Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Is Ons Reeds in die Hemel?

Miskien dink u dit is darem 'n baie eienaardige vraag? Nou reeds in die hemel? En wat dan van al die magte wat ons lewe bedreig? Wat van die teleurstellings, die moeite, die oorloë, die pyn, die begrafnisse? Moet ons nie eerder vra: Is die helse magte nie los nie?

Is dit miskien die rede vir ons defaitisme, ons donker­kykery, ons moedeloosheid, ons pessimisme? So baie Christene ly eenvoudig aan so 'n neerlaagsindroom.

Wil u dan tog nie weer 'n keer in Paulus se briewe lees nie? In Efesiërs gebruik Paulus roemtaal, oorwinnings­taal. In Efesiërs 1:20 e.v. dank hy God vir "die uitnemende grootheid van sy krag wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode laat opstaan het en Horn laat sit het aan sy regterhand in die hemele".

En in Efesiërs 2:4-6 bou hy op hierdie roemtaal voort:

Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde lewend gemaak saam met Christus . . . en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus.

Daar staan dit dan: ons sit in Christus Jesus in die hemele. Dit is asof die apostel die woorde opstapel. Hy "sit bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy" (v. 21).

Hemelvaart is Christus se triomfvaart.

Paulus se Gedagtegang🔗

Maar ons moet probeer om in Paulus se gedagtegang in te kom. Ons is so een met Christus, dat ons met ons sondes saam met Hom gesterf het, saam die graf in is. Maar ook saam met Horn opgewek is. In Kolossense 3:1 sê hy uitdruklik dat ons saam met Christus opgewek is.

Maar nou gaan hy verder. Ons sit in Christus ook in die hemel aan die regterhand van die Vader.

Die gedagtegang van die apostel vra van ons 'n heelte­mal ander instelling teenoor die lewe en die dood, 'n ommekeer in ons denke. In Christus is ons reeds in die hemel. Of soos hy in Filíppense 3:20 sê: "Ons burgerskap is in die hemel".

Dit beteken heel konkreet dat die gelowige buite die bereik van die dood en die hel gekom het. Hy is "verlos uit die mag van die duisternis en oorgebring in die Koninkryk van die Seun" (Kolossense 1:13). Hemelvaart is verhoging vir Christus maar dit is ook bevryding vir die gelowige.

Openbaring 12🔗

As ons Openbaring 12 nou hiermee saam lees word dit duideliker. Die "manlike kind" is weggeruk na God en sy troon (vs. 5). Die draak is oorwin en uit die hemel gegooi. Die Satan is volgens Openbaring 20:3 gebind "om die nasies nie te verlei nie". En dit vir die tyd tussen die hemelvaart en die wederkoms van Christus. Die binding van die Satan is dus wel beperk, maar tog so belangrik. Is dit nie die rede waarom al die nasies nog nie kan saamstaan om die Christelike geloof uit te roei nie?

Reeds Maar Nog Nie🔗

So loop daar 'n geweldige lyn deur die Nuwe Testament. Ons is nou reeds burgers van die Koninkryk van God, kinders van die hemelse Vader, kinders in die Vader­huis, ons is nou reeds in die ewige lewe (Johannes 6:47), maar nog nie in volkomenheid nie.

Maar in Christus, nou ook reeds in die hemel. En wat beteken dit alles?

Dat Christene nuwe mense is wat uit 'n ander lewens­beginsel leef. Vernuwe in die gemoed (die denke) (Romeine 12:2), leef hulle nou vanuit die hemel, bedink hulle nie wat op die aarde is nie (Kolossense 3:2), maak die werke in hul lewe wat deel van die ou mens is, dood (vs. 5).

Twee Woorde🔗

En so groei daar twee woorde uit totdat dit ons hele lewe omspan: MAAR GOD! Dit is die basuinstoot van die evan­gelie in 'n enkele sin. Satan steek sy hande uit om my vas te gryp. MAAR GOD! Dit lyk of die wêreld en ons eie lewe vasloop in die dood. MAAR GOD!

Hierdie woorde staan oor 'n ontredderde wêreld. Dit staan oor ons eie uiteengerafelde en afgetakelde lewe: MAAR GOD!

Kortom, burgers van die hemel loop nie meer met die vetkers van sy eie goeddunke op die pad nie, 'n kers wat telkens uitwaai deur die winde van teleurstellings nie. Nee, in die lig van die hemel kry ons woorde en dade ewigheidsbetekenis.

Is dit nie weer nodig om dit aan ons kinders te leer nie? Is dit nie weer nodig om dit te besef as ons aan die politiek deelneem, of aan sport, of in ons beroep staan nie?

Hier lê immers die diepste antitese tussen die duister­nis en die lig. Omdat Christus oorwin het en aan die regterhand sit, kan die gelowige as hemelburger met oorwinnaarsversekering die stryd stry. Want die hemel­burger is ook Pinkstermens, Geesvervulde mens, die mens wat die moue oprol elke dag, maar ook met sy hand voor sy oë kan kyk na die . . . voleinding.

Hemelvaart en Pinkster bevestig: "In Hom is ons meer as oorwinnaars (Romeine 8:37).