Bron: De Reformatie. 4 bladsye.

Openbare Skuldbelydenis

“Herman en Irene ‘moet’ trou”. So word dit dan gesê. Gelukkig is hulle baie goed bygestaan deur hul vriende en familie. Hulle het self ook besef dat hulle verkeerd gehandel het en hulle het hul sondes voor God bely. Maar, tot groot verbasing en ergernis van sommige, moes hulle ook nog hul skuld erken voor afgevaardigdes van die kerkraad. “Hoe is dit moontlik dat so iets verwag word van hierdie paartjie?!”. Word daar op so ʼn manier nie te veel klem gelê op een bepaalde sonde nie? Elke mens sondig tog aanhoudend en wat moet ʼn kerkraad dan nog vergewe wat nie reeds deur God vergewe is nie?

Ek dink daar is baie mense wat met hierdie kritiek sal saamstem. ʼn Mens kan dit verstaan, want die erns van sonde word steeds meer beoordeel volgens gevoelens. So ontwikkel daar verkeerde situasies wat vir baie mense se belewing tog ”nie so erg” is nie. Aan die ander kant speel individualisme ʼn groot rol in ons huidige samelewing. Ons het selfs ʼn owerheid wat hierdie doel nastreef! Daarom verbaas dit ons nie dat Herman en Irene hul sondes voor God bely het en niemand anders daarby nodig gehad het nie. Boonop word die kerkraad deesdae nie meer op ʼn troontjie geplaas nie, sodat die vraag móét ontstaan: ”Wat  moet die ouderlinge eintlik vergewe?”

Dus, genoeg stof tot nadenke.

Brandmerk?🔗

Maak hierdie spesifieke openbare skuldbelydenis nou nie dat die een sonde meer aandag kry as ʼn ander, wat wél bestaan, maar waaroor nooit gepraat word nie. Hierdie kritiek lyk asof dit heel logies en korrek moet wees. Maar dit het ʼn verkeerde uitgangspunt. As ons so na dinge begin kyk, sal ons nooit iets verstaan van openbare versoening nie. Ons sal altyd onderlinge vergelykings bly tref en besef dat daar altyd ernstiger sondes is wat nie in die openbaar bely is nie. Moet ons alles dan maar ignoreer? Nee, want hier gaan dit nie daaroor dat ʼn bepaalde sonde uitgelig word bo ʼn ander sonde nie.

In Matteus 18:15 lees ons die volgende: “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broer gewin.”  Hier gaan dit nie oor die aard of omvang van die sonde nie. Die bekendheid van die situasie is hier van belang. Wanneer dit ʼn geheime sonde is, volg ʼn gesprek onder vier oë, wat dan genoeg sal wees. Wanneer die sondaar skuld teenoor God bely en sy lewe verander, dan is die skuld én belydenis hier op aarde slegs bekend by een ander persoon. Verdere bekendmaking is dan nie nodig nie. In die Kerkorde is besluit dat hierdie soort sondes nie meer voor die kerkraad gebring mag word nie (Artikel 74).

Dit is wel partykeer nodig om ander broers of susters by die gesprek te betrek om sodoende daarmee krag te verleen aan die vermaning, maar dan bly die bekendheid nog steeds net binne die baie beperkte kring. Let wel: Ons kan hier praat van kleiner oortredings, sowel as diep ingrypende sondes! Die laaste kategorie kan en mag ook onder vier oë opgelos word. Dit beteken nie dat dit altyd regkom nie, maar dit is moontlik om dit so op te los. Indien dit so is, word daar nooit weer daaroor gepraat nie. God skenk vergewing op die opregte gebed, of dit nou vanaf die kansel is of vanuit die binnekamer.

Maar hoekom moet Herman en Irene dan wel voor die kerkraad verskyn? Moet hulle daad  gebrandmerk word? Nee, dit gaan glad nie daaroor nie. Die punt is, dat die swangerskap nie weggesteek kan word nie. Almal sal dit agterkom. So is daar nog ander sondes wat nie weggesteek kan word nie, soos openbare dronkenskap, kwaadwillige verlating van jou huweliksmaat, bedrog, ens. Wat in die openbaar bekend word, kan nie in die geheim afgehandel word nie.

Dit kan baie hartseer wees dat dit so is, maar dit is die werklikheid van die daad wat gepleeg is. Dit is publieke dade. Dit gaan dus nie daaroor dat die kerk moeilik is oor die een sonde, maar gemaklik oor die ander sonde is nie. Die kerk kies nie watter sondes hy publiek wil hanteer nie.  Matteus 18 leer ons as basiese reël, dat skuld én die skuldbelydenis binne dieselfde kring bekend sal wees. Die kring kan groot of klein wees, na gelang van die situasie. Die beginsel bly dieselfde.

Dooddoener🔗

Ja, dit is waar, elke mens sondig aanhoudend. Is so ’n spesiale behandeling regtig nodig? Hierdie vraag word ook gevra binne baie kerke deesdae gevra. Is dit regtig nodig dat ons so erns maak met mense se sondes? Dit is mos belaglik om mense te weerhou van die Heilige Nagmaal. Jesus het immers ook met sondaars aan dieselfde tafel gesit? Sal die een sondaar die ander kan weerhou om aan die nagmaal te gaan? Maar weer moet ons sê: Dit is nie die punt nie!

Elke sondaar is sekerlik welkom in die kerk, hoe sy lewe ook al lyk. Selfs die moordenaar aan die kruis het ʼn enkele woord nodig gehad om die ewige lewe te kon ontvang. Die vergewing wat God skenk is so duidelik en uitnodigend! Die punt is egter: Is daar berou? Is daar kennis en belydenis van sondes? Is dit ook sigbaar in die houding wat aangeneem word?  Word die kwaad gekoester of word dit vermy en losgelaat?  Dit is vrae wat ons vir mekaar mag vra. Dit moet verseker ook in die gemeente van Jesus Christus gevra word. Want God het sy volk telkens weer herinner aan sy heiligheid. Deur die versoeningsbloed kan Hy onder sy kinders woon, en was Hy alle sondes skoon met sy liefde. Wanneer daar egter bewus gekies word vír die sonde, om daaraan vas te hou, dan stop die vergewing. Wanneer die gemeente dit in haar midde toelaat, dan gaan Hy weg. “Wees heilig, want Ek is heilig”, hoor ons in die Ou Testament (Levitikus 19:2) en Nuwe Testament (1 Petrus 1:16).

Daarom is dit so belangrik om tydens pastorale gesprekke te kan onderskei tussen onmag en onwilligheid om ʼn sondige lewe te verander. Dit is nie altyd ewe maklik om die verskil te sien en verstaan nie. ’n Skuldbelydenis kan hier baie help en helderheid bring vir almal in die gemeente.  En die kerkraad sal dan daarop let of daar voldoende tekens van berou is (Artikel 75 KO). In hierdie lig is die benadering “Ons is almal sondaars” ʼn dooddoener. So word daar afstand gedoen van iets wat vir God belangrik is en vir ons die verskil tussen lewe en dood kan beteken.

Daarom mag dit die taak van die kerkraad wees om by iemand aan te dring om ʼn keuse te maak: óf u doen afstand van u sondige lewenswyse óf u deel nie meer langer in die bediening van die versoening nie. Want ʼn mens kan nie vir God kies en terselfdertyd volhard in die kwaad nie (1 Korintiërs 5:13). Dit kan ʼn weldaad wees wanneer iemand dit betyds vir jou sê. Dan is dit nie belangrik of dit vir jou gevoel ʼn groot of ʼn klein sonde is nie, maar wel of die bereidwilligheid aanwesig is om werklik na God te luister.

Versoening!🔗

Waaroor gaan dit nou presies? Oor die versoening van sondes. God was die sondes skoon en dink nooit meer daaraan terug nie. En deel daarvan is dat die gemeente ook nooit meer daaroor praat nie. Die kerk loop daarin uiteraard in dieselfde spoor as haar Heer. Daarom is dit van belang dat die kerk op hoogte van sake is! Wanneer ʼn verkeerde lewenswyse bekend word, sodat almal later daarvan weet,  is dit gesond en bevrydend om na verloop van tyd aan die gemeente bekend te maak dat die betrokke broer of suster skuld bely het. Dit is dan ook die teken dat elkeen van die saak kan vergeet.

In so ʼn situasie oorweeg die kerkraad dit of die skuldbelydenis aan die gemeente bekendgemaak moet word (Artikel 75 KO). Die vraag of die sonde inderdaad bekend geword het, speel hierin ʼn belangrike rol.  As almal daarvan weet of later bewus sal word daarvan (bv. met ʼn swangerskap), dan is dit verkieslik, nadat goeie oorleg gepleeg is, dat die berou ook aan die gemeente bekend gemaak sal word. In kleiner gemeentes sal dit gouer die geval wees as in ʼn groter gemeente. In ʼn dorp weet almal alles van mekaar af, maar in ʼn stad meestal nie. In geen geval mag die skulderkenning deur ʼn mededeling uiteindelik dien om die sonde bekend te maak wat andersins geheim sou bly nie. Daarom die oorweging! Die skuldbelydenis word bekend gemaak aan hulle wat bewus is van die sonde. So kan ons duidelik sien waaroor dit gaan.

Herman en Irene word nie verneder wanneer hulle in gesprek tree met twee ouderlinge wat hul namens die kerkraad besoek nie. Ook sal hul nie ‘gekruisig’ word wanneer die kerkraad sou besluit om iets hieroor aan die gemeente bekend te maak nie. Hulle hoef glad nie God se vergewing uit mense se hande te ontvang nie.

Die kerkraad, wat enersyds daarvoor verantwoordelik is om toe te sien dat die skuldbelydenis voor God opreg is, wil dit andersyds ook direk koppel aan die versoening deur die bloed van Jesus Christus. Op hierdie manier wil die kerkraad dan ook leiding gee aan die gemeente. Dit is allereers bevrydend vir Herman en Irene self. Want dink net hoe benouend dit moet wees indien almal van die situasie weet, hulle eie opinie hieroor het en dan ʼn oordeel daaroor gee, terwyl hulle lankal hul skuld bely het. Hoekom sou die sonde bekend wees, maar nie die versoening nie? Hoekom sou mense se praatjies nog aangaan wanneer die saak reeds afgehandel is?

Dít is die motivering vir ʼn moontlike afkondiging of beriggie in die kerkblad. Wanneer die kerkraad met ʼn paar woorde die bedoeling verduidelik, sal die jong paartjie in plaas van gemengde reaksies, nog baie begrip en hulp uit die gemeente kan ontvang!

Vervolgens is dit ietwat naïef om te dink dat sonde slegs in die verhouding met God skade aanrig. Die verhouding met die gemeente ly ook skade, want haar heiligheid is op die spel. Vandaar die bekommernis by baie wanneer dié soort sake aan die lig kom. Ander kan baie oppervlakkig reageer, soos: ”Ons doen dieselfde dinge as hulle, ons kan dit net slimmer wegsteek”. So word sonde net soos ʼn aansteeklike siekte, die een besmet die ander. Dit kan dan ontaard in ʼn praktyk waarin God se toorn oor die gemeente opgeroep word: Kan seuns en meisies in hul verhoudingstyd met mekaar nog wag tot die tyd wanneer God hulle as man en vrou vir mekaar gee?

Daarom praat Artikel 72 van die Kerkorde ook daarvan, dat daar geen aanstoot gegee mag word deur die verkeerde optrede/gedrag binne die gemeente nie. Hierdie aanstoot is ʼn verleiding tot sonde, ʼn struikelblok waaroor ʼn ander een kan val en sy nek kan breek. Herman en Irene kan wel in stilte hul skuld voor God bely en niemand sal daaraan twyfel nie. Maar deur algehele stilswye sal dan ook geeneen van hul leeftydsgenote die idee kry dat sulke gedrag aanvaarbaar is in die gemeente se lewe voor God nie. Daarom gaan die persoonlike en openbare aspekte saam in hierdie geval: Die sonde word in alle opsigte afgelê - uit die verhouding met God en ook uit die midde van die gemeente. Dan word die versoening volledig. Wie dit so kan insien, kan hom slegs daaroor verbly. En nie in die minste Herman en Irene self nie!

Is dit Haalbaar?🔗

Ek hoop dat die kritici nog ʼn keer hieroor sal nadink. Intussentyd kan dit wees dat baie van die kritiek ’n element van waarheid bevat. Want die waarde van wat ek hierbo geskryf het, staan of val met die vraag of dit alles haalbaar is in die praktyk. Word dit so beleef? In die besonder dink ek aan die feit dat God sy gemeente kan verlaat, indien daar in die praktyk van die lewe nie rekening gehou word met God se heiligheid nie.

Tydens sy ballingskap het die profeet Esegiël hieroor ʼn indrukwekkende visioen gesien. ʼn Rondleiding deur die tempel waar hy die een gruwel na die ander teëgekom het (hfst 8). Aan die einde van sy rondleiding het hy die heerlikheid  van die HERE sien weggaan. Die Here het homself verhef en het opgestyg uit die Oostelike Poort (Esegiël 10:18-22, 11:22, 23). As gevolg van die sonde wat Agan gepleeg het (die dief van Jerigo), het God nie saam met Israel na die volgende stad, Ai, gegaan nie. As gevolg van die sonde van een persoon is die hele volk in die ongeluk gestort (Josua 7: 25).

ʼn Lewende verhouding met God leer ons om toesig oor mekaar te hou. Hier het die ouderlinge ʼn besondere taak om leiding te gee en die gemeente toe te rus, maar dit is ʼn saak wat ten diepste moet leef onder almal wat tot die kerk behoort. Anders is die kritici reg! Indien meerdere paartjies ongetroud saamleef as man en vrou en hul leeftydsgenote is hiervan bewus sonder om iets daarvan te sê, word Herman en Irene se skuldbelydenis voor die kerkraad  ʼn grap . So ’n skuldbelydenis pas dan nie meer by die gemeente nie, het geen basis meer nie, want die lewenswyse word heeltemal geduld binne die gemeente. Wat maak ons as dit die klag is wat gehoor word? Dat dit algemeen aanvaar word om so te leef? Wanneer iemand sê: “Waarmee is die kerkraad nou besig, met hierdie skuldbelydenis? Daar is nog so baie ander wat presies dieselfde of erger dinge doen?”.

Hierop is twee antwoorde moontlik.

  • Ten eerste: Wanneer die situasie bekend is by die kerkraad, kan die kerkraad meedeel dat daar in ander situasies volgens dieselfde maatstaf gemeet sal word.

  • Ten tweede: Wanneer die kerkraad nie hiervan bewus is nie, sal die klaer self vermaan word om op te tree. Indien hy weet wat die betrokke persoon se naam en adres is, moet hy hulle gaan besoek volgens Matteus 18:15. So ’n optrede is dringend noodsaaklik om te voorkom dat jongmense van God vervreemd raak, of erger nog, dat God Hom sal onttrek uit die gemeente.

Soos ʼn Herder🔗

Jesus Christus het ʼn gelykenis vertel van ʼn herder. In die aand, toe die skape getel word, kort daar een van die honderd skape. Die skaap het verdwaal. Wat maak die herder nou? Hy het gaan soek, totdat hy die verdwaalde skaap gekry het. En daarna bring hy dit toe terug na die kraal. ʼn Bekende gelykenis, en dis baie maklik om te verstaan.

Die samehang is egter verrassend, want hierdie gedeelte (Matteus 18:12-14) staan net voor vers 15 waar staan: “En as jou broeder teen jou sondig, (d.i. op ʼn dwaalweg gaan/verdwaal, waardeur hy die herder verloor en verongeluk), gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin.” Hieruit mag blyk dat “tug “ nie ʼn skelwoord is nie. Nee, die afskaffing van die tug is liefdeloosheid! Dan sou almal kon verdwaal, sonder dat iemand hulle gaan soek.

Om gevind en teruggebring te word, is geen openbare teregstelling nie. Nee, dit is juis rede om saam bly te wees. Dit is van uiterste belang dat ons in hierdie tyd, waar goed en kwaad as relatief beskou word, dit betyds moet waag om te identifiseer wát ʼn dwaalweg is en wíe daarop gaan. En dan ook verder saam die beeld uitdra van die Goeie Herder!