Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Waarom stel Veranderinge Teleur?

verandering

Die afgelope paar jaar in ons land was ongetwyfeld 'n tyd van verandering. Vir baie mense het die resultate van die veranderinge egter nie aan die verwagtinge voldoen nie. Die hoop dat die veranderinge vrede sou bring, het vervaag namate die onrus en geweld toegeneem het. In plaas van die verwagte voorspoed het armoede en werkloosheid gekom; in plaas van geregtigheid, groter onreg.

Hoe moet die teleurstellende verloop van sake verklaar word? Politieke ontleders, sosioloë en ekonome sal wel allerlei goeie verklarings kan voorsien. Een verklaring wat ons egter nie uit die oog durf verloor nie, is die geweldige invloed van 'n bepaalde rigting in die teologie, bekend as die bevrydingsteologie. Hoewel hierdie soort teologie deur die meeste teoloë van ons tyd afgewys word, het dit tog die gedagtes van baie mense — ook van Christene — gevorm.

Die Invloed van die Bevrydingsteologie🔗

Een gedagte wat baie sterk deur die bevrydingsteologie gepropageer word, is dat alle verandering goed is. So 'n gedagte is natuurlik onwaar, want daar moet tog onderskei word tussen Bybelse verandering en onbybelse verandering. Eersgenoemde is reformasie; laas-genoemde rewolusie. Die bevrydingsteologie het juis nie die verandering van reformasie in gedagte nie, maar dié van rewolusie.

Deur alle verandering as goed te propageer, slaag die bevrydingsteologie dan daarin om by Christene die onderskeid tussen reformasie en rewolusie te laat vervaag. Die uiteinde is dat selfs Christene hulle vir die rewolusie begin beywer, salig onder die indruk dat hulle met reformasie besig is.

Die Spoor van die Rewolusie🔗

Die spoor van die rewolusie die afgelope 200 jaar deur Europa, Amerika en Afrika, wys duidelik watter soort verandering agter die bevrydingsteologie skuil. Orals waar die rewolusie posgevat het, was dit met die belofte: die verandering wat kom, gaan bevryding bring — bevryding van armoede, bevryding van politieke oorheersing en korrupsie, bevryding van uitbuiting deur die "establishment". Maar nêrens het hierdie beloftes van die rewolusie waar geword nie.

Kyk maar na die Franse Rewolusie, die Amerikaanse Burgeroorlog, die Russiese Rewolusie en die Uhurukreet deur Afrika.

  • Die armes is nie bevry nie — ná die rewolusie was daar dikwels nog groter armoede.

  • Daar was nie werklik politieke bevryding nie — al wat gebeur het, was dat 'n nuwe diktator die bewind oorgeneem het.

  • Daar was geen maatskaplike bevryding nie — die arbeiders het arbeiders gebly, net maar onder nuwe uitbuiters.

Die bevryding wat die rewolusie sou bring, was dus 'n leuen.

"Bevryding" van God🔗

Maar tog het die rewolusie in elke geval een groot en ingrypende verandering veroorsaak. Dit het samelewings wat voorheen streng godsdienstig was, losgeskeur van 'n lewenswyse wat gekenmerk was deur gehoorsaamheid aan Jesus Christus. Frankryk, die bodem waaruit 'n Johannes Calvyn en duisende Hugenote gekom het, het ná die rewolusie ontwikkel tot die Europese sentrum van pornografie en prostitusie. Amerika, die jarelange tuiste van vrome Kwakers en Puriteine, het ná hulle Burgeroorlog bekendheid verwerf vir hulle losbandigheid. In plaas daarvan dat die samelewings bevry is van onreg en uitbuiting, is dit "bevry" van die Koningsheerskappy van Jesus Christus.

vryheid

Daarmee is die aap uit die mou van die bevrydingsteologie. Die bevrydingsteologie is inderwaarheid nie 'n teologie nie, maar 'n ideologie. Dit is selfs nie 'n ideologie nie, maar 'n strategie — 'n strategie om God na die kroon te steek: om sy onderdane van Hom los te skeur. En wat die bedrog van die bevrydingsteologie so erg maak, is dat dit onder die vaandel van "teologie" Christene probeer meesleur om aan hulle eie ondergang mee te werk. Gevolglik gebeur dit dat talle Christene hulle vir (ongekwalifiseerde) verandering beywer ... en wanneer die resultate kom, kom die ontnugtering: daar is nie bevryding van onreg, van geweld, van armoede, van haat en onreg nie. Inteendeel, al daardie ellendes neem net toe, want in die proses het die samelewing sy Christelike fondament prysgegee.

Die Huidige Moraliteitskrisis🔗

Natuurlik is nie alle verandering dié van rewolusie of van die bevrydingsteologie nie. Maar in 'n poging om te verklaar waarom die veranderinge van ons tyd nie die verwagte resultate oplewer nie, moet ons wel deeglik nabetragting hou en vra na die rol van die bevrydingsteologie.

Veral as die "eerste vrugte" van verandering dit is dat die kerke nou te kampe het met 'n moraliteitskrisis; veral as die Christene skielik moet begin wal gooi teen georganiseerde pogings om die Christelike godsdiens gelyk te stel met ander godsdienste; veral as die gedagte van 'n "neutrale" owerheid en "neutrale" skole skielik weer vlam vat.

Die Geloofsantwoord🔗

Die enigste wapen wat ons het om die leuen van die bevrydingsteologie te kan beveg, is die swaard van die Woord van God (Ef. 6:17). En wat 'n kragtige wapen is dit nie! Dit is skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart (Heb. 4:12).

Ons taak as gelowiges is dus om teenoor die bevrydingsteologie die waarheid van die Woord onvervals te handhaaf en te verkondig. Dit beteken dat ons veranderinge wat in wese rewolusie is, sal bestry. Sulke veranderinge bring immers nie die heil wat dit belowe nie, maar is juis daarop gemik om die mens van God en sy Woord te vervreem. Veranderinge wat in wese reformasie is, sal ons egter najaag. Sulke veranderinge stel nooit teleur nie, want dit is volgens die wil van God, soos Hy dit in sy heilige Woord bekend maak.