Bron: Kerk en Woord, 1995. 2 bladsye.

Oor Lotery, Dobbelary

Die afgelope sinode van die NG Kerk het die saak bespreek en sy diepe teleurstelling uitgespreek dat dobbelary nou amptelike goedkeuring ontvang en ’n werklikheid in Suid Afrika word. Besorgdheid oor die uitwerking hiervan op die gees van die morele lewe van die inwoners van ons land is uitgespreek. Vanweë die erns van die saak haal ek hier graag woordeliks die besluit van die sinode aan:

Tussen die lot en dobbelary moet duidelik onderskei word. Ofskoon daar wel raakvlakke is, is daar ook ingrypende en selfs prinsipiële verskille.

Ofskoon die kanselement deel van die lot of lotery is, moet dit, teologies gesien, in die nouste verband met God se voorsienige bestel en sy soewereine heerskappy gesien word. Waar ’n beslissing gegee moet word en daarvoor geen redelike wyse of metode gevind kan word nie, soos byvoorbeeld by die staking van stemme, of by die bepaling van orde of die plek van ’n spel, kan van die lot gebruik gemaak word.

In die werp van die lot ontduik die mens nie sy verantwoordelikheid nie, maar gebruik hy die lot as’t ware as gebed tot God, juis om in staat gestel te kan word om aan sy verantwoordelikheid uitvoering te kan gee. As die beslissing nie deur die lot gegee word nie kan daar immers nie voortgegaan word nie. In die Skrif is daar ook inderdaad dikwels van die lot sprake (vergelyk onder meer Num 26:55; 33:54; Jos 14:2; 1 Sam 14:42; Spr 18:18; Hand 1:2326). In die Skrif word die beslissing deur middel van die lot steeds beskou as ’n bekendmaking van die wil van die Here.

Maar wanneer die lot gebruik word as middel om geldpryse of ander vorme van eiendom te verkry, word dit dobbelary en word die kanselement dus ’n wyse van eiendomsverwerwing en hieroor be­staan daar ernstige etiese besware.

Etiese Besware:🔗

“Op grond van die volgende etiese redes keur ons lotery en dobbelary af:

  • “Vanweë die effek op die mens se geloofsverhouding met God. In plaas van biddende afhanklikheid van en vertroue in die leiding van God, plaas die mens hier sy vertroue al meer op gelukskans terwyl eiendom langs ’n ander weg, naamlik dié van voortgesette en toegewyde arbeid, verwerf behoort te word. Voorts stimuleer dit ook sondige luiheid, gierigheid en hebsug en word die mens ontneem van die vormende invloed van en vreugde in die arbeid.”
     
  • “Vanweë die effek op die arbeid. Die Bybelse opdrag behels dat die mens deur harde werk en op ’n eerbare manier in sy lewensonderhoud voorsien (2 Tess 3:612; Ef 4:28; Spr 13:4). Dobbelary lei daartoe dat die arbeidsopdrag aan die mens volledig vervaag en arbeid al hoe minder aan sy doel beantwoord.”
     
  • “Vanweë die effek op die loon. Die verband wat die Bybel lê tussen arbeid en loon word versteur met al die nadelige gevolge vir die landekonomie op die lang termyn.”
     
  • “Vanweë die effek op die huisgesin. Onbeheerste dobbelary deur ’n broodwinner kan tot ernstige verarming van die huisgesin aanleiding gee.”
     
  • “Vanweë die effek op die samelewing. Die swakheid van mense word misbruik om die enkeling te verryk ten koste van die massa. Enersyds kan dit lei tot ’n gevaarlike uitwas van onbeteuelde kapitalisme en andersyds tot onbeheerste armoede en ellende by die massas.”

Bybelse Beginsels:🔗

Die Algemene Sinode doen ’n beroep op lidmate van die NG Kerk om in elke opsig hulle gedrag ten opsigte van dobbelary deur die beginsels van die Bybel te laat bepaal en te alle tye ’n duidelike en ondubbelsinnige getuienis te lewer. Daarom waarsku die Algemene Sinode teen:

  • “Die sonde van gierigheid wat voorkom wanneer ’n mens met ’n minimum van inspanning ’n maksimum voordeel wil verkry deur net ’n klein uitgawe te maak in die hoop dat ander sal verloor sodat hy alles vir homself mag hê.”
     
  • “Die sonde van verkwisting wat voorkom wanneer ’n persoon ’n kans waag en bereid is om die eie bydrae te verloor. Daarmee word die verpligting ontduik om die besittings wat God aan die mens toevertrou het, verantwoordelik te bestuur.”
     
  • “Die sonde van verslawing wat voorkom wanneer ’n persoon nie maar net eenmaal die kans waag nie, maar soos die dwelmverslaafde naderhand nie die versoeking kan weerstaan om homself verder in ellende te dompel nie.”
     
  • “Die sonde van verleiding wat voorkom wanneer ’n persoon wat hiermee sy tyd en geld vermors, ’n slegte voorbeeld vir ander stel.”
     
  • “Die sonde van benadeling wat voorkom wanneer iemand verslawend hiermee besig is en daarmee homself en ander rondom hom benadeel.”

Die verwerping van dobbelary beteken egter nie dat die kerk onverskillig staan ten opsigte van pogings wat aangewend word om beheer daaroor uit te oefen nie. En ten spyte van die feit dat die kerk hom positief uitgelaat het oor die Hopprojek, het hy ook in dié verband ’n besluit geneem:

Alhoewel die Algemene Sinode dobbelary ongekwalifiseerd verwerp, kan die feit van dobbelary in die samelewing nie ontken word nie en daarom doen die Sinode ’n beroep op die Staat om as diens­kneg van God in terme van Rom 13 alle pogings aan te wend om oor dobbelary beheer uit te oefen om die wrange vrugte wat daaruit voortspruit, soos hierbo genoem, te bestry en sal die kerk dankbaar wees vir beheermaatreëls in dié verband.

Aangesien gesonde waardes ewe belangrik as ekonomiese welsyn is, spreek die Sinode sy teleurstelling uit dat die owerheid besluit om lotery en dobbelary as metode van finansiering van die Heropbou en Ontwikkelingsprogram aan te wend.