‘n Besonderse eer het Petrus te beurt geval: “Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my kerk bou” (Matt. 16:18).
Petrus was in alle opsigte aan die ander apostels gelyk en daarom is die Roomse opvatting oor die sleutelmag ongegrond. Die pous kan nie aan die hoëpriester van die Ou Verbond gelykgestel word nie en Rome kan nie as setel van die Christelike godsdiens beskou word nie. Geen mens kan die kerk regeer nie, want alleen Christus is Hoof van die Kerk – Hy is nooit deur ‘n plaasvervanger opgevolg nie.

1984. 20 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 6 Die primaat van die Roomse setel

1. Daar bestaan geen gronde om Rome as setel van die Christelike godsdiens te beskou nie.🔗

Tot dusver het ons 'n oorsig gegee van die kerklike ampte wat in die regering van die eertydse kerk gegeld het maar later deur die tydsgewrig korrup, uiteindelik al hoe meer en meer bedorwe geword het, en tans net die titel daarvan in die kerk van die pous behou. In der waarheid is dit egter niks anders as maskers nie sodat 'n vroom leser uit 'n vergelyking (tussen hulle) kan oordeel hoedanige kerk die Romaniste het ter wille waarvan hulle ons aankla van skeuring omdat ons dit verlaat het. Ons het egter nie die hoof en kroon van hierdie hele orde, dit is die primaat van die Roomse setel, aangeroer nie. Hulle span hulle trouens in om daaruit te bewys dat die katolieke kerk slegs hulle besitting is. (Ons het die bespreking daarvan agterweë gelaat) omdat dit sy oorsprong nòg aan die instelling van Christus, nòg aan 'n gebruik van die eertydse kerk ontleen het soos die voorgaande funksies wat, soos ons aangetoon het, so uit die ou tyd ontstaan het dat dat hulle vanweë die gebreke van die tyd ontaard het, of liewer, 'n heeltemal nuwe vorm aangeneem het. En tog probeer hulle die wêreld oortuig dat dit die besondere en bykans die enigste band van kerklike eenheid is as ons die Roomse setel sou aanhang en sou volhard om daaraan gehoorsaam te wees.1 Ek herhaal: hulle steun veral op hierdie stut wanneer hulle ons die kerk wil ontneem en vir hulle wil toe-eien, omdat hulle dan die hoof het waarvan die eenheid van die kerk afhang en waarsonder die kerk noodwendig uitmekaar moet spat en verbreek word. Hulle mening is trouens dat die kerk op een of ander wyse 'n geskonde en afgestompte liggaam is as dit nie aan die Roomse setel soos aan 'n kop onderworpe is nie. Wanneer hulle dus hulle hiërargie bespreek, begin hulle altyd met hierdie aksioma: dat die Roomse pous as plaasvervanger van Christus wat die Hoof van die kerk is, in sy plek oor die hele universele kerk hoof is, en dat 'n kerk net goed gekonstitueer is as daardie setel die primaat bo alle ander kerke hou.2

Ons moet daarom ook ondersoek instel oor hoedanig dit is ten einde te voorkom dat ons iets agterweë laat wat op wettige kerkregering betrekking het.

2. Die Roomse pous kan nie aan die hoëpriester van die Ou Verbond gelykgestel word nie.🔗

Die kern van die vraagstuk is dus die volgende: of dit vir die ware reeling van die hiërargie, soos hulle dit noem, en vir die kerklike orde noodsaaklik is dat een setel in waardigheid en mag bo ander moet uitstaan om die hoof van die hele liggaam te wees. Ons het die kerk inderdaad aan te onbillike wette onderwerp as ons sonder die Woord van God hierdie dwang daarop lê. As ons teenstanders derhalwe wil bewys wat hulle eis, moet hulle eers aandui dat hierdie reëling deur Christus ingestel is. Met die oog hierop verwys hulle uit die wet na die hoëpriester, en net so na die hoogste hof wat God in Jerusalem ingestel het.3

Maar die oplossing is maklik en daar is ook meer as een, as een hulle inderdaad nie tevrede stel nie. Ten eerste, geen redenasie kan ons dwing om iets wat vir een volk nuttig was, tot die hele wêreld uit te brei nie, inteendeel, daar is 'n groot verskil tussen een volk en die hele wêreld. Omdat die Jode van alle kante af deur afgodedienaars, ingehok is, het God die setel van sy diens in die middelpunt van die aarde geplaas om te voorkom dat hulle deur die uiteenlopende aard van die godsdienste van mekaar geskeur sou word.4 Daar het Hy een opperpriester oor hulle aangestel na wie almal moes opsien om beter in 'n eenheid saamgesnoer te word. Maar wie sou nie kon sien dat dit heeltemal dwaas is dat, nou dat die godsdiens oor die hele wêreld uitgebrei is, die beheer oor Oos en Wes aan een mens gegee word nie?5 Dit is asof iemand daarop sou staan dat die hele wêreld deur een owerste regeer moet word omdat een stuk grond nie meer (as een) owerste mag hê nie!

Maar daar is ook 'n tweede rede waarom dit nie as voorbeeld ter nabootsing mag dien nie. Almal weet dat die hoëpriester 'n beeld van Christus was maar nadat die priesterskap oorgedra is, pas dit dat die reg ook oorgedra word.6 Op wie is dit voorts oorgedra? In elk geval nie op die pous soos hy onbeskaamd durf roem wanneer hy hierdie eretitel hom toe-eien nie, maar op Christus wat hierdie eer aan niemand anders toeken nie omdat Hy alleen sonder plaasvervanger of opvolger hierdie amp beklee. Hierdie priesterskap7 bestaan trouens nie alleen in die leer nie, maar ook in die versoening met God wat Christus deur sy dood volbring het, asook in die tussentrede wat Hy nou by die Vader verrig.

3. 'n Regsinnige verklaring van: "Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my kerk bou" (Matt. 16:18)🔗

Hulle het dus geen gronde om ons met daardie voorbeeld wat ons merk tydelik is, te verbind asof dit met 'n ewige wet is nie. Hulle kry uit die Nuwe Verbond niks wat hulle kan aanvoer om hulle opvatting te bekragtig nie behalwe dit wat aan een mens gesê is, naamlik: "Jy is Petrus; en op hierdie rots sal Ek my kerk bou''.8 Net so: "Petrus, het jy My lief? Laat my skape wei".9 Maar ten einde hulle bewyse onwrikbaar te laat wees, moet hulle veral bewys dat die mag oor alle kerke gegee word aan hom wat beveel word om Christus se kudde te laat wei en dat om te  bind en los te maak niks anders is as om oor die hele wêreld bevel te voer nie. En tog, soos Petrus die opdrag van die Here gekry het, so spoor hy ook al die ander presbiters aan om die kerk te laat wei.10 Hieruit kan ons aflei òf dat deur Christus se uitspraak niks meer aan Petrus gegee is as aan die ander nie, òf dat Petrus die reg wat hy ontvang het, op gelyke vlak met die ander gedeel het.11

Maar om nou nie verniet te twis nie elders het ons 'n duidelike uiteensetting uit Christus se mond wat die betekenis van bind en losmaak is, naamlik om sondes te hou en sondes te vergewe.12 Die hele Skrif toon trouens oral die manier van bind en losmaak aan, en ook Paulus verklaar dit uitstekend wanneer hy sê dat bedienaars van die evangelie die opdrag het om die mense met God te versoen en dat hulle terselfdertyd die mag het om wraak te oefen op diegene wat hierdie weldaad verwerp het.13

4. 'n Weerlegging van die Roomse opvatting oor die sleutelmag.🔗

Ek het dit elders reeds aangeroer14 en moet 'n bietjie later breedvoeriger verduidelik hoe smadelik hulle die aanhalings verdraai wat bind en losmaak vermeld.15 Nou hoef ons slegs te kyk na dit wat hulle uit die bekende antwoord van Christus aan Petrus aflei. Hy het hom die sleutels van die koninkryk van die hemel beloof en gesê dat wat hy ook al op die aarde bind, in die hemel gebonde sal wees.16 As ons met mekaar saamstem oor die woord sleutels en die manier van bind, sal al die getwis dadelik tot 'n einde kom. Want die pous sal met graagte die taak wat op die apostels gelê is, laat vaar omdat dit vol inspanning en ergernis is en sy plesier sonder voordeel wegneem.17

Omdat die hemel deur die leer van die evangelie vir ons oopgemaak word, word dit met 'n smaakvolle vergelyking met die woord sleutels geteken. Maar nou word mense nie op 'n ander manier gebind of losgemaak as wanneer die geloof sommiges met God versoen en hulle eie ongeloof ander meer vasbind nie. As die pous slegs dit vir homself sou neem, meen ek dat daar niemand sal wees wat hom òf sou haat òf hom die stryd sou aansê nie. Maar omdat hierdie opvolging spanningsvol en glad nie winsgewend is nie, staan dit die pous hoegenaamd nie aan nie. Daaruit ontstaan dan die begin van die geskil oor wat Christus Petrus beloof het. So ver dit my aangaan, lei ek juis uit die belofte af dat slegs op die aansien van die apostoliese amp gedui word wat nie van die las daarvan geskei kan word nie. Want as die definisie wat ek gestel het, aanvaar word - en dit sou net uit verwaandheid verwerp kon word -,word hier niks aan Petrus gegee wat hy nie met sy kollegas gedeel het nie. Andersins sou hulle nie alleen persoonlik beledig gewees het nie maar juis die majesteit van die leer sou mank gegaan het.

Nou weerspreek hulle dit luidkeels. Maar wat, vra ek jou, help dit hulle om hulle teen hierdie rots vas te loop? Hulle sal trouens niks bereik as net dat soos die verkondiging van dieselfde evangelie op al die apostels gelê is, hulle almal saam net so toegerus is met die mag om te bind en los te maak nie. Hulle sê: "Christus het Petrus as leier van die hele kerk aangewys toe Hy beloof het dat Hy die sleutels aan hom sal gee".18 En tog, wat Hy toe aan een beloof het, het Hy elders aan almal saam verleen en as't ware in hulle hande oorgelewer.19 As dieselfde reg wat aan een beloof is, almal vergun is, in watter opsig was hy dan sy kollegas se meerdere? "Daarin", sê hulle, "dat hy dit saam met hulle gemeenskaplik en afsonderlik ontvang het wat slegs gemeenskaplik aan die ander gegee word".20 Wat daarvan as ek saam met Cyprianus en Augustmus antwoord dat Christus dit nie gedoen het om een mens bo ander te stel nie maar om die eenheid van die kerk so by hulle aan te beveel? Cyprianus praat trouens so: "Die Here het in die persoon van een mens aan almal die sleutels gegee om die eenheid van almal daarmee bekend te stel. Die res was in elk geval net soos Petrus. Hulle het 'n gelyke aandeel in sowel die eer as die bevoegdheid gehad. Maar (die kerk) begin uit eenheid sodat net een kerk van Christus aangewys kan word."21 Augustinus sê weer: "As die geheimenis van die kerk nie in Petrus was nie, sou die Here nie vir hom gesê het: 'Ek sal jou die sleutels gee' nie. Want as dit vir Petrus alleen gesê is, het die kerk dit nie. As die kerk (die sleutels) egter het, het Petrus die hele kerk uitgebeeld toe hy die sleutels ontvang het".22 En elders sê hy: "Hoewel die vraag aan almal gestel is, het Petrus alleen geantwoord: 'U is Christus'. En dan word vir hom gesê: 'Aan jou sal Ek die sleutels gee', net asof hy alleen die mag om te bind en los te maak ontvang het. Aangesien een dit ook vir almal gesê het, het hy dit ook saam met almal ontvang asof hy juis die eenheid verpersoonlik het. Daarom: een vir almal omdat die eenheid in almal is".23

5. 'n Sonderlinge eer het Petrus te beurt geval maar dit is geen basis waarop die Roomse primaat gebou kan word nie.🔗

Maar ons lees nêrens dat die verklaring: 'Jy is Petrus en op hierdie rots sal Ek my kerk bou',24 aan iemand anders gemaak is nie. Net asof Christus daar iets anders oor Petrus verkondig as wat Paulus en Petrus oor alle Christene verkondig! Paulus stel Christus trouens as die grootste rots en die hoeksteen voor op wie diegene wat vir die Here tot 'n heilige tempel verrys, gebou word.25 Petrus beveel ons om lewendige klippe te wees wat op daardie uitverkore en kosbare klip gegrond is26 en dat ons deur hierdie voeg en band met ons God ook onderling aan mekaar moet kleef.27 "Maar," sê hulle, "hy is bo die ander omdat hy besonderlik die naam het".28 Ek gun Petrus beslis met graagte hierdie eer dat hy in die gebou van die kerk onder die eerstes gestel word of, as hulle dit ook wil hê, die eerste van al die gelowiges. Maar ek sal nie toelaat dat hulle daaruit die afleiding maak dat hy die primaat oor ander het nie. Want wat is die rede vir so 'n afleiding? "Hy oortref ander in vurige ywer, leer, en grootgeestigheid. Hy het derhalwe oor hulle die mag." Net asof ons nie met 'n beter dekmantel kan aflei dat Andreas Petrus in rang oortref omdat hy in tydsduur voor hom gekom het en Petrus na Christus toe gebring het nie.29

Maar ek laat dit daar. Gestel nou dat Petrus wel voorkeur het, dan is daar nogtans 'n groot verskil tussen die eer van sy rang en sy gesag (oor ander). Ons merk dat die apostels Petrus amper altyd die eer betoon het om in 'n vergadering die woord te doen en hoe hy hulle in 'n sekere sin daarin voorgaan deur die saak te stel, aan te spoor en te vermaan maar ons lees hoegenaamd niks van sy gesag (oor hulle) nie.30

6. Die regsinnige vertolking van 'op hierdie rots'.🔗

Hoewel ons nog nie die bespreking daarvan bereik het nie,31 wil ek vir die huidige slegs die volgende tuisbring: dat hulle te onbetroubaar redeneer wanneer hulle uit Petrus se naam alleen die gesag oor die hele kerk wil bou. Daardie ou onsin waarmee hulle aanvanklik probeer het om sand in ons oë te strooi, is nie eens werd om te vertel nie, nog minder om te weerlê, naamlik dat die kerk op Petrus gebou is omdat daar gesê is: 'Op hierdie rots' ensovoorts.32 "Maar sommige van die kerkvaders het dit so uitgelê!''33 Maar aangesien die hele Skrif daarteen skreeu, waarom hou hulle hulle gesag teen God as dekmantel voor? Of liewer, waarom stry ons oor die betekenis van waarde asof dit duister of dubbelsinnig is terwyl niks duidelikers of sekerder gesê kan word nie? Petrus het in sy eie naam en in die naam van sy broeders bely dat Christus die Seun van God is.34 Op hierdie rots bou Christus sy kerk omdat Hy die enigste fondament is, soos Paulus sê, en daar benewens Hom geen ander kan bestaan nie.35 Hier verwerp ek ook nie die gesag van die kerkvaders omdat ek dan sonder hulle getuienis sou moes klaarkom as ek hulle wou aanhaal om te bewys wat ek sê nie.36 Maar soos ek so pas gesê het, wil ek nie deur oor 'n onderwerp wat so duidelik is, te twis, my lesers onnodig lastig val nie, veral aangesien hierdie onderwerp lankal met genoeg noukeurigheid deur ons mense behandel en verduidelik is.37

7. Skrifverwysings wat daarop dui dat Petrus in alles aan die ander apostels gelyk was.🔗

En tog kan niemand in der waarheid hierdie vraagstuk beter oplos as die Skrif self as ons al die verwysings vergelyk waar dit leer watter amp en gesag Petrus onder die apostels beklee het; hoe hy hom gedra het en hoe hy deur hulle aanvaar is nie. Gaan oppervlakkig oor alles wat nog beskikbaar is en jy sal niks anders vind as dat hy een van die twaalf was, hulle gelyke en metgesel, maar nie hulle heerser nie. As iets gedoen moes word, het hy dit wel aan die raad voorgelê en hy vermaan hulle oor wat nodig is om te doen. Maar tegelyk luister hy ook na ander en nie alleen gee hy hulle geleentheid om hulle opvatting te stel nie maar hy laat ook die beslissing aan hulle oor. Wanneer hulle 'n besluit geneem het, volg en gehoorsaam hy dit.38 Wanneer hy aan herders skryf, gee hy aan hulle opdragte nie vanuit 'n magsposisie asof hy hulle meerdere is nie maar hy stel hulle as sy kollegas voor en spoor hulle beleefd aan soos gewoonlik onder gelykes gebeur.39 Wanneer hy aangekla word dat hy na die heidene oorgegaan het, antwoord hy nogtans daarop en verontskuldig hom ofskoon die klag sonder verdienste was.40 Toe sy kollegas hom beveel het om saam met Johannes na Samaria te gaan, het hy dit nie geweier nie.41 Deur hom te stuur verklaar die apostels dat hulle hom glad nie as hulle meerdere beskou nie, en deur dit te gehoorsaam en die sending wat hom opgedra is, te onderneem, erken hy dat hy met hulle gemeenskap het en dat hy nie bevel oor hulle het nie.

Maar as geeneen van hierdie verwysings bestaan het nie, kan sy brief aan die Galasiërs alleen alle twyfel van ons wegneem. Daarin voer Paulus in amper twee hoofstukke niks anders aan as dat hy Petrus se gelyke in die apostelamp is nie. Daarom vertel hy dat hy na Petrus gekom het, nie om sy onderworpenheid te betuig nie, maar slegs om hulle ooreenstemming in die leer vir almal te betuig; dat Petrus ook niks van die aard vereis het nie maar die regterhand van vriendskap hom gereik het om saam in die wingerd van die Here te werk.42 Hy sê verder dat aan hom nie minder genade verleen is onder die heidene as aan Petrus onder die Jode nie.43 Ten slotte vertel hy dat toe Petrus ontrou gehandel het, hy  deur hom tereggewys is en dat hy sy teregwysing gehoorsaam het.44 Al hierdie verwysings maak dit duidelik òf dat Paulus en Petrus gelykes was, òf dat Petrus beslis nie meer mag oor die res gehad het as hulle oor hom nie. En soos ek reeds gesê het, stel Paulus dit uitdruklik dat niemand vir òf Petrus òf Johannes in die apostelskap bo hom mag stel nie omdat hulle sy kollegas en nie sy heersers was nie.

8. 'n Mens kan nie die kerk se hoof wees nie.🔗

Om hulle nou maar in verband met Petrus toe te gee wat hulle vra, naamlik dat hy die apostels se leier was en dat hy die res in aansien oortref het; dan is daar egter nog geen rede waarom hulle van hierdie besondere voorbeeld 'n algemene reël kan maak, en iets wat eenmaal gebeur het, tot in die ewigheid uit te brei nie aangesien dit heeltemal 'n ander saak is. Een man was die leier onder die apostels omdat hulle gering in getal was. As een (van hulle) hoof was van die twaalf, volg dan daaruit dat een mens aan die hoof van honderdduisend mense gestel moet word? Dit is nie verbasend dat die twaalf een onder hulle gehad het om hulle almal te regeer nie. Dit is trouens net natuurlik, en die mens se geaardheid vereis dit ook dat in enige vergadering een nogtans as beheerder moet optree en dat die ander na hom moet opsien selfs al is hulle almal in gesag mekaar se gelykes. Daar is geen volksvergadering sonder 'n leier nie, geen sitting van 'n regbank sonder 'n regter of aanklaer nie, geen komitee sonder 'n voorsitter en geen gemeenskap sonder 'n amptenaar nie. So sou daar niks ongerymds daarin wees as ons sou erken dat die apostels so 'n primaat aan Petrus verleen het nie. Maar iets wat onder 'n paar mense geld, moet nie dadelik oor die hele wêreld uitgestrek word nie omdat geen enkele mens by magte is om dit te regeer nie. "En tog," sê hulle, "vind dit nie minder in die geheel van die natuur as in afsonderlike dele daarvan plaas dat daar een opperhoof van alles is nie".45 Die bewys hiervoor - as dit God behaag - haal hulle uit kraanvoëls en bye46 wat altyd vir hulle een leier kies en nie meer nie. Ek aanvaar in elk geval die voorbeelde wat hulle aanbied, maar vlieg al die bye van die hele wêreld na mekaar toe om een koning te kies? Die konings is elkeen tevrede met sy eie korf. In die geval van kraanvoëls het elke swerm sy eie koning. Wat anders kan hulle hieruit bewys as dat aan elke kerk afsonderlik sy eie biskop toegewys behoort te word? Ten slotte vestig hulle ons aandag op voorbeelde uit die burgerlike lewe en hulle haal Homeros se verklaring aan dat regering deur baie nie goed is nie47 asook verklarings met dieselfde strekking ter aanbeveling van 'n monargie wat in (die werke) van profane skrywers gelees kan word. Om dit te beantwoord, is rnaklik. 'n Monargie word trouens nie deur Homeros se Ulysses of ander mense aangeprys asof een mens die hele wêreld met sy gesag moet regeer nie maar hulle wil slegs aantoon dat 'n koninkryk nie twee konings kan hê nie, en soos hy sê, mag verdra nie geselskap nie.48

9. Christus alleen is Hoof van die kerk.🔗

Laat dit maar gerus wees soos hulle wil, dat dit goed en nuttig is dat die hele wêreld onder 'n monargie saamgevat word. Dit is nogtans die grootste onsinnigheid. Maar laat dit maar so wees. Ek sal nogtans nie op grond daarvan toegee dat dieselfde in die kerkregering geld nie. Die kerk het Christus trouens as enigste Hoof en onder sy regering is ons almal onderling verkleef volgens die orde en die beleidsvorm wat Hy selfvoorgeskryf het. Hulle doen Christus dus 'n uitsonderlike onreg aan wanneer hulle onder die voorwendsel dat die kerk nie sonder 'n hoof kan wees nie, een enkele mens aan die hoof van die universele kerk wil plaas. Christus is immers die Hoof uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamgebind deur elke vorm van ondersteuning volgens die werking van elkeen van die ledemate daarvan na sy maat - tot die groei van die liggaam bydra.49 Jy sien hoe hy alle sterflikes sonder uitsondering in die liggaam plaas maar die eer en die naam van die Hoof daarvan vir Christus alleen laat jy sien hoe hy 'n bepaalde maat en 'n begrensde en beperkte funksie aan elkeen van die ledemate toeken om sowel die volmaaktheid van die genade as die hoogste regeringsgesag by Christus alleen te laat bly.

Ek is wel deeglik bewus van die drogredenasies wat hulle gewoonlik aanvoer wanneer die beswaar teen hulle geopper word dat Christus natuurlik soos dit hoort, die enigste Hoof daarvan genoem word omdat Hy alleen deur sy gesag en sy Naam daaroor regeer. Maar (volgens hulle) verhinder dit nie dat daar onder Hom 'n tweede ministeriële hoof - soos hulle dit noem - kan bestaan om as sy plaasvervanger oor die aarde te regeer nie.50 Maar met hierdie redenasie bereik hulle niks as hulle nie vooraf bewys dat hierdie ministerie deur Christus verorden is nie. Die apostel leer trouens dat die ondersteuning onder die ledemate versprei is maar dat die krag van daardie enigste hemelse Hoof uitgaan.51 Of as hulle dit nog duideliker wil hê, aangesien die Skrif getuig dat Christus die Hoof is en dit hierdie eer vir Hom alleen opeis, behoort dit nie na iemand anders oorgedra te word tensy Christus self hom as sy plaasvervanger aangewys het nie. En ons lees dit nie alleen nêrens nie, maar dit kan ook oorvloedig met baie Skrifbewyse weerlê word.52

10. Paulus se bespreking van die instelling van die ampte maak geen melding van 'n plaasvervanger van Christus nie.🔗

Paulus teken by verskeie geleenthede 'n lewendige beeld van die kerk vir ons maar van een hoof is daar geen sprake nie. Uit sy beskrywing kan ons eerder aflei dat dit iets vreemds aan die instelling van Christus is. Met sy hemelvaart het Christus sy sigbare teenwoordigheid van ons weggeneem.53 Hy het nogtans opgevaar om alles te volbring.54 Derhalwe het die kerk nog sy teenwoordigheid en sal dit ook altyd hê. Wanneer Paulus die wyse wil aandui waarop Hy Hom openbaar, roep hy ons terug tot die ampsbedienings waarvan hy gebruik maak. Hy sê: "Die Here is in ons almal na die maat van die genade wat Hy aan elke lidmaat verleen het. Daarom het Hy sommiges as apostels, ander as herders, ander as evangeliste, sommiges as leraars," ensovoorts, ingestel.55 Waarom sê hy nie dat Hy een oor almal aangestel het om as sy plaasvervanger op te tree nie? Die onderwerp het dit trouens besonderlik vereis, en dit moes glad nie weggelaat word as dit die waarheid was nie! Hy sê: "Christus is by ons". Hoe? Deur die ampsbediening van mense wat Hy aangestel het om sy kerk te regeer. Waarom sê hy nie liewer dat dit deur 'n ministeriële hoof is aan wie Hy sy funksies opgedra het nie?

Hy vermeld eenheid maar in God en in die geloof in Christus.56 Aan  mense verleen hy niks behalwe die gemeenskaplike ampsbediening en 'n besondere maat aan elkeen nie.57 Nadat hy een liggaam, een Gees, een verwagting van roeping, een God, een geloof en een doop vermeld het,58 waarom voeg hy nie onmiddellik in sy aanbeveling van eenheid ook een hoë priester by om die kerk se eenheid te behou nie?59 As dit wel die toedrag van sake was, kon niks paslikers gesê word nie! Dink maar noukeurig oor daardie aanhaling na. Ongetwyfeld wou hy ten diepste daar die heilige en geestelike kerkregering weergee wat die nageslag 'n hiërargie genoem het. Hy plaas nie alleen geen monargie onder ampte nie maar hy gee ook te kenne dat daar geen monargie bestaan nie! Ongetwyfeld wou hy die manier van die verbintenis uitdruk waardeur gelowiges Christus hulle Hoof aanhang. Hy vermeld daar nie alleen geen ministeriële hoof nie maar hy skryf aan elke lidmaat die besondere werk toe60 na die maat van die genade wat aan elkeen verleen is.61 Hulle het geen grond om spitsvondig oor 'n hemelse en 'n aardse hiërargie te filosofeer nie.62 Want dit is nie veilig orn buite mate wys te wees oor eersgenoemde nie en in die vasstelling van laasgenoemde behoort ons nie 'n ander voorbeeld te volg as die een wat die Here self in sy Woord vir ons omlyn het nie.

11. As Petrus dan nog die Hoof van die kerk was, kan Rome dit tog nie wees nie!🔗

Laat ons egter ook 'n tweede toegewing aan hulle maak wat hulle nooit onder mense met gesonde verstand sal verkry nie, naamlik dat die primaat van die kerk so in Petrus gesetel was dat dit altyd in 'n aaneenlopende opvolging moes bly bestaan. Hoe sal hulle nogtans daaruit kan bewys dat sy setel so in Rome gevestig is dat wie ook al biskop van die stad sou wees, ook die hoof van die hele wêreld sou wees? Met watter reg ken hulle hierdie aansien aan 'n plek toe terwyl daar geen melding van 'n plek gemaak is nie? Hulle sê: "Petrus het in Rome geleef en gesterf."63 Wat dan van Christus? Het Hy nie tydens sy lewe sy biskopamp in Jerusalem vervul en met sy afsterwe sy priesterlike amp daar volbring nie? Hy, die Leier van die herders, die hoogste Biskop, die Hoof van die kerk, Hy kon nie hierdie eer vir 'n plek verwerf nie! Kon Petrus wat op verre na sy mindere was, dit dan doen? Is sulke onsinnighede nie eerder kinderagtighede nie? "Christus het hierdie eer aan Petrus gegee: Petrus het in Rome gesit. Hy het derhalwe die setel van die primaat daar gevestig."64 Volgens hierdie redenasie moes die Israeliete die setel van die primaat destyds in die woestyn gevestig het omdat Moses, die hoogste leraar en leier van die profete, sy ampsbediening daar verrig en daar gesterf het!65

12. Die redes vir die oorplasing van kerklike gesag van Antiochië na Rome is onaanvaarbaar.🔗

Laat ons nogtans sien hoe smaakvol hulle redeneer. Hulle sê: "Petrus het oppergesag onder die apostels gehad. Die kerk waarin sy setel was, behoort derhalwe ook hierdie voorreg te hê".66 Maar waar was sy setel eerste? "In Antiochië," antwoord hulle. Die kerk van Antiochië eien hom dus met reg die primaat toe! Hulle erken dat dit sy eerste setel was maar beweer dat Petrus, toe hy daarvandaan weggegaan het, die eer wat hy met hom saamgeneem het, na Rome oorgeplaas het. Want daar bestaan 'n brief onder die naam van pous Marcellus aan die presbiters van Antiochië waarin hy soos volg praat: "Petrus se setel was aanvanklik onder julle en dit is later op bevel van die Here hierheen oorgeplaas. So het die kerk van Antiochië wat eertyds die eerste was, voor die Roomse setel geswig".67 Maar deur watter godspraak het daardie goeie man geweet dat die Here so 'n bevel gegee het? As hierdie saak immers volgens die reg besleg moet word, moet hulle noodwendig antwoord of hulle wil hê dat hierdie privilegie persoonlik, of saaklik of saamgestel is.68 Dit moet immers een van hierdie drie wees. As hulle sou sê dat dit persoonlik is, het dit geen betreking op die plek nie, as dit saaklik is, kan dit nie vanweë 'n persoon se dood of verhuising weggeneem word wanneer dit eenmaal aan 'n plek verleen is nie. Daar bly dus oor dat hulle kan sê dat dit saamgestel is. Dan sal die plek egter nie eenvoudig in aanmerking geneem kan word sonder dat die persoon tegelyk daaraan verbonde is nie. Laat hulle kies wat hulle wil - ek sal dadelik aanvoer, en kan ook maklik bewys, dat Rome sonder grond die primaat hom toe-eien.

13. Die posisie van ander stede waar apostels gewoon, gewerk en gesterf het.🔗

Laat dit dan maar wees soos hulle hulle verbeel, naamlik dat die primaat van Antiochië na Rome oorgeplaas is. Waarom het Antiochië dan nie die tweede plek behou nie? Want as Rome die primaat het omdat Petrus sy setel tot die einde van sy lewe daar gehad het, aan watter stad sal die tweede setel gegee word anders as aan die een waar hy sy eerste setel gehad het? Hoe het dit dan gebeur dat Alexandrië voorrang bo Antiochië gehad het? Hoe rym dit dat 'n kerk van een van die dissipels die setel van Petrus oortref het? As eer aan elke kerk verskuldig is in ooreenstemming met die aansien van die stigter daarvan, wat sal ons dan van ander kerke sê? Paulus noem drie dissipels wat klaarblyklik pilare was, naamlik Jakobus, Petrus en Johannes.69 As die eerste plek ter ere van Petrus aan die Roomse setel toegeken word, verdien Efese en Jerusalem dan nie die tweede en derde plekke nie omdat Johannes en Jakobus hulle setels daar gehad het? En tog het Jerusalern eertyds onder die aartsvaders die eerste plek beklee.70 Efese kon selfs nie eens aan die laaste hoekie hang nie. Party kerke wat Paulus gestig het, asook party waaroor ander apostels die leiding geneem het, is weggelaat. Die setel van Markus wat maar net een van die dissipels was, het die eer gekry.71 Laat hulle nou maar erken dat hierdie orde voorbarig was of laat hulle ons toegee dat dit nie 'n ewige instelling is dat aan elke kerk dieselfde graad van eer verskuldig is as wat die stigter daarvan gehad het nie.

14. Die Roomse weergawe van Petrus se verblyf in Rome is nie geloofwaardig nie.🔗

Tog kan ek nie sien watter geloofwaardigheid ons aan hulle relaas in verband met Petrus se setel in die kerk van Rome moet heg nie. Wat by Eusebius voorkom, naamlik dat hy 25 jaar aan die hoof daarvan was,72 kan beslis sonder moeite weerlê word. Uit die eerste en tweede hoofstukke van die brief aan die Galasiërs is dit trouens duidelik dat hy vir omtrent jaar na Christus se dood in Jerusalem was73 en dat hy daarna na Antiochië gekom het, maar dit is nie seker hoe lank hy daar was nie. Gregorius sê sewe jaar,74 Eusebius egter 25.75 En tog sal gevind word dat daar van Christus se dood af tot die einde van Nero se ryk - onder wie hulle vertel dat hy doodgemaak is - slegs sewe en dertig jaar verloop het. Want die Here se lyding het onder Tiberius in die agtiende jaar van sy regering plaasgevind. As jy twintig jaar aftrek waartydens Petrus volgens Paulus se getuienis in Jerusalem gewoon het, bly daar op die meeste sewentien jaar oor en dit moet tussen twee bisdomme verdeel word. As hy 'n geruime tyd in Antiochië vertoef het, kon hy nie sy setel in Rome gehad het nie behalwe vir 'n kort rukkie.

Maar ons kan dit nog duideliker bewys. Paulus het aan die Romeine geskryf terwyl hy op reis onderweg na Jerusalem was76 waar hy gevange geneem en na Rome teruggebring is. Dit is dus waarskynlik dat hierdie brief geskryf is vier jaar voordat hy na Rome gekom het. Daarin kom nog geen vermelding van Petrus voor nie - iets wat hy glad nie moes weglaat as hy die kerk daar regeer het nie. Ja, wanneer hy aan die einde daarvan 'n lang lys name van godvrugtiges weergee aan wie hy groete oordra, en waarby hy natuurlik almal wat aan hom bekend was insluit,77 verswyg hy Petrus nog heeltemal. En hier is nie 'n lang of spitsvondige bewys onder mense met gesonde verstand nodig nie want die hele verloop en die hele betoog van die brief skreeu dat Petrus nie buite rekening gelaat moes word as hy in Rome was nie.

15. Die gebrek aan inligting in verband met Petrus se verblyf in Rome verder uitgewys.🔗

Later word Paulus as gevangene na Rome gebring.78 Lukas vertel dat hy deur sy medebroeders ontvang is.79 Maar van Petrus sê hy niks. Vandaar af skryf hy aan baie kerke en in sommige daarvan dra hy in die naam van sekere mense groete oor, maar hy gee nie met 'n enkele woord te kenne dat Petrus toe daar was nie. Nou vra ek jou, wie sal glo dat hy dit kon verswyg as hy daar was? Ja, wanneer hy in sy brief aan die Filippensers sê dat hy niemand het wat so getrou vir die werk van die Here sorg as Timoteus nie, kla hy dat almal hulle eie belang soek.80 En aan dieselfde Timoteus rig hy 'n ernstiger klagte, naamlik dat niemand hom in sy eerste verdediging bygestaan het nie maar dat almal hom in die steek gelaat het.81 Waar was Petrus toe? As hulle immers beweer dat hy wel in Rome was, met hoe 'n groot skande brandmerk Paulus hom nie dat hy die evangelie in die steek gelaat het? Hy praat weliswaar van gelowiges want hy voeg by: "Mag God hulle dit nie toereken nie".82 Hoe lank en op watter stadium het Petrus sy setel dus daar gehad? Die opvatting van (kerk)skrywers is konsekwent dat hy tot sy dood die kerk daar regeer het.83 Maar juis onder hierdie skrywers isdaar nie eenstemmigheid oor wie sy opvolger was nie omdat sommige Linus84 en ander Clemens85 sy opvolger maak. Hulle vertel ook baie onsinnige stories oor 'n samespreking wat tussen Petrus en Simon die towenaar plaasgevind het.86 En wanneer Augustinus oor die bygelowe redeneer, probeer hy nie wegveins dat die gewoonte in Rome om nie op die dag waarop Petrus oor Simon die towenaar geseëvier het, te vas nie, uit 'n ondeurdagte opvatting gegroei het.87 Kortom: die geskiedenis van daardie tyd is vanweë uiteenlopende opvattings so ingewikkeld dat ons nie onbesonne geloofwaardigheid daaraan moet heg wanneer ons die een of ander geskrif lees nie. En juis op grond van die ooreenkoms tussen die skrywers, stry ek tog nie dat hy daar gesterf het nie, maar ek kan nie daarvan oortuig word dat hy daar biskop was en veral nie 'n geruime tyd nie.

Ek hou my ook nie te veel daarmee op dat Paulus getuig dat Petrus se apostolaat besonderlik op die Jode gerig is en sy eie op ons nie.88 Om daarom daardie gemeenskap waarop hulle onderling ooreengekom het,89 onder ons vas en seker te maak, of liewer, ten einde die reëling van die Heilige Gees onder ons kragtig te laat wees, betaam dit ons om ons oë eerder op Paulus se apostolaat as op Petrus s'n te rig want die Heilige Gees het hulle opdragte onderling so verdeel dat Hy Petrus vir die Jode en Paulus vir ons bestem het. Nou moet die Romaniste hulle primaat maar elders as in die Woord van God gaan soek omdat ons bevind het dat dit glad nie daarop gefundeer is nie.

16. Die redes waarom die Roomse kerk deur die eeue respek afgedwing het.🔗

Laat ons nou by die kerk van ouds kom om ook duidelik te maak dat ons teenstanders nie minder onbesonne en vals op die ondersteuning daarvan roem eerder as op die getuienis van die Woord van God nie. Wanneer hulle derhalwe op daardie beginsel roem dat die eenheid van die kerk nie anders behoue kan bly as wanneer daar een opperhoof op aarde is aan wie alle lidmate gehoorsaam is nie en dat die Here die primaat aan Petrus en daarna deur die opvolgingsreg aan die Roomse setel gegee het om tot die einde toe daarin te bly, verklaar hulle dat hierdie beginsel van meet af altyd gehandhaaf is.90

Omdat hulle egter baie getuienisse verkeerdelik verdraai, wil ek eers vooraf sê dat ek nie ontken dat die skrywers van ouds oral groot eer aan die Roomse kerk betoon en met eerbied daarvan praat nie.91 Na my mening is dit veral om drie redes die geval.

Ten eerste was die opvatting wat om een of ander rede die oorhand gekry het, dat die kerk deur die bedieningsamp van Petrus gevestig en ingestel is, van die grootste waarde om guns en gesag daarvoor te wen. Gevolglik is dit in die Weste ter eerbetoon die apostoliese setel genoem.92

Ten tweede, aangesien dit die hoofstad van die ryk was en ons kan glo dat die mense om hierdie rede daar meer in geleerdheid, sowel as in insig, ervaring en bedrewenheid met baie dinge as in enige plek elders uitgemunt het, is tereg daarmee rekening gehou om te voorkom dat die indruk gewek sou word dat die adel van die stad en ander baie voortrefliker gawes van God daar geminag word.93

Hierby kom ook 'n derde rede, naamlik dat die Oosterse en Griekse kerke, en ook die kerke van Afrika, deur groot verskille van mening in beroering gebring is terwyl hierdie kerk rustiger en minder oproerig as ander kerke was. Die gevolg was dat godvrugtige en heilige biskoppe wat van hulle eie setels weggedryf is, hulle dikwels daarheen gewend het asof na 'n asiel of 'n hawe.94 Omdat Westerlinge minder skerp en snel van geaardheid as Asiate en Afrikane is, is hulle ook minder begerig tot revolusie. Dit het ook 'n baie groot bydrae tot die gesag van die Roomse kerk gelewer dat dit in daardie kommervolle tye nie so in beroering was as die res nie en dat die kerk stewiger aan die leer vasgehou het as al die ander nadat die leer eenmaal aan hulle oorgelewer is. Ons sal dit dadelik nog beter verduidelik. Ek herhaal: vanweë hierdie drie redes is die (Roomse) kerk algemeen geëer en in baie getuienisse van die skrywers van ouds lof toegeswaai.

17. Die kerke van ouds het geen oppergesag aan die kerk in Rome toegeken om die eenheid van die kerk te behou nie.🔗

Maar wanneer ons teenstanders die primaat en die hoogste gesag oor ander kerke daaruit by Rome wil aanlap, tree hulle heeltemal verkeerd op soos ek gesê het.95 Om dit nog duideliker te stel, sal ek ten eerste kortliks aantoon wat die skrywers van ouds se gevoel oor hierdie eenheid waarop hulle so sterk aandring, was.

Nadat Hieronymus in sy brief aan Nepotianus baie voorbeelde van eenheid opgenoem het, gaan hy ten slotte oor tot die kerklike hiërargie. Hy sê: "Elke kerk het sy eie biskop, elke kerk sy eie aartspresbiter, elke kerk sy eie aartsdiaken en elke kerkorde steun op sy eie regeerders".96 Hier is 'n presbiter van Rome aan die woord en hy beveel eenheid in die kerkorde aan. Waarom meld hy nie dat al die kerke onderling onder een hoof asof deur een band saamgebind is nie? Daar was immers niks wat die onderhawige saak meer tot diens kon wees en daar kan nie beweer word dat dit vanweë vergeetagtigheid gebeur het dat hy dit buite rekening gelaat het nie. As die omstandighede dit toegelaat het, sou hy niks met groter graagte gedoen het nie. Hy het derhalwe sonder twyfel gesien dat dit die ware aard van eenheid is wat Cyprianus pragtig met die volgende woorde beskryf: "Daar bestaan net een biskopamp en daarvan word 'n deel in geheel deur elke biskop afsonderlik gehou, en daar is net een kerk wat deur toename in vrugbaarheid baie wyd in 'n menigte uitstrek. Soos daar baie sonstrale is, en net een lig; en soos 'n boom baie takke het maar net een stam wat op 'n stewige wortel gevestig is; en soos verskeie riviere uit een fontein vloei, en al sou dit lyk asof die talrykheid vanweë die kwistigheid van die oorstromende oorvloed uiteenvloei, word die eenheid nograns ongeskonde by die oorsprong daarvan bewaar.97 So strek die kerk wat oorstroom is deur die lig van die Here, sy strale oor die hele wêreld uit maar tog is daar net een lig wat oral uitgesprei is. En die eenheid van die liggaam word nie daardeur verdeel nie. Dit strek sy takke oor die hele wêreld uit, en skep riviere wat hulle walle oorstroom. Daar is nogtans net een hoof en net een bron," ensovoorts.98 Verder sê hy. "Die bruid van Christus kan nie owerspel pleeg nie, sy ken net een huis en waak met rein beskeidenheid oor die heiligheid van een slaapkamer".99 Jy sien hoe hy die universele biskopamp Christus se eiendom alleen maak omdat Hy die hele kerk onder Hom neem; hy sê dat dele in die geheel gehou word deur almal wat die biskopamp onder hierdie Hoof vervul.100 Waar is dan die primaat van die Roomse setel as die biskopamp ten volle by Christus alleen is en 'n deel in die geheel deur elke biskop afsonderlik gehou word?

Die doel met hierdie aanhalings is dat 'n leser terloops daarop moet let dat die beginsel wat die Romaniste in verband met die eenheid (van die kerk) in 'n hiërargie onder 'n aardse hoof as algemeen en ontwyfelbaar aanvaar, heelternal onbekend was aan die skrywers van die ou tyd.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Cochlaeus, Philippieae quatuor in apologiam Philippi Melancbtonts ad Carolum (1534) 4.35.; Thomas Caietanus se vertolking van die woorde Tu es Petrus (Matt. 16:18) in sy De div. inst. pontif. Romani Pontifici (1521) 2 en Latomus, Adv. M.Bucerum ... altera defensio (1544).
  2. ^ Vgl. hiervoor die reedsvermelde Conc. Florent decr. pro Graecis (a. 1439) (Mansi 31A:I031, Denzinger, Ench. nr. 694:253).
  3. ^ Eck, De primatu Petri adversus Ludderum, 2.27 fo. 30a.
  4. ^ Vgl. Inst. 4.20.8 waar Calvyndie wëreldse regering oor Israel kortliks aanraak. In die Middeleeue is algemeen geglo dat )erusalem die middelpunt van die wêreld is.
  5. ^ Fr. 1545 e.v.: que tout le monde doit estre gouverné par un Bailly ou Seneschal, pource que chacune prooinee a le sien (Benoit 4:107).
  6. ^ Marg. Heb. 7.b.12. Vgl. OC 55:89 - 90.
  7. ^ Fr. 1560: + laquelle estoit figurëe en la Loy (Benoit 4:107).
  8. ^ Marg. Mat. 16.c.18. Vgl. OC 45:473 e.v. asook Caietanus hierbo se vertolking van hierdie Skrifgedeelte: tu, non vos, ut unitasfundamenti ecclesiae, unitas quoquepersonalis, intetligatur: Jy is Petrus: jy, en nie julle nie, sodat die eenheid van die fondament van die kerk, en ook 'n persoonlike eenheid daaronder verstaan word. Vir Bellarminus se vertolking van hierdie Skrifgedeelte vgl. a.w. 539 waar hy aanvoer monarcbiam esse optimum regtmen - 'n monargie is die beste regeringsvorm en sub duabus metapborispromissum Petro totius ecclesiae principatu dat onder, hierdie twee metafore aan Petrus die beheer oor die hele kerk beloof is. Hy bespreek Calvyn se standpunt dat Christus alleen sy kerk regeer uitvoerig a.w. 542 e.v.
  9. ^ Marg.Iohan. 21.c.15. Vgl.ook verse 16en 17. Verder Leo I, Ep. 10.1 (MPL54:629); Serm. 63.6 (MPL 54:356 e.v., Serm. 4,2 (Mpl 54:149); De Castro, Adv. haer. 12 fo. 172E . 173E; Cochlaeus, De authoritate ecclesiae et scripturae (1524), 1 . 3, fo. B3a: At non Lutherum, sed Petrum constituit Christus ovium suarum pastorem - maar Christus het Petrus, en nie vir Luther nie, aangestel as herder van sy skape. Die dekrete van die Vatikaanse Konsilie (1870) verklaar dat die jurisdiksie van die hoogste herder kragtens hierdie Skrifgedeelte slegs aan Simon Petrus verleen is (Schaff, Creeds 2:259). Vgl. ook die geloofsverklaring van die Konsilie van Trente (1564) (Schaff, Creeds 2:209). Thomas se vertolking was dat die sleutelrnag nie tot Petrus alleen beperk was nie maar dat dit van hom af ook na ander (priesters) moes oorgaan soos in die geval van die viering van die nagrnaai (Summa Theol. 3 suppl. 17.2 - Marietti 4:696 e.v.). Vir Bellarminus se vertolking van hierdie Skrifgedeelte vgl. a.w. 559 - 569 waar hy aandui dat die hoogste gesag oor die kerk kragtens die woorde 'Laat ... wei' aan Petrus opgedra is en dat 'my skape' die universele kerk van Christus aangedui het.
  10. ^ Marg. 1. Pet. 5.a.2. Vgl. OC 55:285 - 286 en Bellarminus, a.w. 561
  11. ^ Vgl. Alfonsus de Castro, Adv. omnes baer. (1543) 12 (Papa) fo. 172E, 173E, 174F en Bellarminus, a.w. 557.
  12. ^ Marg. Iohan. 20.c.23. Vgl. OC 47:440 - 442. Bellarminus gee Calvyn se standpunt weer en stel daarteenoor die R.-K. opvatting: per claves datas Petro intelligimus summam potestatem in omnem ecclesiam - onder die sleutels wat aan Petrus gegee is, verstaan ons die hoogste gesag oor die hele kerk (a.w. 557).
  13. ^ Marg.2. Cor. 5.d.18, & 10.b.16. Vgl. OC 50:70 - 71;121. Bellarminus vertolk dit so: in verband met die woord versoening is my antwoord dat in hierdie Skrifverwysing wel prediking onder hierdie woord verstaan word maar Paulus wil nie sê dat die prediking voldoende is vir versoening nie, maar dat mense deur die prediking beweeg word om met God versoen te wil word soos later deur die doop en berou (penitensie) veroorsaak word (a.w. 558).
  14. ^ Vgl. Inst. 3.4.20 (Afr. vert. 3:831 e.v.).
  15. ^ Vgl. Inst. 4.1,1.1. 2.
  16. ^ Marg. Mat. 16.c.19. Vgl. OC 45:474 - 477 en Bellarminus a.w. 557 e.v.
  17. ^ Vgl. Inst. 4.11.1; Thomas meen dat die sleutelmag nie aan Petrus alleen gegee is nie, maar dat die doel daarvan was dat dit van hom af na die ander apostels moes oorgaan (Contra gentes4.72) en dat enige priester die bevoegdheid gehad het om die sleutelmag te gebruik (Quodlibeta 19.30) soos byvoorbeeld om aan die nagmaal deel te neem (Summa Theol. 3 Suppl. 17.2 Marietti 4:696 waar onderskeid gemaak word tussen geestelike sleutels en sakramentele sleutels); Caietanus se opvatting in sy De dioina institutione pontificatus Romanipontificis (1521) is dat slegs die pous hierdie mag het. Vgl. ook die dekrete van die Vatikaanse Konsilie (1870), eerste dogmatiese konstitusie 1.4 (Schaff, Creeds 2.259, 268).
  18. ^ Vgl. Leo 1, Serm. 4.3 (MPL54:151); Eek, De primatu Petri (1520) 1.3; 1.14; 1.33 (fo. 4b, 21a, 52b); De Castro, Adv. omnes baer. 12, fo. 173F.
  19. ^ Marg. Mat. 18.c.20,. Ioban. 20.e.23. Vgl. ook Matt. 18:18 - 19 en OC 45:515 - 518. Bellarminus stel die Roomse standpunt na aanleiding van Chrysostomos se woorde dat Petrus nie as woordverkondiger nie, maar as lei er, hoof en mondstuk van al die apostels gepraat het (a.w, 549).
  20. ^ Vgl. Eck, De primatu Petri1.14, fo. 21a.
  21. ^ Marg. De simplic. Praelat. Cyprianus, Decatbol. eccl. unitate 4 (MPL4:498 e.v., CSEL3,1:212 e.v.).
  22. ^ Marg. Homil. In Ioban. 50. Augustinus, In Joan. tract. 11.5; 50.12; 124.5 (MPL 35:1478; 1762 e.v.; 1973 e.v.). Augustinus skryf in die eerste reel nie misserie nie maar sakrament. Vgl. ook ibid. 118.4 (MPL 35:1949) en Serm. 295.2 (MPL 38:1349).
  23. ^ Marg. Homil. 11. Repetit. Homil. 124. Augustinus, In Joan. tract. 118.4; 124.5 (MPL35:1949; 1973· 1974). Calvyn se verwysing is foutief. Vgl. Serm. 295.2 (MPL 38:1349
  24. ^ Marg. Matth. 16:c.18.
  25. ^ Marg. Ephes. 2.d.20. Vgl. ook verse 21 en 22 en OC 51:174 . 176.
  26. ^ Marg. 1. Pet. 2.a.5). Vgl. ook vers 6 en OC 55:233 . 235.
  27. ^ Vgl. Ef. 4:16 en Kol. 2:19.
  28. ^ Vgl. Jo. Faber, Malleus fo. 16b en Bellarminus, a.w. 569.
  29. ^ Marg. Ioban. 1.f.140 & 41. Vgl. ook vers 42 en OC 47:30 . 32.
  30. ^ Vgl. Hand. 2:14 e.v.; 4:8 e.v., 15:7.
  31. ^ Vgl. afdeling 7 hieronder.
  32. ^ Vgl. Eck, De primatu Petri, passim; De Castro, Adv. baer. 12 fo. 172F.
  33. ^ Vgl. Leo I, Ep. 103; 104.3 (MPL 54:992, 995).
  34. ^ Marg. Matth. 16.c.l6. Vgl. OC 45:472 - 473.
  35. ^ Marg. 1.Cor. 3.b.11. Vgl. OC 49:353·354.
  36. ^ Vgl. Augustinus, In Joan. tract. 124.5: Petra enim erat Christus: super quodfundamentum ipse aedificatus est Petrus (MPL 35:1973 - 1975); Serm. 76.1.1; 244.1; 270.2; 295.1.1 (MPL 38:479; 1148; 1239; 1348 e.v.): Luther, Von dem Papsttum zu Rom uitder den hochberümten Romanisten zu Leipzig (1520) (WA 6:306,311). Vgl. ook Bellarminus, a.w. 542.67
  37. ^ Vgl. Luther, Resolutio Lutberiana super propositione XIII de potestate papae (1519) (WA 2:187 240); Ein Sermon zu Letpzig (1519) WA6:248 e.v.), Ein Sermon von dem Sakrament der Busse (1519) (WA6:716); Von dem Papsttum zu Rom (WA6:309 e.v.), De instituendis ministris ecciesiae (WA 12:179 e.v.), Ad librum ... Ambrosii Catbarint ... responsie (WA 7:716 e.v.), Wider das Papsttum zy Rom vom Teufel gestiftet (1545) (WA 54:230, 231 e.v.).
  38. ^ Marg. Act. 15.b.15. Vgl. ook verse 6 . 12 en OC 48:342 - 357.
  39. ^ Marg. 1.Pet. 5.a.l. Vgl. ook die daaropvolgende verse en OC 55:284 e.v.
  40. ^ Marg. Act. 11.a.3. Vgl. ook verse 4 . 18 en OC 48:255 - 258.
  41. ^ Marg. Ibidem, 8.c.14 (Hand. 8:14). Vgl. OC 48:181 - 182).
  42. ^ Marg. Galat. 1.a.18. & 2.b.8. Vgl. OC 50:180, 189.
  43. ^ Vgl. Gal. 2:7 . 8.
  44. ^ Vgl. Gal. 2:11 - 14.
  45. ^ Vgl. Eck, De primatu Petri 1.14, fo. 21a; 2.27, fo. 31a en Bellarminus, a.w. 509. 527, 532,627, 630.
  46. ^ Vgl. die Decret. Grat. 2.7.1.41 (MPL 187:762; Friedberg 1:582); Hieronymus, Ep. 125.15 (MPL 22:1080).
  47. ^ Homeros, Ilias 2.204 (LCL 1.64). Vgl. ook Aristoteles, Metapbys. 12:1076a (LCL 2:174).
  48. ^ Vgl. Lucanus. Pbarsalia 1.92 e.v. (LCL 8 e.v.),
  49. ^ Marg. Ephes. 4.d.55. Vgl. ook vers 16; OC 202 - 203 en Bellarminus, a.w. 528, 536.
  50. ^ Vgl. Eck, De primatu Petri 1.l4, fo. 21a.
  51. ^ Marg. Ibidem d.16. Vgl. Ef. 4:16.
  52. ^ Marg. Ephes. 1.d..22. &4.d. 15, &5.e.23, Colos. 1.c.18. &2.b.10. Vgl. OC 51:159, 202, 222; 52:86 - 87,104.
  53. ^ Vgl. Hand. 1:9.
  54. ^ Marg. Ephes. 4.b.10. Vgl. OC 51:194 - 196.
  55. ^ Marg. Ibidem, 7 & 11. Ef. 4:7, 11. Vgl. ook OC 15:332.
  56. ^ Vgl. OC 51:198: Hic disputatio est de unitate: die bespreking handel hier oor eenheid
  57. ^ Vgl. OC 58:198: Tandem uenit ad ecclesiae regtmen. ... aperte fictitium hunc primatum eoertit, uni Christoeminenttam tribuens, apostolos et pastores unioersas ita illi subiicit, ut inter secollegae sint et socii: Nou kom hy eindelik by die regering van die kerk. Hy verwerp die verbeeldingsvlug van hierdie primaat wanneer hy aan Christus alleen die voorrang verleen, maar die apostels en alle herders so aan Hom ondergeskik maak dat hulle mekaar se kollegas en kamerade is. In 'n brief aan die koning van Pole in Desember 1554 (OC 15:329 -336, nr. 2057) stel Calvyn dieselfde standpunt baie sterker.
  58. ^ Marg. Ibidem, 4.a.4. Vgl. ook vers 5.
  59. ^ Vgl. Inst. 4.6.1.
  60. ^ Vgl. Ef. 4.16.
  61. ^ Vgl. Ef. 4:7.
  62. ^ Vgl. Clichtoveus, Antilutherus 2.2 fo. 65a, b.
  63. ^ Bellarminus poog om uitvoerig te bewys dat Petrus wel in Rome was (a.w, 560 e.v.), dat hy daar gesterf het (a.w. 604 e.v.) en tot sy dood daar biskop was (a.w, 608; vgl. ook 557 en 627 e.v.).
  64. ^ Volgens Bellarminus het die Roomse pous volgens Goddelike en opvolgingsreg Petrus se 'kerklike monargie' geërf (vgl. a.w. 626 e.v.).
  65. ^ Marg. Deut. 34. a.5.
  66. ^ Vgl. 10. Roffensis (Fischer), Assertionis Lutheranae confutatie 422 e.v. en Bellarminus, a.w. 582 e.v., 631 e.v.
  67. ^ Marg. 12. quaest. 1. cap. Rogamus. Vgl. die Decret. Grat. 2.24.1.15 (MPL 187:1270; Friedberg 1:970).
  68. ^ Vgl. Iustinianus, Pandectae 9 en die Novelia 100 (131): Decemimus prlmum esse omnium sacerdotum - ons beslis dat (die pous) die eerste van alle priesters is.
  69. ^ Marg. Galat. 2.b.9. Vgl. OC 50:189.
  70. ^ Vgl. Inst. 4.6.16 hieronder. Kragrens die Konsilie van Konstantinopel (381), kanon 3 (Mansi 3:559) en die Konsilie van Chalcedon (451) kanon 28 (Mansi 7:370) het Konstantinopel die tweede plek na Rome ingeneem. Rome het egter beide kanons verwerp. Vgl. ook die Cone. Quinisext. (692) kanon 36 (Mansi 11:959)
  71. ^ Leo I, Ep. 9; 102.4; 106.5 (MPL 54:625, 987, 1007).
  72. ^ Vgl. Eusebius, Chronica 2 (MPG 19:539; GCS 24:179 e.v.), Hieronymus, De viris illustr. 1 (MPL23:638).
  73. ^ Marg. Galat. 1.d 18. Galat. 2.a.l. Vgl. ook Gal. 2:2 e.v., 2:11.
  74. ^ Gregorius, Ep. 7.40 (MPL 77:899). Vgl. Eek, Ench. 2, fo. B7a.
  75. ^ Vgl. Eusebius, Hist. eccles. 2.25 (MPG 20:211); Hieronymus, De viris illustr. 1 (MPL 23:638) en Tertullianus, De praescript. 36 (MPL 2:59).
  76. ^ Marg. Rom. 15.f25. Vgl. OC 49:280.
  77. ^ Marg. Rom. 16.a.3. Vgl.ook Rom. 16: 4 - 16 en OC 49:69 - 81.
  78. ^ Marg. Act. ult. d.16. Vgl. Hand. 28:16 en OC 48:566.
  79. ^ Vgl. Hand. 28:15.
  80. ^ Marg. Philip. 2.c.20. Vgl. ook vers 21 en OC 52:37 . 39.
  81. ^ Marg. 2. Tim. 4.c.l6. Vgl.OC 52:393.
  82. ^ Ibidem
  83. ^ Vgl. Eusebius, Chrono 2 (MPG 19:539); Hieronymus, De viris illustr. 1 (MPL 23:638)
  84. ^ Vgl. 2 Tim. 4:21; Fil. 4:3,21; Irenaeus, Contra baer. 3.3.3(MPG 7,1:849); Eusebius, Hist. eccles. 3.2 (MPG 20:215); Hieronymus, De viris illustr: 15 (MPL 23:663) en Bellarminus. a.w. 608 e.v.
  85. ^ Vgl. Tertulllanus, De praescript. 32 (MPL 2:53).
  86. ^ Simon die Towenaar (Hand. 8:5 . 24) en die latere Simon van Gitta is dikwels in die werke van die Gnostici verwar- vgl. Eusebiust Hist. eccles. 2.14 (MPG 20:170 e.v.) i Hleronymus, De virist illustr.l (MPL 23:638) en Bellarminus. a.w. 580 e.v.
  87. ^ Marg. Epist. 2. ad Ianuar. Augustinus, Ep. 36.9.21 (MPL 33:145 . 146; CSEL 34,2:50). Vir die foutiewe verwysing na Augustinus se werke vgl. Luehesius Smits, 1:239.
  88. ^ Vgl. Gal. 2:7 - 8.
  89. ^ Vgl. Gal. 2:9.
  90. ^ Vgl. Eck, De primatu Petrl. 1.13 fo, 19a.
  91. ^ Vgl. Ignatlus, Ad Rom. 3.1; Irenaeus, Adv. haer. 3.3.2 (MPG 7,1:848); Cyprianus, Ep. 59.14 (MPL Ep. 55, 3:844 . 845;CSEL 3,2:683).
  92. ^ Vgl. Augustinus, Ep. 43.3.7; Ep. 209.8,9 (MPL 33:163,955 . 956; CSEL 34:90e.v.).
  93. ^ Vgl. Irenaeus, Adv. haer. 3.3.2 (MPG 7,1:848).
  94. ^ Vgl. Socrates, Hist. eccles. 2.15 (MPG 67:211).
  95. ^ Vgl. Inst. 4.6.16.
  96. ^ Vgl. Hieronymus, Ep. 125.15 (MPL 22:1080; CSEL56:133). Hieronymus skryf aan Rusticus en nie aan Nepotianus nie.
  97. ^ Fr. 1560: + Qu 'on couppe la branche d'un arbre, et elle séchera (Benoit 4:120).
  98. ^ Marg. De simplic. Praelatorum. Cyprianus, De cathol. eccl. unitare 3, 5,6 (MPL4:498 e.v., 501 e.v., CSEL3,1:212,214 e.v.). Vgl. Bellarminus se vertolking van hierdie uitspraak van Cyprianus a.w,644 ·645.
  99. ^ Ibidem c. 6 (MPL 4:501; CSEL3,1:214).
  100. ^ Ibidem c. 3 (MPL 4:498 e.v., CSEL 3,1:212).