Bron: Kompas. 3 bladsye.

Salig is die onvrugbares – ook vandag nog!

vrou in woestyn

In die eerste tema-artikel van hierdie uitgawe (“Onvrugbares in blye verwagting” van ds. FJ Bijzet) word baie duidelik aangetoon hoe die Here deur die loop van die heilsgeskiedenis onvrugbare vroue gebruik het om te kom tot die heil van sy volk en die geboorte van sy Seun, ons Kersgeskenk! God het op ʼn bonatuurlike wyse onvrugbare vroue in sy verlossingsplan ingeskakel.

Hierdie wonders is egter verby; daar is nie meer engele wat onmoontlike geboortes aankondig nie. Johannes die Doper was die laaste wondergeboorte van die ou verbond. En tog is daar nog steeds onvrugbares in ons dae en in ons kerke… Om eerstehands iets van hierdie mense se belewenis en worsteling te proe, laat ek u saamlees uit ʼn artikel van Sarah Hinlicky Wilson in Christianity Today van Desember 2007.

Ons-twee sáám is onvrugbaar🔗

My man en ek is onvrugbaar. Sommige mense, wanneer hulle die nuus hoor, wil weet wie van ons die oorsaak is. En daar is ʼn presedent vir hierdie vraag. Die Skrif toon naamlik altyd aan wie die oorsaak is. Sara is te oud; die Sunamitiese vrou se man is te oud; Ragel en Hanna en Manoag se vrou se moederskote is eenvoudig toegesluit. Een persoon van die paar is altyd verantwoordelik.

Maar ons beveg Skrif met Skrif. Genesis 2 verklaar dat man en vrou een vlees sal wees. Dit vat twee mense – ʼn man en ʼn vrou, verbind in een vlees – om ʼn baba te verwek. Om te vra wie van ons twee “verantwoordelik” is vir die onvrugbaarheid, suggereer dat een van ons ʼn baba kan voortbring sonder die ander een – iets wat egskeiding of dood sou vereis. Die geïmpliseerde skeur in die een vlees van ons huwelik maak hierdie vraag sinneloos. Óns kan nie ʼn baba kry nie. Geen ander huwelik is hier ter sprake nie.

Ons het nie met verloop van tyd van ons onvrugbaarheid geleer nie, maar by dokters. Dokters kyk nie na huwelike as een vlees nie. Hulle kyk nie na ons liggame soos wat ons na mekaar s’n kyk nie. Ons sien geliefde vlees en spiere en oë, ons sien sagtheid en beskerming en begeerte. Dokters kyk na ons liggame as probleme om op te los. Hulle het al probeer om die probleem op te los voordat ons self die verskriklike realiteit, dat daar ʼn probleem is, geabsorbeer het. Toetse is beplan, klein ingrepe, hormoontellings en chemiese berekenings – alles om die probleem op te los. Die probleem sou uiteindelik opgelos word deur ʼn bevrugting waarin ons nie eens aan mekaar sou raak nie… Toe het ons nee gesê. Ons is vreemd aangekyk. “Het julle ʼn morele beswaar daarteen dat bevrugting buite die menslike liggaam plaasvind?”, het een dokter gevra. Vergeet vir ʼn oomblik van die morele beswaar. Wat hiervan: maak dit enigsins ʼn verskil as ʼn baba deur seks voortgebring word? Ons is beskou as mense wat tegnologies preuts is omdat ons die proefbuise verwerp het. Ek dink húlle is die preutse mense, omdat hulle meen dat seks so onnodig is. Hier is die waarheid. Ek wil ʼn kind van my eie vlees en bloed hê. Maar ek wil hê dat daardie kind deur my liefde vir my man voortgebring sal word. Nie abstrakte liefde nie; vleeslike liefde vir ʼn vleeslike kind.

proefbuis baba🔗

Jesus se omgekeerde saligspreking🔗

Bogenoemde is woorde uit die hart! Die skryfster dra nie teksverse aan nie, maar dit wat sy sê, reflekteer wel die gees van die Skrif. En tog bly die Skrif nie stil nie. Die skryfster vertel van die geval in Lukas 11:27 waar ʼn vrou uit die skare soos volg op Jesus se indrukwekkende onderrig reageer: “Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het.” Gelukkig is die vrou wat jou moeder is. ʼn Pragtige saligspreking! Maar wanneer Jesus kort daarna oppad is na die kruis en die vroue oor Hom rou bedryf en Hom beklaag, dan draai Jesus hierdie saligspreking om met ʼn saligspreking van sy eie. Hy sê:

Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders; want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie. Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! En vir die heuwels: Bedek ons! Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!” Lukas 23:28-31

Hierop lewer die skryfster die volgende kommentaar:

Onvrugbaarheid is ʼn vloek op die skepping. Dit is ʼn oortreding, ʼn miskenning van die Skepper se oorspronklike opdrag en begeerte vir sy skepsele … Onvrugbaarheid daag die skepping uit, staan dit teen, pen dit vas en oorwin dit. ʼn Vrugtelose liefde is die duiwel se bespotting van die Skepper se gawe.

En tog spreek Jesus ʼn saligspreking oor die onvrugbares uit. Hy seën vir die eerste keer die onvrugbares as onvrugbares. Hy neem hulle vloek weg. Nie deur ʼn kind te gee nie – daardie seën word nie meer gegee nie. Jesus se seën is ʼn harde seën; dit is ʼn Goddelike seën, want dit maak dood terwyl dit lewend maak. Dit beantwoord nie die diepste verlange van man en vrou om saam ʼn baba te verwek nie … Maar dit verwerp die vervloeking en die kuur vir die vervloeking, die een saam met die ander, en vervang dit met ʼn totaal nuwe seën. Salig is die onvrugbares, salig is die leë moederskote, salig is die droë borste.

Hierdie is nie ʼn seën vir die alledaagse lewe nie. Dit is nie ʼn seën vir die nou nie. Dit is ʼn seën vir die einde. Dit is ʼn apokaliptiese seën wat inbreuk maak op die hede en op die begeerte van die hede vir ʼn gesin, kinders, haard en huis.

Aanneming🔗

Vervolgens bespreek die skryfster die hele saak van aanneming. Sy en haar man het besluit om ʼn Latyns-Amerikaanse seun aan te neem. Sy skryf daaroor onder andere die volgende:

Ons het ʼn foto van ons seun se ma – nie ek nie, maar die ma wat hom in haar moederskoot gedra en aan hom geboorte geskenk het. Hy is vier maande oud, maar sy het hom nie gesien sedert hy vier dae oud was nie … Sy druk haar wang teen sy kop, hou hom styf vas, en kyk na die kamera met ʼn pyn wat ek nooit sal ken nie. Die kind wat ek verloor het, is slegs die kind van my verbeelding … Die kind wat sy verloor het, is vlees. Hy noem iemand anders ‘mamma’.

Aanneming begin altyd met ten minste een tragedie, en somtyds twee. Die ouers wat ʼn kind kry, wil of kan daardie kind nie hou nie. Die ouers wat ʼn kind wil hê, kan dikwels nie. Die kind wat hulle uiteindelik grootmaak, is nie hulle s’n nie. Hulle vreugde kom van iemand anders se hartseer. Die waarheid is dat aanneemgesinne gebore word uit pyn, net soos wat die kerkgesin gebore is uit die pyn van die kruis. Maria moes haar seun na die vlees, haar seun Jesus, opgee in sy dood aan die kruis. Sy verloor haar seun, maar sy verkry ʼn ander een, sy neem ʼn ander een aan – die dissipel wat Jesus liefgehad het. En deur dít te doen, spieël sy die optrede van die Vader in die hemel, wat sy eie Seun aan Maria geskenk het, sodat die seuns en dogters van die wêreld nie sterf nie, maar ewige lewe het, en sodoende die kerk van sy aangenome kinders kan vorm.

aanneem van kind

Dus, ʼn aanneemgesin lyk meer soos die kerk as ʼn biologies gevormde gesin. Dit is nie ʼn privaat kring van bloedbande nie, maar ʼn gemengde groep van onverwante persone wat saamwoon…

Onvrugbaarheid is ʼn geloofsaak🔗

Ek laat u ten slotte nog saamlees hoe die skryfster dit verwoord:

Onvrugbaarheid vra voortdurend van ons of ons glo in die opstanding van die dooies. In die ou verbond het kinders onsterflikheid beteken. Kinderloosheid was nie slegs hartseer vir daardie oomblik nie, maar het ewige dood geïmpliseer. As die onvrugbares van die nuwe verbond is my man en ek afgesny van die onsterflikheid van ʼn bloedlyn. Ons aangenome kinders sal waarskynlik hulle eie kinders kry, net soos ons ouers ons voortgebring het. Maar daar is ʼn geslote sirkel rondom ons en ons onvrugbare huwelik, wat ons uitsluit van die kom en gaan van generasies. Ons is slegs verbonde aan ander onvrugbare paartjies deur ons gemeenskaplike onverbondenheid. Saam dui ons die einde van die lyn en die einde van tyd aan.

Onvrugbaarheid bring vrees. Hoe sal ons voortleef wanneer ons sterf? Ons kan nie ons ongeloof agter ons kinders verberg nie, of agter die name van kinders wat eeue in die toekoms uitgespreek sal word nie. Ons weet, op ʼn manier wat biologiese ouers nie weet nie, dat ons kinders nie ons eie is nie.

En tog, dít wetende, word ons ongeloof blootgelê en word ons weer teruggebring na die geloof. Ons sal voortleef ná ons sterwe omdat ons sal opstaan soos Christus, die eerste vrug en die pionier. Ons sien nie nou hierdie realiteit nie. Dit word vir ons verberg. Dit is ʼn belofte wat wag vir vervulling in die eindtyd. Vir baie is hierdie eindtyd ver weg. Maar my man en ek leef daarin! Salig is die onvrugbares!

Kan ek met gesag praat oor die ervaring van onvrugbares? Nee! En daarom het ek hulp gebruik, iemand wat eerstehands kan praat, ʼn gelowige onvrugbare. Miskien gee dit aan vrugbares insig, en aan onvrugbares troos…