4 bladsye.

Sondag 45: Heidelbergse Kategismus

Lees Eksodus 30:1-10

Voortdurende Reukoffer🔗

Weet God dan nie, sonder om deur ons herinner te word, wat ons nood en vreugde is nie? As ons só oor die gebed praat, dan dink ons nie reg oor die doel waarvoor God gebed gegee het nie. Ons dink te maklik dat God ons gebed vir een of ander doel nodig het. Maar hierin is die Kategismus baie goed geformuleer. Die vraag is: "Waarom is die gebed [nie vir God nie, maar] vir die Christene nodig?" Die Here het gebed nie nodig nie. Ons egter wel. Gebed is vir ons noodsaaklik. En waarom is dit so noodsaaklik vir ons? Want ons het die gesprek wat daar tussen God en die mens was, verbreek. Laat ons dink aan hoe die Here met Adam en Eva in die tuin gewandel het om met hulle te praat (Genesis 3:8). Dit was moontlik dat God met hulle en hulle met God gepraat het. God het die mens so gemaak. So het God met Adam en Eva geleef.

Maar daarby bly dit nie. Adam begin 'n tweede gesprek. Nie met God of met sy vrou nie, maar 'n gesprek met die satan. En dit verbreek die gesprek met God. Wanneer God dan kom om met Adam te praat, swyg hy. Dan bly hy stil en durf nie verder met God te praat nie. Hy kruip weg. Gelukkig laat die Here dit nie daar nie. Die Here wil dat gesprek weer moontlik word, dat die gesprek tussen God en sy kinders weer aan die gang kom. Want nie God nie, maar óns het daardie gesprek so nodig. Daarom beloof die Here vir Adam en Eva 'n Middelaar deur Wie hulle weer die gesprek met Hom kan begin.

En dit bly nie iets van die verre toekoms alleen nie. Want sommer vroeg in die Bybel lees ons weer hoe die Here aanbid is. Ons lees van Henog wat met God gewandel het. Hy het gebid sonder ophou (1 Tessalonisense 5:17). Ons het die gesprek met God só nodig, dat God sy eniggebore Seun vir ons en vir elkeen wat in Hom glo, gegee het, sodat dit weer moontlik kon word, sodat ons weer met God kan praat, tot Hom kan bid. So lief het God die wêreld gehad. Hier sien ons waarvoor gebed vir 'n Christen so nodig is: ons het dit nodig vir 'n lewe met God.

Dit word so pragtig voorgestel deur die plek wat die reukofferaltaar in die tabernakel en in die tempel kry. Ons vind dit in Exodus 30 beskryf. Die reukwerk van die goue wierookbak is die gebede van die gelowiges wat voor die troon van God kom (Openbaring 8:3 e.v.). Voor die voorhangsel waaragter die troon van God is, moet daar elke oggend reukwerk van speserye aan die brand gesteek word. En teen die aand as Aäron die lampe in die tabernakel opsteek, dan moet hy ook die speserye op die reukofferaltaar weer aan die brand steek " ... as 'n voortdurende — onophoudelike — reukwerk voor die aangesig van die HERE ..." (Eksodus 30:7-8). Die gebed van die volk van die Here moet onophoudelik voortgaan. Van die oggend tot die aand en van die aand tot die oggend. Sonder ophou moet die volk van die Here bid.

Gebed is dus 'n voortdurende reukoffer.

'n Nodige Offer🔗

Gebed is 'n noodsaaklike offer. En hoekom is dit so noodsaaklik? Die Here wil nie hê dat die gesprek met sy kinders onderbreek sal word nie. Dan leer ons gebed sien nie as 'n sware las wat ons opgelê word — "nou moet ek maar bid" — nie. Gebed móét wel, natuurlik! Maar dan as 'n genadige "moet", omdat God ons nie aan onsself wil oorlaat nie. Ons mag lewe met God. Ons mag praat met God. Ons mag wandel met God. In hierdie lig moet ons die onophoudelike reukoffer op die altaar verstaan, en die oproep van Paulus: "Bid sonder ophou" (1 Tessalonisense 5:17).

Die bevel om te bid is die bevel om nie sonder God te probeer leef nie. Hy het u gemaak sodat u met Hom kan lewe. Dit is ook waarvoor Hy ons weer verlos uit die mag van die satan. Gebed is in die lig hiervan daarom geen saak van persoonlike behoefte nie. Die Here laat nie gebed aan ons oor vir die geleenthede wanneer ons 'n onweer¬staan¬bare behoefte en drang het om te gaan bid nie. Gebed is 'n offer wat gebring moet word, 'n offer van lewe met God.

Maar dit word vir ons soms voorgestel asof dit spontaan uit die hart moet kom. Dat 'n mens moet bid wanneer jy die behoefte het, want dan werk die Gees, so sê mense vir ons. Wanneer lusteloosheid en moegheid ons oorval vroeg in die oggend en teen die aand, dan word daar in praktyk baie min gebid. Dan is daar werklik min sprake van "behoefte".

Maar, genadiglik laat die Here dit nie aan ons eie inisiatief, aan ons behoefte, oor nie. Hy gee ons die roeping, die opdrag om 'n offer te bring. En daardie opdrag is: "Bid sonder ophou!" Dit wil die reukofferaltaar ons ook duidelik voorstel. Die volk wat uit Egipte bevry word, mag weer met die Here in gesprek wees. Daarom word die tabernakel gebou, met die reukofferaltaar reg voor die voorhangsel. In God se gemeenskap met sy volk kan gebed nie juis gemis word nie. God reël daarom self die gebed van sy volk. Want gebed is kosbaar. Let maar op met watter noukeurigheid die bouplanne van die tabernakel voorgeskryf is, dat die reukofferaltaar van pragtige akasiahout gemaak is en dit met suiwer goud oorgetrek is. Nie maar sommer enige metaalbak is gebruik nie! Dit is 'n goue altaar volgens God se voorskrif.

God bepaal die tye en manier waarop Hy die gebede van sy volk sal ontvang. Hy stel die afmetings van die offeraltaar vas. Hy bepaal hoe die altaar gaan lyk. Die Here stel self die tyd van die aansteek van die reukoffer vas. Elke môre as die lampe in die tabernakel reggemaak word sodat dit in die aand gebruik kan word, word die kruie aan die brand gesteek; en elke aand wanneer die lampe opgesteek word, dan word die nuwe reukwerk ook weer aangesteek. Sodat die huis van die Here sonder ophou vol van die reukwerk kan bly. Want leer die Here Jesus self nie dat die huis van die Here 'n huis van gebed is nie? Daar is 'n vaste patroon in die gebed van die volk van die Here. Daar is die oggendgebed en die aandgebed. God stel self die goeie reëlmaat van die gebed in die lewe van sy volk, in ons lewe, vas.

Dit is opvallend dat Daniël selfs in ballingskap op die vasgestelde tye gebid het met sy gesig in die rigting van Jerusalem waar die tempel was, wat intussen afgebreek en verbrand was en waar die reukofferaltaar was, wat gedurig weer aangesteek moes word, in die oggend en in die aand. Bid sonder ophou. Ook sien ons dat die reukofferaltaar mobiel was. Daar moes twee goue ringe aan die reukofferaltaar vasgemaak word. Dit moes dien as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra. As Israel verder trek, moet die altaar saamgaan, waar hulle ook al gaan. Die volk van die Here gaan nêrens sonder dat hulle bid nie. Sonder dat hulle opgeroep word: "Bid sonder ophou". Waar Israel ook al gaan, moet die altaar saam. Daarom die ringe vir die draaghoute. En wanneer die tempel beroof word, ook van hierdie goue altaar, en die volk in ballingskap gaan, dan hou Daniël se gebed nie op nie. Selfs in ballingskap, waar die reukofferaltaar waarskynlik deel geword het van die skatte van 'n heidense koning, bly Daniël bid met sy gesig na Jerusalem, waar tempel en reukofferaltaar moes wees. Bid sonder ophou! Ook wanneer die koning 'n wet daarteen maak met die doodstraf vir oortreders, dan bly Daniël bid sonder ophou.

Sien u? Gebed is 'n opdrag. Dit is 'n offer wat God van ons vra. 'n Diens van aanbidding van die Here. Ons besef dit te min, en daarom bid ons te min! Ons sien gebed nie genoeg as 'n diens aan God nie, en daarom bid ons so min! Gebed moet hoogheilig vir ons wees (Eksodus 30:36b). Selfs die mengsel van die kruie wat op die altaar gebrand is, selfs dít is deur die Here voorgeskryf (Eksodus 30:34-38). Dit moes fyn kruie wees, sodat dit 'n heerlike reuk in die huis van die Here versprei, sodat dit die hele huis vervul. Enigiemand wat in die tabernakel of in die tempel ingekom het, het onmiddellik hierdie heerlike geur geruik en geweet: Hier mag ek met God leef. Almal wat in die tabernakel ingekom het, moes weet dat die Here se huis 'n huis van gebed is. Dit is God se huis en hier mag ek bid, ja, moet ek bid.

Hy wil die gesprek met sy volk voortsit. Ons mag nie swyg nie. Ons hoef nie te swyg nie. Wie in die tabernakel of in die tempel ingekom het, is deur die reuk opgeroep: Bid sonder ophou. In elke omstandigheid. As ampsdraer voor huisbesoek. Bid om wysheid en krag van die Here. Bid as gemeente vir mekaar en bid om geloof, sodat ons die Woord van die Here ook in geloof en gehoorsaamheid kan ontvang. Bid as ouers vir julle kinders. Of as kinders vir julle ouers. Die Here wil hê dat ons bid. Bid voor jy jou voedsel geniet. Voor jy op reis gaan. As jy gesondig het, bid. Wanneer jy die Naam van die Here wil loof en prys oor sy goedheid en grootheid, bid sonder ophou.

Gehoorsame Offer🔗

Gebed is ook 'n gehoorsame offer. Die Here het nou self gebed weer vir ons moontlik gemaak. Moet ons dus bid? Mag ons bid? Natuurlik! Dit is selfs ons opdrag. Maar dit is geen saak wat ons onnadenkend kan doen nie. Gebed is en bly deel van ons gehoorsaamheid. So bely ons ook. Volgens die Skrif is dit selfs die belangrikste deel van ons gehoorsaamheid aan die Here. Dink maar eers na oor die gebeure rondom Nadab en Abíhu, wat beskryf word in Levitikus 10. Hierdie twee seuns van Aäron het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die Here gebring wat die Here nie beveel het nie. Die vraag (117) wat die Kategismus vra oor hoe die gebed moet wees wat die Here behaag, is daarom geen onbelangrike vraag nie.

Nadab en Abíhu bring 'n reukoffer met vreemde vuur vir die Here. Toe hulle dit voor die Here bring, het daar vuur van die aangesig van die Here uitgegaan en hulle verteer. Hulle het daar in die tabernakel gesterf! Ons kan sê: hulle sterf met 'n gebed op die lippe. In gebed dra ons nie sommer enige begeerte en gedagte wat by ons opkom, voor die Here aan nie. Onthou, die altaar was 'n altaar van goud. Dit maak vir die Here wel deeglik saak wat in die wierookaltaar sal brand! God self wil in ons gebede verheerlik word. Dit gaan immers in ons gebede om die Here, wat Hom as die Heilige wil laat ken by sy volk wat Hy weer naby aan Hom laat kom.

Ons kan so maklik verkeerd bid. Daarteen waarsku Jakobus ons. As ons verkeerd bid, dan luister die Here nie na ons nie. Ons kan selfs sy toorn teen ons wakker maak (Jakobus 4:3), soos by Nadab en Abíhu. Julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle het nie, omdat julle verkeerd bid!

En dan vra Jakobus hoe dit gebeur, en hy brei daarop uit. Dit gebeur wanneer ons gewoon deur ons hartstogte gedryf word, ook wanneer ons bid. As ons verkeerd bid, en nie deur geloof nie. Die gelowige gebed laat duidelik na vore kom dat ons graag wil lewe volgens God se Woord. Ek moet in gebed my hele lewe in die hande van die Here wil lê. Dit is waarvoor gebed daar is. In my gebed praat ek nie asof ek met die bestuurder van die plaaslike inkopiewinkel te doen het nie. "Here, ek is ongeduldig. Hier is my lysie; ek het nie baie tyd nie. Antwoord maar gou." Nee, ons het met God te doen! Daarom let ek op dit waarvoor ek bid. Ek let op hoe ek God aanbid. Ek kom na Hom "van harte", so lees ons in die Kategismus. Ek kom in gebed as een wat my nood en ellende grondig ken. Ek bid nie vir daaglikse brood terwyl ek dink dat ek eerder daarvoor behoort te werk nie, dat ek dit uit eie krag verkry nie. Alleen uit 'n besef van diepe afhanklikheid van die Here, kom ek voor die Here. Nie met die gedagte: "Of God my gaan verhoor, is 'n tweede vraag" nie. Dit is nie 'n gebed wat die Here behaag nie. Maar ek kom tot Hom met groot verwagting, omdat ek God leer ken het as die Een wat my ter wille van Christus graag wil verhoor.

Geen vreemde vuur op die altaar nie. Wel 'n aangename reukoffer van geloof volgens wat die Here beveel het. Die Here gee vir Moses bevel wat die samestelling van die reukoffer moet wees, heel presies — só leer ons uit die Woord hoe ons reg kan bid en waarvoor ons kan bid. En tog, al word die reukoffers in die tyd van die profeet Jesaja goed op presies die regte tye van die dag en van die jaar gebring, laat die Here weet: "Julle reukwerk is vir My 'n gruwel. Selfs al vermeerder julle jul gebede, nogtans luister Ek nie." Waarom dan nie? Omdat die Here sien hoe sy volk sy beloftes in hulle daaglikse lewens verag het. Vroom gebede op die gebedstye, maar 'n lewe wat alle gebede weerspreek. Gebede wat nie laat blyk dat hulle God se beloftes ernstig opneem nie. Dit is vreemde vuur! "Ek druk my ore toe as julle so bid", sê die Here (Jesaja 1). Gebed as offer moet dus 'n gehoorsame offer wees.

Geseënde Offers🔗

Ons kan onsself afvra: Maar kan ons dan nog enigsins in gebed na die Here kom, gesien teen die agtergrond van Nadab en Abíhu se geskiedenis? Kan ons nog wel bid? Ons gebede is nie volmaak nie; dit is in baie opsigte gebrekkig. Kan ons dan nog na die Here toe kom? Moet ons dan liewer nie bid nie? Só sal mense dikwels gemaak vroom redeneer. Ek besef my afhanklikheid van die Here nog nie soos ek dit eintlik behoort te doen nie. Ek bid liewer nie, want my begeertes na wat ek vra, is gebrekkig. Ons dink dat, wanneer ek nie behoefte aan gebed het nie, ek onopreg is en ek liewer nie moet bid nie. Dan is ons tenminste eerlik. So sal veral jongmense soms redeneer. Met al my gebreke en sondes sal my gebede nooit die Here kan behaag nie. Maar laat ons goed let op waar die probleem by Nadab en Abíhu gelê het. Hulle het nie vuur gaan haal van die brandofferaltaar in die voorhof van die tabernakel nie! Wat het gebeur op die brandofferaltaar? Daar is versoening gedoen vir die sondes van die volk van die Here.

Dit gaan nie om onvolmaakte offers by die twee manne nie. Maar hulle minag die genade van die Here! Van die brandofferaltaar in die voorhof, waar daar versoening gedoen is vir die sondes van die volk, moet die kole vir die reukoffer op die reukofferaltaar kom. Maar dit doen Nadab en Abíhu nie! Enige vuur sal goed genoeg wees. Maar die kruie mag alleen met die vuur wat van die altaar van versoening af kom, aan die brand gesteek word. Hierin lê dan ook die bemoediging vir ons gebedslewe. Daarom mag ek bid in die Naam van Christus en mag ek na Hom toe kom, selfs met die wete dat my gebede gebrekkig is. Selfs wanneer ek besef dat my begeertes dikwels gemeng is met slegte gedagtes en gevoelens. Geen gebed word ooit in eie krag of eie naam, in eie volmaaktheid of opregtheid, gebid nie. Ons bid in die Naam van ons Here Jesus Christus. Hy het versoening gedoen vir ons sondes, vir ons gebedsondes ook! Van die offeraltaar, die altaar van versoening, gaan die belangrikste deel van ons dankbaarheid regstreeks na die gebedsaltaar — die kole van die offeraltaar steek die welriekende kruie aan die brand. Sien u hoe presies beskryf die Heidelbergse Kategismus die gebed as die belangrikste deel van ons dankbaarheid?

Elke jaar is die volk een maal aan die noue samehang tussen die altaar van versoening en die reukofferaltaar herinner. Dit lees ons in Eksodus 30:10: "En Aäron moet een maal in die jaar aan die horings daarvan versoening doen; met die bloed van die sondoffer van versoening moet hy een maal in die jaar daarvoor versoening doen vir julle geslagte. Hoogheilig is dit aan die HERE." Behalwe van die daaglikse kole wat gebring word van die brandofferaltaar, is daar een maal in die jaar die bloed gebring van die brandoffer, van die altaar van versoening. So kon die volk van die Here weet: ook ons sondes in ons gebede word alleen versoen deur die bloed van Christus. Daarom mag en moet ek bid. Daarom is die gebed vir die Christen noodsaaklik. Daarsonder kan ek nie leef as kind van God nie.