6 bladsye.

Ons Wêreld in God se Toekoms

Wat die Bybel verkondig oor die laaste dag, laat altyd vrae ontstaan. Ons hoor immers dat God 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde sal skep (Jesaja 65:17), dat die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt (2 Petrus 3:12) en dat die aarde soos 'n kleed sal "verslyt" (Jesaja 51:6).

Wanneer ons daaroor nadink kom die vraag by ons op: gaan alles verdwyn? Gaan die Here sy skeppingswerk óórdoen? Word alles wat bestaan uitgewis? As dit so sou wees, hoe rym dit met die trou van God wat die werke van sy hande nie laat vaar nie? Is daar aanstonds net diskontinuïteit of lees ons in die Nuwe Testament ook van kontinuïteit tussen hierdie wêreld en die komende wêreld?

Die Nuwe Aarde🔗

Dit is opvallend dat ons belydenisskrifte baie min oor die nuwe aarde bevat. God se koninkryk, die volmaaktheid, die opstanding van die liggaam en die ewige lewe word genoem, maar oor die nuwe aarde word so te sê geswyg. Net die Nederlandse Geloofsbelydenis open 'n duidelik kosmiese perspektief waar in artikel 37 gesê word dat Christus "hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer".

Omdat die universele omvang van God se toekoms so nadruklik in die Skrif na vore kom, is die geringe aandag daaraan in die belydenisskrifte des te meer opvallend. Ons verwag nie net die opstanding van die vlees nie, maar ook, so skryf Petrus, "volgens sy belofte, nuwe hemele en 'n nuwe aarde ..." (2 Petrus 3:13), waarby hy teruggryp na die profesie van die Ou Testament (vgl. Jes 65:17; 66:22). Wat die skrif oor die opstanding van die liggaam sê, is 'n verruklike perspektief. Paulus praat oor die lewendmaking van ons sterflike liggame (Romeine 8:11), maar plaas dit in die konteks van die vrymaking van die hele skepping (Romeine 8:21). Openbaring 21 verkondig die heerlikheid wat op God se kinders wag, maar begin met: "ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien". Dit loop uit op 'n "wedergeboorte" van die wêreld" (Matt. 19:28) en op "die wederoprigting van alle dinge" (Handelinge 3:21). In hierdie samehang kry die verlossing van ons liggame dan sy plek.

God bevry nie alleen sy kinders van al die gevolge van die sonde nie, maar Hy verlos ook die wêreld waarin hulle lewe. Paulus praat van die vrymaking van die hele skepping en Petrus oor die wederoprigting van alle dinge. Die profesie getuig van 'n vrede wat tot in die diereryk sal manifesteer (Jesaja 11:6e.v.). Selfs die groot hemelliggame het deel in die bevryding. Die woord "hemel" in Openbaring 21:1 en die woord "hemele" 2 Petrus 3:13 dui nie op die hemel as woonplek van God nie, maar, soos in Genesis 1:1, op wat ons verstaan as die heelal. Daar kom 'n nuwe aarde, maar daar kom ook 'n nuwe "dekor" om die aarde. Selfs die sterre en planetewêreld sal nuut gemaak word!

Kosmiese Katastrofe🔗

Daar is 'n nuwe wêreld aan die kom. Die Skrif verkondig terselfdertyd dat dié nuwe wêreld deur 'n groot, ja werklik kosmiese katastrofe heenkom. Reeds in die Ou Testament hoor ons dat die dag van die HERE gepaard gaan met enorme kosmiese verskynsels: "die hemel (sal) sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef" (Jesaja 13:13); "die hemel sal soos rook verdwyn en die aarde soos 'n kleed verslyt" (Jesaja 51:6). Die Here Jesus het gesê dat voor sy wederkoms "die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word" (Markus 13:25). Johannes sien hoedat "die hemel weggewyk (het) soos 'n boek wat toegerol word , en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit" (Openbaring 6:14). Hoe groot die komende kosmiese katastrofe sal wees beskryf Petrus. Op die teenswoordige hemele en die aarde wag daar 'n see van vuur (2 Petrus 3:7). Die vuur van God se oordeel tref nie alleen die goddelose nie, maar ook die hele dekor waarin hulle geleef het. Die heelal word gesloop, alle dinge vergaan (2 Petrus 3:11). Die hemele gaan "met 'n gedruis", die lawaai van knetterende vuur, verby, en daarby ook die elemente (son, maan en sterre1). Hulle smelt weg in vuur.

Ook die aarde kry sy beurt. Alles word tot die grond toe afgebrand. Die verwoesting is totaal. Ook "die werke" wat op die aarde is, ontkom nie die gerig nie (2 Petrus 3:10).2 By hierdie "werke" gaan dit nie oor kulturele prestasies van mense nie, maar – soos steeds in die spraakgebruik van Petrus – oor mense se dáde. God se vuur vee aanstonds al die kwaad wat die mens gedoen het, weg. In woorde wat vir ons huiweringswekkend is, verkondig Petrus presies hoe skrikbarend die afloop van die wêreld en alles daarop, sal wees. 'n Onvoorstelbare vuursee sal alles ontwrig en wegvreet!

Bevryding🔗

Wat ons hoor oor die "verdwyning" van die hemel en die "vergaan" van die aarde, en veral wat Petrus skryf oor die allesomvattende brand van die heelal, wek die indruk dat daar maar net van diskontinuïteit tussen hierdie wêreld en die toekomstige sprake kan wees. Bly daar dan van God se skeppingswerk niks oor nie? Skep hy aanstonds 'n totaal nuwe wêreld, wat in die plek van die bestaande kom?

So is dit inderdaad deur Lutherse teoloë van die sewentiende eeu gestel. Hulle het geleer dat die aarde so bedorwe geword het dat daar slegs vernietiging (annihilatio) op wag. Daar is geen enkele kontinuïteit tussen hierdie wêreld en die komende nie. Die nuwe aarde is dan ook 'n totaal nuwe skepping, 'n skepping uit niks.

Gereformeerde teoloë het dié leer deurgaans bestry. Die verlossing is nie 'n totaal nuwe skepping nie, maar 'n vernuwing of herskepping. In die verband word dan gewys op wat die Here by ons wedergeboorte doen. Die Heilige Gees vernietig nie ons persoonlikheid nie, maar vernuwe en heilig dit. Die Dordtse Leerreëls teken hierdie aard van God se vernuwingswerk wanneer dit leer dat die Goddelike genade van die wedergeboorte nie ons wil en sy eienskappe vernietig nie, maar dit geestelik lewend maak, genees en verbeter (III/IV, 16).

Dat daar ook by die aarde en sy dekor aanstonds nie sprake is van vernietiging nie, blyk sterk uit wat Paulus in Romeine 8:12 skryf: die skepping sal vrygemaak word van die slawerny van die verganklikheid. Die apostel praat van bevryding. Dit is veelseggend. Dit verkondig aan ons dat die skepping as sodanig nie ondergaan nie, maar bevry word. God sal dit verlos van die vloek waarmee die aarde getref is (Genesis 3:17). Dan sal die aarde nie meer die stempel van slawerny van die dood ("verganklikheid") dra nie, want dit sal deel in die vryheid en heerlikheid van God se kinders.

Ook wat Paulus sê van die skepping "in barensnood", wys daarop dat dit nie vernietiging tegemoet gaan nie. Die apostel vergelyk die lydende skepping met 'n vrou wat op die punt staan om geboorte te skenk. Haar sugtende lyding is met hoop. Uiteindelik kom daar iets goeds vir die skepping tevoorskyn: Bevryding!

Kontinuïteit tussen hierdie aarde en die toekomstige blyk ook uit nie woordjie "nuwe" wat in Openbaring 21:1 gebruik word. Die klassieke Grieks het twee woorde vir "nuut": neos en kainos. Neos dui iets aan wat totaal nuut is, wat nie voorheen bestaan het nie; kainos tipeer veral die kenmerke waarmee iets nuuts hom onderskei van die ouere.3

Wanneer dit gaan oor die nuwe aarde of oor die nuut maak van alle dinge, gebruik die Nuwe Testament, heel opmerklik, die woord kainos. Dit wys daarop dat die nuwe aarde nie 'n totaal ander aarde is nie, maar óns aarde, heeltemal vernuwe.

Ook die gebruik van "wedergeboorte" van die wêreld (Matteus 19:28), "wederoprigting van alle dinge" (Handelinge 3:21) en "verandering van die wankelbare dinge" (Hebreërs 12:27) getuig van kontinuïteit tussen hierdie wêreld en die toekomstige.

God se Trou🔗

Die verset teen die gedagte dat daar van die geskape wêreld aanstonds niks oorbly nie het gereformeerde teoloë tot soms spitsvondige onderskeidings verlei. Deur dié onderskeidings wil hulle aandui dat daar ten spyte van diskontinuïteit tog ook sprake is van iets blywends.

In sy kommentaar op 2 Petrus 3:10 sien Calvyn die wêreldbrand as 'n suiwering waardeur dinge 'n nuwe kwaliteit verkry, terwyl hulle substansie bly.

In die spoor van Calvyn skryf H. Bavinck dat aan vernietiging van die substansie by die verbygaan van die teenswoordige wêreld, ewemin gedink kan word as by die verderwing van die vroeëre wêreld in die sondvloed. Vuur verbrand, reinig en suiwer, sê hy, maar vernietig nie.4

A Kuyper sê dat alle vorme waarin die vrug van die gemene grasie tans bloei wel sal ondergaan, maar dat die kragtige kiem wat aan dit alles ten grondslag lê, nie vergaan nie, maar bly.5

Volgens S. Greijdanus word dit wat saamgestel is tot die uiterste toe ontbind, maar dit beteken nie 'n vernieling of vernietiging van die stof in volle sin nie. Die dinge, selfs die heelal as sodanig en ook die hemele mog verdwyn, maar die elemente word nie weggeneem nie – alles word tot grondbestanddele opgelos.6 

Ten slotte noem ek K. Schilder, wat 'n verandering van vorm en wysiging van verhoudings voorhou.7

Maar by dit alles moet ons saam met G.C. Berkouwer sê dat dit wysgerig-teologiese onderskeidinge is waarmee 'n mens "die einde" wil beskryf, maar dat mens op allerlei wyses in gebrek aan helderheid vasgeval bly. Die gebruikte wetenskaplike of semi-wetenskaplike gegewens pas nie by die Skrifwoorde aangaande die einde nie.8

Dit is goed en gepas dat gereformeerde teoloë daaraan wil vashou dat, by al die diskontinuïteit wat so duidelik in die Skrif na vore kom, daar ook kontinuïteit tussen nou en aanstonds is. God laat nie die werk van sy hande vaar nie. Hy doen nie sy skeppingswerk oor nie. Verlossing ís bevryding van die gevolge van die sonde. Maar terselfdertyd moet ons erken dat die hoe van die kontinuïteit vir ons 'n verborgenheid bly. Die woorde "vergaan", "verdwyn" en "wegsmelt" is té ingrypend om nog oor wat bly, iets te sê.

Noudat ons hier teologies met ons mond vol tande staan, mag wel gewys word op God se trou. Die enorme ontbinding is nie die laaste bedryf nie. Alle dinge word weer "opgerig" (Handelinge 3:21) en "nuut" gemaak (Openbaring 21:5). Daar gaan "verander" en "bevry" word. Die Here dank nie sy wêreld af nie, Hy bevry en vernuwe dit. As Hy sy wêreld sou afdank, sou die verlossing nie waarlik verlossing wees nie! Maar God bly getrou aan sy belofte om alle dinge weer in orde te bring. A.A. van Ruler bring dit mooi onder woorde: Die nuwe is juis die oue, net radikaal vernuwe, totaal verlos van alle vorme van verderf. 9

Openbaring 21:24-26🔗

Daar is 'n teks wat tot vandag toe 'n groot rol speel by die nadenke oor hede en toekoms. Johannes skryf naamlik dat die konings van die aarde hulle heerlikheid in die heilige stad bring en dat die heerlikheid en eer van die nasies daarin gebring sal word.

Dit is bekend dat A. Kuyper hom op hierdie woorde beroep om vol te hou dat God die kulturele ontwikkeling van wat Hy in die skepping van die wêreld belê het, in weerwil van die Satan en die sonde van die mens, danksy sy "gemene grasie" (algemene genade) tog laat voltooi en in die voleinding bewaar. In die voleinding is daar wins, want die heerlikheid en eer van die nasies sal in die nuwe Jerusalem ingedra word. Volgens Kuyper word met die heerlikheid en eer van die nasies die volgende bedoel: die voortgaande gemeenskaplike ontwikkeling waartoe ons hele menslike lewe in die volkere-geskiedenis gekom het en nog sal kom. En van hierdie wins, wat uiteraard niks anders as die vrug van die gemene grasie is nie, word nou gesê dat dié wins nie eenvoudig ondergaan en in die algemene wêreldbrand vernietig word nie, maar dat dié wins ook vir die nuwe Jerusalem, dit is vir die nuwe aarde, 'n blywende betekenis sal hê ...10

Ook H. Berkhof stel 'n kulturele kontinuïteit op grond van Openbaring 21:24-26, al benadruk hy terselfdertyd dat dit deur 'n groot krisis heen gebeur. Die nuwe wêreld word as 'n "sprong-variantling" uit die oue gebore. Berkhof meen dat ons kultuur as die steierwerk vir die komende gebou dien, steiers dus wat aanstonds weer afgebreek word. Ons kan ons kultuur egter ook sien as die boustene vir die komende Ryk.11

Om net nog één outeur te noem: J. Hoek stel dit in 'n onlangse studie dat daar kultureel met die een en ander óór die drumpel van die jongste dag gestap sal word; al die mooiheid en skoonheid van aardse kulture sal op gelouterde wyse bewaar word op God se nuwe aarde. Hier kom die woorde uit Openbaring 21:24 en 26 terug. Nie die hele historiese en kulturele ontwikkeling oor die eeue was tevergeefs nie. Dit word nie uitgevee soos skrif op 'n skoolbord of uitgewis soos voetspore op die strand nie. God doen iets daarmee.12

Onder gereformeerde teoloë is daar verskil van mening oor hoe ons verse 24 en 26 moet uitlê. Ek dink dat dit vir dié uitleg belangrik is om nie die opmerkings van J. Douma te vergeet nie, naamlik dat Openbaring 21 nie oor die kultuur van die wêreld gaan wat dan vir die nuwe aarde bewaar moet nie. Die kultuur kry dus nie in Openbaring 21 selfstandige aandag nie.13

Bogenoemde skrywers is geneig om te veel in hierdie Skrifwoorde in te lees. Dit is nie moontlik om enige kulturele kontinuïteit op hierdie tekste te grond nie, allermins wanneer dit gaan oor die maaksels van ongelowiges. W.H. Velema sê heel tereg dat dit inderdaad vreemd sou wees dat die werk van gelowiges deur vuur beproef sal word, en as dit nie volmaak is nie, verbrand word (1Kor. 3), terwyl die produk van ongelowiges as boustene (of wat ook al) in die nuwe Jerusalem dien!14

Baie van bogenoemde skrywers het "die nasies" en "die konings van die aarde" te geredelik gelykgestel met die volke en konings van die aarde sonder meer. Saam met S. Greijdanus en H.R. van de Kamp dink ons by hierdie teks en woorde eerder aan die gelowiges uit die volke en aan hooggeplaastes wat tot bekering gekom het.15 Van der Kamp voer daarby goeie argument aan dat hierdie tekste die voltooiing die groot afrekening teken. Gelowiges uit die volke, en bekeerde hooggeplaastes sal die nuwe Jerusalem bevolk en heerlikheid en eer daar inbring.

By die laasgenoemde kan 'n mens dink aan huldiging van die heilige stad met geskenke, 'n voorstelling wat in beeldspraak die unieke glorie van die stad onderstreep. 16 Tog is dit miskien beter om dit, in die lig van die woordgebruik in Openbaring, saam met Van der Kamp in liturgiese sin op te neem: die bring van hulde en aanbidding.

Die slotsom is in elk geval dat Openbaring 21:24 en 26 geen grond bied vir kontinuïteit tussen wat op aarde aan kulturele ontwikkeling tot stand gebring is en wat moontlik op die nuwe aarde sal wees nie.

Verheerliking🔗

Die skepping soos ons dit nou ken, word aanstonds van diensbaarheid aan die verganklikheid bevry. Dié bevryding sal tegelyk verheerliking wees. Dit gaan in die bevryding nie alleen om verlossing van alle gevolge van die sonde nie, maar ook om 'n verlossing om te kan deel in die heerlikheid wat op God se kinders wag (vgl. Romeine 8:21). Dit word méér as herstel, dit word ook verheerlik.17

Waarin sal hierdie meerdere bestaan? Waarin is die nuwe aarde meer as die oue?

By beantwoording van die vraag moet ons besef dat dit nog nie geopenbaar is wat ons sal wees nie (1 Johannes 3:2), en dat ons nou nog sien deur 'n spieël in 'n raaisel (1 Korintiers 13:12). Daar bly 'n geheimenis rondom die vraag hoe dit hierna sal wees. Tog kan ons wel iets oor die nuwe aarde sê.

Die nuwe aarde sal van die oorspronklike aarde daarin verskil dat daar geen moontlikheid van demoniese verleiding sal wees nie. Alle bedreiging van die sonde en oordeel het weggeval (vgl. Genesis 2:17). Wat ons in Openbaring 21:1 lees, is betekenisvol: " ... en die see was daar nie meer nie." Die see staan vir die plek wat allerlei bose magte huisves. Dié magte sal God se nuwe wêreld nie meer kan aanval nie. Openbaring 21:3 laat 'n baie wesenlike verskil hoor: "Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon ...". Die woord "tabernakel" wys na die Ou Testamentiese tabernakel. Wat God beloof het (vgl. Levitikus 26:11-12; Esegiel 43:7; 48:35) en in die tabernakel reeds gebrekkig sigbaar was, word aanstonds volle werklikheid. Alle afstand tussen die hemel as God se woonplek en die aarde as woonplek van die mense, val weg. Die hemel is op aarde. Aanstonds is daar sprake van "residensiële samevoeging".18 God woon by sy volk op die nuwe aarde. Hoe heerlik dit ook al in die paradys was, God het nog apart gewoon, hoewel hy in die tuin gewandel het (Genesis 3:8). Op die nuwe aarde het die wandel woon geword. Hierdie resideniële samevoeging verkondig onmiskenbaar 'n plus van die nuwe aarde ten opsigte van die aarde van Genesis 1.

Ook Openbaring 21:23 spreek van hierdie plus: "En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig ...". God se aanwesigheid op die nuwe aarde straal soveel lig uit dat die gewone hemelligte oorbodig is. Die nuwe aarde baai in die lig van God se majesteitsopenbaring. Wat die serafs uitroep in die roepingsvisioen van die profeet Jesaja, is dan volkome realiteit: "Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!" (Jesaja 6:3).

In verband met die plus van die nuwe aarde ten opsigte van die oorspronklike, praat verskeie teoloë ook oor "voltooiing". Die "tuin" is voltooi. Ook die stad is "volgroeid".19 A.G Honig skryf: Die nuwe aarde sal skoner wees as die oorspronklike, omdat alles wat potensieel was, nou aktueel sal wees.20 W.H. Velema praat van 'n "voltooide skepping".21 En J. Hoek stel dit dat potensiaal wat in die oorspronklike skepping nog sluimerend was, moontlikhede wat nog nie die geleentheid gehad het om tot ontplooiing te kom nie, dan volkome sal realiseer.22 Dit is 'n aantreklike gedagte, maar sover ek sien, sê die Skrif niks hieroor nie. Die woord "voleinding" (sunteleia) wat ons in die Nuwe Testament teëkom in verband met die einde van die huidige wêreld (Matteus 24:3; 28:20), sê niks oor die ontplooiing van potensiale hierna nie, maar alles oor wat met die wêreld nog moét gebeur met die oog op die einde.23 Ons kan ook nie uit die gebruik van die woord "voleinding" gevolgtrekkings maak, soos die genoemde outeurs doen nie.

Die Skrif sê meer oor die plus van die nuwe aarde ten opsigte van die huidige wêreld. Ons wêreld dra al die kenmerke van ontwrigting en verwording deur die sonde. Dit sug asof in barensnood (Romeine 8:22) onder die vloek wat daaroor gekom het. Van die vloek word dit aanstonds bevry (Openbaring 22:3). Christus bring alles weer in orde (Efesiërs 1:10). En dit beteken dat op die nuwe aarde alles ooreenkomstig God se bedoeling sal funksioneer. Daar sal nie meer natuurrampe wees nie. Die dood met al sy gevolge van rou en weeklag is weg (Openbaring 21:4), self in die diereryk (Jesaja 11:6e.v.).

Die vrede waarvan die engele gesing het, sal ook volledig 'n kosmiese vrede wees. Eindelik sal God se aarde die glorie vertoon wat Christus verwerf het: nie 'n tranedal meer nie, maar 'n woonplek vol oorvloed (Openbaring 22:2), lewe (Openbaring 22:1) en lig (Openbaring 22:5).

Dan sal dit duidelik word hoe omvangryk God deur Christus alles met Homself versoen het (Kolossense 1:20) en dat Hy die werke van sy hande nie laat vaar nie. En God se kinders sal hulle ewig verbaas dat sy verlossing, deur al die diskontinuïteit heen, waarlik verlossing gebly het!

Endnotes🔗

  1. ^  Vir die argument dat met "elemente" die bestanddele van die hemel bedoel word, kyk P.H.R. van Houwelingen, De tweede trompet. De authenticiteit van de tweede brief van Petrus, Kampen 1988, p. 240.
  2. ^ Ek sluit my hier aan by die vertaling en eksegese wat P.H.R. van Houwelingen aanbied in sy 2 Petrus en Judas. Testament in tweevoud, Kampen (1993), p.90. 
  3. ^ Vgl. Woordenboek voor bijbellezers, red. A Noordegraaf e.a., Zoetemeer (2005), p. 416.
  4. ^  H. Bavinck, Gereformeerde Dogmatiek, IV, Kampen 1930, p. 699.
  5. ^ A. Kuyper, De Gemeene Gratie, I, Leiden 1902, p. 461.
  6. ^ S. Greijdanus, De brieven van de apostelen Petrus en Johannes, en de brief van Judas, Kampen 1929, p. 343e.v.
  7. ^ K. Schilder, Wat is de hemel?, Kampen 1935, p. 193.
  8. ^ G.C. Berkouwer, De wederkomst van Christus, I, Kampen 1961, p. 280. 
  9. ^ A.A. van Ruler, Theologisch werk, II, Nijkerk 1971, p. 223. Vgl. W.H. Velema, "Voleinding, nieuwe hemel en nieuwe aarde", in: Eschatologie, red. W. van't Spijker e.a., Kampen (1999), p. 603: Dit is geen tweede skepping nadat die eerste in die niet versink het nie. Dit is 'n herskepping waardeur die oue radikaal nuut word.
  10. ^ A. Kuyper, a.w., p. 460.
  11. ^ H. Berkhof, Christelijk geloof, Nijkerk (1973), p. 561e.v.
  12. ^ J. Hoek, Hoop op God. Eschatologische verwachting, Zoetermeer (2004), p. 275.
  13. ^ J. Douma, Algemene Genade, Goes 1966, p. 384.
  14. ^ W.H. Velema, "Schepping en verlossing", in: Hoe staan wij ervoor?, red. J. Kamphuis e.a., Barneveld (1992), p. 96.
  15. ^ Vgl. S. Greijdanus, De Openbaring des Heeren aan Johannes, (Korte Verklaring), Kampen 1938, p. 325.
  16. ^ So J. De Vuyst, De Openbaring van Johannes, Kampen 1987, p. 131.
  17. ^ Vgl. J. van Genderen, De nieuwe hemel en de nieuwe aarde, Kampen 1994, p. 49.
  18. ^ Vgl. J. Kamphuis, Uit verlies winst, Barneveld (1985), p. 53, wat hierdie uitdrukking gebruik in verband met die sit van die Lam in die troon van die Vader.
  19. ^ K. Schilder, a.w., p. 251. Schilder sien die nuwe hemel as die plek van pleromatiese afronding en voltooiing, en volgroeing van alles wat sy groei in die tyd geneem het. (p. 13).
  20. ^ A.G. Honig, Handboek van de gereformeerde dogmatiek, Kampen 1938, p. 846. Vgl. H. Bavinck, a.w. p.702: Die status gloriae is 'n hervorming wat alle krag tot beweging laat oorgaan.
  21. ^ W.H. Velema, "Schepping en verlossing", p. 94.
  22. ^ J. Hoek, a.w., p.275. 
  23. ^ Vgl. G. Delling, "sunteleid", in: Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament, VIII, Stuttgart 1965, P. 67.