3 bladsye. Vertaal deur Awie Buitendag.

Verdraagsaamheid in die Christelike geloof: waarom en tot hoe ver?

islam

ʼn Vraag wat opgekom het lui: ‘Is daar op basis van die Bybel, grond vir ʼn houding van verdraagsaamheid teenoor andersgelowiges? Indien so, hoe dan?

Doen ons dit teësinnig, aangesien ons nou maar eenmaal met andersgesindes in een wêreld moet saamlewe? Bedoel ons dit werklik van binne af, of sou ons liefs ons norme aan ander wil oplê?

Islam en moderniteit🔗

Dié vraag funksioneer in ons samelewing sedert die Islamitiese wêreld stewig in beweging gekom het. In Islam geld die uitgangspunt, dat wanneer Moslems iewers die meerderheid vorm, hulle daaraan vashou dat hulle die samelewing volgens Islamse norme moet inrig, en om dit nie weer op te gee nie.

Juis hierdie karaktertrek van die Islam boesem in die weste heelwat vrees in, veral noudat ons kennis gemaak het met ʼn radikale vorm van hierdie godsdiens, wat nie sku is vir die middel van terreur nie.

Op die vraag wat daar presies gebeur en hoe dit verhelp kan en moet word, het ʼn mens vandag wel ʼn antwoord. Dit sou kom omdat die Islam ʼn ‘agterlike’ geloof is, wat nog nie deur die Verligting gegaan het nie. ʼn Mens dink dan daarby: die Christelike geloof is, danksy die Verligting, van die nodige onverdraagsame trekke verlos, en só gemoderniseer. Dit is onnodig om daar by te voeg dat die Christelike geloof self vandag ook alleen dan en vir sover verdra kan word, as die belyers hulle hou aan dít wat hulle uit die verligte tydperk verwerf het. Anders gestel: as die kerke hulle standpunte oor maatskaplike en etiese sake handhaaf wat in stryd met ons verligte wêreldbeeld, is die vraag of ons dit as samelewing aanvaar.

Kort en klaar: die gedagte bestaan by baie dat ook die Christelike geloof alleen in sy verligte vorm aanvaarbaar is. As die Islam dieselfde ontwikkeling deurmaak, en dus afstand doen van allerhande opvattinge wat in stryd is met die waardes en norme van ons samelewing, is daarteen geen enkele beswaar nie. Is dit anders, dan het die imams ʼn probleem.

Nou stel die huidige situasie ons dus ook voor die vraag of die Bybel wel ruimte bied vir verdraagsaamheid, en wat dan die aard van die verdraagsaamheid is.

Is die Nuwe Testament verdraagsaam?🔗

Daarom eers die vraag of die Nuwe Testament verdraagsaam genoem moet word. Ek beperk my tot die Nuwe Testament, omdat die gedagte binne en buite die kerk leef, dat die Nuwe Testament veel meer ʼn gees van liefde adem as die Ou Testament. In die Evangelie lees ons dat ons van Christus moet leer dat Hy sagmoedig en nederig van hart is (Mat. 11:29). Jesus weier ook hulp van Petrus as hy sy swaard uittrek om Jesus te hulp te kom, en Hy roep ook nie sy Vader aan om vir Hom legioene engele te stuur om Hom tegemoet te kom nie (Mat. 26:52v). Daar word dikwels gesê dat dit in die Nuwe Testament gaan om die liefde; daarom adem die Nuwe Testament ʼn gees van verdraagsaamheid.

swaard trek

Tog is dit effens te eenvoudig gestel. As die Here Jesus Christus in Joh. 14:6 sê, “Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie”, staan dit by Johannes, die apostel van die liefde. In Hand. 4:12 sê Petrus: “Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” Hierdie twee Bybelwoorde is voldoende om ons te laat besef dat daar ʼn heel eksklusiewe element in die boodskap van die Evangelie is. Met sulke tekste in gedagte is dit nie moontlik nie om teenoor ʼn andersgelowige alleen maar te sê: ‘Ek het respek vir jou geloof, en ek hoop dat jy dit ook vir my oortuiging het’.

Tog is daar in ons tyd heelwat teoloë wat hierdie benadering voorstaan. Hoe verantwoord hulle hulself teenoor tekste soos Joh. 14:6 en Hand. 4:12? Hulle stelling is dat ons, vir die verstaan van ʼn Bybelgedeelte, daarmee rekening moet hou dat die jong kerk ʼn bedreigde minderheid was. As jy dan uitgaan van die gedagte dat die ander ook wel ʼn bietjie reg kan wees, en dat dit almal miskien nie beslissend is nie, hou jy jou mense nie vas nie. ʼn Mens stel dit wel dat die jong gemeente, om daaraan te kon vashou dat God werklik in Jesus gehandel het, dit wel skerp moes stel dat God eksklusief  in Jesus gehandel het. Vandag hoef dit nie meer so te wees nie, want die Christelike geloof word in ons samelewing nie as ʼn bedreiging gesien nie. Daarom kan ons nou rustig die aanspraak opgee, dat God eksklusief in die kruis en die opstanding van Jesus Christus versoening bewerkstellig het, en dat ʼn mens daaraan slegs deel kan en moet kry deur te glo.

By so ʼn benadering moet daar egter enkele moeilike vrae gestel word. My probleem is nie dat ʼn mens by die uitleg van die tekste die situasie van die skrywer en die eerste lesers wil laat saampraat nie, al weet ons nie alles en soms amper niks, daarvan af nie. Nee, my grootste beswaar is dat die gehanteerde uitgangspunte byna bepalend moet wees vir die resultate. Die historiese konteks van destyds word hier tot die hoofteks gemaak. Dan kom die vraag wat die Bybelskrywers van die Nuwe Testament dan in Christus gevind het, nie meer aan die orde nie.

Eksklusief maar nie onverdraagsaam nie🔗

Ek meen dat ons die boodskap van die Nuwe Testament moet karakteriseer as ‘eksklusief, maar nie onverdraagsaam nie’. Dat die Evangelie eksklusief is, kan moeilik ontken word. Die ‘moet’ van Hand. 4:12 spreek vanself, nl. dat die lewende teenwoordigheid van die opgestane Christus die Naam is deur wie ons verlos moet word. Maar wat is die aard van die ‘moet’? Dit is die ‘moet’ van God se heilsbewoënheid. Hy wil nie dat sommige verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering kom (2 Pet. 3:9). Dit is soos iemand wat hom in ʼn brandende huis bevind. Die gee jy nie ruimte of tyd om alles eers goed te oorweeg nie. Jy roep hom op om aan jou vas te hou, sodat jy hom of haar daaruit kan haal en so ʼn lewe kan red.

In Joh. 8:36 sê Jesus dat ‘alleen as die Seun ons vry maak sal ons werklik vry wees’. Dít is eksklusief, maar die doel is ware vryheid. Christus het ons waarlik vrygemaak, sê Paulus in Gal. 5, en dit beteken bevryding van watter slawejuk van mense ook al. Daarom kan daar ook geen sprake wees van enige dwang van die kant van die mens nie, omdat dit in stryd sou wees met dít waaroor dit in die Nuwe Testament gaan. Die woorde van Augustinus is geheel en al waar, nl. ‘niemand glo, of hy glo in vryheid’. Waar dwang verskyn hou geloof op.

Daarom meen ek om te kan stel, dat die Evangelie wel eksklusief is, maar dat daar geen sprake is van uiterlike dwang nie; en ewemin is daar plek vir innerlike dwang in die vorm van manipulasie of intimidasie nie.

koring en onkruid🔗

Die karakter van dié verdraagsaamheid?🔗

Wat is nou die aard van dié verdraagsaamheid? Sê Christus dat ons ‘koring’ en ‘onkruid’ maar saam moet laat groei tot by die oes (Mat. 13:30), alleen omdat ons nou eenmaal niemand met menslike middele tot geloof kan dwing nie? Dan is die verdraagsaamheid tog uiteindelik negatief bepaal. Luther het by hierdie teks die vraag gestel of ons wel besef hoe God die gelowige sien. Is dit mense in wie Hy vreugde beleef? In Mark. 9:19 sê Christus: “Ongelowige geslag, hoe lank nog moet Ek by julle wees? Hoe lank nog moet Ek julle verdra?” Hierdie woorde rig Jesus nie aan die adres van Sy teenstanders nie, maar aan sy dissipels! Dit is kenmerkend van die boodskap van die hele Skrif, dat Israel en die kerk hulle erg vergis as hulle dink dat hulle in God se oë ʼn gunstige indruk maak by die wêreld. As ons maar weet hoeveel die Here ons moet verdra, sal ons ook teenoor ander verdraagsaam moet wees.

Luther besef heel goed dat sulke gedagtes nie sommer by ons ingang vind nie. Volgens hom plaas God ons tussen nie-Christene, met al die moeite en lyding wat dit kan oplewer, om ons so van die waanbeeld dat ons beter mense is, af te help en ons op Hom te laat hoop! Op dié manier ontstaan daar in ons lewe ʼn egte verdraagsaamheid teenoor ander van binne af, as ʼn daad van liefde wat gestalte kry in ʼn gebed vir hulle wat ons lewe suur en selfs onmoontlik maak. Só leer ons om Christus te volg, wat aan die kruis gebid het vir sy laksmanne. Vanweë die Woord van God, wat hiervan getuig en nie ‘gebonde’ is nie, sê Paulus: “Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, in die ewige heerlikheid kan ontvang” (2 Tim. 2:10). As ons op ʼn geweldlose, nie-aanmatigende en nie-agressiewe manier lewe, vorm ons, in al ons swakheid, in onsself en met al ons krag in Jesus Christus, ʼn lewende verwysing na Hom.

Los van die wortel🔗

As ons dit alles op ons laat inwerk, dan mag dit duidelik wees dat ons die gedagtegang waarmee hierdie artikel begin het, nie sommer kan oorneem nie. Wie onder verdraagsaamheid die afsien van ʼn eksklusiewe waarheidsaanspraak verstaan, kom in konflik met die hart van die Bybelse boodskap. Die verdraagsaamheid van die Evangelie is heelwat anders as om net respek te hê vir die oortuiging van andere. Die moderne verdraagsaamheid is ʼn blom wat tot bloei gekom het op die akker van die Evangelie. Dié blom is gepluk, en mag nou ʼn ander omgewing versier. Wat ons vandag egter sien is dat die blom verwelk het, omdat dit losgemaak is van die wortel. Dat die Evangelie geen bedreiging is vir die verdraagsaamheid in ons samelewing nie, is die enigste grond en voedingsbodem waarop dit kan bloei.