Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Om die waarheid te onderskei

Hoe gemaak wanneer daar in die kerk oor ‘n bepaalde saak teenoorstaande standpunte vanuit een en dieselfde Bybel beredeneer word? Min dinge is só verwarrend – veral vir die gewone lidmate. Neem byvoorbeeld die huidige debat oor homoseksualiteit. Vanuit dieselfde Skrifgedeeltes word tot totaal teenoorstaande konklusies gekom. Dit veroorsaak polarisasie en verdeeldheid. Dieselfde geld ook vir ‘n saak soos die vrou in die amp. Vanuit dieselfde Bybelgedeeltes, op grond waarvan die besondere ampte vroeër (sedert die Reformasie) vir vroue geslote was, is dit nou toelaatbaar. Klaarblyklik is dit net ‘n kwessie van interpretasie – hoe ‘n bepaalde Skrifgedeelte geïnterpreteer word. En, wie interpreteer dit in watter praktiese omstandighede? Vir die lidmate skep dit verwarring, maar nie vir die teoloë nie, want hulle het begrip vir die “postmoderne” tydsgees waarin relativisme die kitaar slaan. Dit beteken dat almal maar net soekers is na die waarheid. Iets soos absolute waarheid bestaan nie. Elke mens moet vir hom/haarself duidelikheid kry oor wat waarheid is. Wie op grond van die Skrif daarop aanspraak maak dat hy/sy die waarheid ken, word as fundamentalis (iemand wat glo dat daar slegs sekerheid en vastigheid is in absolute finale waarhede). Die Bybel is die objektiewe waarheid waaraan alle standpunte getoets word om te bepaal of dit waar is of nie) geëtiketteer en opsy geskuif.

Hierdie toedrag van sake spruit voort uit ‘n filosofiese projeksie wat terugwaarts op die geskiedenis gemaak word. Hiervolgens moet die geskiedenis in drie tydperke/fases ingedeel word. In elkeen van hierdie drie tydperke word die lewe op radikaal verskillende maniere deur die mens gesien en geïnterpreteer. Die tydperke word genoem die premoderne (voorwetenskaplike) tyd, die moderne (wetenskaplike) tyd en die postmoderne (nawetenskaplike) tyd. Die premoderne tyd strek tot by Kopernikus (1514) vanwaar die wetenskap ernstig begin ontwikkel het en die moderne fase ingelui het. Die Eerste en Tweede Wêreldoorloë het die postmoderne tyd ingelui, waar die geloof in absolute sekerhede aan skerwe gespat het. Die premoderne tyd word gekenmerk deur ‘n naïewe wêreldbeeld en ‘n gebrek aan wetenskaplike kennis. Die moderne tyd word gekenmerk deur die mondigheid van die mens en die klem op vasstaande kennis en absolute waarhede. In die postmoderne tyd is waarheid en kennis slegs voorlopig en onseker en staan die regte van die individu voorop.

Van belang is om te sien dat die Bybel in die premoderne fase ontstaan het en die gereformeerde belydenisskrifte in die moderne fase. Beide is dus uit pas met die postmoderne tyd waarin ons tans leef. In die premoderne tyd is daar geglo dat slange kan praat, visse mense kan insluk, die see kan opdroog, daar iets soos ‘n duiwel is, iemand uit ‘n maagd gebore kan word en boonop fisies uit die dood opstaan – want dit is in lyn met die premoderne mens se wêreldbeskouing. Die Bybel is dus in pas met die premoderne tyd. Vêrder is die gereformeerde belydenisskrifte in lyn met die moderne fase, waar daar nog geglo is aan absolute waarhede en sekerhede. Iemand soos Calvyn sal beslis as “fundamentalis” bestempel word, maar ter versagting sal aangevoer word dat hy maar net ‘n kind van sy tyd was en daarom ‘n moderne lewens- en wêreldbeskouing gehad het. Vir sy tyd, was Calvyn dus goed en reg. Maar nóú, in die postmoderne tyd, het ons dáárdie skoene ontgroei en kan ons nie meer die Bybel en die belydenisskrifte klakkeloos napraat nie. Ons kan nie in ‘n postmoderne tyd op ‘n premoderne/moderne wyse dink en glo nie. Sou ‘n mens dít probeer doen, sal jy jou intellek moet opoffer en uiteindelik in fundamentalisme verval. Op watter wyse moet daar dus met die Bybel omgegaan word ten einde die postmoderne mens se intellek te bevredig? Hoe kan daar met intellektuele integriteit geglo word? Die Bybel en belydenisskrifte moet gestroop word van alle premoderne/moderne verpakkingsmateriaal wat met die postmoderne mens se intellek bots. Slegs die essensie van die geloofsinhoude (wat intellektueel aanvaarbaar én verklaarbaar is) moet behou word sónder om daarvan absolute waarhede te maak. Die individu moet die vryheid behou om self die “waarheid” vir hom/haarself te kontekstualiseer.

In die lig hiervan word heelwat dinge, wat huidiglik in die kerk plaasvind, duidelik. Wie aan Skrif en belydenis wil vashou, word daarvan beskuldig dat hy/sy deur ‘n moderne bril (belydenisskrifte) na premoderne geskrifte (die Bybel) kyk. Aan die anderkant verkondig postmoderniste doodluiters dat hulle steeds aan Skrif en belydenis vashou, terwyl hulle daaraan (sonder om dit te sê) velerlei vreemde inhoude toeken. Só sal ‘n postmodernis byvoorbeeld die leer van Christus se opstanding onderskryf, terwyl hy/sy daaraan ‘n ánder inhoud gee as wat die Skrif en die belydenisskrifte doen. Onder die dekmantel van die driedeling van die geskiedenis, word die grootste dwaalleer en kettery dus die kerk ingebring en geduld. Hierdie driedeling word die vrypas om blatante ongeloof en Skrifkritiek in die kerk te akkommodeer sonder dat ‘n haan daaroor kraai.

Die vraag is: hoe moet die gewone gereformeerde kerklidmaat deur hierdie verwarring sy/haar weg vind? Eerstens kan die gelowige met baie groot sekerheid weet dat die genoemde driedeling van die geskiedenis ‘n valse voorstelling van die geskiedenis is. Dit is ‘n suiwer filosofiese projeksie wat op die geskiedenis afgeforseer word. Dit kom nie vanuit die geskiedenis self op nie. Die geskiedenis word gedwing om iets te sê wat die historiese feite hoegenaamd nie sê nie! Wie baie fyn kyk, sal sien hoe die grofste vorm van humanisme in die sogenaamde postmodernisme verskuil lê. Dit gaan ten diepste oor die vergoddeliking en verheerliking van die mens en sy gewaande regte. Die oerleuen van Genesis 3:5 kry ongetwyfeld in die postmodernisme sy beslag.

Tweedens moet die gelowige let op die selfgetuienis van die Skrif self en dááraan ten alle koste vashou. Wat getuig die Skrif van homself? – dit is die vraag. Geen mens het die reg om die selfgetuienis van die Skrif te weerspreek nie, want wie beskik oor die superkennis om béter te weet as wat die Skrif oor homself getuig? Wat is die inhoud van die Bybel se selfgetuienis? Die Bybel getuig van homself dat hý die absolute waarheid is. Die Bybel getuig van voldonge sekerhede! Die Bybel bevat nie die waarheid nie. Die Bybel is die waarheid (Joh. 17:17). Die Heilige Gees is die Gees van die (absolute) waarheid (Joh. 14:17, 16:13). Om dus te beweer dat die (premoderne) Bybelskrywers nie oor die kennis kon beskik wat ons vandag het nie, grens aan laster, want dit ontken die onfeilbare inspirasie van die Heilige Gees wat nie ingeperk word deur die lewens- en wêreldbeskouing van ‘n bepaalde historiese fase nie. Om die werklikheid van Christus se maagdelike geboorte en Sy fisiese opstanding in die raamwerk van ‘n primitiewe “premoderne” lewens- en wêreldbeskouing te plaas, is gelykstaande aan die vergoddeliking van die menslike intellek wat nie aan sulke Godswonders kan/wil glo nie. Omdat die méns se intellek dit nie kan aanvaar nie, word dit uitgerangeer deur dit as “premoderne denke” af te skryf. So asof die lewende God Hom laat inperk deur die mens se intellek. Opvallend is die willekeur waarmee voorstanders van die “driedeling” die Bybel benader: sake wat tot voordeel van die mens is, soos die regverdigmaking deur die geloof, die vrye genade van God, die genadeverbond ensovoorts, word aanvaar. Dán is die “premoderne” Bybel die absolute waarheid. Maar, wanneer dieselfde Bybel sake aanroer wat vir die menslike intellek onaanvaarbaar is - soos die maagdelike geboorte van Christus en Sy fisiese opstanding - dán is dit premoderne begrippe wat op ‘n ánder manier verstaan moet word as hoe die Bybel daaroor praat. Die uitweg uit hierdie verwarring is om die selfgetuienis van die Skrif onvoorwaardelik en kinderlik te aanvaar, óók wat betref díé sake wat vir die (hoogmoedige) intellek onverklaarbaar is.

Derdens moet die gelowige weet hoe om tussen al die verwarrende standpunte te onderskei. Wanneer teenoorstaande standpunte vanuit dieselfde Bybel beredeneer word, hoe kan die gelowige onderskei wat die waarheid is? Dit is belangrik om te weet dat die boodskap van die Bybel altyd lynreg teenoor die méns met sy aansprake en regte staan. Die leuen sal dus altyd op die een of ander manier verband hou met ‘n handhawing van die méns terwyl die waarheid altyd verband hou met Gód se aanspraak op die mens en die handhawing van Sý reg oor die mens. “Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind” het ons Here Jesus Christus gesê. Wanneer ‘n mens dus gekonfronteer word met verwarrende standpunte, is daar ‘n manier om te weet wat die waarheid is - selfs al is daar geen duidelike teksgedeelte wat dit eksplisiet staaf nie. Neem die geheelboodskap van die Bybel as maatstaf en vra oor elke standpunt/siening die volgende vraag: “Waarin sentreer die diepste grondmotief van hierdie bepaalde siening? Sentreer dit in die handhawing van die méns se regte en aansprake of sentreer dit in die handhawing van God se aanspraak en reg op die mens?” Laasgenoemde sal altyd in lyn wees met die waarheid van die Woord.

Die Skrif en belydenisskrifte ken nie ‘n driedeling van die geskiedenis nie, maar wel ‘n tweedeling wat deur alle eeue loop: Geloof en ongeloof. God se reg/aanspraak op die mens teenoor die mens se gewaande reg/aanspraak op God.