr. 1541 e.v.: cupidité de régner, de paruenir à grans honneurs ou alliances (Benoit 3:166)
  8. ^ Vgl. Inst. 1.17.2 (Afr. vert. 1:318)
  9. ^ 1539 - 1554: + Marg. Matth. 16.d.24. Vgl. OC 45:481 - 482.
  10. ^ Vgl. 2 Tim. 3:2 - 5 (OC 52:367 - 377).
  11. ^ Vgl. Cicero, De fin. 3.11.36 (LCL 254 e.v.): De legibus1.14.40 (LCL 340 e.v.), Seneca, Ep. mor. 7.9.4 (LCL 2:196 e.v.): Diogenes Laertius, Vitae (Zeno) 7.89 (LCL 2:196); Lactantius, Div. Inst. 5.17.16 (MPL 6:606 e.v.; CSEL 19,1:454 e.v.).
  12. ^ Vgl. Livius, Ann. 3.33.7 (LCL 2:110).
  13. ^ Vgl. Matt. 6:1, 2, 5, 16.
  14. ^ Vgl. Matt. 21:28 - 31.
  15. ^ Marg. Tit. 2. c.ll. Vgl. ook verse 12 - 14 en OC 52A22 - 425.
  16. ^ Vgl. o.a. 1 Joh. 2:16; Ef. 2:3; 2 Pet. 2:18; Gal. 5:16 (OC 55:319 - 320, 468 - 469).
  17. ^ Calvyn se kennis van die Romeinse reg skemer hier deur in die aanpassing van sy definisie van geregtigheid. In justinlanus se Institusie lui dit: Iustitia est constans et perpetua voluntas ius suum cuique tribuens: Geregtigheid is die bestendige en voortdurende wil om aan elkeen te gun wat hom toekom. Calvyn s'n lui: ut reddatur unicuique quod suum est. Vgl. hiermee Aristoteles se behandeling van geregtigheid en billikheid (Eth. Nicom. 5.10; LCL 312 e.v.). Calvyn sluit inhoudelik en stilisties egter eerder aan by sy vertaling van die oorspronklike, vgl. sy Romeinekommentaar (Rom. 13:7 - oe 49:252) en Parker, 1981:285 en sy kommentaar by Tit. 2:11 - 14 (Oe52:422 - 425). Vgl. verder Inst. 3.5.7 (Afr. vert. 3:868); 4.20.3.
  18. ^ Vgl. 1 Tess. 3:5 (OC 52:157).
  19. ^ Vir'n soortgelyke beeld vgl. Inst. 3.9.4 - 5 (Afr. vert. 3:914 - 917); Augustinus, De civ. Dei 15.6 (CCSL 48:459; CSEL 40,2:67).
  20. ^ Marg. Rom. 12.c.l0; Philip. 2.a.3. Vgl. OC 52:23 - 24.
  21. ^ In verband met die ingebore hooghartigheid van die mens vgl.Inst. 1.1.2; 2.1.1 (Afr. vert. 1:114 e.v.; 2:350 e.v.).
  22. ^ Fr.: de s'aymer et exalter soy mesme (Benoit 3:169).
  23. ^ Marg. 1. Cor. 4.b.7. Vgl. OC 49:366 - 367.
  24. ^ Marg. 1. Cor. 13.b.4. Vgl. ook verse 5 - 7.
  25. ^ Vgl. 1 Pet. 4:10 en OC 55:267.
  26. ^ 1561: + Marg. 1. Cor. 12. Vgl. ook die daaropvolgende verse.
  27. ^ Marg. Exod. 22.d.29 & 23.d.19. Vgl. Vg. Eks. 22:28.
  28. ^ Marg. Psal. 16.a.3. Vgl. OAV: Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê Ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is; NAV: Die afgode in die land, sa aantreklik vir baie - met hulle wil Ek niks te doen hê nie. Vgl. ook OC 31:150 - 151.
  29. ^ Marg. Hebr. 13.c.16. 1561: + Marg. 2. Cor. 9.a.5. Vgl. ook oe 55:193 - 194; 50:107. Fr. 1560: pour monstrer que ce sont exercises cortespondans maintenant à l 'observation ancienne qui estoit sous la Loy, dont ie vien de parler (Benoit 3:171).
  30. ^ Vgl. Gal. 6:9.
  31. ^ Marg. 1. Cor. 13.a.4. Vgl. ook vers 5.
  32. ^ Marg. Galat. 6.c.l0.
  33. ^ Marg.Iesa. 58.b. 7. Vgl. ook vers 6 en OC 37:328 - 330.
  34. ^ Marg. Matt. 6.b.14 & 18.d.35; Luc. 17.a.3. Vgl. ook Luk. 17:4.
  35. ^ Marg. Matt. 5.g. 44.
  36. ^ Vgl. Gen. 1:27. In Inst. 1.15.3 (Afr. vert. 1:289 e.v.) sluit Calvyn al die eienskappe wat slegs in die mens en nie in ander lewende wesens nie, voorkom, by die beeld van God in. In Inst. 1.15.4 (Afr. vert. 1:292) sluit hy ook die eienskappe in wat nie heeltemal deur Adam se val uitgewis is nie. Vgl. ook Inst. 2.8.45 (Afr. vert. 2:546) en Bucer se Das ym selbs: Das ym selbs niemant leben soli, sonder anderen (BDS 1:45).
  37. ^ Fr. 1541 e.v.: qui nous pourroyent destourner de cela (Benoit 3:172).
  38. ^ Fr. 1541 e.v.: d'amitié (Benoit 3:172).
  39. ^ Fr. 1541 e.v.: par humanité et douceur (Benoit 3:173)
  40. ^ naturae lege; vgl. Seneca, De ira 1.5.1, 2 (LCL Moral essays 1:118 e.v.).
  41. ^ Vgl. ook Inst. 2.10.12; 3.20.46 ensovoorts (Afr. vert. 2:582 e.v.: 3:1148)
  42. ^ Vgl. Inst. 1.17.10; 3.9.6; 3.10.5 (Afr. vert. 1:331 e.v.; 3:918; 925).
  43. ^ Marg. Psal. 131.a.l. Vgl. ook vers 2 en OC 32:339 - 341.
  44. ^ Fr. 1541 e.v.: ses bleds et vignes (Benoit 3:176)
  45. ^ Marg. Psal. 79.c.l3.
  46. ^ Vgl. Inst. 1.5.4 (Afr. vert. 1:133 e.v.).
  47. ^ 4oKo1\oc:; Fr.: aueugle (Benoit 3:176 n.7)
  48. ^ Vgl. Seneca, De prouidentia 5.1 - 5.11; De tranquillitate animi 8 - 11; Ep. mora/es 76.23; 107.7 e.v. (LCL Moral essays 1:34 - 40; 2:240 - 262; 2:160 e.v.; 3:226).