Bron: De Reformatie. 2 bladsye.

Waar God Sy Naam Laat Gedenk I

Dit is onder ons ’n goeie en Bybelse gedagte dat ons hele lewe eintlik liturgie is. Die vraag is egter: Wat is eie aan dit wat ons ’n kerkdiens noem? Wat onderskei ’n kerkdiens van ’n gemeente- of wyksvergadering waar ’n Skrifgedeelte behandel word?

Naam Aanroep🔗

Die wesenlike van ’n Nuwe-Testamentiese erediens is die samekoms (sien o.a. 1 Korintiërs 5:4, 11:18,20, 14:23). So ’n samekoms vind plaas in die Naam van Jesus Christus (Matteus 18:20). Die kerk vergader op vasgestelde tye. Dit gebeur in die eerste plek altyd op ‘n Sondag, die dag van Christus se opstanding. Verder is dit ook afspraak om op Christelike feesdae kerkdienste te hou. Dit sou ook moontlik wees dat ons – soos in die 16de eeu – ook op Woensdagaande kerkdienste sou kon hou. Hoe dan ook: die eredienste word op gereelde, vasgestelde tye gehou. So wil ons ‘bly volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede’ (Handelinge 2:42).

Die gemeente kom dus bymekaar in die Naam van Jesus Christus (of in Naam van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees). Hiermee word nie slegs bedoel dat ons bymekaar kom volgens die opdrag van Jesus Christus nie, maar ook dat ons byeen kom om sy Naam aan te roep. Die hele byeenkoms word deur die gebed gedra. Wil ons seker wees dat God ons naby is in die hele erediens, dan moet ons sy Naam in waarheid aanroep (Psalm 145:18). En sy Naam wys op sy werk en sy optrede in hierdie wêreld. In die Naam van die HERE lê opgesluit dat Hy aktief sal wees as Verlosser van sy volk.

Teenwoordig🔗

Dit is noodsaaklik vir die liturgie dat ons God se dade moet ‘gedenk’. Ons gedenk sy skeppings- en herskeppingswerk. Die woord ‘gedenk’ is ’n besonderse ryk Bybelse term met baie aspekte wat dikwels onlosmaaklik aan mekaar verbind is.

As vertrekpunt neem ons Eksodus 20:24: ‘Op elke plek waar Ek my Naam sal laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën’. Uit hierdie teks kom duidelik na vore dat waar God sy Naam laat gedenk, Hy self teenwoordig sal wees. Met ander woorde: in die erediens het ons nie te make met een van God se hoë amptenare wat Hy afgevaardig het nie. God is self met sy Woord en Gees teenwoordig. Deur te ‘gedenk’, (juis dit wat God se teenwoordigheid mpliseer), word die kerkdiens iets anders as ’n godsdienstige samekoms van gelyk-denkendes wat oor God wil praat. Elke kerkdiens is ’n werklike verbonds-ontmoeting tussen God en sy volk.

Uit hierdie en talle ander tekste blyk dit dat God se aanwesigheid afhang van sy wil en van sy besondere genade. Dit is dus nie waar dat indien die mens God se Naam gedenk, God outomaties moet kom om ons te seën nie. Ons kan God nie vang en dwing in ’n vorm wat ons pas nie. Slegs waar God sy Naam laat gedenk, kom Hy om te seën.

Deur die teenwoordigheid van God verskil ‘gedenk’ van ‘herdenk’, in herinnering bring. Herdenking en herinnering is terme wat van toepassing is op mense en sake wat verby is, nie meer aanwesig is nie. Waneer God sy woorde en dade laat ‘gedenk’ in Skriflesing, gebede, liedere en sakramente, dan is God deur sy Woord en Gees teenwoordig in die gemeente. ‘Gedenk’ beteken dat God se dade in herinnering geroep word, in die teenwoordige gestel word, en op die toekoms gerig word. ‘Gedenk’ wil sê: wat in die geskiedenis deur God tot stand gebring is, word aktueel gemaak as dade van Jahwe, wat gister en vandag dieselfde was en is vir sy volk (sien o.a. Psalm 102:28, Jesaja 41:4, Jesaja 43:10).

Die ‘gedenk’ van God se dade in die verlede beteken vir ons in die hede die verwagting en geloof dat God ook nou handelend sal optree.

Aksie🔗

’n Belangrike aspek van die ‘gedenk’ is dan ook dat ‘aksie’ geïmpliseer word. Gedenk is onlosmaaklik verbind aan ‘handel’ of ‘doen’. Wanneer God gedenk, handel Hy ook (vgl o.a. Genesis 19:29, Eksodus 2:24, 2 Kronieke 6:42, Psalm 74:22, 106:4, 5 Esegiël 16:60). Ook die gesagvoerder van die skip waarmee Jona na Tarsis wou vlug, het dit geweet. Toe die skip in ’n hewige storm wou vergaan, toe kom die skeepskaptein na hom toe en sê vir hom: Staan op, roep tot jou God! Miskien sal die God aan ons dink, sodat ons nie vergaan nie (Jona 1:6). Hanna, die vrou van Elkana het ook ondervind dat God werklik na haar omgesien het en haar gedenk het. ‘Sy het swanger geword en ’n seun gebaar......, en hom Samuel genoem; want sy het gesê: ek het hom van die Here gebid’ (1 Samuel 1:20).

Die voorbeeld in Deuteronomium 5 is besonder treffend - die lyn kan sonder moeite na ons eredienste deurgetrek word. In hierdie hoofstuk roep Moses ons op om die insettinge en verordeninge van Jahwe te leer en te onderhou. Ook die Tien Gebooie wat elke Sondag in ons kerkdienste (behoort!) gelees (te) word.

In verse 2 en 3 sê Moses vir die geslag Israeliete wat die gebeurtenisse by Horeb nie beleef het nie: ‘Die Here onse God het by Horeb met ons ’n verbond gesluit. Met ons vaders het die Here hierdie verbond nie gesluit nie, maar met ons self, ons wat hier vandag almal in die lewe is’.

Natuurlik het God die verbond ook met die vaders gesluit, maar gelykertyd ook met al hul nakomelinge. Hier vind dus aktualisering van God se dade uit die verlede plaas.

Net so: Christus het twintig eeue gelede aan die kruis gesterf, uit die dood opgestaan en na die hemel toe opgevaar. Hierdie gebeurtenisse het beide aktuele en toekomstige (eskatologiese) betekenis. Wat in die verlede plaasgevind het, het gebeur tot die heil van God se volk op aarde, in die eeue wat verby is, en die wat nog sal kom.

Waneer ons al God se woorde en dade uit die verlede in herinnering roep, veronderstel dit dat ons in die hede en die toekoms ook daarvolgens sal handel, sal leef. Dat ons in elk geval opregte bedoelings het en God se hulp daarby sal inroep. .