Bron: Kompas, 2008. 4 bladsye.

Wanneer en Van Wanneer Profeteer Joël

Bybel

Die Boek Joël begin sy profesie met woorde oor ʼn groteske gebeurtenis: “Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind? Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag” Wanneer en … van wanneer profeteer Joël hier? As ons dit weet, kan dit ons dalk help om die kragtige boodskap van God se profeet beter te begryp en dit aan ons kinders oor te dra soos HY ons beveel.

Die Boek Joël is op verskillende maniere fassinerend. Sy kort, maar tog indrukwekkende formaat spreek ʼn mens aan. Die staccato-agtige bevele en oorlogstaal komplimenteer sy kompakte inhoud. Dié polsende karakter stimuleer Joël se waarskuwings van die koms van die “dag van die HERE”.

ʼn Oprukkende en formidabele “sprinkaanplaag” is op pad uit die Noorde en sal God se land meedoënloos kom verorber! Veld en vee sal sug na uitkoms. Maar God Self sal ingryp en die pestilensie neervel voordat dit slaag in sy doel. Die HERE sal in die plek van die terreuraanval twee dinge doen. Hy sal die afgevrete oes vervang met oorvloed en Hy sal die vyande van sy volk verslaan in ʼn finale veldslag. Dié veldslag sal op ongewone wyse beslis word. God sal eiehandig oorwin deur reg te spreek oor die volke. Die vraag is: Wanneer sal dit alles gebeur!?

Ongelukkig help die eerste verse van die boek ons nie om die vraag te antwoord nie. Daar staan net dat Joël die “seun van Petuel” was, maar ons het geen verdere aanduiding van wie dit is en wanneer hy geleef het, soos by van die ander profete nie (vgl. bv Hoséa 1:1 en Amos 1:1). Dat die teenspoed van ʼn regte sprinkaanplaag die profesie kleur, is duidelik en dat die tempel in volle werking was, is ewe duidelik. Maar wanneer was dit en van wanneer praat dit? Ons kan wel die volgende merkers gebruik as leidrade:

  • Die posisie van die boek in die Ou Testamentiese inhoudsopgawe

  • Eienaardige beelde

  • Die dag van die HERE

  • Na-ballingskapse tonele

  • Gemeenskaplike materiaal

  • Name van plekke

  • Pinkster

  • Die sprinkane van Openbaring

Die Posisie van die Boek in die Ou Testamentiese Inhoudsopgawe🔗

Joël verskyn tweede op die lys van die versameling “Klein Profete” van die Ou Testament. Hy is net na Hosea en net voor Amos, twee van die oudste profetiese boeke. 1

Hosea en Amos tree in die agste eeu voor Christus op, dit wil sê voor die ballingskap van beide die Noordelike (722vC) en Suidelike Ryk (5863vC). Beteken dit dat hy in hulle tyd geleef het? Dit kan so voorkom, veral as ʼn mens sien hoe Joël aansluit by hulle inhoude. Waar Joël bv eindig met die beeld van ʼn aardbewing (3:16), begin Amos daarmee (1:2).      

Eienaardige Beelde🔗

Wat Joël se datering moeilik maak, is die sterk simboliese taal. Die bedreigings waarteen Joël ons waarsku, word beide as vyandelike mag (swaarde, perde) en vyandige natuur (sprinkane, brande) uitgebeeld.

Die gevolg is helder beskrywings van die natuurramp en vae beskrywings van die aanvallers. Beskryf dit ʼn letterlike inval en beleëring, soos in die tyd van die Assiriërs (722vC) of van Babel (586vC)? Dit klink so in Joël 2:7-9. Maar dan is dit nie net Israel wat ly as gevolg van die inval(le) nie. Die hele aarde bewe voor hulle en die “mensekinders” se vreugde is weg (1:12) in dieselfde tyd as wat die priesters van Sion treur (1:13). Die hele “wêreld” (2:21), die ganse natuur (2:22), sal bly wees as God die ramp afweer.

sprinkhane

Hierdie vaagheid en gebruik van elementêre beelde, soos sprinkane (1:4; 2:202), veldbrande (1:19; 2:3) en ʼn kosmiese aardbewing (2:10), kan dui op ʼn baie ou profesie, wat deur latere profete duideliker gemaak sal word. Dit pas dan by die datering van Joël as een van die eerste profete. Party dink selfs hy het geleef in die tyd van Elia en Elisa.3 Aan die ander kant kan die vaagheid juis toegeskryf word aan die feit dat Joël ʼn bestekopname is van die ganse aanslag van God se vyande deur die eeue. Dan wil Joël juis nie te spesifiek wees nie en is hy heel waarskynlik na die ballingskap geskryf.

Die Dag van die HERE🔗

Die uitdrukking “die dag van die HERE” kom 5 keer in die kort boekie voor. Kan dit ons help? Nie regtig nie. Die uitdrukking “dag van die HERE” (johm Jahwe) kom wel algemeen onder die profete voor en dui op ʼn dag waar God sal afreken met mense wat Hom teengestaan het. Hierdie “dag” kan egter op meer as een geleentheid dui en dit is presies die geval in Joël. Aanvanklik wys dit op die vyandige mag wat, onder aanvoering van die HERE, oor Sion en die skepping sal kom (1:15; 2:1, 11), maar dan wentel die hele boek en so ook die dag van die HERE. Vanaf Joël 2:31 word dit juis die dag waarop die vyand God se wraak en afrekening sal proe (2:31; 3:14).

Na-Ballingskapse Tonele🔗

Joël beskryf tipiese tonele wat die periode na die ballingskap kenmerk. Israel (ook Juda en Sion) is onder die nasies “verstrooi” (3:2) en haar kinders is uitgeloot (3:3) en die kosbare skatte, heel waarskynlik die inhoud van die tempel, is gebuit (3:5). Die HERE sal sy kinders weer versamel en terugbring na hulle land (3:7). Joël profeteer dus oor ʼn na-ballingskapse periode ook, maar dit beteken nie noodwendig dat Joël eers toe geleef het of dat sy profesie tot daardie tyd gebind kan word nie. Die doel van profesie is immers om vooruit te vertel wat gaan gebeur, soos wat Moses reeds vooruit sien wat met Israel gaan gebeur (vgl. bv Deuteronomium 28:36 e a).

Gemeenskaplike Materiaal🔗

Vir so ʼn kort boekie bevat Joël merkwaardig baie materiaal wat ooreenstem met ander profetiese boeke wat beide voor en na die ballingskap geskryf is. Vir boeke voor die ballingskap dink ʼn mens byvoorbeeld aan Jesaja 13:6 (vgl. 1:15) en die merkbare ooreenstemmende inhoude tussen Joël en Amos, soos die beeld van die HERE wat brul uit Sion (Joël 3:16 met Amos 1:2; 3:8, 14); dronkenskap (Joël 1:5 met Amos 2:12; 4:1); sprinkane (Joël 1:4 met Amos 7:1); verkoop van armes (Joël 3:3 met Amos 8:6). Vir boeke na die ballingskap dink ʼn mens aan Eségiël 30:2 (vgl. 1:15); Sefánja 1:14vv (vgl. 2:1); Maleági 3:2 (vgl. 2:11) en Obadja :17 (vgl. 3:18). Het Joël by die boeke geleen of het hulle by hom geleen? As Joël ook by na-ballingskapse boeke geleen het, is hy duidelik self ook ʼn na-ballingskapse profeet.

Name van Plekke🔗

In Joël 3 is daar skielik duidelik name, soos Tirus, Sidon en landstreke van Filistea (3:4), die kinders van “Jawan” (3:6), die Sabiërs, ʼn “verafgeleë volk” (3:8), Egipte en Edom (3:19). Maar die name Tirus en Sidon en ook Egipte en Edom beskryf plekke soos dit reeds voor en na die ballingskap bekend was. Die landstreek van Filistea is letterlik “al die streke van die Filistyne”4en dui op die eertydse vyf stad-state Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron (vgl. Jos 13:2; 1 Samuel 6:17-18), wat ook nie ons soektog na nadere datering bevorder nie. Die kinders van “Jawan” is ʼn beskrywing van volke wat Noord van die Middellandse See gewoon het. Hulle was ook bekend as die Ioniërs, voorsate van die Griekse beskawing, wat in kolonies oor die Westelike kus van Klein-Asië en die Egeïese Eilande gewoon het. Die Sabiërs of “mense van Skeba”5 was invloedryke inwoners van Skeba, Suidwes-Arabië. Hulle was, net soos al die ander name in Joël 2, berug vir hulle slawehandel. Maar, sê Joël, die HERE sal voorts sorg dat dieselfde met hulle kinders gebeur! Dit het ook. In 345vC het Artaxerxes III Sidon se mense as slawe verkoop en in 332 doen Alexander die Grote dit met Tirus en die Filistynse inwoners van Gasa.6 Die rede waarom Joël sulke duidelik name vermeld, is nou vir ons duidelik. Dit is om lande rondom Israel te beskryf wat God se kinders tydens ballingskap in slawehandel verkoop het. Dit help ons om te weet dat Joël definitief voor 345vC geleef én geprofeteer het.

slawerny

Ons kan tot dusver al sê dat Joël voor 345vC geleef en geprofeteer het. Ons weet egter nie of dit voor of na die ballingskap was nie. Trouens, niemand weet met sekerheid nie! Dit kon wees voor die eerste ballingskap, of voor dié van Juda, of daarna. Ons weet ook nog nie in watter insident sy profesie kulmineer nie. Maar dit moet ons nie moedeloos maak nie. Ons weet reeds dat God al sy kinders wat in slawerny is, sal bevry en dat Hy beloof om ons vyande te verdelg.

Maar dit is nie al nie. Die Heilige Gees Self lei ons na sy verdere verklaring van die profesie van Joël in die Nuwe Testament.

Pinkster🔗

In Handelinge 2:16 verklaar Petrus deur die Heilige Gees dat die woorde van Joël 2:28-32 hulle kulminasie vind in die gebeure met die uitstorting van die Heilige Gees, met Pinkster. Christus is uit die dood opgewek en het as Messias sy Gees uitgestort op die getroues van Israel. ʼn Nuwe Era van God se trou en uitkoms het inderdaad aangebreek. Die straf van God oor sy volk is afgeweer en die droogte wat hulle gely het, is gebreek. Deur die koms van die Leraar van geregtigheid (Joël 2:23) is daar oorvloed en uitkoms. Sy Heilige Gees gee lewe in ons harte. Hy het ook vir ons die dood oorwin.

Joël profeteer voor die koms van Christus van die uitstorting van sy Gees as aanduiding van die begin van God se heilstyd. Hiermee stem die Nuwe Testament eendragtig saam (vgl. Kolossense 2:15).

Die HERE het ʼn nuwe tyd van genade, ʼn Nuwe Verbond, gebring (Lukas 22:20; Hebreërs 8:1 vv.).

Die Sprinkane van Openbaring🔗

Maar daarmee is ons nie klaar met Joël nie, want ons is maar by hoofstuk 2, dus ook nie met sy profesie nie. Joël is ook nie klaar met ons nie! In hoofstuk 3 profeteer hy van ʼn merkwaardige finale veldslag in die dal van Josafat, waar God deur regspraak al sy vyande en die vyande van sy kinders sal verdelg.

Hierdie dag moet nog kom, want God se vyande is duidelik nog nie finaal verslaan nie. Die natuur steier onder die gevolge van aardverwarming en oral stry mense teen die Koningskap van Christus.

Openbaring beskryf die kulminasie van die finale slag tussen God en sy vyande, waarvan Joël profeteer. Die bose magte word finaal deur God verslaan. Openbaring 9 se sinspeling op die sprinkaanleër is onmisbaar. Die verwoesters is al weer onder God se bevel (vgl. Joël. 2:11). Hulle lyk ook soos dié van Joël. Maar nou is die strafekspedisie se opdrag net mooi andersom as in Joël 1. Hulle kasty nié God se gunstelinge nie, maar die vyande van God. Hulle laat die natuur en God se kinders nou met rus. Hulle veg teen almal wat nie God se seël op hulle voorhoofde het nie. Hulle aanvoerder word nou beskryf as Apollion, letterlik die “verderwer”, ʼn ster uit die hemel en die duiwel self (Openbaring 9:1,11, vgl. Lukas 10:18). Merkwaardig hou die naam verband met dié van die Griekse god Apollo wat in die omgewing van Efese die sprinkaan gehad het as sy kenteken. Joël sien dus niks minder nie as die finale aanval van die leërmag van die bose, gevalle gevleuelde engele, veel meer gevaarlik as Assirië of Babel, maar reeds verslaan in Christus.

Kom Ons vat Saam:🔗

Wanneer profeteer Joël? Hy profeteer voor die koms van Christus.

Van wanneer profeteer Joël? Van die tydperk van die omwenteling van ons lot. Met die koms van Christus verander die HERE ons lot van byna oorweldig deur straf van God (Joël 1) na oorweldig met die Heilige Gees, met die versekering van sy genade (Joël 2).

Maar die tydperk van omwenteling van ons lot is nie verby nie. Joël roep ons steeds tot waaksaamheid. Die groot dag van die HERE, in die “dal van Josafat”,7 die dal van finale regspraak, moet nog plaasvind. Daar sal God die boeke open om finaal reg te spreek.

Joël se wekroep geld dus steeds: Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind? Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag

Endnotes🔗

  1. ^ Sien bv. An Introduction to the Old Testament, Dillard & Longman, 1994 p354. 
  2. ^ Die woord “sprinkaanswerm” is hier ingevoeg en kom nie in die Hebreeus voor nie.
  3. ^ Vgl. bv. What the Bible is all about deur HC Mears, 1983 p280.
  4. ^ Die Boek Joël deur WS Prinsloo, 1990 p. 90. 
  5. ^ 1983-vertaling. 
  6. ^ Die Boek Joël deur WS Prinsloo, 1990 p. 92. 
  7. ^ Die naam is eerder ʼn simboliese plek van juridiese oorwinning as ʼn geografiese ligging. Beide die term en die oorwinning van Josafat dien so verklaring. Die Hebreeuse woord vir “veroordeel” of dan regspraak en die naam “Josafat” het beide dieselfde Hebreeuse stamwoord, “safat”. In die slag van koning Josafat oorwin God eiehandig die volke wat teen Israel optrek (2 Kronieke 20:1-30)