Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Sentrum en Periferie in die Eksegese

Die begrippe ‘sentrum’ en ‘periferie’ word dikwels in teologiese gesprekke genoem. In dogmatiese gesprekke oor Skrifbeskouing word dan gevra na die sentrum (kernboodskap) van die Skrif as geheel. Wanneer dit kom by Skrifverklaring is die vraag na die sentrum (kernboodskap) van ’n bepaalde Skrifdeel (perikoop, teks) weer van groot belang.

Sentrum en Periferie van die Skrif in die Kerkgeskiedenis🔗

Hoewel die begrippe ‘sentrum’ en ‘periferie’ tipies aan die twintigste en een-en-twintigste eeu is, het die vroeë kerkvaders reeds geworstel met die vraag na die sentrale Skrifwaarhede. In die kerk se stryd teen dwaalleer was dit nodig om die gesonde leer kort en kernagtig te formuleer. So het die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Belydenis van Nicea en die Belydenis van Athanasius gestalte gekry. Met hierdie belydenisskrifte het die kerk aangedui wat hulle as sentrum van die Skrif beskou.

Tydens die Reformasie van die sestiende eeu is daar weer besin oor die sentrale waarhede van die Skrif. Luther en Calvyn het saamgestem dat Christus die sentrum van die Skrif is. Tog was daar ’n klemverskil. Vir Luther het die Christologiese sentrum net gegaan oor ons verlossing in Christus; Calvyn het dit egter so gesien dat Jesus Christus die sentrum is van die openbaring van kennis van God.

Vanuit sy siening van die Skrifsentrum het Luther sy Skrifondersoek daarop toegespits om uit te kom by ons verlossing en regverdigmaking in Christus. Jesus Christus is die doel, die intensie, die gerigtheid van die geskrewe Woord. Vanuit hierdie beskouing van die evangeliese sentrum het Luther allerlei kritiek op dele van die Bybel uitgeoefen. So het hy byvoorbeeld vir ’n lang tyd die Jakobusbrief as ’n ‘strooibrief’ beskryf.

Luther se leerlinge het egter verder gegaan as hulle leermeester. Waar hy Christus se verlossingswerk as sentrum van die Skrif benadruk het, het sy latere volgelinge alles wat nie by hierdie evangeliese sentrum inpas nie, as periferie bestempel en eenkant toe geskuif. Die onderskeid tussen sentrum en periferie het by hulle dus gelei tot die idee van ’n kanon binne die Kanon.

Calvyn het die kernboodskap van die Skrif egter elders gesien as Luther. Calvyn het benadruk dat God die Bybel aan ons gegee het sodat ons Hom daardeur kan leer ken. In God se Selfopenbaring staan Christus inderdaad sentraal. Omdat God Hom juis in Christus as vleesgeworde Woord openbaar, staan Christus in die sentrum van die Skrifopenbaring. Calvyn handhaaf dus ook, net soos Luther, ’n christologiese sentrum van die Skrif, maar sonder om die aksent op die verlossing te plaas. Calvyn se christosentriese benadering is dat die mens in en deur Christus tot kennis van God se heerlikheid kom. Hy het dus eerder ’n teosentries-christologiese benadering, of ’n christosentries-teologiese benadering.

Vir Calvyn is die uiteindelike doel van die Skrifopenbaring om God te ken en sy Naam te vereer. Hoewel Christus die sentrum van die Skrif is, verplaas dit nie Skrifdele wat nie direk van Hom getuig na ’n (negeerbare) periferie nie. Inteendeel, elke Skrifdeel is belangrik ten einde ons by Christus uit te bring sodat ons God deur Hom kan ken en Hom kan verheerlik. Gevolglik is daar by Calvyn geen gevaar van ’n kanon binne die Kanon nie.

In die twintigste eeu is hierdie beskouing van ’n teosentries-christologiese benadering in die Gereformeerde teologie voortgedra deur H Bavinck en GC Berkouwer. Berkouwer stel dit duidelik dat die handhawing van Christus as sentrum of skopus van die Skrif nie beteken dat vorm en inhoud van mekaar geskei word, so asof die vorm (wat daar geskrywe staan) opsy geskuif moet word ten einde na die eintlike kern-openbaring (Christus) deur te dring nie. Hy wys op die gevaar om Christus oral - in elke teks of perikoop - te probeer ‘ontdek’. Tog, al kan Christus nie in elke teks aangewys word nie, is elke teks deel van die Skrifopenbaring met sy teosentries-christologiese sentrum.

Die woorde van die apostel Paulus in 1 Korintiërs 2:2 gee ’n duidelike aanduiding van die skopus van die Skrif. Paulus het hom naamlik voorgeneem ‘om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde’. Daarmee sê hy dat alles wat hy geskryf het, Christus as sentrum het. Dit geld ook vir die dele waarin Christus nie direk aangewys kan word nie. Die onderskeid tussen sentrum en periferie steun hoegenaamd nie ’n tweeledige Skrifbeskouing, so asof sekere tekste as minder belangrik of selfs as oorbodig beskou word nie. Dit beteken slegs dat sekere Skrifdele skerper op Christus gefokus is as ander.

Sentrum en Periferie van ’n Teks🔗

Uit bogenoemde is dit duidelik dat elke Skrifdeel deel uitmaak van die heilsboodskap waarvan Jesus Christus in die sentrum staan. Daarom kan daar nie onderskei word tussen tekste wat van Christus getuig en tekste wat nie van Hom getuig nie. Veel eerder kan daar onderskei word tussen tekste wat skerper op Christus gefokus is en die wat nie so skerp op Hom gefokus is nie.

So kan daar ook in elke Skrifdeel onderskei word tussen sentrum en periferie. Hoewel die sentrum van elke teks nie losgemaak kan word van die sentrum van die Skrif as geheel nie, kan dit ook nie sonder meer daaraan gelykgestel word nie. Hoewel elke teks op een of ander wyse aan die teosentries-christologiese Skrifsentrum verbonde is, het dit ook ’n eiesoortige focus op die openbaringsentrum van die Skrif. Juis daardie eie fokus vorm die openbaringsentrum van elke teks.

Daarom is daar in elke Skrifdeel ’n sentrale openbaringsfokus wat as sentrum, en omliggende dele wat as periferie getipeer kan word. Van Bruggen (Het lezen van de Bijbel, Kampen,1981:96) verkies om te verwys na hoofsaak en bykomende sake. Al is die sake wat op die periferie staan, bykomend van aard, is dit allermins oorbodig, want op een of ander wyse hou dit verband met die sentrum van die Skrifgedeelte. So ’n sentrum kan slegs ‘sentrum’ wees juis omdat dit deur die periferale sake ondersteun en geaksentueer word. Daarom moet die periferie van ’n teks nie beskou word as dit wat op ’n afstand staan of geplaas kan word nie, maar slegs as dit wat nie self in die sentrum staan nie.

Die Verhouding tussen Sentrum en Periferie🔗

Dit blyk dat die indikatief van die Skrif tot ’n groot mate ooreenkom met wat gewoonlik as die sentrum van die Skrif beskou word. Die geopenbaarde werklikheid waarin Jesus Christus sentraal staan, ’n werklikheid wat sê Wie God is, wat Hy doen en wat Hy vir ons en in ons doen is immers die indikatief van die Skrifboodskap. Hierdie indikatief staan ook sentraal in die doel van die Skrifopenbaring, soos bely word in artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, naamlik dat God Hom deur sy Woord aan ons bekend maak, ‘en wel soveel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort’.

Die doel van die Skrifopenbaring is egter nog meer omvattend. Dit omvat ook die imperatief wat preskriptief in die Skrif aan ons geopenbaar word, naamlik die bevel of die eis van God aan die mens, of soos artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dit noem: ‘die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word’. Skrifdele wat God se imperatief aan ons openbaar, is Skrifdele wat met normatiewe gesag spreek.

Dit is egter nie net imperatiewe (preskriptiewe) tekste wat met normatiewe gesag getuig nie. Ook die indikatieftekste spreek met normatiewe gesag. Die Skrifdele waarin God aan ons bekend maak wat ons oor Hom en sy skepping moet glo, is immers ewe normatief as die dele waarin Hy bekend maak wat ons moet doen en dink (vgl. S Greijdanus, Schriftbeginselen ter Schriftverklaring, 1946:120).

Skrifdele wat nie in die sentrum staan nie (en dus as periferie beskryf kan word) staan nie los van die sentrum nie, maar is bykomstig en ondersteunend daartoe. Hierdie Skrifdele spreek met historiese gesag van sake wat juis die nodige toeligting en inligting gee om die Openbaringsentrum van die Skrif des te beter te begryp. Aangesien die term ‘periferie’ egter die indruk mag skep van iets wat verwyderd staan of onbelangrik is, is dit myns insiens beter om in die hermeneutiek eerder die term ‘bysaak’ te gebruik (vgl. Van Bruggen, 1981:96). Ten einde verwarring te voorkom met die sentrum (skopus) van die Skrifopenbaring, is dit myns insiens ook beter om in die Skrifeksegese nie na die sentrum (skopus) van die teks te verwys nie, maar na die fokuspunt of die hoofsaak.

Samevattend🔗

Dit blyk dat die begrippe ‘indikatief’ en ‘imperatief’ so in die hermeneutiek gebruik kan word dat indikatief na die Skrifgeopenbaarde werklikhede waarin ons moet glo, verwys, en ‘imperatief’ na die Skrifgeopenbaarde werklikhede wat ons moet doen. Verder kan daar in die hermeneutiek onderskei word tussen fokuspunt en bysaak binne ’n afgebakende Skrifdeel (teks). Die fokuspunt van ’n teks kan óf indikatief óf imperatief wees, na gelang van die aard van die betrokke teks.