7 bladsye.

Wat is Christelike Wetenskap?

Uitgestuur aan Kerkrade op Versoek van die CO-Deputate van Sinode 2006🔗

’n Kort antwoord op hierdie vraag is dat dit Bybelgefundeerde wetenskap is. Wat is dan Bybelgefundeerde Wetenskap?

Bybelgefundeerde wetenskap is ’n studie van God se skepping wat uitgaan van God se openbaring in Sy Woord. Onder skepping verstaan ons alles wat ons waarneem en ervaar in ons lewe. Elke mens is met liggaam en gees deel van God se skepping. Die Woord van God gee aan die gelowige kennis, kennis wat hy nie anders sou kon gekry het as deur die Woord van God nie.

In die Bybel (God se besondere openbaring) openbaar God Hom aan die mens as ’n regverdige, goeie, alwyse, volmaakte (sonder gebreke), ewige en alomteenwoordige God, wat wil hê dat die mens, Sy skepsel en Sy rentmeester op aarde, Hom moet leer ken en in verhouding met Hom moet leef en werk. Deur ons studie van die skepping (Sy algemene openbaring) leer ons Hom as Skepper en Onderhouer van alle dinge ken, onder andere as:

  1. ’n God van orde

  2. ’n God van wysheid

  3. ’n Intelligente Ontwerper

  4. ’n Volmaakte God

  5. ’n Goeie en regverdige God

  6. ’n God wat alles onderhou en beheer

Wetenskap tot Eer en Verheerliking van God Almagtig🔗

Oor al die eeue - tot soveel as ’n eeu gelede - het Christen-wetenskaplikes se geloof in God en hulle ontdekkings deur hulle wetenskaplike werk, hand aan hand gegaan. Die uiteindelike doel van hulle wetenskap was om tot eer van God dinge in Sy Skepping te ondersoek en te ontdek. Bekende natuurwetenskaplikes soos Kepler, Boyle en Newton het in en deur hulle werk God verheerlik. Van Kepler, die bekende Duitse sterrekundige, het die volgende gebed bewaar gebly:

Ek dank U, Skepper en Here, dat U my hierdie vreugde in U skepping, hierdie genot in die werke van U hande geskenk het. Ek het die heerlikheid van U werke aan die mense bekend gemaak vir sover my eindige gees U oneindigheid kon verstaan. As ek iets gesê het, wat U onwaardig was of as ek eie eer mag gesoek het, vergeef my dit dan tog genadiglik.

Galileo het ook gesê: die werke van God se vinger - dit wil sê wat sy hande in die skepping gemaak het - en die werke van God se mond - dit wil sê wat God in sy Woord geopenbaar het - kan mekaar nie teenspreek nie. Ons kan daarom op hierdie wyse onbevange wetenskap bedryf.

Ons as Christene het die heerlike voorreg om te weet dat God Hom deur Sy werke aan ons bekend maak. Hierdie wete lê dan ook ’n verpligting op ons om leerareas en vakke in die klaskamer tot eer en verheerliking van God onderrig - nie bloot deur Bybelversies aan ons lesse toe te voeg nie, maar deur die lesmateriaal self en die inhoud van lesse so aan te bied dat dit getuig van God as Skepper en Onderhouer, soos Kepler getuig het.

Kom ons kyk na enkele onderwerpe wat in leerinhoude voorkom:

Soogdiere🔗

Wat het die mens gemeen met ’n leeu, ’n meerkat, ’n walvis en ’n vlermuis? Volgens die wetenskap wat hom besig hou met die vorm en bou van die liggaam van mens, dier en plant - die Anatomie - word almal as soogdiere geklassifiseer. Die woord soog beteken om kleintjies met melk te voed. Alle soogdiere het melkkliere waarmee hulle kleintjies voed deur te soog (suig) Soogdierkleintjies kan nie van kleins af vir hulle self sorg soos visse en reptiele nie. Hulle kan nie self kos soek of hulleself teen gevaar beskerm nie. Daarom is ouers nodig om vir hulle te sorg en hulle te leer hoe om selfstandig te leef wanneer hulle volwasse is.

Alle soogdiere is werweldiere, d.w.s. hulle het ’n geraamte. Die geraamte word gebruik om te beweeg en om die inwendige organe soos hart en longe te beskerm.

Soogdiere het ’n verhemelte wat hulle mondholtes in twee verdeel. Die boonste deel word gebruik om asem te haal en die onderste deel word gebruik om te eet en te drink. As soogdiere nie ’n verhemelte gehad het nie, sou hulle nie kon asemhaal terwyl hulle eet en water drink nie. Dit alles toon die wysheid waarmee God alle dinge, ook soogdiere geskep het.

Maar ons kan nie net anatomies na ooreenkomste kyk nie. Daar is ook wesentlike verskille tussen die mens en soogdiere.

Soogdiere sorg instinktief vir hulle kleintjies en weet instinktief wat om vir hulle te leer. Daarteenoor versorg en leer die mens sy kleintjies nie instinktief soos ’n soogdier nie, maar hy het ’n verstand gekry en ’n vermoë om selfstandig besluite te neem en te beplan vir die opvoeding van sy kinders.

God het man en vrou tweeledig geskep: Hulle is skepsels, wat behoort by die diereryk: hulle is op die sesde dag geskep ná al die diere op aarde. Hulle is ‘gevorm uit die stof van die aarde’ (Gen. 2:7), wat dui op hulle skepselwese, op hulle gebondenheid aan die aarde. Aan die ander kant is slegs mense (nie diere nie) na die beeld van die Skepper gemaak. Dit is die belangrike boodskap van die Bybelse skeppingsleer. Die mens is as aardse wese geskep om op ’n beperkte skaal soos God te wees, om sy kultuurmandaat (Gen. 1:26,28; 2:15) te kan uitvoer, om met hart en verstand, ontdekkend en beplannend, te kan heers oor God se skepping, mee te werk aan die ontplooiing daarvan en daarvoor te kan sorg.

Deurdat mense na God se beeld geskep is met omgee vir mekaar en die skepping, word mense geroep tot ’n persoonlike gespreksgemeenskap met Hom. Daarom behels die lewe van die mens veel meer as die biologiese.

Slegs mense kan bewustelik God se skepping waardeer en dit geniet, en kan deur God tot verantwoordelikheid geroep word. Die uniekheid van die mens is nie maar net daarin geleë dat ons met mekaar praat nie, maar eerder daarin dat God met ons praat en dat ons gevra word om daarop te antwoord. Ons is geskep vir ’n geroepe lewe, gerig op God.

Bosse, Bome, Berge, Vlaktes🔗

Bo-op die Drakensberge lê die sneeu spierwit, in die Kalahari bak die son op die rooi sandduine neer en by Knysna is daar plekke wat die bome so dig is dat die sonlig nie eers daardeur kan dring nie. Ons land is een van die min lande op aarde waar ’n mens binne ’n dag met ’n motor van ’n woudgebied na ’n woestyngebied kan ry.

Suid-Afrika is een van die lande wat die grootste verskeidenheid diere op aarde het. Dit is moontlik omdat ons land soveel verskillende habitatte het. ’n Habitat is ’n dier se blyplek. Suider-Afrika het woude, grasvlaktes, kusgebiede en ook ’n woestyngebied. Elke gebied is die blyplek van verskillende soorte diere wat aangepas is om daar te oorleef. Dit illustreer weereens die wonderbaarlikheid van God, waarvoor ons hom moet loof en alle eer moet gee, maar ook dat ons die verantwoordelikheid het om as rentmeesters sorgsaam met die natuur om te gaan.

Wiskunde - ’n Wyse om God se Skepping te Beskryf🔗

Net soos enige ander wetenskap is wiskunde ’n menslike skepping van ’n faset, ’n afbeelding van God se handewerke. Almal, gelowige en ongelowige wiskundiges werk saam om wiskunde as wetenskap te vorm en uit te bou. Die feit dat elke wiskundige nie sy eie wiskunde apart van al die ander vorm en bou nie, beteken dat wiskunde veel meer is as ’n individuele logiese spel van aksiomas en bewyse. Dit beteken dat wiskunde as wetenskap universeel is, wat gegrond is in en afgetrek (geabstraheer) is van die werklikheid. Met ander woorde, wiskunde is ’n wyse om God se handewerk te beskryf. Dit beteken in besonder dat getalle, net soos ruimte, wat albei die werksgebiede van die wiskunde is, deel van God se skepping is. Dit beteken ook dat al wil baie wiskundiges wiskunde terwille van die wiskunde uitbou, hulle tog steeds besig is om met fasette van die skepping te werk, of soos Galileo dit gestel het:

die boek van die natuur is in die taal van die wiskunde geskryf.

Die Getal 3🔗

Die getal is deel van die skepping van God. Dit het nie deur ’n evolusionistiese proses by ’n oermens, wat begin het om op sy vingers te tel ontstaan nie. Met ander woorde, die getal is nie deur die mens gevorm deurdat hy dit nodig gehad het vir sy bestaan op aarde nie.

God het aan die mens ’n verstandelike gawe geskenk om idees en begrippe uit die werklikheid te onttrek, te abstraheer en om logies te dink. Ons leer ’n kind dat twee appels en drie appels gee vyf appels, en baie gou daarna veralgemeen ons dit na twee plus drie is vyf. Hierdie getalle twee, drie en vyf is abstraksies vanuit die konkrete. Die getal ‘twee’ is ’n abstrakte begrip. Die kind leer dus om getalle ‘af te trek’ of te onttrek van die konkrete dinge. Die feit dat die mens geen probleme het om in terme van getalle te dink nie beteken dat die mens ’n wonderlike vermoë het tot abstrakte ‘teoretiese’ denke. Die woord ‘teorie’ kom van die Griekse woord wat beskou, beoordeel beteken. Net so beskou en beoordeel die wiskundiges die wiskunde, m.a.w. die wiskunde bestaan buite hulle - is mensewerk wat deur logiese beredeneringe uit begrippe (onder andere getalle), wat uit die konkrete onttrek is, gevorm word. Die mens het ’n fantastiese vermoë gekry om logies te dink en te redeneer.

Die begrip oneindigheid is baie belangrik in wiskunde. Beskou bv. die reeks van heelgetalle: 1, 2, 3, 4, .......Meeste kinders sal een of ander tyd by een begin tel en kyk tot watter grootste getal hulle kan tel. Maak nie saak tot watter grootste getal hulle gekom het nie, daar kan altyd nog een bygetel word vir ’n nog groter getal. So ’n reeks van heelgetalle is oneindig - ’n mens kan nie by die laaste getal, die oneindigheid, kom nie. Ons kom die oneindigheid oral in die natuur teë. Die begrip oneindigheid dui die volmaaktheid van die Skepper aan, ’n volmaaktheid wat vir ons onbereikbaar is. Sinoniem hiermee is die ewigheid van die Skepper.

As ons die heelgetalle volgens ’n skaal op ’n reguit lyn uitsit, is daar oneindig baie punte op die kontinue (aaneenlopende) reguit lyn tussen die punte van twee opeenvolgende heel getalle. Sommige van hierdie oneindig baie punte is punte van rasionele getalle, dit is, breuke van heelgetalle. Al die ander getalle is irrasioneel, bv. √2, wat deur Pythagoras ontdek is. ’n Irrasionele getal het oneindig baie syfers na die desimale punt, soos √2 = 1,414213562..........

As ons reglynige beweging van ’n massapunt beskryf, moet die punt deur al die oneindig baie punte vanaf ’n beginpunt tot ’n eindpunt van ’n baan beweeg. Newton het differensiaal-vergelykings kon neerskryf vir snelheid en versnelling van ’n massa uitgaande van hierdie begrip van oneindig baie punte op die pad van die bewegende massapunt. Dit is die grondslag van dinamika, d.w.s. van ruimtelike beweging in tyd, wat dit onder andere moontlik gemaak het om met groot presiesheid die baan van ’n ruimtetuig, wat van Kaap Kennedy gelanseer word, te bereken sodat dit in ’n vooraf bepaalde punt op die maan land. Hierdie prestasie loof die volmaaktheid van die Skepper.

Wiskunde maak die Handwerk van God Sigbaar🔗

Wiskunde bied aan ons ’n wyse om God se skepping te beskryf, maar deur wiskunde word aan ons op ’n besondere wyse die wonderbaarlikhede, die funksionele, en die skoonheid van God se handewerke sigbaar gemaak. Beskou bv. die planetebeweging, wat afgelei word uit Newton se tweede bewegingswet: F=ma (krag = massa x versnelling) en sy swaartekragswet: F=Gm1m2/r2 (krag is eweredig aan die produk van die massas gedeel deur afstand kwadraat, waar G die eweredigheidskonstante is, wat Newton eksperimenteel in die laboratorium bepaal het). Dit is eenvoudige vergelykings met ’n geweldige potensiaal, wat nie net gebruik word vir berekeninge van bane van ruimtetuie vir ’n vlug na die maan of planete nie, maar vind ook sy toepassings in talle nywerhede.

Die mens het talle ontdekkings in die wiskunde gemaak. Hy het bv. die imaginêre (onwerklike) getal √-1 ontdek. Hy het met behulp van onder andere hierdie imaginêre getal ontdek dat wiskunde op talle terreine van die wetenskap strukture beskryf wat in ooreenstemming is met eksperimentele waarnemings, bv. die struktuur van die atoom. Van hierdie strukture, ook van die atoom se struktuur, gee die wiskundige beskrywing ’n struktuur van waarskynlikhede en nie ’n skerp omlynde struktuur nie. Die binnenste van ’n atoom kan ons nie met die beste vergrotingstegnieke vir ons sigbaar maak nie. Ons moet egter God loof vir die klein venstertjie wat Hy deur die wiskunde vir ons insig gee in Sy wonderbaarlike skepping en hoe alles harmonieus met mekaar saamhang.

Vir die natuurwetenskappe bly dit ’n misterie waarom ’n wiskundige weergawe van fisiese en biologiese strukture en veranderinge in die natuur so presies kan ooreenstem met menslike waarnemings. Deur middel van wiskundige beskrywings ontdek ons “natuurwette”, bv. die swaartekragswet van Newton, of die gaswette (bv. wet van Boyle). Hierdie “natuurwette” kan slegs ’n afskaduwing van God se werke wees, want deur ons wetenskap vereenvoudig ons die harmonieuse ingewikkeldheid van God se skepping.

In hierdie verband het Albert Einstein opgemerk:

Die ewige misterie van die wêreld is sy verstaanbaarheid” (“The eternal mystery of the world is its comprehensibility”).

Vir die Bybelgelowige is dit nie ’n misterie nie, want die denke van die mens met sy wiskundige en abstraherende vermoëns en die fisiese wêreld met sy waarneembare wiskundige ordening is met mekaar verweef want albei het dieselfde Skepper.

Volgens die Bybel was een van God se doelwitte met Sy skepping dat die hele skepping daar is vir die mens om te geniet, te dien en te bewerk, dit wil sê kultuur te skep. Hierin vervul wiskunde as ’n integrale deel van die skepping ’n wesentlike funksie in die ontsluiting van die werklikheid en in die gebruik van wetenskaplike kennis. Dit is hierdie punt wat die humanistiese kyk op wiskunde as ’n produk van die menslike intellek mis.

Om saam te vat: Ons het met die getal as deel van God se skepping begin. Deur kultuurskepping het die mens ‘name’ aan die getalle gegee. En deur menslike kultuurskepping het die verwerking van hierdie getalle met hulle name al verder ontwikkel tot die vlak waar ons vandag staan, met simbole en formules. Deur hierdie kultuurskepping kan die mens vandag in wetenskaplike konteks sekere aspekte van die skepping in simbole en formules weergee, en kan die mens ook probleme oplos en sekere ‘voorspellings’ oor natuurgebeure maak soos byvoorbeeld vorming van wolke en moontlikheid van reën.

Deur die Griekse Wiskunde het God Voorsien🔗

Ons weet uit argeologiese bevindings dat Wiskunde ’n duidende rol in die vroeë beskawings gespeel het. Egiptiese Wiskunde was elementêr, maar nie vir ’n kind nie. Die gebruik van algebra, meetkunde en driehoeksmeetkunde kan gesien word in die konstruksie van die piramides, besproeiingskanaalstelsels, graanskure en besigheidstransaksies.

Die Griek Thales (624 - ~546 v.C.) het in Egipte en Babilonië gestudeer. Hy was ’n suksesvolle handelaar, wat later in sy lewe hom op natuurwetenskap en politiek (staatkunde) toegespits het. Hy was die eerste om meetkundige verbande op ’n logiese wyse uit algemeen-geldende stellings, aksiomas en postulate af te lei. Pythagoras was een van Thales se mees bekende leerlinge. (Dink aan die stelling van Pythagoras). Waar wiskunde vir die Egiptenare praktiese gereedskap was, het die Grieke deur logiese denke wiskunde, en veral meetkunde, as ’n wetenskap gevestig.

Voortspruitend hieruit het die Grieke in die tyd kort voor die geboorte van Christus praktyke gevestig wat die vinnige uitbreiding van die evangelie moontlik gemaak het.

Deur Griekse meetkunde en navigasietegnieke kon skepe nou direk oor die Middellandse see gevaar het en nie meer kuslangs nie;

Met Griekse meetkunde en tegnieke het die Romeine uitgebreide paaie vir die vestiging van hulle Ryk oor die destydse wêreld gebou;

Deur die Griekse wetenskap en handelspraktyk is die Griekse taal in die Romeinse Ryk gevestig.

God Voorsien deur die Moderne Wetenskap🔗

Die uitvinding van die drukpers deur Gutenberg (1400-1468) voordat Luther (1483-1546) die Bybel in Duits vertaal het, toon ook duidelik dat God voorsien. Toe kon die Lutherse Bybelvertaling in groot hoeveelhede gedruk word vir gebruik in elke huis.

Die geweldig-vinnige ontwikkelinge in tegnologie vandag maak die uitbreiding van die evangelie tot elke land en tot in elke gehuggie moontlik deur radio, televisie en internet.

Die Middeleeue Ingevang in Natuurwetenskaplike Denke🔗

Natuurwetenskappe, trouens elke vorm van wetenskap, ook die mens- en sosiale wetenskappe, word deur menslike denke gevorm en geskied altyd binne die raamwerk van ’n lewens- en wêreldbeskouing. Ongeveer 400 jaar voor Christus het die Griekse wysgeer Aristoteles die denke gevestig dat enige verklaring by die bekende, die vanselfsprekende moet begin. Volgens ons alledaagse waarneming kan dit as vanselfsprekend aanvaar word dat die aarde in rus is en dat die son, maan, planete en sterre daaromheen beweeg. Uitgaande hiervan het Aristoteles die heelal verdeel in ’n ondermaanse (die aarde en die atmosfeer) wat stilstaan, en ’n bomaanse (die maan, son, planete en sterre) wat ewigdurend om die aarde beweeg. Volgens Aristoteles streef alles in die ondermaanse na ’n toestand van rus, want die aarde is self in rus. As, byvoorbeeld, ’n kar 5 nie meer deur ’n perd getrek word nie, gaan staan die kar omdat die kar na die toestand van rus terugkeer. Hy het ’n verdere onderskeid gemaak tussen die ewigdurendheid van die bomaanse (maan, son, planete en sterre is altyd daar) en die tydelike of verganklike in die ondermaanse (die kar breek en vergaan; die perd word siek en gaan dood).

Hierdie Aristoteliaanse wêreldbeskouing is deur van die vroeë Christene oorgeneem, van heidense elemente gesuiwer en Bybelse elemente daarin geweef (bv. materie is nie ewig nie, maar God is ewig). Die Middeleeuse kerk het later die verchristelikte leer van Aristoteles, met die aarde in rus, tot ’n dogma verhef. Copernicus, Kepler en Galileo het met hierdie kerklik-aanvaarde leer van Aristoteles van ’n aarde in rus gebots toe hulle uit waarnemings op planete tot die gevolgtrekking gekom het dat die aarde beweeg en nie in rus is nie. Vandag is dit nie vir ons vreemd dat die aarde saam met die ander planete om die son beweeg nie, omdat ons so van kleins af geleer word.

Die 19-Eeuse Christen-Europeër en Konstantheid van Soorte🔗

Tot in die tyd van Darwin (1809-1882) het die Christen-Europeër aanvaar dat God onveranderlike en onveranderbare biologiese soorte geskep het. Elke soort het God in die begin afsonderlik geskep, en God het “gesien dat dit goed was”. Gevolglik sou God geen rede gehad het om ’n soort met die tyd te laat verander nie want dit was goed geskep.

Die Griekse wysgeer Aristoteles het alreeds geglo dat spesies onveranderlik is. Hierdie idee van Aristoteles is deur die kerkvader Augustinus (354-430 nC) na die Christelike denke oorgedra. Dit is juis hierdie idee van die vastheid (onveranderlikheid) van spesies wat uiteindelik gelei het tot verwerping van die skeppingsverhaal in Génesis deur Darwin. Sy waarneming van byvoorbeeld die verskillende soorte vinke op die Galapagos-eilande bo in die noorde van Suid-Amerika naby Ecuador het duidelik nie op ’n onveranderlikheid van spesies gedui nie. Hy het toe natuurlike seleksie as grondslag van veranderinge in soorte aanvaar, om variasies in spesies te verklaar deur die oorlewing van die sterkstes.

Darwin en andere se reaksie teen die teologie van vastheid en konstantheid van spesies wat indertyd ook die wetenskapsbeeld was, het gelei tot die verwerping van die Bybel en die Christelike werklikheidsvisie en daarmee het hulle ’n naturalistiese en deterministiese siening van veranderinge, dit wil sê evolusionisme, aanvaar.

Wat Glo die Christen Vandag?🔗

Die geologie is ’n rekord van die aarde se geskiedenis. Geoloë leer om die geskiedenis van die aarde uit gesteentes, uit aardlae en uit die fossiele in die aardlae en gesteentes, te lees. Daarvolgens is daar duisende miljoene fossiele van organismes, plante en diere in die aarde, wat gesterf het en gefossileer is oor 530 miljoen jaar voordat Adam en Eva 6000 jaar gelede volgens Bybelse geslagschronologie geskep is. As God self volmaak is (sonder gebreke is), maak dit nie sin dat Hy Adam en Eva op ’n begraafplaas van dooies volmaak (sonder sonde) geskep het nie. Trouens, God het aan die einde van die sesde skeppingsdag “gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.” (Gen. 1:31). Daar moet êrens ’n fout in die tydsberekeninge van die wetenskap of in tydberekeninge vanuit die Bybel, of in albei wees.

Wat moet dan die Christen se perspektief op die wetenskappe wees? Wetenskappe bestaan uit vakdissiplines. Die woord dissipline impliseer ʼn wyse waarop wetenskap gevorm en beoefen word. Dit beteken dat ons gedagtes dissiplineer moet word vir wetenskaplike werk. Op skool en op universiteit word ons gedagtes gevorm en word ons geleer hoe om wetenskaplik oor die wêreld en bestaande kennis te dink. In navorsing moet almal volgens algemeen-aanvaarde metodes kennis ontgin en die kennis aan bestaande of nuwe teorieë toets, teorieë wat deur almal van ʼn betrokke dissipline saam oordink en aanvaar kan word. In hierdie oordenking werk wetenskaplikes uit alle gelowe saam. Dit beteken dat wetenskap openbare (wêreldse) kennis is.

Die openbare media vorm en dra ’n vertolking van wetenskaplike kennis van vandag oor aan die algemene publiek. Hierdie vertolking vorm die openbare mening. As die wetenskap en die media voortdurend verkondig dat die aarde baie oud is, glo later almal, ook Christene, dat dit ’n feit is. Dieselfde gebeur met die evolusieteorie: as voortdurend verkondig word dat die mens uit die dier deur evolusie ontstaan het, word dit later as ’n feit aanvaar, met die implikasie dat die mens dan op ’n natuurlike wyse na die dier se beeld gevorm is en nie dat God die mens na Sy beeld geskep het nie.

Wat moet die Christen se Benadering tot Natuurwetenskappe wees?🔗

Ons leer God ook ken deur kennis van die fisiese en biologiese wêreld, soos beskryf deur die natuurwetenskappe. Hierdeur openbaar God Homself aan almal, ook aan dié wat Hom nie ken nie. Ook die ongelowige wetenskaplikes sien die wonderbaarlikhede van God in die skepping, al aanvaar hulle dit nie as God se werke nie (Rom. 1:18-23) en al gee hulle aan “Moeder” natuur al die eer vir alles wat bestaan en vir die ontstaan van alles.

Ons kinders en studente moet ook deur die wetenskap getuienis aangaande die ewige, almagtige en alwyse God en Skepper en Onderhouer van alle dinge aan die nie-gelowige kan lewer. Dit kan hulle slegs doen as hulle die natuurwetenskappe bestudeer om dit te ken en te verstaan, al word die natuurwetenskappe gevorm asof God nie bestaan nie. Maar ons moet ons kinders en studente verder skool en toerus om te kan getuig van God se besondere openbaring in Sy Woord

  • dat Hy nie deurlopend soos die evolusieleer wil, skep nie, maar deur bonatuurlike diskrete handelinge hemel en aarde en alles daarin - ook die mens - geskep het,

  • dat Hy deur hierdie bonatuurlike handelinge na ses skeppingsdae aan die hele skepping ’n potensiaal voorsien het om onder Sy bestiering te ontplooi tot die voleinding van die tyd, en

  • dat God se handelinge slegs deur Sy Woord en nie deur wetenskaplike (menslike) waarnemings geken kan word nie.

Hulle moet ook verstaan dat God nie deur die wetenskap sonder Sy Woord geken kan word nie, en dat die mens dan self die vraag waar alles vandaan kom, wil beantwoord en hiervoor ’n evolusionistiese wetenskapsmodel gebruik wat met ’n oerknal begin en wat veronderstel dat alles deur die natuur self voortgebring is.

Afsluiting🔗

Bybelgefundeerde wetenskap bestudeer die skepping uitgaande van God se besondere openbaring in Sy Woord. Ook in die natuur- en wiskundige wetenskappe moet ons hiervan uitgaan en in ons onderrig van Hom getuig as Skepper en Onderhouer van alle dinge, as ’n God van orde, as ’n God van wysheid, as ’n intelligente ontwerper, as ’n volmaakte God, as ’n goeie en regverdige God, dat Hy deur sy Goedheid en Regverdigheid alles onderhou, beheer en versorg tot die volheid van die tyd, en dat Hy ’n God is wat van ons verwag om met insig en sorg teenoor die skepping in alle lewenssfere op te tree. Ons moet ook die vloek wat God oor die aarde uitgespreek het met die sondeval - “met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe” - in ons lewens erken, maar ook God se genade erken dat ons deur werk en gebruik van wetenskapskennis en tegnologie, ons rentmeesterskap en versorging teenoor Sy skepping en ons medemense kan en moet uitoefen en uitleef, en dat ons ons in Sy wonderbaarlike skepping kan verlustig.