Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 13 Geloftes en hoe elkeen wat dit onbesonne aflê, hom jammerlik verstrengel
Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 13 Geloftes en hoe elkeen wat dit onbesonne aflê, hom jammerlik verstrengel
1. Inleiding: die verskil tussen 'n belofte en 'n gelofte.⤒🔗
Dit is weliswaar 'n beklaenswaardige toedrag van sake dat die kerk waarvan die vryheid teen die onskatbare prys van Christus se bloed vrygekoop is, so deur hulle wrede tirannie onderdruk en byna onder hulle ontsaglike hoop tradisies begrawe is. Elkeen (van hulle se) besondere waansinnigheid bewys egter dat om die mees gegronde rede soveel van Godsweë die Satan en sy dienaars toegelaat is. Dit was trouens nie vir hulle genoeg om Christus se heerskappy te verwaarloos en allerlei laste wat deur hulle valse leraars op hulle gelê is, te verdra nie, maar elkeen (van hulle) het selfs sy eie laste vir hom bygehaal, en daarom homself dieper in die afgrond ingedompel deur putte vir homself te grawe. Dit het gebeur terwyl hulle met mekaar gewedywer het om geloftes uit te dink waaruit 'n groter en nouer verbintenis by hulle gewone bande kon bykom. Ons het trouens geleer dat die diens aan God deur die vermetelheid van mense wat onder die benaming 'herders' in die kerk heerskappy gevoer het, verkrag is toe hulle arme siele met hulle wette in 'n valstrik gevang het. Dit sal derhalwe nie onvanpas wees om hier 'n euwel wat daaraan grens, by te voeg nie sodat duidelik kan blyk dat die wêreld in ooreenstemming met die ontaarding van sy geaardheid altyd met al die struikelblokke waarmee dit kon, die hulpmiddels waardeur dit na God gelei moes word, verwerp het. Verder moet my lesers die grondbeginsels wat reeds vroeër uiteengesit is, in gedagte hou, sodat beter kan blyk dat die ernstigste verderf deur hulle geloftes ingevoer is.
Ons het trouens in die eerste plek geleer dat alles wat vir 'n vroom en heilige lewe verlang kan word, in die wet saamgevat is.1 Ten tweede het ons geleer dat die Here die lof van geregtigheid volledig in eenvoudige gehoorsaamheid aan sy wil ingesluit het om ons daarvan te laat afsien om nuwe werke uit te dink.2 As hierdie leerstellings waar is, is dit maklik om te oordeel dat alle eiewillige dienste wat ons uitdink om ons by God verdienstelik te maak, Hom glad nie aanstaan nie - al sou dit ons ook hoe behaag. En die Here self het dit nie alleen in bale Skrifverklarings openlik verwerp nie, maar Hy het 'n hewige hekel daaraan. Hier ontstaan twyfel oor geloftes wat sonder die uitdruklike Woord van God afgelê word, oor hoe ons hulle moet beskou en of dit Christene betaam om dit af te lê en in hoe 'n mate ons daardeur gebind word.
Wat onder mense bekendstaan as 'n belofte, heet ten opsigte van God 'n gelofte. Ons beloof mense immers die dinge wat na ons mening vir hulle aangenaam sal wees, ofwat ons kragtens ons plig aan hulle verskuldig is. Derhalwe behoort daar in geloftes 'n baie groter eerbied aanwesig te grootste erns met Hom omgaan.
Bygeloof hieroor het eeue lank op wonderbaarlike wyse gewoed sodat mense sonder oordeel, sonder onderskeid oor alles wat in hulle gedagtes, of in hulle monde opgekom het, dadelik 'n gelofte aan God afgelê het. Hieruit het daardie sinlose geloftes, ja, daardie wanskape belaglikhede onder die heidene wat uitermatig vermetel met hulle gode die spot gedryf het, ontstaan. Het Christene tog maar nie hulle vermetelheid nageboots nie! Dit was weliswaar hoegenaamd nie betaamlik nie maar ons sien dat vir etlike eeue niks alledaagser as hierdie goddeloosheid was nie, naamlik dat 'n hele volk oral die wet van God verag en met 'n waansinnige ywer om oor alles wat hulle in 'n droom genot verskaf het, 'n gelofte af te lê. Ek wil nie uit haat oordryf nie en ook nie stuk vir stuk opnoem hoe ernstig en op hoeveel maniere hierin gesondig is nie. Maar ek het dit goed gevind om dit hier terloops te sê sodat dit beter kan wanneer ons geloftes behandel nie.
2. Drie aspekte wat by die aflegging van 'n gelofte in aanmerking geneem moet word.←⤒🔗
As ons verder nie wil dwaal wanneer ons 'n oordeel vel oor watter geloftes wettig en watter verregaande is nie, moet ons drie aspekte in aanmerking neem, naamlik wie dit is aan wie ons die gelofte aflê; wie ons is wat die gelofte aflê en ten slotte, met watter gesindheid ons die gelofte aflê.
Die eerste aspek is gerig daarop dat ons moet nadink daaroor dat ons hier met God te doen het en ons gehoorsaamheid is vir Hom so aangenaam dat Hy verklaar dat alle eiewillige diens3 aan Hom vervloek is al sou dit ook hoe pragtig en voortreflik in die mense se oë wees.4 As alle eiewillige diens wat ons sonder sy gebod uitdink, dan vir God 'n gruwel is, volg daaruit dat geen diens vir Hom aanvaarbaar kan wees tensy dit deur sy Woord bekragtig word nie. Ons moet ons dus nie soveel vryheid aanmatig dat ons sou waag om oor iets wat nie kan getuig hoedanig dit deur Hom geag word, 'n gelofte afte lê nie. Paulus leer immers dat alles wat sonder die geloof geskied, sonde is.5 Hoewel dit volstrek tot enige optrede uitgebrei kan word, vind dit tog sekerlik besonderlik plaas wanneer jy jou gedagtes reëlreg op God rig. Ja, as ons dan in die geringste dingetjies struikel of dwaal wanneer geloofsekerheid nie sy lig daaroor laat skyn nie, soos Paulus daar oor die onderskeiding van kos redeneer, hoeveel te meer moet ons nie matigheid aan die dag lê wanneer ons 'n saak van die grootste gewigtigheid aanpak nie? Niks behoort trouens vir ons belangriker te wees as die godsdiens nie. In die geval van geloftes moet die eerste voorsorgmaatreël vir ons dus wees dat ons nooit tot 'n gelofte moet oorgaan voordat ons nie eers in ons gewete vas verseker is dat ons niks onbesonne aanpak nie. Ons gewete sal egter eers vry wees van die gevaar van onbesonnenheid wanneer God dit lei en as't ware uit sy Woord voorsê wat goed is om te doen en wat ondienlik is.
3. Wie ons is wat die gelofte aflê.←⤒🔗
Die tweede aspek waaraan ons oorweging moet skenk, is, soos ons gesê het, daarin geleë dat ons ons kragte moet oorweeg en ons roeping in aanmerking moet neem om nie die weldaad van vryheid wat God aan ons verleen het, te verontagsaam nie. Iemand wat trouens 'n gelofte aflê wat nie binne sy vermoë is nie of met sy roeping bots, tree onbesonne op - en iemand wat God se weldaad waardeur Hy as Here oor alles gestel word, veronagsaam, is ondankbaar. Wanneer ek so praat, bedoel ek nie daarmee dat ons by magte is om in die steun en vertroue op eie kragte iets aan God te beloof nie. By die Konsilie van Orange is trouens met die grootste waarheid besluit dat niks na behore aan God beloof kan word behalwe as ons dit uit sy hand ontvang het nie aangesien alles wat Hom aangebied word, louter gawes van Hom af is.6 Aangesien sommige goed egter uit goedertierenheid van God aan ons gegee is, en ander dinge volgens sy geregtigheid van ons weerhou is, moet elkeen, soos Paulus beveel, die maat van genade wat hom gegun is, in ag neem.7 Ek bedoel dus niks anders as dat jy jou geloftes by daardie maat moet aanpas wat God aan jou geskenk en aan jou voorgeskryf het om te voorkom dat jy verder probeer gaan as wat Hy jou toelaat en jy jouself deur jou te veel aan te matig tot 'n val bring nie. Die volgende is voorbeelde hiervan: die moordenaars waarvan in Lukas melding gemaak word, het 'n gelofte afgelê dat hulle nie sal eet voordat Paulus doodgemaak is nie.8 Selfs al sou hulle voorneme self nie 'n misdaad gewees het nie, was hulle ligsinnigheid nogtans ondraaglik omdat hulle 'n mens se lewe en dood aan hulle mag onderworpe gemaak het. So is Jefta vir sy dwaasheid gestraf toe hy in ylingse vurigheid 'n onbesonne gelofte afgelê het.9
Onder hierdie groep neem die gelofte om nie te trou nie (selibaat) die plek vir waansinnige roekeloosheid in. Priesters,10 monnike en nonne vergeet hulle swakheid trouens en vertrou dat hulle opgewasse is om ongetroud te bly. Deur watter uitspraak van God is hulle egter geleer om hulle hele lewe vir hulle 'n toestand van kuisheid te bepaal en 'n gelofte met die doel af te lê? Oor die algemene toestand van mense hoor hulle die volgende uitspraak van God: dat dit nie vir die mens goed is om alleen te wees nie.11 Hulle begryp dit wel, en het hulle dit tog maar ook ervaar dat die sonde wat in ons bly, nie sonder die skerpste prikkels is nie! Met watter selfvertroue kan hulle waag om hierdie algemene roeping hulle lewe lank van hulle af te skud aangesien die gawe van weerhouding 'n mens meer dikwels net vir 'n tyd vergun word namate omstandighede dit vereis? Hulle moet nie verwag dat God hulle in so 'n hardnekkigheid sal help nie maar hulle moet eerder sy uitspraak in gedagte hou: "Jy moet die Here jou God nie versoek nie".12 Dit is inderdaad 'n versoeking van God om teen die natuur wat in ons ingeskape is, te streef en sy teenwoordige gawes te verag asof dit niks met ons te doen het nie. Hulle (die pousdom) doen dit nie alleen nie, maar hulle waag ook om die huwelik 'besoedeling' te noem. Maar God het dit by die instelling daarvan nie vreemd aan sy majesteit geag nie13 omdat Hy verklaar het dat dit in alle opsigte eerbaar is,14 en Christus ons Here dit ook deur sy teenwoordigheid geheilig en waardig geag het om dit met sy eerste wonderwerk te vereer.15
En hulle doen dit nie alleen nie, maar verhef hulle selibaat, hoedanig dit ook al is, met verbasende lofliedere! Net asof hulle nie in hulle eie lewe duidelike getuienis lewer dat selibaat een ding is en maagdelikheid iets anders nie! En met die grootste onbeskaamdheid noem hulle dit nogtans die lewe van engel! Hierin doen hulle die engele van God beslis 'n groot onreg aan, omdat hulle hoere, owerspeliges en iets selfs veel slegter en afstootliker as dit met die engele vergelyk.16 Ons het in elk geval hier geen redenasies nodig nie omdat die werklikheid self hulle oop en bloot aan die kaak stel. Ons sien immers duidelik met watter verskriklike strawwe die Here Hom op 'n aanmatigende houding van hierdie aard en op die veragting van sy gawes vanweë 'n uitermatige selfvertroue wreek. Uit skaamte spaar ek maar hulle meer verborge oortredings want net om daarvan bewus te wees, is reeds te veel!
Daar kan geen geskil daaroor wees dat ons geen gelofte mag aflê wat van so 'n aard is dat dit ons verhinder om ons roeping te dien nie. Dit gebeur as 'n vader van 'n huisgesin byvoorbeeld 'n gelofte aflê om sy kinders en bekwaam is om 'n openbare amp te beklee, 'n gelofte aflê dat hy dit nie sal aanneem wanneer hy daartoe verkies word nie.
Ons het gesê dat ons ons vryheid nie moet verag nie. Die betekenis daarvan hou egter enigsins probleme in as dit nie verduidelik word nie. In 'n paar woorde is die betekenis daarvan dus soos volg. Aangesien God ons as heersers oor alle dinge aangestel het, en Hy dit op so 'n wyse aan ondergeskik gemaak het dat ons dit alles tot ons voordeel moet aanwend, het ons geen grond om te verwag dat ons God 'n aangename diens sal bewys as ons ons aan uiterlike dinge wat vir ons 'n hulpmiddel behoort te wees, verslaaf nie. Ek sê dit omdat sommige mense lof vir hulIe ootmoedigheid probeer bekom as hulle hulle in baie onderhoudings verstrengel terwyl dit God se wil was dat ons daarvan vryen ontslae moes wees. As ons hierdie gevaar daarom wil vermy, moet ons altyd daaraan gedagtig wees dat ons glad nie van die orde17 wat die Here in die Christelike kerk ingestel het, moet afwyk nie.
4. Die regte gesindheid by die aflegging van 'n gelofte.←⤒🔗
Nou kom ek by die onderwerp wat ek derde geponeer het, naamlik dat dit van groot belang is met watter gesindheid jy 'n gelofte aflê as jy wil hê dat God dit moet goedkeur. Omdat die Here immers ons harte ondersoek, en nie 'n uiterlike skyn nie, sal een en dieselfde saak Hom nou behaag en dan weer hewig mishaag as jy jou gesindheid en voorneme verander. As jy byvoorbeeld 'n gelofte aflê om jou van wyn te weerhou asof in so 'n onthouding iets heiligs is, is jy bygelowig. As jy egter jou oë op 'n ander doel rig wat nie verwronge is nie, kan niemand jou daarvoor kwalik neem nie.
Sover ek kan oordeel, is daar vier doelstellings waarop ons geloftes behoorlik gemik kan wees. Om dit te verstaan, betrek ek twee hiervan op die verlede en twee op die toekoms. Tot die verlede behoort geloftes waarmee ons òf dank jeens God betuig vir die weldade wat ons van Hom ontvang het, òf onsself straf vanweë oortredings wat ons begaan het om sy toorn af te bid. Laat ons, as dit jou geval, die eerste geloftes geloftes van dankbetoon noem, en laasgenoemdes geloftes van roubetoon. 'n Voorbeeld van eersgenoemdes vind ons in die tiendes wat Jakob beloof het as die Here hom veilig uit ballingskap na sy vaderland sou terugbring.18 Hierbenewens kom dit ook voor in die geval van die eertydse vredesoffers waaroor godvrugtige konings en leiers, wanneer hulle 'n wettige oorlog sou onderneem, die gelofte afgelê het dat hulle sulke offers sal bring as hulle die oorwinning sou behaal, òf as die Here hulle sou verlos wanneer hulle deur die een of ander groter probleem geknel word. So moet ons al die verwysings in die psalms waar daar van geloftes gepraat word, verstaan.19
Ons kan ook vandag nog sulke geloftes aflê so dikwels die Here ons van die een of ander ramp, of van 'n moeitevolle siekte of van die een of ander gevaar verlos. Dit is trouens dan ook nie vreemd aan 'n godvrugtige mens se plig om die beloofde offer as 'n plegtige teken van erkentenis aan God te wy om te voorkom dat hy ondankbaar jeens sy milddadigheid sou lyk nie.
Wat die aard van die tweede soort gelofte is, sal ek met slegs een enkele bekende voorbeeld voldoende aantoon. As iemand byvoorbeeld vanweë gulsigheid in die een of ander oortreding verval het, sal niks hom verhinder om hom 'n tyd lank alle lekkernye te ontsê om sy gebrek aan selfbeheersing te bestraf nie, en 'n gelofte af te lê om dit te doen om hom met 'n nouer band daartoe te verbind nie. Ek stel dit nogtans nie as 'n ewige wet vir diegene wat 'n dergelike oortreding begaan het nie, maar ek toon slegs aan wat sulke mense mag doen wat meen dat so 'n gelofte vir hulle doelmatig is. Ek stel 'n gelofte van so 'n aard dus toelaatbaar en laat intussen vryheid (vir elkeen om daaroor te besluit).
5. Geloftes wat op die toekoms sien.←⤒🔗
Geloftes wat met die oog op die toekoms afgelê word, het, soos ek gesê het, deels die strekking om ons versigtiger te maak, en deels om ons as't ware met sekere prikkels tot ons plig aan te por. As iemand byvoorbeeld sien dat hy so geneig is tot 'n bepaalde gebrek dat hy homself in iets wat andersins nie sleg is nie, nie kan beheer sonder om dadelik in kwaad te verval nie, sal hy nie iets verkeerd doen as hy hom die gebruik van so iets 'n tyd lank ontneem nie. As iemand byvoorbeeld agterkom dat die een of ander versiering van sy liggaam vir hom gevaar inhou, en hy deur sy begeerte verlei, nogtans heftig daarna smag, wat beters kan hy doen as hom te beteuel, dit beteken, om hom die dwang van weerhouding op te lê en hom van alle vertwyfeling daaroor te vrywaar? Net so as iemand vergeetagtig is en hy traag is om noodsaaklike pligte van godsvrug na te kom, waarom sou hy dan nie 'n gelofte aflê, sy geheue suiwer en sy traagheid van hom afskud nie? Ek erken dat daar in albei hierdie gevalle skynbaar kinderlike tug is maar juis omdat hulle hulpmiddels vir mense in hulle swakheid is, word sulke middels nuttig deur onervare en onvolmaakte mense gebruik. Ons sal dus sê dat geloftes wat op een van hierdie doelstellings gerig is, en besonderlik op uiterlike aangeleenthede, wettige geloftes is mits hulle deur God se goedkeuring ondersteun is, met ons roeping ooreenstem en mits dit tot die vermoë van die genadegawe wat deur God aan ons geskenk is, beperk is.
6. Geloftes van Christene.←⤒🔗
Nou is dit nie meer moeilik om af te lei wat ons gevoel oor geloftes in die algemeen moet wees nie. Een gemeenskaplike gelofte van alle gelowiges is die gelofte wat by die doop afgelê word, wat deur die kategismus en die gebruik van die nagmaal bekragtig en as't ware verseël word. Die sakramente is trouens soos handtekeninge20 waarmee die Here sy barmhartigheid en daaruit die ewige lewe aan ons gee. Op ons beurt beloof ons dat ons Hom sal gehoorsaam. Dit is 'n vorm, of in elk geval 'n samevatting, van die gelofte dat ons die Satan verwerp en ons in diens aan God oorgee om aan sy heilige gebooie gehoorsaam te wees en om nie die bose begeertes van ons vlees te gehoorsaam nie.21 Daar moet geen twyfel daaroor bestaan dat hierdie gelofte heilig en heilsaam is nie terwyl dit op Skrifgetuienis berus, ja, van al God se kinders geëis word. Dat niemand die volmaakte gehoorsaamheid aan die wet wat God van ons eis, in hierdie lewe kan volbring nie, vorm ook geen struikelblok daarvoor nie. Omdat hierdie bepaling immers in die genadeverbond ingesluit is22 waaronder sowel sondevergiffenis as die Gees van heiligmaking saamgevat word, is die gelofte wat ons daar maak, sowel met 'n pleidooi om genade as met 'n versoek om sy bystand verbind.
Ons moet die drie voorgaande reëls in gedagte hou by die beoordeling van besandere geloftes. Na aanleiding daarvan sal ons veilig kan oordeel hoedanig elke gelofte is. Jy moet nogtans nie dink dat ek sulke geloftes wat ek verklaar heilig is, sa ophemel dat ek sou wil hê dat dit daagliks moet gebeur nie. Hoewel ek trouens nie waag om 'n getal of 'n tyd daarvoor voor te skryf nie, sal iemand slegs nugter geloftes op 'n bepaalde tyd aflê as hy na my raad luister. Want as jy gedurig deur uitbars daarin om geloftes af te lê, sal jou eerbied deur die gedurige herhaling daarvan heeltemal waardeloos word en dit sal neig om in bygeloof te verval. As jy jou deur 'n ewige gelofte verbind, sal jy dit òf met groot ergernis en teensin nakom, òf jy sal selfs deur die langdurigheid daarvan vermoei word en waag om dit soms te skend.
7. Hierdie nugter reël vir die aflegging van opregte geloftes is reeds eeue lank misken.←⤒🔗
Nou is dit ook aan almal bekend onder hoe 'n groot bygelowigheid die wêreld al etlike eeue lank oor hierdie onderwerp gebuk gaan. Die een het 'n gelofte afgelê dat hy hom van wyn sal onthou - net asof onthouding van wyn 'n diens is wat op sigself vir God behaaglik is! 'n Ander een het hom deur te vas, en 'n ander deur hom van vleis te onthou tot bepaalde dae verbind. Hulle het hulle met hierdie grondelose opvatting verbeel dat sulke dae bo ander dae uitsonderlike eerbied verdien. Daar is ook geloftes afgelê wat baie kinderagtiger was - hoewel dit nie deur kinders afgelê is nie. Dit is immers as groot wysheid beskou om beloofde pelgrimstogte na baie heilige plekke te onderneem en soms ook om te voet of halfkaal die tog te maak om vanweë uitputting nog groter verdienste te bekom. As hierdie en dergelike geloftes waarvan die wêreld geruime tyd reeds met ongelooflike belangstelling kook, aan die reëls wat ons hierbo gestel het,23 getoets word, sal bevind word dat hulle nie alleen holklinkende en sinlose geloftes is nie, maar ook dat hulle vol openlike goddeloosheid is. Want hoe die vlees ook al daaroor oordeel: God verafsku niks meer as eiewillige godsdiens nie. Hierby kom ook hulle verderflike en verdoemde opvattings want hierdie geveinsdes glo dat wanneer hulle sulke onsinnighede verrig het, hulle vir hulle buitengewone geregtigheid bekom het. Verder stel hulle die toppunt van godsvrug in sulke uiterlike onderhoudings en verag almal wat nie met groter nuuskierigheid sulke dinge ondersoek nie.
8. Die ontstaan en ontwikkeling van die monnike se gelofte.←⤒🔗
Dit is van geen belang om elke vorm van sulke geloftes afsonderlik op te noem nie. Omdat kloostergeloftes egter meer geëerbiedig word omdat hulle oënskynlik volgens openbare oordeel van die (Roomse) kerk goedgekeur is, moet ons kortliks daaroor praat.24 Om ten eerste te voorkom dat iemand die monnikamp soos dit vandag is, met 'n langdradige beskrywing sou verdedig, moet ons daarop let dat die lewe in die kloosters eertyds heeltemal anders was. Mense wat die grootste strengheid en lydsaamheid wou beoefen, het hulle daarheen begewe. Die mense vertel dat soos die dissipline wat die Spartane onder die wette van Lycurgos gehad het,25 ook destyds onder die monnike gegeld het, maar selfs nog strawwer. Hulle het op die grond geslaap; hulle het net water gedrink; brood was hulle kos, groente en wortels, olie en ertjies was hulle belangrikste lekkernye. Hulle het hulle van alle sagter voedsel en liggaamsversorging weerhou. Hierdie stellings sou die indruk van oordrywing kon skep as dit nie was dat dit deur ooggetuies en mense wat dit self ervaar het, vertel word nie, soos Gregorius van Nazianze, Basilius en Chrysostomos.26 Met sulke basiese beginsels het hulle hulle trouens vir die belangriker ampte voorberei.
Dat die kloostergroepe destyds as't ware saadbeddings van die kerklike orde was - almal wat in die kloosters opgelei is, is immers daarvandaan na hulle ampte as biskoppe beroep -, getuig nie alleen die kerkvaders wat ek so pas genoem het nie, maar ook ander belangrike en uitmuntende manne wat hulle tydgenote was. Augustinus toon aan dat dit ook in sy tyd gebruiklik was dat die kloosters die geestelikes aan die kerk moes voorsien. Hy spreek die monnike van Sisilië trouens soos volg aan: "Ons spoor julle broeders egter in die Here aan om by julle voorneme te bly en tot die einde daarin te volhard; want as julle moeder, die kerk, julle diens benodig, moet julle dit nie met gierige uitgelatenheid aanneem of met kruiperige traagheid weier nie, maar gehoorsaam God met 'n sagmoedige hart. Moenie julle eie belang bo die nood van die kerk stel nie. As goeie manne die kerk nie in sy barensnood wou dien nie, sou julle immers niks kon vind om self daarin gebore te word nie".27 Hy praat hier van die diens waardeur gelowiges geestelik weergebore word. Net skryf hy aan Aurelius: "As drosters van die kloosters tot die geestelikes se krygsdiens verkies word, bied dit vir hulle self 'n geleentheid om te val en dit doen die geestelike orde ook die onwaardigste onreg aan aangesien ons gewoonlik slegs die meer beproefdes en beste van diegene wat in die kloosters bly, in die geestelike stand opneem behalwe miskien as ons, soos die gewone mense sê: ''n Slegte fluitspeler is 'n goeie sanger',28 net so met onsself die spot sou dryf en sê: "n Slegte monnik is 'n goeie geestelike!' Dit sou al te droewig wees as ons monnike tot so 'n vernietigende hooghartigheid sou verhef en as ons sou dink dat geestelikes so 'n ernstige belediging verdien, want 'n goeie monnik is soms beswaarlik 'n goeie geestelike as hy voldoende selfbeheersing het, maar tekort skiet in die noodsaaklike leer".29
Uit hierdie aanhalings is dit duidelik dat godvrugtige manne hulle gewoonlik deur die kloosterdissipline voorberei het om oor die kerk te regeer sodat hulle bekwamer en beter gevorm so 'n belangrike amp kon vervul. Nie dat hulle almal hierdie doel bereik, of dit selfs nagestreef het nie, aangesien die meerderheid van hulle ongeletterde mense was. Diegene wat egter daarvoor bekwaam was, is gewoonlik gekies.
9. Augustinus se beskrywing van die kloosterlewe.←⤒🔗
Augustinus beskryf egter besonderlik op twee plekke die vorm van die kloosterlewe van ouds vir ons, naamlik in sy boek Die gewoontes van die algemene kerk waarin hy die heiligheid van sy roeping teen die valse beskuldigings van die Manicheërs verdedig en in 'n tweede boek wat hy betitel Die werk van monnike waarin hy heftig uitvaar teen sekere bedorwe monnike wat begin het om hierdie instelling te verbreek. Ek sal hier so 'n samevatting van sy leer gee dat ek ook sover maantlik sy eie woorde gebruik. Hy sê: "Hulle het die verlokkings van hierdie wêreld verag, byeengekom om saam die kuisste en heiligste lewe te voer, en saam te woon en te lewe in gebede, lesings en besprekings. Hulle was nie met hoogmoed opgeblase, met hardnekkigheid oproerig en met afguns jaloers nie. Niemand van hulle het sy eie besittings gehad nie en niemand was vir 'n ander 'n oorlas nie. Met hulle hande het hulle gewerk vir die dinge waarmee hulle hulle liggame kon voed en hulle verstand nie van God weggehou kon word nie.''
"Hulle het gewerk vir mense wat as dekens bekendgestaan het. Hierdie dekens het alles met groot sorgvuldigheid gereël en aan een van hulle wat hulle vader genoem het, rekenskap gegee. Hierdie vaders was inderdaad in hulle sedes nie alleen uiters heilige manne nie, maar hulle het uitgetroon in hulle kennis van die Goddelike leer en in alles uitgemunt en sonder hooghartigheid die belange van diegene wat hulle hulle kinders noem, behartig. Hulle het groot gesag gehad wanneer hulle bevele gegee het, maar hulle 'kinders' het ewe groot gewilligheid aan die dag gelê om hulle te gehoorsaam."
"Teen die einde van die dag wanneer hulle nog nie geëet het nie, het hulle van hulle huise af bymekaar gekom om na hulle vader hierbo te luister. So kom ten minste drieduisend mense by elke vader afsonderlik bymekaar - hy praat hier veral van Egipte en die Ooste. Daarna verkwik hulle hulle liggame vir sover dit vir hulle gesondheid en welstand genoegsaam is. Elkeen bedwing sy eie begeerte om nie oordadig te wees nie of om spaarsamig en uiters suinig te wees met die goed wat beskikbaar is. So onthou hulle hulle nie alleen van vleis en wyn tot dinge wat voldoende is om hulle begeertes in bedwang te hou nie, maar ook van voedsel wat die maag en keel soveel vinniger aanpor namate dit vir sommiges reiner lyk. Met hierdie woord word die skandelike begeerte na gesogte voedselsoorte wat van vleis verskil, gewoonlik belaglik en skandelik verdedig. Alles wat van hulle noodsaaklike voeding oorbly - en daar is inderdaad uiters baie oorskiet omdat hulle met hulle hande werk, en hulle hulle beperk in hulle etes -, deel hulle met net soveel sorgvuldigheid onder die behoeftiges uit as wat dit deur die wat dit uitdeel, bekom is. Hulle vermoei hulle egter nie om oorskiet te hê nie, maar hulle span hulle op elke moontlike manier in om nie oorskiet by hulle te laat bly nie".30
Daarop vermeld hy die strengheid waarvan hy selfvoorbeelde in Milaan en elders gesien het. Hy sê: "Niemand word gedwing tot 'n strengheid wat hy nie kan verduur nie: niemand word 'n las opgelê wat hy weier nie, en niemand word deur die res veroordeel wanneer hy erken dat hy te swak is om hulle na te boots nie, hulle hou immers in gedagte hoeveel die liefde aangeprys word; hul1e onthou dat alles vir rein mense, rein is,31 ensovoorts. Gevolglik waak hulle met alle ywer daaroor, nie om sekere soorte kos te verwerp asof dit onrein is nie, maar om hulle begeertes te beteuel en broederliefde te behou. Hulle onthou dat kos vir die maag, en die maag vir kos bedoel is."32
"Baie wat sterk is, onthou hulle nogtans ter wille van die wat swak is. Baie het geen rede om dit te doen nie, maar hulle onthou hulle omdat dit hulle geval om hulle met baie goedkoop kos wat glad nie uitspattig is nie, te onderhou. Derhalwe kan juis diegene wat, wanneer hulle gesond is, hulle van voedsel onthou, dit sonder enige vrees neem as hulle siek is en hulle gesondheidstoestand hulle daartoe dwing. Baie drink nie wyn nie en tog dink hulle nie dat hulle hulle verontreinig as hulle wyn drink nie want hulle sorg dat dit wel met die grootste beleefdheid voorgesit word vir diegene wat uitgeput is en nie daarsonder die gesondheid van hulle liggame kan herwin nie. En hulle vermaan sommiges wat dit onverstandig van die hand wys, om nie vanweë 'n sinnelose bygeloof vinniger swakker as heiliger te word nie. So oefen hulle hulle versigtig in godsvrug en hulle weet dat die oefening van hulle liggaam baie geringe tyd in beslag neem."
"Liefde word besonderlik onder hulle gehandhaaf; hulle voedsel word aangepas by hulle liefde; hulle gesprekke, hulle kleredrag en hulle gelaatsuitdrukking word by die liefde aangepas. Hulle gaan in een liefde op en is daarin eensgesind. As iemand hierdie liefde skade aandoen, ag hulle dit as 'n sonde asof God leed aangedoen word. As iemand hom hierteen verset, word hy uitgedryf en vermy, as iemand hieroor aanstoot neem, word hy nie toegelaat om een dag daar te bly nie".33
Omdat hierdie heilige man dit goedgevind het om met hierdie woorde 'n beeld soos 'n skildery te skets van hoedanig die kloosterlewe eertyds was, is ek nie spyt dat ek dit hier ingevoeg het nie al sou dit effens lank wees. Ek het egter bemerk het dat ek ietwat te lank daarmee besig sou wees as ek dieselfde redenasies uit verskillende bronne bymekaar sou maak, aangesien ek net in 'n samevatting belangstel.
10. Die eertydse monnike en hulle lewenswyse.←⤒🔗
Ek is egter nie van voorneme om die hele redenasie hier deur te trek nie maar slegs om terloops aan te dui, nie alleen wat die aard van die monnike was wat die kerk van ouds gehad het nie, maar ook hoedanig die kloosterroeping destyds was. My doel daarmee is dat lesers met 'n gesonde verstand uit 'n vergelyking (daarvan met die huidige) kan oordeel hoe verwaand diegene is wat die ou tyd aanvoer om die huidige monnikamp te verdedig.
Wanneer Augustinus vir ons die heilige en wettige monnikamp skets, wil hy hê dat alle onbuigsame eise oor die dinge wat in die Woord van die Here vir ons vry gelaat word, ver weg moet wees. En tog is daar vandag niks wat met groter strengheid geëis word nie! Hulle beskou dit trouens as 'n onvergeeflike oortreding as iemand ten opsigte van die kleur of styl van sy klere, as iemand ten opsigte van die aard van sy kos, en as iemand in ander ligsinnige en kil seremonies selfs in die geringste mate van hulle voorskrif afwyk. Augustinus voer heftig aan dat dit monnike nie geoorloof is om op 'n ander se koste luilekker te leef nie! Hy verklaar dat daar in sy tyd nie so 'n voorbeeld in 'n goedgeordende klooster te voorskyn gekom het nie.34
Maar ons monnike stel die belangrikste aspek van hulle heiligheid in 'n luilekker lewe! As jy immers hulle luilekker lewe wegneem, waar is dan hulle lewe van nadenke waarop hulle roem dat hulle alle ander mense oortref en waarmee hulle kastig tot by die engele nader. Augustinus vereis kortom 'n biskopamp wat niks anders is as oefening en bystand vir die pligte van godsvrug wat by alle Christene aanbeveel word nie!
Hoe dan nou? Maak hy die liefde die hoogste en amper die enigste reel van die kloosterlewe? Of dink ons dat hy dit as 'n sameswering lof toeswaai waardeur 'n paar mense wat onderling aan mekaar verbind is, hulle van die hele liggaam van die kerk afsonder?35 Nee, hy wil hê dat hulle met hulle voorbeeld vir die res 'n lig moet wees om die eenheid van die kerk te handhaaf.
In beide opsigte is die toedrag van die huidige monnikamp so verskillend hiervan dat jy beswaarlik iets aantref wat meer daarvan verskil- om nou nie te sê strydig daarmee nie! Ons monnike is immers nie tevrede met daardie soort godsvrug in die ywer waarvan Christus diegene wat aan Hom behoort, gebied om hulle voortdurend mee besig te hou nie! Hulle versin egter die een of ander soort nuwe godsvrug, in die oordenking waarvan hulle dan volmaakter as alle ander mense sou wees!
11. 'n Weerlegging van die opvatting dat monnike volmaak is.←⤒🔗
As hulle dit ontken, sou ek graag van hulle wil weet waarom hulle hulle orde alleen die beskrywing 'volmaaktheid' waardig ag en alle ander roepings van God hierdie beskrywing ontneem.36 Hulle bedrieglike oplossing is ook nie vir my onbekend nie, naamlik dat hulle orde so genoem word, nie omdat dit die volmaaktheid in hom inbegrepe het nie, maar omdat hulle orde kamtig die beste van almal sou wees om volmaaktheid te bereik.37 Wanneer hulle hulle aan die gewone mense opdring, wanneer hulle strikke vir onervare en onkundige jongmense stel, wanneer hulle op besondere voorregte aandring, wanneer hulle hulle aansien tot vernedering van ander wil verhef, roem hulle daarop dat hulle in 'n toestand van volmaaktheid is! Wanneer hulle nog harder in 'n hoek gedruk word sodat hulle hierdie sinnelose verwaandheid nie langer kan verdedig nie, neem hulle hulle toevlug tot die loopgraaf dat hulle nog nie hierdie volmaaktheid verkry het nie maar dat hulle nogtans in so 'n toestand is dat hulle meer as ander mense daarna kan streef. Intussen bly die bewondering onder gewone mense asof die kloosterlewe soos die lewe van engele is, volmaak en van alle gebreke gesuiwer. Onder hierdie dekmantel bedryf hulle die winsgewendste handel en die bogenoemde selfbeheersing bly in enkele boeke begrawe. Wie kan nie sien dat dit ondraaglike bespotting is nie?
Maar laat ons met hulle handel asof hulle aan hulle nering niks meer toeken as die roeping tot 'n staat om volmaaktheid te verkry nie. Deur hierdie beskrywing daaraan te heg, onderskei hulle hulle lewe asof met 'n besonderse teken van ander soorte lewens. En wie sou kon duld dat so 'n groot eer oorgedra word op 'n instelling wat nêrens (in die Skrif) deur lettergreep goedgekeur is nie? en dat al die roepings van God deur dieselfde beskrywing onwaardig geag word terwyl dit nie alleen deur sy eie mond voorgeskryf is nie, maar ook met uitsonderlike lofbetuigings versier is? En hoe 'n groot onreg, bid ek jou, word God nie aangedoen wanneer een of ander soort hersenskim bo alle soorte lewens wat deur Hom ingestel is, en deur sy getuienis lof toegeswaai is, gestel word nie?
12. Die eerste bewys dat hierdie opvatting vals is.←⤒🔗
Maar kom nou, laat hulle sê dat die beskuldiging wat ek tevore tot hulle gerig het, vals is, naamlik dat hulle nie met die reël wat deur God voorgeskryf is, tevrede is nie. En tog kla hulle hulleself meer as genoeg aan selfs al sou ek stilbly. Hulle leer trouens openlik dat hulle 'n groter las op hulle skouers neem as wat Christus op diegene wat aan Hom behoort, gelê het omdat hulle naamlik beloof dat hulle die evangeliese vermanings in verband met liefde teenoor vyande, om nie wraak te soek nie, en om nie 'n eed te sweer nie,38 sal handhaaf terwyl Christene oor die algemeen nie daaraan gebind is nie.
Watter geleerdes uit die ou tyd sal hulle met die oog daarop aan ons voorhou? Dit het nooit in enigeen van die skrywers van ouds se gedagtes opgekom nie: hulle roep trouens eenstemmig uit dat Christus volstrek geen woordjie gerep het waaraan hulle nie noodgedwonge gehoorsaam moet wees nie. En sonder om daaroor te twyfel, leer hulle oral dat die dinge uitdruklik gebooie is wat, soos hierdie goeie vertolkers versin, Christus slegs aangeraai het.39
Maar omdat ons hierbo geleer het40 dat dit 'n uiters verderflike dwaling is, sou dit voldoende wees om die aandag kortliks hierop te gevestig het. Dit is naamlik dat die monnikamp op die opvatting gegrond is - en alle gelowiges hoort dit te vervloek -, dat die een of ander lewensreël versin kan word wat volmaakter is as die algemene lewensreël wat deur God aan die hele kerk gegee is. Alles wat op hierdie fondament gebou word, kan niks anders as afstootlik wees nie.
13. 'n Verdere bewys.←⤒🔗
Maar hulle voer ook 'n ander bewys vir hulle volmaaktheid aan en hulle reken dat dit op die stewigste gronde staan. Want toe die jongman die Here oor volmaakte geregtigheid uitgevra het, het Hy hom geantwoord: "As jy volmaak wil wees, verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes''.41 Ek bespreek nog nie of hulle dit doen nie, laat ons hulle dit vir die huidige toegee. Hulle roem dus daarop dat hulle volmaak geword het deur al hulle eiendom te versaak.42 As die toppunt van volmaaktheid hierin geleë is, wat beteken dit wat Paulus leer, naamlik dat iemand wat al sy goed onder die armes uitgedeel het, niks is as hy nie die liefde het nie?43 Watter soort volmaaktheid is dit wat, as die liefde daarin ontbreek, tot niet gaan en die mens daarmee saam? Hierop moet hulle noodwendig antwoord dat dit weliswaar die hoogste, maar nie die enigste werk van volmaaktheid is nie! Maar Paulus verhef sy stem ook hierteen omdat hy nie aarsel om die liefde sonder so 'n afstanddoening van goed 'n band van volmaaktheid te noem nie.44
As dit vasstaan dat daar geen verskil tussen die Meester en sy dissipel bestaan nie, en die een duidelik verklaar dat die volmaaktheid van die mens daarin bestaan dat hy van al sy goed afstand moet doen, en die ander poneer dat dit wel daarsonder kan bestaan, moet ons ondersoek instel na hoe ons die volgende woorde van Christus moet opneem: "As jy volmaak wil wees, verkoop alles wat jy het".45 Voorts sal die betekenis glad nie duister wees as ons oorweeg aan wie hierdie woorde gerig is nie - iets wat ons in al Christus se preke altyd in aanmerking behoort te neem. Die jongman vra deur watter werke hy die ewige lewe sal ingaan.46 Omdat Christus oor werke uitgevra word, verwys Hy hom na die wet.47 Tereg ook, want die wet is die pad tot die ewige lewe as dit op sigself oorweeg word; en dit word nie uit 'n ander bron ongeldig gemaak om aan ons die saligheid te verleen as net vanweë ons eie bedorwenheid nie. Christus verklaar met hierdie antwoord dat Hy nie 'n ander metode van lewensvorming voorhou as wat eertyds in die wet van die Here voorgehou is nie. So lewer Hy vir die wet van God getuienis dat dit die leer van die volmaakte geregtigheid is. En tegelyk gaan Hy die valse beskuldigings teen om te voorkom dat dit sou lyk asof Hy met 'n nuwe lewensreël die volk tot opstand aanhits.
Die jongman het wel nie 'n slegte gesindheid gehad nie, maar hy was opgeblase van leë selfvertroue en antwoord dat hyal die voorskrifte van die wet van sy jeug af gehoorsaam het.48 Dit is baie beslis en seker dat hy nog onmeetlik ver weg was van dit waarop hy roem dat hy dit reeds bereik het. As sy roem waar was, sou niks hom met die oog op die hoogste volmaaktheid ontbreek het nie. Ons het immers hierbo aangedui dat die wet die volmaakte geregtigheid daarin inbegrepe het, en dit blyk ook duidelik uit die feit dat die gehoorsaamheid daaraan die pad tot ewige saligheid genoem word.49 Om dus geleer te word hoe weinig vordering hy gemaak het in daardie geregtigheid waarvan hy uitermatig roekeloos antwoord dat hy dit reeds volbring het, was dit nodig om sy bekende gebrek van hom weg te neem. Hy was trouens hart en siel verknog aan sy rykdom waarvan hy 'n oorvloed gehad het. Omdat hy dus nie van hierdie verborge letsel bewus was nie, word dit deur Christus oopgevlek. Hy sê: "Gaan, verkoop alles wat jy het".50 As hy die wet dan so goed as wat hy gedink het, gehoorsaam het, sou hy nie bedroef weggegaan het toe hy hierdie woorde gehoor het nie. Iemand wat God trouens van harte liefhet, sal alles wat met die liefde vir Hom bots, nie slegs as gemors beskou nie maar dit ook as dodelik verafsku. Dat Christus die ryk gierigaard beveel om alles wat hy het te verlaat, het dus dieselfde krag asof Hy 'n eersugtige mens aansê om van al sy eer, 'n wellustige mens om van al sy genietinge, en 'n onkuise mens om van alle middels tot losbandigheid af te sien.
So moet ons gewete opgeroep word tot 'n besonderse bewuswording van sy sonde omdat dit geen besef van 'n algemene vermaning daartoe het nie. Hulle trek dus sonder rede Christus se uitspraak deur as 'n algemene vertolking asof Christus die volmaaktheid van die mens in die afstanddoening van sy goed gestel het, terwyl Hy daarmee niks anders bedoel het nie as om die jongman wat buitengewoon selftevrede was, so ver te bring dat hy sy eie wonde moes ervaar en kon weet dat hy nog baie ver weg was van volmaakte gehoorsaamheid aan die wet wat hy hom andersins valslik aangematig het.
Ek erken dat hierdie Skrifverwysing nie goed deur sommige van die kerkvaders begryp is nie en dat 'n vertoon van vrywillige armoede hieruit ontstaan het waarvolgens mense gereken het dat hulle nou eintlik geluksalig is as hulle van al hulle aardse goed afstand gedoen en hulle van aardse besittings kaalgestroop aan Christus gewy het.51 Maar ek vertrou dat hierdie vertolking van my alle goeie mense wat nie strydlustig is nie, tevrede sal stel sodat hulle nie oor Christus se bedoeling sou twyfel nie.
14. Kritiek teen die monnikamp en kloosterlewe.←⤒🔗
En tog het die kerkvaders niks minder in gedagte gehad as om so 'n volmaaktheid te bevestig nie hoewel dit later deur hierdie wysneus Sofiste met hulle monnikkappies so misvorm is om 'n tweevoudige Christendom daarop op te rig. Die lasterlike leerstelling wat die kloosterlewe met die doop vergelyk, of liewer openlik verklaar dat dit 'n vorm van 'n tweede doop is, het immers toe nog nie ontstaan nie. Wie kan daaroor twyfel dat die kerkvaders van ganser harte 'n afkeer van hierdie laster gehad het? Wat die laaste stelling betref wat, soos Augustinus sê, onder die monnike van ouds gegeld het, naamlik dat hulle hulle geheel en al na die liefde geskik het:52 is dit regtig nodig om woordeliks te bewys dat dit iets is wat heeltemal vreemd is aan hierdie nuwe monnikroeping? Die werklikheid spreek vanself, naamlik dat almal wat kloosters betree, hulle van die kerk afsonder.
Hoe dan so? Sonder hulle hulle dan nie van die wettige gemeenskap van die gelowiges af deur vir hulle 'n besonderse amp en private bediening van die sakramente toe te eien nie? As dit nie verbreking van die gemeenskap met die kerk is nie, wat is dit dan? En om die vergelyking waarmee ek begin het, deur te trek en terselfdertyd af te sluit: watter ooreenstemming het hulle in hierdie opsig met die monnike van ouds? Hoewel die monnike van ouds afgesonder van ander mense gewoon het, het hulle tog nie 'n afsonderlike kerk gehad nie. Hulle het die sakramente met ander mense gedeel;53 hulle het in die plegtige vergaderings verskyn en daar was hulle deel van die kerkvolk. Wat het hulle anders gedoen as om die band van eenheid te verbreek deur vir hulle 'n privaat altaar op te rig? Hulle het hulle immers enersyds van die universele liggaam van die kerk afgesny en andersyds die gewone diens geminag waardeur dit die Here se wil was dat vrede en liefde onder diegene wat aan Hom behoort, bewaar moet word. Ek verklaar daarom dat daar net soveel vergaderings van skeurmakers is as wat daar vandag kloosters is omdat hulle die kerklike orde versteur het en van die wettige gemeenskap van die gelowiges afgesny is. En om hulle skeuring duidelik te laat blyk, het hulle verskillende name aan hulle sektes gegee. En hulle het hulle nie geskaam om te roem op dit wat Paulus so verfoei dat hy dit nie genoeg kan beklemtoon nie.54 Behalwe as ons op die een, en die ander hom op 'n ander leraar beroem het?55 En dat Christus nou nie beledig word wanneer ons hoor dat sommiges in plaas van Christene Benediktyners, en ander Fransiskaners en nog ander Dominikaners genoem word nie, en dat hulle so heet om vir hulleself hierdie titels as hulle godsdienstige roeping hooghartig toe te eien, wanneer hulle daarna streef om van gewone Christene onderskei te word.
15. Hedendaagse monnike verskil nie alleen in roeping nie, maar ook in sedes van die monnike van ouds.←⤒🔗
Hierdie verskille tussen die monnike van ouds en dié van ons tyd wat ek tot dusver opgenoem het, is nie in hulle sedes geleë nie, maar juis in hulle roeping. Daarom moet my lesers in gedagte hou dat ek eerder van die monnikamp as van monnike gepraat het, en dat ek die aandag gevestig het op daardie gebreke wat nie aan die lewens van 'n paar van hulle kleef nie, maar op gebreke wat juis nie van hulle lewensinstelling losgemaak kan word nie.
Maar van watter belang is dit om stukkie vir stukkie te verduidelik hoe 'n groot verskil daar in hulle sedes voorkom? Dit is alombekend dat daar geen groep mense is wat meer besoedel met elke skandelike gebrek is nie. Nêrens kook dit meer van sektes, haat, partye en eersug nie. In 'n paar kloosters leef hulle wel kuis - as dit kuisheid genoem kan word wanneer hulle hulle wellustigheid sodanig onderdruk dat dit nie 'n openlike skande is nie. Jv sou nogtans beswaarlik een uit elke tien kloosters kon vind wat nie eerder 'n bordeel as 'n heiligdom van kuisheid is nie!
Maar watter soort spaarsin lê hulle in hulle voedsel aan die dag? Hulle word nie anders as varke in varkhokke volgestop nie. Maar om te voorkom dat hulle sou kla dat hulle te hardhandig deur my behandel word, gaan ek nie verder hiermee nie hoewel elkeen wat die werklikheid ken, sal erken dat ek in hierdie paar sake wat ek aangeroer het, geen valse aanklag gemaak het nie.
Hoewel die monnike van Augustinus se tyd soos hy getuig, in so 'n groot kuisheid uitgestaan het, kla hy nogtans dat daar baie niksnutte rondgaan wat met lis en bedrog geld van die eenvoudiger mense afpers, en wat die relikwieë van martelaars ronddra en skandelike handel daarmee dryf - ja, hulle verkoop die bene van enigeen wat dood is, as die reste van martelaars -, en hulle brandmerk hulle orde met vele dergelike oortredings. Soos hy verklaar dat hy nie beter mense gesien het as diegene wat in die kloosters gevorder het nie, so kla hy ook dat hy nie slegter mense gesien het as diegene wat in die kloosters misluk het nie.56 Wat sou hy gesê het as hy vandag kon sien dat amper al die kloosters van soveel en sulke groot jammerlike gebreke oorloop en daarvan dreun? Ek sê nie iets wat nie aan almal welbekend is nie. En tog het hierdie laakbare gedrag nie volstrek sonder uitsondering op hulle almal betrekking nie. Die reël en dissipline om heilig te lewe was trouens nooit so goed gevestig in die kloosters dat daar nie tog sekere bedrieërs wat heeltemal van die res verskil het, na vore gekom het nie. Net so sê ek dat die monnike vandag nie so van die heilige monnike van die ou tyd ontaard het dat hulle nie nog sommiges onder hulle het wat goed is nie. Maar hulle is maar net 'n paar en ver uit mekaar, en hulle kruip onder 'n menigte slegte en goddelose monnike weg. Hulle word egter nie alleen verag nie, maar ook brutaal aangeval en soms wreed deur ander monnike behandel omdat hulIe, soos die spreekwoord van Milete lui, nie glo dat daar onder hulle plek vir 'n goeie mens behoort te wees nie.57
16. Die monnike van ouds het egter ook gebreke gehad.←⤒🔗
Ek vertrou dat ek met hierdie vergelyking tussen die monnikamp van ouds en dié van vandag bereik het wat ek wou, naamlik dat ons kappiedraers valslik die voorbeeld van die eertydse kerk voorhou om hulle beroep te verdedig omdat hulle net soveel van hulle verskil as ape van mense.
Intussen ontken ek nie dat daar in die eertydse vorm van die monnikamp wat Augustinus aanprys, enkele dinge is wat my glad nie aanstaan nie. Ek gee wel toe dat hulle in die uitwendige beoefening van hulle baie streng dissipline nie bygelowig was nie, maar ek sê dat 'n onmatige aanstellerigheid en eersug hulle nie ontbreek het nie. Dit was pragtig dat hulle van al hulle goed afgesien het en dat hulle van alle aardse bekommernis vry was. Maar die sorge om 'n gesin godvrugtig te regeer word deur God van meer waarde geag. Dit is wanneer 'n heilige vader van 'n gesin, losgemaak en vry van alle hebsug, eersug en ander begeertes van die vlees, as doelstelling het om God in 'n bepaalde roeping te dien. Dit is voortreflik om in afsondering ver van die gewoel van mense af te filosofeer, maar dit is nie 'n kenmerk van Christelike vriendelikheid om as't ware uit afkeer van die mensdom jou toevlug tot 'n woestyn en eensaamheid te neem en terselfdertyd die pligte te versaak wat die Here besonderlik aan jou opgedra het nie. Selfs al sou ons toegee dat daar geen ander euwel in hierdie roeping (van die monnike was) nie, was dit beslis geen middelmatige euwel dat dit 'n waardelose en gevaarlike voorbeeld in die kerk ingevoer het nie.
17. Weerlegging van die monnikgelofte.←⤒🔗
Laat ons dus nou kyk na die aard van die geloftes waarmee monnike vandag in hierdie voortreflike orde ingelyf word. Ten eerste, omdat hulle bedoeling is om 'n nuwe en eiewillige diens in te stel om verdienstelik te wees voor God, lei ek uit die voorgaande redenasies afdat al die geloftes wat hulle aflê, voor God 'n gruwel is.58 Ten tweede omdat hulle 'n lewenswyse versin wat hulle geval sonder om in aanmerking te neem of God hulle daartoe roep, en of Hy dit goedkeur, verklaar ek dat dit 'n roekelose en onwettige waagstuk is omdat hulle gewete niks het waarop dit voor God kan steun nie. En alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.59
Daarbenewens is my opvatting dat hulle hulle nie aan God toewy nie maar aan die duiwel omdat hulle hulle met baie verwronge en goddelose dienste wat die hedendaagse monnikamp bevat, verbind. Terwyl die profeet immers mag sê dat die Israeliete hulle kinders aan die duiwels en nie aan God geoffer het nie60 bloot omdat hulle die ware diens aan God met onheilige seremonies bederf het, sou ons dan nie dieselfde van die monnike mag sê omdat hulle duisend strikke saam met hulle kappies aantrek nie?
Maar wat is nou die aard van hulle geloftes? Hulle beloof God ewige maagdelikheid net asof hulle vooraf met God ooreengekom het dat Hy hulle van die noodsaaklikheid om te trou moet vrywaar. Hulle het geen grond om die verskoning aan te voer dat hulle hierdie gelofte slegs uit vertroue op God se genade onderneem nie.61 Aangesien Hy self verklaar dat hierdie gawe nie aan alle mense gegee word nie,62 betaam dit ons nie om te vertrou dat ons hierdie besondere gawe het nie. Laat diegene wat dit wel het, dit toepas. Maar as hulle ervaar dat hulle vanweë hulle vlees onrustig word, laat hulle hulle toevlug neem tot sy hulp deur wie se krag alleen hulle dit kan weerstaan. As hulle dan nie slaag nie, moet hulle nie die geneesmiddel wat hulle aangebied word, versmaai nie. Want diegene wat die vermoë tot selfbeheersing ontsê word, word deur God se stem uitdruklik tot die huwelik geroep.63 Ek noem dit selfbeheersing, nie waardeur die liggaam alleen suiwer van hoerery gehou word nie, maar waardeur die gees onbevlekte reinheid behou. Paulus beveel ons trouens nie alleen om uitwendige losbandigheid nie maar ook gloeiende hartstog te vermy.
"Dit was van die gryse verlede af 'n instelling dat diegene wat hulle heeltemal aan die Here wou wy, hulle met 'n gelofte van selfbeheersing daartoe verbind het", sê hulle.64 Ek erken beslis dat die ou tyd ook hierdie gewoonte aangeneem het, maar ek gee nie toe dat daardie tyd so van alle gebreke gevrywaar was dat ons alles wat toe plaasgevind het as 'n reël moet beskou nie. En geleidelik het die onverbiddelike strengheld ingesluip dat, nadat iemand die gelofte argelê het, geen geleentheid vir berou daaroor gelaat is nie. Dit blyk duidelik uit Cyprianus se stelling: "As maagde hulle uit hulle geloof aan Christus gewy het, moet hulle rein en suiwer sonder enige opspraakwekkendheid daarin volhard. So moet hulle kragtig en standvastig die loon vir hulle maagdelikheid afwag; as hulle egter nie daarmee wil of kan volhard nie, is dit beter dat hulle trou eerder as om vanweë hulle begeertes in die vuur te val".65 Met watter smadelike verwyte sou hulle nie nou iemand wat sy gelofte tot selfbeheersing met so 'n billikheid wou versag, uit mekaar geskeur het nie! Hulle het dus ver van die eertydse gewoonte afgewyk omdat hulle nie alleen geen matigheid toelaat of genade skenk as iemand miskien betrap word dat hy nie by magte is om sy gelofte gestand te doen nie, maar ook omdat hulle sonder enige skaamte verklaar dat iemand swaarder sondig as hy 'n vrou neem om die onbeheerstheid van sy vlees te genees eerder as om deur te hoer sy liggaam en sy siel te verontreinig.
18. 'n Verklaring van Paulus se stelling dat jong weduwees afgewys moet word omdat hulle hulle eerste geloof verwerp het.←⤒🔗
Maar hulle dring nog verder aan en poog om te bewys dat so 'n eed onder die apostels gebruiklik was. Paulus sê immers dat weduwees wat trou nadat hulle een maal in die openbare diens (van die kerk) aangeneem is, hulle eerste geloof verwerp.66 Ek ontken inderdaad glad nie vir hulle dat weduwees wat hulleself en al hulle werk een maal aan die kerk gewy het, tegelyk die voorwaarde om ewig ongetroud te bly, aanvaar het nie - nie omdat hulle dan daarin die een of ander godsdiens gestel het soos later begin gebeur het nie, maar omdat hulle hierdie taak nie kon verrig tensy hulle selfstandig en vry van die juk van 'n huwelik was nie.67 Maar as hulle dan, nadat hulle hulle erewoord gegee het, vir 'n nuwe huwelik begin rondloer het, wat sou dit anders wees as om die roeping van God van hulle af te skud? Geen wonder dus dat hy sê dat hulle vanweë sulke begeertes losbandig word teenoor Christus nie.68 Om hierop uit te brei voeg hy trouens daarna by dat hulle die beloftes wat hulle teenoor die kerk gemaak het, in so 'n mate nie tot uitvoer bring nie dat hulle ook die eerste belofte wat hulle in die doop gemaak het,69 skend en tot niet maak omdat dit in die doop vervat is dat elkeen aan sy roeping moet beantwoord. Miskien sou jy verkies om dit so te verstaan dat hulle, asof hulle alle skaamte verloor het, meteens ook alle bekommernis om eerbaar te leef laat vaar en hulle vir elke losbandigheid en wellustigheid te koop aanbied, en deur hulle losbandige losse lewe nie in die minste toon dat hulle Christelike vrouens is nie. Hierdie betekenis geval my baie.
Ons antwoord derhalwe dat weduwees wat destyds in die openbare (kerk)diens opgeneem is, die voorwaarde om vir altyd ongetroud te bly, op hulleself gelê het. Ons kan maklik begryp dat gebeur het soos Paulus sê, as hulle daarna getrou het, naamlik dat hulle alle skaamte verwerp en onbeskaamder geword het as wat Christelike vrouens betaam het.70 So het hulle nie alleen gesondig deur die trou wat hulle die kerk beloof het, te verbreek nie, maar hulle het ook van die algemene voorwaarde van godvrugtige vrouens afgewyk. Maar ten eerste sê ek dat hulle om geen ander rede beloof het om ongetroud te bly nie as omdat die huwelik volstrek nie met die werk wat hulle onderneem het, strook nie en dat hulle hulle geheel en al nie verbind het om ongetroud te bly anders as in soverre die noodsaaklikheid van hulle roeping dit vereis het nie. Ten tweede gee ek nie toe dat hulle so verbind is dat dit nie ook destyds vir hulle beter sou gewees het om te trou eerder as om deur die prikkels van hulle vlees gekwel te word of in die een of ander onwelvoeglikheid te verval nie. Ten derde sê ek dat 'n leeftyd deur Paulus voorgeskryf word wat oor die algemeen buite gevaar is, veral aangesien hy beveel dat daardie weduwees gekies moet word wat tevrede was met een huwelik en reeds 'n voorbeeld van selfbeheersing gelewer het. Ons keur die gelofte om ongetroud te bly egter om geen ander rede af as net omdat dit verkeerdelik as diens beskou word en sonder nadenke afgelê word deur diegene wat nie die vermoë om hulleself te beheer, ontvang het nie.
19. 'n Bespreking van die posisie van nonne.←⤒🔗
Maar hoe kon hulle hierdie uitspraak van Paulus deurtrek na nonne? Want weduwees is diakonesse gemaak, nie om met liedjies of 'n onverstaanbare gemompel God te streel en die res van die tyd ledig deur te bring nie, maar om openbare kerkdiens teenoor die armes te verrig, en hulle met alle ywer, toewyding en noukeurigheid op hulle liefdesplrgte toe te lê. Hulle het nie 'n gelofte afgelê om ongetroud te bly om deur hulle van die huwelik te weerhou, die een of ander diens aan God te bewys nie, maar slegs om meer ongehinderd te wees om hulle taak uit te voer. Kortom: hulle het nie hierdie gelofte of in die begin van hulle jeugjare, of in die fleur van hulle lewe afgelê om later deur laat ervaring te leer aan watter gevaar hulle hulle uirgelewer het nie, maar toe hulle skynbaar alle gevare oorwin het, het hulle hierdie gelofte wat ewe veilig as heilig is, afgelê.
Maar om nou nie die eerste twee redes aan hulle op te dring nie, sê ek dat dit onbehoorlik is dat vrouens aanvaar word om hierdie eed van onthouding af te lê voordat hulle sestig jaar oud is aangesien die apostel slegs sestigjarige vrouens toelaat71 en hy jonger vroue beveel om te trou en kinders voort te bring.72 Gevolglik kan geen verskoning daarvoor aangebied word dat daar 'n verslapping eers van twaalf, toe van twintig en later van dertig jaar plaasgevind het nie.73 En dit is nog ondraagliker dat arme dogters voordat hulle hulleself kan leer ken of deur hulle ouderdom, of voordat hulle enige ervaring van hulleself kan opdoen, nie alleen met bedrog mislei word nie, maar ook met geweld en dreigemente gedwing word om hulle in daardie vervloekte strikke te verwar.74
Ek sal nie daarop staan om die orige twee geloftes te bestry nie.75 Ek sê slegs dat benewens die feit dat hulle, soos omstandighede vandag is, met baie bygelowe verstrengel is, en skynbaar daarop afgestem is dat diegene wat daardie geloftes aflê, met God en die mense die spot moet dryf. Maar om te voorkom dat ek die indruk wek dat ek elke afsonderlike deeltjie al te kwaadwillig oprakel, salons tevrede wees met die voorgaande algemene weerlegging wat vroeër gestel is.76
20. Geloftes wat nie uit die geloof is nie, is sonde.←⤒🔗
Ek meen dat voldoende uiteengesit is watter soort geloftes reg en vir God behaaglik is. Omdat mense met 'n onervare en bang gewete egter soms ook wanneer 'n gelofte hulle nie geval nie en hulle dit afkeur, nietemin twyfel oor hulle verbintenis daaraan, en hulle ook heftig gefolter word omdat hulle terugdeins daarvan om die trou wat hulle teenoor God afgelê het, te verbreek, en omdat hulle aan die ander kant ook bang is dat hulle meer sal sondig deur hulle gelofte te hou, moet ons hulle ook te hulp kom om hulle in staat te stel om hulle van hierdie probleem te verlos. Om egter vir eens en vir altyd hierdie probleem uit die weg te ruim: ek verklaar dat alle geloftes wat onregmatig en onbehoorlik afgelê is, net soos dit voor God geen waarde het nie, so ook onder ons ongeldig behoort te wees. Want as slegs daardie beloftes in die geval van ooreenkomste met mense ons verbind aan dinge waaraan iemand met wie ons 'n kontrak aangaan, wil hê dat ons verbind moet wees, is dit ongerymd dat ons gedwing kan word om beloftes gestand te doen wat God allermins van ons eis - veral aangesien ons werke slegs wettig is as hulle God behaag en hulle die getuienis van ons gewete het dat hulle God behaag.
Dit bly dus onwrikbaar vas dat alles wat nie uit die geloof is nie, sonde is.77 Hieronder verstaan Paulus dat elke werk wat met vertwyfeling onderneem is, juis daarom gebrekkig is, en dat geloof die wortel van alle goeie werke is omdat ons deur die geloof seker is dat ons werke deur God aangeneem is. As geen Christen 'n werk sonder hierdie sekerheid mag aanpak nie, waarom sou hulle dan nie, wanneer hulle die een of ander werk uit onkunde en ondeurdag aanpak, nie daarvan kan afsien wanneer hulle van hulle dwaling bevry is nie? Aangesien sulke geloftes onnadenkend afgelê is, plaas hulle nie alleen geen verpligting op mense nie, maar hulle moet noodwendig herroep word. Want wat daarvan dat hulle nie alleen voor God se aangesig van nul en gener waarde geag word nie, maar dat hulle ook vir Hom 'n gruwel is soos vroeër aangetoon is?78
Dit is oorbodig om verder oor 'n onderwerp wat nie so noodsaaklik is nie, uit te wei. Dit lyk vir my asof net hierdie een redenasie voldoende is om vroom gewetens te kalmeer en hulle van alle probleme te verlos: alle werke wat nie uit 'n suiwer bron ontspring en op 'n grondige doelstelling gerig is nie, word deur God verwerp; en dit word so verwerp dat Hy ons nie minder verbied om daarmee voort te gaan as om daarmee te begin nie! Daaruit maak ons die afleiding dat geloftes wat uit dwaling en bygeloof ontstaan, by God geen waarde het nie, en deur ons laat vaar moet word.
21. Die beskuldiging dat diegene wat die pousdom verlaat het, hulle gelofte verbreek het, is daarom ongeldig.←⤒🔗
Daarbenewens sal iemand wat hierdie oplossing (van die probleem) verstaan, iets hê om diegene wat hulle van die monnikamp af na 'n eerbare soort lewe wend, teen die valse beskuldiging van goddelose mense te verdedig. Hulle word heftig daarvan beskuldig dat hulle hulle trou verbreek het en van meineed omdat hulle die onverbreekbare band, soos algemeen geglo word, waardeur hulle aan God en die kerk verbind was, verbreek het.79 Ek sê egter dat daar geen band bestaan wanneer God iets wat die mens bekragtig, tot niet maak nie. Ten tweede: gestel nou maar dat ons toegee dat hulle wel onder verpligting geplaas is, hoewel hulle deur hulle onkunde van God en deur dwaling verstrik geknel word, verklaar ek dat hulle nou, nadat hulle deur die kennis van die waarheid verlig is, tegelyk deur die genade van Christus daarvan verlos is. Want as die kruis van Christus soveel krag het dat dit ons van die vloek van God se wet waardeur ons vasgeknel was, kan verlos,80 hoeveel te meer sal dit ons nie red van uiterlike bande wat niks anders as nette van die Satan is nie? Daar bestaan derhalwe geen twyfel daaroor dat Christus almal wat Hy met die lig van sy evangelie bestraal, van al die valstrikke bevry waarmee hulle hulle uit bygelowigheid verbind het nie. En selfs as sommiges nie bekwaam was om altyd ongetroud te bly nie, ontbreek dit hulle nie aan 'n tweede vorm van verdediging nie. Want as 'n bepaalde onmoontlike gelofte die verderf van 'n siel beteken - en dit is God se wil dat dit bewaar moet bly en nie verlore moet gaan nie -, volg daaruit dat 'n mens glad nie daarby moet hou nie. Ons het tevore geleer hoe onmoontlik 'n gelofte tot weerhouding (van die huwelik) vir mense is wat nie met hierdie besondere gawe begaafd is nie,81 en selfs al sou ek daaroor swyg, sê ons ervaring dit vir ons. Dit is trouens welbekend hoe volonwelvoeglikheid amper al die kloosters is. En as sekere kloosters nog eerbaarder en beskeier as ander is, is hulle nograns nie daarom suiwer nie omdat hulle die euwel van onkuisheid binne die kloosters indwing en daar hou. Natuurlik wreek God Hom met verskriklike voorbeelde op die vermetelheid van mense wanneer hulle hulle swakheid vergeet en strydig met hulle natuur na iets streef wat hulle nie gegee is nie,82 en wanneer hulle die geneesmiddels versmaai wat die Here hulle gegee het en met veragting en hardnekkigheid vertrou dat hulle die kwaal van onbeheerstheid kan oorwin. Wat sal ons dit dan anders as veragting noem wanneer iemand, ten spyte daarvan dat hy vermaan is dat hy aan 'n huwelik behoefte het, en dat dit as geneesmiddel deur God aan hom gegee word, dit nie alleen verag nie maar homself ook met 'n eed daartoe dwing om dit te verag?