Bron: De Reformatie. 4 bladsye.

Melk, Vaste Spys of Kos vir Teoloë?

melk

Die Drie-eenheid van God word deur baie mense as brein-toertjie ervaar. Verklaar bietjie: drie = een. Dit is teologiese kos.

Om by daardie beeldspraak te bly:  In Heb. 6 sê die Bybel dat die gemeente geestelik gevoed moet word met vaste spys. Met dit in gedagte som die skrywer op wat melkvoeding inhou.  By die beginnersles vir die Christelike geloof behoort byvoorbeeld:  kennis van die ware God, en die leer van die doop. Beide vra dat die name van die Vader, Seun en Heilige Gees opklink. Dit is dus baie jammer dat hierdie onderwerp (die Drie-eenheid van God) in die kerk as moeilik en taai beskou word. Dit is nie in die Bybel so nie. Daar is die Drie-eenheid deel van die kursus vir beginners. Dit is nie eers in die eerste plek deel van die vaste spys nie; hierdie leer kry mens al saam met die melkvoeding in!

Dit is ook hoe dit in die praktyk van ons geloof werk. Gee ons nie net te min aandag daaraan nie?

Die Drie-eenheid kom byvoorbeeld dikwels voor in die kerkdiens. As jy God prys, as jy jou geloof bely, as daar gedoop word, as jy die seën ontvang ens. Dit roep nie die atmosfeer van ʼn teologiese diskussie op nie, maar van ʼn lewende omgang met God. Ons sal moet probeer om die eenvoudige betekenis van hierdie leer weer terug te wen in ons kerklike lewe. Soos dit byvoorbeeld in Sondag 8 van die Heidelbergse Kategismus op ʼn praktiese manier ingevul word.

Artikel 8 van die Nederlandse Geloofsbelydenis is meer ingewikkeld. Daarin word die dwaalleer verwerk. En dit is ook noodsaaklik. Maar as gevolg daarvan moet die positiewe betekenis van hierdie leer nie buite sig raak nie. Daaroor is Artikel 9 baie duidelik. Die Drie-eenheid kan nie net uit Bybeltekste geleer word nie, maar ook deur wat jyself ervaar van hierdie Persone se werk in jou lewe. Dit is dus geloofspraktyk en nie gevorderde wiskunde nie.

Net op hierdie manier durf ek die gewigtige woorde uit die belydenis van Athanasius na te sê. As iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie. Dit het nie betrekking op die teologiese oorweging van hierdie leer nie, maar op die praktiese sy daarvan. Wie nie vir God ken soos wat Hy is nie, het nie ʼn ewige lewe nie.

God Kom tot Ons🔗

Hoe moet ons op hierdie punt die Bybel lees?

Kom ons vergeet net gou van die terme: Drie-eenheid, wese, persone. Hulle kom nie in die Bybel voor nie.

Moet ook nie op losstaande tekste probeer bou nie. Ja, hulle is daar. Maar as jy die Drie-eenheid daarop wil grond, bly dit tog ʼn soort hoëre waarheid. Nee, kom ons besef watter soort boek die Bybel is. Die Bybel vertel hoe God na die mense kom. Deur middel van ʼn lang geskiedenis. Telkens weer en steeds naderby. Wil jy daardie God leer ken, is dit beter om aan die einde van die geskiedenis te begin. En aan die einde van die Bybel. Waarvandaan ons dan moet terugkyk en die balans opmaak. Wie is nou eintlik die God wat deur al die eeue heen, met al die dade en woorde na ons toe gekom het? Hoe kom Hy uit daardie geheel na vore? Dan eers laat ons die Here reg geskied.

Wanneer jy dit doen, dan sal jy oplet dat die Here drie keer ʼn soort aanloop neem.

Dink byvoorbeeld aan die see as dit in vloed is. Die branders spoel steeds ʼn bietjie verder op die strand uit. So kom die Here steeds nader aan ons.

  • Na die skepping begin die Here ʼn verhouding met Adam: ʼn verbond. Dit bly voortbestaan, ook na die sondeval. Die verhouding word wel voortdurend deur God vernuwe: by Noag, Abraham, op die berg Sinaï, na die ballingskap. Steeds is dit weer dieselfde persoonlike God wat die mense bly opsoek.

  • Totdat Jesus Christus verskyn. Die Bybel noem Hom ook God (Rom 9:5). God kom na ons toe. Maar op ʼn ander manier. Die brander spoel bietjie verder op die strand uit. Hy dring deur tot midde in ons sondige menselewe. ʼn Tweede persoon verskyn van agter die skerms vorentoe: God die Seun.

  • En nog dieper dring die Here deur, as Hy self in ons lewe kom woon. Die Gees laat homself aan ons gee op die Pinksterdag. Ook Sy naam is God (Hand. 5:4). Agter die skerms verskyn daar ʼn derde persoon in die soeklig van ons geloofsaandag.

golwe op die strand

Op hierdie manier vind daar ʼn lewendige en praktiese kennismaking met God plaas. So kom Hy in die geskiedenis van sy werke. Met hierdie God het jy omgang in die nuwe verbond. Dit is die groot lyn van die Bybel. Vir ons om God te leer ken uit sy werke is om die Vader en die Seun en die Gees te leer ken.

Jy sal nêrens in die Bybel lastig geval word met die vraag hoe dit eintlik moontlik is nie. Juis omdat daar maar een God is. Maak ʼn begin om hierdie Drie oorvloedig te leer ken. Nie om oor hulle te spekuleer nie, maar om met elkeen van hulle te lewe. Dit is baie verrykend vir ons band met die Here.

Opeenvolgende Verskyning?🔗

Maar is dit nie soos met wagte wat afgelos en mekaar opvolg nie? Die Seun wat die Vader opvolg en die Gees die Seun? Of is God dalk ʼn soort akteur wat na mekaar drie verskillende rolle speel? Sit Hy eers sy Vader-gesig op, waarna Hy homself as Seun voordoen en tenslotte speel Hy die Gees? Dit is hoe verskillende strominge in die hede en verlede gedink het.

Maar wanneer jy begin by die somtotaal van God se openbarings en vandaaruit terugkyk na die verskillende fases wat dit deurgegaan het, sal jy by nader insien hierdie drie in al die fases ontdek.

In die eerste fase herken jy al die kontoere van die Seun en die Gees. Alhoewel dit in die skadu van die Vader is.

Dink aan die ‘Engel van die Here’. Hy is een met God en tog ʼn bode, ʼn engel. God wat Hom deur God laat stuur. Is dit nie hoe Jesus later van Homself gepraat het nie? Daardie Engel is die God wat Moses ontmoet het by die doringbos. Sy naam is God se naam: wonderbaar in groot dade, soos Simson se vader dit mog hoor. So is daar meer begrippe wat mens laat dink. Ons hoor van die heerlikheid van God, die Naam van God, die woord van God, die aangesig van God, die Gees van God.  En gaan dit byvoorbeeld oor die Naam, dan lees jy selfs ʼn tipe persoonlike uitdrukking: God laat sy naam ‘woon’ in sy heiligdom (Deut. 12:11). Elke keer gaan dit oor ’n Persoon en dinge wat een is met God, en tog van Hom onderskei moet word.  Geen wonder dat selfs bepaalde strominge binne die Jodedom tot vandag toe in hierdie gegewens raakvlakke erken met die Christelike leer van die Drie-eenheid. Ons sien dit in die lig van die Nuwe Testament as kontoere van Christus en die Gees. Die Verbondsgod van die Ou Testament blyk geen eensame enkeling te wees nie!

Wanneer Jesus vervolgens op die voorgrond tree, doen die Vader nie ʼn stap terug nie. Jesus noem Hom ‘my God’ (Joh. 20:17). Hy praat met Hom. Hy laat ons die Vader nog duideliker sien. Ook die Gees blyk in die skadu volop aanwesig te wees. Die Vader gee Hom vir Jesus. Christus dien God deur die Gees.

Dit is ook hoe dit werk as die Gees op die voorgrond geplaas word. Die Vader en die Seun vervaag dan nie na die agtergrond nie. Die Gees verheerlik hulle. Hulle word dan nog meer op die voorgrond geplaas. In Joh. 14:23 sê Jesus baie uitdruklik: as die Gees in jou kom woning maak, kom Ek en die Vader saam.

ʼn Band met God🔗

By nader insien blyk die Here altyd so te wees – as jy Hom leer ken het met die sig op die eindpunt van sy openbaring. Alles wat Hy doen, doen Hy in die gemeenskap van die Vader, Seun en Gees.

Die skepping wat die werk van die Vader as bron van die lewe is, is immers ’n samewerkingsprojek. Die Seun het ook geskep (Joh. 1:1), netso ook die Gees (Gen. 1:2).

In God se omgang met Israel in die woestyn sien ons dat die Vader ʼn verbond sluit met sy volk. Maar in en deur die werk van die Seun. In Jesaja 63 staan geskryf:  in sy Engel (die Seun) was Hy naby en Hy het sy Gees gegee in die leiers van die volk.

Die geboorte van Jesus is die Seun van God wat Self na die aarde wil kom.  Tog het die Vader Hom gestuur. En die Gees het Maria swanger gemaak.

Jesus staan self op uit die dood. Tog het die Vader Hom opgewek. En die Gees het gesorg vir ʼn nuwe liggaam.

jesus opgestaan

Alles wat die Here vir ons mense doen, doen Hy soos wat Hy is. So is ook sy verhouding met ons. Net op hierdie manier kan ons band met Hom opreg wees. ʼn Band met God is ʼn band met die persoon van die Vader, die persoon van die Seun en die persoon van die Gees. Anders praat ons nie van die ware God nie. In jou omgang met die Bybel is dit belangrik dat jy hierdie Drie almal steeds beter leer ken.

Die HERE is Een🔗

Maar het ons dan tog drie gode? God is immers een!

Wat sê die Bybel as God se eenheid benadruk word? Allereers word daar dan ʼn grens “buitentoe” getrek: ander gode is nie God nie. Net die HERE is. Dan praat ons nog glad nie oor wat binne die grense is nie, oor wie die Here is nie. Dit sluit dus ʼn meervoud in God, nie uit nie. Buitendien beteken God se eenheid (bv. in Deut. 6) dat Hy uit een stuk is. Die Here is een, en dus moet ons Hom liefhê met ons hele hart, verstand en krag. Hy is “reguit”, openhartig in sy omgang met ons. En daarom moet ons “reguit”, openhartig wees in ons omgang met Hom. Die Here is in harmonie met Homself. Alles in Hom is harmonies op sy volk gerig. Laat alles in ons dan nou harmonies na Hom toe uitreik.

Ook dit sluit nie ʼn Drietal uit nie. Dit wys wel daarop dat daar tussen die Drie ʼn totale eenheid bestaan.

Aan die een kant gaan dit alles ver bo my bevattingsvermoë. Tog mag ek my wel ʼn voorstelling daarvan maak.

Jesus sê in Joh. 10:30: Ek en die Vader is een.  Met Athanasius as kerkvader, sien ek dit nie as ʼn abstrakte uitspraak oor God se eenheid nie. Maar anders as Athanasius, reserveer ek dit ook nie vir Jesus in sy mens-wees alleen nie. In Jesus se werk op aarde blyk iets van die harmonie tussen Vader en Seun.

As Seun voer Hy sy Vader se werke uit en spreek Hy sy Vader se woorde.

Hierdie harmoniese verhouding weerspieël, om dit nou maar so te sê, hoe dit van ewigheid tussen die twee is.

Die Bybel maak nie ʼn probleem van daardie meervoud naas die geloof in een God, nie. Paulus gebruik sowaar daardie meervoud om die geloof in hierdie Een God te stimuleer!  In 1 Kor. 8:6 sê hy in dieselfde asem: daar is vir ons maar een God die Vader. En een Here Jesus Christus..

Ons sou hom nou dalk kon uitvang op ʼn nuwe probleem: kyk Paulus, hier praat jy tog nou van twee persone?! Paulus wys juis op die een Heer, omdat hierdie Heer jou rig op die een God. Sodanig is die harmonie wat tussen die Twee bestaan.

Die kerkvader Gregorius van Nyssa gebruik die beeld van drie soekligte: saam verlig hulle die plek van ons donker bestaan. Die drie ligbundels vorm saam een ligstraal. In hulle werk sal jy hulle harmonie raaksien.  Dit is ook hoe dit in God self is.  Dit is iets wat ons nooit ten volle sal kan peil nie.

Ek het probeer betoog dat ons in ons omgang met God nie soseer die eenheid van God voorop moet stel nie. Begin daarmee om Vader, Seun en Gees elkeen te ken. Sien vervolgens hoe harmonieus hierdie Drie saamwerk. En erken vandaaruit dat daar tussen hierdie Drie ʼn eenheid bestaan.