Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Post-Moderne Kerk

Deel van die profetiese taak van die kerk is om telkens die dodelike aanslag van die satan uit te wys en teen te staan. Van al die eeue af het die kerk gebuk gegaan onder die een of ander stroming wat dreig om die kerk onder te ploeg. In ons dag is dit ook nie anders nie. Die gedagterigting wat die kerk tans binnekom, word die post-modernisme genoem. Waar ander strominge soos die kommunisme, liberalisme, ensovoorts 'n groter herkenbaarheid vertoon het, is dit redelik moeilik om die post-modernisme te herken en nog moeiliker om dit te keer.

Glo is Twyfel🔗

Die rede hiervoor is dat post-modernisme moeilik 'n definisie kry wat pas. Verder is die huidige Westerse kultuur bykans geheel en al deur post-modernisme gekenmerk. Laasgenoemde veroorsaak dat dit baie moeilik vir die kerk is om dit raak te sien, aangesien post-modernisme ons leefwêreld vorm. Sonder om ingewikkelde definisies te volg, kan opsommend gesê word dat post-modernisme basies net een geloofsbelydenis het, naamlik: Alles moet betwyfel word. Daarin sit die enigste moontlikheid op hoop. 'n Post-modernis sê: ek glo in twyfel, ek glo dat alles verander en dat die enigste konstante ding verandering is. 'n Post-modernis is agterdogtig teenoor enigiets wat die aanspraak maak om die enigste blywende waarheid te wees, naamlik die sondige mens self. So 'n kerk sê: "Ons eendersheid lê juis in ons wedersydse andersheid." Dis 'n kerk wat glo dat almal dieselfde is juis omdat ons almal verskil Vanuit hierdie standpunt word alles in die gemeente vloeibaar en los. Vir almal in die kerk, en vir elkeen se eie siening en mening en sonde, moet daar plek gemaak word.

Verdra🔗

So 'n kerk wil verdraagsaam wees teenoor alle ander, en allermins aanstoot gee deur op God se eer te let. Daarom kry mens die verskynsel dat die eredienste aangepas word by portuurgroepe se behoeftes. Daar word baie versigtig opgetree om niemand aanstoot te gee nie, selfs nie ander godsdienstige groeperinge nie.

So is daar in Nederland al sogenaamde christene wat sê dat dit nie goed is om 'n kerkklok te laat lui nie, want dit maak inbreuk op die reg van die ongelowige op stilte. 'n Post-moderne kerk wil alle verskille onder een dak akkommodeer, en sien homself glad nie meer as uniek in die wêreld nie.

Demokrasie🔗

So 'n kerk wil homself as 'n mede-rolspeler in die samelewing sien en is baie demokraties ingestel.  Dit is 'n kerk wat in getalle belangstel.  Sukses word gemeet. Post-modernisme is verwêreldliking wat die kerke van Jesus Christus bedreig. Hierdie verwêreldliking kom in 'n versluierde vorm, maar kan tog aan bepaalde kenmerke geëien word.

Min Verskil🔗

'n Post-moderne kerk (gemeente) lyk soos volg: Dis 'n kerk wat wil wys hoe min hy met die wêreld verskil. So 'n kerk wil uiters relevant wees in die samelewing. Ten einde dit te bereik, moet twee dinge gedoen word. Ten eerste moet polities korrek opgetree word. Dit is waarom daar vandag kerke is wat vrouens op die kansel toelaat, homoseksualisme nie as 'n gruwel voor God noem nie, 'n groen-teologie het in plaas van 'n Christus-teologie, en wat baie bekommerd is hoe die kerk by die H.O.P.-programme kan inskakel.

Grootste Gemene Deler🔗

Ten tweede moet daar klem gelê word op dinge wat mense in gemeen het en nie waaroor mense verskil nie. Dit is 'n kerk wat die grootste gemene deler soek, aan hoeveel mense die byeenkomste bywoon, en nie aan die aard en diepte van die erediensgebeure nie. En om dit reg te kry, word na nog 'n gemene deler gesoek - die mens se behoefte aan vermaaklikheid. Die mens van ons tyd wil vergas word, daarom verander die erediens in 'n ontspanne bymekaarkom waar die mense toeskouers word van 'n soort godsdienstige "info-tainment" (information-entertainment). "Marknavorsing" toon ook dat "toorn-van-God-preke" nie 'n behoefte by die klante is nie en hulle word dus sover doenlik vermy.

Oortuig Eerder as Verkondig🔗

Aangesien die post-moderne kerk sukses op 'n kapitalistiese manier in terme van getalle najaag, wil so 'n kerk eerder oortuig as verkondig. Die klem word dan meer gestel op watter voordele dit het om God te dien (wat kan God vir jou doen wat ander nie kan doen nie), en daar word meegeding teen ander godsdienste vir getalle.

Voorkoms🔗

'n Post-moderne kerk is meer bekommerd oor hoe hy lyk as oor wat hy glo. Die nuutste en modernste kommunikasie-strategieë word ingespan ten einde meer mense te oortuig. Die wyse waarop oortuig word, is belangriker as wat verkondig word. Omdat die post-moderne kerk wil meeding om 'n markaandeel, ruil dit iets in as dit by die waarheid kom. Die post-moderne kerk het "die" waarheid ingeruil vir "'n" waarheid. Hoe dikwels hoor ons nie dat daar selfs van die "gereformeerde waarheid" gepraat word nie, asof daar enige ander waarhede ook sou wees.

Verskonings🔗

Omdat die grootste gemene deler geneem word, het die post-moderne kerk weinig of geen struktuur nie. Kerkorde en amptelike bediening word afgekraak as oudmodies en as iets fascisties gesien, wat inperkend inwerk op die uitlewing van individuele vryheid. Elkeen mag maak soos wat hy goedvind. Die wet van God word nie hoog geag nie, aangesien die mens se bedoeling die deurslag gee en nie wat hy werklik doen nie. Vir elke sonde word daar 'n toepaslike verskonende rede gegee, in so 'n mate dat daar van sonde haas geen sprake meer is nie. En as daar nie sondebesef is nie, is daar ook nie 'n honger na 'n Verlosser nie.

Die post-moderne kerk glo nie dat God almagtig is nie. God moet deur middel van die relasionele waarheidsteorie 'n hand gegee word met sy skepping en openbaring. 'n Post-moderne kerk is een wat dink dat hy alles al gehoor het en self sal besluit wat van God geloofwaardig is en wat nie. Vrae oor "of God in beheer is" stam ook uit hierdie siening.

God moet Dankbaar wees🔗

Die post-moderne kerk is een wat wil bid, maar nie aanbid nie. Die majesteit van God word vervang met 'n oppervlakkige menslike kontekstuele ervaring. Sulke kerke is half skaam vir God - om te getuig dat alle dinge soos reën en droogte en selfs hongersnood uit God se hand ons toekom. Die post-moderne kerk het daarom die houding dat God dankbaar behoort te wees dat daar darem in hierdie tye nog mense is wat in Hom probeer glo, en daarom moet daar nie oor klein verskilpuntjies soos geloofsbelydenisse gekibbel word nie.

Kerk in Ontbinding🔗

Teenoor hierdie paar kenmerke van die post-moderne kerk moet die waarheid duidelik gestel word. Die post-moderne kerk, vir sover dit nog kerk genoem kan word, is een van ontbinding. Twyfel kan geen geloofsbelydenis wees nie (Jak. 1:6 e.v.). Hierdie skynheilige nederigheid, wat maak asof dit hoogmoedigheid is om iets vir volle sekerheid te glo, is lewensgevaarlik. Kennis en vertroue in God is geloof. Twyfel is ongeloof. Hierdie onderskeid moet weer skerp gestel word, aangesien die satan die mensdom wil oortuig dat geloof en twyfel tans dieselfde ding is.

Christus Verraai🔗

Die post-moderne kerk dra die lyksreuk van verraad, omdat dit sy uniekheid prysgegee het. Die "christus" wat die post-moderne kerk verkondig, is te algemeen. Dit is nie die enigste Seun van God nie, maar 'n mensgemaakte beeld wat slegs die name van God dra. God se kerk is heilig, is anders as die wêreld en moet nie skaam wees om anders te wees nie. Christus is die enigste ware Redder, Hy is nie maar 'n redder nie. Wie dit nie glo nie, speel met 'n ewige vuur. God se kerk is heilig omdat Hy heilig is, daarom mag daar nie allerhande valshede verdra en geduld word nie.

Herder se Stem🔗

Twyfel oor die waarheid is niks anders as om die werking van die Heilige Gees te ontken nie. As God openbaar wie Hy is, hoe kan die kerk dan sê dat hy nie mooi hoor wie God is nie. Die kudde ken tog die stem van die herder? As dit nie so is nie, beteken dit net dat daar nie meer van 'n regte kudde gepraat kan word nie. Die post-moderne kerk het 'n dowe kerk geword aangesien nie meer na Christus alleen geluister word nie.

God is Reg🔗

Demokrasie is onversoenbaar met die kerk. Dit is óf God se reg óf die mens se eie reg. Die twee sluit mekaar uit. God laat Hom nie voorskryf deur die grille en giere van die meerderheid sondaars nie. Die kerk moet nie oortuig nie maar moet verkondig. God verander harte - al wat die kerk moet doen, is om gelowig na te spreek wat die Gees sê. As dit nie meer gebeur nie, kom sending tot stilstand en word die voortgang van die kerk bedreig.

Die kerk moet bekommerd wees oor hoe hy lyk - nie vir ander mense nie, maar vir God. Die kerk moet homself versier met liefde. Liefde wat die waarheid insluit, aangesien geen liefde sonder die waarheid kan bestaan nie. Waarheidlose liefde is 'n ewige graf - dit bestaan nie. Die kerk moet weer leer hoe om God in hierdie post-moderne tyd te aanbid. Aanbid beteken om ook die samelewing te verander na die eise van Gods Woord. Daar is geen ander keuse vir die kerke nie.

Weste se Ondergang🔗

Een van twee paaie gaan gevolg word. Aan die eenkant kan die post-modernisme steeds geduld word (ook op teologiese skole en fakulteite), en dit sal die ondergang van die kerke beteken, omdat post-modernisme Christus skynheilig verloën. Of daar kan aan die ander kant besef word dat die Westerse beskawing, soos wat hy nou lyk, nie 'n plek vir die kerk is nie. Die wêreld is nie die kerk nie, en as daar geen onderskeid meer is nie, het die kerk opgehou om te bestaan.

Die post-moderne kultuur kan nie aangepas word nie, dit moet vernietig word. En dit word vernietig as die eise van God se Woord, onder andere dat God direk soewerein is oor alles wat Hy geskep het, daadwerklik bely en geleef word. Geen middeweg is moontlik nie. Wie post-modernisme goed verstaan, hoor die doodsklok van die Westerse beskawing daarin lui. Dit is inderdaad 'n geval van reformeer of sterf. 'n Kerk wat Christus so opreg bely, is altyd relevant in die samelewing, ongeag hoeveel getalle daarby betrokke is. 'n Kerk se gemene deler moet altyd die lewegewende Gees van Christus wees - enigiets minder as dit is uit die bose.