Bron: Kompas, 2005. 2 bladsye.

'n Biddende Gemeente: Veelsydig!

Gewoonlik probeer ek, nadat ek ʼn paar dinge gelees en bestudeer het en voordat ek regtig begin skryf, ʼn opskrif vir elke hoofstuk uitdink. By die onderwerp van hierdie hoofstuk, naamlik die gebed van die gemeente, het die opskrif telkens weer verander, omdat ek elke keer weer ʼn ander aspek van die gebed teengekom het wat ook belangrik was.

Eers het ek gedink aan ʼn opskrif soos: “’n Paar honderd piromane bymekaar,” na aanleiding van ʼn preek van dr. P van Gurp oor die vuur wat die engel van die altaar geneem en op die aarde gewerp het. Die vuur was ʼn teken van die gebede van die gelowiges. Dit is ʼn uitleg wat aan ons gebed, sowel persoonlik as gemeenskaplik, ʼn swaar verantwoordelikheid gee: vuur op die aarde, stryd, ook vanweë ons gebed.

Verder het ek gedink aan die opskrif: “Lê dit maar daar neer,” waarby ek aandag wou bestee aan die ongelooflike feit dat die Here ons die moontlikheid bied om ons nood en dié van die hele wêreld voor die troon neer te lê. Dit is ʼn uitleg wat in rusgewende gedagte aan ons gebedspraktyk toevoeg: ons hoef dit nie alles self te dra nie, want Christus het dit reeds genoeg gedoen.

ʼn Ander opskrif was: “Gevoude hande, oop oë” (n.a.v. die boek van ds. P. Groenenberg). Dan wou ek iets sê oor een van die voorwaardes waaraan ons gebed moet voldoen, naamlik dat dit realisties moet wees. Kyk om jou na die wêreld, na jou lewe, jou sondes, jou van God gegewe moontlikhede en daarna kan jy gaan bid. Dit is ʼn uitleg wat ons gebede in ʼn aktiewe en aktuele raamwerk plaas: bid in jou binnekamer, ja seker, maar met die venster oop.

Nog ʼn ander titel: “Die wat waag, wen.” Hier sou ek uit dr. C Trimp se boek De gemeente en haar liturgie aangehaal het. Hy praat daar oor die gebed as waagstuk: nie as ʼn waagstuk met ʼn onsekere uitkoms nie, maar ʼn rustige doen en durf. Ek kom later hierop terug. Ek het amper met groot letters oor die bladsy geskryf: “Lees Trimp”, maar dit sou darem te maklik wees. Dr. Trimp se uitleg vertel ons dat ons sorgvuldig moet bid, dit mag nie ʼn deurmekaarspul word nie.

So het ek nog heelwat ander opskrifte gehad. Hoekom vertel ek dit alles? Om daarmee aan te dui dat die gebed van die gemeente soveel aspekte bevat. Dit het heelwat meer inhoud as wat ons gewoonlik besef. Ons is as gemeente besig met iets wat buitengewoon kragtig is, met iets wat ons baie klein moet maak, dit mag troosvol werk, dit moet ons volle aandag vra, met ons sorg en dankbaarheid. Vanuit ʼn liturgiese oogpunt is daar al baie gepraat oor die gebed in die erediens. Die meeste van dit wat ek daaroor gelees het, is van groot belang vir die voorganger wat die gebed uitspreek. Dr. Trimp praat byvoorbeeld oor die sorgvuldige voorbereiding en oor die gebruik van formuliergebede wat as voorbeeld kan dien vir die voorgangers, ens.

In omtrent alle boeke wat ek nageslaan het, is opgemerk dat die gebed wat die preek vooraf gaan, nie ʼn voorskot op die preek mag wees nie. So mag die “groot” gebed na die preek ook nie ʼn herhaling daarvan wees nie. Dit is goed dat ook die gemeente dit alles weet. Die gebed van die gemeente, soos verwoord deur die voorganger, het egter nog meer aspekte. Ek het in die begin van hierdie hoofstuk al ʼn paar genoem.

Kom ons kyk na ons kerkboek: In die orde van diens van Kampen 1975, wat in baie gemeentes gebruik word staan daar: skuldbelydenis en vra om vergewing, vernuwing en verligting deur die Heilige Gees. Skuldbelydenis. As gemeente moet ons nou aan die Here bely dat ons in die afgelope week maar weer slap gelê het. Ons het geywer vir byna alles, behalwe vir God se koninkryk wat tog eerste moet staan. In ons persoonlike lewe het ons dit weer reg gekry om nie ʼn enkele gebod oor te slaan in ons ongehoorsaamheid nie. Ook in ons amptelike werk het ons weer gefaal. As gemeente was ons nie ʼn werwende, warm eenheid waartoe die mense “van buite” hulleself aangetrokke gevoel het nie.

Deur die woord “skuldbelydenis” word ons liturgies reeds bepaal by ons swakte. Ons word ook daarby bepaal dat die Here in ons swakte sy krag aan die wêreld openbaar. Hierdie geweldige gebeurtenis vind plaas wanneer ons op Sondag saam ons hande vou en ons oë sluit.

Daaruit spreek ʼn ongelooflike gemeenskap! Al die klein frustrasies van elke dag verdwyn. Die moeite met die suster twee rye voor jou, verdwyn. Die rusie met ons broer of suster verdwyn. Ten minste … so sou dit behoort te wees. Want ons staan dan nou skielik saam met die broeder en suster voor God se troon, ons doen skuldbelydenis en mag geloofsekerheid hê oor die vergewing om Christus wil. Wanneer ons dit besef, wat word dan van ons probleem met die broeder wat ons verlede Woensdag blykbaar nie wou groet nie?

So lig die Sondagse gebedsdiens ons uit bo die lewe van elke dag, maar so plaas dieselfde gebedsdiens ons ook weer in die middel daarvan. Want ons vra ook om vernuwing en verligting deur die Heilige Gees. In die komende week mag ons dit weer “soos nuut” doen.

Deur die loop van die jare het ʼn pragtige voorbeeld van liturgiese spraakgebruik verlore gegaan.

Prof. Trimp skryf dat die Griekssprekende gelowiges, voordat hulle die Onse Vader opgesê het, in hulle gebed sê: “Verwaardig ons, Here, dat ons met vreugde en sonder vermetelheid waag om U, die Hemelse God, as Vader aan te spreek.”

Hierdie waag is nie ʼn waagstuk met ʼn onsekere uitkoms nie, maar hierdie woord spreek van die verregaande genade van God wat sy kerk tot soveel vrymoedigheid verwaardig. Hierdie liturgiese spraakgebruik leer ons, volgens prof. Trimp, hoeseer die gebed die absolute hoogtepunt van die Christelike lewe is. Geen mens reik hoër as die kind van God wat kniel voor sy aangesig nie. Om so te waag is nie ʼn waagstuk nie, maar ʼn rustige handeling op grond van die geloof dat God luister.

Dan nog iets oor die dankgebed en die voorbede, wat in die orde van Kampen na die preek voorkom. Die gebed is die vernaamste deel van die dankbaarheid, leer ons uit die Kategismus. Het dit u al opgeval dat die Onse Vader daarna in die Kategismus bespreek word, en dat die woord “dank” nie een keer daarin voorkom nie? Daaruit blyk dat die gebed op sigself al ʼn uiting van dankbaarheid is!

Dankbaarheid wat ons aan die Here offer op die reukofferaltaar. Die geur hiervan is vir Hom aangenaam.