Bron: Kompas, 2012. 6 bladsye.

Versoening tussen Bybel en Wetenskap

Teïstiese Evolusie🔗

Versoening tussen Bybel en wetenskap – waar die wetenskap as totaal gesaghebbend aanvaar word oor die huidige verstaan van die aarde se ontstaan met alle prosesse en lewende wesens – wil hê dat alle uitsprake oor die natuur in die Bybel hiervolgens uitgelê moet word. Daar word verwag dat ons selfs “moet herbesin” oor die belydenisskrifte ten opsigte van die Bybelse uitsprake oor die natuur (Moraal en Reyneke in Die Kerkblad, Julie 2010).

Die gevoel ontstaan dat daar met die onderskeie denkrigtings, soos die teïstiese evolusie, ʼn geforseerde verstaan van die Bybel afgedwing word.

Daar word gepoog om God se almag met ons begrip, wetenskap in die sin van kontemporêre natuurwetenskap, kultuur en taalwetenskap te verstaan. Kreasioniste doen dit deur te aanvaar dat baie verskynsels deur katastrofes ontstaan het, om sodoende by ons verstaan van die Bybelse chronologie te bly. Teïstiese evolusioniste doen dit deur die Bybel te verklaar volgens ons insigte en kennis oor die natuur. Is daar ʼn manier om die Bybel te aanvaar en verder te gaan met wetenskaplike ondersoeke en ontdekkings?

Daar sal altyd spekulasie oor die ontstaan van alles wees – want ons was nie daar nie en God het dit nie aan ons geopenbaar nie! As ons net wil besef dat ons in die natuur ingekapsel is: God het die mens met ʼn spesifieke opdrag geskep. Die mens kan nie buite sy opdrag beweeg nie; hy maak wel ʼn gemors daarvan as gevolg van ʼn poging om soos God te probeer wees! ʼn Hond kan nie soos ʼn kat rats bo-op ʼn muur spring nie. Die hond sou graag die kat wou bykom, maar kan nie. Hierdie frustrasie vind ons ook dikwels by mense wat wil beweer dat daar nie ʼn God is nie en dat “moeder aarde” maar toevallig ontstaan het. Ander wat wel wil “plek maak” vir God maar tog die geloof in evolusie wil handhaaf, doen dit deur te beweer dat God evolusie gebruik het om alles te laat ontstaan. Dit beteken egter dat ons die Bybel en ook die belydenisskrifte anders moet interpreteer. Daar word dan beweer dat die Bybel en die geloofsbelydenis beide in ʼn sekere tyd met sy unieke omstandighede ontstaan het. As ons nie die omstandighede verstaan nie, kan ons die Bybel ook nie reg verstaan nie. Met hierdie benadering word die deur oopgemaak om die Bybel met buite-Bybelse wetenskaplike gegewens te verklaar. Die mens besluit en die mens hanteer die sleutel tot die verstaan van die Bybel! Hoe moet ons die Bybel verstaan en wat is die verhouding tussen wetenskap en die Bybel? Word die sogenaamde konflik tussen Bybel en wetenskap veroorsaak deurdat ons die Bybel met die verkeerde sleutel probeer ontsluit? Die teïstiese evolusie gebruik die natuurwetenskap as sleutel. En dan kom die sprong: Genesis kan alleen verstaan word deur dit in sy kulturele- en tydsomstandighede te probeer verklaar. Daar is ʼn kloof tussen ons en die mense vir wie die boek Genesis eintlik geskryf is. God het Hom aangepas by die ou-Oosterse mens en daarom is sy Woord gebonde aan die verstaan van daardie tydperk en taalvorm. Francis Collins in sy boek The Language of God stel dat veral Genesis nie so letterlik geneem moet word nie, omdat dit die karakter dra van ʼn allegorie of verhaal en nie bedoel was om letterlik verstaan te word nie (Collins 2007:175). Hy haal Augustinus aan wat in sy Genesis-kommentaar skryf dat die Hebreeuse woord vir ‘dag’ ook in ʼn simboliese betekenis gebruik kan word (Collins 2007:152). Zeger Wijnands, in sy boek God of Darwin, haal prof B Zuiddam van die Gereformeerde Teologiese Skool Potchefstroom aan wat beweer dat Augustinus hom vergis het, omdat hy nie Hebreeus goed onder die knie gehad het nie. Tog skryf Augustinus self dat die dae van Genesis uitermate moeilik is om te verstaan en dat daar waarskynlik heelwat verskillende verklarings kan wees. BJ Oosterhoff in sy boek Hoe lezen wij Genesis 2 en 3 stel dat ons hier te doen het met feite wat in simboliese taal aan ons meegedeel word (Oosterhoff 1972:193).

Waaroor Gaan Dit?🔗

Collins wil graag, soos baie ander Christene, sy wetenskap met die Bybel versoen. Dit wat hy sien in die DNA-struktuur is volgens hom onomstootlike bewys dat die mens en die sjimpansee ʼn gemeenskaplike voorouer moes gehad het. Let op na die oorgang van die wetenskaplike waarneming, dit wat nou gesien en beskryf word, na dit wat ons nie kan sien nie en waarvan ook geen bewys bestaan nie, naamlik die gemeenskaplike voorouer. Dit is dus ʼn afleiding van wat ons tans sien om binne die streng raamwerk van die “evolusiegeloof” in te pas.

Waarom moet ons in evolusie glo? Waarom is dit die enigste verklaring oor die ontstaan van alles? Waarom word ons vasgehou aan een denkpatroon? Waarom is die ontstaan van alles so oorweldigend belangrik om sogenaamd te bewys? Om voortdurend evolusie te wil bewys ten koste van byna alles is nie wetenskap nie, maar geloof. Om na die gegewens te kyk en dan te verklaar dat dit evolusie bevestig, is om deur ʼn evolusiebril te kyk! Daar word selfs aktief gewerk en gestudeer om hierdie sogenaamde feite te bewys, ʼn aktiwiteit wat baie energie en geld kos. Die vraag kan gevra word of dit ook ʼn Christenwetenskaplike se taak en doel is? Moet ʼn Christenwetenskaplike nie gaan ontdek en toepas sodat ontwikkeling binne die reformatoriese Bybelse raamwerk kan plaasvind nie? Christelike wetenskapsbeoefening het dus ook sy grense.

Om alles te verklaar as evolusie is om enige ander moontlikheid soos katastrofes te ignoreer. Meer belangrik, dit is selfs om te erken dat daar nog nie genoeg kennis bestaan nie en dat dit vir ons as mense totaal onmoontlik en selfs onnodig is om sekere dinge te probeer vasstel. Dit dra nie by tot ons taak en roeping nie, dit mis die doel, en is dus sonde! Die teïstiese evolusie bied geen uitkoms nie en is in wese vals omdat dit die Woord van God aantas en ʼn basiese reformatoriese Skrifuitlegbeginsel verwerp. Buite-Bybelse gegewens, soos die natuurwetenskap, word die sleutel tot die verstaan van die Bybel. Geertsema skryf in ʼn artikel in Radix (ʼn multidissiplinêre kwartaalblad met die titel: Gods scheppend handelen en natuurwetenschap) dat dit onbegryplik is dat God die natuurwette skep én die aanleiding tot die oerknal én dan 14 miljard jaar die natuurlike prosesse onderhou wat uiteindelik moet lei tot die ontstaan van die mens, terwyl Hy in sy openbaring aangee dat die skepping 6 dae geduur het. Ten tweede het die vervloeking wat God uitspreek in Genesis 3:14 betrekking op ʼn groep mense en nie 'n primitiewe lewensvorm nie: om te werk in die sweet van jou aangesig, om met smart kinders te baar en dood te gaan.

Collins sien evolusie as ʼn elegante meganisme, terwyl Geertsema sê dat dit dalk in die DNA-wêreld geld, maar beslis nie in die diereryk nie. Oorlewing van die sterkstes (survival of the fittest) klink beslis nie elegant nie, as evolusie geglo moet word. Die skepping in Genesis was baie goed en dit word telkens herhaal. Die totale skepping word egter in Romeine 8:18 e.v. beskryf as gebroke en wat wag op herstel. Van goed, dus volmaak en in volle en perfekte ekologiese balans, tot iets wat kreun en totale herstel nodig het. Indien die skepping nie goed was nie en as daar ook geen sondeval plaasgevind het nie, het God ʼn wêreld geskep wat nie perfek was en na herstel verlang het nie. Dit weerspreek wat Genesis duidelik aan ons openbaar: God het ʼn volmaakte skepping daargestel. Daar het egter iets dramaties verkeerd geloop – die sondeval.

Wetenskapsbeoefening🔗

Die natuurwetenskaplike metode is basies Godloos – soos wat Geertsema sê:

Vanuit ʼn wetenskaplike oogpunt, afgesien van God se onderhouding, val die appel op die grond. Vanuit ʼn lewensbeskoulike oogpunt val die appel op die grond danksy God se onderhouding.Geertsema, 2009:23

Hy bedoel hiermee dat die wetenskaplike metode deur almal gebruik word, maar dat dit nog nie kan bepaal hóé God geskep het nie. Die interpretasie van dit wat gesien of vasgestel word, is bloot interpretasie binne ʼn sekere denkraamwerk en geen wetenskap nie, dis geloof!

Ons Beperkinge🔗

Geertsema kom met ʼn oplossing wat my nogal aanspreek. Dit onderstreep duidelik ons beperkinge, en dit sit ons ook op ons plek as ons besef dat daar dinge is wat vir ons sondige verstand glad nie meer toeganklik is nie. Hy noem dit “ruimtetyd” en hy bespreek dit met verwysing na Van Loon wat hierdie visie ontwikkel het. God staan buite die tyd, Hy is die Skepper daarvan, en volgens die relatiwiteitsteorie van Einstein kan dit dus beteken dat God gelyktydig “ewige gelyktydigheid” geskep het wat ons nie kan verstaan nie. Ons is ingekapsel in die tyd en is tydgebonde. Die ander voorbeeld wat ons beperkinge mooi illustreer, kom uit ʼn boek van Cees Dekker met die titel Flatland, the romance of many dimensions. Dit gaan oor ‘Vierkant’ wat op ʼn stadium ‘Bal’ ontmoet. Vierkant, wat in ʼn tweedimensionele ruimte leef, kan nie verstaan hoe Bal, wat driedimensioneel is, inmekaar steek nie. Bal probeer verduidelik en tel Vierkant selfs op, sodat hy Bal van bo af kan sien. Vierkant begryp dit nog steeds nie, maar begin stadig maar seker insien dat daar dalk ook ander dimensies kan wees! Hoeveel dimensies is daar nog wat ons nie kan sien of van weet nie? Ons kan nie die engele sien nie, tog bestaan hulle. Moes Christus nie die Emmaüsgangers se oë open sodat hulle kon sien nie? So is daar talle voorbeelde wat ons beperkinge om te kan verstaan en begryp, illustreer, soveel te meer met die sondeval, waar ons verstaan tot amper nul gereduseer is! Slegs deur die verligting van die Heilige Gees kan ons sekerlik iets insien – nie begryp nie – van die almag van God.

Gevolgtrekking🔗

Ons moet ons beperkinge asook die doel en opdrag waarvoor ons hier op aarde is, deeglik besef. Dat God in sy almag die mens kom verlos het uit sy ellende en sonde, is ʼn wonder wat alle menslike verstand te bowe gaan. As gelowiges moet ons ons besig hou met die wetenskap vanuit sy spesifieke openbaring. Ons moet ons nie laat verlei deur mense wat hulle laat inperk deur sekere Godlose teorieë dat moeder aarde deur die proses van evolusie die skepper van alle dinge is nie. Vanuit ʼn reformatoriese, Bybelse lewens- en wêreldbeskouing het ons die taak om te ondersoek, te ontdek en toe te pas, om te bewerk, te bewaak en te bewaar (Genesis 2:15), en te benaam (Genesis 2:19). Die mens begin in ʼn natuurlike omgewing, ʼn volmaakte ekologiese sisteem, die tuin van Eden (die paradys), wat hy moet ontwikkel en (be)heers tot eer van God, sy Skepper (Genesis 1:28). Ons eindig in ʼn volmaakte stad, die nuwe Jerusalem, in totale harmonie, in ekologiese balans, waarin ons weer in volmaaktheid ons Skepper kan dien soos wat Hy dit van die begin af wou gehad het!

Hoe moet ons met die sogenaamde feite wat evolusie bewys, omgaan? Wat is die gevolge as evolusie aanvaar word? Wat kan ons aanvaar? Gaan dit werklik oor versoening tussen Bybel en wetenskap? Daar is bekende wetenskaplikes wat aanvanklik begin het met ʼn ‘onskuldige geloof’ in teïstiese evolusie, maar tog later na ongeloof neig en nou ʼn agnostiese lewens- en wêreldbeskouing het.

Is dit die uiteindelike gevolg van versoening tussen Bybel en wetenskap?

Versoening tussen Bybel en Wetenskap?🔗

Volgens John MacArthur in sy boek Battle for the Beginning. Creation, Evolution, and the Bible is dit eerder ʼn stryd tussen twee duidelik onverenigbare gelowe (2001:27). Die een is die geloof in God Drie-enig, soos in Sy Woord geopenbaar. Die ander is die geloof in moeder aarde waaruit alles ontstaan het en wat ʼn anti-teïstiese, anti-God hipotese is. Die aarde is dan die skepper met ook ʼn drie-eenheid, nl. materie (stof en aarde), tyd en toeval. Met genoeg tyd (miljarde jare) sal die materie lewende selle voortbring en dan, na miljoene mislukkings, sal daar uiteindelik een suksesvolle sel ontstaan wat weer op sy tyd na miljoene pogings iets beters voortbring. Hierdie geloof dat alles uit en deur die natuur ontstaan het, word naturalisme genoem. Volgens MacArthur het naturalisme die Christendom as die grootste godsdiens in die Westerse wêreld vervang (2001:11). Die geloofsbelydenis van ʼn naturalis sou dan so kon lui: "Ek glo in moeder aarde wat alles oor miljarde jare deur materie, tyd en toeval laat ontstaan het. Ek glo in die oorlewing van die sterkste om sodoende tot ʼn hoër vorm van lewe te ontwikkel. Ek glo in die lewe hier en nou en dat die dood altyd met ons sal wees soos in die begin na die oerknal." Hierdie siening of geloofsbelydenis het sy gevolge. God is met die natuur vervang. Daar is geen God aan wie die mens enige erkenning of verantwoording verskuldig is nie. Die mens is nie geskep nie en nog minder na enige goddelike beeld gemaak. Die mens is uit ‘toeval’ gebore. Om enigsins evolusie in die sin van makro-evolusie (oor die ontstaan van alles) te aanvaar of te probeer versoen met die geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in sy Woord, skep enorme probleme met die verstaan en aanvaarding van Sy Woord. Soos ons in vorige artikels gesien het, roep dit baie eksegetiese en teologiese vrae op. Om maar opsommend twee te noem:

  • Die skeppingsdae is nie tydperke nie, maar gewone dae van 24 uur. Sou mens dit anders wou interpreteer, dan kom ons in konflik met die res van die Skrif (Eksodus 20:11 “Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak… en op die sewende dag het Hy gerus.”) Dit vorm die basis van ons werksweek, dus dae van 24 uur. Die eksegetiese beginsel dat ons Skrif met Skrif moet vergelyk, word oorboord gegooi wanneer ons die skeppingsdae as lang tydperke sou interpreteer om evolusie oor miljarde jare te akkommodeer. Die belangrikste is egter dat die Woord deur God geïnspireer is en daarom nie gelykwaardig met die woord van mense is nie. Miep von Lindhelm-Westerink as bioloog kom tot die volgende konklusie in ʼn artikel Fossielen in het paradijs (in die tydskrif Nader bekeken): “Dit gaan oor die historisiteit van die paradys, die sondeval en sy gevolge.”

  • Indien die sondvloed nie ʼn wêreldwye vloed was nie (soos nogal dikwels beweer word), dan skep dit ʼn probleem met 2 Petrus 3:3-7 waarin duidelik na hierdie gebeure as ʼn wêreldwye vloed verwys. Genesis 7:21-23 vermeld dat alle mense omgekom het.

Indien evolusie aanvaar word – en ons het gesien dat dit implikasies het ten opsigte van die verstaan en uitleg van die Woord van God – moet sekere gedeeltes van die Bybel deur middel van die sleutel van die wetenskap anders verklaar word. Soos wat John MacArthur dit stel (2001:45): dit het sy direkte implikasies vir alle aspekte van ons geloof as die skepping enersyds as fiksie en andersyds as feit gesien word. Indien ons Genesis 1 dus as fiksie sien, is daar geen grond om die res van die Bybel as feitlike gebeure te glo nie. Wat moet ons glo as waarheid en waar trek ons die streep? Glo ons dan wel alles ná die skeppingsdae? Kan ons die sondeval (Genesis 3) glo? Dit lyk ook nie aanvaarbaar nie, omdat daar volgens die evolusieleer reeds mense dood was vóór Adam en Eva. Die sondvloed en die toring van Babel lyk histories gesien ook nie baie waarskynlik nie. Moet ons dan die streep net na Abraham trek? Die uittog uit Egipte, soos wat die nuutste navorsing toon, het eintlik ook nie plaasgevind nie (brief in Beeld van 27 September 2010). Trouens, die plae in Egipte is baie mooi legendes en dit het ten doel om ons iets te vertel – ons moet net uitvind wat! Om dus te probeer om ʼn sogenaamde streep te trek van waar af ons wel die Bybel kan aanvaar, beteken in wese om ʼn dik streep deur die hele Evangelie te trek. Waarom sou ons dan enige ‘wonders’ aanvaar: Petrus wat op die water geloop het, Lasarus wat deur Christus uit die dood opgewek is en dan laastens Christus se opstanding uit die dood? Die groot vraag is: Waarom sou ons nie Genesis 1 aanvaar nie, maar wél aanvaar dat op die dag van die Here alles nuut gemaak sal word (2 Petrus 3:10-12)? Gaan dit dan ook miljarde jare neem om alles weer te herstel? Trouens, gaan die Here ooit kom?:

Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom … wat sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die skepping af.2 Petrus 3:3, 4

Gevolge van die Geloof in Evolusie🔗

Die naturalisme, die geloof in die natuur, loop uit op baie ekstreme oortuigings. Die mens word gelykgestel met enige ander organisme of dier en het dus geen besondere plek nie. Die gedagte dat die mens na God se beeld geskep is, bestaan nie. Die Latyn vir die beeld van God is ‘Imago Dei’. Dit klink soos musiek! Dat dit met die sondeval verdwyn het, spreek vanself. Voor die sondeval was alles goed en selfs baie goed. Die mens het ʼn besondere plek met ʼn duidelike skeppingsopdrag gehad. Die Imago Dei was perfek. Die mens met ʼn skeppende aard, soos God, kon selfs beelddraer genoem word. Dit het na die sondeval verander en die beelddraer bestaan nie meer nie. Tog het daar iets oorgebly. Calvyn sê dat al wat oorgebly het van hierdie perfekte staat, nog maar gedeeltelik sigbaar is.

Na die val het weinig oorgebly, die Imago Dei is vernietig, besmet en vermink.Institusie I, hfst.15, par 4, p 180 – vertaling

Hoeveel het oorgebly? In Romeine 1:19 e.v. word gestel dat daar in die skepping genoeg oorgebly het om God se grootheid daarin te kan herken. Hy het dit in hulle en aan hulle geopenbaar! Vers 20: “Want Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in Sy werke verstaan en duidelik gesien word.” Artikel 2 NGB verwoord dit as volg: "Dit is immers voor ons oë (die skepping) soos ʼn mooi boek waarin alle skepsele, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik Sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien." Dit kom ook uit in menslike skeppings. Sou Rembrandt, die uiters begaafde skilder, meer oorgehou het van hierdie beeld as ander? Dit is ʼn onderwerp wat alles te doen het met die ‘Imago Dei’ waarop daar seker nie ʼn duidelike antwoord is nie.

Naturalisme: Geloof in die Natuur🔗

Die naturalisme, die geloof in die natuur, beskou die mens as slegs een van vele spesies. Die mens se oorheersende invloed op die natuur lei tot die vernietiging daarvan. John MacArthur skryf dat daar heelwat ‘diereregte’-organisasies soos PETA (People for the Ethical Treatment of Animals) bestaan wat van mening is dat die doodmaak van enige dier gelykstaande is aan moord. Selfs om diere aan te hou, soos gidshonde, is volgens hierdie organisasie verkeerd. Radikale omgewingsorganisasies propageer dat die uitsterwing van die mens sal beteken dat miljoene ander spesies sal oorleef. The Church of Euthanasia (kerk van selfmoord) propageer alles wat kan lei tot die uitsterwing van die mens, soos kannibalisme, aborsie en enigiets wat die mensdom kan verminder of vernietig. Dit is ʼn direkte gevolg van die geloof in ʼn skepping sonder God, sonder sondeval, en dus ook sonder verantwoordelikheid. Bogenoemde is natuurlik ʼn ekstreme voorbeeld van ʼn poging om die mensdom te vernietig, maar dit is wel seker dat die geloof in evolusie uitloop op ʼn lewens- en wêreldbeskouing waarin God Drie-enig nie bestaan nie.

Indien alle lewensvorme spontaan deur middel van tallose toevallige mutasies van ʼn eensellige organisme tot die hoogste vorm (die mens) ontstaan het, is die noodwendige gevolg dat hierdie proses nou nog steeds voortgaan. Die mens is dus nog nie in ʼn finale staat nie. Deur natuurlike seleksie en die ‘survival of the fittest’ is ons besig om te ontwikkel. Hierdie denke het onder andere tot gevolg dat die Christelike leer gesien word as ʼn verhindering vir die ontwikkeling van die menslike spesie. Herbert Spencer, ʼn sosioloog, het hom onder andere besig gehou het met die vraag wat verandering beïnvloed (Berger & Berger, 176: 330 – 332). Hy het die begrip ‘Social Darwinism’ ontwikkel. Daarmee het hy die begrip van evolusie en die oorlewing van die sterkste op gemeenskappe van toepassing gemaak, wat basies beteken dat sekere gemeenskappe uiteindelik moet verdwyn. Karl Marx het bewustelik Darwin se idees nagevolg en sy denke oor die ekonomie en gemeenskappe kan direk na die evolusie-dogma teruggevoer word. Friedrich Nietzsche, ʼn Duitse wysgeer, digter en uitgesproke antichristelik, het die gedagte van natuurlike seleksie sterk ondersteun. Nietzsche het die mense basies in twee klasse ingedeel: Die meesterklas van supermense wat die mensdom tot die volgende stadium in die evolusieproses sal bring. Die meerderheid is egter die laer klas van volgsame skape wat maklik gelei kan word. Hierdie denke het die basis vir die Nazi-beweging in Duitsland gelê. Ons weet wat was die gevolge daarvan!

Oor die algemeen is die wêreld- en mensbeskouing wat die konsep van Darwin as basis het, totaal vernietigend. Is dit nie ook ten diepste die probleem van rassisme nie? Een groep mense dink hulle is beter as ander. Hoe praat ons van ons landgenote om braaivleisvure? Word dit ook deur die idee van ʼn superras gevoed? As ons ryk is – dink aan die gelykenis van die ryk man in Lukas – is ons dan beter as ander wat dit minder goed het? Dit maak Efesiërs 6:10-20 uiters aktueel: Die worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose geeste in die lug. Ons moet die geeste in die lug kan uitken. Ons moet die evolusie as ʼn geloof, nl. die naturalisme, sien vir wat dit is: anti-Goddelik en vernietigend.

Gelowig en Wetenskaplik🔗

Bestaan daar nog Christenwetenskaplikes wat teen die moderne stroom in suiwer in die lig van die Skrif hul werk wil doen? Inderdaad is daar gelowige wetenskaplikes wat hulle besig hou met nuttige wetenskap tot eer van ons Skepper wat hemel en aarde ex nihilo (uit niks) geskep het. Die lys is te lank om op te noem. Enkele voorbeelde:

  • Dr Fred Mouton wat die boek Skepping en Evolusie geskryf het en aan ons goed bekend is. Sy vakgebied is o.a. die ontwikkeling van wiskundige modelle wat die gedrag van missiele beskryf en die ontwikkeling van beheerstelsels.

  • Prof John Byl, skrywer van die boek God and Cosmos. A Christian view of time, space and the universe. Hy het ʼn doktorsgraad in astronomie.

Die naturalis glo dat uit niks en deur niks alles tot stand gekom het. Daar was niks en toe ontplof dit ook nog! Ons as Christene glo God ons Vader het uit niks alles daargestel, met die mens as kroon op die skepping. Dit sal eendag, op die jongste dag, weer ten volle herstel word sodat die mens weer beelddraer van God kan wees. Dan sal ons weer ten volle Imago Dei kan wees!