1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Ons Opstanding

Openbaring 20:5 praat van ʼn “eerste opstanding”, wat ʼn tweede, en moontlik meer, impliseer. Daar word by uitstek op hierdie gedeelte gesteun vir die leer dat daar voor die einde van die tyd meer as een opstanding van die liggaam sal wees. Pre-millennialisme leer van twee sulke opstandings en dispensasionalisme van drie of vier.

Pre-millennialisme leer byvoorbeeld van ʼn opstanding van die heiliges voor die verwagte toekomstige millennium én ʼn ander algemene opstanding aan die einde van die wêreld – die twee word dus deur duisend jaar in die geskiedenis geskei. Volgens die pre-millennialisme sal die Ou en Nuwe Testamentiese heiliges wat aan die begin van die millennium opgewek word duisend jaar lank saam met Christus op aarde sal regeer.

Ons glo dat die Skrif net een, algemene, opwekking van die gestorwenes leer, en dat dit by die einde van die wêreld sal plaasvind. Dan sal almal opgewek word om in hulle opstandingsliggame in die oordeel voor God te staan en die loon van genade óf die loon van hulle werke te ontvang. Ons is oortuig dat die Skrif dit in Johannes 5:28, 29 leer, wanneer daar in vers 28 van almal wat in die grafte is, gepraat word. Handelinge 24:15 sê ook “dat daar ʼn opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges”.

In Johannes 6 sê Jesus vier maal dat die opwekking van die gelowiges op die laaste dag plaasvind (vs. 39, 40, 44, 54). Die woorde “laaste dag” in die Skrif verwys altyd na die einde van die wêreld (Lees Joh. 6:40; 11:24; 12:48).

Wat is die eerste en die tweede opstandings van Openbaring 20 dan? Ons glo dat die eerste opstanding die opstanding is van ons siele, wanneer hulle ná ons dood opgeneem word om saam met Christus te wees en onliggaamlik saam met Hom tot aan die einde van die wêreld te regeer, wanneer hulle liggame dan met die tweede opstanding opgewek sal word. Daar is verskeie redes waarom ons dit glo.

Eerstens praat Openbaring 20:4 inderdaad van siele. Dit is, om die minste te sê, interessant dat die pre-millennialisme en dispensasionaliste, wat so sterk aandring op ʼn letterlike verstaan van Openbaring 20, ter verdediging van hulle beskouing van die opstanding verplig is om te sê dat hierdie siele volledige persone is wie se liggame duisend jaar voor die einde opgewek is en dan duisend jaar lank in hulle opstandingsliggame saam met Christus op die aarde regeer.

Dit is so dat die woord siele in die Skrif gebruik word om volledige persone aan te dui (Gen. 2:7; Gen. 46:26, 27), maar in elke sodanige geval sou die woord siele met die woord persone vervang kon word, sonder om aan die betekenis te verander. Dit is nie in Openbaring 20 moontlik nie. Dit het geen sin om “ek het die persone gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus” in Openbaring 20:4 in te lees nie.

Tweedens praat Openbaring 20 ook van twee dode (vs. 14). Die tweede dood is nie ʼn liggaamlike dood nie, maar die ewige lyding van die siel in die hel. Waarom sou die twee opstandings albei van die liggaam wees?

Derdens vestig ons die aandag op al die Skrifgedeeltes wat van die nuwe lewe van die siel as ʼn opwekking uit die dood praat (Joh. 5:24, 25; Joh. 11:25, 26; Rom. 6:13; Ef. 2:5; Kol. 2:12). Waarom sou dit dan vreemd wees dat die oorgang van die siele van die gelowiges by hulle dood om by Christus te wees, in Openbaring 20 as ʼn “opstanding” beskryf word?

Ons glo daarom in één wederkoms van Christus, één opstanding van die liggaam en één ewige hoop.