2 bladsye.

Psalm 8:3 - Koningskinders

Uit die mond van kinders en suigelinge het U sterkte gegrondves….

Psalm 8:3a

...elkeen wat die koninkryk van God nie soos ʼn kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

Markus 10:15

gesin

Word Psalm 8 in die Ou Testament nie deur Psalm 51:7 ongedaan gemaak nie? Hoe versoen ons die grootse beeld van die mens van Psalm 8 met die erfsonde? Praat ons as kerkmense liewer maar nie met minder groot woorde as daar ʼn nuwe lewe in die wêreld kom nie? Die doopformulier praat tog van “in sonde ontvang en gebore” en daarom rus God se toorn op ons?  ʼn Geboorte loop buitendien op niks uit indien dit nie deur ʼn wedergeboorte opgevolg word nie. Die mens, soos wat hy in die wêreld kom, kan eintlik maar net so weer verdwyn.

Eintlik is dit juis wat in Psalm 8 aangedui word, wanneer ons daarop let dat die beeld van die volwasse mens (vs 6 ev) voorafgegaan word deur die beeld van ʼn kind. Ter ere van God se glorie word die mens nie in die gestalte van ʼn volwasse koning gestel nie, maar die mens in die gestalte van die ontvangende kind.

Dit het alles betrekking op bogenoemde teks uit Markus 10:15. Let op die vergelyking tussen die klein kindertjies en die groot volwassenes: wat wil daardie kinders nou eintlik hê? en die dissipels wil sommer die kleinspan dadelik wegjaag. Maar dan keer Jesus die rolle meteens om: “...elkeen wat die koninkryk van God nie soos ʼn kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Juis hier blyk dit hoe Psalm 51 komplimenterend is tot Psalm 8 en die ondersteunende kommentaar gee vir vers 3: dis die kíndermonde wat sorg vir God se glorie. 

Want waarom moet ʼn mens dan allereers soos ʼn kind voor God word? Hoekom loop ons volwasse menswees uit op niks as ons nie geleer het om soos kinders te wees nie? Omdat die bittere feit van die sonde bestaan. Die sonde: dié angel in die hele mensegeskiedenis, wat eintlik die hele koninklike mensegeskiedenis in Psalm 8 weer laat oopsweer. Die sweer wat die middelpunt is van die majestueuse mensbeeld van Psalm 8. Die mens het wel ondanks die sondeval koning gebly. Psalm 8 is ʼn huidige werklikheid, maar Jesus Christus moes ondanks dit tog wel mens word, Middelaar-mens, om dwarsdeur die mensegeskiedenis God se heilsgeskiedenis te laat deurbreek; om in hierdie skepping, herskepping te bewerkstellig, waardeur die skepping in die toekoms tog wel as nuwe skepping volbring sal word (Openbaring 21:1). Hy moes mens word, inderdaad die mens van Psalm 8, om in hierdie wêreld die Koninkryk van God naby te bring. 

Tot hierdie koninkryk het jy alleen toegang deur Hom.  Nooit deur jouself as mens nie. Daarom:  alleen soos ʼn kind. Jy kan uiteindelik maar net jou hand as volwasse presterende mens van Psalm 8 in Jesus Christus se hand lê. Wees maar die kind soos beskryf in Psalm 51, wat in diepe afhanklikheid van God, swaar op sy knieë sak:  Heer, wees my, arme sondaar genadig. Want al kan jy jou beroem op jou koningskap, sonder genade kan jy nie gered word nie. Want slegs deur genade en enkel alleen deur genade kan jy vorentoe God se nuwe wêreld betree, waarop ons as ware konings sal regeer. En in hierdie nuwe wêreld kom die kultuurskatte van hierdie aarde saam, want niks wat goed is sal verlore gaan nie. Psalm 8 is nie ʼn duimsuig storie nie! Maar wel sonder die kultuur-oorskatting van die goddelose mens: Die sogenaamde volwasse mens, wat nie meer sy kinderhart in sy binneste voel klop nie.

Psalm 8 sal terugkeer op God se nuwe wêreld, maar dan gereinig, volmaak - die volmaakte mensbeeld in Jesus Christus.  Die volwasse mens dus, wat as kind definitief in die huis van sy Vader teruggekom het.

Koning op jou troon. Maar wel ondergeskik aan die troon van God en van die Lam (Openbaring 21). Eintlik soos Koninklike kinders. En kinderlike Konings. Koningskinders.