Bron: Kerk en Woord, 2005. 8 bladsye.

Waarom Kremasie Onbybels is

Ou Testamentiese Gegewens🔗

In Israel was lykverbranding bekend, maar die dooies is begrawe. Dit kom in talryke Skrifplekke duidelik na vore. Abraham, Isak en Jakob, die vroue van die aartsvaders, Josef ens. word almal begrawe.

Die begrafnis van geliefdes vind in die Ou Testament plaas as 'n bewys van besondere piëteit. Ons dink hier byvoor­beeld aan die besondere sorg wat Abraham aan die begrafnis van sy vrou Sara bestee het. Hy was selfs bereid om vir die spelonk waarin sy begrawe is 'n buitensporige hoë prys te betaal.

Aan familiegrafte is in Israel veel waarde geheg. Bekend is hier die geval van Abra­ham wat in sy eie spelonk by Sara begrawe wou word. Maar ons dink hier ook aan Jakob en sy woorde in Genesis 49:29-31, waarin hy die wens te kenne gee dat hy op dieselfde plek as sy stamvaders en stam­moeders begrawe wil word. In dieselfde lyn lê die geval van Josef wat ten spyte van sy hoë posisie aan die Egiptiese hof tog in die land van sy vaders begrawe wou word.

Hoewel die begrafnis in die Ou Tes­tament dus 'n baie vooraanstaande plek inneem, word daar tog ook van verbran­ding gepraat. Ons noem 'n paar voor­beelde.

  • Levitikus 20:14 "En as 'n man 'n vrou en haar moeder neem, is dit 'n skandelike daad; hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloed­skande onder julle wees nie".

  • Levitikus 21:9 "En as die dogter van 'n pries­ter haar ontheilig om te hoereer, ont­heilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word".

  • Josua 7:25 "En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi".

Hierdie drie tekste spreek vir hulleself. In al drie gevalle is verbranding 'n ernstige verswaring van die doodstraf. Die meeste uitleggers stem wel ooreen dat hierdie mense nie deur vuur om die lewe gebring is nie. Hulle is (waarskynlik) gestenig. Daarna is hulle lyke verbrand.

  • 1 Samuel 31:12 "…en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand".

    Vir hierdie handelwyse het waarskyn­lik 'n goeie rede bestaan, naamlik om te voorkom dat die lyke nog verder deur die Filistyne vermink sou word.

  • Amos 6:10 "En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil ver­brand, hom optel om die bene uit die huis te verwyder…"

    Hier is sprake van lykverbranding wat ook met 'n besondere doel plaasvind. Ons het in hierdie hoofstuk te doen met oor­deelsprediking oor die Tienstammeryk. Daar word gespreek oor 'n stad wat beleër word. Die stad is waarskynlik Samaria. Die aantal lyke sal oorstelpend groot wees. Dit is goed moontlik dat in die omstandig­hede die begraafplaas – wat in die nabye Ooste altyd buite die stad geleë was – nie bereik kon word nie. Hieruit mag ons aflei dat lykverbranding in dié omstandighede 'n noodsaak geword het om die uitbreek van aansteeklike siektes te voorkom. Sowel in 1 Samuel 31: 12 as Amos 6: 10 het ons dus met uitsonderlike gevalle te doen.

Daar is in die Skrif ook enkele gevalle waarin nog van begrawe nog van verbran­ding sprake is. Ons noem weer 'n paar voorbeelde:

  • 1 Samuel 17:44 "Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee".

  • 1 Samuel 17:46 "Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel 'n God het".

    Hierdie verse wat 'n deel van die stryd tussen Dawid en Goliat behandel, vertel vir ons dat daar in die geval van die dood van een van die twee nóg 'n begrafnis nóg 'n lykverbranding sal plaasvind. Die lyk van die verloorder sal net so in die veld gelaat word as 'n prooi vir aasvoëls en wilde diere.

  • 2 Konings 9:10. "En die honde sal Isebel eet op die dorpsgebied van Jisreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie".

    Hierdie teks spreek vir homself.

  • Psalm 79: 1-3 "'n Psalm van Asaf. O God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusa­lem tot puinhope gemaak. Hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land. Hulle het hulle bloed rondom. Jerusalem soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe".

    Ook hierdie teksverse spreek vir hul­leself.

Uit hierdie gegewens – wat maklik ver­meerder kan word – is dit duidelik dat begrawe in die Ou Testament steeds plaasgevind het as 'n daad van piëteitvolle liefde, terwyl verbranding en nie-begrawe­-nie steeds 'n besondere strafoefening van God was.

Die allersterkste argument uit die Ou Testament het ons egter nog nie genoem nie. En dit is die feit wat aan ons in Deuteronomium 34:5 en 6 meegedeel word, naamlik dat die lyk van Moses deur die HERE Self begrawe is. Dit is myns insiens seker die duidelikste bewys uit die Ou Testament dat God die begrafnis verkies bo die lyk­verbranding. Verbranding was bekend – sterker nog: in sekere gevalle was dit self 'n gebod van God – maar in normale gevalle is begrafnis toegepas. God Self bekragtig dit deur die begrafnis van Moses.

Die vraag kan ontstaan of die uitsprake van die Ou Testament as normatiewe uitsprake gesien moet word, met ander woorde of die Ou-Testamentiese begrafnis kan of moet geld as 'n norm vir ons manier van doen vandag.

Hier wil ons weer wys op die begraf­nis van Moses omdat die Here Self hom begrawe het. In Deuteronomium 34:6 lees ons:

En Hy het hom (Moses) in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.

Om deur die Here begrawe te word, is reeds 'n unieke gebeurtenis. Maar verder is dit baie merkwaardig dat Judas eeue later na "die liggaam van Moses" verwys. In Judas vers 9 lees ons dat die aartsengel Migael met die duiwel in 'n woordestryd was oor die liggaam van Moses. Migael het egter geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het vir die duiwel gesê: "Die Here bestraf jou!" Hierdie teks is seker nie een van die maklikste tekste in die Skrif nie, maar gereformeerde uitleg­gers stem oor die algemeen wel saam dat die mededeling van Judas betrekking het op 'n twisgesprek tussen Migael en die duiwel waarby die twispunt die liggaam van Moses was.

Baie vrae wat met betrekking tot hierdie moeilike teks gestel kan word, moet onbe­antwoord bly omdat die Skrif vir ons geen antwoorde verskaf nie. Een ding is egter baie seker, naamlik dat daar geen twisge­sprek sou kon ontstaan het as Moses se lyk verbrand sou gewees het nie. God het in die geval van Moses egter geen kremasie toegepas nie, maar Self begrawe Hy Moses se liggaam.

Op grond van dit alles kan ons slotsom myns insiens slegs wees dat die begrafnis die wens van die Here is. Die begrafnis in die Ou Testament is dus veel meer as 'n aanpas­sing aan 'n kultuurpatroon wat toevallig in Israel bestaan het. So 'n aanpassing kon moontlik gewees het. Die Here het Hom meer as een keer by bestaande omstandig­hede, gewoontes en gebruike aangepas.

'n Goeie voorbeeld hiervan is die taal waarin Hy Homself openbaar. Hy bedien Hom van 'n taal wat deur ons verstaan kan word. Maar van 'n aanpassing aan 'n kul­tuurpatroon waarvan die begrafnis 'n deel was, kan geen sprake wees nie omdat in die tydperk van Israel se Ou-Testamentiese bestaan die lykverbranding by die volke van die wêreld en in Israel self bekend was en in sommige gevalle ook toegepas is. As God ten gunste van die begrafnis kies, is dit 'n welbewuste keuse, juis omdat die begrafnis nie die enigste bestaande manier was om van 'n dooie liggaam ontslae te raak nie.

Indien dus die vraag gestel word of die uitsprake van die Ou Testament as nor­matiewe uitsprake gesien moet word, moet die antwoord myns insiens 'n duidelike "ja" wees, omdat God Self deur sy han­delswyse die norm gestel het vir die manier van doen van sy volk onder die Ou en onder die Nuwe Verbond.

Nieu-Testamentiese Gegewens🔗

Ook hier wil ons weer begin met 'n paar teksverwysings waaruit duidelik blyk dat daar in die Nuwe Testament steeds van begrawe sprake is en nie van lykverbran­ding nie.

  • Matthéüs 23:27 "Wee julle, Skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is".

  • Matthéüs 26:12 "Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis".

  • Markus 6:29 "En toe sy dissipels dit hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en dit in 'n graf neergelê".

  • Lukas 16: 23 "En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe".

  • Johannes 5:28 "Moenie julle hieroor verwonder nie, Want daar kom 'n uur wan­neer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor…"

  • Johannes 11:17 "Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy (Lasarus) al vier dae in die graf was".

  • Handelinge 5:6 "Daarna het die jongmanne opgestaan en hom (Ananias) toegedraai en uitgedra en begrawe".

  • Handelinge 5:10 "Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar (Saffira) dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe".

  • Handelinge 8:2 "En godvresende manne het Stefanus begrawe en 'n groot rou oor hom bedrywe".

Uit die bostaande voorbeelde – wat gemak­lik met ander vermeerder kan word – blyk dit duidelik dat ook in die Nuwe Testa­ment die begrafnis gewoonte was. Hier­mee is die Nuwe Testament heeltemal in lyn met die Ou Testament. Die gevalle van verbranding en van nie-begrawe-nie wat soms in die Ou Testament nog gekry het, is in die Nuwe Testament afwesig.

Daar is egter een uitsondering. Hierdie uitsondering gaan oor 'n geval van nie-­begrawe-nie. Ons tref dit aan in Matthéüs 8:18-22. Dit gaan daar oor 'n man wat Jesus wil volg maar wat toestemming vra om eers sy vader te gaan begrawe. Die antwoord van Jesus op hierdie versoek is egter:

Volg My, en laat die dooies hul eie dooies begrawe.

Die versoek van die man is heeltemal bil­lik, want dit was sy heilige plig om sy vader te begrawe. Tog wys Jesus hierdie versoek af omdat die laere plig moet wyk vir die hoëre. Om die Woord te verkondig is 'n beter werk as om die dooies te begrawe. Die dooies word aan die "dooies" oorgelaat, dit wil sê aan hulle wat geen enkele belangstelling het vir die Koninkryk van God nie; hulle dus by wie dit aan elke vorm van egte geestelike lewe ontbreek.

Ons sien dus dat die Nuwe Testament baie aandag aan begrawe bestee. Van ver­branding is nie een enkele keer sprake nie. Dit is wel so dat die Nuwe Testament die oond ken. Die woord word egter gebruik in 'n baie besondere betekenis wat nie in die gedagtegang van die moderne lykverbrandingspraktyke tuishoort nie. Ons gee weer 'n paar voorbeelde:

  • Matthéüs 6:30 ''As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en more in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges!"

    Hierdie teks is 'n deel van die onderwys van Jesus aan sy dissipels.

  • Matthéüs 13:42 "…en sal hulle in die vuur­oond gooi".

Dieselfde woorde tref ons ook aan in Matthéüs 13:50. Met hierdie vuuroond waar "daar geween sal wees en gekners van die tande" word egter nie die plek bedoel waar die verteringsproses van die menslike lig­gaam tot 'n kort tydjie ingekort word nie. Hier word bedoel die plek waar God sy gerig oefen oor die ongelowiges.

Soos in die geval van ons kort oorsig uit die Ou Testament het ons ook by ons ondersoek van die Nuwe Testament ons sterkste argument teen lykverbranding vir laaste bewaar. En dit is die feit wat deur al vier Evangeliste baie nadruklik vermeld word, naamlik dat Jesus Christus begrawe is. Ook deur hierdie feit word weer duide­lik aangetoon dat God die begrafnis ver­kies bo die lykverbranding.

Net soos in die geval van die Ou-Testa­mentiese gegewens wil ons ook hier vir 'n paar oomblikke stilstaan by die vraag na die normatiewe; die vraag dus of die begrafnisgebruik in die Nuwe Testament vandag moet dien as norm vir ons manier van doen in hierdie verband.

Soos ons hierbo reeds gesien het, neem "die graf" 'n baie belangrike plek in in die onderwys van Jesus. Met betrekking tot die normatiewe van hierdie onderwys in woord en daad wil ons nou veral aandag gee aan twee sake, naamlik die opstanding van Lasarus en die opstanding van Jesus.

Die dood, begrafnis en opstanding van Lasarus tref ons aan in Johannes 11:1-44. In Johannes 11:44 lees ons:

En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met graf­doeke gebind, en sy gerig was toegedraai met 'n doek…

En dat die opstanding van Lasarus groot gevolge gehad het, lees ons in Johannes 12:17:

En die skare wat by Hom was toe Hy Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dode opgewek het, het daarvan getuig.

By hierdie groot wonder is dit besonder opvallend dat die opstanding van Lasarus soos Johannes dit beskrywe nooit sou kon plaasgevind het as die lyk van Lasarus ver­brand sou gewees het nie. Want Lasarus het uit die graf uitgekom presies soos wat hy daar vier dae tevore ingegaan het. Daar was geen verskil nie. Selfs die grafdoeke was ongeskonde.

Dit alles geld in 'n veel groter mate ook van die begrafnis en opstanding van Jesus Christus. Niemand sal ontken dat Jesus se opstanding tog moontlik sou gewees het as hulle sy liggaam direk na sy dood sou verbrand het nie, want by God is alle dinge moontlik. Maar in die geval van verbran­ding sou sy opstanding nie plaasgevind het soos wat dit op Paasmôre gebeur het nie.

Ons sou nie gehad het nie wat ons nou onder andere op verskillende plekke in die Evangelie van Johannes wel het, naamlik die doeke en die hoofdoek van Jesus opge­rol op een plek afsonderlik (Johannes 20:6 en 7), die littekens aan Jesus se hande en sy sy (Johannes 20:20) en die ooreenstemming tussen die begrawe liggaam van Jesus en sy opstandingsliggaam (Johannes 20:25-29). Uit Johannes 20:20 en 25-29 blyk dus duidelik die ongeskonde identiteit van Jesus voor en na sy opstanding. Daar kan geen twyfel wees nie. Die Jesus wat opgestaan het, is presies dieselfde Jesus as wat 'n paar dae vroeër begrawe is.

In verband met die vraag na die norma­tiewe van die Nuwe-Testamentiese gege­wens blyk eers dat die Nuwe Testament 'n stap verder gaan as die Ou Testament. In laasgenoemde is slegs sprake van begrawe. In eersgenoemde is sprake van begrawe en opstanding. Maar – en dit moet ons goed raaksien – dit is nie lykverbranding en opstanding wat aanmekaar gekoppel word nie, maar begrafnis en opstanding.

Vir die behoud van sy Goddelike iden­titeit voor en na sy opstanding laat Jesus Hom nie verbrand nie, maar begrawe. Die behoud van die identiteit wat by die opstanding van Lasarus reeds so duidelik geblyk het, word by Jesus tot sy hoog­tepunt gevoer. Want Lasarus moes na kortere of langere tyd weer sterwe. Maar Jesus nie. Hy het opgestaan uit die graf en leef tot in alle ewigheid (Vgl. Hebreërs 13:8). Teen die agtergrond van hierdie gegewens is dit myns insiens baie duidelik dat die Nuwe-Testamentiese norm die begrafnis is en nie die lykverbranding nie.

Wanneer ons nou vir 'n paar oomblikke kyk na die briewe van Paulus, dan sien ons dat hy nie uitdruklik teen die kremasie­praktyke gewaarsku het nie. Tog was hier­die praktyke in die heidense wêreld waarin hy gewerk het, normaal. Voorstanders van kremasie het reeds aangevoer dat die feit dat Paulus nie uitdruklik teen lykverbran­ding waarsku nie, sou beteken dat hy dit as middelmatige saak beskou het. Dit is egter 'n verkeerde siening. Daar is veel meer heidense gebruike waarteen Paulus nie gewaarsku het nie. Waar hy wel teen gewaarsku het, is dié heidense gebruike wat 'n bedreiging vir die jong gemeen­tes gevorm het, soos die eet van vleis wat aan afgode gewy was. Dit was vir Paulus egter nie nodig om teen lykverbranding te waarsku nie, omdat laasgenoemde gebruik nooit ingang by die jong kerke gevind het nie.

In die verband van dit alles moet ons nou 1 Korinthiërs 15 nader bestudeer. Dit is die hoofstuk waarin Paulus uitvoerig oor die opstanding van Christus en in samehang daarmee oor die opstanding van die gelo­wiges handel. Veral verse 35 tot 49 is hier van belang. Maar die groot krag wat lei tot die waarheid van hierdie verse gaan daaraan vooraf. Dié krag vind ons in vers 20:

Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die Eersteling geword van die wat ontslaap het.

Met hierdie woorde en met wat daar ver­der volg, toon Paulus aan dat Christus die waarborg is van die salige opstanding van die gelowiges; 'n heilsfeit wat deur die Kerke van Gereformeerde Belydenis ook beklemtoon word in Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus.

Nadat Paulus die "dat" van die opstan­ding vasgestel het, behandel hy die "hoe" daarvan. Hier gebruik die apostel die voorbeeld van die koringkorrel. Die kor­rel sterf in die grond sodat dit nuwe lewe kan gee aan die plant wat daaruit ontkiem. Die een kom uit die ander een voort. So is dit ook met die dooies. Die graf is vir die gelowige nie slegs die plek waar die verte­ring van die liggaam plaasvind nie, maar die plek waar die liggaam gesaai word in oneer, om op God se tyd – as die basuine van die jongste dag weerklink – in heerlik­heid opgewek te word.

Paulus gaan met sy beeld van die koring­korrel duidelik uit van die begrafnis en nie van die lykverbranding nie. Soos die koringkorrel in die aarde gelê word, so word ook die liggaam van 'n oorledene in die aarde gelê. En soos wat die koringkor­rel in die aarde vergaan, so vergaan ook die liggaam van 'n oorledene. Maar dan ook: soos wat daar uit die koringkorrel wat vergaan het 'n nuwe koringaar voortkom omdat die sterwende korrel die kiem van die lewe in hom dra, so kom daar uit die dooie liggaam wat vergaan 'n nuwe lig­gaam voort, omdat die gestorwe liggaam die kiem van die nuwe lewe in hom dra.

Hoé dit deur God op die jongste dag gedoen gaan word, weet ons nie. Maar dat Hy dit gaan doen vir elkeen wat deur die geloof in die lyde en sterwe en opstanding van sy Seun aan Hom gebind is, is seker.

In die lig van dit alles is 'n begraafplaas dus eintlik 'n groot saailand, waarin die liggame besig is om te vergaan maar nie om nooit weer op te staan nie. Uit Paulus se uiteensetting omtrent die opstanding van die dode is egter een ding heeltemal duidelik. Sonder die begrafnis bly die hele hoofstuk 1 Korinthiërs 15 onbegryplik. Vanuit die standpunt van die voorstanders van lykverbranding kan die diepe simboliek van hierdie hoofstuk nie verstaan word soos dit verstaan moet word nie.

Vanselfsprekend kan ook hier weer ver­skillende opmerkings gemaak word. Dit is baie duidelik dat dit in I Korinthiërs 15 in die eerste plek gaan om die dode, die ontsla­penes en nie in die eerste plek om die graf of die begrafnis nie. Dit is ook nie so dat die graf waaruit Jesus opgestaan het die grond is van ons hoop op 'n salige opstan­ding nie. Die opgestane Jesus is die grond van ons hoop. Maar… Jesus staan op uit die graf. En dit is baie betekenisvol. Dit is die groot feit wat die agtergrond vorm van Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 15. Alleen teen die agtergrond kan die diepe simboliek van hierdie hoofstuk verstaan word.

Voorts kan die vraag ontstaan of die Skrif in verband met die begrafnis 'n gebruik beskryf of voorskryf. Met ander woorde gee die Ou en Nuwe Testament maar net 'n beskrywing van 'n gebruik of is dit die bedoeling dat hierdie gebruik nagevolg moet word omdat begrafnis 'n voorskrif is.

Die opmerking is reeds gemaak dat dit wat die begrafnis betref in die Skrif slegs gaan om die mededeling van 'n kultuur­gewoonte. Die herhaaldelike vermelding van die begrafnis in die Skrif sou dan slegs die beskrywing wees van 'n gebruik en die beskrywing sou geen voorskrif inhou vir ons vandag nie. Myns insiens is hierdie siening verkeerd omdat dit nie voldoende rekening hou met die besondere karakter van die Skrif nie.

Die Skrif is in die eerste plek OPENBA­RING VAN GOD en nie sommer een of ander boek wat vryblywend aangeneem of verwerp kan word nie. Maar dit bete­ken dan ook dat die herhaaldelike beskry­wing van en nadruk op die begrafnis in die Skrif nie maar toevallig aan ons gegee is nie. God wil daarmee iets aan óns sê. Moses word nie deur God Self begrawe met daaragter die gedagte dat ons met ons oorledenes kan doen wat ons wil nie. Jesus Christus daal nie af in die graf sodat óns oond toe kan gaan nie.

As ons die begrafnis in die Skrif bloot as die mededeling van 'n kultuurgewoonte sien, kom daar ook ander vrae na vore. Dan kan ons byvoorbeeld vra of ons nie dalk ons hele siening van teraardebestel­ling moet wysig, omdat die hoogtepunt van die opstanding van die vlees, naam­lik die opstanding van Christus, verby is nie. Ons kan ons ook begin afvra of die "hoe" van die teraardebestelling dalk nie meer soveel saak maak omdat die dood tog oorwin is nie.

Sulke vrae raak egter myns insiens die gesag en die normatiwiteit van die Skrif en derhalwe mag hulle nie gevra word nie.

Dit kan die deur oopmaak vir ander veel ingrypender vraagtekens en daarom moet ons daarmee uiters versigtig wees.

Ons moet nie wyser wil wees as die Skrif self nie!

Die Calvinistiese Mensbeskouing🔗

Op grond van die gegewens wat hierbo genoem is, moet ons nou probeer kom tot die bepaling van ons eie standpunt insake die kwessie van begrafnis of kremasie. Hierby kan twee Skriftuurlike beginsels van die Calvinistiese mensbeskouing ons tot groot nut wees.

Die Mens is Geskape volgens die Beeld van God (Genesis 1:26 en 17)🔗

Daarom het God moord en selfmoord verbied (Genesis 9:6). Ten einde die mens met eerbied vir die menslike liggaam te vervul, het God ook die verminking en beskadiging daarvan verbied. (Levitikus 19:28. Deuteronomium 14:1). Paulus spreek van die menslike liggaam as van 'n "tempel van die Heilige Gees" (1 Korinthiërs 6:19).

Die Skrif praat dus met groot eerbied van die menslike liggaam, want ook die liggaam is 'n skepping van God. 'n Mens bestaan uit siel en liggaam en dit bete­ken dat ook die liggaam van die gelowige deel het aan die verlossing in Christus. Sondag 1 van die Heidelbergse Kate­gismus sê dan ook dat die gelowige met liggaam en siel aan Christus behoort. Ons liggaam is dus nie ons eiendom nie, maar God s'n. Maar… wat van God is, moet van God bly. Daarom moet die liggaam na die dood aan God terug­gegee word op die wyse wat die Bybel aan ons leer. Dié wyse is nie die pad van lykverbranding waarby die hele liggaam vermink word nie, maar die pad van begrafnis.

Voorts moet ons in gedagte hou dat die intrede van die dood nie sommer 'n natuurlike saak is nie, maar 'n hande­ling van God. Slegs God kan heers oor lewe en dood. Slegs Hy wat die mag het om die lewe te gee, het ook die reg om dit weer te neem. Daarom hou sy reg op ons liggaam, wat deur Hom gemaak is, ook nie op wanneer die dood intree nie. Maar dit beteken dan ook dat die liggaam van 'n oorledene volgens die wil van God behandel moet word. Der­halwe moet dit aan die aarde toevertrou word en nie aan die oond nie.

Deurdat 'n oorledene begrawe word, vind die vernietiging van sy liggaam plaas vol­gens die wil van God. Dit is by kremasie egter nie die geval nie, omdat daarby die proses van vernietiging van die liggaam deur die mens self ter hand geneem word. Dan tree die mens dus op as die heerser oor lewe en dood waarby uitgegaan word van die gedagte dat die liggaam die eiendom van die mens is, terwyl dit God se eiendom is.

Gevolgtrekking🔗

  • Ons slotsom in verband met die gege­wens wat die Skrif ons bied, is dat begrafnis steeds veronderstel word.

  • Daarmee keer die Skrif hom teen lyk­verbranding.

  • Dié gevalle waar die gebruik wel genoem word, is of straf wat deur God beveel is of uitsonderlike gevalle.

  • Die Seun van God is die grond van ons hoop op 'n salige opstanding. Hierdie belangrike geloofswaarheid is deur die Christelike Kerk van die begin af besef. Daarom het die Kerk hom steeds met die grootste beslistheid teen die heidense lykverbrandingspraktyke verset. Dat hierdie gebruik tans in sogenaamde Christelike nasies 'n steeds groter plek inneem, stem tot besorgdheid.

Dit is 'n teken van voortgaande ontker­stening en deformasie.

Verder is dit opvallend dat die toene­mende vraag na lykverbranding hand in hand gaan met 'n toeneming van heidense gebruike tydens die verbrandingsplegtig­heid. Die aanwesiges kan byvoorbeeld kies uit 'n breë verskeidenheid musiek op elke gebied. Naas Psalms is daar klassieke en moderne musiek voorhande, terwyl die sogenaamde Negro-Spirituals en Evan­gelieliedere 'n veelgevraagde begeleiding by lykverbranding is. Maar dit is nie al nie. Dit gebeur meermale dat ouers 'n kind laat verbrand terwyl die Beatles of 'n ander popgroep een van hulle populêre wysies via geluidsband of plaat ten gehore bring. In Duitsland het Heintje met sy liedjies die krematoriums verower.

Waar hierdie gebruik ook in ons land reeds 'n groot plek inneem, is dit noods­aaklik dat die Skrifgetroue gelowige ern­stig tot reformasie oproep. Want die lykverbranding en alles wat daarmee saam­hang, is in stryd met die Skrif. Een van die kerngedagtes van die Calvinistiese mensbeskouing, naamlik dat ook die stof die eiendom van God is, gaan verlore.

Dit is wel waar dat die manier waarop van die liggaam van 'n oorledene ontslae geraak word geen struikelblok is vir die opstanding uit die dode nie. Dit geld vir seebegrafnisse, vir gevalle waarby die menslike liggaam in so 'n mate vermink is dat daar van 'n begrafnis eintlik geen sprake meer is nie en vir lykverbranding.

Daar is mense wat ten gevolge van 'n brand om die lewe gekom het en wat tog sal opstaan om tydens die laaste oordeel op die jongste dag hulle ewigheidsbestem­ming te bereik. Maar mense wat in 'n brand omkom, verrig nie die vrywillige, onskrif­tuurlike daad van lykverbranding nie.

Samevattend kan ons sê dat die proses van ontbinding van die liggaam nie in die hande van mense gelê is nie. Ons mag met die liggaam van 'n oorledene nie wil­lekeurig handel nie.

Lykverbranding is nie in ooreenstem­ming met die Woord van God nie. Dit is heidens en dit bots met die egte Christe­like lewenstyl. Derhalwe wys ons dit onvoorwaardelik af.