Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Ou en Nuwe Hervormers

opstanding

Toe Kleopas met sy metgesel op die aand van die opstandingsdag by die dissipels kom, roep hulle triomfantelik uit:

Die Here het regtig opgestaan.Lukas 24:34

Maar het die opstanding van Christus werklik daardie dag plaasgevind? Eeue lank is dit nooit bevraagteken nie. Maar in die laaste drie eeue is agter die "regtig" van die Emmausgangers 'n vraagteken geplaas. Die groot vraag is: Was daar werklik 'n leë graf en het lemand wat al dood was, regtig daaruit opgestaan?

Twee Soorte Hervormers🔗

Vandag is daar 'n groep teoloë wat ook die "regtig" van die opstanding sterk betwyfel. Hulle word die "nuwe hervormers" genoem. Hulle is oortuig dat die beeld wat ons van Jesus het, totaal vals is.

Daarom het ons volgens hulle ook 'n verkeerde visie op die opstanding van Christus. Hulle siening van Christus en sy opstanding verskil radikaal van diegene wat ons die "ou hervormers" kan noem.

Die Ou Hervormers🔗

Die ou hervormers ken ons maar te goed – Luther, Calvyn en Zwingli het in hulle preke en geskrifte dikwels op die opstanding van Christus gewys. Vir hulle was die opstanding van Christus 'n historiese feit. Dit het werklik gebeur.

Hoewel die historisiteit van die opstanding vir hulle vanselfsprekend was, omdat die Bybel daarvan getuig, het hulle nie daarby bly staan nie. Hulle het ook aangetoon wat die opstanding vir elke gelowige persoonlik beteken. Die woorde van die apostel Paulus –

God het ons saam met Christus Jesus opgewek uit die dood.Efesiërs 2:6

het vir hulle 'n diep betekenis gehad.

Neerslag van hierdie oortuiging vind ons in die Heidelbergse Kategismus waar gevra word:

Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?.Sondag 17, vraag 45

Die Nuwe Hervormers🔗

Die nuwe hervormers vertel vir ons dat ons deur die ou hervormers heeltemal verkeerd ingelig is. Op 'n Jesus-seminaar beweer hulle dat die kerk sy mense doelbewus mislei het. Hulle verkondig dat Jesus nie regtig opgestaan het nie. Jesus se opstanding was net 'n bloot innerlike ervaring in die gees van sy volgelinge gewees. Sy volgelinge het so geïnspireerd geraak deur wat hulle Meester gesê het dat Hy vir hulle "as 't ware" weer uit die dood opgestaan het.

oop graf🔗

Teologiese Misleiding🔗

Een van die leiers van die nuwe hervorming, Crossan, beweer dat Jesus se liggaam na sy teregstelling in 'n oop graf gelê is. Wilde honde het net soos by Isebel daardie liggaam uitmekaar geskeur en opgeëet. Lank voor Jesus se dood sou daar reeds by sy eerste volgelinge in Galilea 'n soort volksgeloof in die vorm van 'n opstandingsgeloof ontstaan het. Die evangelis Markus sou die opstanding versin het en dus daaroor gelieg het. Die Markus-Evangelie is dus eintlik 'n liegstorie.

'n Ou Dwaling🔗

Wat die nuwe hervormers oor die opstanding verkondig, is nie nuut nie. Al beweer hulle dat hulle met 'n nuwe, bevrydende teologie kom en dat dit die kerk sal vernuwe en reformeer, is alles net 'n herhaling van 'n ou dwaling.

Hoewel hulle dit heftig ontken, verskil hulle opvatting in wese niks van dié van Rudolf Bultmann nie. Bultmann, die bekende Nuwe-Testamentikus uit die twintigste eeu, het ook die opstanding van Christus ontken. Berigte oor die maagdelike geboorte, die wonders, die opstanding en die hemelvaart van Christus is volgens Bultmann niks meer nie as 'n projeksie van godsdienstige oortuigings of gevoelens. Die bonatuurlike inhoud van die Nuwe Testament is volgens Bultmann mities van karakter. Dit stem ooreen met mites, ou volksverhale oor gode en godinne.

Om die Nuwe Testament vir die moderne mens verstaanbaar en aanvaarbaar te maak, moet ons daardie deel van die Bybel ontmitologiseer. Met ander woorde: ons moet die mitologiese gedeeltes herinterpreteer.

Die Nuwe-Testamentiese Wêreldbeeld🔗

Die mitiese karakter van die Nuwe-Testamentiese boodskap lê volgens Bultmann veral in die wêreldbeeld wat die Nuwe Testament vir ons teken. Dit kan jy aan die moderne mens nie meer verduidelik nie. Dit is in stryd met die menslike rede. Sy verstand kan dit nie aanvaar nie.

Tog wil Bultmann vashou aan die gedagte van 'n opstanding. Christus het opgestaan. Maar ons moet dit goed verstaan – Hy het opgestaan in die geloof van sy dissipels. Die opstanding kry by Bultmann 'n subjektiewe betekenis. Dit gaan by Bultmann nie om 'n historiese persoon nie, maar om 'n boodskap waardeur ons tot die regte verstaan van onsself kom. Hy noem dit "selbstverständnis".

Hiermee is die betekenis en nut van die opstanding daarmee heen.

lig in natuur

Twee Verskillende Vertrekpunte🔗

Wat is die verskil tussen die ou hervormers en die nuwe hervormers? Die ou hervormers aanvaar dat daar 'n God is buite die driedimensionele wêreld waarin ons leef. Wie dit aanvaar, het nie probleme met die wonderwerke in die Evangelies en met die opstanding as 'n historiese gebeurtenis nie.

Maar wie soos die nuwe hervormers aanvaar dat die driedimensionele werklikheid 'n geslote werklikheid is, dan is niks daarbuite nie en moet alles daarbinne verklaar word.

Hierdie boodskap bring nie reformasie nie, maar deformasie.