Bron: Waarheid en Dwaling. 5 bladsye.

Post-Modernisme en die Gereformeerde Belydenis in Afrika

God Handhaaf Sy Verbond - tot in die Hel🔗

Oorlede Nietsche laat die mal Zarathustra met sy openbaringsfakkeltjie op die markplein die doodsberig oordra. As dieselfde Zarathustra vandag aan ons sou vra: Het jy God gesien? ... Het jy dan God gesien? dan is ons darem nog gereed met ‘n wederwoord.

Teenoor die doodsberig handhaaf ons die opstandingsberig. Ons is drie dae van die herdenking van die kruisiging van ons Here af, waar ons dit waag, om darem nog gesamentlik dit te sê: ons glo ons is salig. Op grond van die Skrif glo ons dat ons deur God uitgekies is. Ons het dit in ‘n dokument vasgelê: die Dordtse Leerreëls. Vir almal om te lees. Ons het ook ons geloof aangaande die openbaringslig, die Bybel as Woord van God vasgemaak in die eerste sewe artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

As Zarathustra kom sê ‘God is dood’, en ons sê ‘Nee, Hy is nie’, dan word dit ‘n eenvoudige vraag van: hoe jy dit weet. Hieroor wil ons nou saam nadink. Sommige sal sê ek wil u aan die baard gryp, nie oor u saligheid nie, maar oor u gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan die openbaring van God. Gehoorsaamheid aan sy verbond wat Hy met ons doop eensydig met ons opgerig het. Gehoorsaamheid aan die bevele van God binne daardie verbond. God handhaaf sy verbond op die aarde, ook in hier in Suid-Afrika. Hy handhaaf dit in die hemel, waarheen ons sê ons op pad is. Maar, en laat die ore daarvan tuit: God handhaaf sy verbond ook tot in die hel toe.

Ek wil met u stilstaan by post-modernisme en ons eie gereformeerde belydenis in Afrika – miskien is dit formeel gesproke ook nog u belydenis. Post-modernisme, die verkleurmannetjie. Hy laat hom nie inhok nie, en hy draai sy kleur en sy mantel dat hy byna-byna onherkenbaar insmelt. Ek verveel u nie met ‘n definisie nie, maar ek wil die belydenis van die post-modernis na vore stoot en my eie gereformeerde belydenis daarteenoor stel, in Afrika.

Daar is een ding waarvoor die post-modernis banger is as vir die dood. Dit is om ‘n aanspraak op sekerheid te hê, veral nog as daardie sekerheid se wortel in die hemel is. Jy brand jou vingers en jy verbrand jou mond as jy te haastig verklaar, aldus die post-modernis, dat jy die waarheid ken. Daarom het die post-modernis net een geloofsbelydenis-artikel: ek glo dat ek moet twyfel. Die post-modernis kyk nie meer op na die hemel nie, want wie sê wie is waar(?). Nee, die post-modernis hou moedig sy asem op en glo dat sy gedurige twyfel vir hom ‘n bietjie sekerheid op aarde sal bring. Die post-moderne verkleurmannetjie het ook in die kerk ‘n groen tak kom soek. Hulle oë is nie op die hemel gerig nie, en tog klink hulle kerklike stemme op tot by die troon van God waar Hy moet aanhoor hoe hulle in die studeerkamer en op die kansel die mense leer vra: hoe sê? Hoe sê u nou weer?

Zarathustra was mal, maar eerlik. Hy het geweet dat hy, om te kan sê dat God dood is, die openbaring van God moet vervang. Hy het nie daaroor getwyfel nie. Hy was geen post-modernis nie. Die kerklike post-modernis is net so mal, maar oneerlik. Oneerlik oor die openbaring van God en die aanspraak wat God in sy Woord op die mens maak. Hy dink hy kan hom hardhorend hou voor God. Hy dink hy kan God se openbaring in die Bybel vervang en verdraai, en nog steeds bly sê: Ek weet my Verlosser leef! Dit is nie moontlik nie - nie in die hemel nie en ook nie op die aarde nie.

Ons kan ons gehoorsaamheid aan die openbaring van God op een enkele punt toets: kerklike eenheid. Die post-modernis baljaar in die kerklike verskeidenheid. Hy is sogenaamd vir God, maar baie keer teen die kerk. Hy vind dit totaal onnodig om oor kerklike eenheid te praat, want dit sou fasisties wees om te beweer dat daar so-iets soos ‘n ware kerk is, ‘n kerk waar die waarheid geken en bely word.

In my studie oor die Nederlandse teoloog Klaas Schilder het dit my getref dat openbaringsbegrip die ekklesiologie (leerstuk oor die kerk) bepaal, en dat enige gesprek oor kerklike ekumene, sonder die vraag na die ware kerk, vrugteloos en verbonds-oneerlik is. Ons ken die pluriformiteit (veelvormigheid) van die kerk van Kuyper se dae af. Hy begrond dit in die natuur. Maar Kuyper het tog die gesag van die Woord probeer handhaaf. Sy bedoeling met sy pluriformiteitskema was om vir die gereformeerdes ook ‘n kerklike staanplek uit te kap.

Ons sit nog steeds met pluriformiteit van die kerk. Trouens, in Suid-Afrika is hierdie saak nog nooit werklik reguit aangespreek nie. Ek het dus begrip daarvoor dat die pleitstukke van Schilder teen die pluriformiteit van die kerk in Afrika nie goed verwerk word in die teologiese spysverteringstelsel nie.

Intussen word die kerk van twee kante af opgevreet. Aan die een kant knaag die post-modernisme in al sy sekulêre menseregte gestaltes innerlik aan die fondament van die kerk, en gee die kerk homself al hoe meer oor aan die subjektivisme wat net een eindpunt het, naamlik die mistiek. Aan die ander kant is die oer ubuntu ongeloof besig om die leefwêreld buite die kerkgebou haas ondraaglik te maak vir die kerk.

Ons ken, soos gesê, die pluriformiteit van die kerk al lankal. Die TKK is ‘n buite-egtelike kind van daardie teorie. Tussen-kerklike-kommissie. My belydenis sê dat die band tussen kerke kerkverband is. Tussen kerklike kommissie soos ons dit vandag in praktyk stel, is soos om te vra: hoe groet ek my geskeide vrou vriendelik? Dit is ‘n bloot oppervlakkige raakpunt ter wille daarvan om nie ongeskik oor te kom nie. Maar van die werklike vraag na eenheid, as verbondsverpligting is daar geen sprake nie.

Ons wat sê dat ons salig is, bely dat daar maar een Here is (Efesiërs 4). Waar is dan ons eendragtige gehoorsaamheid aan daardie een Here? Laat ek dit prontuit sê. God wil dat ons saam nagmaal vier soos Hy dit beveel het. Julle glo dat God een is, sê Jakobus. Die duiwels glo dit ook, en hulle sidder - want jy kry nie ‘n post-moderne demoon nie. As die tussen kerklike kommissie - op plaaslike en nasionale vlak - net praat oor moontlike verskille en ooreenkomste, sonder om oor verbondsverbreking te praat (ook aangaande die openbaring van God oor kerklike eenheid), is dit om gruwelike ongehoorsaamheid in die aangesig van die Here in stand te hou; en nog steeds seëning van God daaroor te verwag.

Maar God handhaaf sy verbond tot in die hel. Nooit, nooit is sy verbondsbeloftes lighartig uitgespreek nie. Nooit is sy verbondsbeloftes sonder verbondseise nie. Dit is ons verpligting voor die enige God, op grond van die feit dat ons gedoop is, en op grond van die belydenis wat ons met mekaar deel, om met mekaar in een kerkverband te wees. Enigiets minder as dit is ‘n sonde voor God. Kerkverband is nie ‘n menslike afspraak nie. Kerkverband is ‘n gawe en ‘n opgawe van God. Het Christus dan net sy bloed vir individuele siele gegee? Of het Hy sy bloed ook vir die kerkverband gestort? Dieselfde heilige geloof wat in jou is, is in my. Want kyk, jy het dit neergeskryf in die drie Formuliere van eenheid; ek ook. Dieselfde Heilige Gees wat in jou is, is ook in my. Hy oortuig my van my eie saligheid. Maar wie is jy en ek om God se boodskap, om sy verbond te verskraal tot ‘n blote saligheidskwessie? Die ware kerk gaan oor gehoorsaamheid.

Ek deel twee anekdotes met u. ‘n Paar jaar gelede het ek die sogenaamde kruiskerk in Jerusalem besoek. Die gids daar vertel dat die verskillende kerke op ‘n keer so gestry het oor wie die sleutel van die kerkgebou mag hê, dat hulle naderhand besluit het om ‘n Moslemgesin te vra om elke môre te kom oopsluit. Tragies. As God een is, waarom is ons dan nie een nie? Waarom moet ons vernederd voor die wêreld staan vanweë ons selfopgelegde kerklike verdeeldheid?

Tydens die tweede gebeure was ek kapelaan in die weermag. ‘n Roomse Katolieke priester groet my een môre en vra: ‘How are you my brother?’ Ek groet terug, maar sê: ‘Either you are lying, or you are not a good catholic’. Rome glo dat daar buite Rome geen saligheid is nie. Rome sê dat die reformasie net kerklike versplintering gebring het. Deels is dit waar, omdat ons onsself die luuksheid gun om die een God, wat kerklike eenheid van ons beveel, se verbond te verontagsaam.

Daar is natuurlik baie slim argumente teen hierdie kerklike eenheidsoproep. Ons kyk na ‘n paar argumente waarom kerklike eenheid nie sigbaar hoef te vergestalt nie.

Daar word beweer dat dit die belangrikste is om in Jesus Christus te glo. Kerklike eenheid is bloot ‘n menslike afspraak. Buitendien het ons ‘n dieper geestelike eenheid vanweë die feit dat ons die mistieke liggaam van Christus is.

  • As gereformeerde bely ek dat die kerk waarvan daar in artikel 27-30 NGB gepraat word een en dieselfde as die sigbare kerk is. Ek bely dat dieselfde Christus wat my gered het, my ook beveel: as jy My liefhet, sal jy my bevele gehoorsaam. Dit is Hy wat vir ons gebid het: Vader laat hulle een wees, soos Ons een is. Ek vra u dan, my tussen-kerklike-broeders: as ons Saligmaker bid dat ons een moet wees, so innig soos Hy met sy en ons Vader is, wie is ons dat ons daardie eenheid mag verskraal tot ‘n bloot mistieke eenheid in die Gees? Strook die werk wat die TKK in hierdie stad doen met die eenheidsgebed van Christus? Of werk ons aktief teen sy gebed, omdat ons wag op die roering van die engel van die interkerklike waters?

  • Wie is ons om die belydenis soos ‘n viool te speel, dan op die quia snaar dan op die quatenus snaar?1

  • Barth het besondere waardering gehad vir die belydenis as kerklike historiese dokument, waarin die werking van die Heilige Gees met ander nagegaan kan word. Maar dit is nie wat die gereformeerde belydenis is nie. Die belydenis is ‘n opsomming van die waarheid van die Woord van God. Maar as Zarathustra jou al verlei het om die openbaring te vervang, dan is dit maklik om post-modern relasioneel ook ‘n “franchise”-waarheid op die markplein te hê. Dan is jou produk net beter of slegter, maar nie die enigste ware kerk nie. Die nie-handhawing van die gereformeerde belydenis - ook hier in die TKK rondom kerkeenheid - is ‘n Barthiaanse simptoom van die nie-handhawing van Skrifgesag.

  • Daar lê die kern van die saak. Daarom sê ek die sogenaamde nuwe reformasie is niks anders nie as ‘n ou heidense vervorming. Daarom sê ek vanuit my belydenis dat wie ontken dat Jesus Christus in die vlees gekom het, ‘n antichrist is en tot bekering opgeroep moet word. As jy glo dat jy moet twyfel, en as jy jou geloofs-asem lank genoeg probeer ophou, dan loop jy die gevaar om Jesus Christus as Verlosser nie te sien nie, want God handhaaf sy verbond tot in die hel.

  • Broeder, as jy aan Christus behoort, en as ek aan Christus behoort, en ons dit boonop openlik in die belydenis verklaar het, dan hoort ons bymekaar. As ons dit nie doen nie, dan rand ons die Skrif aan. Dan oortree ons die negende gebod. En onthou tog dat die satan die vader van die leuen is.

  • Daar is ‘n argument wat sê dit is verskriklik hoogmoedig dat iemand ooit kan beweer dat hy die waarheid ken. Pilatus het al sooibrand van daardie kort vraag gekry: wat is waarheid? En dit terwyl die Waarheid in Persoon voor hom staan.

  • As gereformeerde antwoord ek die post-moderniste met hulle gemaakte nederigheid helder en duidelik. Kom laat ons bietjie notas vergelyk. Wie is die ware hoogmoedige? Die geopenbaarde dinge is vir die mens en die verborge dinge is vir God (Deuteronomium 29:29). Het God dan niks gesê oor kerkeenheid nie, is dit verborge by God? Is dit ‘n boek wat nog oopgemaak moet word by die wederkoms?

  • Die een wat die openbaring minag, die een wat maak asof die Skrif net oor saligheid gaan en nie ook oor verbondgehoorsaamheid nie, die een wat die openbaring verskraal, hy is die ware hoogmoedige. Dit kos moed om jou doof te hou voor God. Maar ek sê vir die post-modernis: Praat maar so sag soos jy wil, ek volg jou nie, want jy stap op jou dood af. Geloof sonder werke is sonder meer dood. Ja, want dit kos inderdaad hoë moed, arrogante eiewaan, om voor God te staan, en in sy gesig sy bevele oor kerklike eenheid te verontagsaam, en dit nogal as herders en leraars. Die gereformeerde belydenis wat ek so vurig liefhet, en as die waarheid verdedig teenoor die post-moderniste en voor u, is nie uit hoogmoed geskryf nie. Om te erken dat God met jou praat, om Zarathustra te antwoord, is geen hoogmoed nie: dit is nederige afhanklikheid van elke Woord wat uit God se mond uitgaan.

  • Daar is ‘n argument wat sê dat kerkeenheid nie oor die wese van die kerk gaan nie, maar net oor die wel-wese, oor die welsyn, oor die welstand van die kerk. Is dit wat Christus sê? As gereformeerde herinner ek my dat Hy wat gesê het: Gaan heen en maak dissipels van alle nasies”, ook in dieselfde asem gesê het: “en leer hulle om alles te onderhou wat Ek vir julle beveel het”. As jy net siele op die sendingveld wen, dan het jy God se oproepinstruksies net mooi in die helfte geknip. As die heiden nou tot geloof kom, wat moet hy alles doen uit liefde en dankbaarheid omdat hy salig is? Moet hy dan nie ook die kerklike eenheid opsoek en bewaar nie? Ja, en ek bedoel sigbare strukturele eenheid. Lees in Hebreërs 6 wat God sê oor die eerste dinge wat gepreek moet word. Ons moet ons eie doen en late, veral dit wat ons nalaat, in die Woord spieël.

Ons het 12 artikels in die Apostolicum. Daar is ‘n argument wat sê dat ‘n mens die deel waar ons bely ‘ek glo aan ‘n heilige algemene christelike kerk’ vanuit die praktyk moet benader en nie vanuit die geloof wat hoop op die dinge wat ons nie sien nie. Waarom? Waarom maak ons daar ‘n uitsondering? Ons geloof oor Christus, oor die Vader, oor die opstanding, al elf die ander artikels is gekonstrueer uit die geloof op grond van die openbaring. Waarom sal ons nou ons belydenis op hierdie punt uit die praktyk inkleur en die openbaringslig eenkant laat lê?

As gereformeerde bely ek: ook wat ek oor die kerk glo (HK Sondag 21), kom net so uit die Woord uit. Christus maak sy eie kerk bymekaar. Hou Christus ons uit mekaar of hou ons onsself uitmekaar?

Broeders, ons wat soveel waarde aan die elf artikels van die Apostolicum heg, wie het ons verstrooi?

As Zarathustra met sy menslike lantern-liggie by jou kom en vra: Het jy God leer ken? En hy stap verder en hy vra ‘n ander een: En jy, het jy God leer ken? En jy en ek sê albei: “Ja, God self het met my in sy Woord gepraat. Kyk, ek het dit selfs op papier neergeskryf om te deel met almal wat ook salig is en gehoorsaam wil wees”, dan sal selfs die mal Zarathustra vir jou en vir my vra: “Waarom staan julle dan so ver van mekaar af? Waarom is julle nie een nie? Het julle dan ook elkeen julle eie lig in die hand soos Nietsche vir my hierdie lampie gegee het?”

Veel meer as Zarathustra is hier. Jesus Christus is deur sy Woord en Gees hier teenwoordig. Laat ons tot bekering kom oor ons elkeen se aandeel om die liggaam van Christus sigbaar aan flarde te wil skeur.

Laat ons nie dink die Tussen Kerklike Kommissie is ‘n goeie ding nie. Veral nie solank ons dit gebruik om ons sonde van verskeurdheid voor God instand te hou nie; en dit terwyl ons een en dieselfde belydenis het.

Ek  wil  saam  met  u  nagmaal  gebruik,  nie  demonstratief eenmalig nie. Ek is met dieselfde doop as u gedoop. Dit is een en dieselfde verbond. God eis gehoorsaamheid aan sy verbond, aan sy Woord. Ek wil nie deel in post-moderne aanranding van die Skrif as dit by jou voorkom nie.

As jy God se openbaring vervang met jou eie liggie, as jy post-modernisties gemaak-nederig relasioneel met God se geopenbaarde waarheid ook oor kerkeenheid wil omgaan, dan loop jy die gevaar om die kern van die christendom te verlaat. So moenie post-modernisme in Afrika, in Afrikaans, met kerklike taal aan my probeer smous nie. Volgens die Woord verskil post-modernisme se DNA niks van Zarathustra s’n nie. Die openbaring is vervang. Ek as gereformeerde het nie God se openbaring in sy Woord vergeet of weggegee nie. God is nie dood nie. Die Here lewe. Hy het dit self gesê deur sy Woord en Gees. Ek het dit neergeskryf. Ek handhaaf daardie belydenis vandag teenoor vriend en vyand.

My medebroeders in die verstrooiing, die oordeel begin by die huis van God. God wil dat die saliges in hierdie stad een kerk moet wees. Jy is ‘n herder, jy is ‘n leraar, soos ek. Dit kom u en my nie toe om God op hierdie punt hier in Afrika teen te staan nie, want God handhaaf sy verbond tot in die hel. As die Here jou Here is, en jy weet dit op grond van die Woord, gehoorsaam Hom oor sy eie kerk se eenheid, op grond van daardie selfde Woord. Enigiets anders is ongehoorsaamheid.

Endnotes🔗

  1. ^ Quia (omdat) en quatenus (in soverre) het te doen met die verhouding tussen die Skrif en die belydenis. Ons aanvaar die belydenis omdat  (quia) dit met Gods Woord ooreenkom, nie in soverre (quatenus) dit daarmee ooreenkom nie. Laasgenoemde impliseer dat sekere dele van die belydenis nie met Gods Woord ooreenkom nie.