Bron: Kompas. 2 bladsye.

Kersfeesviering

kersversiering

Kersfees is seker een van die belangrikste feeste van die jaar. Dit word oor die hele wêreld as ʼn spesiale dag herdenk en vir die meeste mense is dit ʼn vakansiedag. Dit was egter nie altyd die geval nie. Daar is byvoorbeeld geen aanduiding dat die Nuwe Testamentiese kerk Kersfees gevier het nie; nòg in Handelinge nòg in enige van die briewe van Paulus word daar melding gemaak van die geboortedag van Christus wat as spesiale dag herdenk is. Inteendeel, die Nuwe Testament maak glad nie eens melding van ʼn spesifieke datum as die geboortedag van Christus nie. Om Kersfees te vier, is definitief nie ʼn Nuwe Testamentiese gebod nie.

Dit het ʼn aantal eeue geduur voordat Christus se geboortedag ʼn spesiale dag geword het. Ons gaan terug na die begin van die vierde eeu, toe daar die eerste keer melding gemaak is van ʼn spesiale fees ter herdenking van Jesus se geboorte. Later in dieselfde eeu het die kerk van Rome hierdie gebeurtenis gekoppel aan 25 Desember. Hier is die gewoonte om ons Heiland se geboortedag op 25 Desember te vier, gebore, ʼn suiwer menslike instelling.

Ons word gevolglik gekonfronteer met die vraag of ons dan inderdaad ook Kersfees kan vier. Is dit ʼn goeie gewoonte om ʼn dag af te sonder om Christus se geboorte te herdenk? Indien die Skrif nie eers die datum noem nie en ook geen aanduiding gee dat dit herdenk moet word nie, moet ons dit dan wel doen? Sou dit nie beter wees om die viering van hierdie humanistiese dag heeltemal te stop nie?

In die Ou Testament lees ons hoe God self verskeie feeste ingestel het. Een van hierdie feeste was ook ʼn herdenkingsfees: Paasfees. Tydens hierdie fees is die uittog uit Egipte herdenk en gevier, dit was die dag van bevryding van die tirannie oor en onderdrukking van die Israeliete deur die Egiptenaars. Die Israeliete moes aan hul kinders verduidelik hoe die Paasfees die swaar tyd in Egipte in herinnering roep en ook hoe God sy volk van hierdie slawerny verlos het, sodat hulle nie weer hierdie swaar straf hoef te ondergaan nie (Exodus 12). Israel het die groot wonderwerke waardeur God hulle verlos het, gevier en herdenk (Psalm 77:11-15).

In hierdie geval is die fees op die direkte gebod van God, maar daar was ook ander gevalle. Later in Israel se geskiedenis het God sy volk weer eens gered – deur die optrede van koningin Ester. Dit het gelei tot die instel van ʼn nuwe fees: die Purimfees. Daar is egter geen aanduiding in die Woord dat God die instelling van hierdie feesdag beveel het nie. Die fees is deur Ester self en haar oom Mordegai gereël (Ester 9:29-33).

Seker een van die grootste wonderwerke wat God ooit vir sy volk gedoen het, is om sy Seun na die wêreld te stuur vir ons verlossing. Die belang van Christus se geboorte vir ons is verseker ʼn viering werd. Met die instelling van Kersfees as kerklike fees in die vierde eeu het die kerk van daardie tyd eenvoudig verder gegaan in die rigting wat God in sy Woord aantoon.

Kersfees afgestel🔗

Die Reformasie wat gedurende die sestiende eeu plaasgevind het, met manne soos Luther, Zwingli en Calvyn, het die viering van Kersfees beïnvloed. Erger nog, daar is ʼn wydverspreide poging aangewend om Kersfees, saam met ander feesdae, af te stel. Die sinode van Dordrecht het in 1574 die radikale besluit geneem om Kersfees af te stel. Die sinode wou sien dat die mense tevrede is met die Sondag as feesdag. Daarom moes die evangelie van Christus se geboorte op die Sondag wat 25 Desember voorafgaan, gepredik word. Tegelykertyd moes die gemeente daaraan herinner word dat Kersfees nie meer gevier sou word nie.

kersversiering in doos

Dit klink ongeloofbaar dat ʼn sinode van Gereformeerde kerke ʼn feesdag ter herdenking van die geboorte van ons Verlosser sou afstel. Die handeling van die sinode is egter meer verklaarbaar wanneer dit teen die agtergrond van die tendense van daardie tyd gesien word. Dit wil voorkom of die aantal spesiale kerklike feesdae in die voorafgaande eeu geweldig toegeneem het. Die feit dat die mense op daardie dae nie gewerk het nie, het gelei tot dronkenskap en ander vergrype. Voor die Reformasie was daar dan ook om hierdie rede reeds pogings om die aantal feesdae te verminder.

Die Hervormers het hiermee saamgestem. Luther wou op ʼn stadium selfs wegdoen met alle feesdae wat die kerk gevier het. Calvyn het saamgestem dat hierdie dae afgestel moet word. In daardie tyd is daar daagliks tyd gewy aan die verkondiging van die evangelie. Calvyn het dan ook geweier om op Kersdag enige spesiale boodskap rondom die geboorte van Christus oor te dra. Hy het oor die belangrikheid van Christus se geboorte gepreek op die Sondag voor 25 Desember en op Kersdag dan gewoon voortgegaan met die Bybelboek waarmee hy besig was.

In hierdie lig gesien, kan ʼn mens die Nederlandse kerke se behoefte om weg te doen met die spesiale feesviering rondom Kersfees, verstaan. Die hele praktyk van feesdae het tot allerhande euwels gelei.

Die poging om Kersfees af te stel, het egter gefaal. Die stadsrade van die verskillende stede het Kersdag as openbare vakansiedag behou en daarom het die kerk toe gevoel dat dit dan beter sal wees om eredienste op daardie dag te hou eerder as om die mense aan hul eie lot oor te laat. Dit sou dan ʼn dag wees wat fokus op die geboorte van Christus, daarom moes die mense se gedagtes besig gehou word met hierdie heilsfeit en met die lees en bestudeer van die Woord. Dit is die agtergrond tot die kerklike instelling van Kersfees.

Kersfees vandag🔗

In ons samelewing en wêreldwyd is Kersfees ʼn vakansiedag. Die meeste mense hoef nie te werk nie en het die dag vry. Dit klink dalk soos ʼn internasionale oorwinning vir die Christendom, maar dit is nie so nie. Al word die dag nog na Jesus Christus vernoem (Christmas in Engels), het die viering van die dag self meestal niks met Hom of sy geboorte te doen nie.

Almal pas die dag aan om by hul eie behoeftes te pas. Die winkels oortuig ons dat Kersfees die tyd is om allerhande luukshede te koop. Dit het die dag geword wat in die teken staan van geskenke gee en ontvang. Die belangrikheid van Christus het vervaag en Kersvader het sy plek ingeneem – die vrolike mannetjie wat vreugde en blydskap in die gesinne moet bring! Die winkels en besighede floreer op die spandabelrigheid. Ander fokus op die vryheid wat die mense in daardie tyd het: toer die wêreld vol om weg te kom van die koue, of juis om ʼn slag ʼn wit Kersfees mee te maak!

Te midde van al hierdie kommersialisasie het die belangrikheid van Christus se geboorte vervaag. Dit het die dag geword van genieting van die goeie lewe en die mens se gasvryheid en welwillendheid. En indien dit vir ons ook die geval is, kan ons Kersfees inderdaad maar afstel. Nêrens word ons deur God se Woord beveel om Christus se geboorte te vier nie, maar ʼn Christusfees sonder Christus is soos ʼn vrug wat mooi lyk aan die buitekant, maar van binne heeltemal vrot is. Dit stink! Ons kan verstaan waarom die kerk van die sestiende eeu maar liewer probeer het om Kersfees af te stel.

geskenke

Maar daar is ʼn beter manier. Eerder as om dit af te stel, laat ons dit liewer weer herdenk met die oorspronklike bedoeling in gedagte. Laat ons die geboorte van ons Saligmaker vier – ʼn gebeurtenis van veel groter belang en omvang as die redding waarvan die volk tydens die Purimfees gesing het. Die kerk doen daarin reg om dae wat die groot dade van God in die geskiedenis herdenk, as feesdae te proklameer. Die geboorte van Christus kwalifiseer tog sekerlik as een van die grootste wonderdade van God – en dit om ons verlossing te bewerk! Kersfees is dan wel ʼn menslike instelling, maar daar is alle rede om Christus se geboorte te vier. Ons kan so ons dankbaarheid aan God wys vir die geboorte van sy Seun. Met Christus in die middelpunt is ons fees geen leë, oppervlakkige ontspanning nie, maar die uitbundige vreugde van mense wat op die randjie van die dood gestaan het, maar gered is!