2 bladsye.

Johannes 20:22 - Het die Dissipels Twee Maal die Heilige Gees Ontvang?

Br. G. F. Rautenbach van Witbank vra na die regte betekenis van Johannes 20:22. Daar lees ons dat Jesus op sy dissipels blaas en vir hulle sê: “Ontvang die Heilige Gees”. Moet ons hieruit aflei dat die dissipels twee maal die Heilige Gees ontvang het: die eerste keer direk na die opstanding en die tweede keer op Pinkster?

In sy brief maak br. Rautenbach geheel tereg by sy vraag die opmerking dat ons in Johannes 20 nie lees dat daar juis iets gebeur het of dat die dissipels begin preek het (soos in Hand. 2) nie. Inderdaad lees ons in Johannes nie van die tekens van wind en vuur waarmee die Heilige Gees (volgens Hand. 2) uitgestort word nie.

Daar is Skrifverklaarders, soos byvoorbeeld R. Bultmann, wat beweer dat ons in Johannes 20 ’n beskrywing kry van die gebeure op Pinkster. Johannes sou nie soos Lukas so sterk histories dink nie en daarom beskrywe hy Paasfees en Pinkster as ’n gebeurtenis wat op dieselfde dag plaasvind. Ons teks word dan genoem ’n Johanneïese voorstelling van Pinkster - dus Pinkster soos Johannes dit sien. Dis egter ’n verklaring waarmee ons nie kan saamstem nie.

Ander Skrifverklaarders sien in hierdie teks ’n spesiale, aparte toerusting met die Heilige Gees. Die dissipels wat tot apostels geroep is, sou hier ’n spesiale, amptelike bekwaammaking deur die Heilige Gees ontvang. Maar wat dan van Thomas wat daardie aand nie aanwesig was nie? Het hy dan nie toerusting met die Heilige Gees vir die uitoefening van sy apostelamp ontvang nie? Hierdie vraag word ook deur ons broeder in sy brief gestel. Ons kan hier nog byvoeg die naam van Matthías wat kort voor Pinkster in die plek van Judas as apostel gekies is (Hand. 1).

Probleme Volop🔗

Ons moet erken dat hierdie teks baie moeilik is om te verklaar. Ook Gereformeerde eksegete verskil onderling oor die regte verklaring daarvan.

Wanneer ons die teks lees in ons Afrikaanse Bybel, dan sal ons sien dat die woordjies “op hulle” skuins gedruk staan. Dit wil sê dat hierdie woorde nie in die oorspronklike taal van die Bybel, in die Grieks, gebruik word nie. Daar is wel handskrifte waarin die woorde “op hulle” staan, maar dit is nie van die bekendste en die mees betroubare handskrifte nie. Ons aanvaar dan ook dat die woordjies “op hulle” nie in die oorspronklike teks van Johannes 20:22 tuishoort nie. Johannes vertel dus dat Jesus na die vredegroet en na die woorde: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook”, geblaas het.

Jesus veroorsaak wind met sy mond. Al volgens Johannes 3 het Jesus sy dissipels gewys op die verband tussen die wind en die Gees. Die Heilige Gees in sy werking kan met die wind vergelyk word (Joh. 3:8). Jesus gee hier vir sy dissipels ’n teken. Daarna spreek Hy die woorde: “Ontvang die Heilige Gees”. Opvallend is hier dat in die oorspronklike taal van die Bybel hier Heilige Gees sonder lidwoord geskryf word. Prof. Greijdanus het ons geleer dat wanneer in die Nuwe Testament die Heilige Gees sonder die bepalende lidwoord genoem word, ons moet dink aan die werking of die krag van die Heilige Gees.

Om nou hierdie teks te kan verstaan, is dit noodsaaklik om te let op die verband waarin die teks staan. Daar is dan drie dinge wat ons aandag vang.

  • Jesus spreek oor die apostelamp. Die dissipels word uitgestuur (vs. 21).

  • Jesus spreek met ’n teken en met woorde oor die toerusting met die Heilige Gees (vs. 22).

  • Jesus spreek oor die prediking van die apostels. Hulle moet die sondevergewing verkondig (vs. 23).

Herhaling en Voortgang🔗

Nou mag dit ons aandag nie ontgaan nie dat hier dinge genoem word wat Jesus reeds vroeër aan sy dissipels bekend gestel het:

Jesus het die uitstuur van sy dissipels reeds genoem (Joh. 17:20).

Hy het reeds gespreek oor die Heilige Gees wat die dissipels sal ontvang (Joh. 14:16 e.v.; 16:13 e.v.).

Jesus wys reeds op die prediking van die apostels (Joh. l7:20).

Ons het dus hier in Johannes 20:21-23 baie duidelik die herhalingsmotief. Tog is dit nie bloot herhaling by Jesus nie. Daar is ook iets nuuts, want daar is voortgang in die geskiedenis van die Godsopenbaring. Jesus het opgestaan. Ons lees (in Joh. 20:20) dat Jesus by sy verskyning aan sy dissipels na die eerste vredegroet aan die dissipels sy hande en sy sy wys. Jesus toon aan hulle die tekens van sy lyding. Die Gekruisigde lewe! As Gekruisigde en Opgestane herhaal Hy wat Hy ook reeds voor sy sterwe en opstanding vir hulle gesê het.

Die bekende Duitse Nieu-Testamentikus Th. Zahn sien in hierdie woorde van Jesus eintlik ’n ampsherstel van die apostels. Hulle het mos almal Jesus verlaat. Die eerste daad van Jesus na sy opstanding is die liefdevolle daad van ampsherstel van sy dissipels tot apostels in sy koninkryk. Hulle het nog altyd die opdrag, hulle het tot uitvoering daarvan nog altyd die beloofde Gees in sy werking en krag nodig en daar is nog altyd dieselfde heerlike prediking van sondevergewing op grond van die volbragte werk van Jesus Christus.

Jesus se teken (Hy blaas) en die woorde wat Hy by daardie teken spreek, is nog weer ’n bevestiging dat die heerlike heilsfeit van die koms van die beloofde Trooster seker sal kom. Dit hang nie af van die trou en die toewyding van die dissipels nie, want hulle het gevlug. Dit hang alleen af van Jesus, want Hy het gely en het opgestaan!