Dwalings in die Roomse mis het die nagmaal van Christus onder andere op die volgende maniere ontheilig:
• Christus is van sy priesterskap ontneem,
• ‘n Altaar word in die plek van die kruis gestel, en
• Christus se dood word nie in herinnering gebring nie.

Die nagmaal moet van die offers van die wet onderskei word. Dit is nie ‘n soenoffer waardeur God gunstig gestem word nie, maar is wel ‘n danksegging vir wat Christus vir ons geoffer het.

1984. 23 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 18 Die Pouslike Mis. Deur die Heiligskennis hiervan is die Nagmaal van Christus nie alleen ontheilig nie maar heeltemal vernietig

1. Al die dwalings in verband met die Nagmaal het uit die Roomse Mis ontstaan.🔗

Met hierdie en soortgelyke uitvindings het die Satan gepoog om die heilige nagmaal van Christus te verduister en te besoedel asof hy 'n skaduwee daaroor gegooi het om te voorkom dat die suiwerheid daarvan in die kerk behoue bly. Maar die toppunt van sy verskriklike afstootlikheid was toe hy sy vaandel opgetel het om nie alleen die nagmaal te verduister en omver te werp nie, maar dit heeltemal uit te wis en te vernietig, dit te laat verdwyn en uit die gedagtes van mense uit te roei. Dit was naamlik toe hy byna die hele wêreld verblind het met die uiters verderflike dwaling dat die mense moet glo dat die Mis1 'n offerande en offer is om vergiffenis van sondes te bekom.2 Ek hou my nou nie op met die manier waarop die Skolastici met gesonder verstand3 aanvanklik hierdie leerstelling opgeneem het nie. Vaarwel aan hulle met hulle spitsvondighede vol dorings! Hoewel dit met drogredenasies verdedig kan word, moet hulle nogtans deur alle goeie mense verwerp word omdat hulle niks anders doen as om die duidelikheid van die nagmaal met baie skadu's te verduister nie.

As ek hulle dus vaarwel toegeroep het, moet my lesers begryp dat ek hier die stryd teen daardie opvatting aansê waardeur die Roomse Antichris en sy profete die hele wêreld deurtrek het. Dit is naamlik dat die Mis nodig is sodat die priester wat Christus offer, asook ander mense wat aan die of- ferande deelneem, verdienstelik kan wees voor God,4 of dat die Mis 'n soenoffer is waardeur hulle hulle met God versoen.5 En dit is ook nie alleen volgens die algemene opvatting van die gewone mense aangeneem nie, maar die handeling is self so ingestel dat dit 'n soort versoening is waardeur aan God voldoening gedoen word as versoening vir die wat lewe en die wat dood is. Die waarde wat hulle (in die bediening van die Mis) gebruik, gee dit ook te kenne, en uit hulle daaglikse gebruik kan ons ook niks anders as dit aflei nie.

Ek weet hoe diep hierdie verpesting wortelgeskiet het; ek weet onder hoe 'n groot skyn van die goeie dit verskuil is om die Naam van Christus voor te hou sodat baie glo dat die somtotaal van ons geloof in die word Mis saamgevat word. Ons sal egter baie duidelik met die Woord van God bewys dat hierdie Mis, al sou dit ook hoe opgesmuk en pragtig wees, Christus met uitsonderlike smaad beledig; dat dit sy kruis begrawe en onderdruk; dat dit sy dood in die vergetelheid wegbêre, dat dit die vrug wat ons daaruit bekom het, tot niet maak en die sakrament waardeur ons aan sy dood herinner moet word, kragteloos maak en vernietig. Sal daar dan nog sulke diep wortels wees dat hierdie uiters kragtige byl, naamlik die Woord van God, dit nie kan deurkap en uitroei nie? Sal daar dan nog so 'n opgesmukte skyn daarvan wees waaronder hierdie euwel verskuil is, wat hierdie lig nie kan ontmasker nie?

2. Christus word ten eerste ernstige leed aangedoen in die Mis omdat Hy Sy Priesterskap ontneem word.🔗

Laat ons dus dit wat ons ten eerste hierbo gestel het, bewys, naamlik dat Christus in die Mis ondraaglike laster en leed aangedoen word. Hy is trouens as Priester en Hoëpriester deur die Vader geheilig, en dit nie tydelik soos ons lees dat die priesters in die Ou Testament aangestel is nie. Omdat hulle sterflik was, kon hulle priesterskap immers nie ewig wees nie. Daarom het hulle ook opvolgers nodig gehad om gedurig in die plek van diegene wat gesterf het, aangestel te word. Maar 'n plaasvervanger hoef glad nie vir Christus wat onsterflik is, aangestel te word nie. Hy is gevolglik volgens die orde van Melgisedek vir ewig as priester deur die Vader aangewys om 'n priesterskap te vervul wat tot in ewigheid duur.6 Hierdie geheimenis is lank tevore reeds in Melgisedek afgeskadu, en toe die Skrif hom eenmaal as priester van die lewende God voorgestel het, herinner die Skrif ons daarna nooit weer daaraan nie asof hy geen einde aan sy lewe gehad het nie. 

Na aanleiding van die ooreenkoms hiermee is Christus Priester volgens die orde van Melgisedek genoem. Maar diegene wat nou daagliks offer, moet noodwendig priesters vir die offerandes aanstel wat hulle as opvolgers en plaasvervangers in Christus se plek kan aanwys. Deur hierdie aanwysing beroof hulle Christus nie alleen van sy eer en ontruk hulle Hom nie alleen van die voorreg van sy ewige Priesterskap nie, maar hulle probeer Hom ook van die regterhand van sy Vader wegdryf waar geen onsterflike mens kan sit sonder om tegelyk ewige priester te bly nie.

Hulle moet ook nie die verskoning aanvoer dat hulle offerpiesters nie in Christus se plek aangewys word asof Hy reeds dood is nie, maar dat hulle slegs plaasvervangers van sy ewige Priesterskap is wat nogtans nie daarna ophou bestaan nie. Hulle word immers te kragtig deur die woorde van die apostel aan bande gelê om so te kan ontkom. Hy sê naamlik dat baie ander mense priesters gemaak is omdat hulle deur die dood verhinder is om priesters te bly.7 Omdat Christus dus nie deur die dood verhinder word nie, is Hy die enigste Priester en Hy het nie metgeselle nodig nie. Hulle is egter so onbeskaamd dat hulle nogtans van Melgisedek se voorbeeld gebruik maak om hulle goddeloosheid te verdedig. Omdat daar trouens gesê word dat hy brood en wyn geoffer het,8 lei hulle daaruit af dat dit 'n voorspel tot hulle Mis was - net asof die ooreenkoms tussen hom en Christus geleë is in die offer van brood en wyn!9

Hulle opvatting is egter te flou en te ligsinnig om weerlegging nodig te hê. Melgisedek het brood en wyn aan Abraham en sy geselskap gegee om hulle te verfris toe hulle deur hulle reis en oorlog vermoei was. Wat het dit met 'n offer te doen? Die menslikheld van hierdie heilige koning word deur Moses geloof. Hieruit smee hulle heeltemal onvanpas 'n geheimenis waarvan daar geen melding gemaak word nie. Hulle verdoesel hulle dwaling nogtans ook met 'n ander streek omdat daarna dadelik (hierdie woorde) volg: "En hy was 'n priester van die Allerhoogste God".10

My antwoord hierop is dat hulle verkeerdelik iets wat die apostel op die seën betrek, op die brood en die wyn toepas. Aangesien hy dus 'n priester van God was, het hy Abraham geseën. Daaruit lei dieselfde apostel - en ons hoef nie na 'n beter vertolker daarvan te soek nie - Melgisedek se belangriker posisie af omdat iemand wat minder belangrik is deur iemand wat belangriker is, geseën word.11 Maar nou bid ek jou, as Melgisedek se gawe 'n voorspel van die offer van die Mis was, sou die apostel wat selfs die geringste ding ondersoek, so 'n ernstige en gewigtige aspek vergeet het? Watter onsin hulle egter ook al aanvoer, sal hulle tevergeefs poog om die rede wat deur die apostel self daarvoor gegee word, omver te werp, naamlik dat die reg en die eer van die priesterskap onder sterflike mense tot 'n einde kom omdat Christus wat onsterflik is, die enigste en ewige Priester is.12

3. Ten Tweede vernietig die Mis Christus se Kruis en stel 'n Altaar in die plek daarvan.🔗

Die tweede deug van die Mis was om die kruis en die lyding van Christus te onderdruk en te begrawe! Dit is weliswaar baie beslis en seker dat Christus se kruis verwerp word sodra 'n altaar opgerig word. As Hy Homself immers as offer aan die kruis gebring het om ons vir ewig heilig te maak en die ewige verlossing vir ons te verkry,13 bly die krag en die resultaat van sy offer ongetwyfeld eindeloos duur. Andersins sou ons gevoel oor Christus nie groter eer ingehou het as ons gevoel oor die beeste en die kalwers wat onder die wet geoffer is nie. Die feit dat hulle offers dikwels herhaal is, bewys dat hulle kragteloos en swak was.14 Daarom moet ons erken, òf dat dit die offer van Christus wat Hy aan die kruis volbring het, ontbreek het aan die krag om ons vir ewig te reinig, òf ons moet erken dat Christus deur die offer wat Hy eenmaal gebring het, dit vir alle eeue volbring het. Dit is wat die apostel sê, naamlik dat hierdie Hoëpriester, Christus, eenmaal deur sy offer in die volheid van die tyd verskyn het om die sonde te vernietig. Hy sê ook dat ons deur die wil van God heilig gemaak is deur die offer wat Jesus Christus eenmaal met sy liggaam gebring het. En net so ook dat Christus diegene wat geheilig is, vir ewig met een offer volbring het.15 Aan hierdie uitsprake verbind hy 'n uitsonderlike stelling, naamlik dat as ons eenmaal vergiffenis vir ons sondes verkry het, daar geen offer meer oorbly nie.16 Dit het Christus ook in sy laaste woorde en in sy laaste asemteue te kenne gegee toe Hy gesê het: "Dit is volbring".17 Ons beskou die laaste woorde van mense wat sterf gewoonlik as orakelsprake. Wanneer Christus dan sterf, getuig Hy dat alles wat tot ons saligheid strek, deur sy een enkele offer volmaak en volbring is. Mag ons dan by so 'n offer waarvan Hy die volmaaktheid so duidelik by ons aanprys, daagliks ontelbare ander offers aanlap asof dit onvolmaak was? Die heilige Woord van God verklaar immers nie alleen nie, maar skreeu dit uit dat hierdie offer eenmaal afgehandel is en dat die krag daarvan tot in ewigheid bly. Beskuldig diegene wat 'n ander offer eis, Christus dan nie daarvan dat sy offer onvolmaak en swak was nie?

Maar waarop is die Mis, wat juis oorgedra is sodat dag vir dag honderd duisend offers gebring moet word, anders gerig as om die lyding van Christus waardeur Hy Hom as enigste offer aan die Vader geoffer het, begrawe en versonke te laat lê? Wie behalwe 'n blinde kan nie sien dat dit die vermetelheid van die Satan was wat teen so 'n openlike en duidelike waarheid gestry het nie? Ek is ook goed bekend met die oëverblindery waarin die vader van die leuen hierdie bedrog van hom gewoonlik hul, naamlik dat dit nie verskeie en verskillende offers is nie, maar dat een en dieselfde offer baie dikwels herhaal word.18 Maar sulke rookskerms kan sonder enige moeite verdryf word. In sy hele betoog voer die apostel trouens aan dat daar nie alleen geen ander offers bestaan nie, maar dat hierdie een offer nie meer herhaal hoef te word nadat dit eenmaal gebring is nie.19

Die wat skerpsinniger is, probeer deur 'n bedekter skeur wegkom; hulle sê naamlik dat dit nie 'n herhaling is nie maar 'n toepassing. Maar hierdie skim kan ook sonder enige moeite weerlê word. Christus het Hom trouens nie onder hierdie voorwaarde geoffer dat sy offer elke dag deur nuwe offers vas en seker gemaak moet word nie, maar dat die vrug daarvan deur die verkondiging van die evangelie en die bediening van die heilige nagmaal met ons gedeel moet word. Paulus sê byvoorbeeld dat Christus, ons Pasga, (paaslam) vir ons geslag is20 en hy beveel ons om fees te vier.21 Ek herhaal: die rede waarom die offer van die kruis na behore op ons toegepas word, is wanneer dit met ons gedeel word om te geniet en wanneer ons dit met waaragtige geloof ontvang.

4. 'n Bespreking van die Roomse Skriftuurlike begronding van die Mis.🔗

Maar dit is die moeite werd om te hoor op watter basis hulle hierbenewens die offer van die Mis bou. Hulle sleep die profesie van Maleagi hierby in. Daarvolgens beloof die Here dat daar 'n tyd sal kom dat 'n brandoffer en 'n rein offer oor die hele wêreld vir Hom geoffer sal word.22 Net asof dit iets nuuts of ongewoons vir die profete was om, wanneer hulle oor die roeping van die heidene praat, die geestelike diens aan God waartoe hulle hulle aanspoor, met die uiterlike seremonie van die wet aan te dui om op 'n vertrouliker trant vir die mense van hulle tyd aan te dui dat die heidene ook tot ware gemeenskap in die godsdiens geroep moes word. So het hulle ook oor die algemeen gewoonlik die waarheid van dinge wat deur die evangelie geopenbaar is, in voorbeelde van hulle eie tyd beskryf. In plaas van te praat van bekering tot die Here het hulle gepraat van optrek na Jerusalem;23 in plaas van aanroeping van God het hulle gepraat van die offer van elke soort gawe; 24 in plaas van die oorvloediger kennis wat in die koninkryk van Christus aan die gelowiges geskenk word, stel hulle drome en gesigte.25 Hulle verwysing is dus net soos 'n ander voorspelling van Jesaja waar die profeet profeteer dat daar drie altare, in Assirië,26 Egipte en Judea opgerig sou word.

My eerste vraag is nou of hulle toegee dat die vervulling van hierdie profesie in die koninkryk van Christus plaasvind. Ten tweede: waar is hierdie altare, of wanneer is hulle opgerig? Ten derde: of hulle meen dat vir elke koninkryk afsonderlike tempels bestem is soos die tempel in Jerusalem was? As hulle hierdie vrae oorweeg, sal hulle soos ek meen, erken dat die profeet aan die hand van voorbeelde wat met sy eie tyd ooreenstem, profeteer dat die geestelike diens aan God oor die hele wêreld versprei sou word. Dit is ook die oplossing wat ons aan die hand doen. Omdat daar egter oral voorbeelde van hierdie saak voorkom, bekommer ek my nie om 'n baie lang relaas daarvan te gee nie. Maar ook hierin is hulle droewig verblind omdat hulle geen ander offer as die offer van die Mis erken nie, hoewel gelowiges tans inderwaarheid wel 'n rein offer aan die Here bring. Hieroor sal ons weldra praat.27

5. Ten Derde wis die Roomse Mis die Herinnering aan Christus se Dood uit.🔗

Nou kom ek by die derde aspek van die Mis waar ek moet verduidelik hoe dit die ware en enige dood van Christus uitwis en uit die geheue van  die mense uitdryf. Soos die bekragtiging van 'n testament onder mense immers van die dood van die testateur afhang, so het ons Here die testament waardeur Hy sondevergiffenis en die ewige geregtigheid aan ons geskenk het, deur sy dood bekragtig.28 Diegene wat waag om iets in hierdie testament te verander of nuut te maak, verloën sy dood en ag dit as iets wat van geen belang is nie. Maar wat is die Misanders as iets nuuts en 'n heeltemal ander testament? Hoe dan so? Beloof elke Mis afsonderlik nie 'n nuwe sondevergiffenis en 'n nuwe verkryging van geregtigheid sodat daar weldra net soveel testamente as Misse is nie? Christus moet dus weer kom en deur 'n tweede dood hierdie nuwe testament, of eerder deur talryke dode die ontelbare testamente van die Misse bekragtig. Het ek dan nie in die begin die waarheid gepraat toe ek gesê het dat die enige en ware dood van Christus deur die Misse uitgewis word nie? Wat daarvan dat die Mis lynreg daarop gemik is dat Christus weer doodgemaak moet word as dit moontlik was?

"Want", sê die apostel, "waar 'n testament is, moet noodwendig ook die dood van die testateur voorkom".29 Die Mis bring 'n nuwe testament van Christus tot stand en vereis derhalwe sy dood. Daarbenewens is dit noodsaaklik dat die offerdier wat geoffer word, doodgemaak en geslag moet word. As Christus in elke Mis geoffer word, moet Hy elke oomblik op duisend plekke wreed doodgemaak word. Dit is nie my redenasie nie, maar die apostel s'n wanneer hy sê dat, as Hy nodig sou gehad het om Hom baie dikwels te offer, Hy van die begin van die wêreld af ook dikwels moes gely het.30 Ek erken dat hulle 'n antwoord gereed het waarmee hulle ons brandmerk dat ons hulle valslik beskuldig. Hulle sê immers dat ons hulle beskuldig van iets waaraan hulle nooit gedink het en weliswaar nooit kon dink nie. Maar ons weet dat Christus se dood en lewe nie in hulle hande is nie. Ons het ook nie daarby belang of hulle van voorneme is om Hom dood te maak nie. Ons bedoeling is slegs om aan te toon hoe 'n groot ongerymdheid uit hulle goddelose en sondige leerstelling volg. Dit bewys ek juis uit die apostel se eie mond. Al sou hulle honderd keer hierteen uitroep dat hierdie offer bloedloos31 is, sal ek nogtans sê dat dit nie van die mens se goeddunke afhang om die aard van die offer te verander nie want so sal die heilige en onskendbare instelling van God in duie stort. Daaruit volg dat hierdie beginsel van die apostel vas moet bly staan dat vergieting van bloed vereis word om te voorkom dat die afwassing (van sondes) sou ontbreek.32

6. Ten Vierde ontneem die Roomse Mis mense die Vrug van die Dood van Christus.🔗

Nou moet ons die vierde taak van die Mis behandel, naamlik hoe dit ons die vrug wat uit die dood van Christus tot ons kom, ontneem wanneer dit veroorsaak dat ons dit nie kan erken of bedink nie. Wie sou trouens dink dat hy deur Christus se dood verlos is wanneer hy merk dat daar in die Mis 'n nuwe verlossing is? Wie sou kon vertrou dat sy sondes hom vergewe is wanneer hy 'n nuwe vergiffenis in die Mis sien? En niemand sal daarmee wegkom as hy sê dat ons om geen ander rede vergiffenis van sondes in die Mis verkry as omdat dit reeds deur Christus se dood verkry is nie. Hy voer trouens niks anders aan as om te roem dat ons onder hierdie voorwaarde deur Christus verlos is, naamlik dat ons onsself moet verlos nie. So 'n leer is immers deur die dienaars van die Satan uitgestrooi en so 'n leer word vandag met krete, die swaard en vuur verdedig, naamlik dat wanneer ons Christus in die Mis aan die Vader offer, ons deur hierdie handeling van offer vergiffenis van sondes verkry en Christus se lyding deelagtig word.33 Wat bly vir Christus se lyding oor anders as net dat dit vir ons as voorbeeld van 'n verlossing moet dien sodat ons daaruit kan leer hoe om onsself te verlos? Wanneer Christus self in die nagmaal die vertroue op vergiffenis beseël, beveel Hy nie sy dissipels om aan hierdie handeling te bly hang nie, maar Hy stuur hulle na die offer van sy dood en Hy gee te kenne dat die nagmaal 'n aandenking, of soos die mense sê, 'n gedenkteken is waaruit hulle moes leer dat die soenoffer waarmee God versoen moes word, slegs eenmaal geoffer moes word. Dit is trouens nie genoeg om te weet dat Christus die enigste slagoffer is nie tensy daar bykom dat Hy ook die enigste offer is sodat ons geloof aan sy kruis vasgeheg moet bly.

7. Ten Vyfde het die Mis die Nagmaal tot Niet gemaak.🔗

Nou kom ek by die kroon van die Mis, naamlik dat dit die heilige nagmaal waarop die Here die nagedagtenis aan sy lyding ingegraveer en afgebeeld het, uit ons midde weggeneem, verduister is en en verlore gegaan het toe die Mis ingestel is. Die nagmaal is immers 'n gawe van God wat ons met dankbetuig moet ontvang. Die offer van die Mis dien hom aan om 'n prys vir God vas te stel sodat Hy dit as voldoening moet ontvang. So groot as wat die verskil tussen gee en ontvang is, so groot is die verskil tussen die Misoffer en die sakrament van die nagmaal. En dit is weliswaar uiters jammerlike ondankbaarheid van die mens dat hy God sy skuldenaar maak terwyl hy die milddadigheid van sy Goddelike goedheid moes erken en dank daarvoor moes betuig. Die sakrament (van die nagmaal) beloof dat ons deur Christus se dood nie net eenmaal tot die lewe herstel is nie, maar dat ons voortdurend lewendig gemaak word omdat ons saligheid in alle opsigte in sy dood volbring is.

Die offer van die Mis sing egter 'n heel ander deuntjie, naamlik dat ons Christus elke dag moet offer om vir ons enige voordeel in te hou. Die nagmaal moes in 'n openbare kerkvergadering uitgedeel word om ons in verband met die gemeenskap waardeur ons almal saam in Christus Jesus verenig is, te leer. Die offer van die Mis het hierdie gemeenskap vernietig en verskeur want nadat die dwaling veld gewen het dat daar priesters moes wees wat ten behoewe van die kerkvolk hulle offers gebring het,34 is die nagmaal as't ware aan hulle toevertrou en het dit opgehou om volgens die gebod van die Here in die kerk aan die gelowiges uitgedeel te word.

'n Opening vir privaat Misse is gelaat wat eerder 'n soort uitbanning weergee as daardie gemeenskap wat deur die Here ingestel is. Die offerpriester sonder hom immers van die hele volk van gelowiges af om sy offerande in afsondering te verorber.35 En om te voorkom dat iemand mislei word: ek noem dit 'n private Mis wanneer die gelowiges nie aan die nagmaal van die Here deelneem nie selfs al sou daar 'n groot menigte mense aanwesig wees.

8. Die Ontstaan en Ontwikkeling van die Mis tot 'n Private aangeleentheid.🔗

Ek kon weliswaar nooit met sekerheid vasstel waaruit die woord Mis ontstaan het nie behalwe dat dit waarskynlik is dat dit afgelei is van die offers wat daarin gegee is.36 Na aanleiding hiervan gebruik die skrywers van ouds dit talle kere. Maarom die geskil oor die woord daar te laat: ek praat nou van die private Misse wat lynreg teen die instelling van Christus bots en daarom 'n goddelose ontheiliging van die heilige nagmaal is. Want wat het die Here ons beveel? Het Hy nie beveel dat ons moet neem en dit onder mekaar moet verdeel nie?37 Wat is die sort onderhouding van die gebod wat Paulus ons leer? Leer hy ons nie om die brood te breek sodat dit vir ons as die gemeenskap met die liggaam en die bloed (van Christus) kan dien nie?38 Wanneer een enkele mens dit dus ontvang sonder dat dit onderling uitgedeel word, watter ooreenkoms is daar nog hiermee?

"Maar die een (priester) doen dit in die naam van die hele kerk." Volgens watter gebod dan? Beteken dit nie om openlik met God te spot wanneer een privaat iets neem wat nie anders as onder baie mense moes gebeur nie? Maar omdat Christus en Paulus se woorde duidelik genoeg is, kan ons kort en klaar tot die slotsom kom dat waar die brood nie gebreek word tot gemeenskap van die gelowiges nie, die nagmaal van die Here nie daar is nie maar wel 'n valse en verkeerde nabootsing van die nagmaal. 'n Valse nabootsing is egter 'n misvorming. Verder is 'n misvorming van so 'n groot geheimenis nie sonder goddeloosheid nie. In private Misse is daar dus 'n goddelose misbruik (van die nagmaal). En een sonde in die godsdiens bring gedurig 'n ander een voort. Nadat die gewoonte om sonder die gemeenskap (van die gelowiges) te offer eenmaal ingesluip het, het hulle geleidelik begin om in elke hoekie van hulle kerke ontelbare Misse te verrig en die kerkvolk heen en weer te trek hoewel hulle in een kerklike vergadering byeen moes kom om die geheimenis van die eenheid van die nagmaal te erken. Laat hulle nou gaan en ontken dat dit afgodery is dat hulle die brood in hulle Misse tentoonstel om in die plek van Christus aanbid te word. Hulle beroem hulle immers verniet op die beloftes oor die teenwoordigheid van Christus. Hoe hierdie belofte ook al verstaan word, is dit in elk geval nie gegee sodat onrein en onheilige mense die liggaam van Christus kon doodmaak so dikwels hulle wil en tot watter misbruik daarvan hulle lus het nie. Die belofte is egter wel gegee dat gelowiges ware gemeenskap met die liggaam van Christus kan geniet wanneer hulle Christus se gebod met eerbiedige gehoorsaamheid in die viering van die nagmaal volg.

9. Die Private Mis was nie in die Kerk van Ouds bekend nie en het geen Skriftuurlike grond nie.🔗

Hierby kom die feit dat hierdie bedorwe opvatting onbekend was aan die suiwerder kerk van ouds. Al sou diegene onder ons teenstanders wat meer vermetel is, ook watter stofwolke probeer opjaag, is dit nogtans baie beslis en seker dat die hele ou tyd hulle teengaan. Ons het dit vroeër reeds in ander leerstellings bewys39 en dit sal met groter sekerheid die oordeel wees as ons gedurig die werke van die ou skrywers lees.

Voordat ek egter my betoog hieroor beëindig, is my vraag aan ons Misleraars hoe hulle glo dat hierdie soort offer God behaag terwyl hulle geen gebod het om dit te doen nie en hulle ook sien dat dit weliswaar nie deur een enkele lettergreep van die Skrifbewys kan word nie? Hulle weet tog dat God liewer gehoorsaamheid as offers wil hê en dat Hy eis dat sy woorde gehoorsaam eerder as dat offers aan Hom gebring moet word.40 Aangesien hulle hoor dat die apostel sê dat niemand hom die naam en die eer van die priesterskap mag toe-eien nie tensy hy daartoe geroepe is soos Aaron, ja, dat selfs Christus Hom nie opgedring het nie, maar dat Hy die roeping van sy Vader gehoorsaam het,41 moet hulle of bewys dat God die Skepper en Insteller van hulle priesterskap is, of hulle moet erken dat hierdie amp nie uit God ontstaan het nie en dat hulle nie daartoe geroepe is nie en dat hulle nogtans met onbeskaamde onbesonnenheid daarop ingebreek het. En hulle kan nie eens een enkele puntjie aanbied om hulle priesterskap te verdedig nie. Waarom moet hulle offers dan nie ook in die niet verdwyn nie aangesien dit nie sonder 'n priester geoffer kan word nie?42

10. Die Kerkvaders se Opvatting oor die Nagmaal as 'n Offer.🔗

As iemand na aanleiding hiervan kort stellings van die skrywers van ouds aan ons opdring en op hulle gesag aanvoer dat die offer wat in die nagmaal verrig word, anders verstaan moet word as wat ons verduidelik, moet ons bondig daarop antwoord. As dit daaroor handel dat so iemand die versinsel van die offer soos die pousgesindes hulle dit in die Mis inbeeld, wil bewys, sê ek dat die skrywers van ouds so 'n heiligskennis glad nie ondersteun nie. Hulle gebruik wel die woord offer maar hulle verduidelik tegelyk dat hulle daaronder niks anders verstaan as die gedagtenis aan die ware en enige offer wat Christus en, soos hulle Hom oral noem, ons enige Priester, aan die kruis volbring het nie. Augustinus sê: "Die Hebreërs het hulle deur die offerdiere wat hulle aan God geoffer het, in die profesie van die toekomstige offer wat Christus gebring het, geoefen, Deur hierdie heilige offer en deelname aan Christus se liggaam, oefen Christene hulle tans in die herinnering aan sy offer wat reeds volbring is".43

Hier leer hy beslis volstrek dieselfde as wat ons breedvoerig in die boek Oor die geloof aan Petrus Diaconus aantref, wie ook al die skrywer daarvan was. Sy woorde is: "Hou baie deeglik daaraan vas en moet hoegenaamd nie daaroor twyfel dat die Eniggeborene wat ter wille van ons vlees geword het, Homself as offerande vir ons aangebied het en as 'n offerdier wat vir God welriekend is nie. Vir Hom is saam met die Vader en die Heilige Gees in die tyd van die Ou Testament diere geoffer en tans hou die heilige kerk nie op om vir Hom saam met die Vader en die Heilige Gees met wie Hy een Godheid is, oor die hele wêreld die offer van brood en wyn te offer nie. In daardie vleeslike offers was daar trouens 'n afbeelding van die vlees van Christus wat Hy self vir ons sondes sou bring, en ook 'n afbeelding van sy bloed wat Hy sou vergiet tot vergiffenis van ons sondes. In laasgenoemde offer is daar egter ook danksegging en die gedagtenis aan die vlees van Christus wat Hy vir ons geoffer het, asook aan sy bloed wat Hy vir ons vergiet het".44

Daarom vertolk Augustinus dit ook op baie plekke so dat hierdie offer niks anders as 'n lofoffer is nie. Kortom: jy sal oral by hom vind dat die nagmaal van die Here om geen ander rede 'n offer genoem word nie as omdat dit 'n herinnering, 'n beeld en getuienis is van daardie sonderlinge, waaragtige en enige offer waardeur Christus ons versoen het.45 Daar kom ook 'n gedenkwaardige aanhaling in hoofstuk vier en twintig van sy vierde boek Oor die Drie-eenheid voor. Nadat hy oor hierdie enige offerande gepraat het, kom hy tot die volgende slotsom: "Omdat daar in 'n offer vier aspekte onder oorweging is, naamlik aan wie die offer gebring word; en deur wie; wat geoffer word en ten behoewe van wie, is Hy die enigsteen ware Middelaar wat ons deur sy offerande van vrede  met God versoen, en Hy bly een met Hom aan wie Hy sy offer gebring het; en Hy het diegene vir wie Hy die offer gebring het, een met Hom gemaak. Hy wat die offer bring, en die offer wat Hy bring is een en dieselfde".46

Chrysostomos praat in dieselfde trant. Hulle eien die eer van sy priesterskap trouens so aan Christus toe dat Augustinus getuig dat dit die stem van die Antichris sal wees as iemand 'n biskop as tussenganger tussen God en die mense sou voorstel.47

11. Sommige van die Ou Skrywers is egter wel deur die skadu's van die Wet mislei.🔗

Ons ontken nogtans nie dat die offer van Christus op so 'n wyse in die nagmaal aan ons voorgehou word dat die aanskouing van die kruis byna voor ons oë gestel word nie soos wanneer die apostel sê dat Christus voor die oë van die Galasiërs gekruisig was toe die verkondiging van sy kruis aan hulle voorgehou is.48 Maar omdat ek merk dat ook daardie skrywers van ouds hierdie gedagtenis verwring het tot iets anders as wat by die instelling van die Here gepas het omdat hulle nagmaal die een of ander voorkoms van 'n herhaalde of in elk geval hernieude offerande vertoon het nie,49 sal niks vir godvrugtige harte veiliger wees as om met die suiwer en eenvoudige instelling van God tevrede te wees nie. Dit word trouens sy nagmaal genoem omdat sy gesag alleen hier behoort te geld.

Aangesien ek weliswaar ook bemerk dat hulle 'n godvrugtige en opregte opvatting oor hierdie hele geheimenis behou het, en ek ook nie bevind dat hulle die enige offer van die Here in die minste mate wou tekort doen nie, waag ek nie om hulle op grond van goddeloosheid te verdoem nie. Ek meen egter nie dat hulle verontskuldig kan word daarvan dat hulle in die wyse van bediening 'n mate van sonde gedoen het nie. Hulle het immers die gewoonte van die Jode om te offer nader gevolg as wat òf Christus ingestel het òf as wat die metode van die evangelie toegelaat het. Hulle verkeerde mistieke Interpretasie50 is dus die enigste aspek waarvan iemand hulle met reg kan verwyt, naamlik dat hulle nie met die eenvoudige en egte instelling van Christus tevrede was nie en dat hulle te veel afgewyk het na die skadu's van die wet.

12. Die Verskil tussen die Offers van die Wet en die Nagmaal van die Here.🔗

As iemand noukeurig daaraan oorweging skenk, sal hy bemerk dat daar die volgende onderskeid tussen die Mosaïese offers en ons nagmaal na aanleiding van die Woord van die Here vasgestel kan word. Hoewel die offers van die wet dieselfde kragtige werking van die dood van Christus vir die Jode uitgebeeld het as wat vandag nog in die nagmaal aan ons getoon word,51 was die aard van die weergawe van Christus nogtans verskillend. Want die Levitiese priesters is beveel om daarin die offer uit te beeld wat Christus sou volbring, daar moes offerdiere aanwesig wees om in Christus se plek te kom; daar was 'n altaar waarop geoffer is; kortom: alles het so verloop dat 'n beeld van die offer wat tot versoening aan God geoffer moes word, daarin vertoon is.

Maar omdat hierdie offer volbring is, het die Here 'n ander wyse van offerande vir ons ingestel, naamlik om die vrug van die offer wat deur sy Seun aan hom gebring is, op die gelowiges oor te dra. Hy het dus 'n tafel aan ons gegee waarby ons hierdie ete kon nuttig, en nie 'n altaar waarop ons 'n offerdier offer nie. Hy het nie priesters geheilig om die offerande te bring nie, maar bedienaars om die heilige eetmaal uit te deel.52 Hoe verhewener en heiliger die geheimenis is, hoe Godvresender en eerbiediger moet ons dit behandel.

Derhalwe is daar niks veiliger as om alle vermetelheid van die mens se opvattings te verwerp en slegs aan dit wat die Skrif leer, te kleef nie. En as ons daaraan dink dat dit die Here en nie mense se nagmaal is nie, is daar geen rede waarom ons ons òf deur enige gesag van mense òf deur 'n voorskrif van jare 'n duimbreedte daarvan verdryf hoef te word nie.

Toe die apostel dus die kerk van die Korintiërs van al die sondes wat reeds daar ingesluip het, wou reinig, het hy met die oog hierop die geskikste weg gevolg en hulle tot die enige instelling (van die Here) teruggeroep en aan hulle getoon dat hulle daaruit 'n ewige reël moet put.53

13. Die Woorde 'Offer' en 'Priester'.🔗

Om verder te voorkom dat die een of ander twissoeker na aanleiding van die woorde offer en priester ons die stryd aansê, sal ek ook verduidelik, maar baie bondig, wat ek in my hele betoog met die woorde offer en priester bedoel het. Ek kan nie sien om watter rede diegene wat die woord offer tot alle heilige seremonies en godsdienstige handelinge uitbrei, dit doen nie. Ons weet dat iets volgens Skrifgebruik altyd 'n offer genoem word wat die Grieke tbusia, soms prospbora en soms telete noem. Oor die algemeen geneem, vat dit alles saam wat aan God gebring word.54 Ons moet dus onderskei tussen sulke offers - nogtans so dat hierdie onderskeid 'n geestelike interpretasie inhou55 in ooreenstemming met die offers van die Mosaïese wet omdat dit die Here se wil was om die hele waarheid van offerandes onder die skadu's daarvan aan sy volk weer te gee.

Hoewel sulke offers verskeie vorms gehad het, kan hulle nogtans tot twee groepe herlei word. Want die offer is gebring òf as 'n soort voldaan vir die sonde om hulle skuld daarmee voor God af te koop; òf dit was 'n teken van godsdiens en 'n betuiging van eerbied wat nou gedien het as 'n gebed om God se guns te vra en dan as danksegging om van harte aan Hom dank te betuig vir seëninge wat hulle ontvang het. Soms het dit gedien as 'n eenvoudige oefening van godsvrug om die bekragtiging van die verbond te hernieu. Brandoffers, plengoffers, offergawes, die eerstelinge en vredesoffers het op laasgenoemde groep betrekking.56

Maar laat ons dit dus ook in twee groepe verdeel en die een groep ter wille van ons onderwysing vereringsoffers en eerbiedsoffers noem.57 Hulle berus trouens op die eerbiedsbetoon en diens van God wat die gelowiges Hom verskuldig is en aan Hom bewys. Of, as jy dit verkies, kan ons dit dankoffer58 noem omdat sulke offers slegs deur sommige mense aan God gebring word wat deur sy ontsaglike weldade oorlaai is en hulleself en al hulle werke aan Hom terugbetaal.

Die tweede groep kan ons soenoffers of offers ter versoening noem. Dit is naamlik 'n offer ter versoening waarvan die doel is om die toorn van God te kalmeer, aan sy oordeel voldoening te gee en die sondes daarmee af te was en weg te vee om daardeur die sondaar van die vuilheid daarvan te reinig, hom weer in die suiwerheid van geregtigheid te herstel en weer met God self tot sy guns terug te keer. Die offers wat onder die wet ter versoening van sondes gebring is,59 is so genoem - nie dat hulle die vermoë gehad het om God se genade te verkry of die ongeregtigheid uit te wis nie, maar omdat hulle die ware offer van die aard wat uiteindelik deur Christus alleen in werklikheid volbring is, afgeskadu het,60 en dit deur Hom alleen omdat dit deur niemand anders volbring kon word nie. En ook net eenmaal omdat die werking en krag van die een offer wat deur Christus volbring is, ewig is soos Hyself getuig het toe Hy gesê het dat dit volvoer en volbring is.61 Dit beteken dat alles wat nodig was om die guns van die Vader te versoen en vergiffenis van sondes, geregtigheid en saligheid te verkry, ten volle deur sy enige offer afgehandel en voltooi was, en dat daar daarom niks ontbreek nie sodat daar hierna geen plek vir 'n ander offer oorgelaat is nie.

14. Die Nagmaal kan dus nie as 'n Soenoffer beskou word nie en veel minder nog die Roomse Mis.🔗

Daarom kom ek tot die beslissing dat dit 'n uiterste belediging en ondraaglike laster is sowel teenoor Christus as teenoor die offer wat Hy deur sy dood aan die kruis vir ons volbring het as iemand sou dink dat hy deur hierdie offer te herhaal, vergiffenis van sy sondes kan verkry, God kan versoen en geregtigheid kan bekom. En wat anders word deur die viering van hulle Misgedoen as dat ons deur die verdienste van 'n nuwe offer deelgenote in Christus se lyding moet word? En om te voorkom dat daar 'n perk aan hulle waansinnigheid was, het hulle gereken dat dit te min sou wees as hulle sou sê dat (in die Mis) gelyk 'n gemeenskaplike offer vir die hele kerk gebring word, en hulle nie sou byvoeg dat dit aan hulle oordeeloorgelaat is om die offer besonderlik aan die een of die ander mens aan wie hulle wil, te bedien - of eerder, aan enigiemand wat so 'n handelsartikel vir hom teen 'n vasgestelde prys wou koop nie. Omdat hulle verder nie in staat was om die prys van Judas te behaal nie, het hulle nogtans die ooreenkoms met die getal behou om ten minste met een of ander teken die voorbeeld van hulle leier weer te gee. Hy het Christus vir dertig silwerstukke verkoop;62 volgens die Franse geldberekening verkoop hulle Hom vir dertig koper muntstukke; maar Judas het Hom net eenmaal verkoop; hulle verkoop Hom so dikwels hulle 'n koper teenkom!63

In hierdie sin verklaar ons ook dat hulle geen priesters is om deur so 'n offer vir die kerkvolk voor God in te tree, en deur die versoening met God vergiffenis van sondes te bewerk nie. Christus is immers die enigste Hoëpriester en Priester van die Nuwe Verbond en alle priesterskappe is op Hom oorgedra en in Hom afgesluit en beëindig. En as die Skrif geen melding van die ewige Priesterskap van Christus gemaak het nie, en omdat God nogtans die priesterskappe van ouds afgeskaf het en geen ander priesterskap ingestel het nie, bly die redenasie van die apostel onoorwonne, naamlik dat niemand hom hierdie eer mag aanmatig sonder dat hy deur God daartoe geroep is nie.64 Met watter selfvertroue waag hierdie heiligskenners wat daarop roem dat hulle Christus se slagters is, om hulle priesters van die lewende God te noem?

15. Selfs Plato weerlê die Opvatting dat die Heidene hulle gode deur Soenoffers gunstig kon stem.🔗

In die tweede boek van Die Republiek van Plato kom daar 'n uiters elegante stelling voor.65 Daar praat hy oor die soenoffers van ouds en hy spot met die dwaas selfvertroue van goddelose en sondige mense wat gereken het dat hulle oortredings hierdeur as't ware soos deur seile bedek word sodat dit nie deur die gode raakgesien kan word nie, en dat hulle dan asof hulle met die gode 'n ooreenkoms aangegaan het, onbesorgder vrye teuels aan hulle luste kon gee. Dit skep volstrek die indruk dat hy met die soenoffer van die Mis soos dit vandag op die wêreld gebruik word, spot. Almal weet dat dit sonde is om iemand te mislei en te bedrieg. Almal erken dat dit goddeloos is om weduwees te veronreg, wese te beroof, armes lastig te val, met skelmstreke ander se eiendom op te raap, met meineed en bedrog beslag op ander se goed te lê, en om iemand met geweld en tirannieke vrees te onderdruk. Hoe durf so baie mense dit alles dan oral doen en durf hulle dit ook sonder om gestraf te word aan? As ons dit na behore oorweeg, dra geen ander rede soveel daartoe by om hulle oormoedig te maak as omdat hulle vertrou dat hulle God met die offer van die Mis asof hulle daarmee hulle skuld vereffen, tevrede sal stel nie, of ten minste dat dit 'n maklike manier is om met Hom af te reken.

Plato gaan daarna verder om met die growwe stompsinnigheid van die mense te spot wat meen dat hulle met sulke offers hulle straf kan afkoop terwyl hulle dit andersins in die hel sou ondergaan.66 En waartoe dien die jaarlikse Misse en die grootste deel van hulle Misse vandag anders as dat diegene wat hulle lewe lank die wreedste tiranne was, of die gierigste rowers, of aan elke oortreding uitgelewer was, asof hulle deur die prys (van hierdie Misse) losgekoop is en die vagevuur kan vryspring?

16. Die Inhoud van Dankoffers.🔗

Onder die tweede soort offer wat ons dankoffers genoem het, word al die liefdespligte saamgevat waarmee ons die Here self in al sy ledemate eer wanneer ons ons medebroeders omhels.67 Verder val daaronder ook al ons gebede, lof en dankbetuigings en alles wat in die diens aan God deur ons gedoen word.68 Dit hang tegelyk van 'n groter offer afwaardeur ons na siel en liggaam as 'n heilige tempel vir die Here heilig word.69 Dit is trouens nie genoeg as ons ons uiterlike optrede aanpas om Hom te gehoorsaam nie, maar ons moet ten eerste onsself en ten tweede alles wat ons het, vir Hom heilig en aan Hom toewy sodat alles wat in ons is, tot sy eer kan dien en ons daarna kan streef om dit te vermeerder. Hierdie soort offer het niks daarmee te doen om God se toorn te stil nie, niks met die verkryging van sondevergiffenis, en niks met die verdienste van geregtigheid nie, maar bemoei hom slegs daarmee om God groot te maak en te verhef. Want dit kan nie vir God aangenaam en aanneemlik wees nie tensy dit kom uit die hand van mense wat alreeds sondevergiffenis ontvang het, en wat Hy van elders met Hom versoen en daarom van hulle skuld vrygespreek het. Hierdie offer is egter vir die kerk so noodsaaklik dat dit nie daarsonder kan bestaan nie. Dit sal derhalwe vir ewig wees so lank God se volk bly bestaan - soos ons vroeër reeds na aanleiding van die profeet gesien het.70 Ons mag sy profesie trouens in hierdie sin opneem wanneer hy sê: "Want van die opgang van die son tot sy ondergang is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek sal daar rookwerk vir my Naam gebring word en 'n rein offer, want my Naam is verskriklik onder die heidene, sê die Here".71 Verre sy dit dus daarvan dat ons hierdie offer uit die weg ruim!

So beveel Paulus ons ook om ons liggame as 'n lewendige, heilige en God welgevallige offer te bring, dit is ons redelike godsdiens.72 Daar het hy betekenisvol gepraat toe hy bygevoeg het dat dit ons redelike godsdiens is. Hy het trouens daaronder 'n geestelike manier om God te dien verstaan omdat hy dit stilswyend teenoor die liggaamlike offers van die Mosaïese wet gestel het. So word milddadigheid en mededeelsaamheid offers genoem waardeur God behaag word.73 So word ook die  milddadigheid van die Filippensers waardeur hulle Paulus se gebrek verlig het, welriekende offers genoem.74 So is al die goeie werke van gelowiges geestelike offers.

17. Gebede en Danksegging word in die Skrif Offers genoem, en die Nagmaal is in dieselfde sin ook Danksegging.🔗

Maar waarom nog meer voorbeelde aanhaal? Hierdie uitdrukkings kom soms in die Skrif voor. Ja, selfs toe die volk van God nog onder die uitwendige onderwysing van die wet gehou is, het die profete nogtans voldoende uitdrukking daaraan gegee dat die waarheid in daardie vleeslike offers aanwesig is wat die Christelike kerk met die Jode gemeen het. Daarom het Dawid gebid dat sy gebed soos wierook mag opstyg tot die aangesig van God.75 En Hosea het danksegging kalwers van die lippe genoem;76 Dawid noem dit elders offers van lof .77 Die apostel78 volg hom na en noem dit ook offers van lof en hy vertolk dit as vrugte van die lippe van diegene wat sy Naam bely.79

Die nagmaal van die Here kan nie sonder sulke soort offers wees nie want wanneer ons sy dood verkondig80 en aan Hom dank betuig, doen ons niks anders as om 'n offer van lof vir Hom te bring nie. Na aanleiding van hierdie offeramp word alle Christene 'n koninklike priesterdom81 genoem omdat ons deur Christus daardie offer van lof waarvan die apostel praat, (aan God) bring, naamlik die vrug van die lippe van die wat sy Naam bely.82 Ons verskyn trouens nie met ons gawes voor God sonder 'n Middelaar nie. Dit is Christus wat as Middelaar vir ons intree; en dit is deur Hom dat ons onsself en ons gawes aan die Vader offer. Hy is ons Hoëpriester wat tot die heiligdom van die hemel83 toegetree het, en dit nou vir ons toeganklik maak.84 Hy is die altaar85 op wie ons ons gawes plaas sodat ons in Hom alles kan aandurf wat ons wel aandurf. Ek herhaal: dit is Hy wat van ons vir die Vader 'n koninkryk en priesters gemaak het.?86

18. Die Mis is daarom 'n Drinkbeker met gif, of 'n Helena vir wie die Roomse Kerk bitterlik stry.🔗

Wat bly daar nog oor anders as dat blindes kan sien, dat dowes kan hoor en dat kinders kan besef dat hierdie Mis 'n gruwel is? En toe dit in 'n goue beker gegiet is, het dit al die konings en volke van die aarde, van die hoogste tot die laagste, so dronk gemaak, met so 'n bedwelming en duiseligheid getref dat hulle dwaser as diere geword het en die begin en die einde87 van hulle saligheid in hierdie enkele dodelike afgrond gestel het. Die Satan het hom beslis nog nooit met 'n kragtiger wapen as hierdie een daarop toegelê om die koninkryk van Christus aan te val en in te neem nie. Dit is die (Roomse kerk se) Helena88 vir wie die vyande van die waarheid vandag met so 'n groot raserny, met so 'n groot waansinnigheid en met so 'n groot wreedheid baklei. En dit is waarlik 'n Helena met wie hulle hulle deur 'n geestelike hoerery - wat die verfoeilikste van alle dinge is - besoedel.

Ek raak nie eens met my pinkie aan daardie growwe misbruike wat hulle sou kon voorhou as sou hulle heilige Mis se suiwerheid daardeur ontheilig wees nie. Dit is naamlik watter skandelike handel89 hulle daarmee dryf; watter vuil gewin hulle uit hulle Misoffers maak en met hoe 'n groot roofsug hulle hulle gierigheid versadig. Ek dui slegs aan - en dit maar net met 'n paar eenvoudige woorde -, wat die aard van die heiligheid van hulle allerheiligste Misse is op grond waarvan hulle verdien het om soveel jare so besienswaardig te wees en so hoog geëer te word. Daar sit immers groot werk in om so 'n groot geheimenis na waarde toe te lig en ek wil nie die afstootlike vuilheid wat elkeen maklik kan sien, daarmee vermeng nie. My doel is dat almal moet begryp dat die Mis, selfs as dit in die mees uitgelese suiwerheid waarin dit besonderlik verkwansel kan word, en sonder aanhangsels opgeneem word, van onder na bo vol van elke soort goddeloosheid, laster, afgodery en heiligskennis is.

19. 'n Samevatting van die Uiteensetting van die Sakramente van die Doop en die Nagmaal.🔗

Nou het my lesers in 'n beknopte samevatting oor die algemeen al die dinge wat volgens ons beskouing nodig is om te weet van hierdie twee sakramente waarvan die gebruik van die begin van die Nuwe Testament af tot by die voleinding van die tyd aan die Christelike kerk oorgedra is. Die doel daarvan is dat die doop as't ware 'n toetrede tot die kerk en 'n inwyding in die geloof moes wees maar dat die nagmaal as't ware voortdurend voedsel moet voorsien waarmee Christus die huisgesin van sy gelowiges geestelik voed. En soos daar net een God is, een geloof, een Christus en een kerk wat sy liggaam is, so is daar net een doop90 wat sodat diegene wat eenmaal in die kerk opgeneem is, kan verstaan dat hulle voortdurend deur Christus gevoed word.

Aangesien geen ander sakrament benewens hierdie twee deur God ingestel is nie, behoort die kerk van gelowiges geen ander sakrament te erken nie. Iemand wat in gedagte hou wat ons hierbo duidelik genoeg uiteengesit het,91 sal maklik besef dat dit nie 'n saak is wat aan die mens se oordeeloorgelaat is nie, maar dat die sakramente deur God ingestel is om ons iets van sy belofte te leer en sy welwillendheid jeens ons te betuig. Hy sal dit ook besef wanneer hy daaraan dink dat God nie 'n raadgewer gehad het92 om ons beslis van sy wil te verseker of ons vertroue te gee oor sy gesindheid jeens ons nie, oor wat hy ons wil gee en wat Hy ons wil weier nie. Tegelyk word hiermee vasgestel dat niemand 'n teken kan voorhou wat as getuienis van sy wil en sy belofte kan dien nie. Dit is Hy alleen wat ons 'n teken kan gee en van Hom by ons kan getuig. Ek sal dit nog bondiger stel, hoewel dit miskien 'n bietjie growwer maar tog duideliker is: 'n sakrament kan nooit sonder die belofte van saligheid wees nie. Al die mense saam kan ons niks oor ons saligheid beloof nie. Derhalwe kan hulle ook nie uit hulleself 'n sakrament te voorskyn bring of instel nie.

20. Die Skrif toon duidelik aan dat Gelowiges hulle by hierdie Twee Sakramente moet berus.🔗

Die Christelike kerk moet dus met hierdie twee sakramente tevrede wees en nie alleen vir die huidige geen derde sakrament toelaat of erken nie, maar die kerk moet ook nie ander sakramente najaag of tot die voleinding van die tyd verwag niet Die feit dat aan die jode na die verskeie neigings van die tydsgewrig benewens die gewone sakramente ook verskeie ander sakramente soos manna,93 water wat uit 'n rots vloei,94 'n koper slang95 en dergelikes, gegee is, het deur die verskeidenheid as vermaning vir hulle gedien om nie by sulke beelde vas te steek nie omdat die stand daarvan te onbestendig was, maar dat hulle eerder op iets beters van God moes wag wat nooit tot niet sou gaan of tot 'n einde sou kom nie, maar sou bly voortbestaan.

Ons het egter 'n heeltemal ander stand van sake omdat Christus aan ons geopenbaar is. In Hom is al die skatte van kennis en wysheid verborge,96 en dit in so 'n rykdom en oorvloed dat om te hoop of te vra dat iets nuuts by hierdie skatte moet bykom, sou beteken om God waarlik te terg en sy gramskap teen ons te verwek. Ons moet slegs na Christus alleen honger, na Hom alleen soek, na Hom alleen opsien, van Hom alleen leer en Hom alleen ken totdat die groot dag aanbreek waarop die Here die heerlikheid van sy koninkryk ten volle sal openbaar97 en Hom aan ons sal toon soos Hy is.98 En daarom word ons tyd in die Skrifte gekenskets as die laaste uur, 99die laaste dae100 en die laaste tyd101 sodat niemand hom moet mislei om die een of ander nuwe leer of openbaring te verwag nie. Want die hemelse Vader het tevore dikwels en op baie maniere deur die profete gepraat maar in hierdie jongste dae deur sy geliefde Seun102 wat alleen die Vader kan openbaar,103 en ook in werklikheld openbaar het vir soveel dit in ons belang is terwyl ons Hom nou deur 'n spieël aanskou.104

Maar soos dit die mense ontneem is om nuwe sakramente in die kerk van God te kan vestig, moet ons ook bid dat juis in die sakramente wat deur God ingestel is, so min as moontlik menslike uitvinding vermeng word. Want net soos wyn verslaan en verdun wanneer water bygevoeg word, en soos die hele deeg suur word as suurdeeg bygevoeg word, so word die egtheid van God se sakramente slegs besoedel wanneer die mens iets van sy eie daar byvoeg. En tog sien ons hoe die sakramente van hulle egte suiwerheid ontaard het soos dit vandag hanteer word. Oral is daarmeer as genoeg pronkery, seremonies en handgebare maar intussen word daar nie met God se Woord rekening gehou of selfs melding daarvan gemaak nie - en sonder die Woord van God is die sakramente nie sakramente nie. Ja, selfs die seremonies wat deur God ingestel is, kan in so 'n gewoel nie kop uitsteek nie maar lê plat asof dit onderdruk is. Hoe weinig word juis die doop self in die doop gesien terwyl dit alleen daar behoort te skitter en raakgesien te word soos ons elders met reg gekla het?105 Die nagmaal is heeltemal begrawe toe dit in die Misverander is, behalwe dat dit eenmaal per jaar gesien kan word, maar dan in 'n verskeurde en halwe vorm wat geskonde is.

Endnotes🔗

  1. ^ In afdeling 8 hieronder gee Calvyn toe dat hy nooit kon vasstel waaruit die woord Mis ontwikkel het nie, maar hy lei af dat dit waarskynlik aan die offers wat daarin gebring word, ontleen is. Isidorus van Sevilla (* 636) was die eerste kerkvader wat oor die woord 'n opmerking gemaak het. In sy Etymologiarum 4.19.4 skryf hy: Missa, tempore sacrificii, est quando catecbumeni foras mittuntur, clamante leuita. 'Si quis catecbumenus remansit, exeat foras', et inde missa, quia sacramentis interesse non possunt qui nondum regeneroti noscuntur (MPL 82:252) In sy kommentaar oor die Benediktynse reël gee Smaragdus 'n naamwoordelike verklaring van die woord waarin dit eerder die betekenis aanneem van missio, of transmissic - dit is sending of oorsending van gebede. Calvyn sluit skynbaar aan by die gedagte dat gebede as deel van die offers beskou is. Vgl. RPTK 12:665 - 669.
  2. ^ Vgl. Augustinus, Ench. ad Laurent 110.29 (MPL 40:283 - 284).
  3. ^ Calvyn het waarskynlik Lombardus. Sent. 4.12.7 (MPL 192:866 - 867) en Thomas, Summa Theol. 3.83.1 (Marietti 4:571 e.v.) in gedagte. Vgl. ook Marietti se uiteensetting van die Roomse standpunt.
  4. ^ Kyk Clichtovius, Propugnaculum 1.11, fo. 26A.
  5. ^ Kyk Clichtovius, Antilutberus, 2.15, fo. 82B e.v. en De Castro, Adv. omnes baer. 10 (missa) (1543), fo. 133 e.v.
  6. ^ Marg. Heb. 5.b.5, & c.10, & 7.c.17. 21, & 9.c.11 & 10.d.21. Psal. 110.b.14 (recte: Ps. 110:4). Gene. 14.d.18. Vgl. ook Hebr. 5:6.
  7. ^ Marg. Hebr. 7.d.23.
  8. ^ Vgl. Gen. 14:18 . 19.
  9. ^ Vgl. Eck, Ench. (1533) fo. 56a; De Castro, Adv. omnes haer. 10, fo. 162AB;Augustinus, De civ. Dei 16.22 (MPL 41:500.
  10. ^ Kyk Gen. 14:18.
  11. ^ Marg. Hebr. 7.b.7.
  12. ^ Vgl. Hebr. 7:17 . 19.
  13. ^ Marg. Hebr. 9.c.12.
  14. ^ Vgl. Hebr. 10:1 - 4.
  15. ^ Marg. Hebr. 9.g.26, & 10.b.10, & c.14, & e.16.
  16. ^ Vgl. Hebr. 10:18 en Luther, Disputatie contra missam privatam (1536) 25.2: Ubi remissio peccatorum, ibi non est amplius oblatie ut Paulus inquit ad Heb. 10: Ubi est borum remissio, non est amplius oblatio -waar daar vergiffenis van sondes is, is daar nie meer 'n offer nie soos Paulus by Hebr. 10 së: 'Waar vergiffenis hiervan is, is daar geen offer meer oor nie (WA 39,1:172).
  17. ^ Marg.Iohan. 19.c.30.
  18. ^ Kyk Eck, Ench. (1533) fo. 55b, 57a.
  19. ^ Vir die betoog van die skrywer van die Hebreërbrief, vgl. Hebr. 10:10 - 18.
  20. ^ Marg. 1 Cor. 5. c. 7.
  21. ^ Kyk 1 Kor. 5:8.
  22. ^ Marg. Malach. 1.d.8 (recte: Mal. 1:11). Vgl. Eck, Ench. 17 fo. G5b; De sacrificio missae 1.3; De Castro, Adv. omnes haer. 10.160E.F.
  23. ^ VgI. Jes. 2:2 - 3; Miga 4:1 . 2
  24. ^ Kyk Ps. 68:30; 72:10 . 11; Jes. 60:6 e.v.
  25. ^ Marg.Ioel2.f28.
  26. ^ Marg. Iesa. 19.d.21.23.24. Vgl. ook Jes. 19:19.
  27. ^ Kyk afdeling 16 hieronder.
  28. ^ Vgl. Hebr. 9:15 . 17.
  29. ^ Marg. Hebr. 9.e.l6.
  30. ^ Vgl. Hebr. 9:25 - 26.
  31. ^ Kyk De Castro, Adv. omnes baer. (1543), fo. 134B, C; Gregorius van Nazianze, Ep. 171 (MPG 37:279 - 282); Constit. apost. 2.25 (MPG 1:661).
  32. ^ Vgl. Hebr. 9:22.
  33. ^ Vgl. Eck, Encb. (1533) fo. 55b . 57a.
  34. ^ Die nagmaal is vroeg reeds as dankoffer gesien. Die Didacbe beskryf die nagmaal trouens as offerhandeling van die gemeente. Dit kom ook by Ignatius en justinus voor. Tydens die nagmaal offer die gemeente hulle dankgebede aan God vir sy heilsgawe in brood en wyn, en na die nagmaal bring hulle hulle dankoffers vir die armes. In die twee elemente, nl. die nagmaal as gemeente-offer én as ontvangs van God se gawes in brood en wyn, is daar geen spoor van die gedagte dat die liggaam van Christus in die gestalte van die brood die offer sou wees wat die gemeente bring nie (Harnack, 1:231 - 235). Vroeg in die derde eeu is daar egter 'n verskuiwing van gemeente-offer na priesteroffer, van gemeenteviering na priesterviering, van gawes en gebede as offer na brood en wyn as bloedlose offer. Hierdie proses is sigbaar by Tertullianus, De baptisme 17 (MPL1:1326 - 1329;eeSL 1:291;eSEL 20:214) en De exbort. cast. 7 (MPL2:970 -972: CCSL2:1024 1026) en Cyprianus, De unitate eccl. 17 (CSEL3,1:225 - 226) en epe 17.2; 43.3; 55.10 ens. In die vierde eeu is die klerikalisering in volle swang, bv. in Chrysostomos se De sacerdotto 3.4.5 (MPG 48:642 - 643). Dit vind ook neerslag in konsiliebesluite, bv. in die kanons van die Konsilie van Ancyra (314) (Mansi 2:514 - 522) en in die Konsilie van Laodicéa, hoofstuk 19 (Mansi 2:568). In die Ooste kry dit beslag in die Constit. apost. 2.25 (MPG 1:662). Die Konsilie van Trente het by sy 22ste sitting finaal hieraan beslag gegee (Mansi 33:130; Denzinger, nr. 944, p. 333).
  35. ^ Vgl. die Konsilie van Trente sessie 22, hoofstuk 6 (Denzinger, Ench. nr. 944) asook Pannier, Institution 4.57, n. a p. 309. Luther behandel die hele vraagstuk ten opsigte van private Misin sy De abroganda missa privata (1521) (WA8:411 - 476) en sy Disputatie contra missam prioatam (1536) (WA39,1:134 - 173). Vgl. ook Schaff, Creeds 2:182.
  36. ^ Aanvullend by n. 1 hierbo vgl. Benoit 4:456, n. 1.
  37. ^ Vgl. Luk. 22:17.
  38. ^ Marg. 1. Cor. 10.d.16.
  39. ^ Vgl. o.a, Inst. 4.17 hierbo
  40. ^ Marg. 1 Sam. 15.c.22.
  41. ^ Marg. Heb. 5.a.4. Kyk ook vers 5.
  42. ^ Vgl. n. 34 hierbo.
  43. ^ Marg. Lib. 20.contra Paustum, cap. 18. Augustinus, Contra Paustum 20.18 (MPL 42:382 - 383).
  44. ^ Vgl. Fulgentius, De fide (vroeër bekend as De fide ad Petrum diaconum) 19.60 (MPL 65:699; vgl. p. 671, n. a).
  45. ^ Marg. Contra adversarium Legis saepius. Augustmus. Contra advers. legis et propb. 1.18.37; 1.20.39 (MPL 42:624, 626). Vir dieselfde gedagtegang vgl. ook Contra Paustum 20.21 (MPL 42:385); Enar. in Ps. 3.1 (MPL 36:73; CCSL 38:8); Ep. 140.18.46 (MPL 33:557); Contra Adimantum 12.3 (MPL 42:144).
  46. ^ Augustinus, De trin. 4.14.19 (MPL 42:901).
  47. ^ Marg. Lib. 2 contra Parmen. ca. 8. Augustinus, Contra ep. Parm. 2.8.15 (MPL 43:60. Vgl. ook Chrysostomos, Homil. in Hebr. 17.3 (MPG 63:130 - 131).
  48. ^ Marg. Galat. 3.a.1
  49. ^ Vgl. Cyrillus Jerus., Catech. 23.10 (MPG 33:1117); Chrysostomos, De sacerdotio 3.4 (MPG 48:642); Ep. ad Rom. hom. 8.8 (MPG 60:465); Homil. in Hebr. 17.3 (MPG63:131)jAdCortinth. homil. 24.1.2 (MPG 60:199); Gregorius I, Dial. 4.58 (MPL 77:425).
  50. ^ Praepostera illa anagoge. 'n Anagogiese Skrifvertolking dui op 'n geestelike of mistieke vertolking van Skrifuitsprake wat daaraan betekenisse heg wat nie werklik daarin aanwesig is nie. Vgl. ook afdeling 13 hieronder asook Calvyn se brief aan die koning in Inst. 1 (Afr. vert. 1:90 e.v.).
  51. ^ Vgl. Lev. 1:5.
  52. ^ Hierdie insig in die wese van die nagmaal het natuurlik 'n ingrypende verandering in die Gereformeerde nagmaalsliturgie veroorsaak - beide in soverre dit die Roomse Misen die Levitiese offers aangaan. Die teenstelling tussen tafel en altaar is opvallend.
  53. ^ Marg. 1. Cor. 11.d.20 (recte: 1 Kor. 11:23 . 24).
  54. ^ Calvyn druk dit ook kragtig uit in 'n preek oor Deuteronomium: Or nous saoons que les sacriftces devoyent estre offerts à Dieu d'unefrancbe oolontë, et tout ce qu'il demande de nous, tl t'appelle sacrifice . maar ons weet dat offers vrywillig aan God gebring moet word, en alles wat Hy van ons vra, noem Hy offer (OC 29:209).
  55. ^ anagoge. Vgl. n. 50 hierbo asook Calvyn se vertolking van die Ou Testamentiese verbond en Christus se vervulling daarvan in Inst. 2.11.2 . 5 (Afr. vert. 2:597 . 602).
  56. ^ Vgl. Cadier, Instuution 4:411, n. 7 en 8.
  57. ^ Oor latreia vgl. Inst. 1.11.11, n. 55 en 1.11.14' n. 66 (Afr . vert 1:198,200)
  58. ^ Vgl. ook Luther, Dtsputatio contra missom priuatam 22: ... quia olim non tantum coena Domini fuit missa, sed etiam sacrificium ۆXapunuc6v. (WA 39,1:171). Vgl. ook WA 39,1:149.
  59. ^ Marg. Exod. 29.f.36.
  60. ^ adumbrarent. Vgl. Inst. 1.5.5, n. 34 (Afr. vert. 1:137).
  61. ^ Marg.Ioban. 19.f30.
  62. ^ Kyk Matt. 26:15.
  63. ^ Vgl. Luther, Disputatio contra missam privatam 19: Idque facit non in memoriam Christi sed propterpecuniam, quae tilt daturpro isto opere- Hy doen dit nie tot gedagtenls aan Christus nie, maar terwille van die geld wat vir hierdie werk aan hom gegee word (WA39,1:169).
  64. ^ Marg. Hebr. 5.a.4.
  65. ^ Vgl. Plato, Politeia 2.8.365 (LCL 1:138 e.v.).
  66. ^ Ibidem, 2.8.366 (LeL 1:139).
  67. ^ Vgl. Inst. 4.17.38.
  68. ^ Vgl. afdeling 7, n. 34 hierbo.
  69. ^ Vgl.1 Kor. 3:16.
  70. ^ Vgl. afdeling 4 hierbo.
  71. ^ Marg. Malacb. 1.c.11.
  72. ^ Marg. Rom. 12.a.
  73. ^ Marg. Heb. 13.c.16.
  74. ^ Marg. Philip. 4.d 18.
  75. ^ Marg. Psal. 141.a.2.
  76. ^ Marg. Oseae 14.a.3.
  77. ^ Marg. Psal. 51.d.21. Vg!. Ps. 50:23; 51:19.
  78. ^ Vgl. Inst. 1.16.4, n. 30 (Mr. vert. 1:309).
  79. ^ Marg. Heb. 13. c.15.
  80. ^ Vgl. 1 Kor. 11:26.
  81. ^ Marg. 1. Pet. 2. b.9.
  82. ^ Vgl. Hebr. 13:15.
  83. ^ Vgl. Hebr. 9:24.
  84. ^ Vgl. Hebr. 10:19 . 22.
  85. ^ Vgl. Hebr. 13:10
  86. ^ Marg. Apoc. 1.b.6 (Openb. 1:6).
  87. ^ Vgl. Inst. 4.17.40.
  88. ^ Vir Helena vgl. Kleine Pauly 2:987.
  89. ^ Vgl. Doumergue 1:502, n. 1.
  90. ^ Vgl. Ef. 4:4 - 6.
  91. ^ Vgl. Inst. 4.14.19, 22.
  92. ^ Marg.Iesa. 40.c.13. Rom. 11.d.34.
  93. ^ Marg. Exod. 16.c.13, & 17.b.6. 1. Cor. 10.a.3. Vgl. ook Eks. 16:14 - 15.
  94. ^ Vgl. Eks. 17:6; 1 Kor. 10:4.
  95. ^ Marg. Nume. 21.b.8. Ioban. 3.b.14.
  96. ^ Marg. Coloss. 2.a.3.
  97. ^ Vgl. 1 Kor. 15:24.
  98. ^ Marg. 1. Ioban. 3.a.2.
  99. ^ Marg. 1. Ioba. 2.c.18.
  100. ^ Marg. Hebr. 1.a.2.
  101. ^ Marg. 1. Pet. 1.d.20.
  102. ^ Vgl. Hebr. 1:1 - 2.
  103. ^ Marg. Luc. 10.d.22.
  104. ^ Marg. 1. Cor. 13.d12
  105. ^ Vgl. Inst. 4.15.19.