3 bladsye.

Waar is God?

Vier antwoorde🔗

Die vraag🔗

Die vraag word duisend keer gestel, geroep, geskreeu, gemompel, gefluister… Dit gebeur in situasies waar mens alleen is, angstig is, die dood in die gesig staar, die berig kry dat alle verwagtings wat jy gehad het, misluk het of as 'n mens skielik bewus word van die ellende van die wêreld of die verdriet van hulpelose mense wat jou aanstaar via die TV of die koerant. En dan moet daar iemand wees, wat die vraag hoor en dit nog beantwoord. 'n Mens naby jou, 'n vriend, 'n vriendin, jou vrou, jou man. Sê tog vir my: waar is God? Die eerste die beste preek van Sondag moet die antwoord gee. Daarvoor is daar tog 'n preek. Die eerste die beste teks in die Bybel wat opgesoek word, moet die pad aandui: daarvoor is die Bybel tog daar. Waar is God? Wat doen Hy? Wat sien Hy? Wat kan Hy doen? Wat wil Hy? Waarvoor is Hy goed?

God se teenwoordigheid🔗

Dit lyk soms net asof hierdie vrae maar net gestel word in oomblikke waarop dit ons goed sou pas om 'n antwoord daarop te kry. Oomblikke van angs; eensaam­heid, siekte, rampe, teenslae, onseker­heid, onveiligheid. As alles mooi is en dit goed gaan: as die eksamen geslaag is, as die vakansie beplan word, as daar aansoeke vir werk gedoen word, as daar 'n werk is, as die ete elke dag op die tafel staan en die son skyn, dan is God daar. Uiteraard. Dan hoef jy Hom nie meer te soek nie. Tel jou seëninge. Wie vra dan nog die vraag: Waar is God? Dit is die atmosfeer van die verburgerliking: God is altyd goed en as dit goed gaan, is God altyd daar. En as dit nie meer goed gaan nie, is God weg. Dan kom die vraag: Waar is Hy, waar is Hy nou?

God is selfgenoegsaam🔗

Ek gee vier moontlike antwoorde wat miskien baie mense sal onthuts. Ek hou dit kort en kragtig. Om die argument te staaf. Die eerste antwoord is: God is self­genoegsaam. Dit klink ietwat filosofies. Daar sal nou reeds hier en daar 'n leser weggaan. Tog laat ek hierdie antwoord so staan. Ek bedoel daarmee, dat God nie oral te vinde is soos 'n soort vloei­ende aanwesigheid wat alle leë plekke opvul nie. Aan so 'n instansie het jy niks.

As God waarlik die God is wat ons nodig het, dan gaan dit om 'n persoon: 'n le­wende, denkende en regerende wese. 'n Egte God, 'n Vader, 'n Vors, 'n Regeerder. 'n God met oë, met hande, met 'n hart en met 'n verstand. Iemand met 'n eie selfstandigheid wat iets het om aan te bied.

Dan het Hy eie gevoelens, eie waardes en norme, 'n eie bestaan, buite ons. Hy is nie 'n verlengstuk van ons gedagtes, gemis of gevoelens nie. Hy staan vir iets. Hy wil iets. Hy is Iemand met 'n plan, met 'n doel, met moontlikhede, met 'n wil.

Ons het dit almal ook. En die eerste vraag in die omgang met ander is: wie is hy of sy, wat wil hy, wat kan hy doen, wat is die moontlikhede. Dit is 'n vorm van respek om daarmee rekening te hou. Daarmee begin alle onderlinge omgang, daarsonder gaan mense nie met mekaar om nie. Daar begin die omgang met God ook, anders gaan jy met 'n instansie om of dit is nie egte omgang nie. Dit begin met respek: rekening hou met Homself in eie Persoon, sy doel, sy plan, sy moontlikhede. Die respek behoort die vraag vooraf te gaan, anders vind jy Hom nooit.

Hy is in sy Woord🔗

My tweede antwoord is: Hy is in sy Woord. As jy die woord "Woord" met 'n hoofletter skryf, weet almal van ons wat daarmee bedoel word. Dit het eenvoudig 'n sinoniem van "Bybel'' geword, die boek wat jy in die boekwinkel in baie vorms, kleure, mate, vertalings en pryse kan koop. En daarmee is die woord "Woord" van sy eerste betekenis ontdaan: dit het sinoniem geword aan "boek".

Maar ek bedoel nou presies die eerste betekenis van die woordjie "Woord". Met 'n woord word iets gesê, word gekommu­nikeer. Jy ken niemand as daar nie "woor­de" by is nie. Dit geld selfs vir afasiepasi­ënte en dowes. Juis daardeur is die kommunikasie so moeilik, omdat daar geen woorde gevorm kan word nie. Jy het dan plaasvervangers nodig as draers van gedagtes, oordraers van kennis.

Sonder "woorde" is daar geen omgang moontlik nie. Sonder gedagtes geen kom­munikasie nie. God het gespreek. En Hy het dit wat Hy wou sê op 'n bepaalde ma­nier in 'n boek vorm gegee. Daar vind ons Hom. Daar vind ons sy eie gedagtes oor homself, soveel as wat Hy aan ons bekend wil maak. Wie roep: waar is God?, moet dáár begin. Met sy Woord.

En daarmee bedoel ek nie maar alleen dat die Bybel gelees moet word nie, nee, maar dat daar gesoek moet word in die Bybel na die boodskap van God oor homself: doelgerigte belangstelling vir wat Hy oor homself wou kwytraak: oor sy per­soon, sy gedagtes, wie Hy is en wat Hy wil en wat sy moontlikhede is. Word die Bybel, sy Woord, só gebruik? Gerig? Om waarlik te luister: spreek Here, want U kneg luister? Is daar respek vir wat Hy daarin aan ons deurgee oor Homself?

Hy is in sy Seun🔗

Waar is God? Die derde antwoord is: in sy Seun. Gereformeerde lesers sal dit byna as 'n afgesaagde antwoord beskou. Ons het dit al so dikwels gehoor. Maar tog… Dit beteken dat God daar gesoek moet word: in die historiese Jesus met die beskrewe feite van sy optrede. Dit maak die antwoord op die vraag baie konkreet. Soms eenvoudig té konkreet vir dese en gene.

Dit word soms vra na die bekende weg. Want dit beteken dat Hy nie maar op alle vrae antwoord gee en nie maar in alle situasies die leemtes aanvul nie. Maar dat Hy in besonder opgetree het vir alle men­se: met 'n baie spesifieke hulpaksie wat nie beteken dat Hy alle situasies oplos en alle rampe wegneem en alle siektes genees en op elke aanroep aanwesig is waar 'n mens op sy eie manier meen dat Hy nodig is nie.

Dit beteken dat Hy daar en toe aanwesig was en baie duidelik laat sien het, wie Hy is en wat Hy doen. Dit kan geen mens ooit meer ontken nie. Dit is 'n kwessie van respek en van ware omgang met die God wat jy soek. In Jesus kan jy Hom vind. In die redding wat hierdie Jesus gee. Nie in allerhande soorte uitredding nie. En in Jesus word dit ook duidelik wat die plan is. En wat sy moontlikhede is. Hy red en Hy red dit.

Hy is in sy Kerk🔗

Die laaste antwoord wat ek op vraag waar God is, wil gee, is: in sy Kerk. Daarmee word bedoel: in die aktiwiteit wat Hy kennelik ontplooi om mense op te help en in hierdie wêreld te help, die handeling wat die drie vorige antwoorde gevind het en naspreek. En wat daarom help om die antwoorde vas te hou.

Deur die persoonlike omgang met God, wat uitgaan van respek vir sy Persoon, deur die gebruik van sy boodskap op 'n duidelike gerigte manier; en deur aan die waarheid van die identiteit van Jesus Christus vas te hou. Daarvoor het jy van­dag hulp nodig. Dus moet jy doelgerig daarna toe. Baie konkreet: waar is God? Dáár in elk geval.

Dit vra baie doelgerigte stappe, Ook eintlik niks nuuts nie: die mens het altyd al die hulp nodig gehad. Want die vraag: "Waar is God?" bly klink. En die antwoorde moet herhaal word.

En ons moet God nie in die mooi dinge as dit goed gaan, wegbêre nie. Ons sal Hom moet ken, respek hê vir wie Hy self is, vir wat Hy sê en wat Hy ons laat sien het.

Elke dag die vraag🔗

Respek vir God, daar begin alle vroomheid. Daar begin die veiligheid en die vrede wat ons soek. Doelgerigte Bybel lees, daagliks, in die goeie dae, in die gemeenskap met ander. Elke dag na God vra en nie wag tot die moeilike dae om net dan weer te kan roep, skreeu, mom­pel, fluister of huil nie.