Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Want Ek het My Kind Lief

Watter gelowige ouerpaar het nie soms 'n stryd met die dissipline van hul kinders nie? Dit bly maar altyd 'n moeilike kwessie en dikwels is die vraag: “wat leer die Skrif in hierdie verband?” Die (post) moderne wêreld het veel onbybelse raad te gee en Christene leef midde-in hierdie dampkring en word daardeur gebreinspoel. Die algemene tendens is om die diepe totale verdorwenheid van die mens te ontken en dus kinders te sien as wesens wat eintlik in beginsel “goed” is. Het elke mens dan nie – volgens New Age perspektief – 'n godjie binne hom/haar nie? Wie egter deur die bril van die onfeilbare en gesaghebbende Woord kyk, weet onmiddelik dat die mens – en daarom ons kinders – diep bedorwe is (Efes 2:1 e.v.) en juis daarom bewerk die Gees die kind se heiligmaking d.m.v. die dissipline in die ouerhuis.

Opvallend dat die woord “dissipline” die woorde “dissipel” en “dissipelskap” na vore roep. Stel jouself die Here Jesus en Sy twaalf volgelinge voor. Dit help 'n mens nogal om te snap op watter wyse ons die bybelse begrip van dissipline moet benader. Jesus se dissipels was daaraan toegewy om Sý weë te modelleer en van Hom te leer. As wedergebore ouers streef ons daarna dat ons kinders sal toeneem in alles wat God bedoel dat hulle sal wees. Dissipline dien hierdie doel: om ons kinders te leer om navolgers van Christus te wees, nie in die eerste plek navolgers van onsself nie. En tog is dit juis in die ouers as gesagsfigure wat die kind Christus se heerskappy leer ken. Wat 'n wonder! Wat 'n verantwoordelikheid! Dit is in die ouers se voorbeeld wat die kind Christus se gesindheid van selfverloëning leer ken (Fil. 2:5-11). Voordat enige metode van dissipline dus ter sprake kom, gaan dit eerstens oor die gesindheid van Christus wat die ouers aan die kind modelleer.

En tog is die metode baie belangrik. Kom ons kyk na enkele riglyne. Die eerste metode van dissipline wat Christenouers toepas is om die Here en mekaar lief te hê. Vertikale en horisontale liefde is 'n metode van dissipline, want dit bied aan die kind sekuriteit en standvastigheid. Tweedens moet die kind se selfwil, eiesinnigheid en ongehoorsaamheid aangespreek word. Dit is interessant om te sien hoe die Here Sy volk op hierdie terrein gedissiplineer en gekorrigeer het, dikwels deur middel van minder aangename metodes (vgl. Num. 21). Kinders is veral lief om hul ma's se sagte natuur te manipuleer. Daarom ken die Skrif die gebruik van die roede om kinders fisies te dissiplineer (Spr. 29:15, 13:24, 22:15, 20:30) sonder om hul daarmee opstandig of moedeloos te maak (Efes. 6:4). Die roede moet met die betuiging van liefde gebruik word (Hebr. 12:5-6). Tog mag ouers nie van die roede wegskram as gevolg van die kortstondige onaangenaamheid daarvan nie. Die mees gelukkigste kinders is húlle wat die Here werklik leer ken, wat grootword binne die sekuriteit van hulle ouers se onderlinge liefde vir mekaar en wat duidelike grense ken, wat nie oorskry mag word nie. Kinders moet weet: waar grense oorskry word, sal daar gevolge wees. Hulle moet egter ook weet dat gehoorsaamheid besliste positiewe resultate oplewer.

Bybelse kinderdissipline opereer dus tussen vier duidelike bakens: 

  • Die heerskappy van God deur Sy Woord en Gees

  • Die ouers se liefde vir God en mekaar

  • Die gebruik van die roede en

  • Positiewe liefde en aanmoediging.

Sodoende leer kinders dat dit die Here is wat ons deurentyd dissiplineer om ons te lei, te onderrig, te korrigeer en op te lei in godsvrug. “Kinders, gehoorsaam julle ouers in die Here, want dit is reg, sodat dit met julle goed mag gaan en julle 'n lang lewe op aarde mag hê.” (Efes. 6:1,3). 

En tog is dit juis in die ouers as gesagsfigure wat die kind Christus se heerskappy leer ken.