4 bladsye.

Seksuele Opvoeding van die Ouer Jeug II

In die vorige artikel het ons gesien dat die opvoeding van ouer kinders ’n ander styl van die opvoeder vereis. Kinders is meer volwasse, wil gerespekteer word. Die ouers ly nie skade as hulle ook hul swakhede kan bespreek nie. Gedurende die puberteit verander daar baie by die kinders. Hoewel dit lyk asof hierdie periode dikwels negatief benader word, kan daar baie positiewe dinge gesê word. Dit is ’n periode waarin die ouers, ondanks alles, tog nog ’n vormende rol in die opvoeding speel. In hierdie artikel word die aandag gespits op die verskil tussen mans en vroue. ’n Saak wat so belangrik is dat dit in die opvoeding nie mag ontbreek nie. Ons kyk hoe ons ons kinders kan bystaan as verhoudings begin, en die houding wat ons ten opsigte van selfbevrediging behoort te hê.

Die Verskille🔗

Binne die gesprekke met die kinders oor waardes en norme in hulle opvoeding, kom die seksuele vanselfsprekend ook ter sprake. In die gesprekke sal breedvoerig aandag gegee moet word aan die verskille tussen man en vrou. Die indruk wat ek van baie huwelike kry, is dat dit beter kon gegaan het indien die verskille duidelik bekend was. ’n Groot getal ontspoorde huwelike is die gevolg van onvoldoende kennis van mekaar se eienskappe.

In die praktyk beteken dit dat die opvoeder self ook terdeë bewus moet wees van wat die verskille nou eintlik is. Anders is dit net wind. Baie ouers is op hulle beurt weer nie deur hulle ouers ingelig oor die groot geestelike verskille wat tussen man en vrou bestaan nie. Van die liggaamlike verskille weet ons dikwels genoeg. Die houding van man en vrou teenoor seksualiteit verskil totaal.

“...en na jou man sal jou begeerte wees” lees ons in Genesis 3:16. Baie het hierdie vers gelees as: “deur die sondeval moet die vrou nou ‘n seksuele verlange na die man hê”. As dit die beeld is wat ’n man van sy vrou het, dan kan die huwelik al gou op ’n teleurstelling uitloop. Want dit blyk dan dat ’n vrou binne die huwelik, in die meeste gevalle, glad nie so funksioneer nie. Sy is nie die party wat smag na seksuele bevrediging nie. Die Bybelteks sê ook nie so nie. ’n Vrou soek in die liefde veral intimiteit en koestering by haar man. Sy soek sy beskerming. Dit is iets heeltemal anders!

Dit moet ons daarom ook duidelik vir mekaar sê: Hiermee het die wêreld van film en TV die spoor totaal byster geraak. In allerlei films word die illusie voorgehou dat vroue altyd van begeerte brand. So rig die skynwêreld van TV baie skade aan. Mense wat gereeld na sulke goed kyk, kry dan die gevoel dat hulle in hulle huwelike iets kortkom. Mans kry die indruk dat hulle vrouens nie ‘normaal’ funksioneer nie. En so ontstaan daar huweliksverbrokkeling.

En satan geniet die speletjie. Hy verslaan so sy duisende. Laat ons hom nie gee wat hy soek nie. Hy is ons vyand! Hy is daarop uit om ons en ons kinders te verwoes, ten dode toe!

Die benadering tot die seksualiteit is by mans en vroue behoorlik verskillend. By ’n man ontstaan byvoorbeeld baie vinniger liggaamlike opwinding as by ’n vrou. Haar intensiteit van liefdesbelewing is dikwels baie groter. Liefkosing en seksualiteit is by ’n man meestal onlosmaaklik van mekaar. Die vrou kan liefkosing geniet sonder dat daar gemeenskap hoef te volg.

Uitgaan en verlowing is die leerskool hoe om met mekaar om te gaan. Dan is dit goed om gedurende hierdie periode duidelik oor die verskille te praat. Dit kan in ’n gesprek met jou kind alleen, maar natuurlik ook met die geliefdes saam. Die voorbereiding op die huwelik is ’n goeie tyd om mekaar te leer ken, te verken. Om die paartjie op dieselfde golflengte te kry. Nie alleen liggaamlik nie, maar veral geestelik. Want die vernaamste band in ’n huwelik is die liefde, nie die seksuele nie. Wat doen jy as jou vrou om gesondheidsredes nie meer gemeenskap kan hê nie? Is die liefde dan verby? Is die lewe dan ’n teleurstelling?

In die voorbereiding sal dit duidelik moet word dat seks nie alles is nie, dat dit nie die basis vir jou huwelik is nie. Die basis lê in die liefde van God. En uit sy liefde die liefde vir mekaar.

Jy kan die huwelik nie ingaan sonder om jou te vergewis van die verskille nie. Hou daarmee rekening!

Die Selfbevrediging🔗

Die onderwerp kan gedurende die opvoeding nie vermy word nie. Volgens statistieke bevredig 95% van seuns hulself seksueel, en daar word dan ligsinnig bygevoeg dat die oorblywende 5% daaroor jok... By vroue is die persentasie heelwat laer, maar wel bo 50%.

Vroeër jare was selfbevrediging ‘Onanie’ genoem. Die mening was dat die sonde van Onan in Genesis 38:8-11 die verderwing van sy saad op die grond was. Hierdie visie het baie ellende veroorsaak. Die mening was dan dat selfbevrediging letterlik ’n doodsonde was.

Die gedagte was verder dat selfbevrediging sonde teen die Heilige Gees was. Dit het aan baie jongeres in hulle jeug (en daarna!) ’n skuldkompleks besorg.

Onan se sonde was egter nie die saadverspilling nie, maar dat hy geweier het om ’n nageslag vir sy broer te verwek. Hy het geweier om die omgangsreëls wat God gestel het, te gehoorsaam.

Ons moet dus nie selfbevrediging met Onanie verwar nie. Dit het niks daarmee te doen nie. Hoe bespreek ons nou egter hierdie saak met ons kinders? Is selfbevrediging wel sonde?

Die vraag kan gevra word.

Ons moet eers aandag skenk aan wat hom in die menslike liggaam afspeel. Ons let eers op die manlike kant. By elke seun kom op ’n sekere ouderdom die saadproduksie aan die gang. Saadjies word gemaak ongeag of hulle gebruik word of nie. Dit word soms duidelik deur ’n nagtelike saadstorting, ook bekend as ’n “nat droom”. Hieroor kan ons nie kwaad spreek nie, want dit gebeur onwillekeurig.

By meisies weer kom op ’n sekere ouderdom die maanstondsiklus op gang. Sy het maandeliks haar vrugbare periode, gevolg deur ’n periode van ongesteldheid. Hierdie siklus gaan ook gepaard met gevoelens. Deur streling van sekere liggaamsdele kan die gevoelens versterk word.

Sekere mense meen dat selfbevrediging hoort by die ontdekking van jou eie liggaam.

Is die ontdekking dan sonde? Seker nie. Daar word deur sommiges bv. gesê: Ek geniet ’n heerlike stortbad! Ander weer geniet dit om sport te beoefen. Om goed te sweet.

Dan moet selfbevreding deur streling en opwinding dan tog ook moontlik wees? Dit is in wese tog dieselfde?

Wat stel jy as ouer hierteenoor? Baie sal, gesien die persentasies van hul eie jeugjare, ook hiermee te doen gehad het. Deur dit net al aan jou kinders te noem, kan jy help dat hulle begrip voel vir die moeilike stryd. Hulle weet dat jy ook geveg en verloor het. Jy wou nie, maar tog het jy.

Maar hoe help ons ons kinders verder?

Mag jy jou liggaam so opwen dat ’n saadstorting plaasvind, of ’n orgasme bereik word? Is dit nou sonde voor God of maar net ‘n gevolg van die sonde?

Aan die liggaamsbou van man en vrou is dit duidelik te sien dat die seksuele vir twee persone geskape is. Vir man en vrou. Daarvoor het die Here dit gemaak, en nie om egoïstiese redes nie. Daarin ontaard selfbevrediging meesal in. Selfbevrediging is alleen op jouself gerig.

Ons noem dit self-bevrediging. Is dit regtig bevrediging van jouself? Uiteindelik nie. Dit is teleurstellend. Tog kan dit verslawend werk. Jy moet, kan nie daarsonder nie. Dit lyk vir my goed om die verslawende element onder die kinders se aandag te bring.

Die gevaar bestaan immers dat selfbevrediging daartoe lei dat ’n man sy vrou slegs as ’n selfbevredigingsvoorwerp sien en ervaar? Sy moet maar sien en kom klaar! Maar gemeenskap moet juis op die ander gerig wees. Hoe maak ek dit vir jou ’n hoogtepunt! Daarop moet ons ons kinders se aandag rig. Dan word die die huwelik vir hulle ’n genieting-van-mekaar.

Selfbeheersing is ’n goeie eienskap binne die huwelik, ook op die seksuele terrein. Die selfbeheersing kan geoefen word, deur die selfbevrediging af te wys.

Wees versigtig om swaar skuldgevoelens hieroor op te wek in die opvoedingsituasie. Verduidelik dat dit beter is, vir verskeie redes, om daarvan af te sien. Die selfbevrediging is myns insiens wel ’n gevolg van die sonde. Net soos ander gedragspatrone van die puberteit, bv met deure smyt, heftige woordwisselings en gebrek aan respek vir oueres. Hierdie gedrag is deel van ontwikkeling tot ’n selfstandige persoon. Maar dit bly die gevolge van die sonde. So kan selfbevrediging ook gesien word. Die ontdekking van jou liggaam is nodig vir ontwikkeling. Maar bepaalde gedragspatrone bly die gevolg van die sonde, en was oorspronklik nie daar nie, en sal op die nuwe aarde ook nie meer daar wees nie.

Hoe Ver Mag Hulle Gaan?🔗

Met ouer kinders sal jy, veral as hulle ’n vaste verhouding aangeknoop het, gesprekke moet voer oor hoe ver jy op die seksuele gebied met jou vriend of vriendin mag gaan. Hierdie tyd en verlowing is pragtige geleenthede om mekaar te leer ken. Soms kan die vuur so hoog opvlam, dat selfbeheersing moelik is. Agteraf sien jy as ouers eers die waarde van die vaste verhoudingstyd. Dis die tyd om mekaar te leer ken, en nie te ‘beken’ nie. As jy jonk is en dit self beleef, dan wil jy egter steeds meer beleef en ontdek.

Hieronder volg ’n paar ‘openhartige vrae’ wat aan die orde gestel kan word gedurende ’n gesprek met jou kind. Die een vraag eerder as die ander.

  • Hoe ver mag jy gaan om mekaar te betas?

  • Mag julle mekaar naak sien in hierdie tyd?

  • Hoe dink julle oor saam bly?

  • Hoe dink julle oor gesinsbeplanning?

Hierdie vrae stel jy nie sommer so aan ’n kind nie. As die kommunikasie al klaar stroef is, is daar vir hierdie soort vrae miskien glad nie ruimte nie.

Tog wil ek aandag daarvoor vra. By ’n spreekbeurt vir jongeres oor hierdie onderwerp, het dit my opgeval hoe graag hulle daaroor wil praat. Dikwels beleef hulle probleme met hierdie soort sake. Byvoorbeeld: Die meisie staan dinge toe met die betasting van haar liggaam, om haar seunsvriend nie te verloor nie. Maar sy het tog ’n probleem daarmee! Sy kom nie agter dat sy deur haar gebrek aan kennis van seuns hierdie situasie self min of meer uitgelok het nie. Sy kan ’n behoorlike skuldgevoel kry as sy nie weet of die Here hierdie dinge goedkeur nie. Daar kan selfs ’n skuldgevoel teenoor haar ouers ontstaan. Sy wil haar ouers nie teleurstel nie. Daarom word daar gepleit vir oop gesprekke oor hierdie dinge.

U as opvoeder moet moeite doen om openheid hieroor te kry. Miskien dink u by uself: Ek was self in hierdie tyd nie beste voorbeeld nie, het ook te ver gegaan. Moet ons dan maar die situasie sy eie gang laat gaan? Sodat jou kinders in dieselfde net verstrengel raak?

’n Oop en eerlike gesprek met jou kinders ontstaan meesal deur jouself swak op te stel. Dan sal die kind se versugting wees: Gelukkig is my pa en ma ook gewone mense. Hulle het begrip vir my moeites. Hulle ken dieselfde stryd as ek.  As die opvoeder nie sy swakhede toon nie, bly die gesprek op ’n afstand. Dan is daar nie ’n vertrouensband nie. Pa en ma skryf die wet voor, wat mag en wat nie mag nie. So ’n gesprek baat niemand nie, maar laat net die spanning oplaai. Die kind is gesluit vir ’n gesprek.

Onthou om u gesprek goed voor te berei. Lees baie oor hierdie onderwerpe. En luister ook goed na wat jou kind wil sê.

Tenslotte🔗

As ’n mens na ons samelewing kyk, dan lyk dit asof verhoudings en om te leef in ’n huwelik die belangrikste ding in die lewe is. Berei ons ons kinders ook voldoende voor vir die moontlikheid dat hulle lank alleen kan wees? Alleenwees is nie bejammeringswaardig nie.

Dit is wel sommiges se benadering. Jy is nie ‘volledig’ as alleenloper nie. Of ons sê vir iemand, wat na lange tyd ’n verhouding aanknoop: Baie geluk, jy het eindelik reggekom! Asof hulle met opset in die ongehuwde staat volhard het. So ’n benadering is nou nie bepaald positief vir ’n alleenstaande nie. Laat ons nie die positiewe van diegene wat sonder huweliksmaat deur die lewe gaan, miskyk nie. Hoe sien jy jou huwelik en jou lewe voor God, as getroud-wees jou lewensdoel sou wees? God gee aan elkeen van sy kinders ’n plek in sy koninkryk. Daarvoor kry elkeen voldoende krag. Hy vra van jou om na vermoë te funksioneer, op die plek vir jou gegee, met die talente aan jou toegedeel. Getroud of ongetroud.

Ons kan met ons opvoeding saamwerk aan ’n goeie funksionering van ons kinders, al moet hulle alleen bly. Omgewingsfaktore, waaronder gebrekkige opvoeding ook val, kan soms lei na versuring en verbittering in ons kinders se lewe.

Die opvoeding van jong en ouer kinders vra ’n goeie atmosfeer. Hierdie atmosfeer is afhanklik van baie faktore. Soms oënskynlik klein dingetjies: Die opset van die leefkamer, die sfeer in huis, blomme op tafel, rustigheid en aandag vir mekaar.

En moenie probeer om by elke geleentheid die groot en gewigtige onderwerpe aan te spreek nie. Die tyd moet daarvoor ryp wees. Om vertroue te wek en te gee is in die gesprek van kardinale belang. Lê sover moontlik die basis as die kinders nog jonk is. Dan kan later daarop voortgebou word.

Om vir jou kinders te bid sal ongetwyfeld op alle ouers se program staan. Dit is ’n baie belangrike saak. Ons word opgeroep om te bid en te werk. Laat ons dit ook doen. Gebruik geleenthede soos hulle voorkom. Dit kan oomblikke wees waarteen jy opsien. Maar dit sal ryk oomblikke wees. Ryk vir jouself en ryk vir jou kinders. U staan nie alleen voor hierdie groot opdrag nie. Die Gees van God sal u wysheid gee. Baie hulpmiddels in die vorm van boeke en artikels sal u ook kan help.

Mag u as ouers baie goeie en ryk opbouende momente met u kinders beleef.