Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Pinkster in September?

hande in die lug

Hierdie maand word daar ’n groot konferensie uit die charismatiese groepe in die land aangebied. Dit is belangrik dat die gereformeerdes ook daarvan kennis neem en ’n getuienis daaroor laat hoor.

Wat oor en uit die Skrif gesê word, kom voort uit wat die mens van Jesus Christus glo. Die eenheid van die Skrif bestaan omdat God die Vader en die Seun en die Heilige Gees Een is. Die gesag van die Skrif is die gesag van Christus self. Om die verhouding tussen Skrif en geskiedenis en geloof en gebeure te verstaan is dit belangrik om Christus se geskiedenis-makende werk raak te sien. Die geskiedenis se betekenis kom voort uit wat Christus daarin en daardeur doen. Die geskiedenis verleen nie betekenis of interpretasie aan God nie. Die verhouding tussen geloof en gebeure word duidelik as ’n mens die verband van Christus en die Heilige Gees raaksien.

Om getrou oor en teenoor die charismatiese groepe te getuig is dit belangrik om die liefde in waarheid vas te hou. Dit is ongetwyfeld so dat daar in dié groeperinge ’n groter waardering vir die Skrifgesag is as wat ’n mens byvoorbeeld by die Spangenberg-groep sal vind. Ten spyte daarvan moet daar gekyk word of die stellings en (geloofs)aansprake wat oor die Heilige Gees gemaak word, werklik Skriftuurlik is.

Teen een groot dwaling moet gewaak word. Baie charismatiese groepe beweer dat ons nou in die bedeling van die Gees leef. Die Vader was eers met die Skepping besig, die Seun daarna met die verlossing en die Gees nou met sy kragtige dade. Ons belydenis ken ook so ’n driedeling, maar nie kronologies asof die Heilige Gees nou ten koste van die Seun en die Vader optree nie. Die Heilige Gees is altyd die Gees van Christus. Agter die stelling van die charismatiese groepe sit ’n bepaalde geskiedenisbeskouing van bedelinge wat mekaar opvolg waarin telkens een persoon van die Drie-eenheid op die voorgrond tree. Dit is ’n onbybelse geskiedenisbeskouing.

Die uitstorting van die Gees wat in Handelinge 2 beskryf word kondig nie die bedeling van die Gees aan nie, maar die breër handelinge van Jesus Christus deur die Gees tot eer van die Vader.

As hierdie waarheid nie vasgehou word nie, word die belydenis van die Drie-eenheid verbreek. Dan is die deur oop vir die heidense mistiek en paganistiese waarsêery wat as spreke van God voorgedoen word. Die Woord en die Heilige Gees mag nooit, nóg in teorie, nóg in praktyk, van mekaar losgemaak word nie. Om te sê: ‘ek het die Woord vir jou’ sonder om die eenheid van die Woord te erken, of om te sê: ‘die Gees het my gesê’ sonder om die Woordgetuienis aan te hoor, is niks minder as aanranding van die gesag van Christus nie.

waarsê

Om egter die Woord aan te hoor sonder om Geesvervuld te raak, is eweneens ’n belediging vir die koningsgesag van Christus. Kortliks dus: ons kritiek teen die charismatiese groepe gaan oor Skrifgesag. Om die Gees en die Woord te verdeel is om God te probeer verdeel. Om egter (sosio-histories) die gesag van die Woord (die geldige interpretasie?) daaraan te koppel dat die geskiedenis die finale uitslag gee, is om uiteindelik die Godheid van Christus te ontken. Teen altwee slaggate moet ons waak.

Hoekom hou die charismate nie sinodes nie? Waarom konferensies? Konferensies is ‘same-sprekinge’. Saam-praat, maar nie saam-besluit nie (sinode beteken om saam ook dieselfde weg op te gaan). Die eerste sinode in die Nuwe Testament het gesê: ‘Want die Heilige Gees en ons het besluit…’ (Handelinge 15:28). Dit is tog meer as ’n konferensie?

Agter die konferensies sit ’n bepaalde ‘kerk’-beskouing. Die eenheid van die Skrif roep om die eenheid van die kerk. Dieselfde Gees, dieselfde liggaam. Die charismatiese groepe het nie die reg om die eenheid van die kerk te laat vervaag in ’n mistieke liggaam van Christus nie. Daar sit ’n eiewillige godsdiens agter. Die eenheid van die kerk, as gevolg van die eenheid van God, en die inwoning van die Gees moet ook ’n sigbare eenheid wees. Dit is maklik om ’n “unity roadshow” vir ’n naweek of ’n week te hê as jy in die mistieke liggaam van Christus glo en omdat dit tans die bedeling van die Gees is.

Dit kos egter ware geloofsgehoorsaamheid om te glo dat die kerk die liggaam van Christus is. Die kerk moet saam praat uit dieselfde Woord, maar ook saam besluit deur dieselfde Gees. Gereformeerde kerke het dikwels ook te veel sinode-‘besluite’ waar sake aan die oordeel van die plaaslike kerk oorgelaat word. As ons dit begin doen, word ons sinodes ook konferensies, ons ‘besluite’ dan ‘resolusies’ (voornemens) en ons eenheid mistiek. Hoe Geesvervuld is die Gereformeerde Kerke nog? Die antwoord op hierdie vraag hang af van wat ons met die gesag van die Woord doen. Die gesag van die Woord is die gesag van Christus. Wie met die Gees van Christus vervul is, versnipper nie die Woord nie. ’n Kerk wat nie konferensies wil hou nie maar sinodes, weet wat die verskil is tussen ‘om God uit die geskiedenis te probeer verduidelik’ en ‘om Christus in die geskiedenis te verkondig’. So ’n kerk sal altyd die eenheid van die liggaam van Christus soek.