Bron: Kompas, 2005. 2 bladsye.

Kerk en Kremasie

kremasie

Dit kan soms gebeur dat ʼn kerkraad skielik gekonfronteer word met ʼn gemeentelid wat gekremeer (veras) wil word. As jy betyds daarvan hoor, kan jy daaroor praat. Aan die hand hiervan kan prof. Douma se Rondom de Dood (Ethische bezinning, nr 10) gebruik word. Maar soms kry jy nie die tyd daarvoor nie. Of dit blyk dat die keuse vir kremasie nie meer verander kan word nie. Wat dan?

Dit lyk vir my na ʼn goeie idee dat kerkrade hulle tydig besin op ʼn gedragslyn waaraan ampsdraers en gemeente houvas het. In die eerste plek omdat die kerk in die wêreld van vandag moet waak oor die getuienis van haar Christelike toekomsverwagting. In die tweede plek omdat die saak by die betrokkene(s) baie sensitief is. En in die derde plek sorg hierdie onderwerp onherroeplik vir diskussies met familielede en vriende in die emosionele tyd tussen die afsterwe en die begrafnis. Daar is dus genoeg rede om in “alle rus” op ʼn gedragslyn te besluit.

In hierdie artikel wil ek ʼn paar opmerkings maak oor hierdie onderwerp. Ek wil fokus op die houding van die kerk by ʼn onverwagte kremasie (verassing) van ʼn gemeentelid. Dit gaan dus nie oor die onderwerp kremasie nie. Ook nie of en hoe individue na ʼn kremasie van ʼn familielid, kollega of ʼn vriend mag gaan nie. Dit gaan ook nie oor die voorgaan van ʼn predikant by ʼn kremasie van ʼn ongelowige nie (lees ook J. Douma, A.W., bls. 160-163).

Uitgangspunte🔗

  1. Vir ʼn etiese beoordeling oor kremasie verwys ek na die eerder genoemde studie van J. Douma Rondom de Dood, bls. 139-168. Om dit kort saam te vat: begrawe is ʼn manier van lykbesorging wat aansluit by die onderwys van die Heilige Skrif: God se kinders het hulle laat begrawe (vgl.: Genesis 23:3; 25:9; 49:29; Markus 6:29; Lukas 7:14; Johannes 11:43). God se eie Seun is begrawe en het vir ons die weg gebaan deur die ontbinding van die graf na die opstanding van die vlees (Johannes 19:38-42; 1 Korintiërs 15:4; HK Sondag 16). Ons begrafnis is ʼn simbool van die saai in die dodeakker en ʼn daad wat getuig van Christelike verwagting (1 Korintiërs 15:15-35-58). Kremasie, veral wanneer dit gevolg word deur die uitstrooiing van die as, is ʼn daad wat geen uiting gee aan die Christelike verwagting nie (vgl. 1 Petrus 3:15). Dat ons tot stof “weerkeer”, beteken nie dat ons die reg het om onsself tot stof te “maak” nie.

  2. Die wil om gekremeer te word, kan voortkom uit teenstand teen wat die Skrif leer oor die toekoms van God se kinders. As hierdie teenstand “afrond” in kremasie, behoort die kerkraad myns insiens nie hulle samewerking aan die kremasie te gee nie. Kremasie hoef egter nie altyd voort te kom uit bewuste teenstand teen die Woord van God en ʼn Christelike toekomsverwagting nie. Dit kan ook ʼn gevolg wees van uitsonderlike omstandighede of ʼn swakheid van oordeel. In sulke situasies pas dit ons nie om ʼn oordeel uit te spreek oor die Christenwees van ʼn persoon wat homself laat kremeer nie. Ons wil ook nie beweer dat God nie gekremeerdes sou wil of kan opwek nie. Die Here het die wêreld uit niks geskape en sal ook sorg dat die see sy dooies prys gee. Dan is Hy dus ook in staat om ʼn liggaam uit stof op te wek. Al is dit ook verbrand: op die brandstapel, in ʼn brand … of deur ʼn vrywillige of onvrywillige kremasie.

  3. ʼn Kremasie is net soos ʼn begrafnis onder die verantwoordelikheid van die familie. Die aktiwiteit van ʼn ampsdraer het geen ander grond as die pastorale en broederlike verbondenheid met die gestorwe kerklid en die daaruit voortvloeiende medeverantwoordelikheid vir die Christelike getuienis by die laaste sorg vir die liggaam nie. Die taak en verantwoordelikheid van die kerk en haar ampsdraers is ʼn beperkte taak. Die kerk is nie verplig om haar samewerking te gee nie.

kremasie

Praktiese Riglyne🔗

  1. Indien die familie van die oorledene sou kies vir kremasie teen die wil van die oorledene in, sal geen amptelike samewerking aan die samekoms of aan die kremasie verleen word nie. Die kerk kan nie aan sulke “onfatsoenlike” maniere saamwerk nie! In so ʼn situasie sal die Christelike gedagtenis vorm kry deur byvoorbeeld ʼn gebed in die Sondagse erediens en ʼn “In Memoriam” in die kerkblad.

  2. Indien die kremasie van een van die kerklede plaasvind op eie versoek en volgens sy wil, dan beperk die ampsdraers hulle aktiwiteit en aanwesigheid tot die samekoms. Maar dit gebeur net wanneer:

a. die kremasie nie plaasvind as gevolg van ongeloof aan die Christelike verwagting van die opstanding nie;

b. die evangelie van die Christelike toekomsverwagting vir God se gestorwe kinders, onbeperk gebring kan word;

c. daar in die samekoms nie deur enige lid van die familie afbreuk gedoen word aan die Christelike gewoonte van begrawe nie;

d. die samekoms nie in die krematorium gehou word nie. Indien die familie nie aan hierdie riglyne wil voldoen nie, maak hulle self die samewerking van die kerk onmoontlik.

  1. Die eintlike kremasie is ʼn familie-aangeleentheid. Ampsdraers gaan nie uit hoofde van hulle amp saam na die krematorium nie. Die familie is self daarvoor verantwoordelik dat die Christelike toekomsverwagting in die krematorium stem en vorm kry.

  2. Slegs wanneer die familie geen moontlikheid sien om die Christelike geloof te laat klink nie, byvoorbeeld omdat die hele familie onkerklik is, dan kan daar van die kant van die kerk samewerking gegee word. Op ingetoë wyse sal dan onder leiding van die predikant deur Skriflesing, sang, belydenis en gebed stem gegee word aan die getuienis van die evangelie en die Christelike hoop.

  3. Ampsdraers kan nie gedwing word om op enige manier saam te werk aan (die plegtighede rondom) ʼn kremasie nie.

  4. Gemeentelede moet in eie Christelike verantwoordelikheid en met inagneming van die kerkraad se besluit, ʼn afweging maak tussen die afwysing van kremasie en die meelewing met die familie, die bewys van die laaste eer aan die oorledene en die bydrae van ʼn Christelike karakter daarvan.