Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Ons Katolieke Roeping

Die Hervorming in die 16de eeu was nie 'n verhuising nie, maar 'n skoonmaak - 'n opruiming van en in die kerk, sodat die kerk weer waarlik katoliek (“algemeen”) sou wees. ’n Kerk met 'n katolieke belydenis en geroepe tot 'n katolieke diens.

Eie Mense🔗

Ons moet as reformatoriese kerke in Suid-Afrika oppas dat ons nie ons katolieke karakter gaan verloor nie, dat ons nie stilweg tog besig is met 'n verhuising nie. Dit is so gesellig, so intiem in ons eie kerk met ons eie tradisie, ons eie mense, ons eie manier om kerk te wees, maar dan verloor ons die siening op die katolisiteit van die kerk wat die reformasie ons weer geleer het.

Dankbaar🔗

Die regte siening op die reformasie sal ons dankbaar en diensbaar maak. Dankbaar vir wat God ons in die hervorming gegee het, maar ook diensbaar aan die groot roeping wat vanuit die evangelie van Jesus Christus tot ons kom. Reformatoriese Christene en reformatoriese kerke is Christene en kerke wat die katolisiteit van die kerk weer raakgesien het, glo en uitlewe.

Hulle glo, hulle weet dat hulle lidmate is van die katolieke kerk wat weer gereformeerd geword het, wat as 'n katolieke Hervormde kerk uit die stryd met Rome en die Anabaptiste te voorskyn gekom het.

Wat Beteken dit vir Ons Vandag?🔗

Vier dinge kan hier genoem word:

(1) Persoonlike Lewe🔗

In die eerste plek het dit betekenis vir ons persoonlike lewe. Om 'n katolieke Christen te wees, om lidmaat te wees van die katolieke kerk wat tot die reformasie gekom het, beteken dat ons staan onder die gesag van Christus. Ons is nie ten behoewe van onsself hier op aarde nie, maar ons het 'n roeping, 'n opdrag, naamlik die roeping . van volle lewenstoewyding aan Christus. Dit bring soberheid en tug, dissipline en gehoorsaamheid in ons lewe. Dit was nog altyd die kenmerk van Calviniste. Hulle lewe was sober, daar was offerbereidheid, heiliging en stryd. Groei in die geloof en stryd teen die sonde, 'n soeke om meer en meer onder die heerskappy van Christus te lewe.

(2) Kerklike Lewe🔗

In die tweede plek het die erkenning van die katolisiteit van die Hervorming ook betekenis vir die kerklike lewe. Calvyn was bereid om sewe oseane te deurkruis om kerk en Christene wat van mekaar geskei is, weer te herenig. In verband hiermee is die volheidsgedagte ook baie belangrik. In die Nuwe Testament is die volheid 'n gawe, maar tegelyk ook 'n doel. In Efesiërs 4:10-16 vind ons die samehang tussen volheid as gawe en as opgawe.

Geheim van Ekumenisiteit🔗

Christus gee die volheid. Hy sal alles tot volheid bring (vs. 10). Hy gaan sy mag in altyd wyer kringe tot openbaring bring. Maar tegelyk roep Hy die gemeente op om tot die volheid te groei, om steeds meer gelowig te wees aan sy genadeheerskappy (vs.15). Groei na die volheid bring tegelyk ook groei na die eenheid. (vs.13). Hier lê die geheim van die ware ekumenisiteit. Die opbou wat die gemeente aan die waarheid van die evangeliese leer vasbind, is die weg tot bewaring en beoefening van die eenheid. Die gesamentlike stryd van die geskeurde kerke om tot ooreenstemming te kom oor die waarheid van die evangeliese leer, sal aan die hereniging van die kerk vooraf moet gaan of daar sal geen sigbare eenheid wees nie.

Speke van 'n Wiel🔗

Wanneer ons as kerke en as Christene van watter kerk ook al net nader aan Christus beweeg, meer deur geloof en liefde kom onder sy genadeheerskappy, dan sal ons ook nader kom aan mekaar. Geloofsgroei en lewensheiliging waardeur ons in liefde die waarheid betrag (Ef. 4:1), bind ons nouer aan mekaar. Dis soos met die speke van 'n wiel. Hoe nader die speke aan die as kom, hoe nader is hulle aan mekaar. Eenheid ook tussen kerke van reformatoriese belydenis wat van mekaar vervreem is, kan ons nie organiseer nie. Dit moet groei en dit sal ook groei vanuit 'n dieper belewing van die gemeenskap met Christus.

(3) Maatskaplike Lewe🔗

In die derde plek het die besef dat ons as kerk van die reformasie nie verhuis het nie, maar dat daar 'n skoonmaak plaasgevind het, ook betekenis vir die maatskaplike en sosiale lewe. Ook hier vind ons by Calvyn en in die Calviniste allerlei voorbeelde hoe huwelik, gesin, arbeid, ontspanning, onderwys, opvoeding en wetenskap nie aan die magsgebied van Christus onttrek mag word nie.

(4) Staatkundige Lewe🔗

In die vierde plek het dit ook betekenis vir die staatkundige lewe. Dit sal ook ons politiek beïnvloed. Teenoor die rewolusie stel ons die evangelie. Die nasionale word deur die christelike beïnvloed. In ons volkereverhoudinge, in die beoefening van détente, in die kontakte met Afrika gaan ons uit van die belydenis dat Christus Koning is en dat ons geroepe is om sy dienaars te wees.

Soos wat Calvyn sy Bybelkommentare aan vorste in Europa opgedra het om hulle die Woord van God te verkondig, so kom ons ook as reformatoriese kerke in ons profetiese roeping met die Woord van God tot die volk en tot ons owerhede en staatsmanne. Calvyn het dit raakgesien: nie alleen ons persoonlike lewe en nie alleen die kerk moet skoongemaak word nie, maar ook die wêreld.

Skoonmaakbeurt🔗

Die wêreld het ook 'n skoonmaakbeurt nodig, want dis God se wêreld waaroor Christus alle gesag ontvang het. Calvyn het egter geweet van die onvolkomenheid in die heiliging van die lewe en in die kerk. Hy het diep besef dat ons in die wêreld anti-Christelike magte ontmoet wat ons heftig sal bestry. Daarom was daar by Calvyn ook die verlange na die wederkoms, die verwagting dat Christus as Koning gaan terugkom. Elke reformatoriese Christen wat weet dat hy staan onder die genadeheerskappy van Jesus Christus en wat die stryd van die sonde in hom en rondom hom ken, sien uit na die wederkoms van Christus, die verwagting wat so treffend is: Daarom verwag ons die groot dag met 'n groot verlange om ten volle te geniet die beloftes van God in Jesus Christus onse Here. (N.G.B. 36).