Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Tuis in God se Huisgesin

eensaamheid

In die moderne samelewing smag die mens daarna om iewers te "behoort". Waarom? Die kommunikasiemiddele van ons tyd is dan op so 'n hoë vlak dat geen mens geïsoleerd behoort te voel nie. En tog is die probleem van vereensaming blykbaar erger as ooit. Gaan vra maar die sosioloë en die sielkundiges. Hulle vertel ook dat die probleem elke jaar hierdie tyd op sy ergste uitslaan. En elke jaar erger as die vorige. Die blote feit dat selfmoordsyfers gedurende die Kersseisoen die hoogte in skiet, bevestig hierdie droewige toedrag van sake. Die afgelope tyd is kinderselfmoorde 'n bron van groot hartseer en kommer onder ons mense.

Vereensaming in die Massa🔗

Die geleerdes het allerlei wetenskaplike verklarings vir die vereensaming van die moderne mens. Wat wel duidelik is, is dat die mens se behoefte om êrens te "behoort" nie in die moderne samelewing bevredig word nie. Ironies genoeg — hoe meer die mens deel van 'n groot massa word, hoe eensamer word hy.

In die boek Openbaring lees ons dat die mens, namate die eindtyd sy volheid nader, al meer in 'n gesiglose massa ingesuig sal word. Dink maar aan die "menigtes" van Openbaring 17:15 wat almal in die groot stad Babilon versamel word, 'n massa mense almal met die merk van die dier op hulle voorhoof (Openb. 14:11).

In so 'n massale mense-see raak die mens eensaam, juis omdat hy sy uniekheid verloor. Die individu word 'n blote nommer in 'n mense-see, sonder identiteit, sonder dat hy regtig êrens tuishoort. Want die groot mense-see is 'n onherbergsame plek. Dit het nie geduld met andersheid of uniekheid nie. Dit eis dat elkeen in die grysheid van eendersheid opgaan. Daarom is die mens in hierdie grote massa bitterlik eensaam.

"Kleingroepbediening" die Antwoord?🔗

In so 'n samelewing moet die kerk vandag leef en die evangelie van die Here verkondig. Dit stel geweldige eise aan die kerk.  Gevolglik word allerlei strategieë ontwerp om die probleem mee aan te pak.

Een van die strategieë wat soms gevolg word, is "kleingroepbediening". Om "kleingroepbediening" byvoorbaat te verwerp of te omhels, is natuurlik onverantwoordelik. Soos elke ander saak moet ook hierdie benadering aan die Bybelse beginsels geweeg word. Hier geld veral die Bybels beginsels van kerkwees.

Die positiewe aspek van die kleingroepbenadering wat 'n mens opval, is dat dit probeer om 'n antwoord op die vereensaming van die massamens te bied. Dit is 'n poging om die mens weer te laat voel dat hy êrens tuishoort. Veral in die groot stede waar vereensaming geweldig erg raak is dit belangrik om mense by 'n groep te betrek. Die klein groep probeer dan om die groep te wees.

Herstel van die Godgegewe "Kleingroep"🔗

Op sy beste lyk 'n kleingroepbenadering egter na 'n blote oorgangsmaatreël binne 'n onnatuurlike situasie. Die klein groep kan onmoontlik die uiteindelike adres van so 'n vereensaamde mens wees.  Want uiteindelik is dit 'n kunsmatige menseskepping. Dit is 'n strategie om mense te laat besef dat hulle inderdaad tuishoort.

God het die mens immers gemaak om êrens tuis te hoort. By geboorte het God elke mens deel van 'n gesin gemaak. Die huisgesin is die Godgegewe kleingroep, verbondsmatig deur God saamgevoeg. Die huisgesin is die ware kleingroep waarin gelowiges gereeld saam bid, saam Bybelstudie hou, saam die lof van die Here besing. Hierdie kleingroepaktiwiteit staan tradisioneel bekend as huisgodsdiens. Die huisgesin is die kleinste groep waartoe elkeen behoort.

gesin

Natuurlik het ons deesdae te kampe met toenemende gesinsverbrokkeling. Enkelouergesinne, hersaamgestelde gesinne, kinders wat tussen verskillende huise verdeel is, is deesdae al meer alledaagse verskynsels. Meeste hiervan is helaas die gevolge van egskeiding.  En, so weet ons uit Maleagi 2:16, die Here haat egskeiding. Wat ons samelewing dus werklik nodig het, is 'n herstel van gesinswaardes. Herstel die huisgesin weer in ere, en God se kleingroep kan weer na behore funksioneer. Mense sal weer tuishoort.

'n Bykomende probleem is dat baie gesinne wat wel bestaan, nie werklik meer as 'n huisgesin funksioneer nie. Ook hieroor het die sosioloë baie te vertel. Hierdie pro­bleem ontstaan wanneer elke lid van die huisgesin so in sy of haar eie program opgaan dat hulle by mekaar verbyleef. As kleingroep funksioneer hulle nie meer nie. Van saam bid en Bybellees by huisgodsdiens is daar nie meer sprake nie. Weer eens roep dit om herstel van die huis­gesin as Godgegewe kleingroep.

Daar is ook wyer natuurlike verbande waarin God mense saamvoeg. Die huisgesin kring wyer uit na familieverbande. Familieverbande kring weer uit na die volksverband. Verwaarlosing van hierdie verbande waarin God ons gestel het, laat ontstaan die gevoel dat jy nêrens tuis­hoort nie. Ongelukkig leef ons in 'n tyd waarin familie­verbande al minder geag word en waarin volksverbande feitlik as iets boos afgemaak word. Die onbetaalde rekening hiervan is helaas die vereensaamde mens wat nêrens tuis voel nie.

Tuis in die Gemeenskap van die Gelowiges🔗

Die belangrikste verband waarin God ons laat tuiskom, is die gemeenskap van die gelowiges. Dit is die kerk. Hierdie verband lê Hy nie deur geboorte nie maar deur wedergeboorte. Deur die verkondiging van die evangelie aan ieder en elk skep die Here daagliks nuwe bande van die geloof.

Oral waar 'n mens tot geloof kom, daar hoort hy tuis in die huisgesin van God. Die samebinding van die kerk is juis die een Woord en die een Gees, die een Here waarin almal saamgevoeg is (Ef. 4:3-6).

In Efesiërs 2:19,20 word dit pragtig onder woorde gebring: "So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God." Die kerk is soos 'n geestelike huisgesin met God as Vader. Verbrokkeling van hierdie gesin is katastrofies vir die gelowiges. Alles wat daarop gemik is om die gemeente te verdeel, hetsy in individue of in klein losstaande groepies, moet dus vermy word. Waar enkelinge en groepe in die kerk hulle egter daarop toespits om die gemeente as 'n nog hegter eenheid te laat funksioneer, moet ons dit met dankbaarheid verwelkom.

kerkdiens

Uiteindelik is die kerk die plek waar elkeen tuishoort sonder om sy unieke eiesoortigheid te verloor. In 1 Korintiërs 12 verduidelik die apostel Paulus dit met die beeld van die liggaam: "As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede van die liggaam gestel soos Hy gewil het (12:17).

Huisgesin, familiebande, volksverband, maar bowenal kerk. As hierdie Godgegewe verbande weer hulle regmatige plek in die samelewing ontvang, mag baie van die frustrasies en gevoelens van eensaamheid in die same­lewing die hoof gebied word. Want binne hierdie verbande hoef ons nie ons eie uniekheid prys te gee om êrens te kan behoort nie. Hierbinne is elkeen tuis.