3 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Omkering van die Vloek

droogte

God het aan ons “’n nuwe hemel en ʼn nuwe aarde” belowe (Op. 21:1). Sommige mense het die gevolgtrekking gemaak dat God eenvoudig die huidige skepping, om dit so te stel, op die vullishoop gaan gooi en weer van voor af sal begin. Maar dit kan nie reg wees nie. Ons is self deel van die huidige skepping. En as ons op Christus vertrou weet ons dat ons nie op die vullishoop sal beland nie!

In Romeine 8:18-25 toon God aan ons hoe ons oor die toekoms moet dink. Ons wat aan Christus behoort is “kinders van God” (Rom. 8:14-15, 19). Die Gees van God woon in ons en waarborg daardeur ons finale verlossing (Rom. 8:23). Ons het selfs nou reeds die ewige lewe (Rom. 8:6, 10; Joh. 5:24), maar ons verlang na die volle koms van lewe en vrede in die toekoms: “...maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het. Hy sal ons van die verganklikheid bevry” (Rom. 8:23).

Ons doelwit word deur Christus self gedefinieer. God het “Dié wat Hy lank tevore verkies het, ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is” (Rom. 8:29). Christus is “die eersgeborene onder baie broers,” nie net omdat sy opstanding chronologies eerste plaasgevind het nie, en ook nie omdat Hy voortreflik verhewe bo ons is nie, maar omdat sy opstanding die patroon, of model, is wat ons naboots en waarby ons moet aanpas. Hy is ons plaasvervanger en het nie net ons sonde gedra nie, maar vertoon ook die volle beeld waarvolgens ons saam verbind is en waarnatoe ons getransformeer word. “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Rom. 8:11). “Soos ons die beeld van die stoflike mens [Adam] was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees [die opgestane Christus]” (1 Kor. 15:49; sien ook verse 42-49). “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word” (2 Kor. 3:18). God het ʼn plan vir die hele skepping, nie net vir die mensheid nie. “...die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê” (Rom. 8:21). Sommige mense het gedink dat die “skepping” waarvan hier gepraat word slegs mense insluit. Maar Rom. 8:21 maak klaarblyklik onderskeid tussen “die skepping” aan die een kant en “die kinders van God” aan die ander kant. Die kontras word duidelik gestel in Rom. 8:23: “En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook”. Die kontras dui aan dat “die skepping” ook diere, plante en nie-lewende dinge insluit, en nie slegs menslike wesens nie.

Die skepping is immers nog aan nietigheid onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.Rom. 8:20

Verganklikheid het reeds begin met die sondeval van Adam, omdat die sondeval invloed gehad het op die wêreld onder Adam se heerskappy – dorings en distels, swaar swangerskappe, pynlike geboortes (Gen. 3:16-19). Die skepping as ʼn geheel, en nie net Adam nie, is “aan nietigheid onderwerp”. As ʼn gevolg van die sondeval ondergaan alle mense wat van Adam afstam sonde en  dood, en maak mekaar seer in hul sonde en ellende. Maar die vloek wat God as gevolg van Adam se val uitgespreek het, het ook veranderinge in die breër skepping tot gevolg gehad.

onkruid

Dink maar aan muskiete, lintwurms, hondsdolheid, en al die draers van siektes wat die mens so verswak – wie kan aan al die maniere dink waarop die geskape orde verwring is as ʼn gevolg van die sondeval?

Maar Christus se verlossing bring ʼn ommekeer en ʼn middel tot genesing van die hele ramp van die sondeval. Bo alles bring Christus ook ʼn herstel van die sonde, soos Romeine 8:21-26 en die res van Romeine 8 aandui. Maar Sy oorwinning sal ook die groter skepping vrymaak van “nietigheid”, dit wil sê, van die gevolge van die vloek. Die skepping was aanvanklik goed, en verganklikheid het eers ingetree by die sondeval. Daar is dus ʼn werklike rede om te glo dat God die nietigheid sal uitdelg sonder om daarmee saam die goeie skepping te vernietig. En dit is wat in Romeine 8:21 belowe word: “...die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.”

Wat ʼn wonderlike hoop het ons! Let op die verskil tussen Bybelse hoop aan die een kant, en ʼn materialistiese, evolusionêre wêreldbeeld aan die ander kant. Materialisme sê dat al die kwaad en lyding wat nou in die wêreld is maar altyd daar was, minstens in beginsel. Dit sê: “Daar is nie iets soos die sondeval nie.” Alles gaan maar voort soos dit altyd was (2 Pet. 3:4). Daar was nie ʼn ingrypende ontwrigting wat die aanvanklike goeie toestand bederf het nie. Maar dit beteken dat kwaad en lyding inherent is aan die aard van alle dinge, sodat daar nie hoop is om die boosheid finaal uit te skakel nie. Dit is werklike nietigheid, wat lei tot wanhoop.

God se Woord daarenteen verdryf wanhoop. Dit gee vaste grond vir ʼn hoop op ons toekomstige vryheid. Ons sien uit na die finale opheffing van dood, trane en pyn (Op. 21:4). Verder is die vryheid van God se kinders die voorbeeld vir die vryheid van die skepping in sy geheel: “Die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê” (Rom. 8:21). Soos ons gesien het is die voorbeeld van Christus se opstanding ook die voorbeeld vir ons opstanding. En volgens Romeine 8:21 is ons verlossing die patroon vir die verlossing van die skepping. Dit behoort ons nie te verbaas nie wanneer ons besef dat Hy die Skepper en Here is van die hele kosmos (Kol. 1:15-17). Aangesien Hy die Skepper is, is Hy ook die Verlosser en Here wat die hele skepping van “nietigheid” verlos (Kol. 1:18-20). Eers kom die skepping, dan verlossing as die herstel van die skepping, en laastens die voleinding as die doelwit van die skepping. Daar is ʼn samehang tussen die drie in die doel van God. Hy bereik al drie deur Sy Seun, die enige Middelaar.

Verlossing keer die effek van die sondeval om. Maar dit bring ons nie net terug na die toestand van voor die sondeval met Adam nie. God het van die begin af beplan vir ontwikkeling. Adam en Eva sou kinders hê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit” (Gen. 1:28). Die geskape wêreld is op pad na sy bestemming, na die voleinding, wanneer dit God se heerlikheid nog meer wonderlik sal vertoon as aan die begin. Aan die begin was daar net een man en een vrou in ʼn tuin. Aan die einde is daar ʼn menigte van mense in ʼn stad. (Maar dit het ook net een Man, Christus die laaste Adam, en een Bruid, die Kerk, Op. 19:6-9). Die skepping aan die begin was werklik “baie goed” (Gen. 1:31). Die voleinding is ʼn meer volledige realisering van hierdie “goedheid”. Ons kan sê dat dit baie, baie, goed is, voleinding-goed, deurdat dit baie meer intensief gevul is met God se heerlikheid. En hierdie voleinding sal kom. God sal sy doelwitte bereik. Ons kan seker wees want God het dit gewaarborg in Christus se opstanding en deur die Heilige Gees as die “eerste gawe van God” te stuur, wat die eerste deel en voorsmaak van ons uiteindelike erfenis is (Rom. 8:23; Ef. 1:14).

natuur

Met die voorbeeld van Christus se opstanding in gedagte kan ons nou ʼn paar afleidings maak oor die toekoms.

  1. Christus se opgestane liggaam is ʼn omskepping en ʼn verheerliking van sy voor-opgestane liggaam. Daar is verandering asook ʼn herkenbare kontinuïteit (1 Kor. 15:35-41). Die dissipels het die spykermerke in Sy hande gesien. Netso is die nuwe hemel en nuwe aarde van Openbaring 21:1 nie ʼn begin van voor af nie, maar eerder ʼn soort “opstanding” of verheerliking van die huidige skepping.
     
  2. God sal nie alleen die sonde wegdoen nie maar ook al die effekte van die sondeval (Rom. 8:23; Op. 21:4).
     
  3. God sal die oorspronklike skepping van Genesis 1 tot sy voleinding bring, en nie net ons terugbring na die voor-sondeval toestand van Adam nie.
     
  4. Aangesien Christus se opgestane liggaam gesien en aangeraak kan word (Luk. 24:39), sluit die nuwe skepping ook ʼn werklike fisiese aspek in. Teenoor Platonisme sien die Bybel die fisiese aspek as ʼn goeie skepping van God, en nie iets wat verag of verwerp moet word om “rein” te wees nie.
     
  5. Ons opstanding breek nie ons kontak met die groter skepping nie, maar is in harmonie met die verheerliking van die skepping as geheel, ʼn verheerliking wat ons en die laer skepping in ʼn nuwe, verheerlikte wêreld inlei.
     
  6. Die heerlikheid van God sal pragtig vertoon word in die nuwe skepping, soortgelyk aan die heerlikheid van Christus se opgestane liggaam en die heerlikheid van ons opgestane liggame, volgens die beeld van Christus. Dit alles sal dien tot verheerliking en lof van God (Rom. 8:18; Ef. 1:10, 14; Op. 21:23).