Bron: Gereformeerde Vroueblad, 1983. 4 bladsye.

Koop die Tyd Uit

Koop die tyd uit. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, so lees ons in die Nuwe Vertaling. Daar is in die Nuwe Testament twee woorde vir tyd. Die eerste woord is chronos, die naam van die Griekse god van die tyd. Die ou Grieke het die tyd as ’n godheid beskou, ’n wrede, alles verslindende god wat sy eie kinders opeet. Ons ken ook die verslindende werking van die tyd. Ons praat van die tand van die tyd, die tyd wat alles verslind.

Maar die Nuwe Testament ken nog ’n ander woord vir tyd, kairos wat beteken regte tyd, beslissende tyd, geleentheid. Ons Here Jesus sê in Mark 15:15: “Die tyd (Gr.: kairos) het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom.” Die tyd as chronos suig alles weg na die verlede, die tyd as kairos maak die pad na die toekoms oop.

Ons moet die tyd uitkoop. Ons moet elke geleentheid gebruik. Die tyd wat aan ons gegee word, moet ons gebruik as ’n nuwe moontlikheid, ’n nuwe geleentheid wat Christus ons skenk om aan Hom diensbaar te wees.

Wanneer Paulus skrywe: koop die tyd uit, dan bedoel hy gebruik elke geleentheid om die evangelie te verkondig, om van jou Heiland en Verlosser ’n getuie te wees. Dit beteken die Christenvrou moet op haar pos wees. Sy moet waar God haar geroep het, waar sy van haar Skepper ’n plek gekry het, in die huisgesin, by die werk, in die samelewing en in die kerk haar plek volstaan en haar roeping as gelowige vrou vervul.

Christus het die god Chronos as ’n afgod ontmasker. Hy het deur sy dood en opstanding die toekoms oopgebreek, sodat elke moment in die tyd vir ons die gelaaidheid, die spanning van die ewigheid kan kry.

Nou is daar aan die vrou soos dit vandag op ’n moderne manier gesê word verskillende rolle toebedeel. Rol het dan die betekenis van taak.

Is die vrou getroud dan het sy die rol van huisvrou ontvang.

Is daar kinders dan kom daarby die rol van ’n moeder.

In die kerk is daar vir haar die rol van ’n gelowige.

Is sy ’n werkende vrou dan het sy ’n rol in die samelewing.

Het haar man weggeval dan moet sy die onbenydenswaardige rol van ’n weduwee vervul. Wanneer daar nog kinders in die huis is wat opgevoed moet word, dan moet sy tegelyk die vaderrol en die moederrol vervul.

Is die geld skaars en die weduweepensioen gering, dan sal sy ook nog buitenshuis moet gaan werk en dan kry sy ook nog die rol van werkende vrou toebedeel.

Tradisioneel is die vrou se basiese rol die van vrou en moeder, maar soos ons reeds gehoor het, vind daar in ons moderne samelewing by die vrou ’n rolverruiming of rolverbreding plaas. Die vrou- en moederrol word aangevul met haar gemeenskapsrol byvoorbeeld wanneer sy tot die arbeidsmark toetree of ’n beroepsrol wanneer sy ’n beroep gaan uitoefen.

Die vrou van 1983, ook die Christenvrou kan net soos die man met haar rolverbreding of rolverruiming so maklik in ’n rolkonflik beland. Die rolle wat die vrou moet vervul gaan met mekaar bots. Te midde van die tyd wil ek net op twee situasies wys waarin die vrou so maklik in ’n rolkonflik kan beland, ’n interne en ’n eksterne situasie. ’n Vrou moet in verskillende fases van haar lewe soms plotseling ’n geheel nuwe en soms ’n nimmer begeerde rol vervul. Eers het sy vir jare die rol van gelukkige huisvrou vervul, maar dan volg onverwags die rol van weduwee wanneer haar man te sterwe kom of sy moet die rol vervul van ’n geskeide vrou, omdat haar huwelik op die rotse beland het. Watter spanninge en konflikte roep dit nie op nie? Daar kan egter ook vanweë eksterne omstandighede, omstandighede van buite af ’n rolkonflik by die vrou ontstaan.

Ons vrouens van die 20e eeu het selfstandig geword. Vergelyk haar net met die ouma uit die vorige eeu. U sien die verskil. Ons ontmoet daagliks vrouens wat as sekretaresses optree, wat as mediese dokters in hospitale werk, wat universiteitsprofessore is, wat in die besigheidswêreld beweeg. Van hulle is getroud, het kinders, en is lidmate van die kerk van Jesus Christus. Dis hier waar so maklik ’n rolkonflik ontstaan.

In die samelewing is die vrou vry en onafhanklik, maar in die huwelik, die gesin en die kerk is sy gebind. In die huwelik moet sy volgens die gebod van Christus haar man onderdanig wees, maar in die samelewing in die besigheid waar sy ’n hoë pos beklee kan sy mense wat onder haar werk hiet en gebied. In die kerk geld volgens die reëls van die Skrif vir die vrou die sg. swyggebod, en kan sy nie ’n amp beklee nie, maar in die maatskappy byvoorbeeld as burgemeesteres mag sy haar mond oopmaak. Roep dit nie spanninge op en lê hier nie baie konflikstof nie? Hoe kan sy in so ’n situasie die tyd uitkoop?

Ek is gevra om in die lig van ons tema: Koop die tyd uit en vanuit die konkrete situasie van elke dag ’n paar Bybelse riglyne vir u te gee. Die Bybel is nie onduidelik oor die rol van die vrou, oor haar plek, oor haar roeping nie. In vergelyking met die treurige toestand waarin die vrou in die Oosterse wêreld verkeer het, spreek die Bybel besonder mild oor die vrou. Daar was ’n rabbi wat gesê het hy dank God elke dag, omdat hy nie ’n esel, ’n heiden of ’n vrou is nie. Die Bybel toon duidelik aan dat die vrou nie die slavin van die man is nie. Sy is nie die veronregte, die na-agter-geskowene nie. Sy is ’n skepping van God. Die Bybel wys egter ook duidelik watter plek die vrou in die geheel struktuur van die skepping inneem.

Paulus, nie die vrouehater soos hy soms aangedui word nie, maar die geïnspireerde apostel teken met betrekking tot die vrou die lyn soos volg:

Julle moet weet dat Christus die Hoof is van elke man
en die man die hoof van die vrou
en God die Hoof van Christus.1 Kor 11:3

Paulus sien ’n bepaalde rangorde in die skepping: God, Christus, man, vrou. Nou moet ons die woord ‘hoof’ goed verstaan. Hoof is nie dieselfde as hoofbestuurder, direkteur of nog erger diktator nie. Daar sit in die Griekse woord hoof wat in die Nuwe Testament gebruik word twee gedagtes wat onafskeidelik aan mekaar verbind is, naamlik die gedagte van lewenseenheid, liefdeseenheid en die gedagte van heerskappy, gesag. Daar is eenheid in liefde tussen die man en sy vrou en tegelyk is daar ’n gesagsverhouding. Die gesag mag egter nooit van die liefde losgemaak word nie. Hoe vas die gesag in die liefde veranker is, toon Paulus aan met sy verwysing na die liefdevolle gesag wat Christus oor sy gemeente uitoefen.

Die rol van die vrou binne die raamwerk van die liefdevolle hoofskap van haar man binne huwelik en gesin is onderdanigheid. Die vrou, ook die moderne geëmansipeerde vrou van 1983 is geroep om wanneer sy getroud is haar man se hoofskap te erken. Dit word in die Bybel met die kernbegrip onderdanigheid aangedui.

Onderdanigheid is nie dieselfde as onderworpenheid nie. Dit gaan hier hoegenaamd nie om die onderdanigheid van ’n slavin nie. Die Griekse woord het die betekenis van: erkenning van liefdevolle gesag wat jou koester, beskerm en dra. Dis ook erkenning dat daar ’n gesagstruktuur is waarin leierskap aanvaar moet word. Maar tegelyk die wete: hierdie gesagstruktuur is op die liefde gebou.

Hierdie gesagstruktuur met die onderdanigheidsrol vir die vrou is in die Bybel bedoel vir die getroude vrou. Die ongetroude vrou verskyn in die Nuwe Testament slegs aan die rand. Ons lees van haar in 1 Kor 7. Wel bestee die Bybel besonder veel aandag aan die weduwee. ’n Ongehude vrou was in die Bybelse tyd ’n groot uitsondering, maar die wêreld was vol van weduwees.

Die weduwee word in die Skrif geteken as ’n vrou wat op ’n besondere wyse mag reken op God se beskerming. Die weduwee is in die Bybel voorwerp van Gods besondere sorg en barmhartigheid. Daarom het die kerk ook die opdrag ontvang om besonderlik na die weduwees om te kyk (Jak 1:27).

Die getroude vrou staan volgens die Nuwe Testament in ’n verhouding tot Christus langs en in onderdanigheid aan haar man. Die ongehude vrou, die weduwee staan eintlik in ’n direkte verhouding tot God. Natuurlik is daar by die getroude vrou ook ’n persoonlike, intieme geloofsrelasie met God.

Die probleem wat ons in die gesig staar, is die vraag of die rol van die Christenvrou in huwelik en gesin en veral ook in die kerk nie met haar rol in die samelewing bots nie. Is hier nie sprake van ’n rolkonflik nie? Ja, so word gesê en daarom moet ons die rol van die vrou in die kerk hersien. Die uitsprake in die Bybel oor die onderdanigheidsrol van die vrou kan vandag nie meer aanvaar word nie. Dis nie ’n oplossing nie. Dan breek ons die gesag van die Bybel. Ons glo dat die Bybel wel tydgerig is maar nie tydgebonde nie. Van die ander kant word die volgende oplossing aangebied. Ons staan by die Bybel en ons sê vir die vrou dat sy weer huis toe moet kom. Sy moet kos kook en kinders groot maak. Sy behoort in die kombuis en nie agter ’n skryftafel of in ’n besigheid nie. Die statiese rol van die vrou in die Bybel is nie versoenbaar met die dinamiese rol van die vrou in die moderne samelewing nie.

Maar die rol van die vrou volgens die Bybel is hoegenaamd nie staties nie. Dit bied dus ook nie ’n oplossing nie.

Die Bybel wys vir ons baie duidelik dat die rol van die vrou, getroud, ongetroud of weduwee hoegenaamd nie staties is nie. Myns insiens behoef en behoort daar nie ’n rolkonflik in die lewe van die gelowige vrou te wees nie. Die vraag is hoe kry ons die verskillende rolle van die vrou in lyn met mekaar sodat die Christenvrou optimale diens kan lewer en die tyd kan uitkoop, elke geleentheid kan aangryp om sinvol besig te wees in die vervulling van haar roeping?

Die oplossing lê nie in rolvervanging nie, ook nie in rolverenging nie. Dit help nie om die een rol met ’n ander een te vervang nie. Ook sal dit nie baat om die vrou net haar twee basiese rolle, dié van vrou en moeder toe te wys nie. Dan maak ons dit vir die vrou net moeiliker.

Die Bybel teken die gelowige vrou, wie sy ook al is, en wat haar omstandighede ook al mag wees, as ’n vrou wat vry is, vry in Christus (Gal 3:28; 5:1). Die vryheid in Christus, die heerlike feit dat sy onder Christus as die Heerskappyvoerder staan, tas haar vrouwees nie aan nie. As vrou is sy ’n vrou in relasie, in ’n verhouding. Dit lê in die skepping. So het God haar gemaak. Sy is ’n relasionele wese. Sy staan in ’n bepaalde verhouding tot haar man, haar kinders, haar God, haar Verlosser.

Elke vrou het ’n hoof. Is sy getroud dan is haar hoof haar eie man en dan ook Christus wat tegelyk die Hoof van haar man is. Is sy ongetroud dan direk Christus. Dit bring ons by wat ek sou wou noem die hoofrol van die vrou. Haar hoofrol is die rol van onderdanigheid, van gesagserkenning. Elke vrou moet in die eerste plek die gesag van Christus oor haar erken. Die getroude vrou egter ook die gesag van haar eie man. Christus regeer haar deur haar man. Dit beteken al dadelik dat ’n gehuwde vrou nooit ’n werk buitenshuis mag aanvaar sonder medewete en instemming van haar eie man nie. Elke ongetroude vrou kan ook nooit ’n nuwe rol aanvaar waaraan Christus nie sy goedkeuring kan gee nie.

Maar nou is die hoofrol van die vrou bedoel om haar in haar ander rolle te stimuleer, aan te moedig sodat sy die tyd kan uitkoop, die beste gebruik van elke geleentheid kan maak.

Dit beteken ook dat haar vrouwees tot volle ontplooiing kan kom tot eer van God, tot heil van haarself, haar man en kinders, tot ’n goeie dienslewering in kerk en koninkryk, tot vrugbare arbeid in die maatskappy.

Wanneer ons ’n vrou wil ontmoet wat verskillende rolle met onderskeiding vervul, dan moet ons kyk na Spreuke 31. Daar word vir ons die Christenvrou geteken, die deugsame huisvrou wat nie in ’n rolkonflik vasgevang is nie, maar wat haar rolle in volledige harmonie met mekaar vervul. Maar dan moet ons tog veral let op haar hoofrol. Dit staan geskryf in Spr 31:30. ’n Vrou wat die Here vrees, sy moet geprys word. Sy leef in ’n persoonlike geloofs- en gebedsverhouding met God. Dit bly altyd die eerste en die belangrikste, ook vir die vrouens van 1983. Die vrese van die Here, die innige, persoonlike geloofsgemeenskap met God in Jesus Chrístus is ’n ankerplek. Dit bied houvas, dit gee rus en vrede. Dan kan ons uithou ook in die swaarkry van die lewe. Die vrese van die Here is ’n voortdurende inspirasiebron, dit skep altyd nuwe perspektiewe, dit laat ’n mens volhou en uithou, want God die Here is aan jou sy, Hy ondersteun jou, jy ondervind sy hand wat dra, sy Woord wat troos, sy Gees wat krag gee, sy liefde wat aanmoedig om liefde te betoon.

Die tweede rol van die deugsame vrou in Spr 31 is haar huweliksrol. Sy doen aan hom goed en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe (vs. 12).

Haar derde rol is haar optrede in haar gesin. En sy staan op as dit nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisie (vs. 15). Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom (vs. 25). Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie (vs. 27). Jy hoor hoe haar seuns haar prys (vs. 28) en hoe haar dogters hulle knap gedra (vs. 29). Jy kan by die kinders hoor en aan die kinders sien watter soort ma hulle het.

Haar vierde rol is haar besigheid. Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige bande (vs. 13). Sy dink na oor ’n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ’n wingerd (vs. 16). Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie (vs. 18). Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars (vs. 24).

Haar vyfde rol is haar barmhartigheidsbetoon. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige (vs. 20). Voorwaar nie ’n lui huisvrou nie.

Haar man word nie ondergeploeg nie. Van hom lees ons dat hy bekend is in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit (vs. 23). Hy is burgemeester of stadsbestuurder. Sy koop haar tyd uit. Sy maak die beste gebruik van elke geleentheid. Haar rol as vrou en moeder bots nie met die ander rolle nie. Ons sien hier ’n meerdimensionele rol, ’n rolverruiming sonder rolkonflik.

Dit kan net gedoen word wanneer die vrou van 1983 haar hoofrol op die regte wyse vervul, die innige, verrykende, persoonlike gemeenskap met God, die vrese van die Here.