Uitverkiesing is Liefde!
Uitverkiesing is Liefde!
⤒🔗
Verstaan jy werklik die uitverkiesing?←⤒🔗
Weet jy van 'n keer dat jy oor die uitverkiesing geredeneer en daarna gelukkig gevoel en dit verstaan het?
Nee? Hoekom nie?
Omdat ons geneig is om slegs na die menslike kant van die uitverkiesing te kyk. Ons beskou alle mense as waardig genoeg om eendag in die hemel te kom en dan begin ons vrae:
- Kan ek in die hemel kom as ek nie uitverkies is nie?
- As ek uitverkies is, beteken dit dat ek kan lewe soos ek wil, ek gaan tog hemel toe?
- Of, al probeer ek hoe hard en stry ek om in die nou poort in te gaan, sal die dag nie aanbreek dat God vir my sê: Jammer, jy is nie uitverkies nie?
- Wat van die ou wat nog nooit die evangelie gehoor het nie, is dit regverdig dat hy nie ook 'n kans kry nie?
Redeneer ons so, maak ons van die uitverkiesing iets van 'n grieselrige willekeur. Ons stel dit voor asof God ons name vat en sê, jy is uitverkies en jy nie. Soos 'n seuntjie wat albaster speel en besluit: vandag gaan ek met die geles en die groenes speel, môre is hy weer lus vir die bloues en rooies.
Om die uitverkiesing te 'verstaan' moet ons nie menslik daarna kyk nie. Ons kan God se bedoeling daarmee eers verstaan as ons nederig en biddend na Hom luister.
1 Tessalonisense 1:4 maak aan ons die hart van die uitverkiesing oop. Vers 4 is deel van 'n dankgebed wat alreeds in vers 2 begin. Hierdie laaste sin kan ons gewoonweg vertaal met: "broers vir wie God liefhet".
Dit is die hart: liefde. Uitverkiesing en God se liefde loop hand aan hand. Uitverkiesing is liefde. Maar dit is nie afhanklik van my liefde nie. God het my eerste liefgehad (1 Johannes 4:10). Omdat God liefhet as Hy kies (dis nie soos ons kies nie), kies Hy "sonder aansiens des persoons" (1 Korintiërs 1:26-28). As God kies, gee Hy – liefde. Omdat die inisiatief altyd van God uitgaan, sorg Hy daarvoor dat nie net ek nie, maar ook al sy ander kinders die evangelie hoor.
As ek dan nou seker kan wees uitverkiesing is liefde, kan ek ook seker wees God het mý lief? God wil hê ons moet seker wees. Wat help dit ek bid: "Ons Vader" en ek kan nie seker wees dat Hy ook my Vader is nie. Of "Vergewe ons ons skulde" en ek kan nie seker wees dat Hy ook mý sondes vergewe nie?
1 Tessalonisense 1:4 sê Paulus was seker van die Tessalonisense se verkiesing. Waarom kan hy seker wees?
Maklik, hy het net gekyk hoe lewe hulle. Ons kan nie in iemand se hart kyk nie, maar ons kan kyk hoe hy lewe, ons kan hoor hoe hy praat. Wat het die Tessalonisense se dade gekenmerk?

Hulle beantwoord met hulle lewe die geloof, hoop en liefde wat Christus aan hulle gegee het! Paulus sê hy onthou:
- die werk van hulle geloof. Hulle het gebou aan hulle geloof en gegroei in hulle geloof. Hulle het geleef vanuit die vergiffenis wat hulle op hulle sondes ontvang het en hulle het ten volle vertrou op Christus wat hulle geken het.
- die inspanning (arbeid) van hulle liefde. Die liefde van God maak jou nederig sodat jy nie anders kan as om self lief te hê nie. Liefde as daad kom nie vanself nie. Jy moet jouself verloën om ander lief te hê en dit vra inspanning.
- die volharding van julle hoop. Teenslae het hulle nie onder gekry nie. Met die oog gevestig op Christus en die voleinding van hulle geloof het hulle voortgestry en oorwin.
Wat doen jy met die liefde van God? Gaan sit jy en spekuleer oor die moontlikheid of werking van die uitverkiesing, of rol jy jou moue op en klim in. Dit help jou niks jy het die wêreld se kennis van die uitverkiesing maar nie die vertroue en sekerheid – God het my lief – nie. Al verstaan jy nie die uitverkiesing nie, laat daar maar iets van God se liefde vir jou in jou hart wakker word dan, sal jy saam met Paulus sing: "Geseënd (lof) is die God en Vader van ons Here Jesus Christus wat ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld" (Efesiërs 1:3, 4).
