2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Romeine 8:36 - Slagskape

Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape

Romeine 8:36

Het die gelowiges dit maklik in hierdie wêreld of kry hulle swaar?

Dis ’n vraag om oor na te dink. Miskien het u alreeds voorheen hieroor nagedink. So nie, is dit goed om dit tog te doen. Dit kan teleurstelling voorkom en ons die werklikheid waarin ons staan onder oë laat sien. Die posisie van die gemeente van Christus in hierdie wêreld is immers nie rooskleurig nie. Ons kan ons dit nie maklik voorstel wanneer ons so aan ons vryheid gewoond is nie. Dit is egter nie die normale posisie van die kerk nie. Dit is in der waarheid abnormaal. Die normale is dat Christene vervolg word, nouliks geduld word. Die lewe word dikwels vir hulle onmoontlik gemaak. Ons het die neiging om dan te dink dat dit iets vreemd is wat ons oorkom. Ons dink dat wat ons oorkom heeltemal in stryd is met God se plan en God se liefde.

Paulus stel dit duidelik dat dit nie vreemd is wanneer die swaard flikker en dood en tergstelling die deel is van God se kinders nie. Hy is dit ééns met die Ou Testamentiese gemeente. Hy haal Psalm 44 aan, waar die digter kla: “om U ontwil word ons die hele dag gedood; ons word gereken as slagskape” (vs. 23).

Hierdie psalm is waarskynlik ná die ballingskap gedig. Dit was ’n moeilike tyd. Die vyand was oppermagtig. Dit het gelyk asof God die Here afwesig was en sy volk vergeet het. Daar was fel vyandskap teen die God van Israel en almal wat dié God dien. Die gelowiges word met die dood gedreig omdat hulle die Here dien. Dit is egte geloofsvervolging: “om U ontwil”. Hulle word sodanig met die dood gedreig dat daar tussen hulle lewe en die dood byna geen onderskeid is nie. Daarom sê die digter hulle “word ... die hele dag gedood”. Hierdie lewe onder permanente bedreiging van die dood is al ʼn sekere sterwe.

Hierdie naam is tekenend van gelowiges: slagskape. Letterlik staan daar ‘vleisskape’. Skape wat geslag word om te eet. En hoe is Christene nie in die loop van die geskiedenis as slagskape behandel nie! Hoe het die bloed van gelowiges gevloei. Of hulle vir wilde diere gegooi is, op die brandstapel verbrand is, in konsentrasiekampe gemartel is, deur ’n vuurpeleton gedood is – slagskape was hulle; só is hulle beskou en behandel. En dit was hul erenaam!

Paulus haal in hierdie loflied ’n psalm aan om duidelik te maak: ons is die voortgang van die kerk van die eeue. Dit is nie vreemd as Christene vir hulle geloof moet ly nie. Dit is opmerklik dat hierdie ontnugterende opmerking juis in die loflied van die geloof (hier in Romeine 8) voorkom. Dit onderstreep dat die loflied midde in die werklikheid van die lewe staan. Ons moet dit deeglik voor oë hou.

As ons belydenis ons erns is en ons erns bly, moet ons die moontlikheid voorsien dat ons dit ter wille van ons geloof nie maklik sal hê nie. Ons word as kerke na die rand van die samelewing gedruk. Ons beteken nie meer baie nie. In die samelewing en in menige werkkring gee ateïsme en ongeloof die toon aan. Ons lewe in ’n gesekulariseerde omgewing: God is nie meer deel daarvan nie. En as jy laat blyk en voel dat God vir jou wel deel daarvan is, kan jy reken op slegte opmerkings, spottende kyke en onverdraagsaamheid. Dit is voorspel en voortekens van die vervolging wat kom. Ja, reeds nou word ’n gelowige as ’n slagskaap beskou – ’n voorwerp om jou mee te vermaak en jou vyandskap op uit te leef.

Daar is Christene wat daagliks daarmee te doen kry in moslemlande. Daar is selfs van hulle wat getuig: die plek waar die nuwe lewe in Christus beleef word, het ’n stinkende toiletemmer geword. Een professor in teologie is gedemoveer tot toiletskoonmaker. “Ek het nou nog meer geleentheid om die enige Naam aan mense bekend te maak, want almal moet een of ander tyd toilet toe gaan”.

Slagskape van Christus; verwond, gekneus, gedood — maar om Christus se ontwil. As ons saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik word. Is Hy nie self soos lam gelei om geslag te word nie? Daarom kan almal wat volkome op Hom vertrou hulle ook as slagskape laat behandel.

Moet nie vergeet dat Paulus hierdie dinge sê in die verband en as bewys van die feit dat allerlei ontberings ons nie van die liefde van Christus kan skei nie!

Wat ’n Christen aan leed en kruis kan oorkom is wel erg, maar die liefde van Christus is meer as die felste leed en die swaarste kruis.

’n Sware lot kan ons tref – pyniging en marteling – maar teenoor die hardste las staan die sagte liefde.

Dit kan soms baie donker word, maar hierdie liefde straal soos ’n helder lig in die duisternis van die nag van lyding.

Nou slagskape, dit is die pyn, maar eendag – kroondraers.

Laat wie volhard in stryd en nood
Getrou wees maar tot in die dood.
 En ‘k gee hul as genadeloon
Die onverwelkb’re lewenskroon.Skrifberyming 39:4