5 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Psalm 87 - Heerlike Dinge word van die Kerk Gesê

kerk

Wat dink jy van die kerk van Christus? "Niks om oor opgewonde te raak nie." "Ek weet dis verkeerd maar om die waarheid te sê is dit maar 'n bykomstigheid in my lewe." "Ek dink ek het God in Jesus Christus lief, maar ek het maar min entoesiasme vir sy kerk."

Psalm 87 is deel van die Godgegewe Skrif wat in besonder daarop gemik is om ons in dié verband te help. Dit sit die heerlikheid van Jehovah se kerk uiteen. Waarin bestaan dié heerlikheid? Hoe moet dié heerlikheid verstaan word? Psalm 87 roep ons op om God in sy houding teenoor sy kerk en die gelowiges van alle eeue se hoogskatting van haar, na te volg: "Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God!" (v 3) Jy en ek moet God se gedagtes oor sy geliefde bruidskerk Hom agterna dink. Uit ons harte moet ons dit wat God oor sy kerk sê, ook sê.

God se beoordeling van sy kerk is nie soos dié van die goddelose wêreld nie. Die Samaritane het gesê, "dat dié stad van ouds af hom teen konings versit, en dat rebellie en oproer daarin verwek is" (Esra 4:19). Die Edomiete het oor die stad van God uitgeroep, "Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!" (Psalm 137:7). Die vals kerk van Rome het die kerk van Christus, na God se Woord hervorm, genoem "'n versameling ketters".

Maar luister hoe hoog ag God sy kerk in sy Woord! "Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning!" (48:2). "Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer..." (132:13). Die kerk is die appel van God se oog, die "pilaar en grondslag van die waarheid" (1 Tim. 3:15).

Die mense van God sê voortreflike dinge van die kerk. Augustinus het sy beroemde boek, Die Stad van God, na Psalm 87:7 en soortgelyke verse genoem. Johannes Calvyn het die kerk as koninkryk beskryf, as die beginsel en verhewe openbaring van die bewyse van God se wonderbare mag, wysheid en geregtigheid. Volgens Calvyn kan die kerk nie na waarde geskat word sonder die maatstaf van God se Woord nie en is ons nie waardig as haar lede nie, tensy ons die kerk die hoogste ag van al die voorwerpe van ons besorgdheid. Spurgeon het geskryf dat, welke heerlike dinge die heiliges in hulle lofsprake ook al uiter, dit nie die profesieë van die profete, die liedere van die engele of die openbarings deur God self, kan oortref nie. Gelukkig is die tonge wat leer om so voortreflik besig te wees.

Om as God se kinders, heerlike dinge van die kerk te kan sê, word ons haar heerlikheid geleer in die Skrif, wat die Psalms insluit (bv. Ps. 46; 48; 87; 122; 137). As deel van die Woord, moet die bedienaars daarvan  hierdie Psalms op God's bevel preek (2 Tim. 4:2). Ook gee Hy opdrag dat ons dit sal sing (Ps. 95:2; Kol. 3:16). Die titel van Psalm 87 is " 'n Psalm, 'n Lied."

In die eerste vers van Psalm 87 staan dat God se "grondvesting op heilige berge" is. God het Jerusalem op die heilige berge gegrondves. Dit is een van die "heerlike dinge" wat oor God se kerk gesê word (v 3).

Jerusalem is geleë op 'n bergreeks wat noord-suid loop, parallel met die ooskus van die Middelandse See. Meer presies is Jerusalem op vier berghoogtes geleë: Sion, Moria, Scopus en Ophel. As stadsvesting is Jerusalem hooggeleë. Dit is nie een van die wêreld se hoogste pieke nie – 'n te hoë (en koue) ligging sou nie geskik wees vir 'n hoofstad en pelgrimstogte nie – en selfs Hebron na die suide is hoër, maar afgesien van die suidelike toegangsweg moet 'n mens klim om by Jerusalem te kom. Dit word veral duidelik in die pelgrimspsalms (Ps. 120-134). "Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?" (121:1). "Jerusalem wat gebou is soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is, waarheen die stamme optrek ... " (122:3-4).

Berg Sion

As vesting op 'n berg kan Jerusalem goed verdedig word. Die vyand moet opklim om dit te bereik – uitputtend! Dit is ook moeilik om krygstuig en voorraad op te dra. Die hoë ligging van Israel se hoofstad was haar beskerming: "Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid" (125:2). Jerusalem se mure is ook op die heuwels gebou. Net soos dit moeiliker is om 'n hoë vesting aan te val, so is dit makliker om die vyand vanuit die hoë vesting af te weer. "Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings; let op sy skanse, wandel deur sy paleise, sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel ... " (48:12-13).

As stad op die berge gegrondves, is Jerusalem standvastig, vas, onwankelbaar. Berge is die beeld van onwankelbaarheid (46:2), in besonder dié van Jerusalem: "Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid" (125:1).                            

Die hoë berge is
net soos 'n vaste skans
rondom Jerusalem:
geen vyand het daar kans.

So is die HEER rondom
Sy volk in ewigheid –
'n berg wat vas bly staan
In dag van storm en stryd.                            Ps. 125:2, 3 berymd

In die Nuwe Testamentiese dae van die een, heilige apostoliese kerk van Jesus Christus, wat bestaan uit gelowige Jode en heidene, is daar by God nie vir die aardse stad Jerusalem groter liefde of guns as vir Dallas, Delhi, Dublin of Dakar nie. Jerusalem is in 70 n.C. deur die Romeine oorrompel, want die kerk het haar Joodse luiers ontgroei en katoliek, algemeen of universeel, geword. Die uur waarvan Jesus gepraat het, het gekom en "dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid..." (Joh. 4:23) en die aardse berge van Jerusalem en Gerisim hulle betekenis verloor (20-21; vgl. Mal. 1:11).

Hierna kyk ons waarna die heerlike verhewendheid, weerbaarheid en onwankelbare grondves van Jerusalem se fondament in die dae van die Nuwe Testament verwys, die dae van die koninkryk van God in Jesus Christus.

Die Fondament🔗

Die heerlike verhoging, magtige vesting en onwankelbare vastigheid van Jerusalem (Ps. 87:1) verwys na Jesus Christus, die fondament van die kerk, "Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus" (1 Kor. 3:11).  Die kerk is gevestig in die bloed van haar Hoof en Verlosser. Die kerk se onwrikbaarheid lê ook vas in haar ewige uitverkiesing in Christus, want Christus en uitverkiesing is onlosmaaklik (Ef. 1:4). Die kerk is in die Here Jesus verkore en staan daarom onwankelbaar vas in God se uitverkiesende raadsplan. "Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is..." (2 Tim. 2:19).

Die kerk is ook gegrondves in die ewige genadeverbond van God met sy uitverkorenes in Christus. Dit was die wil van die Vader, die Seun en die Heilige Gees om die ryke gemeenskap van die Drie-eenheid met 'n volk, verlos in die bloed van ons Saligmaker, te openbaar. Dit is "‘n ewige verbond ... wat in alles gereël en verseker is" (2 Sam. 23:5). God het belowe en 'n eed gesweer, om vir ewig ons God, én die God van ons nageslag ná ons, te wees (Gen. 17:7; Hand. 2:39).

God se ewige uitverkiesing en verbond in Christus is gewortel in die ewige natuur en eienskappe van God. Die kerk is dus gegrondves op die eindelose en ewige genade, trou, geregtigheid, mag, heiligheid, liefde, wysheid en waarheid van God!

Wat 'n fondament vir die kerk! Hoe hoog is die berge waarop sy gebou is: die verhewe plekke van die ewigheid in Christus; in die hart en siel van onse God – oneindig hoog! Veel hoër as die ydele spekulasie van die grootste filosowe!

Wat 'n bolwerk is hierdie berge nie! Die kruis van Christus is ons toevlug en ons sterke toring! Ons verdedigingswerke is die waarheid en goedheid van God! Ons word beskerm deur 'n onvoorwaardelike verbond in Christus. God belowe sy kerk, "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie" (Heb. 13:5) en "Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting" (Ps. 62:2, 6).

Rots

In die geloof verwonder ons ons aan die standvastigheid van die kerk. Sy word versamel en beskerm vanaf Genesis 3 tot vandag en tot die wederkoms van Christus en sy sal ewig lewe by die Die-enige God. Wêreldryke het geval – die Babiloniese ryk, Die Medo-Persiese ryk, die Griekse ryk, die Romeinse ryk, die Mongoolse ryk, die Britse ryk, die Napoleontiese ryk, en so meer – maar die kerk bly staan met groter vastigheid as al die berge van die wêreld.

En dit ten spyte daarvan dat die kerk van die Here Jesus groot vyande het: die wêreld, die sondige natuur van die mens, en die duiwel; heidense godsdienste, die valse kerk en anti-Christelike regerings, kettery en skeurmaking. God se ewige verbondsraad met Christus in sy kerk staan vas. "Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het" (Ps. 33:12)!

"Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God!" (87:3). "Heerlik" beteken gewigtig, gelaai met betekenis en belangrikheid. Dit dra ook die betekenis van skittering en glans wat die Goddelike lig in ons hart en gemoed laat skyn. Die belang en die glans of heerlikheid van die kerk is eienskappe wat afgelei word van haar Hoof, Jesus Christus, in wie se aangesig die heerlikheid van God skyn (II Kor. 4:4,6).

"Die HERE het die poorte van Sion lief bo al die wonings van Jakob" (Ps. 87:2). Die Here het geen liefde vir die verworpe bose nie: "Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet" (11:5). Teen húlle word "die toorn van God ... van die hemel af geopenbaar" (Rom. 1:18). Maar God het sy volk Israel lief, in Naftali en Issaskar en Juda en Ruben, ens., van Dan tot in Berséba. Maar nie elke individuele etniese Jood nie, "want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie" (9:6). In die dae van die Nuwe Testamentiese katolieke of algemene kerk het Jehovah sy uitverkorenes in Christus lief, waarookal hulle is, hetsy Jood of heiden.

In die Ou Testamentiese beeld van Psalm 87 het die Here Jerusalem en Sion meer lief as enige stad of berg in Israel (2), laat staan die res van die wêreld. Jerusalem/Sion is verhewe en besonder heilig (1). Dit was in besonder deur God gekies as die hoofstad en plek van die troon van Dawid en die tempel met die ark, priesterskap, offers en aanbidding (78:67-72). Deur die "poorte" van Jerusalem/Sion het die volk op hulle bedevaart ingekom om saam die Here te kom loof en aanbid.

In die dae van die Nuwe Testament is God se liefde toegespits op sy heiliges waar hulle in openbare erediens op die Dag van die Here saamkom – méér so as in ons huise, by die werk of universiteit, en meer as op ander dae. Waarom? Omdat in die kerk se erediens al die heiliges tesaam is met dié een groot doel om, in gemeenskap met mekaar, ons Verbondsgod te loof. Die Woord van God word gelees en deur 'n geroepe ampsdraer eerbiedig verkondig. Die hele gemeente is saam in gebed deur ons Middelaar, Jesus Christus. Ons bring ons offergawes vir die uitbreiding van Christus se koninkryk en die versorging van medegelowiges. Die deur God geïnspireerde Psalms word met blydskap en insig gesing. Tesame bely die gemeente sy sondes en ontvang in die geloof die ryke seën van God. Genadegawes word gebruik en ons en ons kinders nader tot Jehovah in aanbidding. Dit is dus nie vreemd dat "Die HERE ... die poorte van Sion lief (het) bo al die wonings van Jakob. Heerlike dinge word van u gesê [deur Jehovah, deur Christus, deur die heilige engele en deur die heilige gelowiges], o stad van God" (87:2-3)!

Dit is geen wonder dat Satan die kerk (as instituut) so in die besonder aanval nie. Hy streef daarna om die kerk te verswak deur Bybelse en gereformeerde prediking, leer, belydenisse, erediens, kerkregering en tug te ondermyn. Hy soek afvalligheid en omverwerping van getroue kerke, want hy weet dat die kerk die "pilaar en grondslag van die waarheid" is (I Tim. 3:15), en dat sy God se heerlike Woord in Jesus Christus, dra en leer.

Geboorteplek🔗

Een van die heerlike dinge wat Psalm 87 ons leer oor Sion of die kerk, is dat dit ons geboorteplek is. Drie keer word hierdie waarheid vertel: "hierdie een is daar gebore" (4), "Man vir man is daarin gebore" (5) en "Hierdie een is daar gebore" (6).

Van watter geboorte praat Psalm 87:4-6? Daar is wesentlik twee geboortes. Die eerste fisiese geboorte het alle mense in gemeen; die tweede, geestelike geboorte is eie aan die uitverkorenes alleen. In Psalm 87 is daar dus twee moontlikhede: fisiese geboorte as 'n nasionale burger van Israel, of 'n hemelse, geestelike geboorte as burger van "Jerusalem daarbo" (Gal. 4:26). Die laaste is die korrekte. Mense van Babilonië, Filistia, Tirus en Ethiopië (Ps. 87:4) is nooit met letterlike, aardse, fisiese Israelitiese burgerskap in Sion gebore nie. Die geboorte van Psalm 87 is 'n geboorte tot 'n geestelike lewe om God te prys (7). Die fondament van hierdie (hemelse) Sion is die wonderbare liefde van Jehovah vir sy kerk in Jesus Christus (1-2), soos ons in die vorige deel gesien het.

poort

Van die wedergeboorte of die nuwe geboorte leer ons in die Nuwe Testament. Die Here Jesus praat in Johannes 3:1-13 met Nicodemus daarvan, om weer gebore te word. Hierdie waarheid word uiteengesit in Johannes 1:12-13, Titus 3:5 ("die bad van die wedergeboorte"), Jakobus 1:18, I Petrus 1:3 en 23, en baie kere in I Johannes. Maar die nuwe geboorte word ook in die Ou Testament geleer, want ons kry dit hier in Psalm 87. Esegiël praat daarvan in terme van die "nuwe hart" en die "hart van vlees" (11:19; 36:26). Dit word ook genoem die besnydenis van die hart (Deut. 30:6). Hoewel wedergeboorte of die nuwe geboorte meer volledig in die Nuwe Testament ontplooi word, is dit definitief dááįr in die Ou Testament.

Kan u sien hoe dom Nicodemus was? Nadat Jesus die nuwe geboorte aan hom verduidelik het (Joh. 3:3-8), vra dié Joodse leier, "Hoe kan hierdie dinge gebeur?" (9). Christus antwoord, "Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?" (10). Dit was 'n striemende teregwysing: "Nicodemus, wil jy sê dat jy nie van die wedergeboorte weet nie? Het jy niks geleer nie? Jy is veronderstel om geleerd te wees in die Bybelse leer! Mense kom na jou vir onderrig, maar jy ken nie eers hierdie uiters belangrike waarheid nie!  Het jy nog nooit Psalm 87 gesing nie? Het jy nie verstaan wat jy sing nie?" (vgl. 47:7).

Daar is ook vandag baie leraars in die kerke wat nie die waarheid van die nuwe geboorte ken nie. Rome leer wedergeboorte deur die doop, so ook baie Anglikane en lidmate van die Church of Ireland. Die dwaalleer van vrye wil verknoei ook die nuwe geboorte deur, in stryd met God se Woord (Joh. 1:12-13; 3:5-8; Jak. 1:18), te leer dat mens weergebore word deur die wil van die sondaar.

Die besondere aspek van die nuwe geboorte wat deur Psalm 87 onderstreep word, is dat dit in die kerk plaasvind: "hierdie een is daar gebore" (4), "Man vir man is daarin gebore" (5) en "Hierdie een is daar gebore" (6) waar "daar" en "daarin" na Sion verwys.

Wat beteken dit dat die uitverkorenes wedergebore word in die kerk? Gewis beteken dit nie dat daar in heidenlande ongeëvangeliseerde maar tog wedergebore mense ronddwaal nie. Daar is nie op afgeleë eilande "edele barbare" wat weergebore is deur die Gees maar nog sonder kennis van Jesus Christus is nie. Die nuwe geboorte vind plaas in die kerk in verband met die prediking. Uiverkore kinders van gelowiges mag selfs by hulle waterdoop weergebore wees, maar die nuwe geboorte is nie verbind aan die tydstip van die bediening van die sakrament nie (Westminster Konfessie 10:3; 28:6).

Hierop mag iemand sê, "Maar ek weet van mense wat beweer dat hulle bekeer is terwyl hulle nie in 'n kerkdiens was nie – deur 'n gesprek, of Bybellees of 'n radiouitsending ens." Eerstens is ons nie bewus van ons nuwe geboorte by die oomblik van ons wedergeboorte nie, want dit is 'n werk van God wat, buite ons wil en ons bewussyn, nuwe lewe in ons wek. Hierdie lewe word noodwendig duidelik in ons bekering, maar niemand ken die presiese tydstip van hulle wedergeboorte nie.

Selfs, argumentshalwe, as iemand sou sê dat hy as kind in 'n Christelike huis wedergebore is, is die antwoord voor die hand liggend. Die ouers wat hom opgevoed het in die vrese van die Here was lede van die kerk wat self gevoed en versorg is deur middel van die prediking van die Woord, die bediening van die ampte ens. in die kerk as instituut. Wat as iemand sou sê dat sy weergebore is terwyl sy die Bybel gelees het? Die Bybel is deur die kerk bewaar en in stand gehou en word deur die kerk as instituut en sy lidmate versprei. Iemand anders mag reken hy is weergebore toe hy die getuienis van 'n gelowige gehoor het. Was dié getuie nie 'n Christen, 'n lidmaat van die kerk, wat die waarheid net deur die kerk, "pilaar en grondslag van die waarheid", ken nie?

pilare

Hierbenewens kan ons nie dink dat al die uitverkorenes van Ou Testamentiese Israel weergebore is terwyl hulle fisies in Sion teenwoordig was nie. Wat van die vroue wat, streng gesproke, nie verplig was om na die drie groot feeste in Jerusalem op te gaan nie? Wat van Ou Testamentiese uitverkore kinders wat as babas gesterf het? Die punt is dat Israel se hele geestelike lewe in Sion gesentreer was en daaruit gevloei het. Die lewende God was in die tempel teenwoordig. Die offers het almal getuig van Christus se sterwe vir die sondes van sy volk. Jehovah het deur Dawid se huis regeer. Die leerbediening van die priesters en Leviete was ook in Sion gesentreer.

Vandag kom die wêreld se geestelike lewe deur die kerk. Die leer, kategese, erediens ens. van die kerk stel gelowiges in staat om saam te bid, te getuig en onderling gemeenskap te beoefen, want die middele van die genade (die prediking en die sakramente) is aan die geïnstitueerde kerk toevertrou. Christelike boeke, pamflette, CD's, DVD's, webtuistes ens. kom alles op een of ander wyse deur die kerk. Die meeste teologiese boeke, kommentare ens. is deur ampsdraers van die kerk geskryf en word in die verband van die geïnstitueerde kerk gepubliseer. Die nuwe geboorte vind in die kerk, haar erediens of haar breër organiese kerklike lewe en getuienis plaas.