1 bladsye.

Sagmoedigheid

In die Bybel word groot waarde geheg aan sagmoedigheid. Jesus spreek selfs die sagmoediges salig:

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Matteus 5:5

Moontlik dink baie van ons aan iets anders as wat met die Bybelse “sagmoedigheid” bedoel word. Sagmoedigheid word baie keer geassosieer met of verstaan as “saggeaard” of “goedigheid.”

Die Bybelse betekenis van “sagmoedigheid” is definitief anders as “saggeaard wees”. Dit blyk al uit die feit dat in die Bybel van Moses gepraat word as ’n uitermate sagmoedige mens. Moses word meer sagmoedig genoem “as enige iemand op die aarde” (Numeri 12:3). Tog was Moses nie sagmoedig of goedig in die sin soos mense oor die algemeen praat nie. Inteendeel: Moses kon verskriklik kwaad word. Hy kon mense striem met sy woorde en sy oë kon vuur skiet. Dit is hoe Michelangelo hom uitgebeeld het in sy beroemde beeldhouwerk wat ons nog vandag in Rome kan sien.

Dit neem nie weg, dat Moses in die Bybel uitermatig sagmoedig genoem word nie. Sy sagmoedigheid sluit nie sy toorn uit nie, maar sluit sy toorn juis in. Hy was sagmoedigheid, omdat hy om die regte redes baie kwaad kon word. Moses was toornig wanneer God se reg aangetas word. Dan kon Moses nie meer stilbly nie. Hy het aan die ander kant wel stilgebly wanneer sy eie belange op die spel geplaas was. Oor hierdie sagmoedigheid van Moses word in die Bybel gepraat toe Mirjam, sy suster, hom eenkeer verskriklik beledig het (Numeri 12:1-2). Moses het homself nie op haar gewreek nie. Hy het hom stil gehou. Hierin het sy sagmoedigheid ook duidelik geword.

En so word die betekenis van die Bybelse woord “sagmoedigheid” vir ons duidelik. Iemand wat sagmoedig is, staan sterk waar God se belange aangetas word, maar weet ook om terug te staan wanneer dit oor sy eie belange gaan. Iemand is sagmoedig wanneer hy altyd op die regte tyd toornig raak, en nooit op die verkeerde oomblik nie (W Barclay).

Die volle betekenis van sagmoedigheid kan ons sien by Jesus. Hy word ook in die Bybel sagmoedig genoem (Matteus 11:29 en 21:5), en ook by Hom sien ons twee eienskappe. Aan die een kant dryf hy die handelaars wat die tempel verontreinig hardhandig uit die tempel uit (die huis van sy Vader). By Jesus was daar nie minder nie as by Moses striemende woorde, en sy oë kon ewe veel vuur skiet. Aan die ander kant weer was Sy eerste reaksie, toe Hy aan die kruis vasgenael word, dat hy vergewing vra vir sy moordenaars. Dit is wat ware sagmoedigheid is. Om so vir God se saak op te kom soos wat Hy gedoen het, en ook om Homself tegelykertyd te verloën.

Daar is ‘n storie wat prof dr J de Graaf vertel in sy boek oor die bergrede. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was daar ‘n klomp gevangenes in ‘n barak in ‘n Duitse konsentrasiekamp. Elke aand het daar ‘n bewaker gekom en elke keer het hy dieselfde man geslaan. Die ander gevangenes kon net aand na aand met magtelose woede toekyk. Wat kon hulle doen? Totdat daar op ‘n aand een van die gevangenes vir die bewaker sê: “As jy dan nou elke aand iemand moet slaan, slaan maar vanaand vir my.” Dit het die bewaker onverhoeds betrap. Na ʼn bietjie aarseling sê hy: “Goed, ek sal jou slaan vanaand, maar omdat jy so braaf is om jouself aan te bied, kan jy self sê hoeveel keer ek jou moet slaan”. Die gevangene antwoord toe: “Nee, dit laat ek aan jou gewete oor”. Daar was weer verrassing en verwarring by die bewaker. Hy sê toe: “Ek het nie ʼn gewete nie.” Toe sê die gevangene: “Natuurlik het jy  ʼn gewete, anders sou jy my al lankal geslaan het”. Na hierdie vreemde gesprek was die bewaker nie meer geïnteresseerd om te slaan nie. Hy het verdwyn en het nie weer teruggekom nie.

Dit is wat die Bybel met sagmoedigheid bedoel. Wanneer ons sagmoedig is, moet ons ons stem skreeuend verhef, maar ten koste van onsself. Dit is presies wat die een gevangene gedoen het. Hierdie sagmoedigheid kan ons net op een manier leer. Jesus sê: “...en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart” (Matteus 11:29).