7 bladsye. Vertaal deur Marga Anholts .

Tug Trek Sondaars Terug na Jesus toe

Oorwegings by 1 Korintiërs 5🔗

Ek sien al geruime tyd reëlmatig die poster He died for me, I live for Him. Paulus stuur ook hierdie boodskap aan Christene in Korinte: Jesus Christus het vir ons gesterf. Ons paaslam, Christus, is geslag. Dus: leef vir Hom en vier fees omdat jy ʼn Christen is.

Dit vra twee dinge van elke gelowige:

  • ʼn Vaste geloof in Jesus Christus, die gekruisigde;
  • ʼn Konsekwente Christelike lewenstyl, vir jouself en binne die gemeente.

In Korinte het dinge juis ten opsigte van die laaste punt heeltemaal verkeerd gegaan. Heeltemaal verkeerd. Daar het dinge in die gemeente gebeur – almal het daaroor gepraat, wat ʼn skande.

Die situasie in Korinte🔗

Wat is eintlik aan die gang in hierdie gemeente? Eintlik te veel om op te noem.

As jy die eerste brief, wat Paulus aan die Korintiërs, geskryf het kom jy die volgende verkeerde dinge agter:

  • Onderlinge verdeeldheid en groepsvorming, waar die een meer van homself dink as die ander;
  • Verkeerde toegeeflikheid teenoor openlike sondes in die gemeente;
  • ʼn Klipharde kompetisiestryd, waarby selfs die hof ingeskakel word;
  • Wantoestande by die nagmaalsviering, soos dronkenskap en egoisme;
  • Ontkenning deur sommige gemeentelede dat die dooies weer op sal staan;

Die grootste probleem in Korinte was dat hulle niks hieromtrent gedoen het nie. Want, so sê hulle, ons het tog Christene geword? Ons is tog van alle menslike wette reeds bevry? Meer nog, as jy in Jesus glo mag jy alles doen?

En as jy dan sondig... Reg, dit is seker nie die bedoeling nie, maar gelukkig is daar vergewing vir elke sonde. Dus is dit nie so erg nie.

Leer en lewe🔗

Hieragter is egter ʼn dieper gedagtefout by die gelowiges in Korinte. Hulle maak onderskeid tussen die gewone lewe en die geloofslewe. Dit is twee afsonderlike onderdele van hulle lewe.

Die gevolge is dan ook merkbaar. Van Maandag tot Saterdag kan hulle enigeiets doen en is skaars as Christene herkenbaar nie. Op Sondag is hul kerkdienste egter uitstaande: profesie, spreek in tonge, gebedsgenesing en vurige prediking.

Sodra jy geloof losmaak van jou daaglikse lewe, sal beide kante skeef groei.

Daar bestaan ʼn mooi gesegde: natuur en genade, beide lei skade wanneer jy nie die eenheid sien nie.

In 1 Korintiërs 5 doen Paulus twee dinge.

Hy wys die Korinthiërs op Jesus en sê: ‘ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus’. He died for me om die woorde van die poster aan te haal.

Hy roep die Korinthiërs op: ‘Laat ons dan feesvier, met reinheid en waarheid, verwyder tog die slegte mens onder julle uit. I live for Him – dit is jou roeping, persoonlik en as gemeente.

Paulus gaan ook in op die vraag: wat moet jy doen as daar openlik gesondig word in die gemeente? In die gemeente van Korinte bly ʼn gemeentelid saam met sy vader se tweede vrou. Dit is algemeen bekend. In die gemeente is dit geen probleem nie. Daar word ook niks aan gedoen nie. Steeds bly die gemeente trots op hulleself. Paulus vind dit skokkend. Volgens Paulus sou die gemeentelede in Korinte nie slegs kwaad en verontwaardig moet wees oor hierdie broeder se gedrag nie, maar ook geskok en bedroef wees omdat soiets in die gemeente van Christus voorgekom het. Dit gebeur egter nie, die broeder bly gewoon lid van die gemeente, pleks daarvan dat hy uit hulle midde verwyder word.

Op so ʼn manier laat Paulus die gemeente voel, dat nie slegs hierdie gemeentelid verkeerd besig is nie, maar die hele gemeente. Dit is baie erger: so iets gebeur in die gemeente van Jesus Christus, en die gemeente het nie eens ʼn probleem hiermee nie! Die gemeente dink hulle is so wonderlik, dat hulle so ʼn daad maar kan toelaat en selfs sonder enige probleem toegeeflik hierin kan wees. Ek, sê Paulus, sal julle vertel hoe jy moet optree teen so ʼn persoon in die gemeente. Ek het reeds in die naam van onse Here Jesus Christus hierdie man veroordeel. As julle dieselfde sou doen, is ons in die Gees van Jesus Christus aan mekaar verbind.

Die tug🔗

As Paulus sê verwyder tog die slegte mens onder julle uit, beteken dit iets anders as die skorsing van iemand uit ʼn sportklub. In die sin van: jy betaal nie jou ledegeld of jy kom nooit om te oefen nie, dus verwyder ons jou uit die ledelys. Die toepassing van die tug is ʼn geloofshandeling. Die gemeentelid wat met sy vader se tweede vrou saamwoon, word net soos ʼn loot aan die wynstok wat nie vrugte dra nie, afgesny.

Maar let wel: Wie is dit wat die wegsny werk doen? Dit is God self! Net soos dit God is wat aan mense die geloof gee, is dit ook Hy wat openbare sondaars uit die gemeente laat verwyder. Daarom sê Paulus nadruklik: in die Naam van onse Here Jesus Christus veroordeel ek hierdie man. Daarom kan ons die persoon afsny van die res van die wynstok slegs as die krag van Jesus, onse Here, by ons is.

Paulus gee vervolgens ook aan wat die gevolge hiervan is: ons lewer hierdie broeder oor aan die Satan. Want wat gebeur as iemand bewustelik in groot sonde bly lewe? Dan is hy of sy duidelik besig op die duiwel se terrein! Dan verklaar ons openlik dat ons jou op grond van jou lewenstyl, terugverwys na satan se wêreld waar hy in beheer is. In die naam van onse Here Jesus sny ons jou weg as ʼn dorre tak wat geen vrug aan die wynstok dra nie.

Dit klink baie hard, maar dit is hoe ernstig die Here Jesus homself sien.  In Sy bloedeie gemeente laat Hy die onbekeerlike sondaar nie toe nie. Nog belangriker: in die Ou Testament het God die openbare sondaar uit die volk van Israel laat verwyder deur middel van doodstraf deur steniging.

Is dit dan vreemd dat Hy in ons tyd, die tyd wat sedert Pinkster deur die Heilige Gees oorheers word, vra om op geestelike wyse die hardnekkige sondaar uit die midde van die gemeente van Christus te verwyder?

Tog is dit nie die definitiewe einde nie. Paulus sê hierby: hierdie noodmaatreël lei tot sy redding op die dag van die Here. Daarmee sien jy dat die tug altyd ʼn positiewe doel het, selfs in hierdie pynlike bybelgedeelte. Immers: hierdie drastiese maatreël is bedoel tot behoud van die volhardende, koppige sondaar. ʼn Skokeffek – dit is wat die tug wil bereik. Dat jy deur hierdie maatreël met ʼn skok tot die gevolgtrekking kom: die gemeente is ernstig hieroor, hulle sien regtig dat ek op hierdie manier met ʼn groot spoed reguit in die arms van die duiwel gaan beland. Maar so wil ek nie my lewe eindig nie! Ek moet terug, terug na Christus wat ek vroeër leer ken het as my redder.

Anders gestel: in die gemeente gee God die genade van die tug om die sondaar te waarsku.

Motivering🔗

Die motivering agter die tug is dus baie belangrik. Voor jy begin, moet jy weet wie jy is. Persoonlik en as gemeente. Dit is wat kortkom by die Korinthiërs. Hulle dink dat een sonde in die gemeente nie so erg is nie. Solank daar maar net baie geloof is.

Paulus sê: Nee! Weet julle nie dat ʼn bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Besef julle nie, dat sonde een van die mees besmetlike siektes is nie? Het julle nog nooit gehoor dat een vrot appel al die ander vrugte in die mandjie vrot gaan maak nie? Dat een siek skaap die hele kudde kan aansteek nie? Verwyder daarom die sonde uit julle midde uit! Julle is nie immuun hierteen nie! Dit is juis hoekom Christus as paaslam vir ons geslag is! Verwyder die sonde uit julle lewens sodat ons weer kan feesvier.

Tegelykertyd vra God ook die waarheid – dit is hier dieselfde as waaragtigheid: geloof in Jesus gee jou nie slegs blydskap in jou hart nie, maar dit vier jy ook deur ʼn nuwe manier van lewe. Hy sê dit ook altyd vir die mense: ‘En sondig vanaf nou nie meer nie’.

ʼn Paasgemeente kan nie toelaat om toegeeflik teenoor mede-Christene te wees, wat in hul lewenswyse laat sien, dat die heilsfeit dat hul paaslam geslag is hoegenaamd geen uitwerking op hulle lewe gehad het nie.

Jesus Christus se naam🔗

Hierdie hoofstuk bring ons eerstens by Jesus Christus. Hy het vir ons gesterf.

Hierdie hoofstuk bring ons vervolgens by onsself: is my hele lewe ook ʼn fees voor die Here, en is ek bereid om myself krities te ondersoek of ek werklik alle sonde en alle kwaad uit my lewe wil verwyder?

Hierdie hoofstuk bring ons dan ten slotte by die gemeente: het ons die moed om drasties op te tree om die openlike sondaars uit die gemeente te verwyder? Hoe konsekwent is ons hierin? As dit sou gebeur, doen ons dit dan ook in die naam en krag van Jesus Christus onse Here?

Buitendien kom die wêreld daar buite dit gou agter wanneer Christene in ergerlike sondes lewe. En as hulle daarom ons almal oor een kam skeer en skynheilig vind, is nog nie so erg nie. Dis baie erger dat die naam van Jesus deur die modder gesleep word.

Daar is ʼn baie mooi lied (vry vertaal uit Nederlands)

Wil, U ter eer,
steeds meer en meer
die geloof in ons versterk
dan sal ons,
gereed en bly,
uit liefde die goeie bewerk

Ook deur tug word dit ʼn werklikheid: Hy het vir my gesterf, ek leef vir Hom.

Want die liefde van Christus dring ons, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.2 Korintiërs 5:14-15

Bybelstudie 1 Korintiërs 5:1–13🔗

  1. Wat sê hierdie gedeelte oor God die Vader en/of die Seun en/of die Heilige Gees?
  2. Watter waarskuwing kom hierin na vore, ook vir jouself?
  3. Watter belofte word hier gegee, ook vir jouself?
  4. Watter gedeelte spreek jou persoonlik die meeste aan?
  5. Watter gedeelte sou jy kon gebruik in jou gebed?

Bespreek🔗

  1. Wat dink jy oor Paulus se standpunt? Moet die kerklike tug so radikaal toegepas word?
  2. Hoe tree jy op teenoor openlike sondaars wat uit die gemeente verwyder is (1 Korintiërs 5:11; Matteus 18:17)?
  3. Wat beteken dit ten opsigte van persoonlike en vriendskaplike bande?

Kerklike tug – ʼn harde aksie?🔗

Die woord ‘tug’ gee die meeste mense nie ʼn warm gevoel nie. Dit is natuurlik verstaanbaar, maar aan die anderkant vreemd. As jy Matteus 18 (díe hoofstuk in die Bybel oor tug) rustig sou deurlees en dit op jou laat inwerk, ontdek jy dat tug regstreeks van die Here Jesus afkomstig is. Tug kom voort uit Sy liefde. Die goeie herder neem sy duur gekoopte skape onder sy beskerming teen afdwaling en van die gaan van eie weë, omdat dit hulle lewens in gevaar bring. Net so is dit met sonde: dit bederf jou lewe en maak alles stukkend.

Dit is dus barmhartig om iemand vir sy ondergang te wil beskerm. As jy net soos die Here Jesus die bedoeling het om goed en liefdevol met mekaar om te gaan.

Maar voor ek verder gaan tot kerklike tug, wil ek eers iets sê oor selftug en onderlinge tug.

Selftug🔗

Verbeter die wêreld, begin by jouself. Dit geld ook as dit oor die hantering van die tug gaan. Eers is dit jou beurt, want die kerklike tug is die tweede sleutel van die hemelse koninkryk.

Die eerste sleutel is die verkondiging van die heilige evangelie – soos dit in die Heidelbergse Kategismus staan. Die eerste sleutel is veral bedoel om die hemel vir jou oop te sluit. Jy mag van buiteaf binnetoe! Dit word selfs beloof en aangebied aan die ongelowiges en huigelaars. So groot en fantasties is God se aanbod van genade. Tegelykertyd sê dieselfde uitnodigende evangelie: as jy nie regtig ʼn nuwe lewe gaan lei nie, bly God kwaad vir jou en sal Hy jou vir altyd veroordeel. Dit is die dringende oproep van die evangelie.

Wie dit nie glo nie of onder hierdie evangelie verander nie, het God se belofte gekry, maar maak self die deur toe en laat God se lig van Genade nie skyn in sy of haar lewe nie. Dit is ʼn geweldige klap in die Here se gesig dat iemand vir God en sy Seun sê: ‘Dankie vir die aanbod, maar nee dankie, ek stel nie belang nie.’ Vir sulke mense word God se belofte ʼn tydbom. Daarom word daar in die kerkdiens harde woorde gespreek.Daar word aangedring op geloof en bekering.

Onderlinge tug🔗

ʼn Broer betaal die helfte van sy werknemers met “geld onder die tafel”. Maats in ʼn sekere ouderdomsgroep, wat laasjaar belydenis van hulle geloof afgelê het, drink Saterdagaand liters drank in ʼn diskoklub, so erg dat hulle slegs die aanddienste kan bywoon. ʼn Suster verkondig openlik dat Jesus slegs ʼn verlosser vir die heidene is, maar dat God alle Jode individueel sal red op grond van sy belofte aan Abraham.

Waag ek dit om hom of haar aan te spreek? Sal ek iets hieroor sê? Maar: wat moet ek sê? Is ek maar nie net so ʼn groot sondaar nie? Miskien ʼn bietjie minder opvallend of openlik? In die christelike gemeente is ons vir mekaar gegee. Ook as dit gaan oor die aanspreek van iemand se gedrag of sy of haar mening. Paulus skryf dit duidelik in Galasiërs 6:1 ‘Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.’

As dinge dan op so ʼn manier weer regkom, weet niemand verder hiervan nie. Dan bly dit klein. Dan kry ʼn sonde nie meer aandag as wat dit verdien nie. Nie meer plek om stukkend te maak as wat reeds gedoen is nie. Dan word daar in die sitkamer hande gevou en skuld bely. Die hemel vier fees. Die bloed van Christus bedek dit en die sonde word met die mantel van Sy liefde bedek. Daar hoef niks bekend gemaak te word nie.

Kerklike tug🔗

Sleutels word vir twee dinge gebruik: om dinge mee oop en om dinge mee toe te sluit. So is dit ook in die kerk. Die eerste sleutel is die verkondiging van die evangelie. Die sleutel is veral daarvoor bestem om die poort na die hemelse koninkryk te open.

Die tweede sleutel is die kerklike tug. Die sleutel is veral daarvoor bedoel om die poort na die hemelse koninkryk toe te sluit. Ek wil graag oor die tweede sleutel, die kerklike tug, ʼn aantal opmerkings maak.

1. Wat is die doel van die tug?🔗

Tug klink hard. Asof jy van lastige gemeentelede ontslae wil raak. Tog is dit geen verdelgingsmiddel nie, maar ʼn reddingsboei. Die kerkeraad wat die tug hanteer, is daarop uit om die sondaar te behou en wil voorkom dat die sonde deurwerk in die gemeente.

Moet jy dan by openlike sonde altyd die tug toepas? Ek glo nie so nie. Want nie die sonde hou of plaas mense buite die gemeente van Christus nie, maar die ongeloof en volharding in die sonde. Daarom moet jy eers beoordeel wat presies aan die gang is en probeer om onderskeid te maak tussen onwil of onmag.

By onmag is daar baie keer wel ʼn bereidwilligheid om iets daaraan te doen. Die tug hoort nie daarby nie. Wees daarby wel opmerksaam vir die valkuil dat iemand met die woord soms sy onmag bely, terwyl uit die daad onwil blyk. Soms skuif onmag ook oor na onwil. Dan is daar twee dinge nodig: aansporing en vermaning teen die sondige leer of lewenstyl, en raad hoe om weer die goeie spoor te vind.

As dit nie tot ʼn resultaat lei nie, mag jy uiteindelik konstateer: hier is sprake van onwil, ookal erken die betreffende gemeentelid dit nie. Jy het alles binne jou vermoë gedoen. As ʼn kerkraad uiteindelik oorgaan tot afsnyding, is die drastiese maatreël tegelykertyd ook ʼn laaste, indringende oproep aan ’n volhardende sondaar: ‘Pasop, op hierdie manier kom jy nou-nou by God voor ʼn geslote deur.’

2. Hoe is jy by die tug betrokke?🔗

Kerklike tug word amper orals baie versigtig en sorgvuldig toegepas. ʼn Kerkraad kan en mag baie min openheid hierin gee, veral as dit oor ʼn spesifieke gemeentelid gaan. Hoe kan ʼn mens dan tog hieraan werk, dat die onderwerp ‘tug’ gedra word in ʼn gemeente? Want baie keer het die worsteling met die kerklike tug iets daarmee te doen, dat die betrokkenheid van die gemeente maar laag lê. Sonder om uitsprake te doen oor die vraag of iemand onder tug staan of deur die kerkraad vermaan word, kan ons mekaar wel stimuleer om om te sien na gemeentelede wat agterbly of wegbly. In feite is ʼn wyk- of ʼn gemeenteaand baie geskik om hierdie lastige onderwerp bespreekbaar te maak.

3. Afhouding van die nagmaal🔗

Die eerste stap van die kerklike tug is die afhouding van die nagmaal. Soms is daar by die kerkraad die nodige aarseling om ʼn broeder of ʼn suster af te hou. Daar kan verskillende redes voor wees:

  • Die broeder wat vermaan word, omdat hy amper alle kerkdienste versuim, kom dus tog al klaar nie meer aan die nagmaal nie.
  • Die suster wat vermaan word omdat sy saamwoon, het reeds beken dat sy nie so wil aangaan nie.
  • Die gemeentelid wat dadelik na sy/haar egskeiding ʼn nuwe verhouding begin het, verstaan nie hoekom dit ʼn probleem moet wees nie, en wil graag met sy/haar ouderling vanuit die Bybel hieroor praat.
    Tog is ʼn besluit om iemand in hierdie situasie toegang tot die nagmaal te ontsê, baie heilsaam. In die eerste twee gevalle sê jy as kerkraad vir hierdie broer of suster: ons stem saam met julle. Jy gaan self nie aan die nagmaalstafel nie of jy dink self dat jy nie aan die nagmaalstafel mag gaan nie.Ons stel dit dan nou as ʼn feit: ons sê in die naam van die Here dat jy in hierdie situasie nie die nagmaal mag vier nie.
    In die derde geval wys die kerkraad hulle: dit gaan hier nie net daaroor dat ons verkeerd vind wat vir jou reg is nie. Nee, hierdie keuse van jou is so duidelik in stryd met die weg wat Jesus die Here vir jou wys, dat ons jou op grond van die Bybel wil vermaan en onderrig en in hierdie situasie nie aan die nagmaal kan toelaat nie.
    As jy goed hieroor nadink, is dit uiteindelik nie die kerkraad wat iemand onder tug plaas nie, maar die broeder of suster self. Soms sê ʼn gemeentelid: julle moet my van die nagmaal afhou; dit is julle verantwoordelikheid as kerkraad. So ʼn opmerking moet jy dadelik weerlê: jy gaan in teen die woord van die Here en jy lê die voorbeeld wat die Here Jesus vir ons gee op hierdie punt langs jou neer. Hoe kan jy dit verantwoord as jy sê dat jy wel in Christus glo en deel aan Hom wil hê? So konfronteer jy iemand met sy eie gedrag.

4. Is tug inmenging in iemand se privaatlewe?🔗

Deur die invloed van ons huidige kultuur staan ons maar huiwerig teenoor die bediening van die kerklike tug. Elkeen maak deesdae sy eie keuses en is sy eie baas. Hierdie houding is ʼn groot gevaar vir die kerk van Christus. Mense eis ʼn onbybelse vryheid op met die opmerking: as ek maar net die Here dien, kan ek maar doen wat ek wil. Met opmerkings soos: ek kan dit vir myself verantwoord, word enige diskussie summier tot ʼn einde gebring.

As mede-Christen en as ampsdraer moet jy altyd laat merk dat jy nie na iemand gaan om hom te “bemoeder” nie maar dat jy met die woord van die Here kom. ‘Vermaning’ gaan by die Here in die Ou Testament altyd tesame met ‘bewoënheid’. Laat dit dan ook deurklink in die aanspraak van mekaar en in ʼn amptelike besoek wat ʼn ouderling of predikant bring. Maar ‘’n inleef in ʼn situasie’ en begrip, beteken nie outomaties dat ʼn kerkraad daarmee ʼn bepaalde standpunt goedkeur of hulself noodgedwonge daarby neerlê nie. Dit is die valkuil: hierdie ‘inleef in ʼn situasie’ lei in die praktyk tot ‘instem’.

Die eerste vereiste by tug is dat jy vir seker weet: so spreek die Here. Daar is net een regte weg: of jy oefen geen tug uit as jy nie seker is dat die Here op grond van sy Woord hierdie maatreël goedkeur; of jy oefen tug uit en voeg die daad by die woord, omdat jy daarmee die genesing van die sondaar voor oë het.

As ʼn kerkraad te maklik die tug toepas, lei dit tot willekeur. As ʼn kerkraad te huiwerig is om die tug toe te pas, dreig hy, maar kry die sondaar nooit met die gevolge te doen nie.

5. Terugkeer – ʼn illusie🔗

‘Hy is nou vir altyd weg en ons sal hom nooit weer sien nie.’ Menslikerwys mis die tug dus sy doel. Baie keer omdat mense hulleself onttrek na die eerste kritiese gesprekke. Soms omdat ʼn broeder of suster tot en met die amptelike uitsluiting halsstarrig in sy of haar sonde volhard. Tog sien ons dat die Here so af en toe ook afgedwaalde gelowige weer terugbring. Baie keer na ʼn proses van jare, maar tog gebeur dit. Iemand meld homself weer aan en bely teenoor die kerkeraad dat dit fout was om homself te onttrek. Wanneer die fomulier van die uitsluiting gebruik is, word ook die formulier van die wederopneming gelees. Dit kom nie baie keer voor nie. Maar dit gebeur. In die hemel is die engele bly. Hoe bly is ons dan?

Literatuur🔗

H. Bouwman, De kerkelijke tucht, De Groot Goudriaan Kampen, 2e druk 1988.

Joh.Jansen, De kerkelijke tucht, Tamminga Arnhem, 1913.

J. Kamphuis, Om de heiligheid van de gemeente, Van den Berg Kampen, 1982

J. Plomp, De kerkelijke tucht by Calvijn, Kok Kampen, 1969.

R Schippers, ‘Belijdenis en kerkelijke tucht’, in: M.B. van ‘t Veer, De goede belijdenis, Littooij Terneuzen, sonder jaar.

H.B. Weijland, Augustinus en de kerkelijke tucht, Kok Kampen, 1984.

F.W. Grosheide, ‘Wat leert het N.T. inzake de tucht?’ in: Exegetica, 1952.