Bron: Die Kerkblad, 1987. 2 bladsye.

Wat Bepaal my Selfbeeld?

Elke jongmens beleef een of ander tyd in sy lewe worsteling en kon­flik oor sy 'selfbeeld'. Vir elke jongmens wat werklik erns maak met sy verhouding tot God en sy naaste sê die Woord: Jy mag geen bekommernis met jou self­beeld hê nie. Die hele idee wat ons het dat ons aan ons selfbeeld moet bou is 'n saak wat die Skrif nooit werklik aan die orde stel nie. Dit is uit en uit 'n wêreldse term wat mense gebruik om uitdruk­king te gee aan iets wat almal voel 'n behoefte is. Hulle sê gewoonlik: Jy kan nie iemand anders liefhê as jy nie eers jouself liefhet nie. Jou eie selfbeeld moet eers reg wees voordat jy kan uitreik na iemand anders. Gewoonlik word gebruik gemaak van allerhande tegnieke en beklemtonings om die self­beeld te bou.

Liefde en selfverloëning🔗

Hoe dan nou? Wel, die samevat­ting van die Wet (Matteus 22:37-40) gee aan alle Christene net twee opdragte met betrekking tot die liefde.

Jy moet God en jou naaste liefhê.

Ons maak 'n fout as ons van die slot van die tweede gebod 'n derde opdrag maak. Die byvoeging 'soos jouself' sê vir ons dat die sondaar homself van na­ture liefhet. Selfliefde is die wese van sy sonde omdat hy in alles (soos Adam en Eva) eerste aan homself dink eerder as om ge­hoorsaam te wees aan God. Daar­om is die beheersende opdrag van die Skrif rondom die self: selfver­loëning.

As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en my volg, want wie sy lewe wil behou sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van my verloor sal dit terugkry.Matteus 16:24, 25

Kindskap🔗

Die enigste identiteit (ander woord vir selfbeeld) wat vir 'n Christen van betekenis is, is dat hy 'n kind van God genoem word, wie se sonde vergewe is en wat 'n heilige lewe volgens die wil van God moet en kan uitlewe (vgl. Efesiërs 4:22-24; Efesiërs 2:19; Romeine 1:11, 12; 6:6, 11 en 12:3). Om 'n gehei­ligde lewe te lewe mag jy nie versterking in jouself soek nie, maar moet jy dit as ingeplante loot op die wynstok vind (Johannes 15). Jý is nie meer die maatstaf vir jou selfvertroue nie, maar Christus. Hoe meer jou lewe die trekke van Christus vertoon, hoe sterker en sekerder kan jy na buite vertoon. Waar kom selfvertroue dan van­daan? Selfvertroue is 'n vrug, 'n gevolg van jou gehoorsaamheid aan die opdrag van God om soos 'n kind van Hom te lewe.

Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.Matteus 6:33

Dis baie belangrik om die wil van God te soek in alles wat jy doen en om dit uit te leef in jou lewe. Dit word bedoel as vir jou gesê word: Jy moet meer erns maak met jou godsdiens. Jy moet nie net meer Bybellees en bid nie, dit ook, maar jy moet dit wat jy lees toepas en uitleef in jou lewe. (Vgl. Efesiërs 5:6-20 en Kolossense 1:9-12).

Die belangrikste om as Christen na te jaag is nie selfvertroue en 'n goeie selfbeeld nie, maar geloofs­vertroue en geloofsgehoorsaam­heid. Dit lei tot selfverloëning. Elkeen wat sê of dink hy Iy aan 'n minderwaardigheidskompleks sê eintlik daarmee dat hy nog te veel van homself dink. Dis nie wat ek van myself dink wat vir God belangrik is nie, maar wat ek van God se liefde dink en daarmee doen.

Elkeen wat hierdie uit­gangspunt sy eie maak sal met groot vreugde saam met Dawid kan sê:

Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het, vervul my met verwondering".Psalm 139:14