Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Sondeval, Verlossing en Herstel

appel

Die sondeval was om weg van die lewende God te val. Dit het in die paradys gebeur. Die Bybel leer uitdruklik dat die sonde deur een mens – Adam – in die wêreld gekom het. Sedertdien is alle mense sondaars (Romeine 5:12).

Sondeval🔗

God het vir die eerste twee mense gesê:

Van al die bome van die tuin mag jy vryelik eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. Genesis 2:16, 17

Sekerlik sterf. Nie omdat die vrug van die boom giftig was nie. Nee, ‘die dood sterf’ was ’n juridiese vonnis, ’n spesiale straf van God. Die Here het die mens op die proef gestel. Hulle moes die boom uitlos. Nie omdat die vrugte giftig sou wees of omdat dit as ‘logies’ bevind sou word nie. Nee, alleen maar omdat God die opdrag gegee het!

Waarskynlik was dit dus ’n willekeurige gebod van God. Dit was egter wel beslissend. Ons moet nie vergeet dat God die mens ‘baie goed’ geskape het nie. Alles wat God gemaak het was ‘baie goed’ (Genesis 1:31). Die eerste twee mense was daarop geen uitsondering nie. Maar die goed-wees van die mens moes nie outomatisme word nie. Bewus en vrywillig moes die mens God as sy Skepper erken en loof. Dit was God se roem dat die mens ’n bewuste keuse kon maak – vir of teen God. Dit het hulle onderskei van die ander skepsele.

Oor hierdie roem van God het dit gegaan, toe Hy die oënskynlike willekeurige verbod gegee het: moenie van hierdie boom eet nie! Dit is en bly die fondament van die geloof, die eeue deur. Iets is goed omdat God dit sê. En iets is verkeerd as Hy dit verbied.

Maar satan maak ’n ander voorstel: wanneer jy van die verbode boom eet, dan word jy soos God! Dan weet jy self wat reg of verkeerd is. Satan wou nie hê dat die mens met sy plek onder God tevrede moes wees nie. En hulle het vir satan geluister en die verbode vrug geneem en geëet.

Met verdriet en toorn moes God sien dat die mens nie meer as skepsel van Hom afhanklik wou wees nie. God neem die matelose sonde in die menselewens waar: hulle het hul aan God gelyk gemaak deur hulle lewenskoers in hulle eie hande te neem. En dit het hulle ondergang geword. Die mens het sy gemeenskap met die God van sy lewe verbreek. Toe kom die dood in hulle lewe. God het sy regterlike vonnis voltrek. Sedertdien het die dood in alle mense se lewens gekom.

Die dood beteken nie alleen dat die mens na stof terugkeer nie. Om terug te keer na stof staan in lyn met die ander strawwe: werk in die sweet van jou aangesig, met smart kinders baar, ’n aarde met dorings en distels. So werk die vloek wat God uitgespreek het. (Genesis 3:16, 17). Volgens die Bybel hou hierdie dood waarvan God praat baie meer in. Dit beteken dat die gemeenskap met die lewende God stukkend is. Dit word die geestelike dood genoem. En as God dit nie verhinder nie, loop dit uit op die ewige dood. Totale verlorenheid. Christus het gesê dat almal wat nie glo nie, dood is. (Johannes 5:24, 25)

Die sondeval hou dan ook die ergste in vir hierdie aarde: Die mens het hom van God losgemaak en wil self uitmaak wat reg en verkeerd is. Dit is die demoniese van elke sonde: ék sal self besluit wat ék doen. Dan raak ons van God en van die lewensgemeenskap met Hom los. Die egte lewe gaan verlore. Dan is ons ‘dood in sonde en misdade’.

Intussen kan ons die ontstaan van die sonde nie verklaar nie.

Die oorsprong van die kwaad is, saam met die wese van die mens, die grootste raaisel van die lewe en die swaarste kruis vir ons verstand. (H Bavinck)

Daar is boeke vol geskryf oor hierdie saak. Maar die gevolgtrekking is steeds: ons weet nie! Ons moet saam met Job ’n hand voor die mond hou en konstateer: God is groot en onbegryplik vir ons (Job 36:26).

einde van pad

Ondertussen moet ons wel besef dat die sonde op aarde ingevoer is. Terwyl hy vroeër ’n engel van God was, het die satan na die mens gekom en in hom die sonde van opstand en hoogmoed ingeblaas. Ja, hoogmoed. ’n Stukkie van die sluier word opgelig wanneer ons in 1 Timoteus 3:6 lees van die ‘verwaandheid’ van die duiwel. En in 2 Petrus 2:4 word gepraat van ‘engele wat gesondig het’. Dit het dus in die hemel begin. Kennelik was satan en sy engele nie tevrede met die plek wat hulle gehad het nie. Hulle wou God na die kroon steek. Christus sê selfs dat satan ‘uit sy eie’ praat (Johannes 8:44). Dit kan van mense nie gesê word nie. Hulle is verlei. Daarom is daar vir die mens nog redding moontlik, maar vir satan nie.

Verlossing🔗

Die Here het dan ook meteen die koalisie tussen satan en die mens verbreek. Hy het Adam en Eva weer na Hom getrek en getroos met die belofte in Genesis 3:15. Hy het vyandskap tussen satan en sy trawante en die vrou en haar nakomelinge afgekondig. Daarom kon Adam sy vrou Eva noem: moeder van alles wat lewe (Genesis 3:20). Hy het haar vernoem na die lewe wat uit haar sou voortkom. Dit gaan hier dan ook ten diepste oor die saad van die vrou, die Christus, die Lewensvors, wat die satan aan die kruis oorwin het. Daarom dat daar in Openbaring 12 in ’n grootse perspektief ook gepraat kan word van ‘die vrou’ wat haar ‘kind’ gebaar het. So kom al die lyne van die geskiedenis immers bymekaar. Dit gaan hier duidelik om ‘die getuienis van Jesus Christus’ (Openbaring 12:17). Hy wat Jesus genoem is, omdat Hy sy volk van hulle sondes sal verlos (Matteus 1:21).

Sedert die sondeval word die hele geskiedenis beheers deur die stryd tussen die slang en die vrou, die satan en die kerk.

Dit het al dadelik begin na die uitdrywing uit die tuin van Eden. In Genesis 4 lees ons van die nakomelinge van Kain en Abel. In die geslag van Kain ontwikkel daar ’n enorme wraaksug. Maar ook ’n enorme kultuur. Stede word gebou, musiekinstrumente uitgevind en metale bewerk. Die Bybel keur dit nie af nie. Dit was immers die opdrag van God om die aarde te bou en te bewerk. Die mens doen uitvindings, beheers en bewerk die natuur. Dit is as ‘t ware in sy bloed sedert die opdrag in die paradys. Daarby bly die mens, of hy nou wil of nie, gebonde aan die natuurwette wat God in die skepping ingebou het. Al lyk baie kultuurprodukte na mekaar, is die groot vraag: met watter ingesteldheid is die produsente aan die werk? Om God en die wat aan Hom behoort, te dien? Of om hulleself te dien? In die geslag van Kain het die kultuur in diens van grootpraat en verset teen God gestaan. Daarvan getuig die wraakspraak van Lameg (Genesis 4:23, 24).

Die sentrale vraag kom dus terug: doen iemand iets omdat God dit vra en opdra, of alleen uit eie belang? Christus het duidelik gesê dat ons ons nie van die wêreld moet onttrek nie. Daarin woon en werk ons, saam met ongelowiges. Maar tegelyk sê die Bybel dat ons, wat ons ook al doen, alles moet doen tot verheerliking van God (1 Korintiërs 10:31). So onstaan die groot teenstelling tussen hulle wat God nie dien nie, ook al presteer hulle baie, en diegene wat God wil dien maar weens hulle primêre taak om die evangelie uit te dra, tot geringer prestasie kom. Die laasgenoemdes word egter mense van God genoem (2 Timoteus 3:17). Mense soos God dit bedoel het, en soos God hulle deur die werk van Christus weer in hulle eintlike posisie herstel het.

Herstel🔗

Daar sal weer mense wees wat na die paradys-opdrag luister: onderwerp en gebruik die aarde, maar dan tot eer van God. Dit is verseker in beginsel reeds ʼn herstel. Self sal die mens nooit ’n nuwe paradys tot stand kan bring nie. Dit moet uit die hemel kom, wanneer Christus terugkom. Ons mense vorder nie verder as om net met sekere deeltjies te begin, nie. Tegelyk word ons werk ’n werk ‘van die Here wat nie tevergeefs is nie’ genoem (1 Korintiërs 15:58). En God is bly daarmee. Want in hulle werk oriënteer hierdie mense hulle op die God van die paradys, die God van die redding, wat die herstel van alle dinge bewerk.

blare

Dit is alleen moontlik deur die werk en die Persoon van Christus. In hierdie verband skryf K. Schilder:

Hy bring die eiendom van God weer na die Eienaar terug. In Hom vertoon die oorspronklike, die ‘ideale’ mens. Maar Hy het nie vir een oomblik sy rug op die ander mense gedraai nie. Hy skep (ook deur die almag van die Gees) in beginsel weer die oorspronklike mens. Nie volkome nie, maar tog in beginsel. Hulle word die skare wat niemand kan tel nie. Hulle getalle neem toe, tot op die jongste dag.

Christus self het uitdruklik na die vroeëre paradys verwys toe Hy gepraat het oor wat God se bedoeling ‘van die begin af’ was (Matteus 19:4, 8). Sou ons dan idealiste wees, as ons in navolging van Christus heel ons lewe onder ‘paradysbeslag’ sou wou onderwerp? Nee, maar deur dit te doen is ons pas werklik mense van God, deur Christus vernuwe na die beeld van God. So herstel God ons lewe. Deur Christus word ons lewe in God se oog weer ‘baie goed’. ’n Lewe bestem vir die nuwe paradys.