Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Liefde - God se Voorbeeld

Hoe dikwels gebeur dit nie in ons lewe dat ons die godsdiens sommer outomaties doen nie? En hoe baie gebeur dit nie dat ons na die wêreld rondom ons kyk en ons sien nie meer die sorg wat ons uit die hand van die HERE ontvang nie?

Ons kyk en ons sien groot oorloë en rampe. Ons kyk ook in die geskiedenis terug: Na die Tweede Wêreldoorlog was daar ’n filosoof - Nietzsche - wat gesê het: “God is dood”. Dit kan tog nie ’n God van liefde wees wat so sorg dat christen-nasies teen mekaar oorlog maak nie. Die ontredderde mensdom raak moedeloos en dus ook troueloos.

Dit is egter nie nuwe dinge wat moderne mense uitgedink het nie, dit het al in die tyd van die profeet Maleági gebeur en dit gebeur vandag nog. Vandag is dit so maklik dat iemand veral ook in SA ’n slagoffer van rampe kan wees en dan baie maklik die gevoel kan kry dat God nie in beheer is nie, dat Hy nie omgee nie.

Ons sien onreg en geweld rondom ons en ons raak moedeloos en dan vra mens baie keer as jy in die negatiewe dinge van die wêreld vaskyk, want daar kan mos nooit positiewe dinge gebeur nie, dit is net negatiewe dinge Jy kyk daarna en vra: Hoe kan ons nog sê dat God ons liefhet?

Of ons gaan na ’n geliefde, een wat vasgekluister is, of ’n oue van dae, of gestremde of eensame, en dan word die worstelvraag, “Waarom moet dit so met my gebeur dat ek in die toestand geraak het?” Dikwels kan sulkes nie vir hulself praat nie. Dan kry jy ’n telefoonoproep van iemand wat redeneer - “die burgerlike wet het dit onlangs toegelaat - ons gaan maar vir ouma laat inslaap”.

Dan vra jy dieselfde worstelvraag van die kerkvolk rondom Maleági: hoe kan ons nog sien en hoor dat God sê: “Ek het julle lief?”

God verduidelik dit in Maleági1:2: “Ek het jou liefgehad …”

Miskien klink dit dalk skokkend vir ons as Hy sê Hy het ons lief, en die manier waarop Hy dit verduidelik as Hy sê dat Ek het julle uitverkies. Want dit klink so half onemosioneel, so sonder passie. So half wiskundig, 1 plus 1 is 2 - ek het julle uitverkies. Is dit liefde?

Vir ons wanneer ons oor liefde praat, dan is dit ’n emosie. As die jong man vir sy meisie sê "ek het jou lief" wat bedoel hy? Bedoel hy dalk: "Ek het nou so 'n emosionele opwelling vir hierdie oomblik hier in my binneste, en daarom sê ek nou vir jou ek het jou lief?"

Of sien ons dit nie eerder korrek wanneer twee mense in hulle liefde voor die kansel kom staan en hulle liefde verklaar op die manier waar dit eintlik op aankom as hulle vir mekaar en voor die HERE sê: “Ek het jou lief”, bedoel.. “Ek het jou gekies. Tussen almal uit het Ek jou gekies. En Ek sal alles doen om hierdie verhouding te laat werk. Ek het jou gekies!”

Dit is presies wat die HERE bedoel het toe hy vir Israel gesê het: “Ek het jou lief.” Hy is bereid om te offer om gestand te doen wat Hy besluit het. Wat het Hy geoffer? Hy het sy Eie, sy eniggebore Seun, wat Hy oneindig lief het, geoffer om die verhouding te maak werk.

Wat is die kerk se reaksie op Sy liefde. Wat is ons gehoorsaamheid, ons verbondstrou, omdat Hy ons eerste liefgehad het? Hy gaan hulle in die profesie van Maleági verder aanspreek oor hul tiendes, oor hulle huwelikstrou, oor die leer wat die priesters vir die kerkvolk leer, oor die sosiale wangedrag onder die volk … En Hy roep hulle terug na Hom toe, na hul oorgegewe diensbaarheid aan God, aan God se Woord. Terug na die hervatting van die goeie stryd. Reformasie. Daarvoor het die HERE die diens van Sy profeet Maleági gebruik om die godspraak uit te spreek. ’n Goddelike dekreet af te kondig.

Dit is die sterkste Hebreeuse woord wat soos ’n tweesnydende swaard God se onontkombare waarheid in die midde van Sy volk neerlê. Dit sal so wees en nie anders nie. En dit is die vraag. Wat maak ons met die liefdesverklaring van die HERE? HY EIS VERBONDSTROU.

Nou was die priesters van daardie tyd die ampsdraers wat gekoördineerd die bediening van die versoening vir die kerkvolk in die tempel behartig het. Hulle was as’t ware die kerkraad van die Ou Testamentiese kerk wat die kerkvolk in die diens van die HERE toegerus en leiding gegee het.

En hier is dan ook ’n belangrike knoop wat ons in hierdie skrifgedeelte moet raaksien: Dat die gehalte van die gemeente se godsdiens direk parallel loop en selfs direk eweredig is aan die strengheid, die erns, en die liefde wat die kerkraad vir die diens van die Here het.

Nog nader gestel: Die getroue liefde wat die kerkraad vir die HERE het, sal ook ’n regstreekse uitwerking hê op hoe getrou hulle sy Woord wil gehoorsaam, en dit sal ook ’n regstreekse uitwerking hê op hoe hulle gaan toesien dat die hele gemeente aan God gehoorsaam is.

As die voorskrifte van die HERE vir die Kerkraad heilig en vas en bindend gehou word, dan sal hulle ook nie vreemde godsdienste in stryd met die bevele van Christus van die gemeente aanvaar nie.

Maar hiermee is dit by verre nie klaar nie. Want in en deur Jesus Christus is ons almal vandag ook gesalf as priesters in die huis van God.

Ons is ’n koninklike priesterdom. In die gemeentelewe, in ons huise, en in die hele lewe van elke dag.

Ons word by die groot ontferminge en liefde van God geroep om ons liggame nie meer as bloedige offers nie, maar danksy Christus as lewende, heilige en aan God welgevallige offers te bring.

En dit vereis ’n oorgegewe liefde vir God in Christus, kinderliefde vir ons Hemelse Vader, wat Hom nie wil teleurstel nie.

Dit vereis gewillige diensknegskap, dat ons aan ons Heer en Meester gehoorsaam wil wees en Hom behaag, deur ons beste vir Hom te gee:

  • Die beste van ons goedere.
  • Die beste van ons tyd.
  • Die beste van ons gawes.
  • Die beste van ons professie.
  • Die beste van ons woorde, ons werke, ons gedagtes, ons kragte.
  • Die soeke na vrede met alle mense en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.

Hy gee ons dan nie net die gedaante van die godsaligheid nie, maar ook die krag daarvan.

Want die priesters dink by hulself en hulle sê vir die profeet: Smeek dan nou tog die aangesig van God dat Hy ons genadig kan wees!

Dan antwoord die Here in Maleági 1:14: Nee - vervloek is die bedrieër.

Dit is nie die HERE se vergewensgesindheid wat ’n verhindering in die weg is nie, maar die volk se bekeringsgesindheid. Die HERE is nie van sy volk afhanklik nie. Miskien het hulle met al hul offers al begin dink dat die HERE van hulle afhanklik is. Dit is beslis nie waar nie. Johannes die Doper het al vir die Jode gesê dat die HERE uit die klippe kinders vir Abraham kan verwek as Hy wil. En buitendien - Maleági vertel in Hfst 1:11 van die vergesig wanneer God se volmaakte offer wel vir Hom volkome aanneemlik sou wees. Dan sal die reukwerk van die ware aanbidding in gees en in waarheid uitgaan na alle nasies toe.

Totdat eindelik ons ook die groot en deurglansde troon van God sien en ontelbare duisendes voor sy troon uit elke volk en taal en stam en nasie.

Die HERE het vir Hom sy lieflingkerk uitgekies en sy Naam is groot onder die heidene.

Ons moet oppas om nie te klein van die HERE te dink nie. Israel moet oppas om nie te dink dat God alleen Judea onder sy sorg het nie. Die Here is ’n groot koning. Alle mag in die hemel en op aarde.

Laat ons dan sy Naam eerbiedig. Laat ons Hom liefhê wat ons so uitnemend liefgehad het. Laat ons sy Woord, sy bevele, sy instellings nie sommer liggies-liggies afmaak met argumentjies van menslike smaak of menslike walging nie. Sy eer is veel belangriker as dat ons die neus optrek vir sy instellings.