Bron: De Reformatie, 2001. 4 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Na die Beeld van God: Oorblyfsel en Herstel

Karin het ʼn voltydse loopbaan as sekretaresse van ʼn direksie. Haar werkgewers is trots op haar besondere eienskappe. Hulle prys haar hardwerkendheid, haar kollegialiteit en lojaliteit teenoor haar werk. Sy laat haar vir geen goud weglok nie. In haar vrye tyd werk sy as vrywilliger by ʼn welsynsorganisasie. En sy doen dit met oorgawe. Sy is voluit betrokke by die wel – en veral – die wee van die inwoners wat voortdurend kom en gaan. Karin is nie ʼn Christen nie. Sy noem haarself  ʼn humanis. Sien ons by haar oorblyfsels van die beeld van God wat ons aan die begin herinner? Of is dit te veel gesê? En as dieselfde Karin dan wél ʼn Christen sou wees, sou sy dan na Christus as beeld van God lyk? In hoeverre is herstel moontlik?

Besondere status🔗

Aan die skepping van die mens het daar goddelike oorleg voorafgegaan (Genesis 1:26). Dit het nie by die skepping van ʼn enkele ander lewende wese gebeur nie, hoeseer die drie Persone ook al daarby betrokke was. Maar hierdie skepping is só besonder dat hieraan ʼn interne beraad voorafgegaan het. Klaarblyklik die hoogtepunt van God se skeppingswerk. Hierdie skepping raak God self. Alle lewende wesens op land, in die see en in die lug skep Hy na hulle aard, volgens hulle soorte. Maar die mens skep Hy na Sy beeld. Die pas geskape mens is meer as net dit. Byna ʼn goddelike wese (Psalm 8:6). Hy kry ʼn besondere status, want daar geen ander skepsel soos hy nie.

Wat maak hom dan so anders as die ander lewende wesens? Hy is nie sonder besef en kennis nie, nie instinkmatig soos diere nie, maar in die lewe geroep met ʼn volle bewussyn. ʼn Selfstandige wese, toegerus met ʼn helder verstand, fyn gevoel en suiwere wil. In die mens het God ʼn persoonlikheid geskep, ʼn ‘teenoor’, van Gesig tot gesig. Dit maak hom so uniek en beeld van God. Hy is in besonder afgestem op sy Skepper, met die bedoeling dat hy van binne God se liefde sou beantwoord. Met ʼn hart wat na Hom uitgaan. Niks is hier opgelê of voorveronderstel nie. Want hy is nie ʼn voorafgeprogrammeerde robot nie. Hy is ʼn mens met keusevryheid, nie vryblywend nie, maar vrywillig.

Verteenwoordiging🔗

Baie van wat oor die mens as ‘beeld van God’ geskryf is, begin met ʼn korreksie. Dit beteken naamlik nie dat ons, mense, ʼn afbeelding van God is nie; asof ons op ʼn bepaalde manier soos Hy sou lyk nie. Of dat ons uiterlik ooreenkomste toon nie. Die hoë God kan nie in beelde vasgevang word nie. Maar wat dan? Dit gaan nie oor die uiterlike nie, maar oor verteenwoordiging. So het godsbeelde vroeër die invloed van ʼn godheid in beeld voorgestel. Hy toon daarin dat hy aanwesig is. Die mens as beeld van God is nie geskape om die onsigbare God af te beeld nie, maar om Hom in sy doen en late uit te beeld. Dit teken sy hoë posisie. Hoe mens hul ook al verder noem: onderkoning, burgemeester, ambassadeur, so iemand hoef glad nie te lyk soos diegene wat hy verteenwoordig nie. Solank hy voluit betrokke is met sy opdraggewer. En dit ook wys.

In verhouding🔗

Beeld van God wees, teken ʼn posisie, maar dit beteken ook ʼn verhouding. In die eerste plek die verhouding met sy Skepper. Dit is sy natuur. Gerig op ooreenstemming met Hom, om aan Hom gehoor te gee, en op Hom te vertrou. Daarby kom die verhouding met die medemens. Want God het nie los individue geskape nie. Van die begin af het Hy mense op mekaar aangewys, afgesien van geslag of karakter. En daaruit vloei die verhouding met jouself voort. In die lig van omgang met ander ontdek jy wie jyself is. Die verskil bring die onderskeie gawes na vore. Ten slotte: die verhouding met die omgewing om jou. ʼn Mens kan moeilik losgemaak word van sy omgewing.

Kortom, dit is die bedoeling dat die mens reg sal doen aan sy Skepper, sy medemens, homself en sy omgewing. Met één woord: geregtigheid. Dit gee die juiste verhouding aan waarin mense geplaas is. Alles is so noukeurig in ooreenstemming gebring, dat die minste of geringste afwyking groot gevolge het.

Skep, beheer en bewaar🔗

Die posisie is aangedui en die verhoudings geteken. Maar waarin kom verteenwoordiging uit? Mens sien ʼn duidelike voorbeeld wanneer Adam die diere name gee. God bring hulle na hom toe om te sien hoe hy hulle sou noem (Genesis 2:19). Vir God is Adam se selfstandigheid belangrik, hy mag vryuit optree en sy onderskeidingsvermoë gebruik om soorte uit mekaar te hou. Hy kan met behulp van die nodige kreatiwiteit gepaste name bedink. Dis tipies vir die mens: kreatiewe beheersing. Die mens as beeld van God kom daarin tot uiting. Sy optrede is ʼn weerspieëling van sy Skepper. Want Hy kon Homself – selfs by voorbaat – heeltemal in die resultaat herken: soos die mens elke lewende wese noem, so sou hulle naam wees (2:19). Daar is volop ruimte vir kreatiwiteit: uitdagings tegemoet gaan, vernuwing aanbring, nuwe kombinasies daarstel.

Vir beheer van die skepping is kreatiwiteit nie die een en al nie. Dit is nie bloot die bedoeling om iets nuuts te ontwikkel nie. Dit is ewe belangrik om te bewaar: sorgvuldig om te gaan met wat die skepping bied. Die mens is nie verniet ook toegerus met die vermoë om te waardeer nie.

Voorbeeldig🔗

Tot nou toe is gepraat oor die mens. Die méns, Adam, is na die beeld van God geskape. Maar dit sluit manlik en vroulik in. Omdat Mannin toe nog nie uit hom geneem is nie. Die manlike en vroulike is wesenlik vir die uitbeelding van God op aarde. Sowel die tipies manlike as die tipies vroulike eienskappe wys bo hulleself na Hom. Die eie van ʼn man én ʼn vou moet tot uitdrukking kom as die mens tot sy reg wil kom as beeld van God.

Ook in die eenheid wat God aan Adam en Eva gegee het, moet hulle hul God weerspieël. Die eenheid strek natuurlik veel verder as liggaamlike eenwording. Dit kom tot uitdrukking in saamwerk, saam deel, saam optree, saam opbou, ens. Die liefde wat deur hierdie eenheid bewerk word, moet tot voorbeeld strek vir alle maatskaplike verhoudings. Die blyk veral as ʼn man en ʼn vrou vader en moeder word. In die sorg vir hulle kinders vertoon hulle as vader én as moeder die beeld van God.

Gebroke🔗

Wie dit goed besef kom tot die ontdekking hoe positief die mensbeeld in die Bybel is. Let wel: byna goddelik! Christene word dikwels verwyt dat hulle ʼn negatiewe mensbeeld het. Vanuit die Woord van God gesien is dit verkeerd. Op geen enkele manier is dit so, as jy na die eerste begin kyk nie.  En selfs nie as jy die slegte ontwikkeling daarna in ag neem nie.

Maar het die mens nie erg teleurgestel nie?  Het hy nie diep vanuit sy hoë posisie verval nie? Hy was nie tevrede met sy hoë status nie en wou nog hoër wees. Verbeel jou! Om vervolgens ʼn karikatuur van God se beeld te word (Genesis 3:22). Al die verhoudings is ontwrig. Dit het direk geblyk nadat die eerste mense hulle van God losgemaak het. Toe die verhouding met God verbreek word, kom daar ʼn breuk in alle verhoudings. Hulle onderlinge verhouding verbreek in verwyt. Hulle vervreem van mekaar in skaamte. Hulle voel ook nie meer veilig in hulle omgewing nie en kruip weg. Wat het oorgebly van die mooi saamleef? Onherstelbaar ontwrig. Het die mens nie hier sy posisie as beeld van God kwytgeraak nie?

Nie heeltemal nie, of heeltemal nie?🔗

Hierdie vraag het baie mense besig gehou. Die een sê: Beslis! Daar is niks meer van oor nie, hoogstens ʼn herinnering. Die beeld is as 't ware vergruis. Die ander sê: aan die een kant wel, aan die ander kant nie. ʼn Verlore posisie as mens sien in hoeverre mense God nog in hulle optrede verteenwoordig. Tog kan jy op geen plek in die Bybel in soveel woorde lees dat die mens die beeld van God verloor het nie. Op twee plekke word eerder in die ander rigting gewys. In Genesis 9:6 word gesê dat geen bloed vergiet mag word nie omdat die Skepper die mens na sy beeld gemaak het. En in Jakobus 3:9 word die erns daarvan aangedui om mense te vervloek wat na die gelykenis van God gemaak is. Hier is nie maar net sprake van ʼn herinnering nie. Dit is duidelik dat mense nog steeds as sodanig beskou word. Hoe afsigtelik mense ook al geword het, vervreem van Hom en ander, hoeseer hulle aangetas, verwronge en gekneus is, vir God is die beeld steeds daar. Hy bly daarin sy oorspronklike skepping sien, soos oorspronklik deur Hom gewil. Hy het die hoë posisie nooit ongedaan gemaak nie. Nooit iemand as beeld van God ontslaan nie. En die menslike lewe bly dan ook vir Hom kosbaar en waardevol. Die hoogtepunt van sy skepping raak Hom so, dat wie aan sy skepsel raak, aan Hom raak. Dit raak Hom in sy Skepper-wees. Wie die mens onteer, smaad sy Maker.

Oorblyfsels🔗

Is daar – om dit so te stel – nog oorblyfsels van die beeld van God? Toegegee, dit is beeldspraak, maar dit is aanloklik. Wanneer mense onherroeplik godsdienstig blyk te wees en hulleself bly afvra: is daar tog iemand daarbo? Hulle kan hulle nie verontskuldig nie; die krag en goddelikheid van Hom kan duidelik gesien word (Romeine 1:20). Jy sien medemense met al hulle inspanning hulp verleen; reg staan om by te staan en tegemoet te kom. Daar is steeds weer nuwe pogings om, ten spyte van werksdruk, vrywilligerswerk te doen. Daar is nie veel beloning daarin nie. ʼn Ander weer span hulle in vir omgewingsbeheer en is bereid om baie op te offer vir ‘groen’ aksies.

Sien ons nie hier oorblyfsels van die beeld van God nie? Soos artikel 14 van die NGB praat van “slegs klein oorblyfsels”? En in die Dordtse Leerreëls III/IV, 4 oor ʼn sekere mate van deug en betaamlikheid. In die Bybel kom ons hulle ook teë, mense wat ʼn goeie voorbeeld stel (Genesis 20) of buitengewone mensliewendheid betoon (Handelinge 28:2). Nee, met al die oorblyfsels kom mens nooit by die oorspronklike beeld nie. Net so min as wat jy ʼn gebreekte spieël kan regmaak. Maar dit beteken nie dat daar nie oorblyfsels is nie. Ook daarvoor kan jy God dank dat Hy nog soveel mooi gawes van sy oorspronklike skepping laat uitkom. Selfs al erken dié mense Hom nie. Die bekwame bestuurder wat goeie belange behartig, die sakeman met wie jy met vertroue besigheid kan doen, die psigiater wat uitstekende advies gee, die spesialis wat jou in die hospitaal goed ondersteun, die verpleegster wat jou so uitstekend versorg, die musikant wat so skitterend speel, die dirigent wat elke sanger tot sy reg laat kom. God kan ongelowiges inspan om sy krag te toon en sy grootheid te laat sien. Of Christene aan die dink sit, hoe selfs kinders van die duisternis meer verstandig te werk gaan as kinders van die lig (Lukas 16:8).

Hoogste waarde🔗

Met beeld-oorblyfsels kan jy nog geen oorblyfsel-beeld skep nie. Die gevaar is altyd dat ons die oorblyfsel se waarde te hoog skat. Dit gebeur as die aandag afgelei word van die goeie God wat nog so baie gee, selfs aan mense wat Hom nie erken nie. Ons oorskat die oorblyfsel se waarde as ons onderskat hoe essensieel die verhouding met God is.

ʼn Mens kan só voorbeeldig wees, betrokke wees by die omgewing, ens. Maar dit word lelik en selfs afsigtelik as God op geen manier erken of verteenwoordig word nie. Dit is waar: om beeld van God te wees, staan of val deur ʼn verhouding met Hom. Want hoe kan iemand na God wys as hy of sy in die daaglikse praktyk van Hom wegwys? Is hy of sy dan nog die naam ‘beeld van God’ werd? In die lig hiervan sou jy kon sê: dit het heeltemal verlore gegaan. Daar is nie meer sprake van nie, heeltemal nie. Maar God sy dank dit het nie heeltemal verlore gegaan nie. Hy bly dit steeds in sy skepsel sien, en behou die verhouding.

Perfekte ewebeeld🔗

Daar is één van wie gesê kon word dat Hy God kompleet verteenwoordig. Nie deels nie, maar in sy geheel. Christus, die ewebeeld van God. Hy is beeld van die onsigbare God (Hebreërs 1:3). Perfekte ewebeeld! Hy bring in alles tot uitdrukking wie God is. Die verwysing na sy Vader is heeltemal helder. Niemand hoef iets agter Hom te soek nie, Hy is in sy hele doen en late op God gerig. Daar is niks wat die beeld vertroebel nie. Daar is nie sprake van die geringste afwyking nie. Hy gee ʼn helder beeld (2 Korinthiërs 4:4). Hy gee ʼn geheelbeeld (Kolossense 1:13-15). Hoe kan dit anders? Want in Hom woon die Godheid liggaamlik (Kolossense 2:9). In Hom kom die hoë posisie van die mens heeltemal tot sy reg (Psalm 8; Hebreërs 2:6). Aan die kruis laat Hy sien hoe afsigtelik die mens geword het. Maar juis daar herstel Hy alle verhoudings: die met God, met die medemens, met sy omgewing, én Hy versoen mense met Homself.

Soos Christus lyk?🔗

Christus alleen is in staat om die beeld van God te herstel. Nie allerhande kunsies met opgeboude oorblyfsels nie; maar ʼn volledige herstel. Hy begin met die herstel van die posisie. Hy bring weer in verhouding met sy Vader, die Skepper (Johannes 20:17; 2 Korinthiërs 5:17). Dit is die eerste! Vervolgens werk Hy deur sy Heilige Gees aan die herstel (Galasiërs 6:15; Romeine 8:29; 2 Korinthiërs 3:18). Dit begin met die inwoning deur sy Gees. Só oefen Hy van binne invloed uit. Daar moet die herstel begin, in die hart. Die beeld moet langsamerhand na sy beeld gevorm word (Efesiërs 4:24; Kolossense 3:10).

Maar beteken dit dat sy Christene ook soos Christus lyk? Dit hang maar af hoe jy daarna kyk. Nie in die sin dat ons Hom sou naboots nie, want sy taak op aarde was uniek. Hoogstens ʼn uitstraling van sy skitterende eienskappe waarmee Hy sy taak volbring het, soos dit opgesom word as vrug van die Gees (Galasiërs 5:22). Maar dit groei ook net in die verhouding met God en met mekaar.

Beeld van die hemelse🔗

Die mooiste is nog in die vooruitsig. Hier het ons ʼn gebrekkige beskouing van ons posisie as beeld van God. En by wie is dit werklik sigbaar? Ons kan al bly wees as daar iets daarvan in ons mense is, waarin God gesien kan word. As die begin maar dáár is. Dit sal eers heeltemal sigbaar word as ons die beeld van die hemelse dra (1 Korinthiërs 15:49).

Niemand is klaar met menswees nie. Danksy Christus word jy weer mens. Ware humaniteit ontleen jy aan Hom. Die veelkleurigheid van al sy mense weerkaats in sy lig soos in ʼn prisma. Daarin kan God Homself weer heeltemal herken, soos dit was toe Adam die diere name gegee het. Die eienskappe van mense sal weer skitter en die heerlikheid van God weerspieël. Die regte verhouding kom weer terug wanneer geregtigheid plek in die hele wêreld het. En heiligheid die eerste en laaste woord het, omdat alles gerig is op verheerliking van God. Dit sal ʼn skitterende gesig wees wanneer al sy mense sigbaar beeld van God geword het.